top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 13-15

Updated: Jan 6


20 November 2023


HANDELINGE 13:1 AFR53

“En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus.”


‘n Groep profete en leraars van die gemeente in Antiogië was besig om die Here te dien en te vas, toe die Heilige Gees vir hulle sê om Barnabas en Saulus vir Hom af te sonder.


“En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.”   HANDELINGE 13:2 AFR53


Die groep het gevas en gebid en Barnabas en Saulus die hande opgelê en hulle toe laat gaan. Die twee reis na Seleucië, Antiogië se hawe en van daar per skip na Ciprus, en so begin Paulus se eerste sendingsreis.


“En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.”   HANDELINGE 13:3-4 AFR53


Ciprus het twee hoofstede gehad. Salamis was die Griekse hoofstad in die ooste, en Pafos die Romeinse hoofstad in die weste.


Johannes Markus het Saulus en Barnabas gehelp om die Woord van God in die sinagoges te verkondig.


“En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad.”   HANDELINGE 13:5 AFR53


Hulle reis vêrder na Pafos en vind daar ‘n Jood genaamd Bar-Jesus wat ‘n towenaar en ‘n vals profeet is. Bar-Jesus beteken seun van Jesus in Grieks. Die persoon het twee name, Bar-Jesus en Elimas, want hy probeer sy Joodse nasionaliteit wegsteek.


“En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en 'n towenaar gevind, 'n valse profeet, 'n Jood met die naam van Bar-Jesus.”   HANDELINGE 13:6 AFR53


Sergius Paulus was die eerste nie-Joodse bekeerling op hul eerste sendingreis en dit word bevestig deur argeologie. ‘n Inskripsie met beide die titel en die naam van die goewerneur is gevind op 'n muntstuk van 52 n.C. in Ciprus. Sir William Ramsey het ook bewyse ontbloot dat sy hele gesin na hierdie gebeurtenis prominente Christene geword het.


Die goewerneur het Barnabas en Saulus laat roep en het versoek om die Woord van God te hoor.


“Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, 'n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor.”   HANDELINGE 13:7 AFR53


Die towenaar Elimas het Saulus en Barnabas doelbewus teëgestaan om die Woord van God aan die mees senior Romeinse amptenaar in die omgewing te openbaar.


“Maar Élimas die towenaar — want so word sy naam vertaal — het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.”   HANDELINGE 13:8 AFR53


 

21 November 2023


HANDELINGE 13:9 AFR53

“Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:”


Saulus word van hier af Paulus genoem. Die verduideliking van meeste geleerdes is dat Saulus die naam van Paulus aangeneem het by geleentheid van hierdie merkwaardige en belangrike bekering van Sergius Paulus.


Vervul met die Heilige Gees kyk Paulus die towenaar stip aan en sê dat hy as ‘n kind van die duiwel, vol bedrog en listigheid, moet ophou om die regte weë van die Here te verdraai.


Die Gees van God het nooit 'n term soos dié vir gewone ongeredde mense gebruik nie. Die ernstigste woorde is gereserveer vir: 1. die wat tussen die mens en die waarheid staan, en 2. die wat tussen die mens en God staan.


“Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?”   HANDELINGE 13:10 AFR53


Paulus se eerste wonderwerk -  die towenaar word blind vir ‘n tydperk. Blindheid is 'n natuurlike simbool van die mens se geestelike toestand. Hierdie wonderwerk is Paulus se eerste daad as ‘n apostel en hy wys dat hy meer net as 'n onderwyser is.


“En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son 'n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei.”   HANDELINGE 13:11 AFR53


Die goewerneur wat graag van Jesus wou hoor, sien met sy eie oë wat gebeur en glo.


“Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.”   HANDELINGE 13:12 AFR53


Paulus is van hier af die leier in hul groep. Hulle verlaat Pafos en vaar noord na Perge die hoofstad van Pamfilië. Daar aangekom verlaat Johannes hulle en keer terug na Jerusalem.


“En Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.”   HANDELINGE 13:13 AFR53


Hulle reis vêrder van Perge tot by Antiogië in Pisidië (nie Antiogië in Sirië nie). Weereens gaan hulle na die sinagoge om dit as basis vir hul bediening te gebruik. Die vorige dorp, Perge, het nie ‘n sinagoge gehad nie.


“Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.”   HANDELINGE 13:14 AFR53


Paulis word uitgenooi deur die hoofde van die sinagoge om ‘n woord tot die volk te spreek, en hy aanvaar dit heelhartig.


“En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle 'n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!”   HANDELINGE 13:15 AFR53


 

22 November 2023


HANDELINGE 13:16 AFR53

“Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister!”


Paulus staan op en beweeg sy hand in die lug om almal se aandag te kry. Sy gehoor is Israeliete en die wat God vrees. Die wat God vrees is ook genoem proseliete, van die Griekse woord proselytos. ‘n Nuweling in Israel, of in die Nuwe Testament vir eerste-eeuse bekeerlinge tot Judaïsme, van hul antieke Griekse godsdienste.


Paulus begin sy predeking soos Petrus met die Israeliete se geskiedenis. Geskiedenis is belangrik, want dan kan almal onthou wat God vir hulle gedoen het. Daarom ook dat die Israeliete jaarliks hul sewe feeste hou, om te onthou!


Die God van Israel het ons vaders (Abraham, Isak en Jakob) uitverkies en hulle ‘n groot volk gemaak tydens hul verblyf in Egipte. Hulle het as slawe in Egipte swaar gekry, en God het hulle met ‘n hoë arm uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.


“Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met 'n hoë arm hulle daaruit gelei.”   HANDELINGE 13:17 AFR53


Na Egipte was die volk vir veertig jaar in die woestyn.


“En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra.”   HANDELINGE 13:18 AFR53


God het die volk in die woestyn gedra, soos ‘n man sy seun dra.


“en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos 'n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.”   DEUTERONÓMIUM 1:31 AFR53


Een versie beskryf die hele boek van Joshua. Nadat sewe nasies in die hande van die Israeliete gegee is, is die land tussen die twaalf stamme verdeel.


“En sewe nasies het Hy in die land Kanaän uitgeroei en hulle land deur die lot aan hulle uitgedeel.”   HANDELINGE 13:19 AFR53


Daarna volg vierhonderd en vyftig jaar waar rigters die volk regeer het tot en met die profeet Samuel.


“En daarna omtrent vierhonderd-en-vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet.”   HANDELINGE 13:20 AFR53


Die volk het egter ook ‘n koning begeer soos die heiden nasies om hulle gehad het, en God gee vir hulle Saul as koning. Saul was uit die stam van Benjamin en het veertig jaar regeer.


“En van toe af het hulle 'n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, 'n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank.”   HANDELINGE 13:21 AFR53


Koning Saul en Saulus of Paulus was altwee uit die stam van Benjamin.


“Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër;”   FILIPPENSE 3:5 AFR53


 

23 November 2023


HANDELINGE 13:22 AFR53

“En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, 'n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.”


Koning Saul se opvolger was Dawid, die seun van Isai, wat naby aan God se hart was.


Uit koning Dawid se nageslag het God soos Hy belowe het, Jesus as Verlosser verwek.


“Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,”   HANDELINGE 13:23 AFR53


Johannes die Doper was Jesus se voorloper. Hy het die doop van bekering aan die hele volk Israel verkondig.


“nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het.”   HANDELINGE 13:24 AFR53


Johannes het aan die einde van sy loopbaan bevestig dat hy nie die Messias was nie, maar dat Hy na hom sou kom, en dat hy Johannes nie waardig is om die skoene van Sy voete los te maak nie.


“En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.”   HANDELINGE 13:25 AFR53


Paulus noem weer die twee groepe mense met wie hy praat. Die Joodse volk of die kinders van die geslag van Abraham, en die wat God vrees of nie-Jode wat in God glo. Vir almal van julle is die Woord van verlossing gestuur.


“Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur.”   HANDELINGE 13:26 AFR53


Die inwoners van Jerusalem en hul owerstes het die profete se woorde vervul want hulle het Jesus nie geken nie, maar Hom eerder veroordeel.


“Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word.”   HANDELINGE 13:27 AFR53


Hulle het geen rede gevind om Jesus ter dood te veroordeel nie, nogtans het hulle vir Pilatus gevra om Hom te kruisig.


“En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word.”   HANDELINGE 13:28 AFR53


En toe Jesus aan die kruis gesterf het, het hulle Hom in ‘n graf neergelê.


