top of page
Regina Torre

Die profete na die ballingskap: Sagaria 1-8

Updated: Sep 23


25 Augustus 2024


SAGARÍA 1:1 AFR53

In die agtste maand, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here gekom tot Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, die profeet, en gesê:


Sagaria begin sy profetiese loopbaan in dieselfde tydperk as wat Haggai sy profesieë gegee het, altwee in die tweede jaar van Darius. Die agtste maand is op ons kalender November en dan ook die maand wat die woord van die Here tot Sagaria gekom het. Haggai het in die sesde maand begin profeteer en sy profesieë was gegee in September, Oktober en Desember.


Haggai se taak was om die mense aan te spoor om voort te gaan met die bou van die tempel, en Sagaria se taak was om te fokus op 'n geestelike herlewing.


Dit is betekenisvol dat Sagaria en Haggai hul profesieë gedateer het volgens die bewind van ‘n heiden koning. Die profete het hiermee hul hoorders herinner dat hulle is die ‘tye van die heidene’ geleef het en nie hul eie koining gehad het nie.


Die tye van die heidene:


Daniël se reeks visioene handel oor nie-Joodse wêreldmoondhede en hul rol in God se plan vir die aarde. Nebukadnesar se beeld van goud, silwer, brons, yster en klei (Daniël 2:31–45) verteenwoordig opeenvolgende nie-Joodse koninkryke wat sal heers totdat die Messias terugkeer en Sy heerskappy vestig.


Daniël se visioen van die vier diere (Daniël 7:1–27) praat van vier konings, of nasies, wat vir 'n tyd sal heers totdat die Messias kom om vir ewig te regeer. Die visioen van die ram en die bok (Daniël 8:1–26) gee meer besonderhede oor hierdie nie-Joodse heersers en die tyd betrokke by hulle heerskappy. In elk van hierdie gedeeltes het die heidene vir 'n tydperk heerskappy oor die wêreld, insluitend die Joodse volk, maar God sal hulle uiteindelik almal oorwin en Sy eie koninkryk eens en vir altyd vestig.


Elke profesie bereik 'n hoogtepunt met 'n verwysing na die Messias se koninkryk, so die ‘tye’ van hierdie nie-Joodse heersers sou al die jare wees tussen die Babiloniese Ryk van Nebukadnesar en die glorieryke wederkoms van Jesus om Sy koninkryk te vestig. Ons leef nou in die tye van die heidene, dit wil sê in die era van heidense oorheersing.


Die frase ... het die woord van die Here tot Sagaria gekom…. kom 14 keer in hierdie boek voor. Dit is dieselfde uitdrukking wat Haggai gebruik het en so word die ware skrywer van hierdie boek geïdentifiseer!


Sagaria was die seun van Beregja en die kleinseun van die priester Iddo. Esra en Nehemia het na hom verwys as 'n afstammeling van Iddo, wat miskien impliseer dat sy vader jonk gesterf het en Sagaria die opvolger van sy oupa was. Sagaria was beide 'n profeet en 'n priester.


Seun van Iddo beteken op die vasgestelde tyd,

Seun van Beregja beteken ‘God seën, en

Sagaria beteken wie God onthou.


Die teks suggereer dat Sagaria 'n jong man was toe hy sy visioene in hoofstukke 1-8 ontvang het. Hoofstukke 9-14 is waarskynlik baie later geskryf, in Sagaria se oudag. Indien Sagaria 30 jaar oud was toe hy die eerste agt hoofstukke geskryf het, moes hy 70 gewees het toe hy die laaste ses hoofstukke geskryf het. Sy ouderdom en die veranderinge in politieke omstandighede, verklaar die verskille in styl, uitkyk en temas tussen die twee groepe hoofstukke. Sagaria se bediening het dalk so lank as 50 jaar gestrek.


