top of page
  • Regina Torre

Die Tempel van God – Millenium Tempel

Updated: Feb 4, 2023


15 September 2019:


Millenium se betekenis: mille – latyn vir duisend; annum – latyn vir jaar; dus duisend jaar!

Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms wanneer Jesus terugkom (tweede koms) aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.


In die laaste hoofstuk van my Bybelstudie ‘Die Tempel van God’ gaan ons die Millenium Tempel bestudeer en wel as volg:

  1. Profesieë van Jesus se tweede koms.

  2. Wat leer die Bybel ons van die millenium.

  3. Esegiël se Millenium Tempel.

 

16 September 2019:


In Lukas 4:17-21 lees ons dat die boek Jesaja aan Jesus oorhandig word aan die begin van Sy bediening waar Hy besig is om die mense te leer.


Jesus lees die gedeelte van Jesaja 61:1-2 (blou merk) en Hy maak die boek toe by die gedeelte – om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here! Jesus sê toe: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. (groen merk)


Die eerste gedeelte van dié Ou Testament profesie is letterlik vervul met Jesus se Eerste koms.


Die tweede gedeelte van Jesaja se profesie (rooi gemerk) of die gedeelte wat Jesus nie gelees het nie sê: en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos! God se wraak gebeur met Jesus se tweede koms en net soos die eerste gedeelte letterlik vervul was, so moet ook die wraak gedeelte van die profesie ook letterlik vervul word.

 

17 September 2019:


In Lukas 1 lees ons dat die engel Gabriël aan Maria verskyn en vir haar die nuus gee dat sy as ongetroude jong dame gaan swanger word. Die eerste deel van die profesie (blou gemerk) is letterlik vervul met Maria wat wel swanger was met ‘n Seun wat sy Jesus genoem het.

Die tweede deel van die profesie (rooi gemerk) sal met Jesus se tweede koms ook letterlik vervul word. Jesus sit tans aan die regterhand van God, Hy het nog nie op die troon van sy vader Dawid gesit nie.


“Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” ROMEINE 8:34 AFR53


“En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” LUKAS 1:30-33 AFR53


 

18 September 2019:


Sagaria verduidelik mooi hier dat wanneer Jesus weer terugkom Hy gaan oorlog maak op die Olyfberg, oos van Jerusalem. Die Olyfberg gaan middeldeur skeur met ‘n aardbewing op die lyn waar die tektoniese plate lê.


“Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal ‘n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe.” SAGARIA 14:3-4 AFR83




 

19 September 2019:


Henog het geleef sewe geslagte na Adam, hy het naby aan God geleef en is weggeraap deur God toe hy 365 jaar oud was. In die boek Judas lees ons dat Henog, wat geleef het voor die vloed, ‘n profesie uitgespreek het dat Jesus gaan terugkom met sy engele om die goddeloses te oordeel.

“Toe Henog vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword. En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar. En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” GÉNESIS 5:21-24 AFR53


“Dit is oor hierdie mense dat Henog, wat van die sewende geslag ná Adam was, geprofeteer het. Hy het gesê: “Kyk, die Here kom met sy duisende heilige engele en Hy sal oor almal oordeel. Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.” JUDAS 1:14-15 AFR83


 

20 September 2019:


Ons lees in Openbaring 19 dat Jesus die finale oorlog voer teen die vyand en saam met Hom is die leërs in die hemel bekleed met wit. Wie is die leërs in die wit klere?


Met die wegraping het Jesus die gelowiges kom haal, soos Paulus ons leer – die wat in Cristus gesterf het, het eerste opgegaan, en hulle wat in die lewe oorbly is saam in die wolke weggevoer die Here tegemoet. So die leërs is die gelowiges wat nou saam met Jesus terugkom as toeskouers in wit klere om te aanskou hoe Jesus die oorlog wen.

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.” OPENBARING 19:11-14 AFR53


“Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I THESSALONICENSE 4:14-17 AFR53


 

21 September 2019:


Jesus oorwin die vyand in die finale stryd ALLEEN sonder enige hulp. Die dier en die valse profeet is sonder seremonie gevange geneem en lewend in die vuurpoel gegooi. Die res van die wat wou oorlog voer teen Jesus is gedood met die swaard wat uit Sy mond gegaan het, dus met een Woord uit die mond van Jesus en almal wat wou oorlog voer is dood!

