top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 16-18

Updated: Jan 20



6 Januarie 2024


HANDELINGE 16:1 AFR53

”En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was 'n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van 'n gelowige Joodse vrou, maar van 'n Griekse vader.“


Timotheus was heel moontlik 'n bekeerling van Paulus se vorige besoek aan Listre. Sy ma Eunice asook sy ouma Lois, het Timotheus van kleins af in die Skrif onderrig.


”en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat — daarvan is ek oortuig — ook in jou is.“   II TIMÓTHEÜS 1:5 AFR53


”en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.“   II TIMÓTHEÜS 3:15 AFR53


Die mense in Listre en Ikonium het net goed gepraat van Timotheus.


”Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium. HANDELINGE 16:2 AFR53


Paulus wou Timotheus saamneem op sy tweede sendingsreis en besny hom toe om die Joodse Christene nie aanstoot te gee nie. Iets wat hy nie sou doen as Timotheus van nie-Joodse afkoms was nie.


Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader 'n Griek was“   HANDELINGE 16:3 AFR53


Paulus het in elke dorp wat hy besoek het die besluite wat die apostels en die ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra en hul beveel om daarvolgens te handel.


Die verordeninge van die apostels is duidelik steeds deur die nie-Joodse bekeerlinge beskou as die handves waarmee hulle hul standpunt in enige dispuut met die Joodse bekeerlinge kon handhaaf.


Die gemeentes het versterk en gegroei in getal.


”En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.“   HANDELINGE 16:4-5 AFR53


 

7 Januarie 2024


HANDELINGE 16:6 AFR53

”En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig.“


Ikonium, Listre en Derbe was in die provinsie van Galasië. Die gedeelte van Asië waar die Heilige Gees Paulus verhinder het om na te gaan is waar die sewe kerke van Openbaring geleë was.


Paulus het probeer om noordwaarts na Bithinië te gaan wat geleë was op die suidkus van die Swart see, maar die Heilige Gees het hulle verhinder om soontoe ook te gaan. Hulle moes weswaarts reis en het in Troas aangekom.


”En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie. So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom.“   HANDELINGE 16:7-8 AFR53


Paulus sien die aand ‘n gesig van ‘n Masedoniër wat hom smeek om hulle te kom help. Die doel van Paulus se tweede sendingreis word hier uitgelig.


Die Christelike geloof moes van die Ooste oorgaan na die Weste. Op vandag se kaart sou hy moes vaar van Turkye (Asië) na Griekeland (Masedonië).


”En Paulus het 'n gesig in die nag gesien — daar staan 'n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!“   HANDELINGE 16:9 AFR53


Paulus het toe sonder versuim die vaart aangepak want hy was seker dat die Here hom en sy geselskap in Masedonië wou he om die evangelie te verkondig.


”En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.“    HANDELINGE 16:10 AFR53


Hulle het vanuit Troas gevaar en die eerste hawe van die weste was Neapolis. Van daar het hulle na Filippi gegaan en ‘n paar dae daar deurgebring.


”Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis, en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, 'n kolonie. En ons het in hierdie stad 'n paar dae deurgebring“  HANDELINGE 16:11-12 AFR53


Die apostel Lukas reis nou saam met Paulus en is deel van die ‘ons’ waarvan ons hierbo lees. Lukas is die skrywer hier en hy skryf as ooggetuie.


 

8 Januarie 2024


HANDELINGE 16:13 AFR53

”En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs 'n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.“


Paulus het gewoonlik in die besoekende stad se sinagoge gaan praat. In hierdie stad was daar egter nie ‘n sinagoge nie, maar die stad se gebruiklike bidplek was langs ‘n rivier.


Om ‘n sinagoge te bou het tien volwasse manlike Jode vereis, anders het hulle gewoonlik naby 'n watermassa ontmoet vir gebed, gemeenskap, aanbidding, rituele reinigings, ens. Die vroue waarvan ons hier lees was moontlik van Joodse afkoms en getroud met Griekse mans.


