9 April 2021
Die volgende Bybelstudie tema is – Israel: wat was, wat is en wat nog kom! en begin Maandag 12 April 2021
Israel 🇮🇱 is God se uitverkore volk en die middelpunt van Bybelprofesie. Jesus, ons Verlosser, was immers ‘n Jood, gebore uit die stam van Dawid in Betlehem, en is gekruisig as koning van die Jode in Jerusalem.
Ons gaan die Bybelstudie begin na die sondevloed en reis deur die Ou en Nuwe Testamente tot en met die einde van tyd. My klem gaan gedurig wees op Israel om te toon dat Israel as
God se verkose volk die titel behou en nie deur enige ander groep vervang word nie.
Ek gaan kyk na huidige nuus wanneer dit te doen het met die onderwerp onder bespreking, en ek sal dit noem: Wat sê die nuus?
Ek gaan ook toon hoe vandag se lewenstyl weg beweeg van die Bybel om te toon hoe ons nader beweeg na die eindtye, hierdie brokkies sal ek noem: Wat gebeur vandag!
My hoop is dat ons meer van die Bybel sal leer, nader aan God sal beweeg, en dit wat ons leer met ander sal deel om so die Woord van God te versprei soos ons opdrag van Jesus was:
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.” MATTHÉÜS 28:19-20 AFR53
12 April 2021
DEUTERONÓMIUM 7:7-8 AFR53
“Die Here het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die Here julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.”
Israel – ‘n man se naam, ‘n volk se naam en ‘n land se naam.
Die man
“Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.” GÉNESIS 32:28 AFR53
Die volk
“Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel. Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.” EXODUS 4:22-23 AFR53
Die land
Sedert 721 BC het ongeveer 14 verskillende groepe Israel beset. David Ben-Gurion verklaar op 14 Mei 1948 om 16:00 die middag, die nuwe staat Israel se onafhanklikheid van Britse mandaat, en hy is toe ook Israel se eerste Eerste Minister.
“Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.” JESAJA 66:8 AFR53
13 April 2021
GÉNESIS 9:1, 19 AFR53
“En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.
Hierdie drie was die seuns van Noag; en met hulle begin die uitbreiding van al die aardbewoners.”
Ek begin die studie met Noag omdat hy die stamvader van al die nasies van die wêreld is.
Na die vloed het God vir Noag en sy drie seuns geseën en aan hulle ‘n opdrag gegee. Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Hierdie is dieselfde opdrag wat deur God aan Adam gegee is.
“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” GÉNESIS 1:27-28 AFR53
Hierdie opdrag se uitkoms was sewentig basis nasies, om die mensdom soos ons dit vandag ken, te vorm.
14 April 2021
GÉNESIS 9:9-11 AFR53
“Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle — al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie.”
God rig ‘n verbond op met Noag en sy mense, met al die geslagte na Noag en met al die diere wat uit die ark uitgegaan het. Die verbond bepaal dat daar nie weer ‘n vloed sal wees waar ALLE vlees of die HELE aarde uitgewis sal word nie. Hierdie is ‘n onvoorwaardelike verbond, wat vandag nog geldig is en waar slegs God ‘n verantwoordelikheid het vir die nakoming daarvan.
Ons weet dat wanneer God ‘n verbond sluit, Sy Woord waar is, en dat die wêreld inderdaad nooit weer met ‘n vloed sal vergaan nie.
Wat sê die nuus?
Pous Francis het op 2 Maart 2021 tydens ‘n onderhoud vir ‘n boek wat hy gaan publiseer gewaarsku dat die mensdom deur ‘n tweede groot vloed getref gaan word. Die vloed se oorsaak is glo klimaatsveranderinge en is op hande tensy leiers optree om korrupsie en ongeregtigheid op te los.
Die artikel kan gelees word by www.dailymail.co.uk/news/article-9316549/Pope-Francis-warns-mankind-faces-second-great-flood-caused-global-warming
Hartseer om te dink dat die leier van die wêreldwye Rooms Katolieke kerk so onbybels kan optree!
15 April 2021
GÉNESIS 9:12-13 AFR53
“En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.”
God se verbond is tussen Hom en Noag-hulle en al die lewende wesens by hulle, en die verbond is geldig vir ewige geslagte. Dit beteken dat die verbond vandag nog geldig is en sal wees tot en met Jesus weer terugkom.
Die verbond het ‘n teken en die teken is die reënboog wat ons sien elke keer wanneer dit reën. Die reënboog wat ons sien het sewe kleure, en sewe is die volmaakte getal van God.
Wat gebeur vandag!
In huidige tye gebruik die LBGTXYZ beweging die reënboog as hul kenteken. ‘n Onheilige beweging wat poog om God se heilige tekens vir hul onheilge doelstellings te gebruik.
Interessant om by nadere ondersoek op te merk dat die LBGTXYZ beweging se reënboog net ses kleure het. Dit is ook gepas, want ses is die getal van die mens, die getal van Satan.
So as jy weer ‘n reënboog in ‘n optog op tv sien, tel bietjie die kleure.
16 April 2021
LEVÍTIKUS 23:34 AFR53
“Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here.”
Die huttefees of die Fees van Tabernakels of Sukkot word ook genoem ‘die Fees van die Nasies’ en dit is die sewende van die sewe feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het.
Gedurende Yom Kippur, die sesde fees, word versoening gemaak vir die nasie Israel, maar tydens Sukkot of die huttefees, die sewende fees, word versoening gemaak vir die sewentig nasies van die wêreld.
Numeri 29:13-32 gee vir ons die hoeveelheid bulle wat op elk van die sewe dae van die huttefees geoffer moet word en die bulle tel op na sewentig wat ooreenstem met die sewentig nasies vir wie daar versoening gemaak word.