“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.” OPENBARING 19:19-21 AFR53


 

22 September 2019:


Die Bybel leer ons van die Heilige Drie-Enigheid – Vader, Seun en Heilige Gees. In die boek Openbaring leer ons van die teenoorgestelde daarvan nl: die onheilige drie-enigheid – Satan, die dier (antichris), en die valse profeet. In Openbaring 19 se einde is die dier en die valse profeet lewend in die vuurpoel gegooi. Nou in Openbaring 20 word Satan deur ‘n engel met ‘n ketting vasgebind, in ‘n afgrond afgegooi en toegesluit en die plek word verseël vir ‘n duisend jaar – en hier begin die millenium!

“En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.” OPENBARING 20:1-3 AFR53


 

23 September 2019:


Jesaja 9 gee vir ons nog ‘n profesie wat met Jesus se eerste en tweede koms vervul word. Die eerste vervulling (blou gemerk) is ons Kersfees verhaal – ‘n Kind is vir ons gebore!

Die tweede vervulling (rooi gemerk) gaan vir ons ‘n Koning gee wat vir ewig oor Sy koninkryk, die ganse wêreld gaan regeer! Die Seun Jesus wat ook genoem word Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors!


“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee;

en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem:

Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —

tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde,

op die troon van Dawid en oor sy koninkryk,

om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid,

van nou af tot in ewigheid.

Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.” JESAJA 9:5-6 AFR53


 

24 September 2019:


Sagaria vertel vir ons dat die Here koning sal wees oor die hele aarde!


“En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een.” SAGARÍA 14:9 AFR53


 

25 September 2019:


Ons het reeds gesien dat met Jesus se tweede koms ‘n aardbewing gaan plaasvind wat die topografie van Jerusalem radikaal gaan verander. Sagaria gee meer detail van hoe dit na die aardbewing gaan lyk – die hele land suid van Jerusalem gaan soos ‘n vlakte word, maar Jerusalem self sal hoog wees.

"Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.” SAGARÍA 14:10 AFR53


 

26 September 2019:


Die huis van die Here of die tempel sal vasstaan op die berg in Jerusalem, ‘n berg hoër as al die ander berge en heuwels en al die nasies sal daarheen stroom.


“Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.” JESAJA 2:1-2 AFR53

 

27 September 2019:


Die nasies sal vra na koning Jesus en niemand sal die tempel wat op die berg staan vernietig nie, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here net soos die waters die seebodem oordek.


“Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.” JESAJA 11:9-10 AFR53


 

28 September 2019:


Israel sal God alleen dien en Dawid sal sy plek as koning van Israel inneem.


“Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.” JEREMIA 30:9 AFR53


“En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees. En Ek, die Here, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek.” ESÉGIËL 34:23-24 AFR53


 

29 September 2019:


Jerusalem is die hoofstad waar die regsbank van God gesetel is, want van daar sal die wet en die woord van God uitgaan, en die volke sal daarheen gaan om die weë van God te leer.


“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke…….” JESAJA 2:3 – 4a AFR53


 

30 September 2019:


Daar sal geen oorlog meer wees nie, nasies sal in vrede met mekaar leef. Swaarde sal in pikke verander en spiese in snoeimesse.


…….en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” JESAJA 2:4b AFR53


 

1 Oktober 2019:


Jerusalem sal ‘n stad wees van feestelike samekomste en veilig om in te woon.

“Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie.” JESAJA 33:20 AFR53


 

2 Oktober 2019:


Vier groepe mense sal in die millenium teenwoordig wees.


A: Persone wat in hul verheerlikte liggame teenwoordig gaan wees.

  1. Die Ou Testament gelowiges.

  2. Die Christene wat voor die Groot Verdukking weggeraap is – die wat reeds dood is en die wat op daardie stadium lewe.

  3. Martelare wat gedurende die Groot Verdukking gesterf het.

B: Persone wat in hul menslike liggame teenwoordig gaan wees.

  1. Persone wat Jesus as Verlosser aanvaar het tydens die Groot Verdrukkig en wat nog lewe met Jesus se tweede koms.

 

3 Oktober 2019:


Ouderdomme vir die persone in hul menslike liggame gaan nie meer gemeet word soos ons dit nou ken nie. Honderd jaar word as jonk gesien, so mense wat gebore word ( van persone in hul menslike liggame) in die millenium kan honderde jare oud word.

Daar is ongelukkig nog steeds mense wat sondig in die millenium en op die jong leeftyd van 100 jaar sal hul vervloek word.


“Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.” JESAJA 65:20 AFR53

 

4 Oktober 2019:


Elkeen van ons sal ‘n erf en ‘n huis besit waar ons sal woon en ons grond bewerk en plant en die vrug van ons eie handewerk sal geniet.


