top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 22-24

Updated: Feb 16



4 Februarie 2024


HANDELINGE 22:1 AFR53

Broeders en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle!


Paulus spreek sy gehoor toe in Hebreeus, en hulle word stil om te hoor wat hy te sê het.


En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê:   HANDELINGE 22:2 AFR53


Wanneer Paulus in sinagoges praat, het hy gewoonlik gewys hoe Jesus die Ou Testamentiese profesieë vervul het - van die Messias wat die koninkryk van God bring. Hier egter gee Paulus ‘n opsomming van wie hy was en wat gebeur het na sy eie bekering.


Jare tevore het Jesus die dissipels gewaarsku oor komende vervolging. Ons mag dalk wonder hoekom Paulus die storie vertel wat hy doen, maar blykbaar is dit deur die leiding van die Heilige Gees.


Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.   MATTHÉÜS 10:19-20 AFR53


Paulus vertel vir sy gehoor wie hy is. ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cicilië, opgevoed aan die voete van Gamaliël.


Ek is 'n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, 'n yweraar vir God soos julle almal vandag is.   HANDELINGE 22:3 AFR53


Gamaliël was 'n eerste-eeuse Joodse rabbi en 'n leier in die Joodse Sanhedrin. Gamaliël word 'n paar keer in die Skrif genoem as 'n bekende en gerespekteerde onderwyser. Indirek het Gamaliël 'n diepgaande uitwerking op die vroeë kerk gehad.


Gamaliël is geprys vir sy kennis, maar hy is dalk beter bekend vir sy bekendste leerling—'n Fariseër met die naam Saulus van Tarsus, wat later die apostel Paulus geword het. Dit was onder die leiding van Rabbi Gamaliël dat Paulus 'n kundige kennis van die Hebreeuse Geskrifte ontwikkel het. Paulus se opvoedkundige en professionele geloofsbriewe het hom toegelaat om in sinagoges te preek waar hy ook al gereis het, en sy begrip van die Ou-Testamentiese geskiedenis en die Wet het ‘n groot bydrae gelewer om Jesus voor te stel as die Een wat die Wet vervul het.


Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.   MATTHÉÜS 5:17 AFR53


Paulus praat van die Christelike kerk as die Weg, sodat sy gehoor kan verstaan waarvan hy praat.

Hy verduidelik dat hy ook die mense van die Weg vervolg het.


Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,   HANDELINGE 22:4 AFR53


En om substansie aan sy woorde te gee, vertel Paulus dat die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge sy getuies is, want hy het briewe van hulle ontvang om Damaskus toe te gaan om die Christene wat daar was terug te bring na Jerusalem sodat hulle gestaf kon word.


soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.   HANDELINGE 22:5 AFR53


 

5 Februarie 2024


HANDELINGE 22:6 AFR53

Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik 'n groot lig uit die hemel my omstraal,


Paulus kom nou by sy persoonlike getuienis uit. Terwyl hy oppad was na Damaskus sien hy ‘n  verblindende lig uit die hemel wat hom omstraal. Die groot lig was die heerlikheid van God.


‘n Stem praat met hom en vra vir Paulus hoekom hy Hom vervolg – Hy vra ​​nie hoekom hy Sy volgelinge vervolg nie. Toe Paulus vra wie met hom praat sê die stem: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.


en ek het op die grond geval en 'n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê:   HANDELINGE 22:7-8 AFR53


Paulus verduidelik dat die wat saam met hom was ook die lig gesien het, maar hulle kon nie die stem hoor van Hom wat met hom gepraat het nie.


En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.   HANDELINGE 22:9 AFR53


Paulus verduidelik vêrder dat hy toe vir die Here gevra het wat hy moes doen, waarop die antwoord was dat hy nog steeds na Damaskus moes gaan en daar sou hy sy opdrag ontvang.


En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.   HANDELINGE 22:10 AFR53


Weens die glans van die lig was Paulus blind en sy metgeselle moes hom aan die hand lei tot by hul eindbestemming.


Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.   HANDELINGE 22:11 AFR53


Paulus vertel dat ‘n Ananias, ‘n vroom man volgens die Wet, met ‘n goeie naam tussen al die Jode waar hy gewoon het, met hom kom praat het. Hy verduidelik wie en wat Ananias was om te toon dat hy nes hulle vroom was en volgens die Wet gelewe het.


