top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 25-28

Updated: Mar 3


16 Februarie 2024


HANDELINGE 25:1 AFR53

Festus het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem.


Festus is die nuwe goewerneur en na drie dae in Cesarea gaan hy na Jerusalem waar hy te doen kry met ‘n saak wat van Felix oorgedra is. Dit is nooit lekker om by ‘n nuwe werk in te stap en dan met die probleme van jou voorganger opgeskeep te sit nie.


Die hoëpriester en van die Jode kla Paulus by hom aan en dring daarop aan dat Paulus na Jerusalem terug gebring moet word. Wat Festus nie weet nie is dat die Jode al weer konkel om Paulus dood te maak.


En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag en by hom aangedring en gevra, as 'n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal; terwyl hulle intussen 'n hinderlaag voorberei het om hom op die weg om te bring.   HANDELINGE 25:2-3 AFR53


Festus antwoord hulle egter dat Paulus in Cesarea bewaak word en dat die van die Joodse Raad wat bevoeg is, saam met hom soontoe moet gaan en dan kan hulle Paulus daar beskuldig soos hulle goeddink.


Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou reis. Laat dan dié onder julle, sê hy, wat bevoeg is, saamgaan, en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.   HANDELINGE 25:4-5 AFR53


In Cesarea aangekom na ‘n kort besoek aan Jerusalem, sit Festus op die regterstoel en gee bevel dat Paulus se saak voorgebring moet word. Die Jode wat saam met Festus vanaf Jerusalem gekom het bring swaar beskuldigings teen Paulus, maar kan niks van dit bewys nie.


En nadat hy nie meer as tien dae onder hulle deurgebring het nie, het hy na Cesaréa afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word. En toe hy verskyn, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie,   HANDELINGE 25:6-7 AFR53


Paulus verdedig homself en sê dat hy niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig het nie.


terwyl hy tot sy verdediging gesê het: Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.   HANDELINGE 25:8 AFR53


Festus wil die Jode ‘n guns bewys en vra vir Paulus of hy sy saak na Jerusalem wil skuif.


Maar omdat Festus aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Paulus gesê: Wil jy na Jerusalem opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan?   HANDELINGE 25:9 AFR53


 

17 Februarie 2024


HANDELINGE 25:10 AFR53

Toe sê Paulus: Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet.


Wanneer Festus vir Paulus vra of hy sal toelaat dat die verhoor na Jerusalem verskuif, weier Paulus. Festus is die goewerneur van Cesarea, die stad waar hulle huidiglik is. Jerusalem is waar Paulus se beweerde misdaad plaasgevind het en Cilicië is die stad waar Paulus vandaan kom. Festus het gelyke jurisdiksie in al drie hierdie plekke en as gevolg van Paulus se Romeinse burgerskap, kan hy kies waar hy verhoor moet word.


Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!   HANDELINGE 25:11 AFR53


Deur ’n beroep op die keiser te doen, het Paulus die Romeine gedwing om hom te bewaak en na Rome te neem. Hy het geweet dat sy bestemming Rome was, en nie Jerusalem nie, en die vinnigste manier om daar te kom, was om 'n beroep op die keiser te doen. Paulus het ook geweet dat die Jode nie hul hoop opgegee het om hom dood te maak nie, daarom was hy wys om onder die beskerming van Rome te bly. Ten slotte het Paulus besef dat hy in elk geval nooit 'n regverdige verhoor in Jerusalem kan hê nie, so hoekom soontoe gaan?


Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep — na die keiser sal jy gaan!   HANDELINGE 25:12 AFR53


Agrippa is die laaste van die Herodes konings. Bernice was die suster van Drusilla (Felix se vrou), maar sy was ook haar man se suster. Daar is dus bloedskande op die troon - Agrippa en Bernice, man en vrou, broer en suster!


En ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.   HANDELINGE 25:13 AFR53


Die feit dat sy suster by hom gewoon het, het 'n groot mate van agterdog by die Joodse volk geskep, want hulle Wet het bloedskande duidelik veroordeel. Rome het Herodes Agrippa II wetlike jurisdiksie oor die tempel in Jerusalem gegee, so dit was logies dat Festus Paulus se saak met hom sou deel. Festus vertel van die Jode wat ‘n klag ingedien het teen Paulus en ‘n vonnis teen hom gevra het.


En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat, teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, 'n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.   HANDELINGE 25:14-15 AFR53


Hy vertel verder dat Paulus ‘n Romeinse burger is wat dus regte het en die geleentheid gegun moet word om homself te verdedig.


