top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 8-10

Updated: Nov 12, 2023


25 Oktober 2023


HANDELINGE 8:1 AFR53

“En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd 'n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.”


Die woord ‘en’ verbind die gebeure van hoofstuk 7 en 8 aan mekaar. Wie se dood het Saulus goedgekeur? Stefanus se dood in hoofstuk 7. In dié tyd begin die groot vervolging teenoor die gemeente in Jerusalem wat veroorsaak dat hulle na ander streke moet vlug. Judea is rondom Jerusalem, en Samaria lê noord van Jerusalem. Die aandag verskuif nou weg van Jerusalem, na Samaria, en dan, later, na die uiterste dele van die aarde, net soos Jesus vir hulle gesê het.


“maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”   HANDELINGE 1:8 AFR53


In die moeilike tye is Stefanus begrawe.


“En godvresende manne het Stéfanus begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe.”   HANDELINGE 8:2 AFR53


Vandat die Heilige Gees tydens Pinkster op die Jesus volgelinge gekom het, het die kerk gegroei en 'n mate van ondersteuning geniet van die toegewyde Jode in Jerusalem. Maar, na die moord van Stefanus, voel Saul nou vry om die res van die Jesus volgelinge in Jerusalem te vervolg. Paulus sal later erken en detail byvoeg tot wat hy hier doen. Hy sê:


“Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,”   HANDELINGE 22:4 AFR53


Saulus gaan sinagoges binne waar hy weet dat Jesus volgelinge aanbid en slaan hulle en probeer hulle dwing om Jesus te laster.


“En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan;”   HANDELINGE 22:19 AFR53


Wanneer die Joodse Raad stem oor hoe die Jesus volgelinge gestraf moet word, dring Saulus daarop aan dat hulle gedood moet word.


“Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.”   HANDELINGE 8:3 AFR53


Jakob se seën wat hy voor sy dood oor sy seun Benjamin uitspreek is ‘n profesie van Saulus se optrede.


“Benjamin is 'n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit.”   GÉNESIS 49:27 AFR53


In Paulus se jonger jare het hy die kwesbare Christene aangeval, maar in sy later jare versprei hy wat hy van daardie prooi geneem het - die evangelie. Paulus kom ook uit die stam van Benjamin


“Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.”   ROMEINE 11:1 AFR53


 

26 Oktober 2023


HANDELINGE 8:4 AFR53

“En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.”


Die vervolging van die nuwe Jesus volgelinge het net veroorsaak dat die Evangelie versprei na al die dorpe, stede en lande waarheen die mense moes vlug.


Filippus (‘n diaken en evangelis, maar nie die apostel nie) se vlugtog het hom na ‘n stad in Samaria geneem waar hy die Evangelie verkondig het.


“En Filippus het afgekom in 'n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig.”   HANDELINGE 8:5 AFR53


Die Heilige Gees bemagtig Filippus om wonderwerke te doen, wat sy aansprake om God se boodskapper te wees ondersteun. Tekens soos genesing en uitdrywing van demone het algemeen geword onder die leiers van die nuwe kerk.


“En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met 'n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword. En daar was groot blydskap in daardie stad.”   HANDELINGE 8:6-8 AFR53


Dit is belangrik om te onthou dat alle bonatuurlike krag uit een van twee bronne kom: of God of demone. Daar bestaan ​​nie iets soos ‘wit towery’ nie. Elke bonatuurlike vermoë of gebeurtenis wat nie van God is nie, is boos.


Simon is 'n towenaar in die stad Samaria. Die Samaritaanse mense het sedert die tyd van Salomo se seun nie die geleentheid gehad om God waarlik te aanbid nie, so dit kan verstaanbaar wees dat hulle nie erken dat Simon sy krag van demone ontvang het nie.


“En 'n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was. En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God. En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle 'n geruime tyd deur sy towerye verbyster het.”   HANDELINGE 8:9-11 AFR53


Die Samaritane luister nou na Filippus, en sien die wonderwerke wat hy doen in die Naam van Jesus, en hulle glo. Daarom is elkeen, manne sowel as vroue gedoop.


“Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.”   HANDELINGE 8:12 AFR53


Selfs Simon die towenaar was verbaas oor die tekens en groot kragte wat Filippus gedoen het. Hyself het gelowig geword en was gedoop.


“En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.”   HANDELINGE 8:13 AFR53


 

27 Oktober 2023


HANDELINGE 8:14 AFR53

“En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.”


Die apostels hoor dat die mense in Samaria die woord van God aangeneem het, en stuur onmiddelik vir Petrus en Johannes uit om te gaan help.


Hierdie en die volgende verse is van daardie Skrifgedeeltes wat noukeurige begrip van konteks en duidelike verduideliking vereis.


Baie van hierdie Samaritane is gereed om Jesus te volg. Hulle is selfs gedoop. Maar hulle het nog nie die Heilige Gees ontvang nie. Johannes en Petrus het van Jerusalem af gekom om oor die nuwe bekeerlinge te bid en hulle die hande op te lê sodat hulle die Heilige Gees kan ontvang.


“Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang, want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus. Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.”   HANDELINGE 8:15-17 AFR53


Dit is belangrik om te verstaan ​​dat hierdie 'n beskrywing is van gebeure wat deur God gebruik is om die baie vroeë kerk te vestig. Petrus en Johannes is nie na Samaria gestuur omdat die Heilige Gees hulle nodig het nie, maar omdat God die nuwe Samaritaanse kerk wil bekragtig.