En 'n sekere Ananías, 'n vroom man volgens die wet, wat 'n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon, HANDELINGE 22:12 AFR53


Intussen verkyn Jesus in 'n visioen aan Ananias en vertel hom van Paulus. Ananias het reeds geweet dat Paulus die gelowiges in Jerusalem gewelddadig vervolg het en van plan was om dieselfde in Damaskus te doen. Jesus het Ananias vertel dat Paulus tot geloof in Hom sou kom, Sy boodskap van verlossing aan Jode, heidene en konings sou bring, en ly terwyl hy dit doen. Ananias het ingestem om Paulus te ontmoet, om hom na Christus te lei en sy sig te herstel.


het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk.   HANDELINGE 22:13 AFR53


 

6 Februarie 2024


HANDELINGE 22:14 AFR53

En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor;


Ananias vertel vir Paulus dat die God van ons vaders, dit is die God van Abraham, Isak en Jakob, het Paulus uitverkies om Sy wil te ken. Uitverkies van die begin van tyd, en het besluit dat Paulus God se wil sou ken en die Regverdige, Jesus, sou sien, en Hom sou hoor praat.


Paulus is uitverkies om vir Jesus ‘n getuie te wees by al die mense, van wat hy gesien en gehoor het.


Hierdie opdrag is identies as die wat aan die Twaalf opgedra is, en het Paulus feitlik op dieselfde vlak as hulle geplaas, en was gelykstaande aan sy aanstelling as 'n Apostel.


want jy sal vir Hom by al die mense 'n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.   HANDELINGE 22:15 AFR53


Dit is nie die water nie, maar die bloed van Christus, wat deur die water voorgestel word, wat ons van ons sondes skoonwas. Paulus is deur Ananias aangepor om homself te laat doop, as teken dat sy sondes vergewe is, en deur die proses het hy die Naam van die Here aangeroep.


En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.   HANDELINGE 22:16 AFR53


Paulus vertel dat hy in Jerusalem na die tempel gegaan het om te bid. Hy vertel dit om te wys dat hy nie ‘n lasteraar van die tempel was nie, en ook nie nou is nie.


Terwyl hy besig was om te bid het hy in ‘n trans ingegaan en weer vir Jesus gesien wat vir hom vertel het dat Jerusalem te gevaarlik is vir hom, en dat die mense nie sy getuienis aangaande Hom sou aanvaar nie.


En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in 'n verrukking van sinne gekom en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.   HANDELINGE 22:17-18 AFR53


Paulus redeneer nou met Jesus. Hy vertel dat die mense almal weet hoe wreed hy die mense wat in Jesus geglo het, vervolg het. Hy het deels die hoop uitgespreek dat as hy wat so wreed was kon bekeer word, dan sou dit immers ‘n goeie voorbeeld wees vir ander om ook te bekeer.


En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan; en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.   HANDELINGE 22:19-20 AFR53


 

7 Februarie 2024


HANDELINGE 22:21 AFR53

En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene.


Die skare het tot op hierdie punt ongeduldig gestaan, maar wel geluister. Met die dat Paulus vertel dat Jesus hom na die heidene gestuur het, het die skare genoeg gehad. Nou skree hulle weer dat Paulus doodgemaak moet word.


Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so 'n mens, want hy behoort nie te lewe nie!   HANDELINGE 22:22 AFR53


Die owerste oor duisend het waarskynlik nie die Hebreeuse taal verstaan ​​nie en het dus nie verstaan hoekom die skare nou weer so oproerig raak nie. As 'n oproer eiendom beskadig het, kan hy verantwoordelik gehou word, en as hy as nalatig bewys word, kan hy sy pos verloor.


Paulus word heeltyd verkeerd verstaan. Die Jode het gedink hy het ‘n Griek in die tempel ingebring, en hy het dit nie gedoen nie. Die kaptein het gedink hy was 'n Egiptenaar wat 'n onlusteleier was, en hy was nie daardie man nie. Let op wie hy wel is. Hy is 'n Hebreër wat vlot Grieks kan praat. Hy is egter ook 'n Romeinse burger en is dus geregtig op sekere beskermings. Hy doen nou 'n beroep op daardie burgerskap om die geseling vry te spring.


En terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp, het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep.   En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om 'n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?   HANDELINGE 22:23-25 AFR53


'n Edik van Keiser Augustus het bepaal dat alle Romeinse burgers vrygestel moes word van geseling, en dat, voor enige verhoor voor die landdros, 'n formele klag teen hulle gemaak moes word. Enige amptenaar wat sulke geselings toegelaat het, is in die openbaar tereggestel!