Die Griekse manuskrip wat in die Dooie See-rolle gevind is, bevat die einde van Sagaria 8 en die begin van Sagaria 9, met geen gaping of spasie tussen die twee hoofstukke nie.


 

26 Augustus 2024


SAGARÍA 1:2 AFR53

Die Here was baie vertoornd op julle vaders.


God is vertoornd of woedend vir die volk se ongehoorsame voorvaders. Hierdie waarskuwing wat gegee word om nie die foute van hul vaders te herhaal nie, is soortgelyk aan Paulus se waarskuwing in die Nuwe Testament. Ken jou geskiedenis en neem die voorbeelde ter harte.


Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.   I KORINTHIËRS 10:11 AFR53


Ongunstige omstandighede het God se volk ontmoedig, en hulle het gewonder waarom God so ver weg was. Hulle het gedurig vasgekyk in hul swak omstandighede:


- Die land was steeds woes na 70 jaar se verwaarlosing.

- Die werk om te herbou en te herstel was moeilik.

- Hulle het nie baie geld of mannekrag gehad nie.

- Daar was gedurig oesmislukkings en droogte.

- Vyandige bure het erg teenstand gebied.

- Hulle het makliker tye in Babilon onthou.


Die oplossing vir die volk se probleem was maklik. Keer terug na God en Hy sal daar wees vir hulle.


So moet jy dan aan hulle sê: So spreek die Here van die leërskare: Keer terug na My, spreek die Here van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê die Here van die leërskare.   SAGARÍA 1:3 AFR53


Sagaria praat vêrder en sê dat die volk nie soos hul voorvaarders die profete moet ignoreer nie. Luister na die profete en bekeer julle van jul bose weë en werke.


Moenie soos julle vaders wees nie, tot wie die vroeëre profete geroep en gesê het: So sê die Here van die leërskare: Bekeer julle tog van julle bose weë en julle bose werke; maar hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie, spreek die Here.   SAGARÍA 1:4 AFR53


Om hulle aan te moedig om na die waarskuwing te luister, vra Saggaria vir hulle: Julle vaders, waar is hulle! Wat het geword van diegene wat nie ag geslaan het op die vermanings van die profete nie? Het hulle nie ernstige rampe gely en in ellendig omgekom nie?


En die profete, leef hulle vir ewig? Hulle kan nie meer leer en dreig nie. Dit is waar dat die sieners wat julle vaders gewaarsku het nie meer is nie, maar het hulle woorde nie waar geword nie?


Julle vaders — waar is hulle? En sal die profete vir ewig lewe?   SAGARÍA 1:5 AFR53


God se beloftes het al die vorige profete en voorvaders oorleef. Sagaria het die volk aangemoedig om nie net die tempel te herbou nie (die klem van Haggai se profesieë), maar om ook hul verhouding met God te herbou en uit die lesse van hul vaders te leer.


Maar my woorde en my insettinge wat Ek my knegte, die profete, beveel het, het dit julle vaders nie ingehaal nie, sodat hulle tot inkeer gekom en gesê het: Soos die Here van die leërskare Hom voorgeneem het om aan ons te doen ooreenkomstig ons weë en ons werke, so het Hy met ons gedoen?   SAGARÍA 1:6 AFR53


 

27 Augustus 2024


SAGARÍA 1:7 AFR53

Op die vier-en-twintigste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die Here tot die profeet Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, gekom en gesê:


Nou volg Sagaria se agt visioene wat deur ‘n engel vir hom geïnterpreteer word. Dit is moontlik dat dit by een geleentheid in opeenvolgende gesigte na hom gekom het, omdat net die eerste visioen gedateer word. Die visioene word gedateer op die 24ste dag van die 11de maand (Februarie) van die Joodse kalender, ongeveer twee maande nadat Haggai sy laaste boodskap gelewer het.


Dit is nag, maar Sagaria is wakker, want hy sien ‘n gesig.