En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.   HANDELINGE 25:16 AFR53


 

18 Februarie 2024


HANDELINGE 25:17 AFR53

Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.


Festus gaan voort om Paulus se saak met koning Agrippa te bespreek. Hy vertel dat die Jode se beskuldigings teen Paulus slegs twisvrae was oor ‘n sekere Jesus wat dood is, en wat Paulus verklaar het dat Hy lewe.


Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie, maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor 'n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.   HANDELINGE 25:18-19 AFR53


Festus vertel dat hy op die stadium nie geweet het hoe om die saak te hanteer nie, en dat hy Paulus gevra het of hy eerder in Jerusalem verhoor wou word. Maar, Paulus het die versoek van die hand gewys en hom beroep op die keiser en om in Romeinse bewaring te bly. Festus verklaar dat hy aan Paulus se versoek voldoen het en hy is huidiglik in sy bewaring.


En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan; maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.   HANDELINGE 25:20-21 AFR53


Koning Agrippa wil graag self met Paulus praat en die ontmoeting word gereël. Die volgende dag is koning Agrippa, Bernice en Festus geklee in prag en praal in die gehoorsaal saam met die owerste oor duisend en die belangrikste manne van die stad. Nou word Paulus op bevel van Festus voor hierdie belangrike gehoor ingebring.


En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor. Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.   HANDELINGE 25:22-23 AFR53


Paulus kry nou die geleentheid om voor konings en nasies op te tree soos Jesus aan Ananias vertel het sal gebeur.


Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.   HANDELINGE 9:15 AFR53


Festus stel Paulus voor aan sy gehoor en verklaar dat hy niks kon vind om hom die doodstraf te gee nie, en omdat Paulus hom op die keiser beroep het, het hy besluit om hom na die keiser te stuur.


Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie. Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.   HANDELINGE 25:24-25 AFR53


Festus vertel verder dat hy geen aanklagte teen Paulus het nie, en dat dit onredelik is om ‘n gevangene na die keiser te stuur en geen beskuldigings teen hom aan te dui nie.


Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe. Want dit lyk vir my onredelik om 'n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.   HANDELINGE 25:26-27 AFR53


 

19 Februarie 2024


HANDELINGE 26:1 AFR53

En Agríppa sê vir Paulus: Dit is jou vergun om vir jouself te spreek. Toe steek Paulus sy hand uit en verdedig homself:


Paulus staan nou as gevangene voor die hof, met een arm vasgeketting aan die soldaat wat oor hom wag hou. Hy steek sy vry hand uit en begin om homself te verdedig voor iemand wat die gebruike, die wette en die tradisies van die Jode ken.


Ek ag my gelukkig, koning Agríppa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word, veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.   HANDELINGE 26:2-3 AFR53


Paulus getuig dat die Jode wat hom ken bewus is dat hy onder Gamaliël geleer het en ‘n goeie Fariseër was wat streng volgens die wet geleef het.


My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode, omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.   HANDELINGE 26:4-5 AFR53


Maar oppad na Damaskus het die opgestane Jesus egter die waarheid oor die hoop van God se belofte aan Israel aan Paulus geopenbaar. Dit het begin met God se belofte aan Eva, dat God haar nageslag sou stuur om die vyand te vernietig.


En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.   GÉNESIS 3:15 AFR53


Die fokus vernou dan na Abraham vir wie God belowe het om die aarde te seën,


En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.   GÉNESIS 22:18 AFR53


toe na Juda, die vader van konings.


Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.    GÉNESIS 49:10 AFR53


Aan Jesaja en Jeremia het God belowe dat die Messias Dawid se troon sou beërwe en vir ewig met geregtigheid en geregtigheid sou regeer.


Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.   JESAJA 9:5-6 AFR53


Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 23:5 AFR53


Vir Sagaria het God so spesifiek geword om te beskryf hoe die Koning op 'n donkie ry, 'n belofte wat vervul is tydens Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem kort voor Hy gekruisig is.


Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.   SAGARÍA 9:9 AFR53


 

20 Februarie 2024


HANDELINGE 26:6 AFR53

En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is,


Paulus verduidelik aan goewerneur Festus, koning Agrippa II en die burgerlike en militêre leiers van Caesarea Maritima dat hierdie hoop is hoekom die Joodse Raad hom haat. Dit is nie omdat hy kamtig die Mosaïese wet oortree het of onluste veroorsaak het of die tempel ontheilig het nie, maar omdat hy glo die opgestane Jesus van Nasaret is die Messias, die hoop van God.


waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig. Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek?   HANDELINGE 26:7-8 AFR53


Paulus verskoon hulle ongeloof deur te bely dat hy self eens soos hulle gevoel het, en insinueer die hoop dat hulle van plan sou verander soos hy gedoen het.


Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen.   HANDELINGE 26:9 AFR53


Paulus was nooit ‘n lid van die Joodse Raad nie, en kon dus nie stem nie, maar hy het deelgeneem en ingestem dat die heiliges doodgemaak moet word.


Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee. HANDELINGE 26:10 AFR53


Hy verduidelik verder dat hy die Christene gestraf het en gepoog het om hulle te kry om teen God te laster. Hy het hulle selfs in stede buite Jerusalem vervolg.


En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.   HANDELINGE 26:11 AFR53


Paulus vertel dat eendag oppad na Damaskus, om met die volmag van die owerpriesters die Christene daar te vervolg, het hy in die middel van die dag ‘n helder lig uit die hemel gesien. ‘n Lig wat sterker was as die glans van die son en wat hom en sy reisgenote omstraal het.


Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters, het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad 'n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.   HANDELINGE 26:12-13 AFR53


Hulle het almal op die grond geval en toe hoor Paulus ‘n stem wat in die Hebreeuse taal met hom praat en sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En toe Paulus vra wie praat is die antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg.


En toe ons almal op die grond val, hoor ek 'n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.   HANDELINGE 26:14-15 AFR53


 

21 Februarie 2024


HANDELINGE 26:16 AFR53

Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot 'n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,


Paulus vermeng in een boodskap die woorde wat tot hom gespreek is toe Jesus die eerste keer aan hom verskyn het, en die opdrag wat daarna deur Ananias aan hom gegee is, en die woorde wat met hom gespreek is in sy beswyming.


Hy word eerstens beveel om op sy voete te staan. Jesus het aan Paulus verskyn om vir hom sy pad vorentoe te wys. Hy is bestem om ‘n dienaar en ‘n getuie te wees van die dinge wat hy gesien het en wat hy nog in die toekoms sou sien.


Jesus het Paulus verlos en beskerm en hom na die heidene gestuur om hul oë te open sodat hulle hul van duisternis tot die Lig kan bekeer, van Satan se mag tot God. Sodat hulle deur hul geloof in Jesus vergifnis van hul sondes kon kry en ‘n erfdeel onder die heiliges kan ontvang.


terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur, om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en 'n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.   HANDELINGE 26:17-18 AFR53


Paulus praat direk met koning Agrippa en sê dat hy die hemelse gesig wat hy gesien het, moes gehoorsaam. Daarom dat hy eers aan die mense in Damaskus en toe Jerusalem en die hele land van Judea en aan die heidene verkondig het dat hulle moet bekeer tot God en werke doen wat by die bekering pas.


Daarom, koning Agríppa, was ek aan die hemelse gesig nie ongehoorsaam nie, maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.   HANDELINGE 26:19-20 AFR53


Paulus verduidelik dat as gevolg van hierdie verkondiging van die Woord, die Jode hom in die tempel gevang het en hom probeer doodmaak het. Maar, omdat hy God se hulp en beskerming het kan hy tot vandag toe nog staan en getuig aan klein en groot.


Paulus vertel dat dit wat hy getuig nie verskil van dit wat die profete en ook Moses getuig het nie.


Om hierdie rede het die Jode my in die tempel gevang en my probeer ombring. Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie:   HANDELINGE 26:21-22 AFR53


Dat die Christus moes ly, en dat Hy die eerste een sou wees wat vir ewig uit die dode sou opstaan en ‘n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.


dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en 'n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.   HANDELINGE 26:23 AFR53


Festus val Paulus met ‘n groot stem in die rede en sê dat sy geleerdheid hom kranksinnig maak.


Maar terwyl hy hom so verdedig, sê Festus met 'n groot stem: Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.   HANDELINGE 26:24 AFR53


 

22 Februarie 2024


HANDELINGE 26:25 AFR53

Maar hy sê: Ek is nie kranksinnig nie, hoogedele Festus, maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde verstand.


Paulus antwoord vir Festus dat hy nie kranksinnig is nie, maar dat hy slegs die waarheid spreek.