Die hoofman oor honderd waarsku die owerste oor duisend dat Paulus ‘n Romeinse burger kan wees, en dat hulle op dun ys beweeg. Die owerste oor duisend vra Paulus toe prontuit of hy ‘n Romeinse burger is, waarop Paulus ja antwoord.


Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is 'n Romein. En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy 'n Romein is? En hy antwoord: Ja.   HANDELINGE 22:26-27 AFR53


Die owerste oor duisend is duidelik omgekrap en vertel dat hyself ‘n groot som geld moes betaal vir sy Romeinse burgerskap, waarop Paulus antwoord dat hy sy burgerskap deur geboorte verkry het. Paulus is die Romein een voor!


Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir 'n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte.   HANDELINGE 22:28 AFR53


Paulus se boeie word onmiddelik losgemaak, want hulle besef nou dat hy wel ‘n Romeinse burger is, en wat hulle sover gedoen het onwettig is.


Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy 'n Romein was en hy hom geboei het.   HANDELINGE 22:29 AFR53


 

8 Februarie 2024


HANDELINGE 22:30 AFR53

En die volgende dag wou hy met sekerheid weet waarvan hy deur die Jode beskuldig was; en hy het hom van sy boeie losgemaak en bevel gegee dat die owerpriesters en hulle hele Raad moes vergader; en hy het Paulus afgebring en voor hulle laat staan.


Die owerste oor duisend wil nog steeds weet wat Paulus in die oë van die Jode verkeerd gedoen het.


Heidense offisiere is nooit toegelaat om aan die beraadslagings van die Joodse Raad deel te neem nie. Die owerste oor duisend is egter deur die Keiser aangestel en hy was verantwoordelik vir die beskerming van enige persoon wat beweer het dat hy 'n burger van Rome is. Daarom het hy die Joodse heersers beveel om voor hom te verskyn waar hy nie uitgesluit kon word nie.


Die laaste keer wat Paulus voor die Joodse Raad verskyn het was toe hy toestemming gevra en ontvang het om die nuwe Christene in Damaskus te vang en terug te bring na Jerusalem om vervolg te word.


Baie water het sedert daardie dag in die see geloop, maar Paulus spreek hul nog steeds as broeders aan, wat nie wel afgaan by die raadslede nie. Paulus het duidelik meer gesê as wat die skrywer Lukas hier vir ons weergee, en die hoëpriester gee bevel om Paulus op die mond te slaan.


En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met 'n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag. Maar die hoëpriester Ananías het bevel gegee aan die wat by hom staan, om hom op die mond te slaan.   HANDELINGE 23:1-2 AFR53


Paulus antwoord die hoëpriester dat God hom sal slaan—soos Hy inderdaad gedoen het. Toe die Jode in die jaar 66 teen Rome in opstand gekom het, moes Ananias vir sy lewe vlug weens sy bekende simpatie met Rome. Die Joodse guerrilla's het hom gevind waar hy in 'n akwaduk by Herodes se paleis wegkruip, en hulle het hom doodgemaak. Dit was 'n skandelike dood vir 'n veragtelike man.


Gewitte muur beteken dat die hoëpriester ‘n huigelaar is.


Toe sê Paulus vir hom: God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word?


Paulus word oor die vingers gehaal omdat hy die hoëpriester beledig en hy vra omverskoning en sê hy het nie geweet dat Ananias die hoëpriester was nie.


En die wat daarby staan, sê: Skel jy die hoëpriester van God uit? Daarop sê Paulus: Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van 'n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.   HANDELINGE 23:3-5 AFR53


Hier volg drie redes hoekom Paulus so ‘n fout kon maak.


1) Onsekere identiteit destyds: Ananias, wat uit sy amp ontslaan is, was na Rome om aanklagte teen hom te verdedig en het eers onlangs teruggekeer na Jerusalem. Paulus was etlike jare weg en sou nie die regerende hoëpriester geken het nie.

2) Omdat dit nie 'n behoorlik byeengeroepe vergadering van die nasionale raad was nie, is dit inderhaas gereël en daarom het die hoëpriester waarskynlik nie sy ampsklere gedra nie.

3) Paulus se swak sig? Sy “doring in die vlees”?


 

9 Februarie 2024


HANDELINGE 23:6 AFR53

En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is 'n Fariseër, die seun van 'n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.