“En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in 'n graf neergelê.”   HANDELINGE 13:29 AFR53


 

24 November 2023


HANDELINGE 13:30 AFR53

“Maar God het Hom uit die dode opgewek.”


Die klimaks van Jesus verhaal, die gedeelte wat Satan gefnuik het. God het Jesus uit die dode opgewek.


In die dae na Sy opstanding het Jesus verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galilea na Jerusalem. Die mense aan wie Jesus verskyn het is nou Sy getuies by die volk.


“En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk.”   HANDELINGE 13:31 AFR53


Paulus verduidelik later in detail aan wie Jesus verskyn het.


“en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.”   I KORINTHIËRS 15:5-8 AFR53


Hy verklaar vêrder dat Jesus wat uit die dood opgewek is, die vervulling is van beloftes wat aan hul vaders gemaak is.


“En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.”   HANDELINGE 13:32-33 AFR53


Psalm 2 is ‘n triomflied om die oorwinning van 'n koning van Israel oor sy vyande te vier. Die Psalm toon dat die koning wat oorwin het, die Seun van God is. Paulus verwys hier na Jesus se oorwinning oor die dood, en die eerste wat uit die dood opgestaan het.


Koning Dawid het regeer, is dood en is begrawe, hy het nooit uit die dood opgestaan nie. Jesus aan die anderkant is gekruisig, dood en begrawe, en het opgestaan uit die dood. Jesus het nie verderwing gesien nie.


“En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. Daarom sê Hy ook op 'n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie.”   HANDELINGE 13:34-35 AFR53


Die hoogtepunt van Paulus se predeking:  deur Jesus word vergifnis van sondes verkondig.


“Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,”   HANDELINGE 13:38 AFR53


Die wet van Moses met sy hoë standaarde het volkome gehoorsaamheid vereis. Die doel van die wet was om vir elkeen sy sondes uit te wys, nie dit te vergewe nie. Paulus gee nou die oplossing. Elkeen wat in Jesus glo word vrygespreek van sy sondes.


“en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.”   HANDELINGE 13:39 AFR53


 

25 November 2023


HANDELINGE 13:40 AFR53

“Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie:”


Paulus verwys na die profeet Habakuk. Hy het geprofeteer oor hoe die Chaldeërs die nasie Israel sou vernietig. Die oorspronklike dreigement is vervul.


“Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.”   HÁBAKUK 1:5 AFR53


Die beginsel van die gedeelte is dat as hulle die dade van God minag, hulle sou vergaan. Die werk wat God deur middel van die Chaldeërs sou doen, was so vreesaanjaend, so ongewoon en so merkwaardig, dat hulle dit nie betyds sou glo om die rampspoed te vermy nie.


Net so was die wyse waarop God die Messias gegee het, so min in ooreenstemming met hulle verwagting, dat alhoewel hulle dit kon sien, hulle nie wou glo nie.


“Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie.”   HANDELINGE 13:41 AFR53


Die Jode verlaat die sinagoge en die heidene versoek dat Paulus en Barnabas die volgende sabbat weer vir hulle moet leer.


“En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word.”   HANDELINGE 13:42 AFR53


‘n Tweede groep, die Jode en die nie-Jode wat wel in God geglo het, het Paulus en Barnabas gevolg en verdere prediking van hulle ontvang.


“En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.”  HANDELINGE 13:43 AFR53


Die mense van die stad is so geraak deur Paulus en Barnabas se prediking, dat amper almal die volgende sabbat opdaag om te hoor wat hulle sê.


“En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.”   HANDELINGE 13:44 AFR53


Die Jode het nie van die baie aandag wat Paulus en Barnabas ontvang het, gehou nie en lasterlik teen hulle gespreek.


“Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.”   HANDELINGE 13:45 AFR53


Paulus en Barnabas is egter nie gehinder nie, en hulle praat prontuit. Dit was noodsaaklik dat die Woord eers aan die Jode verkondig moes word, maar omdat hulle die Woord verwerp het, het Paulus en Barnabas hulle tot die heidene gewend.


“Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie — kyk, ons wend ons tot die heidene.”   HANDELINGE 13:46 AFR53


 

26 November 2023


HANDELINGE 13:47 AFR53

“Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U 'n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.”