“En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.” JESAJA 65:21-22 AFR53


 

5 Oktober 2019:


Diere sal in vrede met mekaar leef, en nie meer mekaar eet nie. Die wolf en die lam sal saam wei en selfs die kinders sal die leeus en vetgemaakte vee saam aanjaag.


“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle

kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;”. JESAJA 11:6-7 AFR53




 

6 Oktober 2019


Waar in ons hedendaagse lewe sal kinders en slange saam speel – hierdie praat beslis van ‘n toekomstige tydperk nl: die millenium.


“en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.” JESAJA 11:8 AFR53










 

7 Oktober 2019:


Blindes sal sien, dowes sal hoor, die wat lam was sal spring soos bokke en die wat stom was sal praat.


“Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ‘n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.” JESAJA 35:5-6 AFR53

 

8 Oktober 2019:


Wanneer ons die Onse Vader bid, dan vra ons dat Jesus se koninkryk moet kom – dit is die koninkryk wat in die millenium begin en dan vir ewig voortduur!


“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”. MATTHÉÜS 6:9-10 AFR53


 

9 Oktober 2019:


Daniel vertel vir Nebukadneser wat sy droom beteken – die laaste deel van die droom se uitleg wys dat God ‘n koninkryk gaan oprig wat nooit vernietig gaan word nie. Die koninkryk sal nie deur ‘n ander vervang word nie, en sal vir altyd bestaan. Dié koninkryk begin die millenium.


“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan —”. DANIËL 2:44 AFR53


 

10 Oktober 2019:


Jerusalem is verwoes en die tempel is afgebrand, die laaste van die Israeliete is deur Nebukadneser uit Jerusalem uit verban en veertien jaar later ontvang Esegiël ‘n profesie.

‘n Nuwe tempel wat in die toekoms in die land Israel en in die stad Jerusalem bo-op ‘n baie hoë berg gebou gaan word – die Millenium Tempel!


“In die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap, in die begin van die jaar, op die tiende van die eerste maand, in die veertiende jaar nadat die stad ingeneem is, op daardie selfde dag, was die hand van die Here op my, en Hy het my daarheen gebring. In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ‘n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ‘n stad gebou was, teen die suide.” ESÉGIËL 40:1-2 AFR53


 

11 Oktober 2019:


Esegiël sien ‘n man wie se voorkoms soos koper lyk, en in sy hand het hy ‘n linnetou en ‘n meetstok waarmee hy die tempel gaan meet. Die maatstok vir kort afmetings (52cm) en die linnetou vir lang afmetings (6 x 52cm = 3,12m). Alles wat Esegiël sien en hoor moet hy aan die volk oordra.

“En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was ‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was ‘n linnetou en ‘n meetroede; en hy het by die poort gestaan. En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien.” ESÉGIËL 40:3-4 AFR53

 

12 Oktober 2019:


Die konstruksie van die tempelgebou:

Esegiël sien in sy visioen die bouplanne van die millenium tempel en gee die planne vir ons deur. Sodat ons die teks beter kan verstaan gaan ek 3D voorstellings van die planne wys wat ek van die webblad www.bibliaprints.com gekry het.


Is die voorstellings 100% korrek? Ek weet nie, maar dit maak dat die teks baie meer verstaanbaar is.


Die muur buite-om die tempelgeboue is 3m hoog en 3m breed.

“En kyk, daar was ‘n muur aan die buitekant van die huis al rondom, en in die man se hand was die meetroede van ses el (elkeen was ‘n el en ‘n handbreedte); en hy het die dikte van die bouwerk gemeet: een roede, en die hoogte: een roede.” ESÉGIËL 40:5 AFR53


 

13 Oktober 2019:


Die tempelpoort aan die oostekant en hoe dit binne lyk:


1. Die drumpel van die tempelpoort is 3 meter breed, net so breed soos die tempelmuur.

“Toe het hy gekom by 'n poort waarvan die voorkant na die ooste lê, en hy het met sy trappe opgegaan en die drumpel van die poort gemeet: een roede die breedte, en die ander drumpel: een roede die breedte.”

ESÉGIËL 40:6 AFR53



2a. Verby die drumpel van die ingang is drie sykamers aan weerskante, elkeen 3 x 3 meter en ‘n muur van 2,5 meter tussen elke kamer.

2b. Stap van die tempelingang verby die drie kamers aan elke kant na nog ‘n drumpel van 3 meter om net voor die einde van die poortgebou te kom.