Iets in koning Agrippa se houding wys vir Paulus dat hy nie onaangeraak is deur wat hy gehoor het nie. En so vra hy ‘n retoriese vraag aan die koning - glo u die profete? Dan antwoord hy vir hom - Ek weet u glo!


Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in 'n hoek gebeur nie. Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo.   HANDELINGE 26:26-27 AFR53


Agrippa antwoord met 'n siniese spot wat amper klink of hy ‘n Christen kon word. Hy deins terug om 'n direkte antwoord te gee op die vraag wat aan hom gestel is.


En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om 'n Christen te word.   HANDELINGE 26:28 AFR53


Ten slotte sê Paulus dat hy bid tot God dat elkeen van hulle wat na hom luister, mag glo soos hy glo.


En Paulus sê: Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie.   HANDELINGE 26:29 AFR53


Toe staan die hele geselskap op en verlaat die verrigtinge.


En nadat Paulus dit gesê het, staan die koning op en die goewerneur en Berníce en die wat saam met hulle gesit het.   HANDELINGE 26:30 AFR53


Nadat hulle geluister het na Paulus se verduideliking van sy vroeë lewe waar hy die kerk vervolg het, sy ontmoeting met Jesus, sy bekering, sy dekades wat hy Jesus se boodskap versprei het, en bewyse dat Jesus die Joodse profete se beskrywings van die Messias vervul het, het hulle eenparig saamgestem dat Paulus niks verkeerd gedoen het nie.


En toe hulle weggaan, praat hulle met mekaar en sê: Hierdie man doen niks wat die dood of die boeie verdien nie.   HANDELINGE 26:31 AFR53


Agrippa se woorde is waar, maar God het ‘n ander plan met Paulus.


En Agríppa sê vir Festus: Hierdie man kon losgelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.   HANDELINGE 26:32 AFR53


Twee jaar tevore het Jesus vir Paulus gesê dat hy in Rome gaan getuig, en Paulus weet die tyd om Rome toe te gaan het aangebreek.


En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.   HANDELINGE 23:11 AFR53


 

23 Februarie 2024


HANDELINGE 27:1 AFR53

En toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan 'n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július.


Lukas skryf dat ‘ons moes wegvaar’. Baie geleerdes glo dat Paulus se siekte en swakhede veroorsaak het dat Lukas as sy persoonlike geneesheer saam gereis het. Lukas sal tot die einde met Paulus wees.


Aristárchus van Macedónië was moontlik Paulus se slaaf. Hy het beslis baie tyd saam met Paulus deurgebring. In hoofstuk 19 was hy die een wat die gepeupel in die toneel gegryp het. Hy was ook die een wat saam met Paulus was op sy laaste besoek aan Jerusalem, en hy word in Paulus se brief aan die Kolossense as baie dierbaar genoem.


En nadat ons in 'n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, 'n man van Thessaloníka, was saam met ons.   HANDELINGE 27:2 AFR53


Al is Paulus 'n gevangene, gee Julius hom die vryheid in Sidon om die gelowiges van die omgewing te besoek. Hy het vertrou dat Paulus nie sou vlug nie.


En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang. En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was.   HANDELINGE 27:3-4 AFR53


Die Jode het geglo dat jy nie regtig op hierdie waters kon vaar na die Huttefees nie. Die tyd raak nou min, en die stormseisoen is op hande. Van Sidon na Mira het die reis moeilik geword as gevolg van die westewinde. By Mira het Julius, die Romeinse offisier, 'n skip gekry wat na Italië vaar en daarom het hy die stadiger skip verlaat en Paulus en die ander aan boord van hierdie groot graanskip uit Egipte gesit wat 276 passasiers vervoer het.


Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom. En daar het die hoofman oor honderd 'n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim.   HANDELINGE 27:5-6 AFR53


Die sterk wind het weer hul vordering belemmer sodat baie dae nodig was om van Mira na Cnidus te vaar. Die skipper het hul uiteindelik tot by die hawe van Mooi Hawens gebring. Dit was 'n baie moeilike reis en 'n voorbode van dit wat sou kom.


En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne. En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by 'n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is.   HANDELINGE 27:7-8 AFR53


 

24 Februarie 2024


HANDELINGE 27:9 AFR53

En omdat 'n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku.


Dis vastyd waarvan Paulus praat verwys na die dag van Versoening wat gewoonlik gedurende Septemeber/Oktober plaasvind. Dit is vir hersiening daardie een dag in die jaar wat die priester in die tempel ingaan om ‘n versoensoffer te bring voor God vir die volk se sondes. Die preister sprinkel dan bloed op die volk en hul sondes is bedek tot volgende jaar.