Die Europese kerkgeskiedenis begin met die eenvoudige verhaal van ‘n vroue gebedsgroep wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo.


Lidia was een van die vroue in die gebedsgroep. ‘n Purperverkoopster of anders gestel, sy het pers kleursel verkoop en was van die stad Thiatire. Thiatire is een van die sewe stede in Openbaring en ook een van die stede wat Paulus moes vermy op sy roete na Troas.


”En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.“   HANDELINGE 16:14 AFR53


Lidia nooi Paulus en sy geselskap onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa. Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.


”En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing“     HANDELINGE 16:15 AFR53


Paulus mors nie tyd nie – wanneer jy met hou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word.  Geen kategese nie, net geloof in Christus.


En soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand nie uit nie.  Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van Satan dit dwarsboom nie!


Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand.  Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees.  Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is. 


”En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom 'n slavin met 'n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.   HANDELINGE 16:16 AFR53


 

9 Januarie 2024


HANDELINGE 16:17 AFR53

”Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing“


Paulus was goed geïrriteerd met die vrou wat hom dag na dag gevolg en gekoggel het. Toe een dag draai hy om beveel die gees in haar om in die Naam van Jesus uit haar uit te gaan.


Let op dat die gees van Satan wel die waarheid gepraat het. Satan sal altyd ‘n waarheid gebruik en dan effe verdraai om sy doel te bereik. Daarom dat dit belangrik is om te weet wat die Bybel sê en waarom ons Bybelstudie doen.


”En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.“   HANDELINGE 16:18 AFR53


Die vrou se eienaars is glad nie gelukkig met die feit dat sy nie meer haar werk as waarseêr kan doen nie want hulle het nou ‘n goeie inkomste bron verloor.


Paulus en Silas word op die markplein voor die owerhede gebring en hulle word aangekla dat hulle sedes verkondig wat Romeine nie hoef aan te neem of te volg nie.


Ons sal later in hoofsuk 18 sien dat die Romeinse gowerneur Claudius die Jode uit Rome verban het weens die feit dat hulle die stad versteur het. Die eienaars wil op dié feit staatmaak om Paulus en Silas te vervolg.


”En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.“   HANDELINGE 16:19-21 AFR53


Die skare en die regters veroordeel Paulus en Silas en nadat hulle klere van hul lywe afgeskeur is, is hulle met stokke geslaan. Daarna is hulle in die tronk gegooi en hul voete in blokke vasgemaak om te verseker dat hulle nie kon ontsnap nie.


”En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan. En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak. Hy het toe, omdat hy so 'n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.“   HANDELINGE 16:22-24 AFR53


 

10 Januarie 2024


HANDELINGE 16:25 AFR53

”En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.“


Paulus en Silas is in die donker gevangenes, hul voete vasgemaak en hul rue nog rou en bloederig van die houe wat hul moes verduur. Hulle is in die geselskap van misdadigers en die uitgeworpenes van die samelewing. Dit is middernag en jy hoor nie ‘n gekreun, gevloek of klagtes nie, maar in teenstelling met wat mens sou verwag hoor almal in die tronk hoe lofliedere gesing word tet eer van God.


Die gevangenis luister asof hulle in ‘n konsertsaal sit. Hulle hoor vreugdevolle lofliedere wat deur die tronk weergalm, ‘n hemelse geluid in ‘n plek van skaamte en hartseer. Duidelik is God saam met Paulus en Silas. Skielik is daar ‘n groot aardbewing en die gevangenis se fondamente skud so dat die deure oopgaan en die boeie van almal losraak.


”En skielik kom daar 'n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.“ HANDELINGE 16:26 AFR53


Die tronkbewaarder word wakker, sien dat die tronk oop is en wil homself om die lewe bring want hy neem aan dat die gevangenes almal gevlug het. Hierdie optrede is kenmerkend van Romeinse soldate wat eerder sal sterf as om so ‘n mislukking van sy pligte in die gesig te staar.