Filippus was bekend as ‘n sterk Jesus volgeling en een van die eerste diakens wat sy boodskap deur wondertekens bekragtig het. Tog is dit belangrik dat die Samaritane moet weet dat daar ‘n verskil is tussen dit wat Filippus verkondig en gedoen het, en dit wat Simon die towenaar verkondig en gedoen het.


Dit is ook belangrik dat die Samaritane absolute sekerheid moet he dat hulle by die gevestigde kerk aansluit wat Jesus van Nasaret aanbid as die Messias.


Dit is bekend dat Petrus en Johannes die vernaamste van Jesus se oorspronklike volgelinge is, en hulle bekragtiging van Filippus se boodskap is ietwat soortgelyk aan Jesus se bekragtiging van Johannes se doop.


“Toe het Jesus van Galiléa na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het Hom ernstig teëgegaan en gesê: Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Maar Jesus het geantwoord en vir hom gesê: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.”   MATTHÉÜS 3:13-17 AFR53


Toe die apostels van Jerusalem kom en hulle met die gelowige Samaritane identifiseer, is die werk erken as van een liggaam. God se bedoeling was om 'n enkele liggaam van Christus te bou, nie stukke en dele nie.


“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.”   I KORINTHIËRS 12:13 AFR53


 

28 Oktober 2023


HANDELINGE 8:18 AFR53

“En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied”


Simon die towenaar sien hoe die nuwe Jesus volgelinge met die Heilige Gees vervul word wanneer Petrus en Johannes hulle die hande oplê, en hy dink dit is 'n towerkuns wat die moeite werd is om aan te leer.


Simon is 'n professionele towenaar en dit is onduidelik of dit beteken dat hy demoongegewe magte het of dat hy net ‘n bedrieër is. Hy sien nou ware krag en stel genoeg belang in Jesus se storie om gedoop te word, maar hy is steeds 'n opportunis. As hy 'n ordentlike bestaan ​​maak deur sy huidige toorkunste, dink net hoeveel geld kan hy maak met die krag om mense met die Heilige Gees te vervul.


“en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.”   HANDELINGE 8:19 AFR53


Petrus berispe vir Simon ten sterkste vir sy hebsug om geld uit God se gawes te maak. God se geestelike gawes kan nie gekoop of beheer word nie, dit word slegs deur God se genade gegee.


“Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.”   HANDELINGE 8:20 AFR53


Simon het nog die geleentheid om homself te bekeer.


“Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word. Want ek sien dat jy in 'n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.”   HANDELINGE 8:21-23 AFR53


Simon wil nie homself bekeer nie, hy wil eerder hê dat die apostels vir hom moet bid en dink dat hulle krag groter sou wees.


“Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.”   HANDELINGE 8:24 AFR53


Dit is die laaste keer wat ons van Simon in die Skrif lees. Tog lees ons baie van hom in die vroeë kerkgeskrifte. Hy het die eerste antichris geword, een wat die kerk beveg het en van plek tot plek gegaan het om die Evangelie teë te staan.


Moenie dat wonderwerke of bonatuurlike gebeure jou flous nie, want Satan is nie net daartoe in staat nie, profesieë sê hy sal baie in die eindtyd mislei. Jou beskerming is in die Woord van God.


Petrus en Johannes het blykbaar lank genoeg vertoef om 'n gemeenskap van dissipels te stig en te organiseer. Hulle het nie onmiddelik teruggekeer na Jerusalem nie, maar vele stoppe langs die pad gehad, waar die blye boodskap van die Woord van die Here verkondig is, en kerke gestig is.


“Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.”   HANDELINGE 8:25 AFR53


 

29 Oktober 2023


HANDELINGE 8:26 AFR53

“En 'n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is 'n eensame pad.”


‘n Engel van die Here praat met Filippus en sê hy moet afloop na Gasa wat suid van Jerusalem is.


Met die huidige gebeure in Israel, het ek besluit om te kyk waar Gasa in die Bybel genoem word.


Gasa word die eerste keer in Genesis genoem as een van die grensstede van Kanaän. -  “En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting van Gerar tot by Gasa, in die rigting van Sodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.”   GÉNESIS 10:19 AFR53


Die stad was en is op die grens van Israel en Egipte in die suidwestelike deel van Israel naby die Middellandse See. Gasa is een van die oudste stede in die geskiedenis. Die naam Gasa beteken sterk, wat 'n gepaste naam is met inagneming van die stad se vestings vir beskerming.


