top of page
  • Regina Torre

Die tempel van God – Salomo se tempel

Updated: Feb 3, 2023

Geskiedenis


19 Maart 2019: Dawid sê vir die profeet Natan dat hy vir God ‘n huis wil bou. Natan gee sonder om te dink vir Dawid toestemming om voort te gaan met alles wat in sy hart is.


“En toe Dawid in sy huis gewoon het, sê Dawid aan die profeet Natan: Kyk, ék woon in ’n huis van sederhout, maar die verbondsark van die Here onder tentdoeke. Toe sê Natan vir Dawid: Doen alles wat in u hart is, want God is met u.”

I KRONIEKE 17:1-2 AFR53








20 Maart 2019: Daardie selfde nag kom die woord van God tot die profeet Natan en sê dat Dawid nie die huis mag bou nie, maar een van sy seuns sal vir God ‘n huis bou


“Maar in dieselfde nag kom die woord van God tot Natan en sê: Gaan sê vir Dawid, my kneg: So spreek die Here: Jý mag nie vir My die huis bou om in te woon nie. Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek Israel laat optrek het tot vandag toe nie, maar Ek het gekom van tent tot tent, en van tabernakel tot tabernakel.

En as jou dae vol is om heen te gaan saam met jou vaders, sal Ek jou nakomeling wat uit jou seuns sal wees, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir My ’n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid. Ék sal vir hom ’n vader wees, en hý sal vir My ’n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie.”

I KRONIEKE 17:3-5, 11-13 AFR53



21 Maart 2019: Dawid gee vir sy seun Salomo opdrag om ‘n huis vir God te bou. Dawid vertel vir Salomo dat hyself dit graag wou doen, maar omdat hy bloed op sy hande het, het God hom verbied om die bouwerk te doen.


“Daarop het hy sy seun Salomo geroep en hom bevel gegee om ’n huis vir die Here, die God van Israel, te bou. En Dawid het aan Salomo gesê: My seun, ek self het my voorgeneem om ’n huis te bou vir die Naam van die Here my God. Maar die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Jy het bloed in menigte vergiet en groot oorloë gevoer: jy mag nie vir my Naam ’n huis bou nie, omdat jy baie bloed op die aarde voor my aangesig vergiet het.”

I KRONIEKE 22:6-8 AFR53


“Maar God het aan my gesê: Jy mag vir my Naam nie ’n huis bou nie, want jy is ’n man van oorloë, en jy het bloed vergiet.”

I KRONIEKE 28:3 AFR53



22 Maart 2019: Dawid kon nie die tempel bou nie, maar dit het hom nie verhoed om te help om die boumateriaal bymekaar te maak nie. Hy gee die volgende – gekapte klippe, yster, koper en sederhout blokke.


“En Dawid het gesê: Dit is die huis van die Here God, en dit is die brandofferaltaar vir Israel. En Dawid het bevel gegee om die vreemdelinge wat in die land van Israel was, te versamel, en hy het klipkappers aangestel om gekapte klippe reg te slaan om die huis van God te bou. En Dawid het yster in groot hoeveelheid byeengebring as spykers vir die poortdeure en as kramme, en koper in menigte, onweegbaar; verder sederblokke, ontelbaar; want die Sidoniërs en die Tiriërs het vir Dawid sederblokke in menigte gebring. Want Dawid het gesê: My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die Here gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot ’n roem en ’n sieraad van al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei. Daarom het Dawid voor sy dood groot toebereidsels gemaak.”

I KRONIEKE 22:1-5 AFR53



23 Maart 2019: Dawid sondig teen God en God stuur ‘n plaag oor Israel as straf. Dawid belei sy sonde voor God en die profeet Gad sê vir Dawid dat hy die dorsvloer van Ornan die Jebusiet moet koop om ‘n brandoffer aan God te bring. Die grond word die plek waar Salomo die tempel bou.