”En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy 'n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.“ HANDELINGE 16:27 AFR53


Paulus verstaan die denkwyse van die wag en skree met ‘n groot stem sodat die wag hom hoor. Hy sê dat almal steeds teenwoordig is en die wag moet homself nie skade aandoen nie.


”Maar Paulus het met 'n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.“ HANDELINGE 16:28 AFR53


Die Romeinse wag het ‘n fakkel geneem en na Paulus en Silas gegaan en voor hul neergeval. Die wag bring Paulus en Silas na buite en vra die belangrike vraag: Menere, wat moet ek doen om gered te word?


”En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer. En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?“ HANDELINGE 16:29-30 AFR53


Glo in die Here Jesus Christus, en jy sal gered word! Dit was 'n eenvoudige en 'n effektiewe antwoord. Hulle het hom nie aangeraai om uit te stel of op die genade van God te wag nie. Hulle het vir hom gesê om dadelik te glo, om sy skuldige gees aan die Verlosser oor te dra, met die versekering dat hy vrede sal vind. Hulle het aangeneem dat hy sou verstaan ​​wat dit was om te glo, en hulle het hom beveel om dit te doen.


”Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.“ HANDELINGE 16:31-32 AFR53


 

11 Januarie 2024


HANDELINGE 16:33 AFR53

”En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.“


Die tronkbewaarder se geloof werk deur sy liefde wat hy toon wanneer hy Paulus en Silas se wonde was.


Hulle nuttig ‘n maaltyd in die tronkbewaarder se huis en hy en sy hele gesin kom tot bekering en hulle word gedoop.


”Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle 'n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.“   HANDELINGE 16:34 AFR53


Die regters en die geregsdienaars, waarskynlik die einste amptenare wat Paulus en Silas gestraf het, laat weet dat die twee vrygelaat moet word. Ons word nie vertel wat tot hierdie skielike verandering van optrede gelei het nie.


”En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los. En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede!“   HANDELINGE 16:35-36 AFR53


Paulus gaan hulle egter nie so maklik laat wegkom met wat hulle gedoen het nie. Romeinse burgers was geregtig op ‘n verhoor, en hulle moes nooit geslaan of gevange geneem word sonder ‘n behoorlike proses nie. Deur Romeine sonder behoorlike proses gevange te neem, is hulle almal aan tronkstraf of erger blootgestel!


”Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei.“   HANDELINGE 16:37 AFR53


Toe die regters hoor dat Paulus ‘n Romeinse burger was het hulle besef dat hul optrede onwettig was en hulle het bang geword. Hulle het dus toe soos Paulus versoek het, om verskoning gevra en hulle die stad uitgelei.


”En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was. Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek.“   HANDELINGE 16:38-39 AFR53


Paulus en Silas vertoef toe in Lidia se huis waar hulle die broeders gesien en bemoedig het en toe het hulle weggegaan.


”En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.“   HANDELINGE 16:40 AFR53


 

12 Januarie 2024


HANDELINGE 17:1 AFR53

”Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar 'n sinagoge van die Jode was.“


Paulus en sy geselskap reis vêrder tot hulle in Thessalonika aankom waar daar wel ‘n sinagoge is. Daar is dus ‘n Joodse gemeenskap en hy vertoef hier vir drie weke om die gemeente toe te spreek uit die Skrifte.


”En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte“   HANDELINGE 17:2 AFR53


Die Skrifte wat Paulus uitlê is die Ou Testament profesië wat aantoon dat Jesus moes ly en uit die dood opstaan. Hy het hul dus gewys dat die Messias waarvan die Ou Testament praat, inderdaad Jesus Christus is.