Paulus lees sy gehoor en besef hy moet iets doen om hul aandag op ‘n ander onderwerp te vestig. Hy roep uit dat hyself ‘n Fariseër is en ook die seun van ‘n Fariseër is. Nou gaan hy die Joodse Raad in twee skeur tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, want hy sê dat hy ook glo in die opstanding van die dode soos die Fariseërs doen.


Hy slaag in sy doel want hierdie is ‘n groot verskil tussen die twee groepe. Die Sadduseërs glo nie in die opstanding nie en ook nie in engele of geeste nie, maar die Fariseërs glo in beide.


En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.   HANDELINGE 23:7-8 AFR53


Die skrifgeleerdes van die Fariseërs sinspeel op wat Paulus in sy toespraak op die trappe gespreek het. Dat Jesus, van wie hulle geweet het dat hy dood was, lewend was, en het verskyn en met Paulus gepraat op pad na Damaskus, en weer in 'n visioen. Dit interpreteer hulle as 'n engel of gees wat aan hom verskyn het.


As dit so was en dit was God wat met Paulus gepraat het, dan is dit moeilik om met God te stry, en daarom dat hul opstaan en sê hulle vind geen kwaad in Paulus nie.


”Toe was daar 'n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as 'n gees met hom gespreek het, of 'n engel, laat ons nie teen God stry nie.   HANDELINGE 23:9 AFR53


Weereens voel die owerste oor duisend dat Paulus se lewe in gevaar is en hy gee sy soldate bevel om Paulus weg te neem na hulle kamp.


En toe daar 'n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.   HANDELINGE 23:10 AFR53


Hierdie ondervinding moes beslis vir Paulus ‘n laagtepunt in sy bedieding wees, want Jesus verskyn weer aan hom om hom te bemoedig. Jesus vertel vir Paulus dat hy in Rome gaan getuig soos hy in Jerusalem gedoen het, en so kry hy sy volgende opdrag.


En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.   HANDELINGE 23:11 AFR53


 

10 Februarie 2024


HANDELINGE 23:12 AFR53

En toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself vervloek deur te sê dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie.


Paulus se moeilikheid hou nie op nie. Sommige van die Jode smee ‘n komplot teen Paulus om hom dood te maak, en hulle het selfs gesweer om nie te eet of drink todat hulle in hul doel geslaag het nie.


Daar was meer as veertig van die Jode wat saamgesweer het en hulle vra die owerpriesters en ouderlinge om saam met hulle te staan. Beslis het hulle eers met die Sadduseërs en nie die Fariseërs gepraat nie.


En daar was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het. Hulle het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en gesê: Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie.   HANDELINGE 23:13-14 AFR53


Of, die tydelike gevoel van die Fariseërs het bedaar en hulle ou haat het weer na vore gekom, of die hoëpriester en Sadduseërs het die Fariseërs van die Raad op een of ander manier oorreed om saam met hulle te vra dat Paulus weer voor hulle gebring mag word.


Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.   HANDELINGE 23:15 AFR53


Paulus se suster se seun kom van die komplot teen Paulus te hore, en hy haas hom na die kamp om Paulus te waarsku. Ons weet nie hoe hy van die komplot gehoor het nie, maar wat ons weet is dat God in beheer is en Sy planne kan nie gefnuik word nie.


Maar die seun van Paulus se suster het van die hinderlaag gehoor, en hy het gekom en in die kamp gegaan en dit aan Paulus vertel. En Paulus het een van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Bring hierdie jongman by die owerste oor duisend, want hy het iets om aan hom te vertel.   HANDELINGE 23:16-17 AFR53


Die seun word na die owerste oor duisend gebring om sy storie te kom vertel.


Daarop neem hy hom saam en bring hom by die owerste oor duisend en sê: Die gevangene, Paulus, het my na hom geroep en versoek om hierdie jongman na u te bring, omdat hy iets het om aan u te sê. Daarop vat die owerste oor duisend hom by die hand en gaan eenkant toe en vra: Wat het jy om aan my te vertel?   HANDELINGE 23:18-19 AFR53


Die seun vertel vir die owerste oor duisend van die veertig plus Jode en die Joodse Raad se plan, en sê dat hulle nou wag vir sy toestemming om Paulus voor hulle te laat verskyn.


