top of page
Regina Torre

Die profete na die ballingskap: Sagaria 9-14

Updated: Oct 19


23 September  2024


SAGARÍA 9:1 AFR53

Godspraak. Die woord van die Here teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit rus — want die Here hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel.


Die twee profesië wat die res van Sagaria se boek uitmaak (hoofstukke 9 tot 14) is nie gedateer nie, maar baie geleerdes glo dat hulle veel later deur Sagaria, op sy oudag, ontvang was.


Ons het geleer dat God die heiden nasies of hul konings gebruik het om Sy volk te tugtig of te help.


As straf het God toegelaat dat die Assiriërs die Noordelike Koninkryk en Nebukadneser die Suidelike Koninkryk in ballinskap weggevoer het. God het aan die ander kant vir koning Kores van die Meders en die Perse gebruik om Sy tempel en Jerusalem te herbou na Sy volk vir sewentig jaar in ballingskap was.


Die volgende wêreld regering na die Meders en Perse was die Grieke met Alexander die Grote as hul koning en ook hy is deur God gebruik.


Alexander die Grote het begin om eers Hamat en toe Tirus en Sidon, Israel se vyande, te oorwin.


Tirus en Sidon was die twee groot stede noord van Israel, in die land Libanon. Tirus was 'n belangrike kommersiële stad wat onmoontlik was om te verower. Die Assiriërs het Tirus vyf jaar lank beleër, maar kon nooit die stad verower nie. Nebukadnesar het 13 jaar lank sonder sukses probeer om Tirus te oorwin. Alexander die Grote het Tirus egter binne sewe maande verower.


En ook teen Hamat wat daaraan grens; teen Tirus saam met Sidon, want hy is baie slim.   SAGARÍA 9:2 AFR53


Alexander die Grote het nadat hy Tirus verower het, die puin van die ou stad  gebruik om 'n hoofweg na die eilandstad te bou. Dit was 'n skouspelagtige prestasie van beide militêre en ingenieurs vernuf.


Ja, Tirus het vir hom 'n vesting gebou; ook het hy silwer opgehoop soos stof en goud soos modder van die strate.  Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal deur vuur verteer word.   SAGARÍA 9:3-4 AFR53


Die Filistynse stede Askelon, Gasa, Ekron en Asdod is suid van Tirus en Sidon. Hulle sou gehoor het wat Tirus en Sidon se lot was, en in vrees gewag het vir Alexander wat hulle toe wel ook verower het.


Áskelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron, omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Áskelon bly onbewoond; en die baster sal in Asdod woon — so sal Ek dan aan die trotsheid van die Filistyn 'n einde maak —.  SAGARÍA 9:5-6 AFR53


Dawid het in sy tyd nie die Jebusiete uitgewis nie, maar hulle bloot by Israel ingelyf. Dieselfde sou met die mense van Ekron gebeur.


en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit; so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos 'n stamhoof in Juda, en Ekron soos 'n Jebusiet.   SAGARÍA 9:7 AFR53


 

24 September  2024


SAGARÍA 9:8 AFR53

En Ek sal om my huis 'n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit met my eie oë gesien.


Toe Alexander die Grote deur Libanon en die Beloofde Land opgetrek het na Egipte toe, het hy Jerusalem nie verower of aangeval nie.

God het belowe om Sy huis te beskerm en te spaar gedurende hierdie tyd, en Hy het dit gedoen deur 'n merkwaardige reeks gebeure wat verband hou met Alexander die Grote en die hoëpriester.


Josefus (‘n antieke historikus) se verslag van Alexander die Grote se ontmoeting met die hoëpriester is fassinerend - hier volg ‘n vertaling van dit wat Josefus geskryf het. Hierdie is ‘n historiese verslag en is nie in die Bybel nie.


Alexander het nadat hy Gasa ingeneem het, na Jerusalem opgetrek. Jaddua die hoëpriester, was, toe hy dit hoor, in angs en skrik, omdat hy nie geweet het hoe hy die Masedoniërs sou ontmoet nie, aangesien die koning ontevrede was oor sy vorige ongehoorsaamheid. Hy het daarom beveel dat die volk smekinge moes doen en saam met hom offers moes bring aan God, om hulle te beskerm en om hulle te verlos van die gevare wat oor hulle sou kom.


God waarsku die hoëpriester in 'n droom dat hy moet moed skep, die stad moet versier en die poorte moet oopmaak. Die mense moet saam met hom in wit klere verskyn, en hy en die priesters moet die koning ontmoet soos hul gewoont is volgens hulle orde, en sonder vrees vir enige slegte gevolge, want God sal hulle beskerm. Die hoëpriester het verheug uit sy slaap opgestaan ​en aan die volk die waarskuwings wat hy van God ontvang het, verkondig.


Toe die hoëpriester verneem dat Alexander nie ver van die stad was nie, het hy in ‘n optog uitgegaan saam met die priesters en ‘n menigte van die burgers.


Die Fenisiërs en die Chaldeërs wat Alexander gevolg het, was reg om die stad te plunder en die hoëpriester dood te maak, maar presies die omgekeerde het gebeur. Alexander sien die skare op 'n afstand met hul wit klere, die priesters geklee in fyn linne, en die hoëpriester in pers en bloedrooi klere, met sy tulband op sy kop en met die goue plaat waarop die naam van God gegraveer is.


Alexander het alleen nader gekom en eers die hoëpriester gegroet. Die Jode het ook almal saam, met een stem, vir Alexander gegroet en hom omsingel.


Die konings van Aram en die res was verbaas oor wat Alexander gedoen het, en gemeen dat hy in sy gemoed wanordelik was. Alexander se tweede in bevel het alleen na hom gegaan en hom gevra hoe dit gebeur het dat toe al die ander hom aanbid het, hy die hoëpriester van die Jode moes aanbid?


Waarop Alexander geantwoord het: ‘Ek het hom nie aanbid nie, maar die God wat hom met daardie hoëpriesterskap geëer het, want ek het juis die hoëpriester in 'n droom gesien, in hierdie einste gewaad, toe ek in Masedonië was.

Toe ek met myself oorweeg het hoe ek die heerskappy van Asië sou verkry, het ek myself vermaan om nie uit te stel nie, maar om met vrymoedigheid deur die see daarheen te trek, omdat hy my leër sou lei en my heerskappy oor die Perse sou gee.

Nadat ek oppad niemand anders in daardie gewaad gesien het nie, en nou hierdie persoon daarin sien, en my visioen en die vermaning wat ek in my droom gehad het onthou het, glo ek dat ek hierdie leër onder goddelike gedrag bring en daarmee vir Darius sal oorwin, en die mag van die Perse vernietig, en dat alles sal slaag volgens wat in my gedagtes is.’


Die hoëpriester het die boek Daniël aan Alexander gewys, waarin Daniël verklaar het dat  die Grieke die ryk van die Perse sou vernietig, en Alexander het geweet dat hy die persoon was wat hier bedoel is. Hierna het hy die Jode vriendelik behandel en die stad gespaar.


 

25 September  2024


SAGARÍA 9:9 AFR53

Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.


In teenstelling met Alexander die Grote sien Sagaria nou 'n ander Koning en Verlosser, 'n goddelike Prins, Israel se eie Koning.


Hierdie is die bekende profesie wat ons tydens Paasfees lees. Die paaslam word aan die priester voorgestel vir inspeksie.  Op die 10de dag van Nisan moet elke familie ‘n lam uitsoek. ‘n Lam vir elke huisgesin. Die dag, die 10de Nisan staan bekend as ‘lamb selection day’.


Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin.   EXODUS 12:3 AFR53


Jesus, ons Paaslam, stel Homself voor vir inspeksie op die 10de dag van Nisan met wat ons ken as ‘die intog in Jerusalem’, en vervul so die profesie van Sagaria 9:9 en die Daniel 9:25.


Na sy verowering van die Babiloniese Ryk het Alexander die Grote die Griekse taal deur die hele  wêreld van sy tyd bevorder, en dus het byna almal Grieks gepraat. Selfs onder die Jode het Hebreeus in onbruik verval en is hoofsaaklik vir seremoniële doeleindes gereserveer.


Om die Joodse geskrifte (wat ons die Ou Testament noem) aan die gemiddelde Joodse gelowige beskikbaar te stel, is 'n projek aangepak om die Hebreeuse geskrifte in Grieks te vertaal.


Sewentig geleerdes is opdrag gegee om hierdie werk te voltooi en die resultaat staan ​​bekend as die Septuagint vertaling van die Ou Testament en word dikwels as LXX afgekort.