Ek het in die nag 'n gesig gesien — daar was 'n man wat op 'n bruin perd ry, en hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die diepte was; en agter hom was daar bruin, vos en wit perde.   SAGARÍA 1:8 AFR53


Daar is ‘n man wat op ‘n bruin perd ry. Interessant dat die Engelse weergawes van ‘n rooi perd praat. Die Hebreeus vanwaar die vertaling gedoen is gebruik die woord ‘adom’ en dit word vertaal as rooi, rooibruin.


Die man wat die rooibruin perd ry is die leier en ontvang verkenningsverslae van die ander ruiters. Dit is die ruiters wat agter hom was op die bruin, vos en wit perde.


Rooi dui op oorlog en oordeel. Wanneer Jesus met Sy tweede koms op ‘n wit perd verskyn, is die eerste wat almal sien, die bloedrooi klere uit Bosra.


Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.   JESAJA 63:1-3 AFR53


Jesaja verduidelik vir ons wat gebeur. Met Jesus se tweede koms is Sy eerste stop in Bosra (Petra) waar Sy volk (die Joodse volk) beskerm word. Van hier af is Jesus se volgende stop, Jerusalem.


Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.   OPENBARING 19:11 AFR53


Jesus kom terug aarde toe, voorbereid vir die geveg en om as Koning te regeer. Heeltemal die teenoorgestelde van Sy eerste koms waar Sy doelwit was om redding te verkondig en om barmhartigheid en vergifnis te betoon. Jesus se wederkoms sal wees om te oordeel en om te regeer.


“En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.”   OPENBARING 19:15 AFR53


Met Jesus se wederkoms sal Hy alleen, sonder hulp, die volke vertrap in Sy toorn. Dit herinner ons daaraan dat hierdie oordeelswerk aan Jesus Christus en Hom alleen behoort.


 

28 Augustus 2024


SAGARÍA 1:9 AFR53

Toe sê ek: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord my: Ek sal jou toon wat dit beteken.


Sagaria gaan telkemale vir die engel wat met hom praat vra wat die gesigte beteken, en die engel sal vir hom verduidelik.


Die mirtelboom is eerder 'n inheemse struik wat regoor Israel groei en was 'n gewilde naam vir Israel. Die mirtel takke word gebruik tydens die bou van die hutte in die viering van die Huttefees en verwys dus na die Millennium.


Die perderuiters is gestuur om die aarde te deurkruis en die toestand daarvan aan God te rapporteer.


En die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het aangehef en gesê: Dit is hulle wat die Here gestuur het om die aarde te deurkruis.   SAGARÍA 1:10 AFR53


Die man wat tussen die mirtelbome staan (of simbolies in Israel se midde is) word nou aangespreek as die Engel van die Here. Hierdie is nog een van daardie plekke waar Jesus in die Ou Testament Sy verskyning maak. Die ruiters wat die aarde deurkruis rapporteer dat die aarde stil en rustig is.


Daarop het hulle die Engel van die Here, wat tussen die mirtebome gestaan het, toegespreek en gesê: Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die ganse aarde is stil en rustig. SAGARÍA 1:11 AFR53


Alhoewel die volk na sewentig jaar in ballingskap teruggekeer het na Jerusalem, was hul swaarkry nog nie verby nie. Profesieë het gewoonlik ‘n naby en vêr uitkoms en God se volk sal tydperke van swaarkry beleef tot en met Jesus se tweede koms.


Daarop het die Engel van die Here aangehef en gesê: Here van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was?  SAGARÍA 1:12 AFR53


Uit die teks sien ons dat die Engel van die Here en die engel wat Sagaria se vrae beantwoord het nie dieslefde ‘persoon’ is nie. Die Here (Jesus) antwoord die engel wat met Sagaria gepraat het met goeie troosvolle woorde. God gaan Sy volk beskerm teen die nasies. Trouens, Sy toorn gaan oor die nasies losbreek, omdat hulle hul deel oorskry het as blote instrumente in God se hande - hulle wou Israel heeltemal vernietig. Dit was nie die plan nie.


