top of page
  • Regina Torre

Handelinge: Hoofstuk 11-12

Updated: Nov 20, 2023


13 November 2023


HANDELINGE 11:1 AFR53

“En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het.”


Terwyl Petrus in Cesarea vertoef het, het die bostelegraaf Judea bereik. Die apostels en broers in Judea het gehoor dat heidene ook die woord van God aangeneem het.


Hierdie inligting het nie goed afgegaan met die Joodse Christene nie, en hulle het met Petrus getwis omdat hy dit durf waag het om by heidene aan huis te gaan en saam met hulle te eet.


“En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.”   HANDELINGE 11:2-3 AFR53


Toe vertel Petrus vir hulle van sy gesig met die rein en onrein diere, sy reis na Cesarea en hoe hy met Cornelius en sy huishouding gepraat het.


“En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê: Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in 'n verrukking van sinne het ek 'n gesig gesien: 'n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos 'n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom. En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel. En ek hoor 'n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet! Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie. En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel. En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was. En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan. En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word; hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word. En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.”   HANDELINGE 11:4-15 AFR53


Petrus vertel dat die Heilige Gees op die mense geval het soos ook met almal van hulle in die begin gebeur het, en hy het toe Jesus se woorde onthou: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.


“En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin. En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.”   HANDELINGE 11:15-16 AFR53


Petrus sê toe dat dit nie sy plek is om in God se pad te staan as Hy die Heilige Gees, aan ander volke wat in Hom glo, wil gee nie. En met dit het almal geswyg en God verheerlik. So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.


“As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”   HANDELINGE 11:17-18 AFR53


 

14 November 2023


HANDELINGE 11:19 AFR53

“Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen.”


Na Stefanus se steniging het die Jesus volgelinge Jerusalem verlaat en is verstrooi na stede wat veiliger was om in te woon, en een van die stede was Antiogië. Die woord van God is ook in al die stede verkondig, maar slegs aan die Joodse inwoners.


Naas Rome en Alexandrië, was Antiogië die derde grootste stad in die eerste-eeuse Romeinse wêreld, met 'n bevolking van 100 000 tot 300 000 mense. Die stad was die tuiste van 'n ryk en florerende Joodse gemeenskap.


Die eerste vermelding van Antiogië in die Nuwe Testament was toe Nikolaüs saam met Stefanus en vyf ander gekies is as die eerste diakens. Nikolaüs was afkomstig van Antiogië.


“En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, 'n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, 'n Jodegenoot uit Antiochíë,”   HANDELINGE 6:5 AFR53


Die stad was geleë op die hoofhandel roete tussen Egipte, Klein-Asië, Griekeland, Italië en Mesopotamië.  Die kerk in Antiogië was strategies vir die verspreiding van die evangelie na die stede rondom die Middellandse See en vêrder.


Die Grieke hier was waarskynlik onbesnede Grieke wat God gevrees het, soos Cornelius, en die sinagoge-aanbidding bygewoon het. Dit is baie waarskynlik dat in Antiogië, waar die Jode so 'n prominente posisie beklee het, sommige van die Griekse inwoners deur hul leerstellings en aanbidding aangetrek sou word, en miskien afgestoot deur die heersende bygelowe en losbandige slinksheid van die groot stad.


“En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het.”   HANDELINGE 11:20 AFR53


Die hand van die Here was met almal wat Sy Woord verkondig het, met gevolg dat ‘n groot getal gelowig geword en bekeer het.


“En die hand van die Here was met hulle, en 'n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.”   HANDELINGE 11:21 AFR53


Die nuus van die toetreding van heidene tot die kerk in Antiogië het vinnig na Jerusalem versprei, net so vinnig soos Cornelius se bekering by die kerk se oudstes uitgekom het. Die keer is hulle nie geskok nie maar is reg om Barnabas, ‘n vriend van Saulus, as hulp vir hulle te stuur.


“En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë.”   HANDELINGE 11:22 AFR53


 

15 November 2023


HANDELINGE 11:23 AFR53

“Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly;”


Barnabas arriveer in Antiogië en is verheug toe hy die genade van God in die gemeente waarneem. Hy vermaan almal om met hartlike voorneme te volhard in die geloof en aan die Here getrou te bly.


Barnabas word die leeraar van die gemeente en hy het hulp nodig. Hy ken gelukkig die regte persoon, en vertrek na Tarsus om Saulus te kry om hom te kom help.


“want hy was 'n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en 'n aansienlike skare is aan die Here toegebring. Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring.”   HANDELINGE 11:24-25 AFR53


Paulus en Barnabas werk vir ‘n hele jaar saam, en die gemeente wat hulle onderrig groei aansienlik. Hier in Antiogië word die Jesus volgelinge vir die eerste keer Christene genoem. Tot dusver is hulle onder mekaar dissipels genoem, broers en heiliges, en deur die Jode, manne van die Weg, of Nasareners. Maar, nou noem die buitewêreld hulle Christene, want hulle is volgelinge van Christus, en die naam is deur almal aanvaar.