Gasa was 'n stad wat met die Filistyne geassosieer was. Oorspronklik het die Awiete in Gasa gewoon, maar die Kaftoriete het hulle oorval en hulself in die stad gevestig. - “Ook het die Kaftoriete wat uit Kaftor afkomstig was, die Awiete wat in dorpe tot by Gasa gewoon het, verdelg en in hulle plek gaan woon.”   DEUTERONÓMIUM 2:23 AFR53


Die Filistyne was heel waarskynlik verwant aan die Kaftoriete, wat van Kaftor gekom het. - “weens die dag wat kom om al die Filistyne tot niet te maak, om van Tirus en Sidon die laaste een uit te roei wat kan help; want die Here maak die Filistyne tot niet, die oorblyfsel van die eiland Kaftor.”   JEREMIA 47:4 AFR53


In die tyd van Josua het die Israeliete die land verower. - “En Josua het hulle verslaan van Kades-Barnéa af tot by Gasa, en die hele land Gosen tot by Gíbeon.”   JOSUA 10:41 AFR53


Die stam van Juda het Gasa geërf, en hulle kon die stad vir 'n kort tydjie behou voordat dit weer in die hande van die Filistyne geval het. - “En Juda het Gasa met sy grondgebied en Áskelon met sy grondgebied en Ekron met sy grondgebied ingeneem.”   RIGTERS 1:18 AFR53


Teen die tyd van Simson se rigterskap het die Filistyne in Gasa gewoon en die gebied beheer. - “En Simson het na Gasa gegaan en daar 'n hoer gesien en by haar ingegaan.”   RIGTERS 16:1 AFR53


Toe Simson Gasa besoek het, het die mense daar beplan om hom dood te maak, maar hy het ontsnap en die stadspoorte weggedra. -  “Toe die Gasiete die tyding kry: Simson het hier ingekom, omsingel hulle hom en lê hom die hele nag voor by die stadspoort, maar die hele nag het hulle hul stilgehou en gesê: Teen dagbreek sal ons hom doodmaak. En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê.”   RIGTERS 16:2-3 AFR53


Nadat Delila vir Simson mislei het om die geheim van sy krag te verklap, het die Filistyne hom gevang en na 'n tronk in Gasa geneem. -  “Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.”   RIGTERS 16:21 AFR53


Later het Simson sy krag van die Here teruggekry en die pilare van Dagon se tempel afgestoot, die gebou vernietig en baie Filistyne in die proses doodgemaak. - “En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het.”   RIGTERS 16:30 AFR53


 

30 Oktober 2023


I SAMUEL 6:17 AFR53

“En dit is die goue geswelle wat die Filistyne as 'n skuldoffer aan die Here teruggegee het: vir Asdod een, vir Gasa een, vir Áskelon een, vir Gat een, vir Ekron een.”


Die Filistyne het aangehou om Gasa te beheer gedurende die tyd van Samuel. In dié tyd het hulle die ark gehad, en toe terug gegee met skuldoffers want hulle is met plaag op plaag getref.


Koning Hiskia het groot oorwinnings oor die Filistyne behaal, tot by Gasa en sy gebied, maar het nie Gasa self verower nie. - “Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad.”   II KONINGS 18:8 AFR53


Gasa was 'n stad wat met oordeel verband hou. Jeremia, Amos, Sefanja en Sagaria het almal oordeel oor Gasa geprofeteer weens die sonde van die Filistyne.


Amos se profesie oor die vernietiging van Gasa: - “So sê die Here: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit aan Edom uit te lewer. Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise verteer.”   AMOS 1:6-7 AFR53


Jeremia se profesie oor die vernietiging van Gasa: - “En ek het die beker uit die hand van die Here geneem en al die volke laat drink na wie die Here my gestuur het; naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak 'n puinhoop, 'n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is; Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk; en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Áskelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;”.  JEREMIA 25:17-20 AFR53


Sefanja se profesie oor die vernietiging van Gasa: - “Want Gasa sal verlate wees en Áskelon tot verwoesting; Asdod sal op die helder middag verdryf word, en Ekron sal ontwortel word. Wee die inwoners van die kusstreek, die nasie van die Kretiërs! Die woord van die Here is teen julle, Kanaän, land van die Filistyne — Ek verdelg jou, sodat daar niemand meer woon nie.”   SEFÁNJA 2:4-5 AFR53


Sagaria se profesie oor die vernietiging van Gasa: - “Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal deur vuur verteer word. Áskelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron, omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Áskelon bly onbewoond;”   SAGARÍA 9:4-5 AFR53


Koning Sargon van Assirië het Gasa verower en dit waarskynlik in 720 v.C. vernietig. Later het Alexander die Grote die stad in 332 v.C. vernietig, na 'n lang geveg. Gedurende die Makkabees tydperk het Jonatan Gasa aan Israel onderwerp.


Die Bybel assosieer Gasa hoofsaaklik met die Filistyne. God het die stad aan Juda gegee, maar die Israeliete het versuim om God te gehoorsaam deur die voormalige inwoners van Kanaän te verdryf. - “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan in die land Kanaän intrek, moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes. En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan julle gegee om dit te besit.”   NÚMERI 33:51-53 AFR53


As gevolg van daardie ongehoorsaamheid het die Filistyne en die stad Gasa vir eeue lank ’n doring in Israel se vlees gebly, en dit blyk vandag nog so te wees. - “maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode 'n strik vir julle.”   RIGTERS 2:2-3 AFR53


 

31 Oktober 2023


GÉNESIS 15:18-21 AFR53

“Op dié dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.”