Die boek Daniel in die Ou Testament is ook deel van die geskrifte wat in Grieks vertaal is, amper drie eeue voor Jesus se geboorte. Daniël was op sy oudag besig om die boek van Jeremia te lees, toe hy besef dat sy volk naby die einde van hul Babiloniese ballingskap was.


En hierdie hele land sal 'n puinhoop, 'n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.   JEREMIA 25:11 AFR53


Daniel is van toepassing as ons na vandag se vers kyk, want Daniel se 70 weke profesie vertel vir ons wanneer Jesus se inttog in Jerusalem sou plaasvind. Terwyl Daniel besig was om vir sy volk te bid het die engel Gabriël sy gebed onderbreek om vir hom ‘n kort profesie te gee met ‘n baie belangrike toekomstige uitkoms.


Die profesie het ‘n omvang van 70 weke. Daar is ‘n interval tussen weke 69 en 70, en week 70 is nog in ons toekoms.


Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.   DANIËL 9:24 AFR53


Sewentig sewetalle. Wat is ‘n sewetal? Die term word in Joodse tradisie vir dae of jare gebruik. In dié profesie word die sewetal as 7 jare gesien.


As ons nou somme maak is sewentig sewetalle = 70 x 7 jaar = 490 jaar. Dus, 490 jaar is bepaal vir die Joodse volk (Daniel se volk) en Jerusalem.


 

26 September  2024


DANIËL 9:25 AFR53

Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.



Die engel Gabriel gee vir Daniel tydmerkers sodat hy en ons kan weet en verstaan wanneer die 490 jaar gaan begin, en wat daarna gaan volg. Die typerk se beginpunt is wanneer koning Kores (Cyrus) ‘n bevel uitreik om Jerusalem te herstel en op te bou.


So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee, en Hý het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag die Here sy God met hom wees, en laat hom optrek!   II KRONIEKE 36:23 AFR53


Jerusalem se herstel het begin in die boek Esra met die bou van die tempel, en is voltooi met die bou van die muur in die boek Nehemia. Die tempel se bou het lank gevat as gevolg van vele teenkanting en in tye van benoudheid, maar die muur is in 52 dae voltooi. Jerusalem se herstel het volgens Daniel se profesie sewe sewetalle geneem, dus 7 x 7 jare = 49 jaar.


Die tydperk vandat die muur voltooi is totdat Jesus Jerusalem inry op ‘n donkie om as ‘n Vors gesalf te word is volgens Daniel se profesie twee-en-sestig sewetalle, dus 62 x 7 = 434 jare. Die intog van Jesus in Jerusalem word in Mattheus 21:6-9 vir ons gegee.


En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het; hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!    MATTHÉÜS 21:6-9 AFR53


Daniel verduidelik vêrder dat Jesus gaan sterf ná die twee-en-sestig sewetalle. Jesus, die Gesalfde, se intog in Jerusalem was vyf dae voor Hy gekruisig is.


En ná die twee-en-sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.   DANIËL 9:26 AFR53


Jerusalem (die stad) en die tempel (die heiligdom) is na Jesus se kruisiging in 70 AD verwoes deur die Romeine (volk van ‘n vors wat sal kom) wat daardie tyd aan bewind was. Al die gebeurtenisse is ná die twee-en-sestig sewetalle. Die woord oorstroming is ‘n aanduiding van die mag waarmee als vernietig is.


Die vers gee net vir ons ’n beginpunt nl. ná die twee-en-sestigsewetalle, maar koppel nie die verwoesting van die tempel en Jerusalem aan ‘n sewetalle tydperk nie.


Daniel se profesie het begin deur te verduidelik dat ons na 490 jaar se gebeure moet kyk. Tot dusver het ons 49 + 434 = 483 jaar. Ons kort nog 7 jaar om die 490 jare vol te maak. Daniel se profesie wys dat daar ‘n tussenpose is tussen Jesus se kruisiging en die sewe jaar wat nog moet gebeur. Die tussenpose is die tydperk waarin ons nou leef, die kerk tydperk.


 

27 September  2024


DANIËL 9:27 AFR53

En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.



Na die kerk tydperk is daar nog een week van jare oor wat vervul moet word. Hierdie laaste sewe jaar ken ons as die sewe jaar Verdrukking.


Die laaste 7 jaar (een week) moet nog gebeur. ….En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit - die vors wat sal kom, die Antichris, gaan vir een week of 7 jaar ‘n verbond met die Joodse volk sluit om die 3de tempel te bou.


Na drie en ‘n half jaar (helfte van die week) gaan die Antichris die verbond verbreek deur die offerhandes (slagoffer en spysoffer) te staak.


Jesus praat in Mattheus 24 met die dissipels en sê dat wanneer hulle die gruwel van verwoesting sien staan in die heiligdom of anders gestel, die tempel – soos deur Daniel voorspel – dan moet hulle vlug. Hier bevestig Jesus dus Daniel se profesie rakende die derde tempel en alles wat gaan gebeur.


Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;   MATTHÉÜS 24:15-16 AFR53


Die boek Openbaring gee vir ons ekstra inligting. Twee profete gaan vir 1,260 dae of 3,5 jaar lank gedurende die eerste helfte van die Groot Verdukking profeteer. Ek gee die vers om die dae uit te lig wat die eerste helfte van die Groot Verdukking bevestig. Daniel het vir ons geleer dat na die 1,260 dae, die offerhandes in die tempel tot ‘n einde gaan kom.


En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.   OPENBARING 11:3 AFR53


Openbaring 12:6 verwys na die 1,260 dae of 3,5 jaar van die tweede helfte van die Verdrukking.

Die vrou is ‘n voorstelling van die volk Israel wat vlug na die woestyn om te skuil in ‘n plek wat God vir hulle gereed gemaak het om hulle te onderhou vir 1,260 dae. (Ons het al gesien dat die plek Petra is.)


En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.   OPENBARING 12:6 AFR53


Sagaria 9:9, met die inttog in Jerusalem, vertel van gebeure tydens Jesus se eerste koms. Sagaria 9:10 spring na Jesus se tweede koms wanneer Hy in krag en heerlikheid gaan kom om vir een duisend jaar oor die ganse aarde te heers. Ons is tans tussen die twee verse.


En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.   SAGARÍA 9:10 AFR53


Wanneer Jesus na die Verdrukking regeer, sal die hele aarde sal onder Sy gesag wees. Hierdie spreek van die tyd waarna baie verwys as die Millennium, die duisendjarige heerskappy van Jesus op hierdie aarde.


 

28 September  2024


SAGARÍA 9:11 AFR53

Ook sal Ek, wat jou betref, o Sion, kragtens die bloed van jou verbond jou gevangenes loslaat uit die put sonder water.


Gevangenes in antieke tye was dikwels in droë putte aangehou soos Josef toe sy broers hom in ‘n put gegooi het. Die ballinge van Israel - uitgebeeld in 'n sisteem van gevangenskap, lyding en wanhoop, sou bevry word as gevolg van God se onverbreekbare verbond met hulle.


Wat is ‘n verbond! - ‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of ‘n kontrak tussen twee partye. Daar is twee basiese soorte verbonde: voorwaardelik en onvoorwaardelik.


‘n Voorwaardelike verbond is ‘n ooreenkoms wat bindend is op beide party en hulle kom ooreen om aan sekere voorwaardes te voldoen. As een van die partye nie hul verantwoordelikhede nakom nie, word die verbond verbreek en hoef geen van die partye die verwagtinge van die verbond na te kom nie. ‘n Onvoorwaardelike of eensydige verbond is nog steeds ‘n ooreenkoms tussen twee partye, maar slegs een van die twee partye moet iets doen. Niks word van die ander party vereis nie.


En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:1-3 AFR53


Die drie verse wat ons hier lees is God se verbond met Abram. Hierdie is ‘n ewige verbond wat God met Abram gesluit het en is vandag nog geldig. Die verbond bestaan uit drie dele, grondgebied, ‘n groot nageslag en ‘n seëning.


Die belofte van grondgebied:  God sê vir Abram dat al die land wat hy sien aan hom en sy nageslag gegee word, en die grond word gegee tot in ewigheid. Dit beteken tot in ewigheid, tot aan die einde van tyd!


want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.  GÉNESIS 13:15 AFR53


Dit is ‘n spesifieke stuk grond, ‘n werklike eiendom, met afmetings wat gespesifiseer word.