“En elke sykamer: een roede die lengte en een roede die breedte; en tussen die sykamers: vyf el; en die drumpel van die poort langs die voorportaal van die poort aan die binnekant: een roede.” ESÉGIËL 40:7 AFR53




3. Net verby die drumpel van die poortgebou wat 3 meter is, is die drumpel van die voorportaal wat 4 meter is.

“Ook het hy die voorportaal van die poort aan die binnekant gemeet: een roede. Toe het hy die voorportaal van die poort gemeet: agt el, en sy deurposte: twee el; die voorportaal van die poort was aan die binnekant.”

ESÉGIËL 40:8-9 AFR53


 

14 Oktober 2019:


Die tempelpoort aan die oostekant en hoe dit binne lyk gesien van die dak af ondertoe:


1. Drie sykamers aan elke kant wat ewe groot is, en die mure tussenin wat ewe dik is.

“En die sykamers van die poort na die ooste was drie aan die een en drie aan die ander kant; al drie het dieselfde afmeting gehad; ook het die deurposte aan weerskante dieselfde afmeting gehad.” ESÉGIËL 40:10 AFR53



2. Die poortingang is 5 meter wyd en 6,5 meter in lengte.

“Verder het hy die wydte van die poortingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el.” ESÉGIËL 40:11 AFR53







3. Voor die ingang van elke sykamer is ‘n afskorting van 1/2 meter in dikte.

“En daar was ‘n afskorting voor die sykamers van een el aan die een kant, en ‘n afskorting van een el aan die ander kant; en elke kamer was ses el aan die een, en ses el aan die ander kant.” ESÉGIËL 40:12 AFR53



 

15 Oktober 2019:


Die tempelpoort aan die oostekant en hoe dit buite lyk:


1. Die breedte van die poort se dak is 12,7 meter


“Toe het hy poort gemeet van die dak van die een sykamer af na die dak van die ander toe: die breedte was vyf-en-twintig el, deur teenoor deur.” ESÉGIËL 40:13 AFR53




2. Pilare of deurposte word weerskante aan die buitekant van die poort opgerig, net so hoog as wat die poort is – 30,5 meter hoog.

“Ook het hy die deurposte gemaak; sestig el; en die voorhof, al rondom die poort, het gekom tot by die deurposte.” ESÉGIËL 40:14 AFR53






3. Die lengte van die poort van die voorkant tot die agterkant is 25,4 meter.


“En van die voorkant van die ingangspoort af tot by die voorkant van die voorportaal van die binneste poort: vyftig el.” ESÉGIËL 40:15 AFR53





4. Vensters is ingebou vir al die sykamers en voorportale en al die deurposte het palmbome as versierings.

“En daar was vensters van latwerk in die sykamers ingebou en in hulle deurposte, na binne toe in die poort al rondom; so ook in die voorportale; ja, vensters was al rondom na binne toe, en op die deurposte was palmbome.”. ESÉGIËL 40:16 AFR53









 

16 Oktober 2019:


Die buitenste voorhof of outer courtyard:


1. Die buitenste voorhof is die oop gedeelte van die buitemuur tot by die tempel wat in die middel staan.

2. Teen die binnekant van die buitemuur is 10 kamers elk aan die oos-, noord- en suidekante wat ‘n totaal van 30 kamers gee met plaveisel tussen al die kamers.


“Verder het hy my in die buitenste voorhof gebring, en kyk, daar was kamers, en rondom die voorhof was 'n plaveisel gemaak; dertig kamers was op die plaveisel. En die plaveisel was aan die sykant van die poorte, ooreenkomstig die lengte van die poorte; dit was die onderste plaveisel.” ESÉGIËL 40:17-18 AFR53


3. Elkeen van die kamers loop uit op die binneste voorhof en het 50 meter oop spasie tot by die tempel wat in die middel is.

“Toe het hy die breedte gemeet van die voorkant van die onderste poort af tot by die buitenste voorkant van die binneste voorhof: honderd el, aan die ooste- en aan die noordekant.” ESÉGIËL 40:19 AFR53




 

17 Oktober 2019:


Die poorte van die tempel:


1. Die poort aan die noorde en die poort aan die suide van die buitenste voorhof lyk presies soos die oostelike poort en is 50 meter van die tempelpoort wat toegang na die binneste voorhof gee.