God se verbond met Abraham het die belofte van land ingesluit. - “En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”   GÉNESIS 12:1 AFR53


Dit was 'n spesifieke land, 'n werklike eiendom, met afmetings gespesifiseer in Genesis 15:18–21 wat vandag se teksvers is. God gee aan Abraham al die land wat hy kan sien, en die gawe word as vir ewig verklaar. - “want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.”   GÉNESIS 13:15 AFR53


God bevestig weer dat Sy verbond met Abraham vir ewig is, ‘n ewige verbond! - “En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees.”   GÉNESIS 17:7-8 AFR53


God het spesifiek verklaar dat Israel geen verbonde mag he met die lande wat Hy aan hulle belowe het nie. - “En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe. Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie. Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou 'n strik wees.”   EXODUS 23:31-33 AFR53


God beveel Israel dat hulle nie hul land mag weggee nie. - “En hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, en die beste van die land mag nie in ander hande oorgaan nie; want dit is heilig aan die Here. Dit is die land wat julle as erfenis moet laat toekom aan die stamme van Israel, en dit is hulle gedeeltes, spreek die Here Here.”   ESÉGIËL 48:14, 29 AFR53


Dit beteken dat niemand Israel se grond mag verdeel nie. Die twee staat oplossing wat gereeld in vandag se nuus voorgestel word is onbybels en sal nooit toegelaat word nie.


God se ewige verbond was met Abraham en die verbond is bevestig met Abraham se seun Isak, -  “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.”   GÉNESIS 26:3 AFR53


en sy kleinseun Jakob. - “En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.”   GÉNESIS 35:12 AFR53


Toe Joshua oud was, was ‘n groot stuk grond nog oor om in besit te neem, onder andere die van Gasa. -  “En toe Josua oud en ver op sy dae was, het die Here vir hom gesê: Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog 'n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem.”   JOSUA 13:1 AFR53


God verdeel voor Joshua se dood die land tussen die twaalf stamme nog voor dit in besit geneem is. Gasa was deel van die grond wat aan die stam Juda gegee is. - “Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Juda, volgens hulle geslagte. Asdod, sy onderhorige plekke en sy dorpe; Gasa, sy onderhorige plekke en sy dorpe, tot by die spruit van Egipte en die Groot See saam met sy gebied;”   JOSUA 15:20, 47 AFR53


Israel behoort aan God! - “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.”   LEVÍTIKUS 25:23 AFR53


 

1 November 2023


HANDELINGE 8:27 AFR53

“Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was 'n man van Ethiópië, 'n hofdienaar, 'n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.”


Op die pad tussen Jerusalem en Gasa kom Filippus af op ‘n man van Etihopië. Die Etihopiese hofdienaar wat hier genoem word, was die tesourier van Kandace, die koningin van Etihopië en hy was in Jerusalem om te aanbid.


Die hofdienaar sit in sy wa en lees. Die Gees van die Here het vir Filippus gesê om oor te gaan en by die wa aan te sluit. Toe Filippus nader kom, hoor hy hoe die hofdienaar hardop uit Jesaja lees. Filippus vra die man of hy verstaan wat hy lees.


“En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?”   HANDELINGE 8:28-30 AFR53


Die hofdienaar sê nee, hy het hulp nodig om die gedeelte te verstaan, en vra Filippus om by hom te sit.


“En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.”   HANDELINGE 8:31 AFR53


Die gedeelte wat die hofdienaar uit die Skrif gelees het.


“En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”   HANDELINGE 8:32-33 AFR53


En hier is ons Jesaja AFR53 vertaling.


“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.”   JESAJA 53:7-8 AFR53


Die hofdienaar het gewonder van wie die profeet hier praat, van homself of van iemand anders? Filippus het hierdie geleentheid gebruik om die gedeelte van Jesaja wat gelees is, te verduidelik: dit was 'n profesie oor Jesus Christus, wat Sy lewe gegee het om die wêreld te red. Terwyl Filippus die evangelie verduidelik het, het die hofdienaar geglo.


“En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. ”   HANDELINGE 8:34-35 AFR53


 

2 November 2023


HANDELINGE 8:36 AFR53

“En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?”


Die hofdienaar is opgewonde oor die Woord wat hy gehoor het. Terwyl hulle reis kom hulle by water en die hofdienaar vra of daar enige rede is hoekom hy nie gedoop kan word nie.

Filippus vra of hy met sy hele hart glo, en die hy sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is! Hulle klim toe van die wa af, en altwee gaan in die water in waar Filippus die hofdienaar doop.


“Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.”   HANDELINGE 8:37-38 AFR53


Die Gees van die Here voer toe vir Filippus weg na ‘n ander plek, sodat die hofdienaar hom nie meer sien nie, maar hy het met blydskap vêrder gereis. Tradisie sê dat die hofdienaar die evangelie teruggedra het na Ethiopië en die kerk daar gestig het.


“En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.”   HANDELINGE 8:39 AFR53


Filippus skat ek het sy oë geknip en toe is hy in Asdod. Wonderbaarlik verplaas! Ons word net vertel dat hy voortgegaan het om die evangelie te verkondig in al die stede tot hy in Cesarea aangekom het.


“Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.”   HANDELINGE 8:40 AFR53


Daar is baie elemente van God se voorsienigheid en ingryping in die verhaal van die Etihopiese hofdienaar. Die verhaal openbaar die belangrikheid van drie dinge: die Woord van God, die Heilige Gees se leiding, en 'n menslike evangelis.


Vir 'n persoon om die waarheid te aanvaar en te glo, moet hy eers hoor hoe die waarheid verkondig word.


“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”   ROMEINE 10:17 AFR53


Die land was ryp vir die oes, en Filippus was God se arbeider in die veld. Daar was niks toevallig nie. Dit was van die begin af God se plan, en Filippus was gehoorsaam aan daardie plan.