”en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.“   HANDELINGE 17:3 AFR53


Uit die Joodse gemeenskap was slegs sommiges oortuig, maar uit die Griekse gemeenskap het ‘n groot menigte asook ‘n groot aantal vroue hul by Paulus en Silas aangesluit.


”En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook 'n groot menigte van die godsdienstige Grieke en 'n groot aantal van die aansienlikste vroue.“   HANDELINGE 17:4 AFR53


Ons het nou al gesien dat waar God se Woord suksesvol verkondig word, daar altyd teenstand sal wees. Die ongelowige Jode is jaloers en afgunstig op Paulus en Silas se sukses en hulle begin om moeilikheid te maak. Hulle huur leeglopers en slegte manne om vir ‘n fooi amok te maak, en die huis van Jason, waar Paulus en Silas vertoef het, aan te val.


”Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur 'n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring.“   HANDELINGE 17:5 AFR53


Die slegte manne kry nie vir Paulus en Silas nie, en neem toe vir Jason en van sy vriende na die stadsowerhede en beskuldig hulle dat hul oproer veroorsaak en die wêreld in opstand bring met dit wat hulle verkondig.


”Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en 'n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom,“   HANDELINGE 17:6 AFR53


Hulle beskuldig Jason daarvan dat hy Paulus en Silas huisves en teen die bevele van die keiser verkondig dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus.


”en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus. En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.“   HANDELINGE 17:7-8 AFR53


 

13 Januarie 2024


HANDELINGE 17:9 AFR53

”Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.“


Die waarborg wat van Jason ontvang was, was heel moontlik versekering dat Paulus en Silas die stad sou verlaat, want die broeders het hul in dieselfde nag na Berea weggestuur.


Berea het ook ‘n sinagoge gehad, en soos hul gewoond was het Paulus en Silas onmiddelik soontoe gegaan.


Berea was 'n klein dorpie weg van die hoofpad aan die voetheuwels van die Olimpiese berge, 95 km suidwes van Thessalonika.


”Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.“   HANDELINGE 17:10 AFR53


Die mense van Berea het daagliks die Skrifte ondersoek om te verseker dat Paulus hulle korrek leer. Dit was vir hulle baie belangrik om te bevestig dat die Woord wat hul gehoor het in lyn was met die Skrif.


”En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was“   HANDELINGE 17:11 AFR53


‘n Goeie les vir elkeen van ons. Moet nie enige persoon en wat hulle jou leer net navolg nie. Ondersoek die Skrif en maak seker dat wat jy geleer word korrek is volgens die Bybel. Dit sluit in alles wat julle hier leer.


”Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.“   JOHANNES 5:39 AFR53


Soos met al die ander stede waar Paulus gepreek het, het hier ook baie gelowig geword.


”Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke 'n groot aantal, vroue en manne.“   HANDELINGE 17:12 AFR53


Ons het nou al gesien dat waar goeie dinge gebeur, Satan ook teenwoordig is om die verrigtinge om te krap. Die Jode van Thessaloníka verneem dat Paulus weer besig is met dit wat nie vir hulle aanvaarbaar is nie, en hulle begin weer om die skares op te sweep.


Die broeders het Paulus uit Berea vergesel na die see se kant toe, maar Silas en Timotheus het in Berea gebly om die kerk daar te vestig.


”Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep. Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.“   HANDELINGE 17:13-14 AFR53


 

14 Januarie 2024


HANDELINGE 17:15 AFR53

”En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.“


Die broeders het Paulus tot by Athene gebring en met hul terugkeer moes hulle vir Silas en Timotheus opdrag gee om so gou moontlik weer by Paulus aan te sluit.


Geskiedenis leer ons dat Athene in Nero se tyd meer as drieduisend openbare standbeelde tentoongestel het, om nie te praat van die ontelbare kleiner beelde binne die mure van privaat huise nie. Die groot meerderheid van die standbeelde was van gode, halfgode en helde. Elke poort en stoep het ‘n beskermende god gehad en elke straat en plein het sy eie heiligdomme. 'n Romeinse digter het opgemerk dat dit makliker is om in Athene gode te vind as mense.