Toe antwoord die Here die engel wat met my gespreek het, goeie woorde, troosvolle woorde. Daarop sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê: So spreek die Here van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer; maar Ek is grootliks vertoornd oor die sorglose nasies wat, terwyl Ek 'n weinig vertoornd was, die onheil aangehelp het.   SAGARÍA 1:13-15 AFR53


God het plegtig belowe om Jerusalem en die stede van Juda te herstel. Dit was ’n besonder vertroostende belofte in die lig van die toestand van die stede van die Beloofde Land in Sagaria se dag.


Daarom, so sê die Here: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal daarin gebou word, spreek die Here van die leërskare, en 'n meetsnoer oor Jerusalem gespan word. Roep verder en sê: So spreek die Here van die leërskare: My stede sal weer oorstroom wees van goeie dinge, en die Here sal Sion weer vertroos, en Hy sal Jerusalem weer verkies.   SAGARÍA 1:16-17 AFR53


 

29 Augustus 2024


SAGARÍA 1:18 AFR53

En ek het my oë opgeslaan en gekyk — daar was vier horings.


Sagaria slaan sy oë opwaarts en hy sien sy tweede visioen - vier horings.


‘n Dier se horings het in die Bybelse tye verwys na krag en gesag, want die krag van 'n bul of 'n os word deur sy horings uitgedruk.


Sagaria en ander profete gebruik die simbool van ‘n dier se horings om die nasies wat Israel teister voor te stel.


Weereens vra Sagaria vir die engel, wat die horings beteken, en sy antwoord is dat die vier horings, vier van Israel se vyande voorstel wat hulle verstrooi. Hierdie vyand is spesifiek in hul tyd die Samaritane in die noorde, die Ammoniete in die ooste, die Edomiete in die suide en die Filistyne en die Tiriërs in die weste.


Verder in die toekoms is die vyand die koninkryke wat Daniel in sy drome gesien het, die tye van die heidene. Nebukadneser se ryk is reeds tot niet, dus is die eerste koninkryk die Meders en die Perse - die regering van Sagaria se tyd. Na die Meders en die Perse was die Grieke en die Romeine aan bewind, en nog in ons toekoms wag ons vir die herleefde Romeinse Ryk wat uit tien konings bestaan. Dit gee vier horings oor die geskiedenis van Sagaria se tyd tot en met Jesus se tweede koms.


Toe sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Wat beteken dit? En hy antwoord my: Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.   SAGARÍA 1:19 AFR53


Nou sien Sagaria vier smede of ambagsmanne.


Daarop toon die Here my vier smede.   SAGARÍA 1:20 AFR53


Sagaria vra nie watter ambag hierdie manne beoefen nie, hy wil slegs weet wat hul doel is. Wat kom hulle maak? Die sin vertel vir ons dat hulle steeds besig is om hul ‘werk’ te doen.


Toe sê ek: Wat kom hulle maak? En Hy antwoord en sê: Dit is die horings wat Juda só verstrooi het dat niemand sy hoof opgehef het nie; maar hierdie manne het gekom om hulle skrik aan te jaag, om die horings van die nasies neer te werp wat die horing teen die land van Juda opgesteek het om dit te verstrooi.   SAGARÍA 1:21 AFR53


Hierdie vier werkers is die instrumente wat God gebruik om die nasies wat Sy volk vertrap en verstrooi, neer te werp. Dit sal weer Daniel se nasies wees, en nou begin ons by die Grieke.