Paulus haal hier die profeet Jesaja aan.


Die Dienaar se ‘werk’ was nie net om die stamme van Jakob te herstel en die Israeliete wat gered is na God terug te bring nie. Sy ‘werk’ was ook om ‘n lig vir die nasies of die nie-Jode te wees.


“Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.”   JESAJA 49:6 AFR53


Die heidene wat na Paulus geluister het was verheug. Hulle het die Woord van die Here geprys, en  gelowig geword.


Nie almal in die algemeen het gelowig geword nie, net die wat verordineer of bestem was tot die ewige lewe.


“En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.”   HANDELINGE 13:48 AFR53


Van hier af is die Woord versprei, nie net deur die apostels nie, maar ook deur groepe Christene in die omliggende dorpe.


“En die woord van die Here is deur die hele land versprei.”   HANDELINGE 13:49 AFR53


Die Jode hits die godsdienstige vroue en die vernaamste mans op teen Paulus en Barnabas en dryf hulle uit die stad.


“Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas 'n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.”   HANDELINGE 13:50 AFR53


Paulus en Barnabas het die stof van die stad Antiogië van hul voete afgeskud en aanbeweeg na Ikonium.


“Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan.”   HANDELINGE 13:51 AFR53


Volgens Jesus se vroeë instruksies aan die dissipels, het Paulus en Barnabas die stad se stof van hul voete afgeskud.


“En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.”   MATTHÉÜS 10:14 AFR53


Niks kan mooier wees as hierdie beskrywing nie. Ten spyte van die vervolging, ten spyte van die gevaar, ten spyte van die verbanning van hul leraars, was die dissipels vervul met vreugde en met die Heilige Gees


“En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.”   HANDELINGE 13:52 AFR53


 

27 November 2023


HANDELINGE 14:1 AFR53

“En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat 'n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.”


Let op hoe in elke geval Grieke gevind word wat die sinagoge bywoon. Dit illustreer die stelling in Romeine 10:17, dat ‘n mens die Woord moet hoor om te kan glo.


“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”   ROMEINE 10:17 AFR53


Paulus en Barnabas gebruik in Ikonium weereens die sinagoge as hul basis om te preek en ‘n menigte het gelowig geword. Natuurlik is daar Jode wat nie hiervan hou nie, en hulle begin onmin veroorsaak. Eintlik is jaloesie die werkwoord hier.


“Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter.”   HANDELINGE 14:2 AFR53


Ten spyte van die teenkanting het Paulus en Barnabas tog ‘n paar maande gebly en met vrymoedigheid gepreek. Hul getuienis het gepaard gegaan met tekens en wonders, en daar moet op gelet word dat die tekens en wonders gebeur het as bevestiging van die geloof en nie die grondslag daarvan nie.


“Hulle het toe 'n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.”   HANDELINGE 14:3 AFR53


Die mense in die stad self was verdeeld tussen die apostels en die Jode.


“En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.”   HANDELINGE 14:4 AFR53


Die onrus het so gegroei dat hulle Paulus en Barnabas wou mishandel en stenig.  Hulle het dus besluit om te vlug na die stede van Likaónië, Listre, Derbe en die omgewing, en die Woord daar begin verkondig.


“Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, 'n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig, het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke. En daar het hulle die evangelie verkondig.”   HANDELINGE 14:5-7 AFR53


In Listre was daar ‘n man wat kreupel was en van geboorte af nooit geloop het nie, en wat na Paulus se preke geluister het. Paulus het hom opgemerk en gesien dat hy geloof het om gesond te kan word.


“En in Listre het daar 'n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie. Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word,”   HANDELINGE 14:8-9 AFR53


Paulus beveel hom toe met ‘n groot stem om op te staan , en die man het opgespring en begin rondloop.


“met 'n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.”   HANDELINGE 14:10 AFR53


 

28 November 2023


HANDELINGE 14:11 AFR53

“En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.”


Paulus en die apostels het Grieks met die mense van hierdie omgewing gepraat, maar hul eerste taal was Likaonies. Toe die skare die wonderwerk sien wat Paulus gedoen het, met die kreupel man wat nou kan staan en loop, het hulle opgewonde teruggeval in hul moedertaal.