Die matrose van daardie tyd het geweet dat dit baie gevaarlik was om op die gedeelte van die see te vaar vanaf middel September tot en met middel November, en van daar tot en met Februarie was dit onmoontlik. Paulus waarsku dus die hoofman oor honderd dat dit te gevaarlik is om nou  verder te vaar, maar hy luister eerder vir die stuurman en die eienaar van die skip.


en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe. Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus;   HANDELINGE 27:10-11 AFR53


Die hawe van Mooi Hawens waar hulle nou is, blyk ook nie geskik te wees om daar te oorwinter nie. Moontlik omdat die klein dorpie nie die 276 mense aanboord van die skip sou kon onderhou nie.


en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, 'n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste.   HANDELINGE 27:12 AFR53


Toe die suidewind begin waai, wat ‘n gunstige wind is in hierdie omstandighede, het hulle ankers gelig en langs Kreta verbygeseil.


En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil.   HANDELINGE 27:13 AFR53


Hierdie unieke stormstelsel wat Paulus se skip aangedryf het, genoem Euroklidon, is 'n vermenging van ‘n Griekse en ‘n Latynse woord wat Noordooste beteken.


Maar nie lank daarna nie het 'n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan. En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe.   HANDELINGE 27:14-15 AFR53


Die wind het die skip verby die klein eilandjie Clauda geneem in die rigting van Sirtis, die noordelike kus van Afrika. Die skip het 'n effense boog na die weste gemaak in die rigting van Malta.


Die storm was so hewig dat kabels onder die skip vasgemaak moes word om te keer dat die planke nie uitmekaar geruk sou word nie.


En toe ons onderkant 'n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou. En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe.   HANDELINGE 27:16-17 AFR53


 

25 Februarie 2024


HANDELINGE 27:18 AFR53

En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi;


Die storm op die see is so erg dat hulle die volgende dag van die vrag oorboord gooi, en op die derde dag het hul selfs die skeepsgereedskap uitgegooi. Die son en die sterre wat hul rigtingwysers was, is as gevolg van die wolke geblokkeer, en so het hul geen manier gehad om te weet waar hulle was nie. Hulle het reddeloos begin voel.


en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en 'n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.   HANDELINGE 27:19-20 AFR53


Nadat hulle vir lank nie geëet het nie, staan Paulus op en praat met almal. Hy begin deur hulle te vermaan dat hulle eerder na hom moes geluister het, dan sou hierdie ramp hulle nie getref het nie.  Maar, hulle moet goeie moed hou want ‘n engel van die God aan wie hy glo het aan hom verskyn en gesê dat hy nog in Rome voor die keiser moet verskyn en hy en almal op die skip sal gespaar word. Die skip sal dit egter nie maak nie.


En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het. Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip. Want daar het in hierdie nag by my gestaan 'n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien. En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is.   HANDELINGE 27:21-25 AFR53


Hierdie was die sewende geleentheid dat Paulus ‘n visioen van God gehad het. Hier is ‘n lys van Paulus se visioene.


1.   Paulus het die verheerlikte Christus gesien op dieselfde dag toe hy tot bekering gekom het. - En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af;   HANDELINGE 9:3 AFR53


2.   Hy het 'n visioen gesien van Ananias wat kom om hom te bedien. - en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.   HANDELINGE 9:12 AFR53


3.   Hy het 'n visioen van God gehad toe hy geroep is om vir die heidene te preek. - En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in 'n verrukking van sinne gekom.  HANDELINGE 22:17 AFR53


4.   Hy het 'n visioen van God gehad toe hy na Masedonië geroep is. - En Paulus het 'n gesig in die nag gesien — daar staan 'n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!   HANDELINGE 16:9 AFR53


5.   Toe sy bediening moeilik was in Korinte, het God hom bemoedig deur 'n visioen. En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie;   HANDELINGE 18:9 AFR53


6.   Na sy arrestasie in Jerusalem is Paulus bemoedig deur 'n visioen. - En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.   HANDELINGE 23:11 AFR53


7.   In vandag se vers, te midde van die storm op die see, het 'n engel aan hom verskyn en hom verseker dat hy en die passasiers gered sou word.


 

26 Februarie 2024


HANDELINGE 27:26 AFR53

Maar ons moet op 'n sekere eiland strand.


