top of page
  • Regina Torre

Die tempel van God – konstruksie van Salomo se tempel

Updated: Feb 3, 2023


23 April 2019: Die tempel se grondplan vir die Heilige en Allerheiligste is 60 el in lengte en 20 el in die breedte. Rofweg 30 meter by 10 meter. ( 1 el is rofweg 1/2 meter )


“En dit is die grondplan van Salomo vir die bou van die huis van God: die lengte, in elle volgens die ou maat, sestig el, en die breedte twintig el.”

II KRONIEKE 3:3 AFR53





24 April 2019: Die voorportaal kom nuut by (was nie deel van die tabernakel nie) en is dieselfde afmetings as die Allerheiligste plek (10 x10 meter). Die hoogte van die voorportaal was indrukwekkend – 120 el of 60 meter.


“En die voorportaal voor die huis — die lengte daarvan voor op die breedte van die huis was twintig el en die hoogte honderd en twintig el; en binnekant het hy dit met suiwer goud oorgetrek.”

II KRONIEKE 3:4 AFR53



25 April 2019: Twee pilare word ook nuut bygevoeg voor die tempel en elk het ‘n naam. Regs was Jagin en links was Boas.


“Verder het hy twee pilare voor die huis gemaak; vyf-en-dertig el was die hoogte, met ’n kapiteel wat op die top daarvan was, vyf el hoog. Hy het ook kettings gemaak soos ’n krans en dit op die top van die pilare aangebring; verder het hy honderd granaatjies gemaak en aan die kettings bevestig. En hy het die pilare voor die tempel opgerig, die een regs en die ander links; en die regter-een het hy genoem Jagin, en die linker-een Boas.”

II KRONIEKE 3:15-17 AFR53



26 April 2019: Die Heilige en Allerheilgste vertrekke is eers met sipreshout en toe met goud oorgetrek. Die mure is versier met goue palmbome en kettings.


“En die groot vertrek het hy met sipreshout oordek en dit met goeie goud oorgetrek en daar palmbome en kettings op aangebring. Verder het hy die huis met kosbare stene as versiering oorgetrek, en die goud was goud van Parwáim. Ook het hy die huis, die balke, die drumpels en die mure en deure daarvan met goud oorgetrek en gérubs op die mure uitgesny. Verder het hy die Allerheiligste Vertrek gemaak; die lengte daarvan, voor op die breedte van die huis, was twintig el, en die breedte daarvan twintig el; en hy het dit oorgetrek met fyn goud, van seshonderd talente. En die gewig van die spykers was vyftig sikkels aan goud; ook die bovertrekke het hy met goud oorgetrek.”

II KRONIEKE 3:5-9 AFR53



27 April 2019: Die Allerheilgste vertrek is versier met twee gerubs wat met goud oorgetrek is. Elke vlerk was 5 el lank, saam 20 el en so breed soos die vertrek was. Die twee gerubs het na die Heilige vertrek gekyk.


“Ook het hy in die Allerheiligste Vertrek twee gérubs gemaak, ’n werk van beeldhoukuns, en dit met goud oorgetrek. En die vlerke van die gérubs, die lengte daarvan was twintig el; die vlerk van vyf el van die een het geraak aan die muur van die vertrek, terwyl die ander vlerk van vyf el geraak het aan die vlerk van die ander gérub; en die vlerk van die ander gérub van vyf el het geraak aan die muur van die vertrek, en die ander vlerk van vyf el was vas teen die vlerk van die ander gérub. Hierdie gérubs het die vlerke twintig el uitgesprei, en hulle het op hul voete gestaan met hul gesigte na die huis toe.”

II KRONIEKE 3:10-13 AFR53



28 April 2019: Die voorhangsel het die Heilige en die Allerheiligste vertrekke van mekaar geskei en is gemaak van pers, purperrooi en bloedrooi fyn linne met gerubs daarop aangebring.


“En die voorhangsel het hy gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi en fyn linne en daar gérubs op aangebring.”

II KRONIEKE 3:14 AFR53







29 April 2019: Die goue kadelare en die tafels van toonbrode. Tien kandelare en tien tafels met toonbrode is bygevoeg by die oorspronklike kandelaar en tafel wat in Moses se tabernakel was. Dus was daar elf van elk in die tempel.