Paulus en Barnabas het natuurlik niks verstaan wat hulle sê nie, anders sou hulle die mense vinniger reggehelp het. Die skare dink hulle is gode wat soos mense geword het en nou tussen hulle beweeg.


Die tempel van Jupiter was net buite die poorte van die stad en die kreupel man het waarskynlik binne die stad naby die poorte gesit waar die mense in en uitgegaan het. Paulus en Barnabas sou die mense op die plein of oop ruimte binne die stad toespreek het.


“En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was. En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.”   HANDELINGE 14:12-13 AFR53


Toe hulle 'n beroering by die poorte sien, en hoor dat dit die priester van die tempel was wat met osse en kranse kom om aan hulle te offers te gee, het hulle dadelik vorentoe gehardloop om dit te stop.


Paulus en Barnabas is so geskok oor wat gebeur dat hulle hul klere skeur, voor die skare inspring en verduidelik dat hulle nie gode is nie, maar net gewone mense. Beslis nie iemand om aanbid te word nie.


Hulle verduidelik dat hulle die evangelie verkondig, sodat die mense van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat hemel en aarde en die see en alles daarin gemaak het.


“Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.”   HANDELINGE 14:14-15 AFR53


Die tye van onkunde is deur God toegelaat, en diegene wat daarin geleef het, sou regverdig hanteer word en volgens hulle kennis beoordeel word.

Die lewende God is die Een wat van die hemel reën gee, wat vrugbare tye gee en ons harte met voedsel en vrolikheid vul.


“Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel, al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.”   HANDELINGE 14:16-17 AFR53


Paulus se woorde het die skare met moeite gekeer om aan hulle te offers te bring.


“Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.”   HANDELINGE 14:18 AFR53


 

29 November 2023


HANDELINGE 14:19 AFR53

“Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.”


Net wanneer die offer petalje kalmeer, kom Joodse leiers van Pisidiese Antiogië en Ikonium in Listre aan. Hulle spoor die skare aan om Paulus te stenig, hom buite die stad te sleep en hom vir dood agter te laat. Jesus is egter nie klaar met Paulus nie en hy oorleef die steniging, soveel so dat hy die volgende dag saam met Barnabas na Derbe vertrek.


“Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek.”   HANDELINGE 14:20 AFR53


In Derbe verkondig Paulus en Barnabas die evangelie en maak vir oulaas ‘n aantal dissipels. Dan, in plaas daarvan om kortpad oor die berge van Tarsus te vat en dan die relatief kort reis terug na Siriese Antiogië te maak, keer die twee terug soos hulle gekom het, en bemoedig die nuwe kerke in Listra, Ikonium en Pisidiese Antiogië.


“En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en 'n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë, en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.”   HANDELINGE 14:21-22 AFR53


Ouderlinge is in elke gemeente gekies en na gebed en vas is hulle opgedra aan die Here, in wie hulle geglo het.


“En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.”   HANDELINGE 14:23 AFR53


Paulus en Barnabas reis suid na Perge waar hulle die Woord verkondig het, en reis toe na die hawedorp Attalia aan die suidkus. Van daar af vaar hulle terug na Siriese Antiogië van waar hulle hierdie eerste sendingsreis begin het.


“Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië; en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië. En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het.”   HANDELINGE 14:24-26 AFR53


Paulus en Barnabas roep die gemeente in Antiogië bymekaar en gee verslag van hul reis, die dinge wat God gedoen het en hoe ‘n deur van geloof vir die heidene geopen is.


“En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy 'n deur van geloof vir die heidene geopen het. En hulle het daar by die dissipels 'n geruime tyd deurgebring.”   HANDELINGE 14:27-28 AFR53


 

1 Januarie 2024


HANDELINGE 15:1 AFR53

“En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.”


Die Christelike kerk het in die begin jare hoofsaaklik uit Jode bestaan. Mettertyd het die evangelie na die nie-Jode versprei.


In Handelinge hoofstuk 8 het die evangelie eers na die Samaritane (wat etnies gemengde Jode-heidene was) versprei. Daarna in Handelinge hoofstuk 10 was die apostel Petrus die eerste wat die evangelie spesifiek na die heidene geneem het, en baie van hulle het Christus as Verlosser aangeneem. Paulus en Barnabas het toe in Handelinge hoofstukke 13-14 'n baie vrugbare bediening onder die heidene gehad tydens hul eerste sendingsreis.