“Aangaande die poort wat na die noorde lê, by die buitenste voorhof — hy het sy lengte en sy breedte gemeet. En sy sykamers was drie aan die een en drie aan die ander kant; en sy deurposte en sy voorportaal het dieselfde afmeting gehad as by die eerste poort: vyftig el sy lengte en die breedte vyf-en-twintig el. En sy vensters en sy voorportaal en sy palmbome het dieselfde afmeting gehad as by die poort waarvan die voorkant na die ooste lê: en ‘n mens kon daarin opklim met sewe trappe; en sy voorportaal was daarvoor. En daar was ‘n poort na die binneste voorhof teenoor die poort na die noorde en na die ooste; en hy het gemeet van poort tot poort: honderd el.” ESÉGIËL 40:20-23 AFR53


2. Daar is drie poorte wat toegang gee tot die buitenste voorhof en dan is daar weer drie poorte wat toegang gee na die binneste voorhof van die tempel. Die ses poorte van die tempelgebou is almal van dieselfde plan gebou.


“Daarop het hy my na die binneste voorhof gebring, na die ooste; en hy het die poort gemeet: dit het dieselfde afmetinge gehad. Ook sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal volgens die vorige afmetinge; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el. En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.” ESÉGIËL 40:32-34 AFR53

 

18 Oktober 2019:


Die kamers van die noordelike tempelpoort.


1. Die kamer regs van die noordpoort word gebruik om die brandoffers af te spoel.

“Daarop het hy my na die noordpoort gebring; en hy het gemeet volgens die vorige afmetinge:

En ‘n kamer met sy ingang was by die deurposte by die poorte; daar het hulle die brandoffer afgespoel.” ESÉGIËL 40:35, 38 AFR5


2. Die voorportaal van die noordpoort het agt tafels (vier buite en vier binne die poort) om die brandoffers te slag. Buite is twee tafels links en twee tafels regs van die trappe, en binne is twee tafels links en twee tafels regs van die ingang.

“En in die voorportaal van die poort was twee tafels aan die een en twee tafels aan die ander kant om daarop die brandoffer en die sondoffer en die skuldoffer te slag. En aan die buitenste symuur, noord van wie na die ingang van die poort opgaan, was twee tafels; en aan die ander symuur wat by die voorportaal van die poort was, twee tafels: vier tafels aan die een en vier tafels aan die ander kant, by die symuur van die poort: agt tafels waar hulle op geslag het.”. ESÉGIËL 40:39-41 AFR53


3. Kleiner tafels gemaak van gekapte klip word gebruik om die gereedskap neer te sit waarmee die offerhandes geslag word.

“En daar was vier tafels vir die brandoffer, van gekapte klippe, die lengte anderhalf el, en die breedte anderhalf el, en die hoogte een el — daarop het hulle die gereedskap neergesit waarmee hulle die brandoffer en die slagoffer geslag het. En die gaffelvormige hake van 'n handbreedte was aan die binnekant al rondom bevestig; en op die tafels was die offervleis.”

ESÉGIËL 40:42-43 AFR53


4. Die kamers links van die noorpoort is huisvesting vir die priesters. Die kamer teen die noorpoort wat suid kyk is die sangers se vertrek. Die kamer langs die sangers se kamer wat ook suid kyk is die vertrek vir die priesters wat in die tempel diens doen. Die kamer teen die oospoort wat noord kyk is vir die priesters wat by die altaar diens doen - die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok.


“Buitekant die binneste poort, in die binneste voorhof, was die vertrekke van die sangers. Die vertrekke was teen die noordpoort en het suid gekyk. Daar was ook teen die oospoort ‘n vertrek, wat noord gekyk het. Die man het vir my gesê: “Een vertrek wat suid kyk, is bedoel vir die priesters wat in die tempel diens doen. Die vertrek wat noord kyk, is bedoel vir die priesters wat by die altaar diens doen. Net die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok kan na die altaar toe kom om die diens aan die Here te verrig.” ESEGIËL 40:44-46 AFR83

 

19 Oktober 2019:


Die voorhof en voorportaal van die tempel.


1. Die voorhof van die tempelgebou self word nou gemeet – 50 x 50 meter, en die altaar is voor die tempelgebou.

“En hy het die voorhof gemeet: die lengte honderd el en die breedte honderd el, 'n vierkant; en die altaar was voor die huis.”

ESÉGIËL 40:47 AFR53






2. Die voorportaal van die tempel eindig hoofstuk 40 van Esegiël. Die portaal is 10 meter lank, 6 meter breed en die ingang word bereik met 10 trappe waar jy 2 pilare aan weerskate kry.

