29 September 2023
HANDELINGE 4:1 AFR53
“En terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom,”
Ons het nou vir die eerste keer sedert Jesus se kruisiging weer te doen met die tempelowerhede. Tyd het aangestap en dit is meer as sewe weke na Jesus se kruisiging en die owerhede het hulself gelukgewens want die Jesus ‘probleem’ is opgelos en nou in die verlede.
Hulle weet dat die liggaam van Jesus uit die graf verdwyn het, en hulle het ywerig die berig versprei dat die dissipels dit gesteel het - en goeie geld betaal vir die storie.
“en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was. En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is. Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.” MATTHÉÜS 28:13-15 AFR53
Hulle moes iets gehoor het van die Pinksterdag gebeure – alhoewel daar geen bewyse is dat hul teenwoordig was as toeskouers of luisteraars nie – en van die groei van die nuwe samelewing.
Nou kom die spul op Petrus en Johannes af waar hulle besig is om die mense te leer van Jesus wat uit die dood opgestaan het, en hulle is nie gelukkig nie.
“baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.” HANDELINGE 4:2 AFR53
Die Sadduseërs is veral ongelukkig want hulle glo nie in enige opstanding nie. So vir Petrus en Johannes om dit te verkondig is vir die Sadduseërs ‘n totaal taboe onderwerp.
“Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.” HANDELINGE 23:8 AFR53
Die maklikste was om hulle weg te neem en toe te sluit vir die aand.
“En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand.” HANDELINGE 4:3 AFR53
Die mense egter wat na Petrus se predeking geluister het, het wel geglo, en die gelowiges se getal het gegroei tot vyf duisend!
“En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyfduisend geword.” HANDELINGE 4:4 AFR53
30 September 2023
HANDELINGE 4:5 AFR53
“Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar,”
Die volgende dag kom die hele Joodse Raad weer bymekaar, moontlik vir die eerste keer sedert Jesus se kruisiging. Die owerstes, die ouderlinge, die skrifgeleerdes, Annas die hoëpriester, Kajafas en die hele hoëpriesterlike familie.
Annas was van Aäron se priesterdom, maar hy is deur die Romeine uit sy amp onthef, en Kajafas is in sy plek aangestel. Kajafas was dus die waarnemende hoëpriester, maar hy was nie van die geslag van Aäron nie. Kajafas is ook nie werklik deur die Jode aanvaar nie. Annas het steeds kragtige invloed uitgeoefen, hoewel hy nie amptelik aan bewind was nie. Annas en Kajafas is die twee mans wat Jesus tot die dood veroordeel het.
“ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was;”. HANDELINGE 4:6 AFR53
Die Sanhedrin volg nou die aanwysings van Deuteronomium 13 om vas te stel of die wonder of teken wat Petrus en Johannes gedoen het, die Joodse mense laat optree om agter ander gode aan te loop, want indien wel, kan hulle die twee stenig.
“As 'n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou 'n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop — wat jy nie geken het nie — en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die Here julle God beproef julle om te weet of julle werklik die Here julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.” DEUTERONÓMIUM 13:1-3 AFR53
Die vraag word met in 'n toon van minagting gevra. Hulle erken die feit dat die kreupel man kan loop, en dus ïmpliseer hulle dat ‘dit’ wat gedoen was die effek van towerkrag moes wees. Hulle kan dit wat plaasgevind het nog nie 'n teken of wonder noem nie. Hulle vra Petrus dus: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?
“en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” HANDELINGE 4:7 AFR53
Petrus begin praat, vervul met die Heilige Gees. Ons sien duidelik ‘n Petrus wat heel anders optree as die man wat ‘n paar weke terug by ‘n vuur in die tempel gestaan het en Jesus verraai het. Vervul met die Heilige Gees praat Petrus met gesag en spreek die Joodse Raad toe.
“Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor 'n weldaad aan 'n siek man, waardeur hy gesond geword het,” HANDELINGE 4:8-9 AFR53
Jesus het lank voor Sy kruisiging vir Sy disippels beloof dat wanneer hulle oorgelewer word, hulle nie hoef te wonder oor wat hulle moet sê nie, want die Heilige Gees sal hulle help. Petrus beleef nou hierdie hulp.
“Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” MATTHÉÜS 10:19-20 AFR53
1 Oktober 2023
HANDELINGE 4:10 AFR53
“laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.”
Die vrymoedigheid van die verklaring was verbysterend. Petrus skram nie daarvan weg om Jesus, die Nasarener, as die Messias te bely nie. Hy beklemtoon die feit dat alhoewel Pilatus die formele vonnis gegee het, dit hulle was wat hul Koning gekruisig het. Petrus verkondig dat Jesus uit die dood opgewek is, en steeds as 'n Krag werk om te genees soos toe Hy op aarde was.
Petrus verwys na Psalm 118:22 om die godsdienstige leiers te help verstaan dat hul verwerping van Jesus deur Hom te kruisig en Sy daaropvolgende opstanding alles deel was van die vervulling van God se verlossingsplan.
“Die steen wat die bouers verwerp het, het 'n hoeksteen geword.” PSALMS 118:22 AFR53
“Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het.” HANDELINGE 4:11 AFR53
Hierdie leiers het uit die Skrif geweet dat die God van Israel die enigste Verlosser is.
“Ek, Ek is die Here, en daar is geen Heiland buiten My nie.” JESAJA 43:11 AFR53
“Tog was Ek, die Here, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie.” HOSÉA 13:4 AFR53
Nou beweer Petrus dat God self die rol van verlossing aan Jesus toegewys het. Hy het dit gedoen deur Sy Seun te stuur om vlees te word en onder ons te woon.
“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” JOHANNES 1:14 AFR53
Om die straf vir ons sondes te betaal deur sy eie kruisdood.
“Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes.” I JOHANNES 4:10 AFR53
Sodat ons wat in Hom glo, gered kan word tot die ewige lewe.
“En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.” I JOHANNES 5:11-12 AFR53
Die naam van Jesus—die krag, gesag en persoon van Jesus—is deur God aan mense gegee sodat hulle gered kan word.
“En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” HANDELINGE 4:12 AFR53
Wat beteken dit, dat daar geen ander naam onder die hemel is waardeur ons gered kan word nie? Eenvoudig, daar is geen ander persoon wat ons kan red nie. Net Jesus red.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.” JOHANNES 3:16-17 AFR53
2 Oktober 2023
HANDELINGE 4:13 AFR53
“En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”
Die woord vrymoedigheid impliseer gemak en gereedheid van spraak soos wat nie van ongeleerdes verwag sou word nie. Duidelik het Johannes ook gepraat, maar sy woorde is nie hier aangeteken nie.