En hy sê: Die Jode het ooreengekom om u te versoek om Paulus môre af te bring na die Raad asof hulle iets noukeurigers omtrent hom wil verneem. Laat u dan nie deur hulle oorhaal nie, want meer as veertig man van hulle lê hom voor wat hulleself vervloek het om nie te eet of te drink totdat hulle hom omgebring het nie. En nou is hulle gereed en wag op u toestemming.   HANDELINGE 23:20-21 AFR53


 

11 Februarie 2024


HANDELINGE 23:22 AFR53

En die owerste oor duisend het die jongman laat gaan en hom bevel gegee: Vertel aan niemand dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.


Die owerste oor duisend is bly dat die seun hom kom waarsku het en sê vir hom dat hy niemand moet vertel dat hy die nuus oorgedra het nie.


Tweehonderd was die gewone getal soldate wat onder die twee hoofmanne oor honderd was en hulle is beveel om hul troepe gereed te hou. Ruiters word gewoonlik vir ekstra verdediging van hul voetsoldate bygevoeg. Die liggewapende manne het hul spies of pyle met hul regterhand hanteer of gegooi en het ook gedien as ekstra verdediging.


Die derde uur van die nag is 21:00 ons tyd en hul reis so laat deels omdat dit in daardie warm lande baie lastig is om bedags te reis, en deels vir die groter veiligheid van Paulus en die wat saam met hom gegaan het.


En hy het twee van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Hou tweehonderd soldate gereed om na Cesaréa te gaan, en sewentig ruiters en tweehonderd lig gewapende manne, teen die derde uur van die nag. En sorg vir pakdiere, dat hulle Paulus daarop kan sit en veilig na Felix, die goewerneur, oorbring.   HANDELINGE 23:23-24 AFR53


Die hoofman oor duisend se naam is Claudius Lisias, en hy skryf ‘n brief aan goewerneur Felix en in die brief gee hy vir hom ‘n kort opsomming van Paulus se situasie.


En hy het 'n brief geskrywe met ongeveer hierdie inhoud: Claudius Lísias aan die hoogedele goewerneur Felix: Groete! Toe hierdie man wat deur die Jode gevang is, op die punt gestaan het om deur hulle omgebring te word, het ek met die soldate bygekom en hom gered, omdat ek verneem het dat hy 'n Romein is. Maar omdat ek te wete wou kom wat die oorsaak was waarom hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Raad afgebring en uitgevind dat hy beskuldig word oor twisvrae van hulle wet, maar dat hy nie aangeklaag word van iets wat die dood of boeie verdien nie. En omdat aan my meegedeel is dat daar deur die Jode 'n komplot teen die man sou gesmee word, het ek hom meteens na u gestuur en ook sy beskuldigers gelas om wat hulle teen hom het, voor u te sê. Vaarwel!   HANDELINGE 23:25-30 AFR53


Die soldate, ruiters en voetsoldate het in die nag Paulus geneem en gereis tot by Antipatris. Die soldate en die voetsoldate het net tot hier saamgereis. Die volgende dag het hulle teruggekeer na hul kamp en die ruiters het Paulus na Cesarea geneem, hom aan die goewerneur voorgestel en die brief afgegee.


En die soldate het Paulus geneem soos hulle beveel is, en hom in die nag na Antípatris gebring. En die volgende dag het hulle die ruiters met hom verder laat gaan en self na die kamp teruggekeer. En dié het in Cesaréa gekom en die brief aan die goewerneur afgegee en ook Paulus voor hom gestel.   HANDELINGE 23:31-33 AFR53


Die goewerneur lees die brief, verneem van waar Paulus was en sê toe sy verhoor sal plaasvind wanneer sy beskuldigers arriveer. Paulus is toe na die paleis van Herodes waar hy onder bewaking vertoef het.


En die goewerneur het die brief gelees en gevra uit watter provinsie hy was; en toe hy verneem dat hy uit Cilícië was, sê hy: Ek sal jou in verhoor neem wanneer jou beskuldigers ook aangekom het. Toe gee hy bevel dat hy in die paleis van Herodes bewaak moes word.   HANDELINGE 23:34-35 AFR53


 

12 Februarie 2024


HANDELINGE 24:1 AFR53

En vyf dae daarna het die hoëpriester Ananías met die ouderlinge en 'n sekere advokaat Tertúllus afgekom en Paulus by die goewerneur aangeklaag.