Nadat die skip vir 14 nagte hopeloos en eindeloos in wind en weer gedryf het, het die mans aan boord iets gehoor. Bo oor die loeiende wind het die matrose die dowwe dreuning van branders gehoor wat teen rotse klap. Toe die matrose dit hoor, het hulle geweet dat hulle vlak water ingaan en die stuurman het beveel dat hulle die diepte van die water moet bepaal.


En toe die veertiende nag kom, terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land kom.   HANDELINGE 27:27 AFR53


In die eerste eeuse Romeinse tyd was so 'n dieptemeter of die dieplood, 'n klokvormige loodvoorwerp wat aan ‘n tou vasgemaak is. Die klanktoestel sou oorboord gegooi word sodat die matrose die diepte van die water kon bepaal. Die eerste aangetekende diepte was 36 meter of 20 vaam en die tweede diepte was 27 meter of 15 vaam.


Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle 'n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam.   HANDELINGE 27:28 AFR53


Die kaptein van die skip het geweet dat hulle land nader en het die bevel gegee om vier ankers van die agterstewe af te gooi.


En omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word.   HANDELINGE 27:29 AFR53


Eerste-eeuse ankers op 'n Alexandrynse graanvragskip was ongeveer 3,5 meter lank en was van hout gemaak. Die dwarsstaaf van die anker was van soliede lood gemaak. Die hout sou oor die jare in die see vergaan het, maar die lood dwarsbalk sou onbepaald voortbestaan.



Uit die besonderhede in hierdie verhaal is die ankers glo herwin en is nou in die Maritieme Museum op Malta - soos op die prentjie.


Die matrose is bang en wil die skip verlaat. Onder die voorwendsel dat hulle ankers aan die voorkant van die skip uitgooi, laat sak hulle ‘n sleepbootjie in die see om sodoende van die skip af te kom.


Maar die matrose het probeer om uit die skip te vlug en die sleepbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle ankers van die voorskip af wou uitgooi.   HANDELINGE 27:30 AFR53


Paulus kom agter wat hulle wil doen en hy sê inderhaas vir die hoofman oor honderd dat as die manne die skip verlaat, kan niemand gered word nie. Die soldate kap toe inderhaas die toue van die sleepboot af en die val in die water.


Toe sê Paulus vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. Daarop het die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval.   HANDELINGE 27:31-32 AFR53


 

27 Februarie 2024


HANDELINGE 27:33 AFR53

En teen die tyd dat dit dag sou word, het Paulus almal aangemoedig om voedsel te gebruik en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik.


Na ‘n moeilike nag is dit weer dag en Paulus moedig almal aan om te eet, veral omdat min geëet was die afgelope twee weke. Paulus bevestig dat hulle hierdie ramp gaan oorleef, en dat nie ‘n haar van enige van hul hoofde sal val nie.


Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal 'n haar van sy hoof val nie.   HANDELINGE 27:34 AFR53


Die manier waarop Paulus die 276 passasiers en bemanning voed, herinner aan hoe Jesus duisende gevoed het, hoewel daar geen teken van ‘n bonatuurlike vermenigvuldiging is nie. Hy neem eenvoudig die brood, prys God daarvoor en breek dit, wat waarskynlik beteken dat hy dit aan ander uitgedeel het. Vir die eerste keer in twee weke het hulle hoop.


Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet. En hulle het almal moed geskep en self ook voedsel geneem.   HANDELINGE 27:35-36 AFR53


Hulle het geëet tot almal versadig was, en toe die skip ligter gemaak deur die koring wat hulle vervoer het in die see te gooi.


En ons was in die skip altesaam tweehonderd-ses-en-sewentig siele. En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi.   HANDELINGE 27:37-38 AFR53


Lukas beskryf die ligging van Paulus se skip as voor 'n baai met 'n strand, die perfekte plek om die skip te strand. Om die skip nog ligter te maak word die ankers en die roertoue ook afgekap. Toe word die voorseil teen die wind opgetrek om die skip na die strand te stuur wat werk want die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit.


En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het 'n inham met 'n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur. En hulle het op 'n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan.   HANDELINGE 27:39-41 AFR53


Die soldate besef dat hulle nie beheer het oor die gevangenes as almal nou oorboord gaan spring om by die land uit te kom nie, en hulle besluit om almal eerder doodmaak. Onthou dat as ‘n Romeinse soldaat sy gevangenes verloor word hulself terreggestel.