“En hulle het 'n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan 'n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.”   HANDELINGE 11:26 AFR53


Profete van Jerusalem het die Christene in Antiogië besoek, en een met die naam Agabus het deur die Heilige Gees vir die gemeente te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Die hele wêreld van daardie tyd was die Romeinse Ryk.


“En in dié dae het daar profete van Jerusalem na Antiochíë afgekom. En een van hulle met die naam van Ágabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar 'n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.”   HANDELINGE 11:27-28 AFR53


Daar was 'n algemene hongersnood, maar die effek is veral gevoel in Jerusalem waar die kerk vervolg, uitgeroei en seergemaak is. Die Christene in Antiogië het elkeen na sy vermoë bygedra om hul broers in Judea te help.


“En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.”   HANDELINGE 11:29 AFR53


Barnabas en Saulus het dit wat bymekaargemaak is na die ouderlinge in Judea geneem.


“En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur.”   HANDELINGE 11:30 AFR53


 

16 November 2023


HANDELINGE 12:1 AFR53

“En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen.”


Koning Herodes of Herodes Agrippa I is die broerskind van Herodes Antipas wat Johannes die Doper vermoor het.


“Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer. En hy het gestuur en Johannes in die gevangenis onthoof.”   MATTHÉÜS 14:3, 10 AFR53


Hy is ook die kleinseun van Herodes die Grote, die moordenaar van die seuntjies twee jaar en onder na die geboorte van Jesus.


“Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.”   MATTHÉÜS 2:16 AFR53


Hierdie koning Herodes volg in sy familie se voetspore en maak Jakobus, die broer van Johannes met die swaard dood.


“En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring.”   HANDELINGE 12:2 AFR53


Jakobus en sy broer Johannes was deel van die twaalf apostels en hulle bynaam was Boanerges wat beteken - seuns van die donder.


“en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder —”.  MARKUS 3:17 AFR53


Jakobus was teenwoordig toe Jesus op die berg verheerlik is.


“En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op 'n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.”   MATTHÉÜS 17:1-2 AFR53


Hy was ook teenwoordig toe Jaïrus se dogter uit die dood opgewek is, en


“En Hy het niemand toegelaat om saam met Hom te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talíta, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas.”   MARKUS 5:37, 41-42 AFR53


Jakobus was saam met Jesus by die Tuin van Getsemane.


“Toe kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word.”   MARKUS 14:32-33 AFR53


 

17 November 2023


HANDELINGE 12:3 AFR53

“En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode.”


Herodus wou polities in die goeie boeke van die Joodse leierskap wees, en toe hy sien dat sy vervolging van die Christene by die Jode byval vind, het hy besluit om Petrus ook in hegtenis te neem.


Dit was in die dae van die ongesuurde brode. Ons het nou al by meer as een geleentheid van die feeste van die Here geleer en dus weet ons dat ongesuurde brode die eerste dag van Paasfees is.


Dit is die voorbereidings dag waar die lammers wat elke familie vroeër die week gekies het, die middag drie uur geslag word. Drie uur is ook die uur wat Jesus aan die kruis gesterf het.


Paasfees is een van die drie jaarlikse feeste waar al die volwasse mans in Jerusalem teenwoordig moet wees. Daar was dus genoeg mense om te aanskou hoe Petrus in hegtenis geneem is.

Herodus het genoeg wagte by die tronk geplaas om te verseker dat Petrus nie wegkom nie. Vier groepe van vier wagte elk.


“Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring.”   HANDELINGE 12:4 AFR53


Petrus is in die tronk maar daar is twee magte aan die werk: 1) Herodes hou hom gevange, en  2) die kerk bid aanhoudend vir hom.


Soos die laaste dae van die fees van ongesuurde brode nader kom, het die gebede van die kerk meer en meer intens geword.


“So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het 'n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.”   HANDELINGE 12:5 AFR53


Petrus slaap die nag in die tronk tussen twee soldate, geboei aan hulle met twee kettings. Die ander twee soldate hou wag by die eerste en tweede wagstasies en daar is ‘n ysterhek wat stewig toegesluit is.


“En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.”   HANDELINGE 12:6 AFR53


‘n Engel van die Here staan skielik in die tronk langs Petrus en dit lyk of daar ‘n lig aangeskakel is.  Nie Petrus of die wagte word wakker nie. Die engel slaan Petrus op sy sy om hom wakker te maak en sê hy moet opstaan. Die boeie val van Petrus se hande af.