Die Joodse Raad kon nie die kreupele se genesing ontken nie, want die man het reg voor hulle gestaan. Hulle kon sien wat plaasgevind het!
“En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie.” HANDELINGE 4:14 AFR53
Petrus en Johannes word toe aangesê om buite te wag terwyl die Raad met mekaar beraadslag.
“Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag ” HANDELINGE 4:15 AFR53
Die Joodse Raad wou nie he dat Petrus en Johannes moes hoor wat hulle sê nie - dat hulle op die stadium nie weet wat om met hulle te maak nie.
“en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar 'n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.” HANDELINGE 4:16 AFR53
Hulle kon nie ontken dat die wonderwerk plaasgevind het nie, maar hulle kon verhoed dat die kennis daarvan versprei. Hulle plan is om die apostels te dreig en hulle so te verbied om die Naam van Jesus enigsins vêrder te noem.
“Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie. En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.” HANDELINGE 4:17-18 AFR53
Petrus gee ‘n baie slim antwoord, natuurlik met die hulp van die Heilige Gees. Julle moet self besluit wat voor God reg is! Moet ons aan julle gehoorsaam wees of eerder aan God gehoorsaam wees?
“Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;” HANDELINGE 4:19 AFR53
Petrus praat vêrder: vir ons is dit onmoontlik om nie te praat oor dit wat ons gesien en gehoor het nie!
“want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” HANDELINGE 4:20 AFR53
3 Oktober 2023
HANDELINGE 4:21 AFR53
“En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.”
Die Joodse Raad het geen rede om Petrus en Johannes te straf nie, en voeg net nog dreigemente by die voriges by. Hulle word losgelaat want die volk verheerlik God oor wat met die kreupele gebeur het. Die wonderwerk was veral asemrowend omdat die man ouer as veertig was toe hy genees is.
“Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud.” HANDELINGE 4:22 AFR53
Petrus en Johannes gaan terug na hul eie mense, en vertel vir hulle alles wat met hulle gebeur het.
“En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het.” HANDELINGE 4:23 AFR53
Nadat hulle Petrus en Johannes se vertelling gehoor het, het hulle almal saam hul stem verhef en saam tot God gebid.
“En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het,” HANDELINGE 4:24 AFR53
Nou sing hulle Psalm 2 waar die nasies woed en nietige dinge bedink.
“wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.” HANDELINGE 4:25-26 AFR53
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê:”. PSALMS 2:1-2 AFR53
Dan volg ook die verduideliking van waarom die nasies woed en nietige dinge bedink. Watter konings saamstaan om te vergader teen God se Gesalfde.
Herodes en Pontius Pilatus het saam met die heidene en die volk van Israel vergader teen die heilige Kind Jesus, om alles te doen wat God lank terug vooruit bepaal het om plaas te vind.
“Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.” HANDELINGE 4:27-28 AFR53
4 Oktober 2023
HANDELINGE 4:29 AFR53
“En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,”
Die groep bid tot God, die Vader en vra vir hulp om die Woord met vrymoedigheid te spreek. Hulle vra vêrder dat God Sy hand sal uitstrek sodat genesings en tekens en wonders deur die Naam van Jesus sal plaasvind.
“deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.” HANDELINGE 4:30 AFR53
Hul gebed is onmiddelik verhoor, en die plek waar hulle saam was het geskud. Almal is vervul met die Heilige Gees en hulle het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
“En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.” HANDELINGE 4:31 AFR53
Die mense bymekaar het ‘n intieme groep geword wat hul besittings saamgevoeg het. Hierdie intimiteit het vrugte afgewerp. Hulle was eensgesind, een siel. Hulle was effektief, nie omdat hulle hul goedere saamgevoeg het nie, maar omdat hulle verenig was as 'n kragtige gemeenskap.
“En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad.” HANDELINGE 4:32 AFR53
Die apostels het uitgegaan en met groot krag getuienis gegee oor Jesus se opstanding, en die genade van God was oor hulle.
Hulle het gebid vir God se hulp om hul werk te doen, en God het hul gebede geantwoord. Omdat hulle binne God se wil gewerk het, is dit wat hulle gedoen het ryklik geseën.
“En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” HANDELINGE 4:33 AFR53
Een treffende bewys van die grootheid van God se genade wat op hierdie tydstip oor die groep gelowiges was, was dat daar nie iets soos gebrek of armoede onder hulle was nie.
Die voorsiening aan elkeen se behoeftes, kan vergelyk word met God wat manna vir Sy volk gegee het in die woestyn. Die rykes het hul huise en grond verkoop en die opbrengs daarvan aan die voete van die apostels gelê, om in die algemene behoeftes van die groep te voorsien.
“Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.” HANDELINGE 4:34-35 AFR53
5 Oktober 2023
HANDELINGE 4:36-37 AFR53
“En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was — wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting — 'n Leviet, van geboorte uit Ciprus, het 'n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.”
Barnabas, ‘n Liviet van Ciprus, verkoop sy eiendom, en gee die geld aan die apostels. Hy het 'n ruim bydrae gelewer, en almal het daaroor gepraat.
Ons maak in hoofstuk 13 weer kennis met Barnabas wanneer hy Paulus vergesel op sy eerste sendingsreis.
Die woord ‘maar’ vebind hoofstuk 4 en 5 aan mekaar. Barnabas het sy eiendom verkoop en die geld aan die apostels gegee, MAAR, Ananias en sy vrou Saffira het ook ‘n eiendom verkoop.
“Maar 'n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra 'n eiendom verkoop,”. HANDELINGE 5:1 AFR53
Fantasties! Die koffers van die nuwe gemeenskap van Jesus volgelinge groei. Maar, van die begin van die nuwe beweging word hulle benadeel en aangeval deur gevare, nie van buitestaanders nie, maar van hul eie mense.
Ananias en Saffira gee die opbrengs van hul verkoop ook vir die apostels. Nee wag, hulle hou ‘n gedeelte terug en maak asof hulle die hele opbrengs gee.
“en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en 'n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.” HANDELINGE 5:2 AFR53
Petrus het, met die werking van die Heilige Gees, geweet wat Ananias en sy vrou in die geheim beplan en gedoen het, en hy konfronteer hom.
“Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?” HANDELINGE 5:3 AFR53
Die fout was nie die geskenk nie, ook nie die verkoop van die grond nie, en die fout was ook nie om dit aan die apostels te gee nie. Die fout was om dit op een manier te speel en dit op 'n ander manier aan te bied. Basies, die sonde van skynheiligheid.