“En hy het die goue kandelaars gemaak, tien, volgens die voorskrif daarvan, en dit in die tempel gesit, vyf regs en vyf links.”

II KRONIEKE 4:7 AFR53


“Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf regs en vyf links; en hy het honderd goue komme gemaak.”

II KRONIEKE 4:8 AFR53





30 April 2019: Die priesters kry drie verdiepings van stoorkamers aan die weste, suide en noorde kante van die tempel. Hierdie was die stoorkamers vir die koning se skatte en die priesters se besittings.


“En teen die muur van die huis het hy rondom ’n aanbousel opgetrek, aan die mure van die huis rondom die hoofvertrek en die binneste vertrek, en hy het dit rondom in verdiepings gemaak. Die onderste verdieping was vyf el in sy breedte en die middelste ses el in sy breedte en die derde sewe el in sy breedte; want hy het vir die huis rondom buitekant inkortings gemaak, om nie in die mure van die huis in te las nie.”

I KONINGS 6:5-6 AFR53



1 Mei 2019: Die koperaltaar was buite die tempel net voor die ingang en die afmetings was 20 el breed, 20 el lank en 10 el hoog. Die altaar is gemaak van ongekapte klip en die oploop na die opening van die altaar mag nie trappe wees nie.

“Verder het hy ’n koperaltaar gemaak; twintig el was sy lengte en twintig el sy breedte en tien el sy hoogte.”

II KRONIEKE 4:1 AFR53


“Maar as jy vir My ’n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.

Jy mag ook nie met trappe na my altaar opklim nie, dat jou skaamte nie daarop ontbloot word nie.”

EXODUS 20:25-26 AFR53



2 Mei 2019: Die koperwaskom is geplaas tussen die tempel ingang en die koperaltaar. Die afmetings van die ronde waskom was 10 el in die deursnee en 5 el hoog. Die waskom het gestaan op 12 beeste, geplaas in groepe van drie en elke groep het gekyk noord, suid, oos en wes. Saam met die waskom is ook tien aparte kleiner waskomme gemaak om die gereedskap van die brandoffers te was. Die groot waskom was vir die priesters om in te was.

“Hy het ook die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en ’n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.

En daar onderaan het afbeeldings van kolokwinte dit heeltemal rondom omring — tien op ’n el; hulle het die see rondom omgewe, twee rye kolokwinte, daarmee saam uit een stuk gegiet.


Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe; en die see was bo-op hulle, en al hulle agterdele binnekant toe. En die dikte daarvan was ’n handbreedte, en sy rand was in die vorm van ’n bekerrand, soos ’n lelieblom; wat die inhoud betref, het dit drieduisend bat gehou.


En hy het tien waskomme gemaak en vyf regs en vyf links gesit om in te was; die gereedskap van die brandoffer moes hulle daarin afspoel, maar die see was vir die priesters om daarin te was.”

II KRONIEKE 4:2-6 AFR53



3 Mei 2019: Die klippe vir die tempel is vêr weg van die tempel gekap sodat daar geen geraas was by die tempel self nie.

“En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie.”

I KONINGS 6:7 AFR53







4 Mei 2019: Die ark en al die ander toebehore van die tabernakel word in die sewende maand deur die Leviete na die tempel in Jerusalem gebring.


“Toe al die werk gereed was wat Salomo vir die huis van die Here gedoen het, het Salomo die heilige gawes van sy vader Dawid ingebring, die silwer sowel as die goud, en al die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van God neergesit. En Salomo het die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die familie-owerstes van die kinders van Israel, in Jerusalem bymekaar laat kom om die verbondsark van die Here uit die stad van Dawid, dit is Sion, opwaarts te bring. En al die manne van Israel het by die koning saamgekom op die fees, dit was die sewende maand. Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die Leviete die ark opgeneem en die ark en die tent van samekoms met al die heilige voorwerpe wat in die tent was, gebring; die Levitiese priesters het dit opwaarts gebring.”

II KRONIEKE 5:1-5 AFR53



5 Mei 2019: Die verbondsark word deur die priesters in die Allerheiligste ingedra en onder die vlerke van die twee gerubs geplaas. Net die twee kliptafels was in die verbondsark.