Op dié dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.  GÉNESIS 15:18-21 AFR53


Die belofte van ‘n groot nageslag:  Die tweede gedeelte van die verbond met Abram is ‘n belofte van ‘n groot nageslag. God lei vir Abram na buite en sê vir hom sy nageslag sal wees soos die sterre in die hemel of die stof van die aarde.


Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.  GÉNESIS 15:5 AFR53


En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.”  GÉNESIS 13:16 AFR53


Die belofte van seëninge: Die derde gedeelte van die verbond met Abram is ‘n belofte van seën en verlossing. Al die geslagte van die aarde sal deur Abram geseën word. Hierdie belofte vind sy vervulling in die Nuwe Verbond of NuweTestament wat deur Jesus bekragtig is.


Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.   GALÁSIËRS 5:1 AFR53


 

29 September  2024


SAGARÍA 9:12 AFR53

Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan dat Ek jou dubbel sal vergoed.


Daar is ‘n skerp kontras tussen die vesting hier en die gevangene put van die vorige vers. God sal Sy verbond met Sy volk nakom en hulle bevry. God se volk sal terugkeer na hul veilige vesting.


God se volk sal ook dubbel vergoed word. ‘n Dubbel porsie word tradisioneel aan die eersgeborenes gegee - die eersgeboortereg.


Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom 'n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.   DEUTERONÓMIUM 21:17 AFR53


God se eersgebore seun is Israel en daarom kry hulle ‘n dubbel porsie.


Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die Here: My eersgebore seun is Israel.   EXODUS 4:22 AFR53


God gaan voort om die beloofde seëninge in detail te verduidelik. Hierdie is gedeeltelik vervul in die dae van die Makkabeërs, toe God Jode opgewek het, Juda en Efraim die verenigde volk, om teen die opvolgers van Alexander se Ryk te veg. Nietemin blyk dit dat die uiteindelike vervulling van hierdie belofte nog moet kom.


Want Ek span Juda vir My as boog, lê Efraim as pyl daarop; en Ek vuur jou seuns, o Sion, aan teen jou seuns, o Jawan, en Ek maak jou soos die swaard van 'n held.   SAGARÍA 9:13 AFR53


God maak dit duidelik wie die stryd voer: Die Here hulle God sal hulle in dié dag red. Dit is God se stryd, nie die mens se stryd nie.


Die ramshoring of basuin word as waarskuwing geblaas om ‘n alarm te maak vir wanneer daar gevaar is.


Dan sal die Here oor hulle verskyn, en soos weerlig sal sy pyl uitskiet; en die Here Here sal met die basuin blaas en intrek met die storms uit die suide.   SAGARÍA 9:14 AFR53


Die Here sal Sy volk beskerm en verlos van hul vyande.


Die Here van die leërskare sal hulle beskut; en hulle sal verslind, ja, slingerstene vertrap; ook sal hulle drink, 'n gedruis maak soos deur wyn en vol wees soos die offerkomme, soos die hoeke van 'n altaar. En die Here hulle God sal hulle in dié dag verlos as die kudde wat sy volk is; want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor sy land. Want hoe groot is hulle voortreflikheid, en hoe groot hulle skoonheid! Die koring laat jongmanne en die mos jongedogters groei.   SAGARÍA 9:15-17 AFR53


 

30 September 2024


SAGARÍA 10:1 AFR53

Bid tot die Here om reën in die tyd van die laat reëns; die Here maak die weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.


Besproeiingstelsels is ‘n heedendaagse luukse wat nie in die Bybelse tyd bestaan het nie. Die mense moes op reën staatmaak om hul oeste nat te maak, die vroeë reëns en die laat reëns.

Gehoorsaamheid aan God het reën vir hul oeste gewaarborg, maar ongehoorsaamheid het droogte meegebring.


As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word.   DEUTERONÓMIUM 11:13-15 AFR53


Skaarste aan reën is een van die vloeke in die Verdrukkingstydperk.


Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.   OPENBARING 11:6 AFR53


Die Hebreeuse woord vir afgode hier is terafim, wat algemene huishoudelike afgode beteken. Waarsêers het die geeste van afgode geraadpleeg om die toekoms te voorspel. God waarsku Sy volk dat daar geen werklike hulp van afgode of hul verteenwoordigers is nie.


Want die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig nietige drome, hulle troos met wind. Daarom het hulle weggeswerwe soos 'n kudde; hulle verkeer in verdrukking, omdat daar geen herder is nie.   SAGARÍA 10:2 AFR53


In genade sou God Sy volk verander van 'n trop skape na pragtige oorlogsperde, gereed vir die stryd. Almal van hulle sal soos helde wees en hulle vyande verslaan.


Teen die herders het my toorn ontvlam, en oor die voorbokke sal Ek besoeking bring; want die Here van die leërskare gee ag op sy kudde, op die huis van Juda, en maak hulle tot sy pragtige perd in die stryd.   SAGARÍA 10:3 AFR53


Al was God ontevrede met Israel se leiers, sou Hy die volmaakte Herder uit Juda en vir Juda oprig.


Uit hom sal die hoeksteen, uit hom die muurpen, uit hom die strydboog, uit hom die heersers almal saam uitgaan.   SAGARÍA 10:4 AFR53


Jesus is die hoeksteen - Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;   I PETRUS 2:4 AFR53


Jesus is die tentpen, Hy hou alles veilig vas - En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader.   JESAJA 22:23 AFR53


Jesus is die strydboog, 'n sterk vegter ten goede - En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.   OPENBARING 19:15 AFR53


Jesus is die leier oor elke heerser van Sy volk - En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.   OPENBARING 19:16 AFR53


 

1 Oktober 2024


SAGARÍA 10:5 AFR53

En hulle sal wees soos helde wat in die oorlog die modder van die strate vertrap; en hulle sal veg, want die Here is met hulle; en die ruitery sal beskaamd uitkom.


Die Jode onder leiding van hul owerstes, op die stadium die Makkabeërs, sal soos helde wees, soos dapper magtige krygers sal hulle die vyandige stede inneem en diegene wat hulle teëstaan ​​verslaan, en die verowerdes soos modder op die strate vertrap - want God is met hulle.


Die belofte uit die voorafgaande gedeelte word meer intens herhaal. God sal Israel red en seën en hulle genadig wees. Hierdie seën sal al die stamme insluit, Juda en die huis van Josef (dié Noordelike Koninkryk).


En Ek sal die huis van Juda sterk maak en aan die huis van Josef hulp verleen en hulle 'n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God, en Ek sal hulle verhoor.   SAGARÍA 10:6 AFR53


God sal nie net krag aan Israel gee nie, maar ook vreugde. Hul gevoel van nederlaag en swakheid sal met blydskap vervang word.


En Efraim sal wees soos 'n held, en hulle hart sal vrolik wees soos deur wyn, en hulle kinders sal dit sien en hulle verbly, hulle hart sal juig in die Here.   SAGARÍA 10:7 AFR53


Die verstrooide mense sal uit alle dele van die wêreld versamel word en in hulle eie land woon onder God se beskerming. God se volk sal weer vermeerder soos in hul tyd in Egipte toe die Farao bang geword het vir die menigte.


Ek wil vir hulle fluit en hulle vergader, want Ek het hulle losgekoop; en hulle sal net so talryk wees soos tevore.   SAGARÍA 10:8 AFR53


Al was Israel onder die nasies verstrooi, sal hulle aan God dink in hul ver lande en na Israel terugkom.


Baie Jode het in die 20ste eeu na Israel teruggekeer en in 1948 het Israel weer ‘n nasie geword - na meer as 2 000 jaar wat hul deur die wêreld gewoon het.


Vervul die 20ste-eeuse terugkeer na Israel hierdie profesie? Net gedeeltelik, want Israel sal weer in geloof ook terugkeer. Die terugkeer het in ongeloof begin, maar sal eindig in geloof en vertroue in Jesus.


En Ek sal hulle saai onder die volke, en in die verafgeleë streke sal hulle aan My dink; en hulle sal saam met hul kinders in die lewe bly en terugkom. En Ek sal hulle terugbring uit Egipteland en uit Assur hulle vergader en hulle na die land Gílead en die Líbanon bring; maar dit sal vir hulle nie voldoende wees nie. En Hy sal deur die see van benoudheid trek en die golwe in die see slaan, en al die dieptes van die Nyl sal opdroog; ook sal die trotsheid van Assirië neergewerp word, en die septer van Egipteland wyk.   SAGARÍA 10:9-11 AFR53


Wanneer God Israel bymekaarmaak en hulle vyande verslaan, sal hulle weer in vryheid woon. Dit sal wees soos 'n nuwe uittog uit Egipte, volledig met wonderwerke soos God destyds gedoen het.