Die Grieke het die Meders en Perse neergewerp en die Romeine het die Grieke neergewerp. Die Romeinse ryk het verdeel in Oos en Wes en is oor ‘n tydperk neergewerp deur verskillende nuwe nasies wat uiteindelik die herleefde Romeinse Ryk sal voorstel. Dit gee vir ons drie van die smede of ambagsmanne wat God gebruik om die Horings neer te werp. Die laaste smid sal dan Jesus wees wat met Sy tweede koms die herleefde Romeinse Ryk, Oos en Wes, dus al die nasies van die wêreld, sal neerwerp.


net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.   DANIËL 2:45 AFR53


Die wêreld sal goed doen om die les te leer dat sulke optrede nie ongemerk by God verbygaan nie. Hy is steeds wakker vir Israel se belange. God is nie klaar met die volk Israel nie.


Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.   PSALMS 121:4 AFR53


 

30 Augustus 2024


SAGARÍA 2:1 AFR53

En ek het my oë opgehef en gekyk — daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand.


Sagaria kyk op en sien sy derde visioen -  ‘n man met ‘n maatband in sy hand.


Hierdie man is ‘n engelwese en sommige dink dit was die Engel van die Here. Engelagtige wesens word nooit werklik mense nie, maar hulle kan menslike vorm aanneem.


Sagaria is nie die enigste profeet wat ‘n man met ‘n maatband gesien het nie.


Esegiël het ‘n man gesien met ‘n linnetou en meetroede wat gereed was om die Millenium tempel af te meet.


En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was 'n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was 'n linnetou en 'n meetroede; en hy het by die poort gestaan.   ESÉGIËL 40:3 AFR53


‘n Engel gee vir Johannes ‘n riet wat soos ‘n stok lyk en hy moet die tempel in die Verdrukking tydperk se afmetings neem.


En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.   OPENBARING 11:1-2 AFR53


Sagaria is nuuskierig en wil weet waarnatoe die engel oppad is. Die engel antwoord dat hy Jerusalem wil meet om te sien hoe groot die oppervlakte van die stad is.


Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.   SAGARÍA 2:2 AFR53


In die konings se tydperk, in Sagaria se geskiedenis, is 'n lyn oor die stad gespan is om dit te vernietig, maar nou gaan herstel kom.


En Ek sal oor Jerusalem die meetsnoer van Samaría span en die skietlood van die huis van Agab, en Jerusalem wegvee soos 'n mens 'n skottel uitvee: hy vee dit uit en keer dit onderstebo.   II KONINGS 21:13 AFR53


Die engel wat met Sagaria praat, stap weg om 'n ander engel te ontmoet wat te voorskyn kom.


En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en 'n ander engel het te voorskyn gekom, hom tegemoet,   SAGARÍA 2:3 AFR53


Die nuwe engel sê vir die engel wat nog heeltyd met Sagaria praat dat hy vir die jong man (Sagaria) gou die volgende boodskap moet gee. Ons sien nou dat Sagaria ‘n jong man was toe hy die visoene ontvang net. Die boodskap wat Sagaria ontvang is dat ‘n toekomstige Jerusalem ‘n groot oop land sal wees, dus sonder enige mure, met ‘n menigte mense en vee wat daarop woon.


aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in.   SAGARÍA 2:4 AFR53


Jerusalem sal nie mure nodig hê nie want God sal hulle beskerming wees. God sal hulle nie net teen aanvalle verdedig nie, maar Hy sal die vyand verteer. God se heerlikheid sal so sigbaar wees soos die vuurkolom tydens die uittog uit Egipte. Hierdie is duidelik nog in die verre toekoms.


En Ek sal vir hom wees, spreek die Here, 'n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.   SAGARÍA 2:5 AFR53


 

31 Augustus 2024


SAGARÍA 2:6 AFR53

Op, op, vlug uit die Noordland, spreek die Here! Want Ek het julle na die vier windstreke van die hemel verstrooi, spreek die Here.


Min van die mense in Sagaria se tyd, wat in die Babiloniese Ryk in ballingskap weggevoer is, het na die Beloofde Land teruggekeer toe hulle toegelaat is. Nou vermaan God die volk in die Noordland in Babilon om terug te keer na hul land.