“En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”   ROMEINE 10:15 AFR53


Die Gees van die Here het die hofdienaar se hart voorberei om die evangelie te ontvang. Terwyl die hy Jesaja gelees het, het hy begin vrae vra, en op die regte oomblik het die Here Filippus oor sy pad gebring.


 

3 November 2023


HANDELINGE 9:1 AFR53

“Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan”


Die kerk het ondergronds beweeg toe die vervolging in Jerusalem uitbreek. Die apostels het in Jerusalem gebly, maar baie van die ander was verstrooi. Die meeste godsdienstige leiers was tevrede nadat hulle die Christene uit Jerusalem uit verdryf het, maar nie Saulus van Tarsus nie! Sy doel was om die Christene uit te roei oral waar hy hulle kon vind.


Damaskus was die hoofstad van Sirië en daarom moes Saul toestemming kry om daar te ‘werk’. Die Joodse Raad het jurisdiksie buite Jerusalem gehad.


“en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.”   HANDELINGE 9:2 AFR53


Oppad na Damaskus ontmoet Saulus vir Jesus wat hom skielik soos ‘n lig uit die hemel omstraal. Hy val op die grond neer en hoor ‘n stem wat sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?


“En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”   HANDELINGE 9:3-4 AFR53


Wie is U, Here! Die woord ‘Here’ hier is ‘n respekvolle titel, en nie aanduidend dat hy geweet het dit is Jesus nie. Die Lig uit die hemel praat en sê wie Hy is: Ek is Jesus wat jy vervolg!


Dit is vir jou moeilik om teen die prikkels te skop—die klassieke metafoor druk hier met geweld uit hoe Saulus probeer het om die evangelie te stop, en hoe elke poging om dit te doen, in die toekoms, by hom sou spook.


“En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.”   HANDELINGE 9:5 AFR53


Saulus was nie dom nie en het vinnig twee en twee bymekaar gesit. Hy besef dat Jesus self met hom praat. Dit het egter nie sy angs weggevat nie want hy het bewend vir Jesus gevra wat hy nou moes doen.


Jesus se opdrag aan Saulus was maklik. Staan op en gaan na die stad, en dan sal aan jou gesê word wat om te doen.


“En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.”   HANDELINGE 9:6 AFR53


Selfs vir Saulus se reisgenote was hierdie ‘n bonatuurlike ondervinding.


“En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.”   HANDELINGE 9:7 AFR53


Ons word later deur Paulus self vertel dat hulle klanke maar nie woorde gehoor het nie. Hulle kon geen betekenis heg aan die klanke wat vir Saulus self so 'n diepgaande betekenis gehad het nie. So, op dieselfde manier, het hulle die lig gesien, maar geen vorm nie.


“En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.”   HANDELINGE 22:9 AFR53


 

4 November 2023


HANDELINGE 9:8 AFR53

“Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring.”


Saulus se blindheid was dié van iemand wat met ‘n oormaat lig verblind is, die natuurlike gevolg om die bonatuurlike Heerlikheid te sien en 'n getuie vir die man self dat die visioen nie 'n blote verbeeldingspel was nie. Hy kon beslis nie sien nie, en is deur sy metgeselle aan die hand gelei en in Damaskus ingebring.


“Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.”   HANDELINGE 22:11 AFR53


Spore van die permanente effek van die oormaat lig op Saulus se sigvermoë word gevind in die volgende uittreksels:


- Sy gewoonte om te dikteer eerder as om briewe te skryf. In die voorbeeld uit Thessalonicense neem hy die pen van die persoon wat vir hom skryf en hy teken self die brief.


“Die groete van Paulus, met my eie hand, wat 'n teken is in elke brief; so skryf ek.”   II THESSALONICENSE 3:17 AFR53


- In die groot letters wat deur hom geskryf is toe hy wel geskryf het.


“Kyk met watter groot letters ek met my eie hand aan julle skrywe.”   GALÁSIËRS 6:11 AFR53


- Hy het nie die hoëpriester herken wat beveel het dat hy geslaan moet word nie.


“Maar die hoëpriester Ananías het bevel gegee aan die wat by hom staan, om hom op die mond te slaan. Toe sê Paulus vir hom: God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word? En die wat daarby staan, sê: Skel jy die hoëpriester van God uit? Daarop sê Paulus: Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van 'n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.”   HANDELINGE 23:2-5 AFR53


Daar word baie gespekuleer oor Paulus se doring in die vlees. Kon dit sy oë wees?


“En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.”   II KORINTHIËRS 12:7 AFR53


Op hierdie veronderstelling kry die gretige wens van die Galasiërs, as dit moontlik was om hul eie oë uit te pluk en dit aan hom te gee, 'n besondere en interessante betekenis.


“Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.”   GALÁSIËRS 4:15 AFR53


Wat het Saulus vir hierdie drie dae gedoen? Hy het nie geëet of gedrink nie, waarskynlik baie gedink.


“En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.”   HANDELINGE 9:9 AFR53


 

5 November 2023


HANDELINGE 9:10 AFR53

“En daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in 'n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here.”


Ananias, ‘n dissipel van Damaskus, die stad waarnatoe Saulus oppad is, word in ‘n gesig deur Jesus geroep, en hy antwoord: Hier is ek, Here.