Al hierdie heidene wat hulle tot geloof in Christus gewend het, het kommer onder die Joodse gelowiges veroorsaak. Volgens hierdie Jode moes elke heiden eers besny word voordat hulle gered kon word.


Paulus en Barnabas het hulle verset teen hierdie uitgangspunt en heftig met hulle verskil. Die twee is toe saam met nog ‘n paar ander afgevaardig om met die apostels en ouderlinge in Jerusalem te gaan praat oor hierdie vraagstuk.


“Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog 'n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.”   HANDELINGE 15:2 AFR53


As boodskappers van die kerk het hulle op die kerk se kostes gereis. Hul reis na Jerusalem het hulle deur Fenisië en Samaria geneem. Hulle het almal vertel van die heidene wat bekeer is, en dit het die broeders groot blydskap verskaf.


“En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf.”   HANDELINGE 15:3 AFR53


In Jerusalem aangekom is hulle goed ontvang en hulle het begin om verslag te doen oor alles wat God met en deur hulle gedoen het.


“En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het.”   HANDELINGE 15:4 AFR53


Die vreugde en samehorigheid kon natuurlik nie te lank duur nie. Sommige van die Fariseër gelowiges het opgestaan en gesê dat dit noodsaaklik was vir die nuwe Christene om besny te word en die wet van Moses te onderhou.


“Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.”   HANDELINGE 15:5 AFR53


Dit was natuurlik die doel van Paulus en Barnabas se besoek, en hulle het saam met die apostels en die ouderlinge vergader om die saak te ondersoek.


“En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek.”   HANDELINGE 15:6 AFR53


 

2 Januarie 2024


HANDELINGE 15:7 AFR53

”En toe daar 'n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word.“


Die bespreking raak heftig en nadat almal hul sê gesê het staan Petrus op om die groep aan te spreek. Ongeveer dertien jaar het verloop sedert Petrus se besoek aan Cornelius se huis en hul bekering. Dit was die eerste heidene wat bekeer is, en daarom is dit belangrik om die groep terug te neem na die geleentheid.


God, wat die harte van Cornelius en die mense in sy huis geken het, het vir hulle, die onbesnedenes, op dieselfde vlak as die besnedenes gestel, deur aan hulle dieselfde gawe van die Heilige Gees te gee.


”En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.“   HANDELINGE 15:8 AFR53


Petrus kyk na God se getuienis aan die heidene in twee opsigte. Wat aan die nuwe bekeerlinge gegee is, was dieselfde as wat by die eerste uitstorting van die Heilige Gees gegee is.


Geloof het die harte van Cornelius en sy huis gereinig, en die uiterlike onderhouding van die wet van Moses was van geen belang op daardie tydstip nie.


”En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.“   HANDELINGE 15:9 AFR53


Petrus vra dan waarom hulle God se geduld beproef deur 'n ondraaglike juk op die nekke van die wat glo te plaas.


”Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels 'n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?“   HANDELINGE 15:10 AFR53


Petrus sluit sy toespraak af met ‘n laaste opmerking. Hoekom sou heidene wat vir jare al gered is nou hulself moet besny? Let op Petrus se volgorde. Ons, die Jode, kan net soos die heidene ook gered word!


”Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.“   HANDELINGE 15:11 AFR53


Barnabas en Paulus kom weer aan die woord en vertel vir die groep van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.


Barnabas se naam word voor Paulus se naam gestel want hy is meer bekend onder die groep as Paulus.


“En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.”    HANDELINGE 15:12 AFR53


 

3 Januarie 2024


HANDELINGE 15:13 AFR53

”En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my!“


Jakobus is die broer van Jesus en sy posisie in die verrigtinge is duidelik dié van

voorsitter. Niemand praat na hom nie en hy som die hele debat op.


Simeon, of soos ons hom ken, Petrus, vertel dat God uit die heiden nasies ‘n volk geneem het om Sy Naam aan te neem, net soos Hy Israel gekies het om Hom te volg.


”Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om 'n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:“ HANDELINGE 15:14-15 AFR53


Jakobus haal nou aan uit die profeet Amos se skrywe.


”Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.“ HANDELINGE 15:16-17 AFR53


”In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen.“ AMOS 9:11-12 AFR53


Jakobus antwoord die geïmpliseerde dringende vraag: As 'n heiden nie onder die Wet hoef te kom nie, wat is die toekoms van Israel?


Daarna sal Ek terugkom. Na wat sal Jesus terugkom? Paulus verduidelik in Romeine. Na die volheid van die heidene ingegaan het. Met ander woorde, die dag in ons toekoms nog wanneer die laaste heiden Jesus as Verlosser aanvaar.


Dan gebeur twee dinge: 1) Israel se blindheid word opgehef en 2) Jesus se wederkoms.


”Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend“ ROMEINE 11:25-26 AFR53


Jakobus kom tot die gevolgtrekking dat die nie-Joodse bekeerlinge nie belas moet word met die juk wat Israel moet dra nie. Daar is geen rede vir dit nie, want Israel en die Kerk is aparte entiteite.


”Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend. Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.“ HANDELINGE 15:18-20 AFR53


Aan God is al Sy werke van ewigheid af bekend. God weet alles van die begin af, en die profeet Jesaja bevestig Jakobus se woorde.


”Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;“ JESAJA 46:9-10 AFR53


 

4 Januarie 2024

HANDELINGE 15:21 AFR53

”Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.“

Die Jode het van die ou tyd af, elke sabbat na hul sinagoges gegaan en die wet van Moses gehoor. Dit is dus vir hul tweede natuur om die wette te onderhou.


Die apostels en ouderlinge het saam met die gemeente besluit om ‘n brief te skryf as onderrig vir die nuwe bekeerlinge uit die heidene.


”Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was. En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete“ HANDELINGE 15:22-23 AFR53

In die brief skryf die apostels en ouderlinge aan die broeders uit die heidene dat daar van hul eie mense was wat sonder opdrag van die apostels en ouderlinge, die nuwe bekeerlinge verplig het om hul te besny en die wet te onderhou.

”Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou,“ HANDELINGE 15:24 AFR53

Die brief sê vêrder dat sekere persone afgevaardig is om berig aan hulle te bring.

”het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus — manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring.“ HANDELINGE 15:25-27 AFR53

Die apostels en ouderlinge het insig van die Heilige Gees ontvang om geen vêrdere las op die nuwe bekeerlinge te plaas nie, behalwe vir die volgende noodsaaklikhede.

”Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge:“ HANDELINGE 15:28 AFR53


Alle gelowiges moes hulle weerhou van:


1) Betrokkenheid by afgodery, m.a.w hulle moet afgodsoffers vermy, hulle moet nie diere doodmaak deur dit te verwurg nie, en ook nie die bloed eet nie. Diere moet eerder geslag word en uitbloei voor dit geēet word.


2) Onsedelikheid van enige aard.

”dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!“ HANDELINGE 15:29 AFR53


 

5 Januarie 2024


HANDELINGE 15:30 AFR53

”So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer.“


Paulus en sy metgeselle keer terug na Antiochië en lees die brief aan die gemeente voor wat dit met dankbaarheid en as bemoediging aanvaar.


”En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging.“   HANDELINGE 15:31 AFR53


Judas en Silus het ‘n tyd (ongeveer ‘n jaar) daar deurgebring en die gemeentlede bemoedig en versterk, en toe teruggekeer. Silas het egter besluit om in Antiochië te bly.


”En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk. En nadat hulle 'n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan. Maar Silas het besluit om daar te bly.“   HANDELINGE 15:32-34 AFR53


Paulus en Barnabas het ook saam met die ander die Woord in Antiochië verkondig. Paulus wil nie op een plek bly nie en vra vir Barnabas om weereens saam te kom en na die stede te gaan waar hul voorheen die Woord verkondig het.


”En Paulus en Bárnabas het in Antiochíë gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig. En 'n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan“   HANDELINGE 15:35- 36 AFR53


Barnabas wil Markus saamneem, maar Paulus sê nee, wat toe kwade gevoelens veroorsaak, en so skei Paulus en Barnabas se paaie.


”En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem. Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie. Daar het toe 'n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil.“HANDELINGE 15:37-39 AFR53


Paulus kies toe vir Silas om saam met hom te gaan en so begin Paulus se tweede sendingsreis.


”Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was. En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.“   HANDELINGE 15:40-41 AFR53


 

44 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page