Petrus sê vir Ananias dat hy nie vir die mense gelieg het nie, maar vir God! Toe Ananias die woorde hoor, het hy neergeval en gesterf.
“As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en 'n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het. Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.” HANDELINGE 5:4-6 AFR53
6 Oktober 2023
HANDELINGE 5:7 AFR53
“En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het.”
Toe Sapphira opdaag, het sy ook vir Petrus en vir God gelieg en gesê dat hulle die hele opbrengs van die verkoop van die grond aan die kerk geskenk het. Toe haar leuen ontbloot is, het sy ook neergeval en aan Petrus se voete gesterf.
“En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel. En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra. Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.” HANDELINGE 5:8-10 AFR53
Sommige bespiegel dat hierdie twee sterftes van natuurlike oorsake was. Miskien het Ananias gesterf van skok of skuldgevoelens, maar Petrus het Saffira se dood uitgespreek voordat sy gesterf het, en die tyd en plek van hul dood dui daarop dat dit inderdaad God se oordeel was. Die vraag is hoekom. Waarom sou God twee mense doodmaak omdat hulle gelieg het?
God se redes vir die dood van Ananias en Saffira behels Sy afsku met sonde, die skynheiligheid van die egpaar, en die les vir die res van die kerk, beide toe en nou. Dit kan vandag maklik wees om die heiligheid van God te verbloem, om te vergeet dat Hy regverdig en rein is en dat Hy sonde heelhartig haat. Hierdie spesifieke sonde van skynheiligheid in die gemeente is vinnig en beslissend hanteer.
“En 'n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.”HANDELINGE 5:11 AFR53
Die ‘kerk’ is in die begin kragtig gehelp en bevorder deur die wonderwerke wat in die Naam van Jesus Christus gedoen is. Die gesag van die apostels as die leiers van die eerste gemeente is versterk deur die wonderwerke wat uitsluitlik deur hulle hande gedoen is.
“En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.” HANDELINGE 5:12 AFR53
Die ander mense - moontlik ander mense met geld wat nie dieselfde pad as Ananias en Saffira wou loop nie - was skugter om hulle by die gemeente aan te sluit. Tog is baie mense wat in Jesus geglo het, by die gemeente bygevoeg.
“En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,” HANDELINGE 5:13-14 AFR53
7 Oktober 2023
HANDELINGE 5:15 AFR53
“sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.”
Let wel—dit sê nie dat die skaduwee van Petrus die siekes werklik genees het nie (dit mag dalk gedoen het, maar dit sê dit nie). Dit is beskrywend van die houding van die mense, maar nie noodwendig 'n verklaring van 'n feit nie.
Die mense het wel van oral gekom om genees te word. Nie net is die siekes gesond gemaak nie, maar onrein geeste is uitgedryf. Hierdie wonderwerke het die kerk versterk en hulle voorberei vir die komende beproewinge.
“En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.” HANDELINGE 5:16 AFR53
Die Joodse Raad het uit twee verskillende magsgroepe bestaan. Die Fariseërs wat Jesus se vervolging en kruisiging uitgevoer het, en die Sadduseërs wat die vroeë kerk se vervolging uitgevoer het. Die genesings en wonderwerke was vir die Sadduseërs 'n verleentheid aangesien hulle die bonatuurlike ontken het. Die apostels is dus sonder seremonie gevang en in die tronk gestop.
“En die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul, en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.” HANDELINGE 5:17-18 AFR53
Die feit dat die Sadduseërs nie in die bonatuurlike glo nie, maak nie dat dit nie bestaan nie. ‘n Engel van die Here verskyn in die nag aan die apostels en sluit die gevangenis oop met die volgende opdrag: gaan na die tempel, en vertel vir die volk die boodskap van hierdie nuwe lewe.
“Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” HANDELINGE 5:19-20 AFR53
Twee goed gebeur die volgende oggend. Petrus en Johannes luister vir die engel en is vroeg by die tempel om die mense te leer. Intussen kom die Joodse Raad almal bymekaar en stuur dienaars na die gevangenis om Petrus en Johannes te laat haal.
“En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.” HANDELINGE 5:21 AFR53
Die dienaars wat by die gevangenis was rapporteer terug aan die Joodse Raad dat die twee wat hulle moes gaan haal het nie daar is nie, alhoewel die gevangenis toegesluit is en die wagte op hul poste is.
“Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê: Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.” HANDELINGE 5:22-23 AFR53
8 Oktober 2023
HANDELINGE 5:24 AFR53
“En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.”
Die leierskap is verslae en wonder wat van die apostels geword het. Hierdie Jesus geheim wat hulle wil wegsteek kruip op die mees ongewone plekke uit en dit hou die leierskap meer besig as wat hulle wil wees.
Eers word berig gegee dat die apostels uit die tronk ontsnap het, en nou kom ‘n nuwe berig deur dat hulle rustig in die tempel staan en die volk leer. Die leierskap se hoofpyn word net erger.
“En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.” HANDELINGE 5:25 AFR53
Die hoofman en die dienaars gaan haal die twee, sonder geweld, en bring hulle voor die hoëpriester. Die leierskap is versigtig vir die volk, want die apostels word al hoe gewilder.
“Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word. Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê:” HANDELINGE 5:26-27 AFR53
Die hoëpriester praat nou met die apostels. Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? Die hoëpriester sê ‘die’ Naam, hy weier om die Naam Jesus oor sy lippe uit te spreek. En dan vêrder sê hy dat die apostels die bloed van hierdie Man op hulle wil bring. Weereens word Jesus se Naam nie genoem nie.
“Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.” HANDELINGE 5:28 AFR53
Die apostels se woorde was direk en gevul met selfvertroue: Ons moet God eerder gehoorsaam as mense. Hierdie onwrikbare houding het die bediening van die apostels en vroeë Christene gedefinieer, wn hulle het vasberade gebly te midde van erge vervolging.
“En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.” HANDELINGE 5:29-32 AFR53
Die oproep om God eerder as mense te gehoorsaam bly vandag nog 'n dringende verpligting, net soos dit was toe die apostels dit die eerste keer verkondig het.
Wanneer jy voor ’n keuse staan tussen gehoorsaamheid aan menslike owerhede of God, moet daar geen huiwering wees nie. God is ons uiteindelike gesag, en ons waardes moet ooreenstem met Sy geopenbaarde Woord.
Jesus se woorde in Matteus dien as 'n herinnering dat God in beheer is:
“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” MATTHÉÜS 10:28 AFR53
9 Oktober 2023
HANDELINGE 5:33 AFR53
“Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring.”