Ongelukkig was die meeste van die ballinge te gemaklik in Babilon, en wou glad nie terugtrek na Jerusalem nie.


Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel!   SAGARÍA 2:7 AFR53


Dwarsdeur die Bybel word Babilon as 'n idee sowel as 'n letterlike stad gebruik. As Jerusalem die idee van God se stad gedra het, dra Babilon die idee van die stad van die wêreld. Sagaria se oproep om uit Babilon te kom is beide letterlik en figuurlik.


En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.   OPENBARING 18:4-5 AFR53


So sê die Here van die leërskare, dus so sê God! God gaan die Messias stuur, nie die profeet nie, om die nasies te besoek wat Sy volk geplunder het.


Want so sê die Here van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sý oogappel aan.   SAGARÍA 2:8 AFR53


Die Messias is met Sy eerste koms gestuur om die blye boodskap te bring aan die ootmoediges. Maar, met Sy tweede koms kom die wraak oor die nasies om al die treurendes te troos.


Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;   JESAJA 61:1-2 AFR53


God se oogappel is Sy volk, en niemand wat God se volk aanraak kom ongestraf daaruit nie. God se belofte aan Abram leer vir ons dat die wat God se volk seën, geseën sal word, maar die wat God se volk vervloek, sal deur God vervloek word.


En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou 'n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy 'n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:1-3 AFR53


God belowe dat diegene wat Sy volk kwaad aandoen, sal buit word vir die herstelde volk van God. Die slawedrywer sou self ‘n slaaf word. Dit sal uiteindelik vervul word in die Millenium.


Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle 'n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die Here van die leërskare my gestuur het.   SAGARÍA 2:9 AFR53


 

1 September  2024


SAGARÍA 2:10 AFR53

Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die Here.


Sagaria sluit sy visioen af met vier beloftes van God en die volk moet jubel en bly wees.


God se eerste belofte - God kom in jou midde te woon. Hoe doen God dit?


Die tempel was in die Ou Testament die huis van God. Daarom dat God daarop aangedring het dat Sy volk die tempel moes herbou. Op die manier was God in die midde van Sy volk, wanneer hulle na die tempel gegaan het om Hom te aanbid.


Nadat Jesus in die Nuwe Testament opgevaar het na die hemel, het die Heilige Gees in elke Christen kom woon.


Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?   I KORINTHIËRS 6:19 AFR53


In ons toekoms sal daar verskillende tempels in die Verdrukking tydperk en die Millenium wees. En dan finaal, na die Millenium, sal die nuwe hemel en die nuwe aarde gevul wees met God se heerlikheid.


En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.   OPENBARING 21:2-3 AFR53


God se tweede belofte - Baie nasies sal in dié dag by die Here aansluit, en hulle sal Sy volk word.


Die term My volk was oor die algemeen vir Israel gereserveer, maar sluit in die Millenium die Nie Jode in, wat deur geloof saamgevoeg sou word om 'n nuwe volk van God te vorm.


En baie nasies sal hulle in dié dag by die Here aansluit, en hulle sal My tot 'n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na jou gestuur het.   SAGARÍA 2:11 AFR53


God se derde belofte - God sal Juda as Sy erfdeel in die Heilige Land in besit neem en Jerusalem weer kies.


God is beslis nie klaar met die stad wat Hy 3 000 jaar gelede vir die troon van Dawid gekies het nie. Daar sal nooit vrede op aarde wees voordat daar vrede in Jerusalem is nie.


En die Here sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en Jerusalem weer verkies.   SAGARÍA 2:12 AFR53


God se vierde belofte - wêreldwye oordeel met Jesus se tweede koms.


Wees stil want die Leeu word wakker uit Sy lêplek. Laat die vyande van Israel oppas! Hy sal Sy hemelse tempel verlaat om na die aarde toe te kom. Die stilte sal verbreek word wanneer die Lam van God Sy wraak op die nasies uitstort.