Jesus sê vir Annanias dat hy na Reguitstraat moet gaan en daar ‘n man met die naam Saulus van Tarsus moet ontmoet wat besig is om te bid. Jesus sê vêrder dat Saulus ook ‘n gesig gesien het, en hy wag vir Annanias om hom die hande op te lê sodat hy weer kan sien.


“Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.”   HANDELINGE 9:11-12 AFR53


Ananias is onmiddelik bang want hy erken die naam Saulus as die persoon wat die nuwe Jesus volgelinge vervolg, en nou selfs toestemming het om Damaskus toe te kom.


“Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep.”   HANDELINGE 9:13-14 AFR53


Jesus stel hom egter gerus en sê dat Saulus gekies is om die evangelie aan die nasies en hul konings te bring - eers aan die heidene (gentiles) en dan die kinders van Israel.


Jesus profeteer vêrder dat Saulus se pad vorentoe nie sonder probleme sou wees nie.


“Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.”   HANDELINGE 9:15-16 AFR53


Annanias het na Saulus gegaan en presies gedoen soos Jesus hom beveel het. Dit was belangrik sodat Saulus die versekering sou he dat die regte persoon voor hom staan.


Die man wat gekom het as die verteenwoordiger van die dissipels van Jesus, het die vervolger as 'n broer verwelkom.


“En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.”   HANDELINGE 9:17 AFR53


Onmiddelik val iets soos skille van Saulus se oë af en hy kon sien. Hy staan op en is gedoop.


Tydens hierdie geleentheid is die Heilige Gees geskenk sonder die handoplegging van een van die twaalf.


“En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.”   HANDELINGE 9:18 AFR53


Saulus eet weer na sy drie dae vas en sy emosionele en geestelike ondervinding en hy word weer sterk. Die dissipels aanvaar hom as ‘n broeder en hy spandeer ‘n paar dae in hulle geselskap.


“En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was 'n paar dae saam met die dissipels in Damaskus.”   HANDELINGE 9:19 AFR53


 

6 November 2023


HANDELINGE 9:20 AFR53

“En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.”


Lukas, die skrywer van Handelinge, vertel nie vir ons van Saulus se drie jaar in Arabië nie. Hy spring oor hierdie gedeelte en vertel wat daarna gebeur het. Vir Saulus om Christus dadelik in die sinagoges te kon verkondig, moes hy eers opleiding ontvang het.


In die boek Galasiërs beklemtoon Paulus dat hy die evangelie direk van Jesus ontvang het en nie van die ander apostels nie. Hy het Damaskus verlaat en na Arabië gegaan, wat moontlik die omliggende woestynplatteland beteken.


“Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus. Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het; en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders. Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus.”   GALÁSIËRS 1:11-17 AFR53


Ons het geen idee hoe ver suid in die Arabiese Skiereiland Saulus gegaan het nie, maar ons weet hy het drie jaar later na Damaskus teruggekeer en toe na Jerusalem gegaan.


“Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly;”   GALÁSIËRS 1:18 AFR53


In Damaskus het Paulus Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is, en die mense was skoon verbaas. Hulle het Saulus onthou as die persoon wat die Jode vervolg het, nie gehelp het nie.


“En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hý nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie?”   HANDELINGE 9:21 AFR53


Maar Saulus, nog steeds in Damaskus, het al hoe kragtiger gepreek.


“Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is.”   HANDELINGE 9:22 AFR53


Soveel so, dat die Jode nou beraadslag het om hóm dood te maak.


“En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring. En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring;”   HANDELINGE 9:23-24 AFR53


Die dissipels het Saulus in die nag geneem en in ‘n mandjie teen die muur laat afsak sodat hy so uit Damaskus kon ontsnap.


“maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in 'n mandjie te laat afsak.”   HANDELINGE 9:25 AFR53



 

7 November 2023


HANDELINGE 9:26 AFR53

“En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy 'n dissipel was nie.”


Die dissipels in Jerusalem is nog steeds bang vir Saulus. Barnabas ontferm hom oor Saulus en vertel vir almal sy storie. Dat hy Jesus in ‘n gesig gesien het en vrymoedig in Damaskus in die Naam van Jesus gepreek het.


“Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het.”   HANDELINGE 9:27 AFR53


Saulus het saam met Petrus en Jakobus in Jerusalem rondgegaan en in die Naam van Jesus gepreek.


“En hy het saam met hulle in- en uitgegaan in Jerusalem”   HANDELINGE 9:28 AFR53


Saulus was in sy eie woorde slegs vyftien dae in Jerusalem.


“Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly; en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.”   GALÁSIËRS 1:18-19 AFR53


Saulus preek vir die Griekssprekende Jode en hervat Stefanus se predeking wat hy self jare tevore teengestaan het. Die Jode hou nie van dit wat hy preek nie, en hulle wil hom doodmaak.


“en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak.”   HANDELINGE 9:29 AFR53


Die broeders kom gelukkig agter dat Saulus moeilikheid gaan optel en hulle stuur hom weg na Tarsus.


“En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur.”   HANDELINGE 9:30 AFR53


Die gemeente in Jerusalem het vrede gehad, want die Jode was toe besig om ‘n geveg op ‘n ander front af te weer. Keiser Caligula was vasbeslote om 'n beeld van homself in die Tempel van Jerusalem te laat oprig, wat natuurlik ‘n groot taboe was.