Die Joodse Raad is woedend, maar Gamaliël stel voor dat die apostels verskoon word sodat hy met die leierskap kan praat. Gamaliël was 'n man van aansien en gerespekteer deur die leierskap. (Paulus identifiseer later in die hoofstuk met hom as sy leermeester.)
“Maar 'n Fariseër met die naam van Gamáliël, 'n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels 'n bietjie buitentoe moes bring.” HANDELINGE 5:34 AFR53
Gamaliël gee twee voorbeelde van persone wat die mense opgesweep het omdat hulle gedink het hulle is iets besonders, maar hulle is uiteindelik dood en die mense wat na hulle geluister het is verstrooi.
“Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het 'n aantal mense — omtrent vierhonderd — aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galiléër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en 'n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.” HANDELINGE 5:35-37 AFR53
Sy punt was dat daar persone was wat sou opstaan en 'n gevolg kry, maar as God nie daaragter is nie, sal dit misluk. As God wel daaragter is, wil hulle nie in Sy pad wil staan nie!
“En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie — dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.” HANDELINGE 5:38-39 AFR53
Die Joodse Raad het na die goeie raad geluister. Hulle het toe die apostels ingeroep, hulle laat slaan en toe net weer beveel om nie meer in die Naam van Jesus te spreek nie.
“En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.” HANDELINGE 5:40 AFR53
Die apostels het weggegaan, en toe net voortgegaan om in die tempel en van huis tot huis, die evangelie te verkondig en dat Jesus die Christus is.
“Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.” HANDELINGE 5:41-42 AFR53
10 Oktober 2023
HANDELINGE 6:1 AFR53
“En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar 'n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.”
Daar was 'n tradisionele wedywering tussen die Palestynse Jode (Hebreërs, Joodse Jode) en die Grieksprekende Jode.
Die wêreld buite Palestina het Grieks gepraat. 285 jaar voor Jesus se geboorte was 70 geleerdes in Alexandria, Egipte, aangestel om die Hebreeuse Geskrifte (wat ons die Ou Testament noem) in Grieks te vertaal. Die resultaat hiervan word die Septuagint-weergawe genoem (LXX, wat 70 geleerdes beteken). Die vertaling het plaasgevind vanaf 285 tot 270 v.C. (Die meeste van die Ou-Testamentiese aanhalings in die Nuwe Testament kom uit hierdie Griekse vertaling.)
'n Jood het in daardie dae Grieks gepraat. Hulle sou Hebreeus leer om in 'n plaaslike sinagoge te kon deelneem. Israel het nie Hebreeus gepraat na die Babiloniese ballingskap nie, hulle het Galdees Aramees gepraat. Hebreeus is eers weer in 1948 hervestig.
Die twaalf apostels roep toe al die gelowiges bymekaar en sê dit is nie reg dat hulle die verkondiging van die woord van God verwaarloos om die versorging van die gemeenskap te behartig nie.
“En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie.” HANDELINGE 6:2 AFR53
Daar is toe besluit om sewe manne aan te stel om die taak van versorging op hulle te neem. Die eerste diakens wat gekies word moes vol van die Heilige Gees en wysheid wees.
“Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.” HANDELINGE 6:3-4 AFR53
Nadat die hele gemeente in gebed volhard het, is die eerste sewe diakens gekies.
“En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, 'n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, 'n Jodegenoot uit Antiochíë,” HANDELINGE 6:5 AFR53
Die sewe het voor die apostels kom staan, daar is vir hulle gebid, en toe is die hande op hulle opgelê om hulle te seën vir die taak wat voorlê.
“wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê.” HANDELINGE 6:6 AFR53
God se woord het toegeneem, en selfs ‘n menigte van die priesters het gelowig geword.
“En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en 'n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” HANDELINGE 6:7 AFR53
11 Oktober 2023
HANDELINGE 6:8 AFR53
“Stefanus, aan wie God baie genade en krag gegee het, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.”
Stefanus, een van die eerste diakens, het groot geestelike krag getoon. Hy was een van die groot manne in die vroeë kerk. Die diakens kon skynbaar net soos die apostels ook wonders en tekens doen. Stefanus was ‘n sterk getuie van die Evangelie en daarom was hy die middelpunt van belangstelling en teenkanting van verskillende groepe.
“En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis.” HANDELINGE 6:9 AFR53
Stefanus is die eerste leeraar aan wie wysheid toegeskryf word. Natuurlik is die wysheid deur die Heilige Gees aan hom gegee, en daarom sou hy ieder en elk wat met hom geredeneer het, kon uitoorlê. Die klomp het nie hiervan gehou nie en moes van agterbakse taktieke gebruik maak om te ‘wen’. Hulle verkondig toe dat hulle ‘gehoor’ het hoe hy lasterlik praat teen God en teen Moses.
“Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie. Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.” HANDELINGE 6:10-11 AFR53
Stefanus is toe gevang en voor die Joodse Raad gebring.
“En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring.” HANDELINGE 6:12 AFR53
Twee aantygings word teen hom gemaak. Hy praat lasterlike dinge teen die heilige tempel, en teen Moses se wet.
“En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.” HANDELINGE 6:13 AFR53
Hierdie valse getuies het ongetwyfeld hulle beskuldiging op een of ander skyn van die waarheid gebaseer, en het uiters minagtend van Jesus gepraat met ‘hierdie Jesus, die Nasarener.’
“Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” HANDELINGE 6:14 AFR53
Natuurlik het almal van die Joodse Raad vir Stefanus dopgehou in afwagting op sy antwoord teen die getuies wat sopas teen hom gelewer is.
Stefanus is 'n nuwe Christen, en tog is sy insigte en agtergrond verbysterend. Hy gaan voor die Joodse Raad getuig waar die Sadduseërs die oorheersende groep is. Stefanus word daarvan beskuldig dat hy 'n skeiding van die wet van Moses voorstaan, en hy gaan sy beskuldigings op so 'n manier beantwoord wat wys dat hy meer Joods is as hulle!
Hy gaan ‘n oorsig gee van die geskiedenis van die volk Israel en van hulle weerstand en opstand teen God. Hy beskuldig die Joodse Raad daarvan dat hulle verraaiers en moordenaars van Jesus is.
“En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van 'n engel was.” HANDELINGE 6:15 AFR53
12 Oktober 2023
HANDELINGE 7:1 AFR53
“Toe sê die hoëpriester: Is hierdie dinge dan so?”
Stefanus se toespraak gee 'n opsomming van die Ou Testament en hy wys baie besonderhede uit wat die meeste Bybelgeleerdes oor die hoof gesien het.