“Toe Ornan hom omdraai, sien hy die engel; en sy vier seuns wat by hom was, het hulle weggesteek; Ornan het naamlik koring gedors. Toe Dawid by Ornan kom, het Ornan opgekyk en Dawid gesien, en hy het van die dorsvloer uitgegaan en hom voor Dawid met sy aangesig na die aarde gebuig. Daarop sê Dawid vir Ornan: Gee aan my die plek van die dorsvloer, dat ek daarop vir die Here ’n altaar kan bou; gee dit aan my vir die volle geld, sodat die plaag van die volk afgewend kan word. Maar Ornan sê vir Dawid: Neem dit vir u, en laat my heer die koning doen wat goed is in sy oë; kyk, ek gee die beeste as brandoffers en die sleë as hout en die koring as ’n spysoffer; ek gee dit alles. Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: Nee, maar ek wil dit verseker koop vir die volle geld; want ek wil nie wat aan jou behoort, vir die Here neem, dat ek verniet ’n brandoffer sou bring nie. En Dawid het vir die plek seshonderd sikkels goud in gewig aan Ornan gegee. En Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring. Onderwyl hy die Here aanroep, het Hy hom met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar geantwoord. En die Here het die engel beveel om sy swaard weer in die skede te steek. In dié tyd, toe Dawid sien dat die Here hom geantwoord het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het hy daar geoffer; want die tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het, en die brandofferaltaar was in dié tyd op die hoogte in Gíbeon. En Dawid het nie daarvoor durf verskyn om God te soek nie, want hy was verskrik vanweë die swaard van die engel van die Here.”

I KRONIEKE 21:20-30 AFR53



24 Maart 2019: Dawid gee vir Salomo die argitek planne om die tempel te bou – ‘n voorbeeld van alles wat by hom in die gees was.

“Kyk nou, die Here het jou verkies om ’n huis vir ’n heiligdom te bou; wees sterk en voer dit uit.

En Dawid het aan sy seun Salomo ’n voorbeeld gegee van die voorportaal en die daarby behorende geboue, van sy skatkamers en sy bovertrekke en sy binnevertrekke en van die vertrek van die versoendeksel; en ’n voorbeeld van alles wat by hom in die gees was: van die voorhowe van die huis van die Here en van al die kamers rondom en die skatkamers van die huis van God en die skatkamers van die heilige gawes; en van die afdelings van die priesters en die Leviete, en van al die dienswerk in die huis van die Here en al die gereedskappe vir die diens in die huis van die Here;”

I KRONIEKE 28:10-13 AFR53







25 Maart 2019: Dawid gee nog goud en silwer vir die gereedskap in die tempel.


“aan goud, het hy gegee, volgens die gewig aan goud vir al die gereedskappe van elke diens; vir al die silwergereedskappe volgens die gewig, vir al die gereedskappe van elke diens; en die gewig aan goud vir die goue kandelaars en hulle lampe volgens die gewig van elke kandelaar en sy lampe; en vir die silwerkandelaars volgens die gewig van ’n kandelaar en sy lampe, ooreenkomstig die diens van elke kandelaar; en die goud volgens gewig vir die tafels van die toonbrode, vir elke tafel afsonderlik, en silwer vir die silwertafels; en vir die vurke en komme en kanne, suiwer goud, en vir die goue bekers volgens die gewig van elke beker afsonderlik, en vir die silwerbekers volgens die gewig van elke beker afsonderlik; en vir die reukaltaar gelouterde goud volgens gewig; en goud vir die voorbeeld van die wa, die gérubs, wat hul vlerke moet uitsprei en die verbondsark van die Here moet beskut. Dit alles — al die werke van die voorbeeld — het Hy my geleer volgens ’n beskrywing uit die hand van die Here wat oor my was.”

I KRONIEKE 28:14-19 AFR53



26 Maart 2019: Salomo besoek die tent van samekoms in Gibeon (vandag Al-Jib in die Wesbank), terwyl Dawid in Jerusalem by die ark is. Die ark was nie op dieselfde plek as die tent van samekoms nie, die ark was in Jerusalem wat 9.5 km van Gibeon is.

“En Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koningskap; en die Here sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak. En Salomo het met die hele Israel gespreek, met die owerstes oor duisend en oor honderd en met die regters en met elke vors in die hele Israel, die familiehoofde; en hulle het gegaan, Salomo en die hele vergadering saam met hom, na die hoogte wat by Gíbeon is; want daar was die tent van samekoms van God wat Moses, die kneg van die Here, in die woestyn gemaak het.