“En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.”   HANDELINGE 9:31 AFR53


Caligula se dood bring gelukkig ‘n einde aan die hele gedoente. Hierdie hele onderonsie tussen die Jode en Caligula oor die beeldkwessie was moontlik deel van hoekom die gemeentes van Judea, Galilea en Samaria vir 'n rukkie 'n tweede prioriteit was.


Die installering van 'n heidense beeld in die Allerheiligste blyk gereserveer te wees vir die Antichris wat nog moet gebeur.


 

8 November 2023


HANDELINGE 9:32 AFR53

“En onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon;”


Van hier tot en met die einde van hoofstuk 12 verskuif die klem na Petrus se bediening.


Die heiliges in Lidda, ‘n dorp ‘n dagreis van Jerusalem, was die gelowiges wat onder Filippus se bediening van Jesus geleer het.


Petrus ontmoet ‘n verlamde man, Eneas, wat agt jaar lank bedlêend was. Hy ontferm hom oor Eneas en sê dat Jesus Christus hom gesond maak en beveel hom vêrder om op te staan en sy bed op te maak. Eneas het dadelik opgestaan.


“en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was. En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan.”   HANDELINGE 9:33-34 AFR53


Toe die inwoners van Lidda en Saron die wonderwerk sien wat met Eneas gebeur het, het hulle tot bekering gekom.


“En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.”   HANDELINGE 9:35 AFR53


Joppe was die naaste hawestad van Jerusalem, en ook die stad waar Jona op die skip geklim het om te vlug van God. In die stad het ‘n dissipelin met die naam Tabita of Dorkas gewoon. Tabita het siek geword en gesterf en haar vriendinne het haar gewas en in die bovertrek neergelê.


“En in Joppe was daar 'n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het. En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê.”   HANDELINGE 9:36-37 AFR53


Lidda en Joppe was naby mekaar, en die disippels het daarom vir Petrus gevra om sonder uitstel na hulle toe te kom.


“En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom. En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.”   HANDELINGE 9:38-39 AFR53


Petrus stuur almal uit die vertrek uit, en kniel langs Tabita se liggaam en bid. Hy beveel haar hardop om op te staan. Sy het haar oë oopgemaak, Petrus gesien, en regop gesit. Toe roep Petrus die weduwees en die mede-gelowiges in die vertrek in en stel haar lewendig voor aan hulle.


“En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.”   HANDELINGE 9:40-41 AFR53


Petrus vertoef ‘n geruime tyd in Joppe en baie mense het in die Here geglo.


“En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo. En hy het 'n geruime tyd in Joppe gebly by 'n sekere Simon, 'n leerlooier.”   HANDELINGE 9:42-43 AFR53


 

9 November 2023


HANDELINGE 10:1 AFR53

“En daar was in Cesaréa 'n man met die naam van Cornelius, 'n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.”


Cornelius was 'n hoofman oor honderd, 'n bevelvoerder in die Italiaanse regiment van die Romeinse weermag en hy het in Cesarea gewoon. Sy verhaal is belangrik omdat dit in Cornelius se huishouding was dat God die deure van die kerk oopgemaak het vir die nie-Joodse wêreld. Petrus was teenwoordig om dit te sien gebeur, net soos hy ook 'n getuie was tydens die opening van die deure vir die Samaritane (Hand 8) en die Jode (Hand 2).


Ten spyte daarvan dat Cornelius 'n Romein was het hy in God geglo. Hy was ook 'n toegewyde man wat gereeld gebid het en vir liefdadigheid gegee het.


“Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.”   HANDELINGE 10:2 AFR53


Een middag, terwyl Cornelius besig was om te bid, sien hy 'n engel van God wat vir hom sê dat God sy gebede verhoor het.


“Hy het duidelik in 'n gesig omtrent die negende uur van die dag 'n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius! En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.”   HANDELINGE 10:3-4 AFR53


Die engel sê vir Cornelius om Petrus te vind wat in Joppe woon by die huis van Simon, 'n leerlooier. Cornelius het dadelik twee van sy dienaars en 'n toegewyde soldaat na Joppe gestuur om Petrus te vind en hom terug te bring.


“Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy is tuis by 'n sekere Simon, 'n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en 'n vroom soldaat van die wat altyd by hom was, en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.”   HANDELINGE 10:5-8 AFR53


Terwyl Cornelius se mense oppad is na Petrus, word Petrus voorberei vir sy ontmoeting met hulle. Die middag twalfuur terwyl die tafel binne die huis gedek word, klim hy op sy huis se dak om te bid. Hy word skielik erg honger en begin om in die gees ‘n gesig te sien.


“En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar 'n verrukking van sinne oor hom gekom:”   HANDELINGE 10:9-10 AFR53


Die hemel maak oop en Petrus sien iets soos ‘n groot laken wat afkom na hom toe. In die laken sien hy ‘n verskeidenheid diere van die aarde, rein en onrein, en ‘n stem sê vir hom om op te staan, te slag en te eet. Petrus is geskok en sê vir die Here dat hy dit nie kan doen nie, hy het nog nooit iets onheilig of onrein geëet nie.


“hy sien die hemel geopend en 'n voorwerp soos 'n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.”   HANDELINGE 10:11-14 AFR53


 

10 November 2023


HANDELINGE 10:15 AFR53

“En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.”


Drie maal sien Petrus die laken met die rein en onrein diere. Terwyl hy op sy dak verleë probeer uitwerk wat die gesig beteken, arriveer Cornelius se mense by sy voordeur en vra of hy daar is.