“Daarna het hy my na die voorportaal van die tempel toe gebring en die mure weerskante van die portaal se ingang gemeet. Hulle was twee en 'n half meter lank aan weerskante. Die ingang was een en 'n half meter breed aan weerskante. Die portaal was tien meter lank en ses meter breed, en die ingang is bereik deur middel van tien trappe. Daar was pilare teen die mure weerskante van die ingang, een aan elke kant.”

ESEGIËL 40:48-49 AFR83

 

20 Oktober 2019:


Die tempelgebou se binnekant


1. Die drumpel van die tempelgebou is 3 meter breed, 5 meter wyd en die symure van die ingang is elk 2,5 meter.

“Verder het hy my in die hoofvertrek gebring; en hy het die deurposte gemeet: ses el die breedte aan die een en ses el die breedte aan die ander kant, die breedte van die tent. En die breedte van die ingang: tien el, en die symure van die ingang: vyf el aan weerskante; .........

ESÉGIËL 41:1-2a AFR53


2. Die Heilige plek is soos die 1ste en 2de tempels ‘n vertrek van 20 meter by 10 meter.



…….ook het hy die lengte daarvan gemeet: veertig el, en die breedte: twintig el.” ESÉGIËL 41:2b AFR53












3. Die Allerheiligste vertrek is ook dieselfde afmetings as die vorige tempels nl: 10 meter by 10 meter.

“Ook het hy die lengte daarvan gemeet: twintig el, en die breedte: twintig el na die kant van die hoofvertrek. En hy het vir my gesê: Dit is die Allerheiligste.” ESÉGIËL 41:4 AFR53




 

21 Oktober 2019:


Die geboue buite die tempelgebou:


1. Buite rondom die tempel aan die noorde, suide en weste is 90 kamers. Drie verdiepings met 30 kamers op elke verdieping.

“Die kamers was in drie verdiepings, elkeen met dertig kamers. Die muur waarop hierdie verdiepinggebou gerus het, was regoor elke verdieping dunner as regoor die vorige, sodat die verdiepings nie in die tempelmuur self nie maar in dié afsonderlike muur ingebou was.” ESEGIËL 41:6 AFR83


2. Die 1ste verdieping is breër as die grondverdieping, en die 2de verdieping weer breër as die 1ste verdieping.


“Die tempelgebou was dus rondom toegebou tot bo toe, en die kamers van elke verdieping was breër as dié van die vorige. Daar het trappe opgegaan van die onderste verdieping af deur die middelste na die boonste toe.” ESEGIËL 41:7 AFR83



3. Agter die tempelgebou aan die westekant is ‘n gebou wat 35m breed x 45m lank is en die muur reg rondom is 2,5m dik.

“Daar was 'n gebou aan die westekant van die tempelplein. Die gebou was vyf en dertig meter breed en vyf en veertig meter lank, en sy muur rondom was twee en 'n half meter dik.” ESEGIËL 41:12 AFR83




 

22 Oktober 2019:


Die versierings teen die tempelmure en die meubels in die tempelgebou.


1. Die tempelmure binne en buite word versier met palmbome en gerubs.

“Bokant die ingang en teen die tempelgebou binne en buite, teen al die mure rondom binne en buite, was daar reëlmatig gerubs en palmversierings aangebring, telkens 'n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad,”. ESEGIËL 41:17-18 AFR83



2. Elke gerub het twee gesigte, ‘n mensgesig wat eenkant toe kyk en ‘n leeugesig wat anderkant toe kyk.

“'n mensgesig na die kant toe van die palm aan die een kant, en 'n leeugesig na die kant toe van die palm aan die ander kant. Die versierings was rondom teen die hele tempelgebou aangebring. Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die muur van die voorste tempelvertrek.” ESEGIËL 41:19-20 AFR83


3. Die enigste meubelstuk in die tempel is die reukofferaltaar wat in die Heiligevertrek is voor die ingang van die Allerheiligste vertrek. Die engel sê die tafel staan in die teenwoordigheid van die Here.

“Die altaar in die voorste tempelvertrek was van hout, een en 'n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante rondom was van hout. Die man het vir my gesê: “Dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan.”

ESEGIËL 41:22 AFR83



4. Daar is nie ‘n verbondsark in die Allerheiligste kamer van die tempel nie. Die verbondsark is nie meer nodig nie, dit sal nie in die mense se gedagtes opkom nie, die verbondsark sal ook nie genoem of gemis word nie. Al die nasies van die aarde sal kom na die tempel na die troon van die Here.