Gelukkig het die hoofman oor honderd, Julius, nog altyd van Paulus gehou en sy respek vir Paulus het oor die vorige twee weke net gegroei. Hy roep die soldate en beveel hulle om so ordelik moontlik die skip te ontruim. Almal maak dit wal toe, en vermoedelik het niemand ontsnap nie.


Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom, en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.   HANDELINGE 27:42-44 AFR53


 

28 Februarie 2024


HANDELINGE 28:1 AFR53

En eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word.


Melita is die eiland wat ons ken as Malta en die naam beteken toevlug.


Die woord inboorling is vertaal van die Griekse woord barbaros wat ooglopend barbaar beteken. Die woord is egter misleidend want vir die Romeine was ‘n barbaar enige persoon wat nie Grieks of Latyns gepraat het nie.


En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het 'n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue.   HANDELINGE 28:2 AFR53


Vandag is daar glo geen slange op Malta nie, maar duidelik nie so in Paulus se tyd nie. Hy het hout bymekaar gemaak om die vuur wat die inboorlinge gemaak het aan die gang te hou toe ‘n giftige slang hom aan sy hand byt. Toe die bygelowige inboorlinge die slang op Paulus se hand sien, was hulle oortuig dat hy moordenaar moes wees.


En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis 'n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.   HANDELINGE 28:3-4 AFR53


Paulus het egter die slang net van sy hand afgeskud en die gif het hom geen kwaad aangedoen nie. Die bygelowige inboorlinge besluit toe dat hy nie meer ‘n moordenaar is nie maar ‘n god.


Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy 'n god was.   HANDELINGE 28:5-6 AFR53


Duidelik is Paulus onder die beskerming van die Heilige Gees soos Jesus aan Sy dissipels belowe het na Sy opstanding en net voor Hy opgevaar het na die hemel.


En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.   MARKUS 16:17-18 AFR53


Piblius, die hoof van die eiland, wat Paulus hulle vir drie dae vriendelik geherberg het, se vader is ernstig siek. Paulus het na hom toe gegaan, vir hom gebid, hom die hande opgelê en hy is onmiddelik genees.


Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek 'n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg. En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.   HANDELINGE 28:7-8 AFR53


Baie van die mense op die eiland wat siektes gehad het, het toe na Paulus gekom en is genees. Toe hulle weer moes wegvaar het die eiland se mense hulle van die nodige voorsien.


En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees. En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.   HANDELINGE 28:9-10 AFR53


 

29 Februarie 2024


HANDELINGE 28:11 AFR53

En ná drie maande het ons afgevaar in 'n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.


Die winter is op sy einde en skeepsverkeer hervat in die eerste week van Februarie. 'n Ander Alexandrynse skip, waarskynlik een amper identies aan die skip wat hulle verloor het, het by Malta vasgemeer en ingestem om hulle saam te neem.


Castor en Pollux was in die mitologie die tweelingseuns van Zeus en het opgetree as beskermers van mense op see. Ons sal hulle ken as die tweeling in astronomiese terminologie.


Hulle het die noordelike kus van Malta verlaat en vaar na Sirakuse aan die oostelike kus van Sisilië waar hulle drie dae lank gebly het. Nou stop hulle by Regium aan die kuspunt van Italië. ’n Sterk wind dryf hulle na Puteoli wat in die omgewing van die berg Vesuvius is. Daar bly hulle sewe dae saam met broeders voor hulle na Rome vertrek.


En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly. Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom; en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik, waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.   HANDELINGE 28:12-14 AFR53


Die eerste groep Christene het Paulus by die Forum van Appius, sowat 64 km van Rome af ontmoet, en die tweede groep het hom by die Drie Herberge, sowat 16 km nader aan die stad ontmoet.


En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Áppius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.   HANDELINGE 28:15 AFR53


In Rome aangekom is die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër, maar Paulus het op sy eie gewoon met ‘n soldaat wat hom opgepas het.


En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.   HANDELINGE 28:16 AFR53


Paulus is onder huisares, vasgeketting aan ‘n Romeinse wag, en sy situasie lyk uiters verdag. Hy laat egter nie gras onder sy voete groei nie. Hy nooi na drie dae die Joodse leiers bymekaar en vertel sy verhaal dat alhoewel hy niks verkeerd gedoen het nie, hy uit Jerusalem as gevangene oorgelewer is aan die Romeine.