Dag 1 – 13 bulle
Dag 2 – 12 bulle
Dag 3 – 11 bulle
Dag 4 – 10 bulle
Dag 5 – 9 bulle
Dag 6 – 8 bulle
Dag 7 – 7 bulle
Totaal 70 bulle
17 April 2021
DEUTERONÓMIUM 32:8 AFR53
“Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.”
Moses het volgens Deuteronomium 32, voor sy dood en in opdrag van God, ‘n lied geskryf wat aan die kinders van Israel voorgedra is. Deel van die lied vertel dat die Allerhoogste aan die nasies elkeen ‘n erfdeel gegee het, en die grense van die erfdele is vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
Genesis 46 en Exodus 1 vertel vir ons dat die getal van die kinders van Israel wat in Egipte aangekom het, sewentig was.
“Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.” GÉNESIS 46:26-27 AFR53
“En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.” EXODUS 1:5 AFR53
Dus: die oorspronkilke nasies se getal = die kinders van Israel wat in Egipte aangekom het = sewentig nasies.
Die sewentig oorspronklike nasies wat na die vloed gevorm het word in Genesis 10 en 11 vir ons gelys. Genesis 10 gee die afstammelinge van Noag se drie seuns Sem, Gam en Jafet.
Genesis 11 zoem in op Sem se familiestamboom wat belangrik is, want dit is uit hierdie familielyn wat ons Messias gebore is.
“En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet — vir hulle is daar seuns gebore ná die vloed.
Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.” GÉNESIS 10:1, 32 AFR53
18 April 2021
GÉNESIS 11:1 AFR53
“En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.”
Die hele aarde van daardie tyd, al sewentig van die nasies waarvan ons geleer het, het dieselfde taal gepraat en dieselfde woordeskat gehad.
Daar was nie verskillende dialekte of aksente of woorde wat net ‘n sekere groep gebruik het nie, almal het dieselfde geklink en dieselfde woordeskat gebruik.
Die taal wat almal gepraat was Hebreeus en ons maak die afleiding omdat die name van die Bybel se hoofkarakters almal ‘n spesifieke betekenis gehad het, en die betekenis was net sinvol in Hebreeus. ‘n Goeie illustrasie hiervan kry ons deur te kyk na die geslagsregister van Adam tot Noag (Genesis 5) en elk van die name het ‘n spesifieke betekenis.
Adam Mens
Set aangestel
Enos sterflik
Kenan hartseer
Mahalalel geseënde God
Jered neerdaal
Henog onderrig
Metusalag sy dood bring
Lameg wanhoop
Noag vertroosting en rus
Wyle dr. Chuck Missler het die betekenis van die name van elk van die mans as volg saamgestel in ‘n sin wat profetiese betekenis het.
Die mens word aangestel, is sterflik en hartseer, maar die geseënde God daal neer en onderrig tot Sy dood die wanhopiges en bring vertroosting en rus.
Ons sien ook dat daar 10 geslagte is van Adam tot Noag. Die getal 10 in die Skrif is die getal van getuienis, soos in die getuienis van God se trou aan sy beloftes. Ons gaan vorentoe weer die getal 10 sien en wel in die geslagsregister wat volg na Noag.
19 April 2021
GÉNESIS 11:2 AFR53
“En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.”
Die geslagsregister van Genesis 10 vertel dat Nimrod die geweldenaar sy koninkryk in Babel begin het en hy was ook later die stigter van die stad Nineve. Nimrod was die eerste wêreld diktator, sy naam beteken ‘ons sal rebelleer’ en al die mense het agter hom aangetrek.
Babel, wat later Babilon genoem is, was op die eens vrugbare vlaktes van Sinear in Mesopotamië geleë en Nineve was die hoofstad van die magtige antieke Assiriese ryk, geleë in die hedendaagse Noord-Irak.
“Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees. Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear. Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag” GÉNESIS 10:8-11 AFR53
20 April 2021
GÉNESIS 11:6 AFR53
“En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.”
Die Here verduidelik hier vir ons dat al die mense op aarde op die stadium, een volk was met een taal en dit het ‘n samehorigheid geskep wat die mense in hul kwaad versterk het.
Ons ken die verhaal van die toring van Babel. Bou ‘n toring wat tot by die hemel reik sodat geen vloed wat God stuur ons ooit weer sal uitwis nie. Ons, die mense, sal na onsself kyk, en op onsself staat maak, en onsself verryk en sonder God lewe ……….. want dan is ons in beheer!
21 April 2021
GÉNESIS 11:9 AFR53
“Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi.”
God laat Hom nie voorskryf deur enige iemand nie. Hy verwar die mense se taal sodat hulle mekaar nie meer verstaan nie, en ry so hul planne van ‘n selfgeboude toring in die wiele.
Hierdie aksie veroorsaak dat die mense oor die wêreld heen versprei en so God se oorspronklike opdrag aan Noag en sy seuns uitvoer, nl: wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.
“En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” GÉNESIS 9:1 AFR53
Wat gebeur vandag!
Die wêreld van vandag praat nog steeds verskillende tale, maar met die hulp van tegnologie kan ons soos in die tyd voor die Babelse verwarring mekaar verstaan.
Met die hulp van jou selfoon wat in elk geval deesdae soos ‘n ledemaat aan jou kleef, kan jy enige tipe vertaling doen om enige persoon in die wêreld te verstaan.
Die prentjie hierby is een van vele Apps op jou foon wat help met vertlings. Die vertalings werk as jy praat of skryf.
Is tegnologie nie fantasties nie ???? 🥳 Ja dit is, tot dit eendag teen jou draai! 😯
‘n Duidelike aanduiding dat ons in die eindtye leef!
コメント