Hy noem die raadslede broers - hulle is sy broers in die vlees. Hy noem die ouer manne vaders - hy is 'n jonger man en betoon respek vir hulle.
Stefanus gaan begin met Abraham wat nie 100% geluister het wat God hom beveel het nie! 'n Vertraging van 25 jaar om te reageer op wat God hom geroep het om te doen ...
“En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het,” HANDELINGE 7:2 AFR53
Abraham se oorspronklike oproep was van Ur in die Chaldeërs, en nie van Haran nie. Haran was 50 myl op met die rivier. Abraham is in Ur geroep en hy het na Haran getrek, en het eers 25 jaar later weer getrek toe sy pa gesterf het!
“en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy getrek uit die land van die Chaldeërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon.” HANDELINGE 7:3-4 AFR53
Stefanus begin sy geskiedenis les by Abraham omdat hy in ‘n sekere sin die eerste Jood was. Hy gaan vir ons uitwys dat die Joodse volk, soos Abraham, telkemale God se bevele die eerste keer ignoreer, en dan later doen wat hulle gevra is.
Abraham het geen grond geërf nie, maar hy het wel 'n deel daarvan besit. Nadat sy vrou, Sara, gesterf het, het Abraham 'n grot en 'n veld vir haar graf gekoop.
“En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie 'n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.” HANDELINGE 7:5 AFR53
Trouens, Abraham en sy kleinseun Jakob is ook daar begrawe.
“die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.” GÉNESIS 25:10 AFR53
“sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.” GÉNESIS 50:13 AFR53
Dit was eers in die tyd van Josua dat God die land Kanaän aan die Israeliete as hulle erfdeel gegee het.
God het van die begin af Isak, Sara se seun, en nie Ismael nie, gekies om Abraham se seëninge te ontvang.
“Maar my verbond sal Ek oprig met Isak wat Sara vir jou anderjaar op hierdie tyd sal baar.” GÉNESIS 17:21 AFR53
13 Oktober 2023
HANDELINGE 7:6 AFR53
“En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in 'n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vierhonderd jaar lank.”
Stefanus gaan voort met sy vertelling van God se beloftes aan Abraham. Gedeeltes van God se verbond met Abraham was positief. Abraham se vrou Sara sou 'n seun hê, daardie seun se nageslag sou die land Kanaän erf, en deur Abraham se nageslag sal al die nasies van die wêreld geseën word. Maar Abraham self, sou nie die land erf nie, en sy nageslag sou vir vierhonderd jaar slawe wees.
“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.” GÉNESIS 15:13 AFR53
Gebeure het gevorder soos God belowe het. Lank nadat Abraham en sy seun Isak gesterf het, het Abraham se agterkleinseun Josef, Egipte gered van 'n hongersnood wat ook Kanaän getref het. Josef het sy pa en broers na Egipte gebring. Ná Josef se dood het 'n nuwe Farao egter sy familie tot slawe gemaak. Vierhonderd jaar later het God Moses opgeroep om verskriklike vloeke oor die Egiptenaars aan te kondig en die Israeliete te red.
“En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.” HANDELINGE 7:7 AFR53
Die Israeliete was bywoners gedurende hul vierhonderd jaar in Egipte, maar Abraham, Isak en Jakob se families was ook bywoners voordat die Israeliete na Egipte gegaan het.
“en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.” EXODUS 6:4 AFR53
In nog 'n poging om die onfeilbaarheid van die Bybel te betwyfel, wys kritici daarop dat Eksodus 12:40 beweer dat die Israeliete vir 430 jaar in slawerny was.
“En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar.” EXODUS 12:40 AFR53
'n Nadere ondersoek sal wys die teks sê dat hulle ‘in Egipte gewoon het’ vir 430 jaar. Blykbaar, nadat Jakob sy seuns en hulle gesinne na Egipte gebring het om van die hongersnood te ontsnap, het hulle vir dertig jaar in vrede gelewe. Toe het die nuwe Farao hulle in slawerny laat werk.
“Toe staan daar 'n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons 'n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou. Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel. Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye — al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.” EXODUS 1:8-14 AFR53
14 Oktober 2023
HANDELINGE 7:8 AFR53
“En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders.”
Die besnydenis het gedien as ‘n teken van die verbond wat God met Abraham gesluit. Die verbond wat hiervan gepraat word is om Abram se nageslag buitengewoon te vermeerder.
“Toe Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder.” GÉNESIS 17:1-2 AFR53
God het eers Abram se naam verander na Abraham, want God het hom die vader van ‘n menigte nasies gemaak.
“Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van 'n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou 'n vader van 'n menigte van nasies.” GÉNESIS 17:3-5 AFR53
Nie net sou Abraham se nageslag buitengewoon groot wees nie, maar sy nageslag sou die hele land Kanaän ontvang, as ‘n ewige besitting, en God sal hulle God wees. Israel soos ons dit vandag ken behoort aan Abraham se nageslag tot in ewigheid. Dit geld vandag nog, tot in ewigheid!
“En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees.” GÉNESIS 17:8 AFR53
Toe stel God die besnydenis in as ‘n teken van die verbond wat Abraham en sy nageslag moet hou.
“Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word —” GÉNESIS 17:9-10 AFR53
En so het Abraham die vader geword van Isak. Isak was die vader Jakob, en Jakob die vader van die twaalf aartvaders wat van daar af uitgebrei het na die twaalf stamme van Israel.
Stefanus herinner sy gehoor dat in die tyd van hulle voorvaders, insluitend Abraham, die twaalf aartsvaders, en die Jode wat vierhonderd jaar in Egiptiese slawerny deurgebring het, die tempel nie bestaan het nie.
Die bepalende simbool wat die Jode afgesonder het van die wêreld, was altyd die besnydenis. Die tabernakel en die tempel waar God aanbid is, het eers later gekom, maar die besnydenis was 'n merk op die Joodse mans van Abraham se tyd.
Slegs 'n paar dekades later, in 70 n.C., sal die Romeinse leër Jerusalem vernietig, die tempel verbrand en die Jode in ballingskap wegstuur waarvandaan hulle eers in 1948 sal terugkeer.
Selfs vandag nog, met hierdie skrywe, is die tempel nog nie herbou nie. Byna tweeduisend jaar nadat die tempel vernietig is, is die identifikasiemerk van 'n Joodse man steeds die besnydenis.
15 Oktober 2023
HANDELINGE 7:9 AFR53
“En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom”
Jakob se seuns, die aartsvaders, was jaloers op hul jonger broer Josef, en verkoop hom toe aan Ismaelitiese handelaars wat hom Egipte toe geneem het. Maar God was by Josef!