En Ek sal hulle sterk maak in die Here, en hulle sal in sy Naam wandel, spreek die Here.   SAGARÍA 10:12 AFR53


 

2 Oktober 2024


SAGARÍA 11:1 AFR53

Open jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer!


Die profesieë van hierdie hoofstuk is gegee lank na die voltooiing van die Tempel van Serubbabel, en spreek kommer oor die meer verre toekoms van die profeet aan. Daar sal 'n verstrooiing van die volk wees selfs ná Sagaria se tyd.


Hierdie hoofstuk verduidelik waarom die seëninge en beloftes van die vorige hoofstuk vir Israel tot niet gaan. Deur hul ware Messias, die goeie Herder, met Sy eerste koms te verwerp, sal hulle self verwerping ervaar, wat 'n hoogtepunt bereik wanneer hulle die vals herder, die Antichris, aanvaar.


Al die gepaardgaande donker en droewige storms is 'n noodsaaklike voorspel tot die tweede koms van Israel se Verlosser en Koning wat die Duisendjarige Koninkryk inbring.


Libanon het in die pad van indringers uit die noorde gestaan, vanwaar die meeste vyandige leërs Israel aangeval het. Die deure van Libanon is die bergpasse tussen Libanon en Israel. Die sederbome illustreer Libanon se krag. Sodra hulle val, sal die kleiner sipres en eikeboom woude ook vernietig word, en daarom huil hulle ook. Hierdie profesie het sy vervulling in die Romeinse veldtog teen Juda in 70 n.C. toe hulle die tempel en Jerusalem vernietig het.


Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is! Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is. Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor! die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes.   SAGARÍA 11:2-3 AFR53


Sommige geleerdes dink dat Sagaria hierdie profesie soos ‘n toneelspel moes opvoer.  Hy was letterlik die herder van 'n trop skape wat die volk van God verteenwoordig het. Sagaria verteenwoordig God wat Sy kudde vir 'n seisoen van oordeel uitsonder.


So sê die Here my God: Wees herder van die slagskape —.  SAGARÍA 11:4 AFR53


Slagskape word groot gemaak om geslag en geëet te word. God se volk is egter hier die slagskape en hul leiers stuur hulle om geslag te word sonder om skuldig te voel. Al wat die leiers kan sien is die wins wat hulle maak, en hulle is nog vermetel genoeg om God vir hul winste te dank.


hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê: Geloofd sy die Here; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle nie.   SAGARÍA 11:5 AFR53


Sagaria se profesie gaan in teen alles wat ons geleer het. God gaan Sy volk verwerp en geen medelye meer met hulle he nie. Hierdie is deel van God se verbond met Moses waar elke party sy kant moet bring. Die volk verlaat God en daarom verlaat God Sy volk en gee hulle oor aan hul koning.


Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek die Here; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle hand nie red nie.   SAGARÍA 11:6 AFR53


Wie sal hul koning wees as dit nie God is nie? Kom ons kyk wat was die owerpriesters se antwoord toe Pilatus ‘n laaste skuiwergat gesoek het om Jesus los te laat en dan kan ons verstaan hoekom hulle aan die Romeine oorgegee is.


Maar hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe die keiser nie.   JOHANNES 19:15 AFR53


 

3 Oktober 2024


SAGARÍA 11:7 AFR53

En ek het die slagskape — waarlik ellendige skape! — opgepas; en ek het vir my twee stawwe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas.


Sagaria die skaapherder het twee stawwe. Dawid verduidelik in Psalm 23 die stok en die staf.


Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.   PSALMS 23:4 AFR5


’n Herder het in Bybeltye ’n stok en ’n staf gedra om sy skape te beskerm. Die stok was soos ‘n knuppel - 'n kort, dik, swaar stok wat hy aan sy gordel gedra het. Die staf was 'n lang, liggewig paal met 'n geboë einde wat die herder gebruik het om die skape aan die einde van elke dag te tel en te ondersoek wanneer hulle teruggekeer het na die kraal.


Sagaria se stawwe het elkeen ‘n naam: lieflikheid en samebinding.


Lieflikheid beteken God se guns, Sy sagmoedigheid of goedertierenheid teenoor Sy volk.


Samebinding beteken die vereniging van al die lede van die kudde, veral Israel en Juda. Hulle word een kudde onder een Herder.


Sagaria hier, wat Christus die ware Herder verteenwoordig, sê, hy sal sy amp betree en die kudde wat vir die slagting bestem is, oppas.


Die eerste koms van die Messias sou as 'n skok vir Sy volk kom, want Hy sou Jerusalem binnegaan, nie soos 'n koning, hoog op 'n wit perd nie, maar nederig op ‘n esel.


Byna 550 jaar later, op wat nou Palmsondag genoem word, het Jesus Christus hierdie profesie vervul deur Sy triomfantelike intog in Jerusalem te maak op 'n jong vul. Die Here hulle God het gekom om hulle in daardie dag te red. As Sy volk Hom net in geloof as Verlosser sou aanneem, sou die Messias verlossing neerstort soos die laat reëns en die mense bemagtig soos magtige manne.


Helaas! Die mense, onder lyding van hul leiers, het die Messias verwerp. Hulle groet van Hosanna in die hoogste!, het een week later ontaard in die harde krete van Kruisig hom! Kruisig Hom! Deur hul beloofde Messias te verwerp, het die leiers die lot van die Joodse staat verseël. Hulle het Hom verwerp en Hy het hulle verwerp.


En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het.   SAGARÍA 11:8 AFR53


God het 'n verbond met die volke van die aarde gesluit ten opsigte van Sy eie volk Israel, en hulle onder bedwang geplaas dat hulle nie vir Israel kwaad sou aandoen nie.


En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:3 AFR53


Toe hierdie beperking verwyder is, het die Romeine in 70 n.C. die volk se stad en ekonomie vernietig. Nóg Alexander, nóg Antiochus Epiphanes, nóg Pompeius is in Sagaria se verlede toegelaat om xie Israeliete ​​te vernietig.


Maar, omdat die volk van God onderworpe is aan Moses se verbond om God te bly dien, en hulle Sy Seun, waarvan al die profete gepraat het, verwerp het, het die Romeine vrye teuls gekry om die tempel en Jerusalem te vernietig


Weereens gebruik God ‘n heiden nasie om Sy volk te straf. Maar, moet nie moed verloor nie, want God is nog lank nie klaar met Sy volk nie!


 

4 Oktober 2024


SAGARÍA 11:9 AFR53

Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie — wat sterwend is, laat sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar se vleis verslind!


Die Herder onttrek Hom van Sy tradisionele sorg. Verlore en verwerp deur die Goeie Herder, word die skape blootgestel om deur hul vyande vernietiging te word.


Op die negende en tiende van die maand Av in die jaar 70 n.C., het die Romeinse leër in Jerusalem deur die toring van Antonia deurgebreek, die Heilige Tempel verower, en dit aan die brand gesteek.


In die verkoolde oorblyfsels van die heiligdom lê meer as net die ruïnes van die groot Joodse opstand vir politieke onafhanklikheid. Vir baie Jode het dit geblyk dat Judaïsme self onherstelbaar vernietig was.


Uit die ongeveer vier tot vyf miljoen Jode in die wêreld het meer as 'n miljoen vir hul onafhanklikheid gesterf in daardie vreeslike oorlog. Baie het gesterf van hongersnood, ander het verbrand of is gekruisig.


Soveel Jode is in slawerny verkoop en aan die gladiator arena's en sirkusse oorgegee dat die prys van slawe vinnig gedaal het, wat die antieke vloek vervul het:


En die Here sal jou op skepe na Egipte terugbring, op die pad waarvan ek vir jou gesê het: Jy sal dit verder nie meer sien nie; en daar sal julle aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop word, maar daar sal geen koper wees nie.   DEUTERONÓMIUM 28:68 AFR53


God se geduld het uiteindelik opraak en Sy genade en barmhartigheid sal teruggetrek word. Sy beloftes aan Sy volk was afhanklik van hul gehoorsaamheid.


Belangrik om te besef dat die onvoorwaardelike verbond wat God met Abraham gesluit het, nie hier van toepassing is nie.  Ons het hier te doen met die goddelike beperking op die nasies wat die vernietiging van Israel verhoed.