Ons kan dus verstaan hoekom Paulus se gees in opstand gekom het teen al die afgodsbeelde wat in die stad was.


”En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.“   HANDELINGE 17:16 AFR53


Paulus het toe in die sinagoge, en op enige ander geleentheid moontlik met die mense begin praat oor Jesus Christus. Menige wysgere het met hom kom stry en redeneer en gewonder wat die ‘nuwe’ geloof was wat hy verkondig het.


”Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy 'n verkondiger is van vreemde gode — omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het“   HANDELINGE 17:17-18 AFR53


Athene was in vyf wyke verdeel waarvan Areopagus een was. Hier is oor alle godsdienstige sake geredeneer, en Paulus is hier oor sy geloof geraadplaag.


”En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.“   HANDELINGE 17:19-20 AFR53


Die hele atmosfeer in Athene was baie soos 'n universiteitsatmosfeer, en die publieke tydverdryf was om idees uit te ruil en nuwe gedagtes in te voer.


”Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.“   HANDELINGE 17:21 AFR53


 

15 Januarie 2024


HANDELINGE 17:22 AFR53

”Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.“


Die mense neem Paulus na die Areopagus waar hulle hom kans gee om beter te verduidelik wat hy bedoel met die nuwe leringe, want dit het vir hulle erg vreemd voorgekom. Die Areopagus is vernoem na Ares, die god van oorlog, ook Mars genoem. Daarom dat die plek in Engels ook genoem word Mars-hoogte.


Paulus praat met die Atheners en vind ‘n raakpunt met hul godsdienstigheid (hy kon ook bedoel het, bygelowigheid) en lig spesifiek die mense uit wat 'n altaar gebou het vir die onbekende God.

Die onbekende God, sê Paulus, verkondig ek aan julle.


”Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan 'n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.“   HANDELINGE 17:23 AFR53


Paulus staan omring deur Athene se gode en hul standbeelde en tog word hy nie deur dit of die heidene wat hy toespreek geintimideer nie. Hy begin deur van God te getuig met die eerste artikel van ons Geloofsbelydenis: Ek glo in God, die Vader, die Skepper van die hemel en die aarde!


”Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.“   HANDELINGE 17:24 AFR53


Die God wat die hemel en die aarde geskape het, het nie nodig om deur mensehande gevoed te word nie, want Hy het die mens geskape en aan elkeen lewe en asem gegee.


Paulus verwys na die heidense gewoonte om vir hul gode offers van kos te gee.


”Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.“   HANDELINGE 17:25 AFR53


God het al die nasies van die wêreld geskep uit een voorouer, of een bloed. Hy het die mense oor die aarde versprei en elke nasie se woonplek met grense vasgestel.


”En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het“   HANDELINGE 17:26 AFR53


Paulus leer vir ons dat elke mens bewus is van God deur die oorvloedige getuienis van Sy skepping wat ons elke dag aanskou. Tog is die heidene blind vir dit wat God gedoen het, soveel so dat hulle soos blindes hul weg onseker moet voel na God.


”sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;“   HANDELINGE 17:27 AFR53


Die heidene het ‘n behoefte aan ‘n openbaring, en die waarheid kan slegs in God gevind word.


”Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.“   EFÉSIËRS 5:8 AFR53


 

16 Januarie 2024


HANDELINGE 17:28 AFR53

”want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.“


Paulus is slim en gee ‘n aanhaling van een van die Griekse digters: ‘Ons stam ook van Hom af!’


Sonde skei ons van God, maar Hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie, want in Hom lewe en beweeg ons en bestaan ​​ons.


Paulus wou hê die Atheners moet weet dat God nie 'n lewelose afgod is wat deur mensehande van hout, goud, silwer of klip gevorm is nie. Hy is 'n lewende God, en in Hom leef ons.