Vyf dae later kom Ananias, die hoëpriester, van die Joodse ouderlinge en ook 'n advokaat om hul saak te stel en hulle aanklagte te verdedig. Die Romeinse reg was so kompleks soos ons moderne reg, en dit het 'n deskundige geverg om die reg te verstaan ​​en te weet hoe om sy kliënt se saak suksesvol voor te stel.


Die advokaat het goewerneur Felix gekomplimenteer oor sy vele hervormings wat vrede in die land gebring het. Dit was waar dat Felix 'n paar opstande onderdruk het, maar hy het beslis nie vrede in die land gebring nie. Trouens, gedurende die tyd dat Felix rowers in sy ryk onderdruk het, het hy ook rowers gehuur om die hoëpriester Jonathan te vermoor! Soveel vir sy hervormings.


En toe hy opgeroep is, begin Tertúllus hom beskuldig en sê: Dat 'n groot vrede deur u, hoogedele Felix, ons te beurt val, en dat daar hervorminge deur u voorsorg in elke opsig en oral vir hierdie nasie tot stand kom, neem ons met alle dankbaarheid aan.   HANDELINGE 24:2-3 AFR53


Die eerste aanklag teen Paulus deur die Jode, was ‘n persoonlike een, dat hy ‘n pes was. Die Jode wou hulle ou tradisies handhaaf, en Paulus het iets nuuts voorgestaan.


Die Romeine was bang vir enige gebeure wat hul delikate vrede in die Ryk sou versteur. Hierdie persoonlike aanklag op Paulus as ‘n pes was gebaseer op die Jode se konflikte met Paulus in verskillende dele van die Romeinse wêreld. Dit was sy eie landgenote, nie die Romeinse owerhede nie, wat Paulus van stad tot stad moeilikheid besorg het.


Die tweede aanklag was polities van aard en baie ernstiger, want geen Romeinse amptenaar wou daaraan skuldig word dat onwettige aktiwiteite toegelaat word wat die ‘Romeinse Vrede’ sou ontwrig nie. Toe Tertullus Paulus daarvan beskuldig het dat hy ‘n verwekker van oproer onder al die Jode regdeur die Romeinse Ryk is, het hy dadelik die aandag van die goewerneur gekry. Natuurlik was sy stelling 'n oordrywing, maar hoeveel hofsake is gewen deur iemand wat die waarheid voorstel?


Die derde aanklag was godsdienstig van aard. Tertullus moes die beskuldiging versigtig hanteer want dit het 'n Romeinse offisier geimpliseer wat 'n man se lewe gered het.


Meestal wou Romeinse amptenare soos Felix niks te doen hê met sake wat op die Joodse Wet betrekking het nie. Hoe minder Jode in Romeinse howe beland het, hoe beter sou dit vir die Ryk wees. Tertullus moes hierdie derde aanklag op 'n manier aanbied wat die Jode goed laat lyk het sonder om die Romeine in ‘n slegte lig te stel. Die Jode het Paulus daarvan beskuldig dat hy die tempel ontheilig het en dat hulle hom toe gevange geneem het om hom volgens hul eie wet te oordeel.


Maar om u nie te lank op te hou nie, versoek ek u om ons in u vriendelikheid kortliks aan te hoor. Want ons het gevind dat hierdie man 'n pes is en 'n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en 'n voorman van die sekte van die Nasaréners, wat selfs probeer het om die tempel te ontheilig. Ons het hom gevange geneem en wou hom volgens ons wet oordeel;   HANDELINGE 24:4-6 AFR53


 

13 Februarie 2024


HANDELINGE 24:7 AFR53

maar Lísias, die owerste oor duisend, het gekom en hom met groot geweld uit ons hande weggeneem


Tertullus het die indruk gewek dat Paulus skuldig was aan die ontheiliging van die tempel, dat die Jode binne hul regte was om hom te gryp, en dat die kaptein uit sy beurt opgetree het deur in te meng. Dit was Lisias, en nie die Jode nie, wat daaraan skuldig was dat 'n Romeinse burger met geweld behandel is.


Maar Felix het die amptelike brief voor hom gehad en was meer geneig om sy kaptein te glo as 'n betaalde Joodse prokureur. Tertullus het geïmpliseer dat as Lisias nie ingemeng het nie, die Jode Paulus self sou verhoor het, en dit sou Felix en Rome baie moeite en onkoste bespaar het.


en bevel gegee dat sy beskuldigers voor u moet kom. Van hom sal u self, ná ondersoek, kennis kan verkry van al hierdie dinge waarvan ons hom beskuldig. En die Jode het ook saamgestem en gesê dat dit so was.   HANDELINGE 24:8-9 AFR53


Paulus is nou aan die beurt en anders as Tertullus het hy nie vleiery nodig om sy saak te stel nie.


