top of page
  • Regina Torre

Die Tempel van God! – Vir ewig en ewig, Amen

Updated: Feb 2, 2023


7 November 2019:

God het in Genesis in die begin van tye die hemel en die aarde geskape – en dit was perfek!

Johannes wat Openbaring geskryf het sien in ‘n visioen aan die einde van tyd ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde want die eerste hemel en die eerste aarde is tot niet.


In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” GÉNESIS 1:1 AFR53


“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed………” GÉNESIS 1:31a AFR53


“En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.” OPENBARING 21:1 AFR53



8 November 2019:

Eva het die een opdrag van God om nie van die boom van goed en kwaad te eet nie verontagsaam en so het sonde in die wêreld ingekom en die mens van God geskei.


Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.” GÉNESIS 3:6 AFR53


“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het —”. ROMEINE 5:12 AFR53



9 November 2019:

Johannes sien die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal. ‘n Stem sê vir hom die tabernakel van God is by sy mense en God sal by hul woon.

Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is.

God met ons!

Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by sy mense te woon.


“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” OPENBARING 21:2-3 AFR53




10 November 2019:

Moses se tabernakel: God self is teenwoordig in die tabernakel deur die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags vir die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn getrek het.


“En op die dag toe hulle die tabernakel opgerig het, het die wolk die tabernakel van die tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die tabernakel soos ‘n gedaante van vuur, tot die môre toe. So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags ‘n gedaante van vuur. En so dikwels as die wolk van die tent af optrek, het die kinders van Israel daarna weggetrek; en op die plek waar die wolk rus, daar het die kinders van Israel laer opgeslaan —” NÚMERI 9:15-17 AFR53




11 November 2019:

Die 1ste tempel (Salomo se tempel): Die heerlikheid van God het die tempel gevul op die dag wat die tempel ingehuldig is.


En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die huis vervul; en die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.” II KRONIEKE 7:1-2 AFR53




12 November 2019:

Die 2de tempel (Herodus se tempel): Die heerlikheid van God was nooit in die tempel teenwoordig nie, maar Jesus self het Sy lewe lank ‘n nou verbintenis met die tempel gehad.


En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,” LUKAS 2:22 AFR53


“En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees, na Jerusalem opgegaan.

En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.” LUKAS 2:42, 46 AFR53


“En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit. En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.” JOHANNES 2:14-15 AFR53



13 November 2019:

Ek is ‘n tempel van God: Jesus het vir Sy dissipels gesê hulle moet wag vir die Helper. Tien dae na Jesus se hemelvaart kom die Helper, die Heilige Gees en vul Jesus se volgelinge. Die heerlikheid van God is dus in elkeen van ons wat Jesus as Verlosser aanvaar!


“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53





14 November 2019:

Die 3de tempel (Groot Verdrukking tempel): Ek weet nie of die heerlikheid van God in die tempel gaan wees nie. Indien die verbondsark gevind word, is dit moontlik dat die heerlikheid van God vir die eerste 3,5 jaar wel teenwoordig sal wees. Wat ons wel weet is dat Satan in die helfte van die sewe jaar Verdrukking homself in die tempel as god gaan verklaar.


Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.” 2 TESSALONISENSE 2:4 AFR83




15 November 2019:

Millenium tempel: Die heerlikheid van God kom deur die poort aan die oostekant van die tempel in en klink soos die geruis van baie waters. Esegiël staan in die voorhof van die tempel en sien hoe die heerlikheid van die Here die tempel vul.



Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid. En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval. En die heerlikheid van die Here het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê. En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die Here het die huis vervul.” ESÉGIËL 43:1-5 AFR53



16 November 2019:

Is daar ‘n tempel NA die millenium? Nee, na die millenium is daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, maar geen tempel nie. Die tempel is nie nodig nie want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.

En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” OPENBARING 21:22-23 AFR53



17 November 2019:

Jesaja het in die Ou Testament die nuwe hemele en die nuwe aarde gesien. Dit sal so goed wees dat die ou aarde nie eens in die mens se gedagtes sal wees nie.



Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” JESAJA 65:17 AFR53



18 November 2019:

Petrus vertel vir ons in die Nuwe Testament dat die huidige aarde en hemele in vuur verteer sal word. Die vuur sal die aarde en hemele nie vernietig nie, maar skoon brand van al die sonde en verderf om dit voor te berei vir die nuwe hemele en aarde.


“Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.

Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”

II PETRUS 3:7, 10 AFR53


“julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. II PETRUS 3:12-13 AFR53



19 November 2019:

Johannes sê in Openbaring dat God alles nuut gaan maak. Hierdie woord nuut beteken nie om iets nuuts van niks te skep nie, maar eerder om die huidige te herstel of te restoreer.


En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” OPENBARING 21:5 AFR53



20 November 2019:

Die nuwe Jerusalem gaan die hoofstad van die nuwe hemele en die nuwe aarde wees. ‘n Engel voer Johannes weg in die gees en wys vir hom die nuwe stad wat uit die hemel van God neerdaal. Interessant om te sien dat ‘n klaargeboude stad uit die hemel neerdaal.

“En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;” OPENBARING 21:9-10 AFR53



21 November 2019:

Die heerlikheid van God was oor die stad en sy lig was soos ‘n kosbare edelsteen. Weereens God met ons soos Hy was met die tabernakel, Salomo se tempel, in elkeen van ons as Christene vandag en die Millenium tempel van die toekoms. Dus is daar geen nut vir ‘n tempel in die ewigheid nie, en Johannes sê ook vir ons dat hy nie ‘n tempel sien nie.


en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.” OPENBARING 21:11 AFR53


“En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.” OPENBARING 21:22 AFR53





22 November 2019:

Die stad het ‘n hoë muur met twaalf poorte. Elke poort is ‘n pêrel, en daar is drie poorte aan elk van die vier mure van die vierkantige stad met ‘n engel by elke poort. Die twaalf poorte se name is die van die twaalf stamme van Israel en verteenwoordig die Ou Testament.

“En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte.” OPENBARING 21:12-13 AFR53


“En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.” OPENBARING 21:21 AFR53



23 November 2019:

Die muur van die stad het twaalf fondamente, en elke fondament is vernoem na een van die twaalf apostels wat die Nuwe Testament verteenwoordig.


“En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.” OPENBARING 21:14 AFR53


“En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; die vyfde sardoniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis.” OPENBARING 21:18-20 AFR53



24 November 2019:

Die engel wat vir Johannes die stad wys het nou ‘n goue maatstok en gee vir ons die afmetings. Die stad is ‘n perfekte kubus, so die lengte, breedte en hoogte is dieselfde – 2,414 km. Die muur se dikte is 144 el of 65.83 meter.


En hy wat met my gespreek het, het ‘n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet. En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.” OPENBARING 21:15-17 AFR53



25 November 2019:

Die Allerheiligste vertrek, die vertrek waar God se heerlikheid teenoordig is, was nog altyd ‘n volmaakte kubus. ‘n Kubus is ‘n vierkant waar die lengte, breedte en hoogte dieselfde afmetings het.


Die afmetings van die verskillende tempels se Allerheilgste vertrek:

  1. Moses se tabernakel: 5 x 5 x 5 meter

  2. Salomo se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  3. Herodus se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  4. 3de tempel: ons weet nie

  5. Millenium tempel: 10 x 10 x 10 meter





Die nuwe Jerusalem se afmetings is ook die van ‘n volmaakte kubus,

maar dis nie ‘n klein vertrek van 10 x 10 x 10 meter nie,

dis ‘n enorme konstruksie van 2,414 km x 2,414 km x 2,414 km.


In die ewigheid waar ons nie meer sonde het nie, kan ons saam met God woon in die gebou waar Sy heerlikheid teenwoordig is. Haleluja – dis iets om na uit te sien!



26 November 2019:

Ek sluit die hoofstuk af met Gesang 177 wat ‘n perfekte opsomming is!


Luister gerus op youtube na die gesang: https://youtu.be/uOGt5T56hLQ



66 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page