”As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.“   HANDELINGE 17:29 AFR53


Om 'n afgod te aanbid asof dit die Skepper is, is 'n sonde van onkunde. Noudat hulle verstaan ​​dat dit verkeerd is, moet die mense berou hê of oordeel in die gesig staar.


”God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,“   HANDELINGE 17:30 AFR53


Die idee dat God tye van onkunde oor die hoof gesien het, word in Romeine herhaal.


”Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God —“   ROMEINE 3:25 AFR53


Maar, die tyd van onkunde is nou verby want Paulus se gehoor het die waarheid gehoor. God het ‘n dag in die toekoms bepaal waar die wêreld in geregtigheid geoordeel sal word deur ‘n Man wat deur God self aangestel is. God het vir die wêreld sekerheid hiervan gegee deur die Man uit die dode op te wek.


”omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die  dode op te wek.“.  HANDELINGE 17:31 AFR53


Toe die gehoor hoor dat Paulus praat van die opstanding uit die dood, het sommiges hom begin spot, maar ander het gesê dat hulle meer wil hoor.


”Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.“   HANDELINGE 17:32 AFR53


Paulus het weggegaan maar sommiges het wel by hom aangesluit en gelowig geword.


”En so het Paulus van hulle weggegaan. Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en 'n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.“   HANDELINGE 17:33-34 AFR53


 

17 Januarie 2024


HANDELINGE 18:1 AFR53

”En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom.“


In Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs het hy geskryf dat hy daar aangekom het bewus van sy swakheid, en met vrees en bewing.


Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi, in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode, in Berea het dieselfde Jode hom agtervolg en ook daar uitgedryf, en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou reaksie uitgelok.


”Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;“   I KORINTHIËRS 2:3 AFR53


Paulus het by Aquila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself, gaan bly. Hulle is kort tevore uit Rome verdryf met die groot vervolging wat daar teen die Jode deur keiser Claudius begin is. 


”En hy het 'n Jood gevind met die naam van Áquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan;“   HANDELINGE 18:2 AFR53


Hy het saam met hulle tente gemaak, totdat Timoteus en Lukas daar aangekom het met ‘n groot gawe van Filippi, waarna hy al sy tyd aan die prediking kon spandeer.


Alhoewel Paulus geregtig was op ondersteuning van die kerke wat hy geplant het, en van die mense vir wie hy gepreek het, het hy tog ook aan sy ambag gewerk. 'n Eerlike ambag, waardeur 'n man sy brood kan verdien, is nie te versmaai nie. Dit was die gewoonte van die Jode om hulle kinders vir een of ander ambag groot te maak, alhoewel hulle hul geleerdheid of landgoedere gegee het.


”en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag.“   HANDELINGE 18:3 AFR53


Paulus het elke sabbat in die sinagoge gespreek en geredeneer en Jode sowel as Grieke oortuig.


”En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig“   HANDELINGE 18:4 AFR53


Uiteindelik arriveer Silas en Thimotheus en hulle kry vir Paulus waar hy ywerig besig is om Jesus Christus aan die Jode te verkondig.


”En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is.“   HANDELINGE 18:5 AFR53


 

18 Januarie 2024


HANDELINGE 18:6 AFR53

”Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.“


Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge, het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit. 


En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Crispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.


”En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat 'n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het. En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.“   HANDELINGE 18:7-8 AFR53


Die Here verskyn in ‘n gesig aan Paulus en sê vir hom dat hy nie bang moet wees om die Woord te verkondig nie, want Hy is met hom en niemand sal hom enige kwaad aandoen nie,


”En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.“   HANDELINGE 18:9-10 AFR53


Paulus het geluister en ‘n jaar en ‘n half daar gebly en die Woord van God aan hulle verkondig.