Maar Dawid het die ark van God uit Kirjat-Jeárim laat bring na die plek wat Dawid daarvoor ingerig het; want hy het daarvoor ’n tent in Jerusalem opgeslaan.”

II KRONIEKE 1:1-4 AFR53



27 Maart 2019: Salomo bring ‘n offer van ‘n duisend brandoffers aan God op die koperaltaar in die tent van samekoms.

“Ook die koperaltaar wat Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, gemaak het, was daar voor die tabernakel van die Here; en Salomo en die vergadering het dit besoek. En Salomo het daar op die koperaltaar wat by die tent van samekoms behoort het, voor die aangesig van die Here geoffer en daarop duisend brandoffers gebring.”

II KRONIEKE 1:5-6 AFR53




28 Maart 2019: God gee vir Salomo meer as die wysheid waarvoor hy vra.


“In dieselfde nag het God aan Salomo verskyn en aan hom gesê: Begeer wat Ek jou moet gee. En Salomo het tot God gespreek: Ú het aan my vader Dawid ’n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak. Here God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want Ú het my koning gemaak oor ’n volk talryk soos die stof van die aarde. Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit- en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer? Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ’n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer — daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie. En Salomo het van die hoogte wat by Gíbeon is, van die tent van samekoms af, in Jerusalem aangekom, en hy het oor Israel geregeer.”

II KRONIEKE 1:7-13 AFR53



29 Maart 2019: Salomo sluit ‘n ooreenkoms met koning Huram van Tirus vir boumateriaal, en beskryf aan hom die planne vir die tempel.


“En Salomo het sewentigduisend lasdraers afgetel en tagtigduisend klipkappers op die gebergte en drieduisend-seshonderd opsigters oor hulle.”

II KRONIEKE 2:2 AFR53


“Toe laat Salomo Huram, die koning van Tirus, weet: Soos u aan my vader Dawid gedoen het deur aan hom seders te stuur, dat hy vir hom ’n huis kon bou om in te woon, doen dit ook aan my.

Kyk, ek gaan ’n huis bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te heilig — om voor sy aangesig reukwerk van speserye aan die brand te steek en die toonbrode gedurig reg te sit en die brandoffers smôrens en saans te bring op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye van die Here onse God — ’n ewige verpligting op Israel.

En die huis wat ek gaan bou, sal groot wees; want onse God is groter as al die gode. Maar wie is in staat om vir Hom ’n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ’n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?”

II KRONIEKE 2:3-6 AFR53



30 Maart 2019: Koning Huram stuur vir Salomo ‘n kunsvaardige man wat verstaan hoe om al die tempel toebehore te maak. Hy stuur ook bome uit die Libanon wat met vlotte oor die see sal kom. Salomo beloof om al die werkers kos te gee.


“En Huram, die koning van Tirus, het in ’n brief gesê wat hy aan Salomo gestuur het: Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel. Verder het Huram gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ’n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ’n huis vir die Here en ’n huis vir sy koninkryk te bou. Ek stuur dan nou ’n kunstenaar, begaafd met verstand, naamlik Huram Abi, die seun van ’n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader ’n man van Tirus is, wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van my heer, u vader Dawid. Laat my heer dan nou die koring en die gars, die olie en die wyn wat hy gesê het, aan sy dienaars stuur. En óns sal bome uit die Líbanon kap net soveel as u nodig het, en ons sal dit vir u as vlotte oor die see na Jafo bring; dan kan ú dit na Jerusalem laat vervoer.”

II KRONIEKE 2:11-16 AFR53



31 Maart 2019:  Die tempel word gebou op die berg Moria, waar Abraham vir Isak geoffer het en waar Dawid die grond van Ornan die Jebusiet gekoop het en 480 jaar na die uittog uit Egipte.


“Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”

GÉNESIS 22:2 AFR53


“En Salomo het die huis van die Here begin bou in Jerusalem op die berg Moría waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.”

II KRONIEKE 3:1 AFR53


“En hy het begin bou in die tweede maand, op die tweede dag, in die vierde jaar van sy regering.”

II KRONIEKE 3:2 AFR53


“En in die vierhonderd-en-tagtigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, in die vierde jaar van Salomo se regering oor Israel, in die maand Sif — dit is die tweede maand — het hy die huis vir die Here gebou.”

I KONINGS 6:1 AFR53

15 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page