“En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die Here, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die Here nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.” JEREMIA 3:16-17 AFR53


 

23 Oktober 2019:


Buitekant die tempelgebou


Noord en suid aan die buitekant van die tempel is die heilige kamers waar die priesters die offergawes eet.

“Daarna het hy my uitgebring na die buitenste voorhof op die weg na die noorde toe; en hy het my gebring na die kamers wat teenoor die afgeslote ruimte en wat teenoor die bouwerk teen die noorde lê,



Toe het hy vir my gesê: Die noordelike kamers en die suidelike kamers wat teenoor die afgeslote ruimte lê, hulle is die heilige kamers waar die priesters wat na die Here nader kom, die hoogheilige gawes moet eet; daar moet hulle die hoogheilige gawes neersit: die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer, want die plek is heilig.” ESÉGIËL 42:1, 13 AFR53


 

24 Oktober 2019:


Die man meet toe die muur buite om die tempel. Hy het die muur rondom gemeet aan al vier kante. Die lengte was 1,500 meter en die breedte 1,500 meter. Die muur was die grens tussen die heilige gebied en die wêreld daarbuite, die onheilige gebied.


“En toe hy klaar was met die mate van die binneste huis, het hy my na die poort toe uitgebring waarvan die voorkant na die ooste lê, en dit gemeet al rondom. Hy het die oostekant met die meetroede gemeet: vyfhonderd roede, met die meetroede rondom. Hy het die noordekant gemeet: vyfhonderd roede, met die meetroede rondom. Die suidekant het hy gemeet: vyfhonderd roede, met die meetroede. Hy het hom begewe na die westekant en gemeet: vyfhonderd roede, met die meetroede. Hy het dit aan vier kante gemeet; dit het ‘n muur gehad al rondom; die lengte was vyfhonderd en die breedte vyfhonderd, om skeiding te maak tussen wat heilig en onheilig is.” ESÉGIËL 42:15-20 AFR53

 

25 Oktober 2019:


Die heerlikheid van God kom deur die poort aan die oostekant van die tempel in en klink soos die geruis van baie waters. Esegiël staan in die voorhof van die tempel en sien hoe die heerlikheid van die Here die tempel vul.

“Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid. En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval. En die heerlikheid van die Here het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê. En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die Here het die huis vervul.” ESÉGIËL 43:1-5 AFR53


 

26 Oktober 2019:


Die man bring Esegiël na die buitenste poort wat na die ooste kyk. Die poort is gesluit en moet so bly, niemand mag daardeur gaan nie, want die God van Israel het daardeur ingegaan!


Ons moet nie die gedeelte verwar met die huidige oostelike hek wat gesluit is nie. Die huidige hek is in 1540-41 AD gesluit deur Suliman die Groote, ‘n sultan van die Ottoman era. Hy wou Jesus se tweede koms keer deur die hek te sluit. Asof dit gaan help……..


“Toe het hy my teruggebring na die buitenste poort van die heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit. En die Here het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die Here, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.” ESÉGIËL 44:1-2 AFR53

 

27 Oktober 2019:


Die brandofferaltaar staan in die binnehof voor die ingang van die tempel. Die priesters wat die offerhandes moet doen is die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok en hulle begin die brandoffer deur ‘n jong bul te gee as sondoffer.


"En hy het vir my gesê: Mensekind, so spreek die Here Here: Dit is die verordeninge van die altaar: Op die dag as dit gemaak word om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen uit te gooi, moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom — spreek die Here Here — om My te dien, ‘n jong bul gee as sondoffer.” ESÉGIËL 43:18-19 AFR53


 

28 Oktober 2019:


Hoekom is daar weer offerhandes in die millenium?


Dit is verkeerd om te dink dat offerhandes in die Ou Testament sondes weggeneem het, en dit is ook verkeerd om te dink dat offerhandes sondes in die millenium gaan wegneem. Offerhandes is ‘n les vir die sondaar dat sonde ‘n gruwelike oortreding teen God is en dat die gevolg van die sonde die dood is.


Vir diegene wat gedurende die millenium gebore is, sal offerhandes weer ‘n objekles wees. Gedurende daardie toekomstige tyd sal geregtigheid en heiligheid heers, maar diegene met aardse liggame sal steeds ‘n sondige aard hê, en daar sal nodig wees om te leer hoe aanstootlik sonde vir ‘n heilige en regverdige God is. Offerhandes sal daardie doel dien, soos die skrywer van die boek Hebreërs sê:


“Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes;”. HEBREËRS 10:3 AFR

 

29 Oktober 2019:


Net twee van die sewe feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het word in die Millenium gevier. Die eerste fees en die laaste fees.

