top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 19-21

Updated: Feb 4



21 Januarie 2024


HANDELINGE 19:1 AFR53

”En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind“


Paulus se derde sendingsreis neem hom deur die binneland van Galasië en Frigië oppad na Efese waar hy sommige dissipels vind.


Die dissipels wat Paulus nou mee spreek leef nog in die verwagting van Jesus soos Johannes die Doper dit verkondig het, en het nog nooit gehoor van die Heilige Gees nie.


”en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.“   HANDELINGE 19:2 AFR53


Johannes die Doper se doop was ‘n voorbereiding in afwagting vir Jesus Christus en Sy verlossing.


”En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus“   HANDELINGE 19:3-4 AFR53


Altesaam twaalf manne is die dag deur Paulus gedoop in die Naam van die Here Jesus. Daarna het Paulus hulle die hande opgelê, die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer.


”En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer. En altesaam was hulle omtrent twaalf manne.“   HANDELINGE 19:5-7 AFR53


Die opdrag van Jesus voor Sy hemelvaart was om uit te gaan, dissipels te maak van die nasies, hulle te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en hulle te leer om Jesus se leringe te onderhou.  Paulus en sy mede apostels doen presies wat Jesus hulle beveel het.


”Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.“   MATTHÉÜS 28:19 AFR53


 

22 Januarie 2024


HANDELINGE 19:8 AFR53

”En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan.“


Paulus kon vir drie maande vrymoedig in die sinagoge spreek voor die moeilikheid begin het. Maar God, maak altyd ‘n nuwe deur oop as een toegaan.


”Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van 'n sekere Tiránnus samesprekinge gehou“   HANDELINGE 19:9 AFR53


Vir twee jaar het Paulus in die skool van Tirannus met die mense gespreek, en al die inwoners van Asië, Jode sowel as Grieke, het die Woord van die Here Jesus gehoor.


”En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.“   HANDELINGE 19:10 AFR53


God het Homself met buitengewone kragte, deur Paulus se hande, aan die mense openbaar, soveel so dat kledingstukke van Paulus wat op siekes gelê was, hulle gesond gemaak het.


”En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.“   HANDELINGE 19:11-12 AFR53


Natuurlik is daar diegene wat dink die ‘toertjies’ is oulik en hulle probeer dit dupliseer om geld te maak daarmee.


”En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig! Dit was sekere sewe seuns van Skeva, 'n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het.“   HANDELINGE 19:13-14 AFR53


Die sewe seuns van Skeva het hulself goed vasgeloop teen ‘n bose gees wat hulle in die Naam van Jesus wou uitdryf uit ‘n sekere man. Die bose gees het vir hulle gesê dat hy Jesus ken, en van Paulus weet, maar hy weet glad nie wie hulle is nie. Die man wat van die bose gees beset was, spring toe op die sewe broers, oorweldig hulle, en hul vlug kaal en gewond uit die huis uit.


”Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle? Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.“   HANDELINGE 19:15-16 AFR53


 

23 Januarie 2024


HANDELINGE 19:17 AFR53

”En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.“


Dit het aan almal bekend geword dat die heilige Naam van Jesus op 'n heel ander vlak staan ​​as dié van die ander name wat duiwelbesweerders gebruik het. Dit was nou baie duidelik dat die Naam van Jesus nie vir eie gewin gebruik kon word nie.


Baie van die wat gelowig geword het, en oortuig was van hul sondes, het hul bose dade openlik verklaar.


”En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak;“   HANDELINGE 19:18 AFR53


So word met die mond bely tot redding.


”As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.“   ROMEINE 10:9-10 AFR53


Die mense wat voorheen met towery deurmekaar was, en nou hul sondes bely het, het al hul beelde en boeke van die okkulte gebring om te verbrand. Die waarde van alles wat verbrand was, was groot, vyftigduisend silwerstukke werd.


Toegangspoorte vir Satan, toe en nou, is geen lagwekkende saak nie: Ouiji-borde, horoskope, ens. is wapens van Satan se oorlogvoering. Mense word nie maklik deur Satan oorgeneem nie, so iets vereis ‘n toegangspoort of ‘n deur om oopgemaak te word. Bly weg!


”en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftigduisend silwerstukke was.“   HANDELINGE 19:19 AFR53


Die Woord van God het merkwaardig gegroei en sterk geword.