“En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.” GÉNESIS 37:28 AFR53
God het natuurlik ‘n plan gehad met Josef, en het hom spesiaal in Egipte geplaas om die spesifieke plan uit te voer.
“en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.” HANDELINGE 7:10 AFR53
Die hongersnood wat Josef in sy drome gesien het tref die hele Egipteland asook die land Kanaän, wat beteken dat Jakob en sy seuns ook ‘n voedseltekort het. Jakob hoor dat Egipte koring het en stuur sy seuns vir ‘n eerste keer uit om kos te koop. Nie een van die broers herken vir Josef nie, en hoekom sou hulle, want ‘n goewerneur van Egipte was die laaste plek waar hulle hom sou plaas.
“En 'n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.” HANDELINGE 7:12 AFR53
Stefanus wys vir die Joodse Raad dat Josef se broers hom eers die tweede keer herken. As die geskiedenis homself herhaal, dan sal Israel hul Messias eers die tweede keer herken, want duidelik het hulle Hom nie die eerste keer herken nie.
“En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.” HANDELINGE 7:13 AFR53
Stefanus het die Griekse vertaling van die Ou Testament gelees en geleer en die 75 siele kom uit die vertaling. Wanneer die vertaling met die Hebreeus vergelyk word is daar ‘n ekstra 5 persone wat moontlik die seun en kleinseun van Manasse en die twee seuns en 'n kleinseun van Efraim is.
“Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele.” HANDELINGE 7:14 AFR53
Lang storie kort, Jakob en sy familie trek uit die land Kanaän na Egipte om daar te woon en te vermeerder vir die volgende 430 jaar.
“En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders. En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir 'n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem. En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met 'n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte,” HANDELINGE 7:15-17 AFR53
16 Oktober 2023
HANDELINGE 7:18 AFR53
“totdat daar 'n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie.”
‘n Ander koning wat Josef nie geken het nie. Die Griekse woord wat hier vir ‘ander’ gebruik word is heteros en nie allos nie.
Allos en Heteros. Heteros beteken: nog een van 'n ander soort, en Allos beteken: nog een van dieselfde soort.
Die konings van Egipte was gewoonlik Egiptenare. Maar, die koning wat nie vir Josef geken het nie, was ‘n koning van ‘n ander soort, dus nie ‘n Egiptenaar nie - hy was ‘n Assiriër.
“Want so sê die Here Here: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk.” JESAJA 52:4 AFR53
Hierdie koning het die Israeliete mishandel en hulle verplig om hul seuns wat gebore word dood te maak in ‘n poging om die Joodse volk te verswak.
“Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.” EXODUS 1:22 AFR53
“Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.” HANDELINGE 7:19 AFR53
Abraham, Isak, Jakob, die twaalf aartsvaders en nou Moses. Ons ken almal Moses se storie. Die baba wat in ‘n biesiemandjie wat met pik gesmeer is tussen die riete van die Nyl rivier weggesteek was. Die baba wat deur Farao se dogter gevind was en deur haar grootgemaak is as haar eie.
“In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak.” HANDELINGE 7:20-21 AFR53
Josefus wys daarop dat Moses magtig was in die militêre kuns. Hy was onderrig in vakke soos rekenkunde, meetkunde, musiek, filosofie, hiërogliewe, kuns en die wetenskappe. Die Egiptenare het wiskunde, chemie, ingenieurswese, argitektuur en sterrekunde bestudeer en het die afstand na die son bereken. Hulle was 'n hoogs ontwikkelde kultuur en was nie 'n onkundige volk nie.
“En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.” HANDELINGE 7:22 AFR53
Duidelik was Moses slimmer en magtiger in woorde as wat hy later sou weergee toe God met hom praat.
“Toe sê Moses aan die Here: Ag, Here, ek is nie 'n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.” EXODUS 4:10 AFR53
17 Oktober 2023
HANDELINGE 7:23 AFR53
“En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;”
Stefanus vertel dat Moses veertig was toe hy die kinders van Israel besoek het. Dit was toe hy gesien het hoe ‘n Egiptenaar ‘n Hebreeuse man slaan.
“En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.” EXODUS 2:11 AFR53
Moses het die slagoffer gaan help en die misdaad gewreek deur die Egiptenaar dood te slaan.
“en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.” HANDELINGE 7:24 AFR53
Stefanus wys weereens hier dat Israel stadig was om hul leier te herken - hulle het Moses die eerste keer verwerp.
“En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.” HANDELINGE 7:25 AFR53
Die volgende dag toe Moses na die mans gaan is hulle besig om te veg. Hy wil vrede maak, maar hulle kan nie verstaan wie hom die reg gee om in te meng nie.
“En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as 'n owerste en regter oor ons aangestel?” HANDELINGE 7:26-27 AFR53
Israel moes veertig jaar langer in Egipte bly omdat hulle Moses nie die eerste keer as hul leier erken het nie. Die implikasie hier is dat as hulle Moses toe aangeneem het, dat God hulle dan kon verlos het. Maar omdat hulle Moses die eerste keer verwerp het, was hulle vasgevang in nog veertig jaar se slawerny.
“Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? En Moses het op hierdie woord gevlug en 'n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het.” HANDELINGE 7:28-29 AFR53
Toe Farao ontdek het dat Moses iemand doodgemaak het, het hy probeer om Moses dood te maak, maar Moses het na Midian gevlug.
“En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit.” EXODUS 2:15 AFR53
Moses en Sippora het getrou en twee seuns, Gersom en Eliëser gehad.
“Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet. En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee.” EXODUS 2:20-21 AFR53
“en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het 'n vreemdeling geword in 'n vreemde land; en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.)”. EXODUS 18:3-4 AFR53
18 Oktober 2023
HANDELINGE 7:30 AFR53
“En toe veertig jaar verby was, het 'n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van 'n doringbos.”
Nog veertig jaar is verby en Moses wat nou tagtig jaar oud is, is nog in die land Midian. ‘n Engel van die Here verskyn aan Moses in die woestyn in ‘n doringbos wat brand maar nie uitbrand nie.
Dit was blykbaar 'n akasiabos - die doringbos van die woestyn. Die dorings van die bos is ‘n prentjie van sonde, 'n simbool van die vloek van Genesis 3.
“Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.” GÉNESIS 3:18 AFR53
Ook was dit ‘n doringkroon wat Jesus moes dra tydens Sy kruisiging.