Die beperking wat opgehef is, het oorlog, ballingskap, die vernietiging van die koninkryk en die onderwerping van Israel aan nie-Joodse nasies tot gevolg.


Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek met al die volke gesluit het, te verbreek.   SAGARÍA 11:10 AFR53


Dit was die getroue oorblyfsel wat geweet het dat selfs hierdie harde woorde, van God was.


En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat op my ag gegee het, bemerk dat dit 'n woord van die Here was.   SAGARÍA 11:11 AFR53


 

5 Oktober 2024


SAGARÍA 11:12 AFR53

Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer.


Sagaria wat besig is om sy profesie op te voer, praat in die persoon van die groot Herder. Hy gee vir die volk ‘n laaste geleentheid om hul dankbaarheid te toon vir die sorg wat aan hulle gegee is, en hul waardering te toon vir God se teerheid en liefde.


Die loon waarna God soek is bekering, geloof, gehoorsaamheid, of anders gesien, hulself, hul lewe en hul siele. Dit was ter wille van hulself dat Hy dit vereis het, nie vir Homself nie. Indien hulle dit nie wou gee nie, kon hulle dit maar laat staan. Sagaria praat met verontwaardiging, want hy is bewus van hul ondankbare minagting.


Betaal My wat Ek verskuldig is, of betaal My nie. Ek laat dit aan julle oor om te besluit. Ek plaas geen beperking op julle nie. So gee God vir elkeen 'n vrye wil, ons kan Sy versoek of ontvang, of verwerp, soos ons wil.


Hierdie gedeelte spreek profeties van Jesus wat minagtend verraai is vir dertig silwerstukke  – die prys van 'n slaaf.


Judas, een van die twaalf, vra die owerpriesters vir sy loon om Jesus oor te lewer - hulle betaal hom met dertig silwerstukke, net soos Sagaria geprofeteer het.


Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.   MATTHÉÜS 26:14-15 AFR53


Ons lees in Exodus dat wanneer ‘n bees ‘n slaaf doodmaak, dan moet dertig sikkels silwer aan die slaaf se eienaar betaal word as vergoeding vir die slaaf, en dan moet die bees gestenig word.


As die bees 'n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.   EXODUS 21:32 AFR53


Die wêreld wat Jesus gekruisig het, en op Hom neersien, sal met Sy tweede koms net soos die beeste in Exodus gestenig word met haelstene wat ongeveer vyftig kilogram weeg.


en groot hael, omtrent 'n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.   OPENBARING 16:21 AFR53


Verse 12 en 13 gee vir ons een van die merkwaardigste profesieë in die Bybel. Vir Sagaria is dit ‘n toneelstuk wat ‘n profesie uitbeeld. Vir Jesus, die hoofkarakter van die profesie, was dit die hoogtepunt van hoekom hy aarde toe gekom het. Om gekruisig te word sodat Sy bloed vir elkeen van ons se sondes kon betaal.


Die profesie het vier hoogtepunte:


1) Die prys betaal: 30 stukke silwer

2) Die plek van die transaksie: die Tempel

3) Die uiteindelike ontvanger: 'n pottebakker

4) Die aard van die transaksie: bloed gegee as koopprys


 

6 Oktober 2024


SAGARÍA 11:13 AFR53

Hierop sê die Here vir my: Gooi dit vir die pottebakker — die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.


Sagaria is nog steeds besig om die profesie op te voer en God sê vir hom dat hy die dertig sikkels silwer wat hy ontvang het vir die pottebakker moet gooi.


Sagaria neem die dertig sikkels silwer en gooi dit in die tempel vir die pottebakker.


Hierdie profesie neem ons direk terug na Mattheus wat skryf van Judas se verraad teen Jesus. Judas het berou gekry, of eerder, hy was spyt oor wat hy gedoen het, en het toe die silwerstukke teruggebring vir die owerpriesters.


Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge.  MATTHÉÜS 27:3 AFR53


Dit is interessant dat bloed in die Bybel altyd gekoppel word aan silwer. Loskoopgeld was in Moses se tyd altyd silwer. Die tabernakel se buitemuur was gebou op koper voetstukke, maar die tempel self, wat Jesus voorstel, was gebou op silwer voetstukke. Jesus se bloed wat vir ons sondes betaal het.


Nou verklaar Satan se eie werker, Judas, dat hy onskuldige bloed verraai het, dat Jesus onskuldig was. Hy wil die silwerstukke vir die owerstes teruggee, maar hulle soek dit nie. Toe gooi Judas dit in die tempel in en hang homself op.


en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!  En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.   MATTHÉÜS 27:4-5 AFR53


Dit was die owerpriesters nie geoorloof om die geld in die tesourie te plaas nie aangesien dit bloedgeld was, maar niks het hulle verhinder om toekomstige uitgawes daarmee vooruit te betaal nie.


Dit was die plig van die owerstes om vreemdelinge te begrawe wat in hul gebied gesterf het, en hierdie geld sou goed gebruik kon word om sulke onbeplande uitgawes te betaal.


En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.

MATTHÉÜS 27:68 AFR53


Nou sê Mattheus dat die woord vervul is wat deur Jeremia gespreek is. Dit kan tog nie wees nie, want ons het gesien dat Sagaria hierdie profesie gegee het.


Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel;   MATTHÉÜS 27:9 AFR53


Daar is drie oplossings: 1) Sommige dink dit is 'n fout, maar nie deur Mattheus nie - 'n vroeë kopieerder het moontlik 'n fout gemaak. 2) Ander dink dat Jeremia hierdie profesie gespreek het en Sagaria het dit opgeteken, en dan 3) dat Mattheus verwys na die boekrol van Jeremia, wat die boek Sagaria ingesluit het.


 

7 Oktober 2024


SAGARÍA 11:14 AFR53

Toe het ek my tweede staf, Samebinding, verbreek, om die broederskap tussen Juda en Israel te verbreek.


Die breek van die eerste staf het aangedui dat God Sy verdedigende sorg van Sy volk teruggetrek het. Die breek van die tweede staf wat samebinding genoem word, dui op die algehele verbreking van alles wat die nasie bymekaar gehou het.


As jy die val van Jerusalem in 70 n.C. bestudeer, is een van die groot bydraende rampe wat tot hul ondergang gelei het, die interne gevegte onder mekaar, en dit is wat Sagaria gesien het met die broederskap wat tussen Juda en Israel verbreek sou word. Vêrder sou die Romeine hul verban uit Jerusalem en oor die hele wêreld verstrooi, en dit ken ons as die diaspora.


Die voorafgaande verse val nie maklik op die oor nie, maar ons moet altyd in ag neem dat die Joodse nasie na 70 n.C. tydelik verblind is todat die volheid van die heidene ingaan.


Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;  en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; ROMEINE 11:25-26 AFR53


Paulus sê dieselfde as wat Daniel in hoofstuk 9 gesê het. Daar is ‘n tussenpose vandat die tempel afgebrand en Jerusalem verwoes is tot en met die einde van wat ons nou beleef as die kerktydperk. Paulus sê die einde breek aan wanneer die volheid van die heidene ingaan en Daniel sê dit breek aan met die begin van die laaste sewe jaar wanneer die Jode ‘n verbond sluit met die persoon wat hulle toelaat om hul tempel te bou.


Die volheid van die heidene is wanneer die laaste heiden persoon op aarde Jesus as Verlosser aanvaar. Ons het geleer dat die Wegraping dan plaasvind en die Sewe jaar Verdrukking begin.


Jesaja en Jesus gee ook vir ons ‘n blik op die kerktydperk. Toe Jesus Sy bediening begin het, het Hy in die tempel opgestaan en uit die boekrol van Jesaja gelees.


Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.   LUKAS 4:18-19 AFR53


Jesus het egter net die eerste gedeelte van Jesaja se profesie gelees: - Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.  LUKAS 4:21 AFR53


Jesaja se profesie lees as volg: Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here             en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;   JESAJA 61:1-2 AFR53


Ek het ‘n paar ekstra spasies gesit tussen die 1ste en 2de gedeeltes. Dit wat Jesus gelees het is in Sy dag vervul. Jesaja se profesie se 2de gedeelte word eers vervul met Jesus se tweede koms.

Die tydperk tussenin is die kerktydperk.


Ons sien nou ook die kerktydperk tussen verse 14 en 15 van Sagaria se profesie. Van die diaspora van die Joodse volk tot en met hul aanvaarding van die dwase herder.


 

8 Oktober 2024


SAGARÍA 11:15 AFR53

Daarop sê die Here vir my: Neem weer vir jou die gereedskap van 'n herder, van 'n dwase.   