”So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.“   HANDELINGE 19:20 AFR53


Paulus besluit om terug te gaan na Griekeland – Macedónië (met die stede Filippi en Thessalonika) en Acháje (met hoofstad Korinte)  – en dan Jerusalem en uiteindelik ook Rome te besoek. Hy stuur Timotheus en Erastus vooruit en bly nog ’n ruk lank in Efese (Turkye). 


”En toe hierdie dinge verby was, het Paulus hom voorgeneem om deur Macedónië en Acháje te gaan en na Jerusalem te reis. Hy het gesê: Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien. Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timótheüs en Erástus, na Macedónië, terwyl hy self nog 'n tyd lank in Asië gebly het.“   HANDELINGE 19:21-22 AFR53


 

24 Januarie 2024


HANDELINGE 19:23 AFR53

”En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie.“


Natuurlik is dit nou weer tyd vir moeilikheid - om die Weg te probeer stop. Paulus se sukses beteken dat die silwersmede van Efese se inkomste aansienlik verminder. Een van die ambagsmanne is ‘n silwersmid genaamd Demetrius wat silwertempeltjies van Diana maak.


”Want iemand met die naam van Demétrius, 'n silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het 'n aansienlike verdienste aan die ambagsmanne verskaf.“   HANDELINGE 19:24 AFR53


Demetrius kry al die werkers van sy gilde bymekaar om hulle teen Paulus op te stook. Hy wys vir sy gehoor uit dat Paulus nie net in Efese nie, maar in byne die hele Asië vir mense leer dat handgemaakte beelde nie gode kan wees nie.


”En toe hy hulle en die werkers in daardie soort bedrywe bymekaargeroep het, sê hy: Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is, en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus 'n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie.“   HANDELINGE 19:25-26 AFR53


Die gevaar volgens Demetrius is dat die Weg die tempel van die godin Diana tot niks gaan bring en dan gaan hul bedryf ook vergaan. Hul lewens gaan verwoes word.


”Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.“   HANDELINGE 19:27 AFR53


Die skare skreeu woedend: Groot is die Diana van die Efesiërs! Toe storm hulle en neem Gajus en Aristarchus wat reisgenote van Paulus was, saam na die amfiteater.


”En toe hulle dit hoor, is hulle met woede vervul en het geskreeu en gesê: Groot is die Diana van die Efésiërs! Daarop raak die hele stad heeltemal in verwarring, en hulle storm soos een man na die skouburg en sleep Gajus en Aristárchus saam, Macedóniërs wat reisgenote van Paulus was.“   HANDELINGE 19:28-29 AFR53


Die amfiteater van Efese was, naas die Tempel van Artemis, die stad se vernaamste bymekaarkomplek en instaat om vyf en twintigduisend mense te hou. Dit was hoofsaaklik gebruik vir gladiatorgevegte met wilde diere, maar is ook vir dramatiese vermaak gebruik. Die teater van 'n Griekse stad, met sy wye oop area, was 'n gunsteling plek vir openbare vergaderings van alle soorte.


Paulus wou ook ingaan in die arena om met die mense te praat, maar sy dissipels het dit nie toegelaat nie.


”En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie. En sommige van die owerstes van Asië wat sy vriende was, het ook na hom gestuur en hom gesmeek dat hy hom nie in die skouburg moes begeef nie.“   HANDELINGE 19:30-31 AFR53


 

25 Januarie 2024


HANDELINGE 19:32 AFR53

”Hulle het dan aangehou skreeu, sommige dit en ander dat; want die vergadering was in die war, en die meeste het nie geweet waarvoor hulle bymekaargekom het nie.“


Ons het hier ‘n goeie beskrywing van groeiende oproerige skare wat slegs daar is omdat dit lekker voel en lyk. Die meeste weet nie eens hoekom hulle daar is en waarvoor hulle skree nie.


Alexander, ‘n Jood, word deur die skare vorentoe gedruk sodat hy die skare kan aanspreek.