”En hy het daar gebly 'n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer“   HANDELINGE 18:11 AFR53


Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof uitgejaag. 


”En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer. En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode; maar as dit 'n geskil is oor 'n woord en oor name en oor 'n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie. En hy het hulle van die regterstoel weggedryf“   HANDELINGE 18:12-16 AFR53


Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hul doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword in sy tuisstad.


”En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie“   HANDELINGE 18:17 AFR53


 

19 Januarie 2024


HANDELINGE 18:18 AFR53

”En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Áquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het 'n gelofte gedoen.“


Vanaf Korinthe het Paulus die tog terug na Antiogië in Sirië begin aanpak. Sy eerste stop was blykbaar Kenchreë waar hy ‘n gelofte gedoen het en sy hoof geskeer het. Dit is nie duidelik watter soort gelofte Paulus afgelê het en ook nie hoekom hy dit afgelê het nie. Dit was dalk 'n dankoffer vir die uitkoms in Korinthe. Paulus het as Jood volgehou met die nakoming van die seremoniële wette, maar het geweier om dit op die nie-Jode af te dwing.


Die tyd van sy reis was waarskynlik, soos in die tweede reis van Korinthe na Jerusalem, na die Pasga en voor Pinkster, want dit was die gunstigste tyd van die jaar om te reis.


Silas, Timotheus, asook Aquilla en Priscilla vergesel Paulus op sy terugtog. Van Silas as Paulus se metgesel lees ons nie meer nie en hy vergesel hom blykbaar tot by Jerusalem.


Van Kenshreë het Paulus per boot gevaar na Efese en daar in die sinagoge soos sy gewoonte was met die Jode gespreek.


”En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.“   HANDELINGE 18:19 AFR53


Paulus het egter nie lank in Efese vertoef nie, want hy wou terug wees in Jerusalem vir die komende fees wat moontlik Pinkster was.


”En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar.“   HANDELINGE 18:20-21 AFR53


Paulus het in Cesarea aangekom en van daar na Jerusalem gereis. Die apostel Lukas wat hierdie boek skryf gee nie baie inligting in die vers nie. Hy vertel net dat Paulus gereis het na Antiochië.


”En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë.“   HANDELINGE 18:22 AFR53


Paulus vertoef ‘n wyle in Antiochië waarna hy na Galasië en Frigië reis om die dissipels te versterk. Hierdie is die begin van Paulus se derde sendingsreis.


”En nadat hy 'n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.“   HANDELINGE 18:23 AFR53


 

20 Januarie 2024


HANDELINGE 18:24 AFR53

”En 'n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, 'n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.“


Apollos, vermoedelik ook Apelles wat in die boek Romeine genoem word, het in Efese aangekom.


”Groet Apélles, die beproefde in Christus. Groet hulle wat van die huis van Aristobúlus is“   ROMEINE 16:10 AFR53


Hy was gebore in Alexandria, Egipte en was ’n welsprekende en geleerde man. Apollos het die Skrifte goed bemeester alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.


”Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.“   HANDELINGE 18:25 AFR53


Dit was so bestem dat Priscilla en Aquila in Efese agtergelaat is (regte mense, regte plek, op die regte tyd). Hoe indrukwekkend dat Apollos nie ‘n probleem gehad het om by Priscilla en Aquila te leer nie.


”En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Áquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.“   HANDELINGE 18:26 AFR53


Apollos het 'n magtige evangelis geword, en hy het toe verder gegaan na Achaje, die hoofstad van Korinthe.


”En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut;“   HANDELINGE 18:27 AFR53


Dit is interessant dat die sukses van Apollos in Korinte blykbaar hoofsaaklik onder die Jode was, wat hulself so heftig teen Paulus teëgestaan ​​het. Soms moet ‘n mens dieselfde woorde van ‘n ander persoon hoor.


”want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.“   HANDELINGE 18:28 AFR53


 

84 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page