En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.   HANDELINGE 28:17 AFR53


Omdat die Jode in Jerusalem hom wou doodmaak, het hy geen keuse gehad as om hom op die beskerming van die keiser te beroep nie, en daarom dat hy vandag hier as gevangene voor hulle staan.


Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien nie. Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie.   HANDELINGE 28:18-19 AFR53


 

1 Maart 2024


HANDELINGE 28:20 AFR53

Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.


Die hoop van Israel is die algemene verwagting van Messias. In Jesus het Paulus geglo dat die verwagte Verlosser verskyn het, en omdat hy dit verkondig het, is hy aangeval en 'n gevangene gemaak. Hy het dieselfde geloof as al die Jode gehad, en het net in hierdie saak verder gegaan as hulle deurdat hy geglo het dat die ou belofte nou vervul is. Ons kan uit die antwoord van die Jode sien dat hulle sy standpunt presies verstaan ​​het.


Die broeders sê vir Paulus dat hulle geen briewe oor hom ontvang het nie en niemand het van hom sleg gepraat nie.


En hulle het vir hom gesê: Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.   HANDELINGE 28:21 AFR53


Hulle was ongetwyfeld bewus van baie van die aanvalle wat deur hul landgenote op die Christene gedoen is, beide in Asië en Europa, en sou gehoor het dat daar van hulle gepraat word as die manne wat besig was om die wêreld om te keer.


Paulus word nou die geleentheid gegun om hulle op datum te bring, en meer te vertel van hierdie sekte wat op die stadium vir hulle net hoorsê is.


Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.   HANDELINGE 28:22 AFR53


Paulus is in sy element. Die mense besoek hom daagliks en van vroeg tot laat het hy hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.


En hulle het vir hom 'n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in 'n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.   HANDELINGE 28:23 AFR53


Soos altyd het sommiges geglo en sommiges het ongelowig gebly. Tot vandag het niks verander nie.


En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.   HANDELINGE 28:24 AFR53


Die gelowiges en ongelowiges waarmee Paulus gepraat het begin om ondermekaar te baklei en Paulus is sommer moedeloos. Hy haal ‘n paar verse uit Jesaja aan wat sê dat God se volk horende doof en sienende blind is.


En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek   HANDELINGE 28:25 AFR53


 

2 Maart 2024


HANDELINGE 28:26 AFR53

en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.


Paulus se aanhaling uit Jesaja is woorde wat die mense van Rome se tragiese geestelike toestand beskryf. Julle sal hoor, maar glad nie verstaan nie en julle sal kyk maar niks sien nie.


Want, julle harte is afgestomp, julle ore hoor nie meer nie, en julle oë is toe. ‘n Donkie kan tot by die water gebring word, maar jy kan hom nie maak drink nie.


Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.   HANDELINGE 28:27 AFR53


Hier is Jesaja se woorde wat Paulus aangehaal het.


En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.   JESAJA 6:9-10 AFR53


Paulus sluit af deur aan sy gehoor te vertel dat die Woord van God ook vir die heidene bestem is, en hulle, sal wel luister. Die woorde het nie gehelp om die Jode se twis minder te maak nie.


Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister. En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan.   HANDELINGE 28:28-29 AFR53


Paulus het nooit opgehou om die koninkryk van God aangaande die Here Jesus Christus te verkondig nie.


En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.   HANDELINGE 28:30-31 AFR53


Gedurende sy twee jaar in Rome skryf Paulus die briewe aan die Filippense, die Efesiërs, die Kolossense en die brief aan Filemon - die sogenaamde gevangenisbriewe.


Volgens tradisie (nie in die Bybel gevind nie), het Paulus wel voor die keiser verskyn, en sy saak is van die hand gewys. Hy is terug na Kreta waar Titus in beheer gelaat is. Hy het ook waarskynlik Efese besoek waar Timoteus in beheer was. Daar is bewyse dat hy Spanje besoek het, en sommige geleerdes glo dat hy selfs Brittanje besoek het.


Die Skotse Grondwet verwys na ‘die uiterste deel (enkelvoud) van die aarde’ en handhaaf die siening dat Paulus Skotland besoek het, wat letterlik ooreenstem met Handelinge 1:8.


maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.   HANDELINGE 1:8 AFR53


Maar, Paulus is weer gearresteer en het nog 'n ruk in die tronk in Rome deurgebring waar hy waarskynlik die brief 2 Timoteus geskryf het - sy laaste brief.


Toe op ‘n dag is hy buite die mure van Rome geneem en onthoof.


 

13 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page