”En hulle het Alexander uit die skare vorentoe laat kom, omdat die Jode hom vorentoe gestoot het; en Alexander het met die hand gewink en wou hom by die volk verdedig.“   HANDELINGE 19:33 AFR53


Toe hulle hoor hy is ‘n Jood, wil hulle niks van hom weet nie. Die heidene het die Jode en die mense van die Weg in dieselfde lig gesien, en albei was dus vir hul ‘n bedreiging. Die skare het hierna net meer oproerig geraak en omtrent vir twee uur lank geskree: Groot is die Diana van die Efésiërs!


”Maar toe hulle verstaan dat hy 'n Jood is, gaan daar een geroep van almal op terwyl hulle omtrent twee uur lank skreeu: Groot is die Diana van die Efésiërs!“   HANDELINGE 19:34 AFR53


Alexander hier is moontlik die Alexander wat Paulus kwaad aangedoen het, en waarvan hy in Timotheus skryf.


”Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke!“   II TIMÓTHEÜS 4:14 AFR53


Chaos heers totdat die stadsklerk hulle tot bedaring bring met ’n verstommende wyse woord.


”Maar die stadsklerk het die skare tot bedaring gebring en gesê: Efésiërs, watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efésiërs die tempelbewaarder is van die groot godin Diana en van die beeld wat uit die hemel geval het nie?“   HANDELINGE 19:35 AFR53


Die stadsklerk sê vir die skare dat geen oplossing gevind kan word in ‘n opstand nie, en dat as die ambagsmanne ‘n saak teen iemand het, dan is die korrekte plek daarvoor die hof waar regters oor die saak sal besluit.


”Terwyl dit dan nie weerspreek kan word nie, behoort julle rustig te wees en niks onbedags te doen nie. Want julle het hierdie manne gebring, wat geen tempelrowers is nie en ook nie julle godin laster nie. As Demétrius en sy ambagsmanne dan 'n saak teen iemand het, die hofsittings word gehou, en daar is regters: laat hulle mekaar aanklaag.“   HANDELINGE 19:36-38 AFR53


Die stadsklerk van Efese wil nie oproerigheid in sy stad he nie, want dit sal nie goed vertoon op sy rekord in die Romeinse Ryk nie. Hy is dus streng met die skare en met sy gesag ontbind hy die vergadering en stuur die skare huis toe.


”Maar as julle nog iets anders verlang, dit sal in die wettige vergadering beslis word. Want ons loop gevaar om oor die oproer van vandag aangeklaag te word, aangesien daar geen grond is waarop ons sal kan rekenskap gee van hierdie oploop nie. En met hierdie woorde het hy die vergadering ontbind.“   HANDELINGE 19:39-40 AFR53


 

26 Januarie 2024


HANDELINGE 20:1 AFR53

”En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis.“


Paulus het na al die oproerigheid die dissipels gegroet en na Macedonië vertrek. Hy het nie net gereis nie, hy het orals die mense met sy woorde bemoedig oppad na Griekeland.


”En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom.“   HANDELINGE 20:2 AFR53


Paulus was maar drie maande in Griekeland toe die Jode weer teen hom begin saamspan. Hy verander sy reisplanne en besluit om deur Macedonië na Sirië te reis en nie per boot nie. Paulus was gelukkig nie alleen nie, op sy reise was daar altyd dissipels wat saam met hom gegaan het.


”En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan. En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus. Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag.“   HANDELINGE 20:3-5 AFR53


Die dae van ongesuurde brode verwys na die sewe dae van Paasfees waar hulle net ongesuurde brode eet. Dus vertrek Paulus na Paasfees uit Filippi en seil na Troas waar hulle sewe dae vertoef.


”Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae deurgebring het.“   HANDELINGE 20:6 AFR53


Paulus begin om ‘n groep toe te spreek, en omdat hy die volgende dag sou vetrek, het hy tot laat in die nag gepraat.


”En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe.“   HANDELINGE 20:7 AFR53


‘n Jong man wat net nie meer sy oë kon oophou nie, raak aan die slaap en val drie vloere vêr uit die vensterbank waar hy gesit het - morsdood!


”En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het. En 'n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in 'n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel.“   HANDELINGE 20:8-9 AFR53


Paulus gaan na die jong man, val op hom en slaan sy arms om hom en sê vir die mense dat hulle nie onsteld moet wees nie, die man lewe. Toe gaan hy weer boontoe asof niks gebeur het nie, breek brood en eet, en spreek toe met die mense tot dagbreek - en toe het hy vertrek.


”Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom. En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog 'n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek. En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos“   HANDELINGE 20:10-12 AFR53


 

27 Januarie 2024


HANDELINGE 20:13 AFR53

Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan.


Paulus het sy geselskap per boot na Assus gestuur terwyl hy alleen te voet soontoe gestap het. Daar aangekom het hy aanboord die skip geklim en hulle het tot by Milete gevaar.


Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom. En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom.    HANDELINGE 20:14-15 AFR53


Hulle het vinnig van dorp tot dorp gevaar want Paulus wou Pinkster in Jerusalem wees. Hy het dus besluit om Efese die keer ‘n mis te gee.


Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.   HANDELINGE 20:14-16 AFR53


Paulus wil nog vir oulaas met die ouderlinge van die gemeente in Efese praat en reël dat hulle mekaar in Milete ontmoet, so 60 km van Efese.


En van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep.   HANDELINGE 20:17 AFR53


Paulus herinner hulle aan die beproewinge wat oor hom gekom het van die eerste dag wat hy in Asië aangekom het.


En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode;   HANDELINGE 20:18-19 AFR53


Hy vertel vêrder dat hulle moet onthou hoe hy alles gegee het om die Woord van God aan Jood en Griek te verkondig.


hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.   HANDELINGE 20:20-21 AFR53


Paulus vertel dat hy nou oppad is na Jerusalem en dat die Heilige Gees kragtig in elke stad waar hy was getuig het dat gevangenskap en verdrukking op hom wag.


En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag.   HANDELINGE 20:22-23 AFR53


 

28 Januarie 2024


HANDELINGE 20:24 AFR53

Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.


Al is sy lewe vir hom kosbaar, wil Paulus net die werk wat Jesus vir hom gegee het voltooi - om die evangelie van God se genade te verkondig.


Paulus praat steeds met die ouderlinge van Efese, en hy sê dat dit die laaste keer sal wees dat hulle mekaar sal sien.


En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.   HANDELINGE 20:25 AFR53


Paulus sê verder dat hy die werk wat Jesus vir hom gegee het, voluit gedoen het. Hy het die Woord aan almal verkondig en hy is dus gewas van hul bloed en het geen skuld daaraan as hul nie gered word nie.


Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.   HANDELINGE 20:26-27 AFR53


Soos God vir Esegiël gesê het: die profeet wat die goddelose man gewaarsku het, het sy eie siel gered.


Maar as jý die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jý het jou siel gered.   ESÉGIËL 3:19 AFR53


Paulus vermaan die ouderlinge met wie hy praat dat hulle ook ‘n plig het as herders van hul gemeentes om hul hele kudde te versorg.


Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.   HANDELINGE 20:28 AFR53


Hulle moet op hul hoede wees vir indringers, wrede wolwe. Daar is twee klasse van vyande, intern en ekstern. Die vyand wat tussen hul beweeg, die skynheilige persone wat hulself as vriende voordoen, en dan die ooglopende vyande van buite.


Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.   HANDELINGE 20:29-30 AFR53


Soos Paulus en soos ‘n goeie skaapwagter moet die ouderlinge wag hou, nag en dag oor hul kudde, want die vyand skroom nie om aan te val nie.


Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.   HANDELINGE 20:31 AFR53


 

29 Januarie 2024


HANDELINGE 20:32 AFR53

En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle 'n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.


Paulus dra die broeders op aan God om hul eendag ‘n erfdeel onder die heiliges te gee.


Die hemelse erfdeel wat vir elkeen wat in God glo wag, is vêr beter as enige goud of silwer of aardse rykdom. Daarom dat Paulus nie ander se rykdom begeer het nie, maar sy oë gedurig op God gerig het.


Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie;   HANDELINGE 20:33 AFR53


Paulus sê dat hy met sy eie twee hande gewerk het om te voorsien in sy behoeftes en die wat saam met hom was. Hy het nie sy hande bak gehou vir aalmoese nie.


maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was.   HANDELINGE 20:34 AFR53


Paulus se totale uitgangspunt was om mense te leer deur sy eie voorbeeld. Die swakkes wat gehelp moes word, was nie diegene wat te lui was om te werk nie, maar die wat werklik nie instaat was om te werk nie. Dit is beter om te gee as om te ontvang, is ‘n kort en kragtige opsomming van Paulus se leefwyse.


Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.   HANDELINGE 20:35 AFR53


Paulus kniel in eerbied vir God, en hulle bid almal saam.


En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid.   HANDELINGE 20:36 AFR53


Dit is ‘n emosionele afskeid en die broeders groet Paulus in trane en elkeen gee vir hom ‘n druk.


En daar het 'n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen,   HANDELINGE 20:37 AFR53


Die broeders is veral bedroef omdat dit die laaste keer sal wees dat hulle vir Paulus gaan sien, en so begelei hulle hom na die skip.


veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.   HANDELINGE 20:38 AFR53


 

30 Januarie 2024


HANDELINGE 21:1 AFR53

En nadat ons ons van hulle losgeskeur het, het ons afgevaar en reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan by Pátara.


Losgeskeur beskryf vir ons die emosie van die afskeid, en toe is dit tyd vir Paulus en sy metgeselle om die pad aan te durf na Jerusalem. Hul eerste stop is Kos, toe Rhodes en daarna Patara.


Die pas is nou vinnig, en geen stoppe word gemaak om mense te besoek nie. Hulle vind ‘n ander skip wat na Fenicië vaar en van daar seil hulle na Tirus in Sirië.


En ons het 'n skip gevind wat na Fenícië sou oorseil, en daarop gegaan en afgevaar. En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai.   HANDELINGE 21:2-3 AFR53


Paulus en sy geselskap vertoef nou sewe dae in Tirus, en hy kry ‘n waarskuwing deur die Gees om nie Jerusalem toe te gaaan nie.


Dat die Gees vir Paulus voorberei vir ’n pad van lyding wat vir hom wag, is duidelik, soos Paulus vir die ouderlinge van Efese in Milete reeds gesê het, en soos die Here Jesus self vir Ananias opdrag gegee het om vir Paulus reg aan die begin van sy roeping te sê.


Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.   HANDELINGE 9:16 AFR53


Dit was immers nie anders in die lewe van Jesus nie – Hy moes ly om die wil van God te vervul!  Lyding sou deel van Paulus se roeping wees. Dit was duidelik al aan die begin van sy roeping.


En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie.   HANDELINGE 21:4 AFR53


Paulus en sy geselskap groet die mense by wie hul aanhuis was, kniel op die strand en bid voor hul verterk.


Maar toe ons die dae uitgebly het, het ons vertrek en op reis gegaan, terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid. En nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord gegaan, en hulle het teruggegaan huis toe.   HANDELINGE 21:5-6 AFR53


Van Tirus oornag hul een aand in Ptolemais, en vaar toe na Cesarea waar hulle by Filippus aan huis bly.


Maar ons het die seereis van Tirus af voltooi en by Ptolemáis gekom; en ons het die broeders gegroet en een dag by hulle gebly. En die volgende dag het ons, die geselskap van Paulus, vertrek en in Cesaréa aangekom; en ons het ons intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was, en by hom gebly.   HANDELINGE 21:7-8 AFR53


Filippus het vier dogters wat elkeen die profetiese gawe het, en ‘n profeet Agabus kom van Judea en sluit hom by hulle aan.


En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het. En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het 'n sekere profeet met die naam van Ágabus van Judéa afgekom.   HANDELINGE 21:9-10 AFR53


 

31 Januarie 2024


HANDELINGE 21:11 AFR53

En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer.


Die profetiese uitsprake is nie soseer waarskuwings om weg te bly uit Jerusalem as wat dit voorbereiding is vir Paulus oor wat met hom gaan gebeur nie.


Agabus het Paulus nie verbied om na Jerusalem te gaan nie, hy het net vir hom gesê wat om te verwag as hy wel soontoe sou gaan.


Almal wat die dag teenwoordig was het bang geword, en vir Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.


En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie.   HANDELINGE 21:12 AFR53


Paulus was glad nie bang nie. Hy troos almal en sê hulle moet nie bekommerd wees nie. Hy vertel vêrder dat hy gereed is vir dit wat kom. Hy is nie bang om gevang te word nie en selfs as hy moet sterf in Jerusalem, sal dit in die Naam van die Here Jesus wees.


Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus.   HANDELINGE 21:13 AFR53


Die groep mense berus hul toe by Paulus se besluit en sê dat die Here se wil moet geskied, waarna almal begin gereed maak om na Jerusalem te gaan.


Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê: Laat die wil van die Here geskied!  En ná hierdie dae het ons vir die reis klaargemaak en na Jerusalem opgegaan.   HANDELINGE 21:14-15 AFR53


Mnason, by wie Paulus hulle sou tuis gaan, was nie so seer ‘n ou man, as een van die dissipels wat van die begin van die Kerk daar was nie. Die Here voorsien vir Paulus hier van verblyf by iemand wat hom vir ‘n wyle kan beskerm.


En sommige van die dissipels van Cesaréa het ook saam met ons gegaan en ons by 'n sekere Mnason van Ciprus gebring, 'n ou dissipel, by wie ons sou tuis gaan.   HANDELINGE 21:16 AFR53


Paulus het gesê dat hy vir Pinkster in Jerusalem wou wees, so daar sou ‘n magdom mense in die stad wees, almal besig met voorbereidings vir die fees. Paulus hulle is met blydskap ontvang en hulle het na Jakobus se huis gegaan waar al die ouderlinge teenwoordig was.


En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig.   HANDELINGE 21:17-18 AFR53


 

1 Februarie 2024


HANDELINGE 21:19 AFR53

En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het.


Paulus gebruik nou die geleentheid om vir die ouderlinge als te vertel wat God onder die heidene gedoen het tydens sy derde sendingsreis.


Almal teenwoordig het die Here verheerlik oor die duisende Jode wat gelowig geword het.


En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet.   HANDELINGE 21:20 AFR53


Valse leeraars het egter gerugte begin versprei dat Paulus al die Jode onder die heidene leer om om nie die Joodse wette en gebruike te beoefen nie, en die Joodse gemeenskap in Jerusalem het die gerugte begin aanvaar as die waarheid.


En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.   HANDELINGE 21:21 AFR53


Die ouderlinge is bekommerd oor Paulus se veiligheid. Wanneer die mense in Jerusalem uitvind dat Paulus daar is, kan daar net probleme ontstaan.


Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het.   HANDELINGE 21:22 AFR53


Die ouderlinge dink polities en kom met ‘n plan vorendag. Daar is vier mans in hul midde wat aan die einde van ‘n gelofte periode is, en wat hulself by die tempel moet reinig en hul hoofde moet skeer. Hierdie proses is nogals duur want gelde moet in die tempel aan die priesters betaal word vir die spesifieke offers wat uitgevoer moet word. Die plan is dat Paulus die vier persone na die tempel vergesel, hul kostes betaal en so vir die skares toon dat hy nie teen die hou van die Joodse wette is nie.


Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat 'n gelofte gedoen het; neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou.   HANDELINGE 21:23-24 AFR53


Die ouderlinge voeg by dat hulle wel glo dat nie-Joodse Christene nie die wette hoef te onderhou nie, maar slegs dit wat voorheen besluit is, nl: wegbly van afgodsoffers en bloed en verwurgte diere en hoerery.


Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery.   HANDELINGE 21:25 AFR53


Paulus stem toe in en neem die vier na die tempel waar hy saam met hulle geheilig is, en bekend maak dat die dae van heiliging sou voortduur totdat ‘n offer vir elkeen gebring is.


Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.   HANDELINGE 21:26 AFR53


 

2 Februarie 2024


HANDELINGE 21:27 AFR53

Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan


Die sewe dae van reiniging is verby en die Jode van Asië (Jode wat nie Christene is nie) sien hom by die tempel, en begin om die volk teen hom aan te hits. Hulle skreeu dat Paulus die volk teen die Joodse wette en gewoontes leer en dat hy selfs Grieke in die tempel ingebring het en sodoende die tempel ontheilig het. Dat dit nie waar was nie, skeel die oproermakers min.


en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig. Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het.   HANDELINGE 21:28-29 AFR53


Die skare het nie veel nodig om oproerig en gevaarlik te raak nie, en hulle gryp Paulus en sleep hom buite die tempel. Gou word die tempel se deure gesluit want sulke gedrag word nie in die tempel toegelaat nie,


Toe kom die hele stad in beweging, en daar was 'n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit.   HANDELINGE 21:30 AFR53


Die mense probeer Paulus doodmaak, maar gelukkig kom die owerhede te hore van die oproerigheid en toe hulle daar aankom hou die skares op om Paulus te slaan.