“Verder het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring, onder die vlerke van die gérubs in. Die gérubs het naamlik die vlerke uitgesprei gehou oor die plek van die ark, sodat die gérubs die ark en sy draaghoute van bo af bedek het. En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute, uit die ark uitgaande, vlak voor die binneste vertrek gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en dit is daar tot vandag toe. Daar was niks in die ark nie as net die twee tafels wat Moses by Horeb ingesit het, toe die Here ‘n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipte.”

II KRONIEKE 5:7-10 AFR53



6 Mei 2019: Salomo se brandoffers en slagoffers word deur God aanvaar en met ‘n vuur uit die hemel verteer. Die heerlikheid van God het die huis so gevul dat die priesters nie by die huis van die Here kon ingaan nie.


“En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die huis vervul; en die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.”

II KRONIEKE 7:1-2 AFR53



7 Mei 2019: Die kinders van Israel het met hul aangesig na die aarde toe gekniel en God aanbid en geprys. Koning Salomo en die volk het slagoffers voor die Here geslag – 22,000 beeste & 120,000 kleinvee. So het die hele volk die huis van God ingewy.


“En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die huis neerdaal, het hulle gekniel met die aangesig na die aarde toe, op die plaveisel, en aanbid en die Here geprys dat Hy goed is, dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is. En die koning en die hele volk was besig om slagoffers voor die aangesig van die Here te slag. Koning Salomo het naamlik die slagoffer van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee geslag; en die koning en die hele volk het die huis van God ingewy,”

II KRONIEKE 7:3-5 AFR53




8 Mei 2019: Die inwyding van die tempel was gedurende die Hutte fees – die laaste van die drie herfsfeeste wat jaarliks gevier word. ‘n Fees wat 7 dae duur en waar die mense in hutte woon om terug te dink aan die uittog uit Egipte.


“So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou, sewe dae lank, en die hele Israel saam met hom, ‘n baie groot vergadering, van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte. En op die agtste dag het hulle ‘n feestyd gehou, want die inwyding van die altaar het hulle sewe dae lank gevier en die fees sewe dae lank. En op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hul tente laat gaan, verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die Here aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel gedoen het.”

II KRONIEKE 7:8-10 AFR53



9 Mei 2019:  God verskyn aan Salomo en sê vir hom dat sy gebed gehoor is en dat God die tempel wat gebou is as Sy offerhuis gekies het. God sê verder dat as droogte of peste of plae die volk tref en hulle Sy Naam uitroep, hulself verootmoedig en bid en God se aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal God hul uit die hemel hoor, hul sondes vergewe en hul land genees!


“En toe Salomo die huis van die Here en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die Here en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”

II KRONIEKE 7:11-15 AFR53



10 Mei 2019:  Maar, sê God – as julle My gebooie verlaat en julle voor ander gode neerbuig, dan sal Ek julle uitruk uit My land wat Ek aan julle gegee het, en Ek sal die tempel wegwerp en dit ‘n spotlied onder al die ander volke maak.


“Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan ‘n spreekwoord en ‘n spotlied maak onder al die volke. En hierdie huis wat so hoog was — elkeen wat daarlangs verbygaan, sal verstom staan en vra: Waarom het die Here so gedoen met hierdie land en met hierdie huis? Dan sal hulle sê: Omdat hulle die Here, die God van hulle vaders, verlaat het wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en voor hulle neergebuig en hulle gedien het, daarom het Hy al hierdie onheil oor hulle gebring.”

II KRONIEKE 7:19-22 AFR53



11 Mei 2019:  Ten slotte kyk ons na ‘n lugfoto van Salomo se tempel om die volgende te sien:

  1. Die tempel

  2. Die binneste voorhof of die voorhof van die priesters – dis hier waar ons die koperwaskom en koperaltaar vind.

  3. Die groot voorhof – die naaste wat gewone mense aan die tempel kon kom.


“Verder het hy die binneste voorhof gebou van drie lae gekapte klip en een laag sederbalke.”

I KONINGS 6:36 AFR53


“Verder het hy die voorhof van die priesters gemaak en die groot voorhof en die deure vir die voorhof; en die deure daarvan het hy met koper oorgetrek.”

II KRONIEKE 4:9 AFR53

26 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page