“en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!” MATTHÉÜS 27:29 AFR53
Die brandende bos het Moses gefasssineer want dit het gebrand, maar nie uitgebrand nie. Vuur is natuurlik ‘n prentjie van oordeel en wys vorentoe na ‘n ewige straf.
Ons het hier 'n beeld van sonde wat geoordeel word, maar nie verteer word nie! ‘n Prentjie van God se genade. God wil nie Sy volk verteer en vernietig nie, maar Hy wil hulle verlos. Verlos uit Egipte uit hul slawerny en hulle na die Beloofde Land toe lei.
Moses stap nader om te sien wat aangaan toe hy die stem van God hoor.
“En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom:” HANDELINGE 7:31 AFR53
God stel Homself voor aan Moses: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. Moses besef die omvang van wat hier gebeur en bewe en kyk nie meer na die bos nie.
“Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie.” HANDELINGE 7:32 AFR53
Moses word beveel om sy skoene uit te trek want die plek warop hy staan is heilige grond. God gaan nou vir Moses voorberei om die Israeliete se leier te wees en God se plan met hulle uit te voer.
“Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” HANDELINGE 7:33 AFR53
19 Oktober 2023
HANDELINGE 7:34 AFR53
“Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.”
Moses se skoene is uitgetrek en hy is so gereed gemaak om God se woord te hoor. God sê vir Moses dat Hy Sy volk se mishandeling in Egipte gesien het, hul gesug gehoor het, en dat Hy hulle nou gaan verlos. God wil Moses gebruik om die taak uit te voer.
Moses wat die eerste keer deur die volk verwerp is, word nou vir ‘n tweede keer deur God gestuur om die volk te verlos.
“Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as 'n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos.” HANDELINGE 7:35 AFR53
God het Moses gebruik om die tien plae oor Egipte te bring, en die volk uit Egipe uit te lei. Daarna het Moses met sy staf die see geskei om na links en regs oop te maak sodat die volk veilig deur kon trek. Vir veertig jaar het God wondertekens aan Sy volk gewys in die woestyn.
“Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.” HANDELINGE 7:36 AFR53
Van die wondertekens in die woestyn was die daaglikse manna wat vir voedsel aan die volk gegee is,
“Toe sê die Here vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.” EXODUS 16:4 AFR53
water wat uit rotse gevloei het, en
“Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moses het so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel” EXODUS 17:6 AFR53
GOd het gesorg dat hul klere nie verslyt nie, en hul voete nooit blase gekry of swel nie.
“Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.” DEUTERONÓMIUM 8:4 AFR53
Stefanus haal ‘n profesie uit Deuteronomium aan wat in Jesus tot vervulling gekom het.
“'n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.” DEUTERONÓMIUM 18:18 AFR53
Stefanus wys dat Moses self die einste Persoon voorspel het wat die Joodse Raad nou verwerp.
“Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.” HANDELINGE 7:37 AFR53
20 Oktober 2023
HANDELINGE 7:38 AFR53
“Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.”
Stefanus vertel vêrder dat Moses saam met die volk in die woestyn was, waar God vir hom op die berg Sinai die Tien Gebooie gegee het.
Dit was vir die volk makliker om na hul ou gewoontes van afgode aanbidding terug te keer toe Moses te lank gevat het na hul sin om van die berg af terug te keer.
“Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer” HANDELINGE 7:39 AFR53
Die volk het vir Aaron gevra om vir hul gode te maak wat voor hulle moet uittrek, want Moses is ‘missing in action’! Aaron was om een of ander rede te gewillig om die goue kalf vir die volk te maak, en hulle het fees gevier by die aanskoue van die werke van hul hande.
“toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En hulle het in daardie dae 'n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld 'n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly.” HANDELINGE 7:40-41 AFR53
Stefanus vertel dat God Sy volk oorgegee het aan hul eie begeertes. So dan het hulle die leër van die hemel aanbid wat die son, maan en sterre is.
“Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel?” HANDELINGE 7:42a AFR53
Moses het toe hy van die berg afkom, die wat aan die kant van die Here was, geroep om saam met hom te kom staan. Die Leviete het by hom gestaan en is beveel om deur die laer te gaan en almal dood te maak wat in die afgodediens volhard het. Drieduisend man is daardie dag gedood.
“En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drieduisend man geval.” EXODUS 32:28 AFR53
Geen persoon wil wees op die plek waar God hom of haar oorgee aan hul begeertes nie. Die hartseer feit is dat God soms vir ons gee wat ons wil hê. God het toegelaat dat die Israeliete wat in opstand gekom het teen Hom die natuurlike gevolge van hulle keuse ontvang.
“Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.” PSALMS 81:12-13 AFR53
In Romeine 1 wys Paulus hoe die goddeloses 'n keuse maak om God te verwerp, en daardie keuse plaas hulle op 'n afwaartse spiraal van toenemende duisternis en wanhoop. Soos die goddeloses verder en verder van God af wegbeweeg, gryp God al hoe minder in. Die Gees se inperking van sonde is 'n seën, en as daardie beperking verwyder word, volg goddeloosheid.
“Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” ROMEINE 1:24-25 AFR53
21 Oktober 2023
HANDELINGE 7:42b-43 AFR53
“Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.”
Stefanus haal die profeet Amos aan. Die naam Remfan is 'n Engelse vertaling vanuit die LXX vertaling, van die Hebreeuse woord Kewan.
Die ster van Remfan is die planeet Saturnus en was geassosieer met die aanbidding van die afgod Molog. Molog was die afgod van die Ammoniete en die Fenisiërs - ‘n koperstandbeeld met menslike liggaam, bul se kop en arms uitgestrek. Die beeld is aan die brand gesteek en die priesters het dan die kinders in sy brandende koperarms gesit om geoffer te word. Dromme sou dan hard speel om die kinders se geskreeu uit te doof.
“Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel, en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het? Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die Here wie se Naam God van die leërskare is.” AMOS 5:25-27 AFR53
Amos wou sê dat as gevolg van die verraderlike, ontroue hart van Israel, soos gesien word met die aanbidding van die goue kalf en hul rebellies in die woestyn, was al hul offers waardeloos.
Stefanus keer nou terug na Moses en dit wat hy op die berg van God ontvang het. Moses het nie net die Tien Gebooie ontvang nie, maar ook die gedetailleerde spesifikasies van die Tabernakel. Hy het selfs ‘n visioen van die Tabernakel gesien.
“Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het.” HANDELINGE 7:44 AFR53
Joshua neem die leisels oor by Moses en bring die Tabernakel die Beloofde Land in. Die stryd met die inwoners van Kanaän het geduur tot en met die tyd van Dawid.