En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het 'n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was. En hy het meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan.   HANDELINGE 21:31-32 AFR53


Die owerste oor duisend neem Paulus gevange, maak hom met kettings vas en vra hom wat hy gedoen het.


Daarop kom die owerste oor duisend nader en neem hom gevange en gee bevel dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het.   HANDELINGE 21:33 AFR53


Die skare skree almal oor mekaar en die geraas is so erg dat die owerste oor duisend niks kan hoor of verstaan nie. Hy beveel dat Paulus na hul kamp gebring moet word.


En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word.  HANDELINGE 21:34 AFR53


 

3 Februarie 2024


HANDELINGE 21:35 AFR53

En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare.


Die skare gaan so tekere dat Paulus op die trappe deur die soldate opgedra moet word. Dit is die trappe van die kasteel van Antonia waar die wagte gehuisves is.


Die barakke van die Romeinse militêre buitepos in Jerusalem was op die noordwestelike hoek van die tempelberg en het uitgekyk oor 'n groot deel van die binnehof van die tempel. Nuus van die oproer bereik die owerste oor ‘n duisend en hy vergader sy soldate om hom te vergesel.


Hulle kry dit reg om Paulus lank genoeg van sy aanvallers te bevry om hom vas te ketting, maar op die vraag wat aangaan, het die skare net harder geskreeu. Hulle woede swel weer, en die soldate arresteer Paulus, vir geen ander rede as om hom teen die gepeupel te beskerm.


Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu: Weg met hom!   HANDELINGE 21:36 AFR53


Dit lyk nie of Paulus die skare as 'n menigte woedende Jode beskou wat hom wil doodmaak nie. Hy sien 'n groep verlore siele wat Jesus nodig het en terwyl hy hulle daar het, wil hy sy storie met hulle deel.


Eerstens moet hy die owerste oor duisend oortuig om hom te laat praat. Paulus praat duidelik in Grieks want die owerste oor duisend is verbaas dat hy die Griekse taal magtig is.


En net toe hy in die kamp gebring sou word, vra Paulus die owerste oor duisend: Is dit my geoorloof om iets vir u te sê? En hy sê vir hom: Ken jy Grieks?   HANDELINGE 21:37 AFR53


Josephus, ‘n Joodse historikus, het 'n gebeurtenis opgeteken wat drie jaar voor hierdie oproer by die tempel plaasgevind het. ’n Egiptenaar het na Judea gekom en vir mense gesê as hulle by die Olyfberg by hom aansluit, sal hy die mure rondom Jerusalem vernietig, en hulle kan in opstand kom teen die besette Romeinse magte. Felix, die goewerneur, het hiervan uitgevind en perderuiters en voetgangers gestuur wat die oproeriges aangeval het. Hulle het 400 doodgemaak en 200 lewendig geneem, maar die leier het verdwyn. Dit is hierdie Egiptenaar met wie die hoofman oor duisend, Paulus verwar.


Is jy dan nie die Egiptenaar wat 'n tyd gelede oproer gemaak het en die vierduisend rowers na die woestyn uitgelei het nie?   HANDELINGE 21:38 AFR53


Paulus antwoord dat hy nie ‘n oproermaker is nie, maar ‘n Joodse man van Tarsus en ‘n burger van Cilicië. Tarsus was 'n Romeinse kolonie en 'n vry stad. Diegene wat daar gebore is, was Romeinse burgers met al die regte van iemand wat in Rome gebore is. Dit sluit in die reg op 'n verhoor voordat die persoon vasgeketting, geslaan, gemartel of tereggestel word. Dit is iets wat die owerste oor duisend nou moet besef, terwyl Paulus vasgeketting voor hom staan.


En Paulus antwoord: Ek is 'n Joodse man van Tarsus, 'n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.   HANDELINGE 21:39 AFR53


Paulus kry toestemming om te praat. Hy gaan staan op die trappe, wink die volk nader, en begin praat met hulle in Hebreeus.


En toe hy dit toegelaat het, gaan Paulus op die trappe staan en wink met die hand vir die volk. En nadat daar 'n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek en gesê:   HANDELINGE 21:40 AFR53


 

12 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page