1. Paasfees (die 1ste fees) word gehou op die veertiende dag van die eerste maand en die fees is sewe dae lank.

Huidiglik word die fees deur die Joodse volk gevier om terug te dink aan die uittog uit Egipte.

Christene vier huidiglik die fees om terug te dink aan Jesus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het.

In die Millenium waar almal Jesus as hul verlosser aanvaar het, gaan hierdie ‘n gedenkfees wees om terug te dink aan Jesus wat vir almal se sondes aan die kruis gesterf het.


“In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet vir julle die pasga wees; op die sewedaagse fees moet ongesuurde brode geëet word.” ESÉGIËL 45:21 AFR53

 

30 Oktober 2019:


2. Die Huttefees (laaste fees) word huidiglik deur die Joodse volk gevier op die vyftiende dag van die sewende maand. Die fees is sewe dae lank. Die eerste en agtste dae van die fees is rusdae. Almal moet gedurende die sewe dae in hutte woon, tydelike woonplekke, sodat elke nageslag kan onthou hoe God die kinders van Israel uit Egipte uitgelei het en dat die Israeliete vir veertig jaar in tydelike hutte gewoon het.

Die Huttefees wag huidiglik profeties vir die Millenium wat gaan plaasvind na die sewe jaar verdrukking. Die Millenium waar ons saam met Jesus gaan woon in afwagting vir die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Tydens die Millenium is die fees ‘n gedenkfees om dankie te sê dat ons wel saam met God in die Millenium woon, nie in tydelike hutte nie maar in permanente wonings.


“In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, moet hy op die fees dieselfde offers gereedmaak gedurende die sewe dae: dieselfde sondoffer, dieselfde brandoffer en dieselfde spysoffer en dieselfde olie.” ESÉGIËL 45:25 AFR53


 

31 Oktober 2019:


Sagaria profeteer dat wanneer die nasies van die aarde nie die huttefees bywoon nie, dan sal hulle nie meer reën kry nie. So om ‘n droogte toestand te vermy moet al die nasies jaarliks die huttefees bywoon.


“En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.” SAGARÍA 14:17-19 AFR53






 

1 November 2019:


Wat gebeur aan die einde van die millenium?


Aan die einde van die millenium, of anders gestel aan die einde van die een duisend jaar, word Satan uit sy gevangenis vrygelaat vir ‘n tydperk.


“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;”. OPENBARING 20:7 AFR53

 

2 November 2019:


Satan gaan vir oulaas uitgaan na al die nasies van die wêreld om die mense te verlei sodat hy soldate het vir sy finale oorlog teen God. Onthou, hy kan net persone in hul menslike liggame verlei, nie die persone in hul verheerlikte liggame nie.

Die ongelowiges van die tyd se getal is groot, soos die sand van die see. Wys net dat alhoewel die mens sonder Satan gelewe het vir ‘n duisend jaar, is sonde nog steeds teenwoordig.


“en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.” OPENBARING 20:8 AFR53

 

3 November 2019:


Satan en sy weermag wat versamel is van oor die hele aarde omsingel die stad van God (Jerusalem) en die heiliges wat daarin woon. In ‘n halwe sin van een vers in die Bybel word die onheilige weermag verwoes met vuur uit die hemel! Sommer so!


“En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.” OPENBARING 20:9 AFR53


 

4 November 2019:


Die duiwel, Satan, word in die poel van vuur en swawel gewerp (lake of fire) waar hy by sy twee vriende, die dier en die valse profeet aansluit. Die twee is nou al vir een duisend jaar in die poel van vuur en swawel en nou is die Satan saam met hulle daar vir ewig.


“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53


 

5 November 2019:


Die enigste mense wat nog nie mee gedeel is nie is die ongelowiges van alle tye. Almal van hulle, klein en groot, staan nou voor God en hulle word geoordel volgens hul werke.


“En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” OPENBARING 20:11-12 AFR53


 

6 November 2019:


Die einde van die millenium!


Wat is die tweede dood? Die eerste dood is maklik, dit is wanneer ‘n mens op aarde sterf en begrawe word en jou liggaam terugkeer na stof. Die tweede dood is wanneer jou siel verwyder word van die teenwoordigheid van God. Dié siele se eindbestemming is die poel van vuur.


“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:14-15 AFR53


21 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page