“En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.”   HANDELINGE 10:16-18 AFR53


Petrus dink nog, toe die Gees vir hom sê dat daar mense by sy voordeur is, en hy moet hulle sonder twyfel ontvang.


“En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.”   HANDELINGE 10:19-20 AFR53


Petrus ontvang sy gaste, en hulle vertel vir hom van Cornelius se besoek deur 'n engel en vra hom om met Cornelius te kom praat. Petrus nooi die mans om te oornag, en die volgende dag reis Petrus saam met hulle na Sesarea.


“En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is? En hulle sê: Cornelius, 'n hoofman oor honderd, 'n regverdige en godvresende man, wat 'n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het 'n goddelike openbaring ontvang deur 'n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.”   HANDELINGE 10:21-23 AFR53


Cornelius het reeds sy familie en vriende bymekaargeroep toe Petrus daar aankom. Cornelius val voor Petrus neer, maar Petrus sê hy moet opstaan, want hyself is net ‘n mens.


“Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar 'n mens. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;”   HANDELINGE 10:24-27 AFR53


Petrus praat met die groep mense en sê dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om in die geselskap van nie Jode te wees, maar dat God vir hom gewys het dat hy geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Petrus wil nou van Cornelius weet hoekom hulle hom nodig het.


“en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir 'n Joodse man om met iemand van 'n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.”   HANDELINGE 10:28-29 AFR53


 

11 November 2023


HANDELINGE 10:30 AFR53

“En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid,”


Cornelius vertel vir Petrus van die engel wat hy gesien het, en dat hy Petrus moes kry om met hulle te kom praat. So nou sit almal en wag vir Petrus om vir hulle te vertel wat God aan hom openbaar het.


“en meteens staan daar 'n man voor my in 'n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, 'n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.”   HANDELINGE 10:31-33 AFR53


Die dag het Petrus en die mense met wie hy praat iets geleer - God is geen aannemer van ‘n persoon nie.


“En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”   HANDELINGE 10:34-35 AFR53


God het Sy Seun Jesus nie net vir die Jode nie, maar vir elke volk en nasie gestuur wat Hom sal aanneem.


“Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus — Hy is die Here van almal.”   HANDELINGE 10:36 AFR53


Nou gee Petrus ‘n kort opsomming van Jesus se bediening. Julle weet - hy neem aan hulle het gehoor van Jesus van Nasaret wat deur God gesalf was met die Heilige Gees en met krag. Hy, Jesus, het deur die land gegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was.


“Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het, met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”   HANDELINGE 10:37-38 AFR53


Petrus getuig dat hy en die ander disippels getuies van alles was wat Jesus in Israel gedoen het, van Jesus se dood aan die kruis, dat Hy op die derde dag opgestaan het uit die dood en verskyn het aan die wat Hom reeds aangeneem het.


“En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan 'n kruishout op te hang. Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het.”   HANDELINGE 10:39-41 AFR53


 

12 November 2023


HANDELINGE 10:42 AFR53

“En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.”


Petrus getuig dat Jesus hulle bevel gegee het om aan die volk te verkondig en kragtig te getuig dat Jesus deur God bestem is as Regter van die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.


Petrus praat in die algemeen en sê dat die profete van ouds almal getuig het dat elkeen wat in Hom glo, deur Sy Naam, vergifnis van sondes sal ontvang.


“Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.”   HANDELINGE 10:42-43 AFR53


Die Heilige Gees val op almal wat Petrus se woorde hoor, en hiermee word die deur oopgemaak vir nie-Jode om ook Jesus volgelinge te word.


“En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.”   HANDELINGE 10:44 AFR53


Almal wat saam met Petrus gekom het was verbaas dat die Heilige Gees ook vir heidene beskikbaar was, want hulle het met hul eie oë gesien en ore gehoor wat hier gebeur het.


“En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:”   HANDELINGE 10:45-46 AFR53


Petrus en die Jode wat saam met hom was, het die begin gesien van iets nuuts wat God besig was om te doen. Hierdie mini-Pinkster in Cornelius se huis was 'n bewys dat die evangelie vir alle mense was, nie net vir die Jode nie. Petrus het die mense gedoop en nog ‘n paar dae by hulle gebly.


“Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae te bly.”  HANDELINGE 10:47-48 AFR53


Ons leer in die gedeelte hoe om nie-gelowiges aan Jesus voor te stel:


- Jesus se bediening het begin nadat God Hom met die Heilige Gees en met krag gesalf het.

- Daarna het Jesus deur die land gegaan en almal genees wat onder die mag van die duiwel was.

- Daar was baie getuies van alles wat Jesus in die Joodse land en Jerusalem gedoen het.

- Jesus is doodgemaak deur op ‘n kruis gehang te word.

- Maar God het Hom na drie dae uit die dood opgewek, en Hy het net verskyn aan diegene wat Hom reeds aangeneem het.

- Jesus het aan Sy dissipels bevel gegee om na al die nasies te gaan en hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en om hulle te leer alles wat Jesus hulle geleer het.

- Die profete van ouds het almal getuig dat elkeen wat in Hom glo, deur Sy Naam, vergifnis van sondes sal ontvang.

- Jesus het na veertig dae opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God, vanwaar Hy sal oordeel oor die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.


 

21 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page