“En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.”   HANDELINGE 12:7 AFR53


Die engel beveel Petrus om aan te trek en hom te volg, alles terwyl die wagte slaap.


“En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!”   HANDELINGE 12:8 AFR53


 

18 November 2023


HANDELINGE 12:9 AFR53

“En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy 'n gesig sien.”


Petrus weet nie of wat met hom gebeur werklikheid of ‘n gesig is nie, maar hy weet dat hy die engel volg. Hulle loop verby die eerste en toe die tweede wag, en toe hulle by die ysterpoort van die tronk kom gaan die hek vanself oop. Hulle loop uit die tronk en ‘n straat verder verlaat die engel vir Petrus.


“En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.”  HANDELINGE 12:10 AFR53


Petrus kom tot homself en besef dat hy nie gedroom het of ‘n gesig gesien het nie. ‘n Engel het hom werklik uit die tronk gered.


“Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.”   HANDELINGE 12:11 AFR53


Petrus stap na Maria se huis waar baie besig was om vir hom te bid.


“En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.”   HANDELINGE 12:12 AFR53


Hierdie Maria was die moeder van Johannes, ook genoem Markus en die suster van Barnabas. Dit is Markus wat die skrywer was van die evangelie Markus.


“Aristárchus, my medegevangene, groet julle; en Markus, die neef van Bárnabas, oor wie julle bevele ontvang het — as hy by julle kom, ontvang hom —”   KOLOSSENSE 4:10 AFR53


Petrus klop aan die deur en ‘n diensmeisie, Rhode, vra wie dit is, en herken Petrus se stem. Sy maak egter nie oop nie, maar hardloop opgewonde na die mense wat besig is om vir Petrus te bid, en sê hy staan by die voordeur.


“En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was. En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan.”   HANDELINGE 12:13-14 AFR53


Die mense in die huis bid vir ‘n wonderwerk, en wanneer die onderwerp van hul gebed letterlik aan hul deur klop, glo hulle nie dat hul gebed verhoor is nie. Hulle was skoon verbaas toe hulle die deur oopmaak en Petrus staan daar in lewende lywe.


‘n Goeie voorbeeld van sien is glo, in plaas van om onvoorwaardelik te glo.


“Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel. En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas.”   HANDELINGE 12:15-16 AFR53


 

19 November 2023


HANDELINGE 12:17 AFR53

“Maar hy het hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na 'n ander plek vertrek.”


Petrus vertel die verbaasde groep wat vir hom gebid het hoe die Here hom uit die gevangenis gered het en dat hulle dit vir Jakobus en die broeders moet vertel. Hierdie Jakobus is Jesus se broer. Petrus vertrek toe na ‘n ander plek.


“en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.”   GALÁSIËRS 1:19 AFR53


Die wagte wat Petrus opgepas het en hom ‘verloor’ het, is deur Herodus tereggestel.


“En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie. Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.”   HANDELINGE 12:18-19 AFR53


Die Tiriërs en Sidoniërs was onder die beheer van Rome en hulle het vrede kom soek met Herodes sodat hy nie die uitvoer van mielies, olie en wyn na hulle sou stop nie.


“En Herodes was verbitterd teen die Tiriërs en Sidoniërs. En hulle het eenparig na hom gekom, en nadat hulle Blastus, die koning se hofdienaar, omgepraat het, vrede gevra, omdat hulle land onderhoud uit die koning s'n ontvang het.”   HANDELINGE 12:20 AFR53


Op die tweede dag van die spele ter ere van die Keiser, betree Herodus (volgens Josefus, die geskiedkundige) die arena met ‘n silwer kleed. Die son skyn die oggend op die kleed sodat dit vir die toeskouers lyk of hy met heerlikheid bestraal is, waarop hulle uitroep: die stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!


“En op 'n bepaalde dag het Herodes 'n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek. Daarop het die volk hom toegeroep: 'n Stem van 'n god en nie van 'n mens nie!”   HANDELINGE 12:21-22 AFR53


Herodus het daarvan gehou om as ‘n god gesien te word, en het die mense nie bestraf oor hul goddelose denke nie. Hy het onmiddelik ‘n geweldige maagpyn gekry en sterf vyf dae later.


“En onmiddellik het 'n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.”   HANDELINGE 12:23 AFR53


Ten spyte van al die gebeure is die kerk onaangeraak en groei met rasse skrede.


“Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.”   HANDELINGE 12:24 AFR53


Baranabas en Saulus gee vir die kerk in Jerusalem die goedere wat die gemeente van Antiogië bymekaar gemaak het, en keer terug saam met Markus.


“En Bárnabas en Saulus het van Jerusalem teruggekeer, nadat hulle hul diens vervul het, en hulle het Johannes saamgeneem, wat ook Markus genoem word.”   HANDELINGE 12:25 AFR53


 

37 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page