“En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid” HANDELINGE 7:45 AFR53
Geen volwasse Israeliete wat Egipte in die uittog verlaat het, sou toegelaat word om die Beloofde Land binne te gaan nie.
“al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met 'n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.” NÚMERI 14:22-23 AFR53
Na Moses se dood het Joshua deur die Jordaan getrek en met God se hulp die land Kanaän begin inneem.
“My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.” JOSUA 1:2-3 AFR53
22 Oktober 2023
HANDELINGE 7:46 AFR53
“wat genade gevind het voor God en gevra het om 'n woonplek vir die God van Jakob te verkry.”
Die tabernakel het gedien as die Israeliete se tempel vanaf Moses se tyd tot by Salomo. Die tabernakel was jare lank in Silo totdat Dawid sy hoofstad in Jerusalem gevestig het.
“En dié man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die Here van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, priesters van die Here was.” I SAMUEL 1:3 AFR53
Nadat Dawid as koning gesalf is, het hy die verbondsark na Jerusalem gebring en 'n tent daarvoor gebou.
“Nadat hulle dan die ark van die Here ingebring en dit op sy plek neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het Dawid brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van die Here.” II SAMUEL 6:17 AFR53
Dawid besef dat God hom geseën het met 'n huis en rus van sy vyande, maar die ark was steeds in 'n tent. Dawid het God deur die profeet Natan gevra of hy 'n tempel daarvoor kon bou. God het vir hom nee gesê, maar sy seun sou die tempel kon bou..
“Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die Here: Sou jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in 'n tentwoning.” II SAMUEL 7:5-6 AFR53
Koning Dawid se seun Salomo het die voorreg gehad om God se tempel te bou.
“En Salomo het 'n huis vir Hom gebou.” HANDELINGE 7:47 AFR53
“As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid.” II SAMUEL 7:12-13 AFR53
Stefanus verdedig homself nog steeds teen die aantyging dat hy lasterlike dinge teen die tempel gespreek het. Hy wys daarop dat alhoewel God toegelaat het dat Sy volk ‘n tempel bou, dit nie vir God belangrik was nie. Toe Dawid aangebied het om dit te bou, het God ’n hele geslag gewag voordat die bouwerk begin het.
Tydens die inwyding van die nuutgeboude tempel het Salomo verkondig dat die hoogste hemel God kan bevat nie, nog minder die tempel wat hy gebou het.
“Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het.” I KONINGS 8:27 AFR53
Tydens die inwyding van Salomo se tempel het die heerlikheid van God die tempel so gevul dat niemand in die tempel kon ingaan nie, en so is Salomo se woorde bevestig dat die tempel God nie kan bevat nie.
“En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die huis vervul; en die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.” II KRONIEKE 7:1-2 AFR53
23 Oktober 2023
HANDELINGE 7:48 AFR53
“Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê:”
Selfs Jesaja het gesê dat die Allerhoogste nie in tempels woon wat met hande gemaak is nie.
“Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?” HANDELINGE 7:49-50 AFR53
Hier is die gedeelte van Jesaja wat Stefanus aangehaal het.
“So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” JESAJA 66:1-2 AFR53
Een van Stefanus se argumente spreek die beskuldiging aan dat hy woorde teen die Wet gespreek het en dat Jesus gepreek het dat Jode nie die Mosaïese wet hoef te volg nie.
Jesus het natuurlik teen die mensgemaakte mondelinge wet gepreek en die Mosaïese wet diep gerespekteer. Stefanus argumenteer dat die Joodse leiers wat beweer dat hulle die heiligheid van die Wet handhaaf, afstammelinge is van diegene wat God se boodskappers verwerp het.
“Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” HANDELINGE 7:51 AFR53
Stefanus gebruik Moses se woorde om die Joodse Raad aan te spreek.
“Die Here het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is 'n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen.” EXODUS 33:5 AFR53
Die profete van ouds is elkeen vervolg omdat hulle die waarheid verkondig het. Stefanus beskuldig die Joodse Raad dat hulle verraaiers en moordenaars geword het.
“Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” HANDELINGE 7:52-53 AFR53
Jesus self som die presiese punt op wat Stefanus voor die Joodse Raad maak.
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” MATTHÉÜS 23:37 AFR53
24 Oktober 2023
HANDELINGE 7:54 AFR53
“En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners.”
Stefanus se kritiek gaan nie goed af nie. Die Joodse Raad is woedend en hulle kners op hulle tande.
Stefanus is egter vol van die Heilige Gees, en is min gepla met die Joodse Raad se gevoelens en hul reaksie. Sy oë is op die hemel gerig en hy sien die heerlikheid van God en Jesus wat staan aan die regterhand van God.
“Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.” HANDELINGE 7:55 AFR53
Hierdie toneel, Jesus aan die regterhand van God, eggo Jesus se profesie van toe Hy voor die Joodse Raad verhoor was.
“En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.” MARKUS 14:62 AFR53
Dit was hierdie stelling wat die Sanhedrin as regverdiging geneem het om Jesus tot die dood te veroordeel. Stefanus se beskrywing verseël sy lot soos Jesus Syne gedoen het. Die Joodse Raad kan nie so 'n openbare belydenis toelaat dat Jesus God is nie.
“En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.” HANDELINGE 7:56 AFR53
Stefanus word die eerste martelaar, maar hy is nie ‘n martelaar omdat hy gesterf het nie, hy het gesterf omdat hy 'n martelaar was. Martelaar beteken om tot die einde toe 'n goeie getuie te wees.
Die Joodse Raad storm op Stefanus af, gryp hom en sleep hom na die buitekant van die stad waar hulle hom gestenig het.
Saul (Paulus) verskyn nou vir die eerste keer op die toneel. Toe die skare besig was om Stefanus te stenig, het Saul die wat die klippe gegooi het se mantels opgepas. Saul word hier beskryf as ‘n jongman. Dit sê vir ons nie veel anders as dat hy toe duidelik nie bejaard was nie. Miskien maak dit sin om aan hom te dink as 'n jong, opkomende ster onder die Fariseërs, nog nie oud genoeg om op enige amptelike raad te wees nie. Hy het hulle klere opgepas, maar hy het nie aan die werklike steniging deelgeneem nie.
“Maar hulle het met 'n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm. En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van 'n jongman met die naam van Saulus.” HANDELINGE 7:57-58 AFR53
Net voor Stefanus sterf, uiter hy dieselfde woorde wat Jesus aan die kruis gebid het - Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met die woorde sterf Stefanus.
“En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees. En hy het op sy knieë neergeval en met 'n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” HANDELINGE 7:59-60 AFR53
Opmerkingen