En nadat die goewerneur vir hom gewink het om te praat, het Paulus geantwoord: Omdat ek weet dat u oor hierdie volk al baie jare lank regter is, verdedig ek my saak met goeie moed,   HANDELINGE 24:10 AFR53


Paulus begin sy saak deur te stel dat hy in Jerusalem was om te aanbid. Hy was in die tempel maar het met niemand gepraat nie, en hy het ook nie ‘n opstand in die sinagoges of in die stad georganiseer nie. Hy sê verder dat daar ook geen bewyse is van enige van hierdie beskuldigings teen hom nie.


aangesien u te wete kan kom dat dit nie meer as twaalf dae is vandat ek opgegaan het om in Jerusalem te aanbid nie. En hulle het my nie in die tempel gevind, besig om met iemand te praat of 'n opstand van die volk te verwek nie, en ook nie in die sinagoges of in die stad nie. En hulle kan ook die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, nie bewys nie.   HANDELINGE 24:11-13 AFR53


Paulus kry nou kans om die evangelie persoonlik aan Felix te verkondig.


Volgens die Romeinse reg was dit hoogs onwettig om 'n godsdiens te versprei wat nie amptelik deur die regering goedgekeur is nie. Die Joodse geloof was amptelik goedgekeur, ten spyte van die feit dat die Romeine die Jode ateïste genoem het omdat hulle geen beelde van hul God het nie.


Paulus, wat deur Sirië en hedendaagse Turkye en Griekeland gereis het, verstaan ​​iets wat die Jodse Raadslede, wat nooit Judea verlaat het nie, nie verstaan ​​nie. Die Romeine sien geen verskil tussen die tradisionele Joodse geloof en Christene nie.


Die Weg is ‘n term wat Paulus vir Christenskap gebruik. Dit is gebaseer op Jesus se aanhaling ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’. Paulus se bewoording dui egter aan dat hy die oortuigings van die Jode volg op die manier wat Jesus geleer het, daarom dat hy verklaar dat hy alles glo wat in die wet en in die profete geskryf is.


Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is,   HANDELINGE 24:14 AFR53


 

14 Februarie 2024


HANDELINGE 24:15 AFR53

en 'n hoop op God het, 'n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar 'n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.


Paulus is slim besig om hom onder die sambreel van sy beskuldigers te beskyf om hul eise teen hom te versmoor. Tertullus het hom 'n voorloper van die sekte van die Nasareners genoem, met die veronderstelling dat goewerneur Felix, Paulus se oortuigings sou identifiseer as 'n godsdiens wat nie Joods is nie, en nie deur die Romeinse wet goedgekeur word nie.


Om die leer van 'n geloofstelsel te versprei wat nie die toestemming van die Ryk het nie, was onwettig. Om dit te systap, ten minste in die oë van die Romeinse reg, bely Paulus dat hy die Joodse godsdiens op 'n effens ander manier volg. Sy oortuigings is dié wat deur die Nasarener Jesus geleer is, maar hy aanbid steeds dieselfde God en glo in dieselfde Skrifte.


Die enigste toepaslike aanklag wat hulle teen hom kan maak—die enigste keer toe hy 'n oproer in Felix se jurisdiksie veroorsaak het – was toe hy voor hierdie selfde Joodse Raad gestaan ​​en uitgeroep het dat hy glo in die opstanding van die dooies. Die Sadduseërs, wat nie daardie geloof deel nie, was verontwaardig en die Fariseërs wat dit wel doen, het tot Paulus se verdediging gekom.


Paulus se aanklaers sluit die hoëpriester en sommige van die ouderlinge in. Die hoëpriester is 'n Sadduseër, net soos die meeste van die Joodse Raad, maar sommige lidmate is Fariseërs, en dit is op hierdie mense wat Paulus hom beroep.


Omdat Paulus die leerstelling van 'n opstanding as 'n streng en plegtige werklikheid beskou het, was die een wet van sy lewe om sy gewete skoon te hou van opsetlike sonde. Die woorde moes vir Felix amper net so bitter gewees het as vir Ananias, maar hy het in elk geval die ordentlikheid om in stilte te luister.


Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense 'n rein gewete te hê. HANDELINGE 24:16 AFR53


Paulus was in 53 n.C. aan die einde van sy tweede sendingsreis laas in Jerusalem. Dit is nou 58 n.C. en ongeveer vyf jaar sedert sy vorige besoek, daarom dat hy sê dat hy na baie jare na Jerusalem teruggekeer het.


Paulus het die offerhandes wat hy tydens sy derde sendingsreis bymekaar gemaak het, gebring  nie net vir die Christene nie, maar vir die hele Joodse volk.


Iemand wat aalmoese en offers tempel toe bring se doel is tog nie om die tempel te ontheilig nie.


Maar ná baie jare het ek gekom om aan my volk aalmoese te bring en offers.   HANDELINGE 24:17 AFR53


 

15 Februarie 2024


HANDELINGE 24:18 AFR53

”En terwyl ek hiermee besig was, het sekere Jode uit Asië my in die tempel gevind nadat ek geheilig was, nie met 'n skare of met 'n opskudding nie.“


Paulus se offers het verband gehou met die gelofte wat hy gedoen het en dit moes in die tempel gebeur. Paulus verklaar dat hy nie ‘n skare mense om hom gehad het nie, maar slegs ‘n paar Jode van Asië.


Hulle behoort hier voor u te wees om beskuldiging in te bring as hulle iets teen my het.   HANDELINGE 24:19 AFR53


Paulus daag nou die lede van die Joodse Raad uit om te sê of hulle enige fout gevind het met hom, behalwe vir die feit dat hy in die opstanding van die dode glo. Hy het duidelik gewys dat die oortredings waarvan die Joode Raad hom aangekla het, ongegrond is. Hy het nie 'n oproer in Jerusalem begin nie, hy het nie die tempel ontheilig nie, en die godsdiens wat hy volg, sit veilig onder die beskermende wetlike sambreel van die Joodse geloof.


Of laat hierdie manne self sê of hulle enige onreg in my gevind het toe ek voor die Raad gestaan het, behalwe oor hierdie een woord wat ek uitgeroep het terwyl ek onder hulle gestaan het, naamlik: Oor die opstanding van die dode staan ek vandag by u voor die gereg!   HANDELINGE 24:20-21 AFR53


Goewerneur Marcus Antonius Felix weet dit, maar ander faktore speel ‘n rol vir hierdie wrede, losbandige man. As hy Paulus laat gaan, kan die Joodse Raad 'n ophef maak. Die Jode kon in opstand kom en dit sou ongerieflik wees. As hy Paulus gevange hou, sal die Joodse leiers gelukkig wees, en Paulus kan dalk omkoopgeld vir hom aanbied - die beste van twee wêrelde. Felix stel toe die saak uit, maar gee vir Paulus ‘n vergunning deurdat sy vriende hom mag besoek.


Toe Felix dit hoor, het hy hulle saak uitgestel, alhoewel hy noukeurig genoeg met die dinge van die Weg bekend was; en hy het gesê: Wanneer Lísias, die owerste oor duisend, afkom, sal ek julle saak ten volle ondersoek. En hy het die hoofman oor honderd beveel om Paulus te bewaak, maar dat hy verligting moes hê, en dat hy niemand van sy eie mense moes verhinder om hom te bedien of te besoek nie.   HANDELINGE 24:22-23 AFR53


Drusilla wou waarskynlik vir Paulus hoor praat. Haar familie was by verskeie geleenthede by die Weg betrokke. Haar oupagrootjie het Jesus in Betlehem probeer doodmaak, haar grootoom het Johannes die Doper vermoor en Jesus gespot, en haar pa het die apostel Jakobus doodgemaak.


En 'n paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusílla, sy vrou, wat 'n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus. Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: Gaan vir hierdie keer heen, en as ek 'n geleentheid vind, sal ek jou laat roep. En tegelykertyd het hy ook gehoop dat geld aan hom deur Paulus sou gegee word om hom los te laat. Daarom het hy hom ook dikwels laat haal en met hom gesprekke gehad.   HANDELINGE 24:24-26 AFR53


Twee jaar gaan verby. Felix word opgevolg deur Festus en Paulus is nog steeds ‘n gevangene.


Maar twee jaar het verbygegaan, en toe kry Felix vir Porcius Festus as opvolger; en omdat Felix aan die Jode 'n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.   HANDELINGE 24:27 AFR53


 

18 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page