Nou moet Sagaria 'n dwase herder wees in die profetiese toneelspel. ‘n Herder wat nie omgee vir sy skape nie. Jesus het Sy mense gewaarsku, maar hulle gaan nie luister nie.


Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem.   JOHANNES 5:43 AFR53


Die herder wat in die eindtye as leier sal regeer se eienskappe word nou deur Sagaria gelys.


Want kyk, Ek sal 'n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie; en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy eet en selfs hulle kloue afruk.   SAGARÍA 11:16 AFR53


Die dwase herder wat deur Israel omhels is, is gedeeltelik vervul in hul keuse van Barabbas,

Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas!   MATTHÉÜS 27:21 AFR53


maar sal uiteindelik vervul word in hul aanvaarding van die Antichris en hulle verbond met hom.

En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.   DANIËL 9:27 AFR53


Die woordjie ‘wee’ waarmee vers 17 begin getuig van die komende oordeel. Die slegte herder wat sy skape in die steek laat blyk die komende wêreldleier te wees.


Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal verduister word!   SAGARÍA 11:17 AFR53


Die slegte herder gaan volgens Daniel in die eerste deel van die 70ste week ‘n verbond sluit met God se mense en hul toelaat om hul tempel te bou. Israel sal glo dat hulle uiteindelik vrede ontvang het. Maar, halfpad deur die sewe jaar sal die slegte herder so magtig voel dat hy homself in die tempel sal opstel om aanbid te word. Dit is die gruwel van verwoesting waarvan Jesus gewaarsku het.


Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —.  MATTHÉÜS 24:15 AFR53


Hierdie vers gee ook vir ons ‘n fisiese beskrywing van die Antichris wat ons weer in Openbaring raaklees. Hy het ‘n swaardwond aan sy kop.


En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.   OPENBARING 13:14 AFR53


Kan die gestremde arm en regteroog 'n oorblyfsel van hierdie kopwond wees? Kan dit wees waarom sy lojale volgelinge sy merk op hulle regterhand of voorkop ontvang?


En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;   OPENBARING 13:16 AFR53


 

9 Oktober 2024


SAGARÍA 12:1 AFR53

Godspraak. Die woord van die Here oor Israel. Die Here spreek, wat die hemele uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:


Die gedeelte begin met lofprysing vir God se skeppingskrag en herinner ons daaraan dat Hy in beheer is. Net soos God die hemele en die aarde geskape het en die gees van lewe in die mens ingeblaas het, net so sal Hy al Sy beloftes nakom aangaande die toekomstige bevryding van Sy uitverkore volk, Israel.


God sê dat Jerusalem in 'n komende dag die omliggende volke sal bedwelm en verdoof. Die Arabiese volke rondom Jerusalem het 'n onverklaarbare passie om die stad te besit wat nie deur die geskiedenis geregverdig kan word nie.


Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot 'n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem.   SAGARÍA 12:2 AFR53


‘In die dag’ beteken dieselfde as ‘die dag van die Here’ wat deurgaans deur die profete uitgelig word.


‘n Swaar klip is letterlik ‘n swarigheid wat oor die nasies gaan kom wat Jerusalem sal probeer oorwin. Diegene wat God se stad wil verwoes sal self verwoes word.


Al die mense van die aarde beteken letterlik die hele wêreld wat teen Jerusalem in opstand sal kom. Ons hoef net na vandag se nuus te kyk om te sien hoe groepe mense in elke nasie op aarde teen Israel protesteer.


En in dié dag maak Ek Jerusalem tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.   SAGARÍA 12:3 AFR53


Dieselfde drie plae van Deuteronomium 28:28 sal in die dag, Jerusalem se vyande besoek.


Die Here sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring,   DEUTERONÓMIUM 28:28 AFR53


Die oorwinning sal bonatuurlik wees.


In dié dag, spreek die Here, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek al die perde van die volke met blindheid slaan.   SAGARÍA 12:4 AFR53


God bemagtig Israel en oorweldig hul vyande.


Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem is vir my 'n sterkte deur die Here van die leërskare, hulle God.   SAGARÍA 12:5 AFR53


Al kom die nasies met woede teen Jerusalem en Israel, sal God haar beskerm. Dit sal 'n uiteindelike vervulling vind in die Slag van Armageddon, maar ons kan enige dag nou 'n vroeëre vervulling sien.


 

10 Oktober 2024


SAGARÍA 12:6 AFR53

In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos 'n pan met vuur onder 'n hoop hout en soos 'n brandende fakkel onder gerwe — hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem.


In daardie dag sal God Israel nie net verlos deur Sy direkte werke nie, maar ook deur die seën en bemagtiging van beide die leiers en inwoners van Jerusalem. Hulle sal bonatuurlik deur God bemagtig word om die stad te verdedig.


God sal eers die tente van Juda red, die Jode wat in ander dele van die land in tente woon sonder beskermende mure. Hulle sal uit die hand van die vyand gered word, voordat die inwoners van Jerusalem gered sal word, en op so 'n wyse, dat dit sal blyk dat hul redding van God alleen is.


Eers die swakkes dan die sterkes, sodat die heerlikheid van die huis van Dawid en die heerlikheid van die inwoners van Jerusalem hulle nie Juda sal oortref nie.


En die Here sal eers die tente van Juda verlos, sodat die roem van die huis van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem dié van Juda nie sal oortref nie.   SAGARÍA 12:7 AFR53


God sal die inwoners van Jerusalem in die dag, wonderbare krag en moed gee, sodat die swakstes onder hulle 'n held sal wees soos Dawid, wat die leeu en die beer doodgemaak en die reus oorwin het en die huis van Dawid sal toegerus wees met bonatuurlike mag en krag.


In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos 'n hemelse wese, soos die Engel van die Here voor hulle uit.   SAGARÍA 12:8 AFR53


Dan sal die daglig verskriklik donker word. Die Messias verklaar: In dié dag sal Ek al die nasies vernietig wat teen Jerusalem optrek.  En so doen Hy! Die Heiland sal soos 'n brullende leeu uit die Hemel neerdaal, met Sy leërs soos 'n vloed agter Hom.


Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg.   SAGARÍA 12:9 AFR53


God het ook geestelike doelwitte wat in Israel bereik moet word. Die nasie is nog nie op ‘n plek van gehoorsaamheid en vertroue in hul Messias nie. Sagaria stel nou in helderheid en krag, soos nêrens anders in die Skrif, die bekering van Israel voor. Dit moet nog gebeur.


Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.   SAGARÍA 12:10 AFR53


Elke persoon wat steeds teen die aanslag staan, sal die Messias erken as Jesus Christus, die Een wat sowat 2 000 jaar vroeër met spykers aan die kruis buite die mure van Jerusalem deurboor is. As hulle net toe vir Jesus as Koning aangeneem het, sou twee millennia van verskriklike lyding vermy gewees het. En so sal die volk ween en treur, selfs met hul redding op hande.


 

11 Oktober 2024


SAGARÍA 12:11 AFR53

In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo.


Die bekering wat in die dag na Israel kom, sal soos 'n groot rou wees, die uiteindelike vervulling van die Versoendag, die dag van nasionale rou oor hulle grootste sonde – om Jesus te verwerp.


Die historiese ramp waarna verwys word, is koning Josia wat deur Farao Nego doodgemaak is. Hy was so 'n godvresende koning dat die hele volk bitterlik gehuil het oor sy dood.


In sy dae het Farao Nego, die koning van Egipte, teen die koning van Assirië opgetrek na die Eufraatrivier; en koning Josía het hom tegemoetgetrek, maar dié het hom gedood by Megíddo net toe hy hom sien.   II KONINGS 23:29 AFR53


Die land, nie net Jerusalem nie, maar die hele land sal rouklaag, elke gesin in die land. Die rou moet na elke individu van elke gesin strek. Eers word die koninklike familie genoem om aan te toon dat niemand, maak nie saak van watter stand hul afkomstig is, van hierdie rou vrygestel is nie.


Die koningsgeslag wat hier gelys word om ook te rou is die afstammelinge van Dawid, die koning en Natan sy jongste seun. Natan is deel van die familielyn wat Lukas in die geslagsregister van Jesus gebruik het.


En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik;  SAGARÍA 12:12 AFR53


Na die konings se afstammelinge volg die priesters se afstammelinge wat ook moet rou en daar word begin met die huis van Levi.


die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.  SAGARÍA 12:13 AFR53


Simeï se vader was Gerson en sy oupa was Levi volgens die geslagsregister in Numeri.


En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári. En dit is die name van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte: Libni en Símeï.   NÚMERI 3:17-18 AFR53


Dan word al die ander geslagte genoem om ook aan die rouproses deel te neem.


Al die ander geslagte — elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.   SAGARÍA 12:14 AFR53


Intense hartseer, privaat en publiek, nasionaal en individueel, persoonlik en as ‘n familie.


Israel sal leer van die vergifnis van hul sondes deur te kyk na hul verwerpte en deurboorde Messias, die gekruisigde Verlosser van sondaars.


Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. JOHANNES 3:16 AFR53


 

12 Oktober 2024


SAGARÍA 13:1 AFR53

In dié dag sal daar 'n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.


Sagaria 12 het geëindig met Israel se terugkeer na die eens verwerpte maar nou aanvaarde Messias. Na hul aanvaarding van die Messias sal hulle 'n fontein van reiniging vir hul sondes en  onreinheid ontvang. Die reiniging kom ná hul rou oor die Een wat hulle deurboor het.


Paulus het ook beskryf dat die verharding van Israel net sal duur tot die volheid van die heidene ingegaan het.


Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;   ROMEINE 11:25 AFR53


Daarna sal die hele Israel gered word, en die Verlosser sal uit Sion kom en hulle sondes van hulle wegneem.


en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.   ROMEINE 11:26-27 AFR53


Afgodery en vals profesieë was die twee hoof maniere waarop Israel van God af weggelei is. God sal nie net 'n fontein voorsien om Sy volk te reinig nie, maar Hy sal ook die bron van onreinheid afsny.


En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en ook die profete en die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek.   SAGARÍA 13:2 AFR53


Sagaria sien 'n komende dag wanneer die publieke opinie nie valse profete sal duld nie. Daar sal so 'n toewyding aan die Here en Sy waarheid wees dat selfs die familie van 'n vals profeet hom sal veroordeel.


En as iemand nog wil profeteer, sal sy vader en sy moeder wat hom verwek het, vir hom sê: Jy mag nie langer lewe nie, want jy het leuens in die Naam van die Here verkondig; en sy vader en sy moeder wat hom verwek het, sal hom deurboor as hy wil profeteer.   SAGARÍA 13:3 AFR53


Diegene wat vals boodskappers van God was, sal skaam wees oor hulle boodskap. Hulle sal die klere van die profete ('n kleed van growwe hare) uittrek en 'n eerlike bestaan ​​voer.


En in dié dag sal elkeen van die profete, as hy profeteer, hom skaam oor sy gesig; en hulle sal die harige mantel nie aantrek om te lieg nie.  Maar hy sal sê: Ek is geen profeet nie, ek is 'n man wat die grond bewerk; want iemand het my van my jeug af as slaaf gekoop.   SAGARÍA 13:4-5 AFR53


Die man wat daarvan beskuldig word dat hy 'n vals profeet is, sal volhou dat die letsels op sy liggaam nie die selftoegediende wonde is wat dikwels met vals profete geassosieer word nie, maar bloot die gevolg van 'n bakleiery met ‘n vriend.


En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.   SAGARÍA 13:6 AFR53


 

13 Oktober 2024


SAGARÍA 13:7 AFR53

Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die Here van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes.


In die konteks, en veral in die lig van die aanhaling van hierdie gedeelte in Matteus 26:31, verstaan ​​ons dat die Herder, Jesus die Messias is – en dit is God die Vader self wat roep dat die Herder geslaan moet word.


Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.   MATTHÉÜS 26:31 AFR53


Sagaria herhaal 'n gedagte wat ook in Jesaja aangeteken word.


Maar dit het die Here behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel 'n skuldoffer aangebied het, sal Hy 'n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die Here sal deur sy hand voorspoedig wees.   JESAJA 53:10 AFR53


Die profete Jesaja en Sagaria verklaar glorieryk en nadruklik dat God die Kneg van die Here se lyding georkestreer het. Dit was God se toedoen! Hy het die opdrag gegee om die Herder te slaan. Jesus was geen slagoffer van omstandighede of aan die genade van politieke of militêre mag oorgegee nie. Dit was die beplande, geordende werk van God, geprofeteer deur Jesaja en Sagaria honderde jare voordat dit gebeur het. Dit was God se oorwinning, nie Satan of die mens se triomf nie.


Slaan die Herder sodat die skape verstrooi sal word: Jesus het hierdie frase aangehaal uit Sagaria 13:7 ook met verwysing na die verstrooiing van Sy dissipels tydens Sy arrestasie en lyding. Daar is ook 'n sin waarin die dissipels 'n tipe van Israel was in hul verstrooiing.


Na die verstrooiing van Israel sal daar 'n tyd van verwoesting en reiniging deur vurige beproewings kom. Twee derdes sal vernietig word en die oorblywende derde sal in die vuur gegooi word, maar bewaar word.


En in die ganse land, spreek die Here — twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly.   SAGARÍA 13:8 AFR53


Dit blyk te suggereer dat slegs een derde van die Joodse volk die Groot Verdrukking sal oorleef. As dit die geval is, is dit geen wonder dat hierdie jare die tyd van Jakob se benoudheid genoem word, en waarom Jesus gesê het dat die Groot Verdrukking die aakligste tyd in die menslike geskiedenis sal wees nie.


Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.   MATTHÉÜS 24:21 AFR53


Die derde deel verwys profeties na die Joodse volk wat die Groot Verdrukking oorleef in die tweede helfte van daardie laaste tydperk, tot redding kom en Jesus verwelkom in die Naam van die Here. Hierdie groep – wat die 144 000 van Openbaring 7 en 14 insluit, maar nie tot daardie getal beperk is nie – sal die kern van 'n herstelde Israel uitmaak wanneer wat Jesus Sy duisendjarige heerskappy oor die aarde vestig.


Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos 'n mens silwer smelt en hulle toets soos 'n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!   SAGARÍA 13:9 AFR53


 

14 Oktober 2024


SAGARÍA 14:1 AFR53

Kyk, daar kom 'n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem!


Sagaria het nou die eindtyd in die vooruitsig wanneer Jerusalem omsingel en aangeval sal word deur ‘n internasionale weermag. Toe die Romeine in 70 n.C. Jerusalem aangeval het, het hulle met hul leër gekom en verskriklike vernietiging oor die stad en sy mense gebring. Tog was daar niks van die verlossing wat Sagaria in die volgende verse gaan beskryf nie, so dit is moeilik om te sê dat die gedeelte vervul is in die Romeinse aanval op Jerusalem in 70 n.C.


Hierdie aanval teen Jerusalem sal hewig wees, maar die stad self sal nie vernietig word nie en die oorblyfsel van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie. Die detail word spesifiek gegee om ‘n onderskeid te tref tussen 70 n.C. en dit wat nog in die eindtye moet gebeur.


Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie.   SAGARÍA 14:2 AFR53


Net wanneer dit lyk asof alle hoop vir Jerusalem en die volk Israel verby is, dan sal die Here vir Sy volk veg.


En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.   SAGARÍA 14:3 AFR53


Sagaria verduidelik dat wanneer Jesus weer terugkom Hy oorlog gaan maak op die Olyfberg, oos van Jerusalem. Die Olyfberg gaan middeldeur skeur met ‘n aardbewing op die lyn waar die tektoniese plate lê.


En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.   SAGARÍA 14:4 AFR53


Wanneer Jesus in heerlikheid terugkom, kom Hy saam met al die heiliges, die leërs van die hemel wat in Openbaring beskryf word.


En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.   OPENBARING 19:14 AFR53


Dit was die tipe koms waarop die Jode in Jesus se dag gehoop het. Inderdaad, toe die Romeinse leërs Jerusalem in 70 n.C. omsingel het, het 'n verkeerde interpretasie van profesieë soos hierdie die Jode heeltemal vol vertroue gemaak dat die Messias uit die hemel sou terugkeer en die Romeinse leërs rondom Jerusalem sou uitwis.


Met Jesus se tweede koms sal ‘n groot aardbewing die Olyfberg in twee sny, en die vervolgde mense van Jerusalem sal deur die vallei vlug wat deur die aardbewing veroorsaak is.


En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!   SAGARÍA 14:5 AFR53


 

15 Oktober 2024


SAGARÍA 14:6 AFR53

En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees.


Sagaria sien die kosmiese veranderinge wat gaan plaasvind soos die profete, Jesus en Johannes in Openbaring ook gesien het.


Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.   JESAJA 13:9-10 AFR53


Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die Here in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in. En die Here brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.   JOËL 3:14-16 AFR53


En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.   MATTHÉÜS 24:29-30 AFR53


en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval;   OPENBARING 6:13 AFR53


Sagaria sien uit na die heerlikheid van Jerusalem in die Messias se koninkryk. Die ligte wat ons dag en nag aandui, die son, maan en sterre, verdwyn, maar God sal Sy eie lig vestig.


En dit sal 'n enige dag wees wat aan die Here bekend is — geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word.   SAGARÍA 14:7 AFR53


Wanneer gaan hierdie gebeur? Dit is wat die dissipels ook wou weet toe hulle vir Jesus gevra het.


Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?   MARKUS 13:4 AFR53


Maar, Jesus antwoord dat van daardie dag en uur weet niemand nie, ook nie die die engele van die hemel, of die Seun nie. Net die Vader weet.


Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.   MARKUS 13:32 AFR53


Jerusalem sal nie meer 'n droë stad wees nie, maar 'n rivier sal uit die stad vloei en na beide oos en wes vertak, en dit sal 'n nimmereindigende vloei gee in beide die somer en die winter.


En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees.   SAGARÍA 14:8 AFR53


Regoor die wêreld wil mense weet wat met Jerusalem gaan gebeur. Sagaria ken die antwoord – God sal Jerusalem op ‘n wonderbaarlike wyse red en herstel, en dit die hoofstad van die Millenium maak.


Esegiël 47 teken 'n visioen op wat hierdie toneel kan beskryf. Esegiël het 'n rivier sien vloei van die troon van God en af ​​na die Dooie See, wat lewe en lewenskrag orals bring.


 

16 Oktober 2024


SAGARÍA 14:9 AFR53

En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die Here een wees, en sy Naam een.


Wat ‘n wonderlike vooruitsig. Openbaring gee ook ‘n toekomsblik oor wat gaan gebeur as die sewe skale van wraak (die sewende basuin) klaar uitgegooi is. Die koninkryke van die wêreld is nie meer die eiendom van Satan nie, maar die eiendom van Jesus Christus, en Jesus gaan as Koning heers tot in alle ewigheid.


En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.   OPENBARING 11:15 AFR53


Ons het reeds gesien dat met Jesus se tweede koms ‘n aardbewing gaan plaasvind wat die topografie van Jerusalem radikaal gaan verander. Sagaria gee meer detail van hoe dit na die aardbewing gaan lyk – die hele land suid van Jerusalem gaan soos ‘n vlakte word, maar Jerusalem self sal hoog wees.


Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.   SAGARÍA 14:10 AFR53


Die inwoners van Israel sal vir die eerste keer in hul geskiedenis, in die Millenium, in vrede en veiligheid woon.


En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en Jerusalem sal in veiligheid woon.   SAGARÍA 14:11 AFR53


Nadat hy kennis geneem het van die seëninge van die Israeliete, gee die profeet verdere besonderhede oor die vernietiging van God se vyande - hulle sal deur die plaag, deur onderlinge slagting en deur die swaard van Juda omkom.


Die beskrywing van vlees wat wegteer terwyl die mense nog staan, laat sommige dink dat Sagaria die uitwerking van 'n neutron- of kernbom beskryf.


En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond.   SAGARÍA 14:12 AFR53


Dit is nie ongewoon van God om Israel se vyande teen mekaar te laat veg, en so mekaar uit te wis nie.


En in dié dag sal 'n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander.   SAGARÍA 14:13 AFR53


Die plaag wat die mense tref deurdat hul vlees wegteer, tref ook die diere wat nog meer waarde heg aan die neutron- of kernbom idee.


En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal ingesamel word: goud en silwer en klere — 'n groot hoeveelheid.   En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.   SAGARÍA 14:15 AFR53


 

17 Oktober 2024


SAGARÍA 14:16 AFR53

En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier.


Net twee van die sewe feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het word in die Millenium gevier. Die eerste fees en die laaste fees.


1. Paasfees (die 1ste fees) word gehou op die veertiende dag van die eerste maand en die fees is sewe dae lank.


Huidiglik word die fees deur die Joodse volk gevier om terug te dink aan die uittog uit Egipte.


Christene vier die fees om terug te dink aan Jesus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het.


In die Millenium waar almal Jesus as Verlosser aanvaar het, gaan hierdie ‘n gedenkfees wees om terug te dink aan Jesus wat vir almal se sondes aan die kruis gesterf het.


In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet vir julle die pasga wees; op die sewedaagse fees moet ongesuurde brode geëet word.  ESÉGIËL 45:21 AFR53


2. Die Huttefees (laaste fees) word huidiglik deur die Joodse volk gevier op die vyftiende dag van die sewende maand. Die fees is sewe dae lank. Die eerste en agtste dae van die fees is rusdae. Almal moet gedurende die sewe dae in hutte woon, tydelike woonplekke, sodat elke nageslag kan onthou hoe God die kinders van Israel uit Egipte uitgelei het en dat die Israeliete vir veertig jaar in tydelike hutte gewoon het.


Die Huttefees wag huidiglik profeties vir die Millenium wat gaan plaasvind na die sewe jaar Verdrukking. Die Millenium, waar ons saam met Jesus gaan woon in afwagting vir die nuwe hemel en die nuwe aarde.


Tydens die Millenium is hierdie fees ‘n gedenkfees om dankie te sê dat ons wel saam met God in die Millenium woon, nie in tydelike hutte nie maar in permanente wonings.


In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, moet hy op die fees dieselfde offers gereedmaak gedurende die sewe dae: dieselfde sondoffer, dieselfde brandoffer en dieselfde spysoffer en dieselfde olie.   ESÉGIËL 45:25 AFR53


Sagaria profeteer dat wanneer die nasies van die aarde nie die huttefees bywoon nie, dan sal hulle nie meer reën kry nie. So om ‘n droogte toestand te vermy moet al die nasies jaarliks die huttefees bywoon.


En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie.   SAGARÍA 14:17 AFR53


Die huttefees of Sukkot van 2024 begin vandag 17 Oktober 2024.


 

18 Oktober 2024


SAGARÍA 14:18 AFR53

En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie.


Egipte het nie reën nodig nie, want die Nylrivier voorsien al die water vir hul oeste. Tog moet hulle nie dink dat hulle in die Millenium straf gaan vermy as hulle nie na Jerusalem optrek om God te aanbid nie.


God sal ‘n plaag stuur om hulle te tref, dieselfde straf wat op ander nasies sal val as hulle sy aanbidding verwaarloos. God het meer as een manier om die vrugte van die aarde te weerhou en hongersnood onder mense te stuur.


Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.   SAGARÍA 14:19 AFR53


Perde sal nie meer in die Millenium nodig wees vir oorlog nie - nou kan selfs hulle die embleme van heiligheid vir die Here dra.


Die potte voor die altaar is gebruik om offerbloed op die altaar te versamel en te sprinkel. Dit toon dat diereoffers in die Millennium sal voortduur, maar nie as versoening vir sonde nie – wat volkome bevredig is deur die versoeningswerk van Jesus. Offers in die millennium sal terugkyk na die volmaakte werk van Jesus.


In dié dag sal op die klokke van die perde staan: Heilig aan die Here! En die potte in die huis van die Here sal wees soos die komme voor die altaar.   SAGARÍA 14:20 AFR53


Die Hoëpriester in die Ou Testament het op sy tulband ‘n plaat van suiwer goud gedra en daarop is gegraveer ‘Heilig is die Here’.


Verder moet jy 'n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op 'n seëlsteen uitgesny word: Heilig aan die Here. En maak dit vas aan 'n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees. So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig — al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van die Here welgevalle mag vind.   EXODUS 28:36-38 AFR53


In die heerlikheid van die Messias se koninkryk word wat voorheen algemeen was, heilig gemaak, die heilige word heiliger gemaak en dit wat sondig was word vir ewig uitgesluit. Aan die einde van dit alles is daar geen onderskeid meer tussen heilig en onheilig nie. Alles word afgesonder vir God en Sy doelwitte.


Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die Here van die leërskare heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en in dié dag sal daar geen Kanaäniet in die huis van die Here van die leërskare meer wees nie.   SAGARÍA 14:21 AFR53


Die punt is dat die mense en die stad so heilig sal wees dat selfs onbeduidende dinge ten volle aan die Here opgedra sal word.


 

10 views0 comments

Comments


bottom of page