Swyg alle vlees voor die Here! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning.   SAGARÍA 2:13 AFR53


 

2 September  2024


SAGARÍA 3:1 AFR53

Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die Here staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae.


In Sagaria se vierde visioen, sien hy die hoëpriester Josua en Satan wat voor die Engel van die Here staan. Satan staan regs van Josua om hom aan te klae.


Josua beteken God red. Josua staan as hoëpriester, as die volk se verteenwoordiger, voor God.

Ook Satan staan voor God, as die aanklaer van die volk.


Toe sê die Here Jesus aan Satan: Mag God die Vader jou bestraf. Ons het hier te doen met twee Persone van die Drie-eenheid, Jesus en God.


Satan se beskuldiging was dalk goed gegrond, maar dit spruit uit boosheid en was gerig teen die mense wat God in guns ontvang het, en daarom is sy beskuldigings verwerp.


Israel was reeds gestraf deur hul nederlaag, ballingskap, benoudheid en ellende. Van hierdie euwels, wat hulle amper vernietig het, is hulle verlos. Israel was die brandhout wat uit die vuur geruk is.


Toe sê die Here aan die Satan: Mag die Here jou bestraf, o Satan! Ja, mag die Here, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?   SAGARÍA 3:2 AFR53


Josua staan met sy vuil klere voor God. Nie net Joshua nie, maar ook die volk wat hy verteenwoordig as die hoë priester.


En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan.   SAGARÍA 3:3 AFR53


Hierdie is ‘n voorstelling van die tweede van die Herfs Feeste naamlik Yom Kippur, en word 10 dae na die Fees van Trompette op Tishri 10 gehou. (September / Oktober op ons kalender).


Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. 'n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here 'n vuuroffer bring.   LEVÍTIKUS 23:27 AFR53


Josua die hoë priester is ook hier 'n tipe van Christus. Christus wat inderdaad sonder sonde was, maar nogtans ons sondes op Sy eie liggaam aan die kruis gedra het.


Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.   II KORINTHIËRS 5:21 AFR53


Josua se vuil klere word van hom weggeneem. Hierdie is ‘n teken dat God Sy volk van hul sondes verwege het en hulle reinig.


Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.   SAGARÍA 3:4 AFR53


 

3 September  2024


SAGARÍA 3:5 AFR53

Daarop sê ek: Laat hulle 'n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die Here daarby staan.


Sagaria is opgewonde oor die visioen wat hy beleef en wil deelneem aan die verrigtinge. Daarom dat hy sê dat hulle vir die hoëpriester ‘n rein tulband op sy hoof moet sit.


Die tulband was deel van die hoëpriester se klere en aan die voorkant het dit 'n goue plaat gehad met die frase Heilig aan die Here.


Verder moet jy 'n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op 'n seëlsteen uitgesny word: Heilig aan die Here. En maak dit vas aan 'n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees.   EXODUS 28:36-37 AFR53


Josua in Sagaria se dag is op dieselfde manier bemoedig as wat die eerste Josua bemoedig is.


Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.   JOSUA 1:7 AFR53


God het aan Josua belowe dat hy waarlik as hoëpriester sou bly dien, aangesien hy ywerig was om aan God gehoorsaam te bly.


En die Engel van die Here het Josua plegtig verseker en gesê: So sê die Here van die leërskare: As jy in my weë wandel en as jy my verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.   SAGARÍA 3:6-7 AFR53


God het vir Josua bevoorregte toegang tot die teenwoordigheid van God belowe. Dit was nie 'n verrassende belofte vir 'n hoëpriester nie, maar ons het dieselfde belofte.


Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.   HEBREËRS 4:16 AFR53


Die term Spruit of Loot of Tak, word verskeie kere as 'n titel vir die Messias gebruik, en word geassosieer met vrugbaarheid en lewe.


Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor jou sit — ja, wondertekens is hulle. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!   SAGARÍA 3:8 AFR53


Jesus het dieselfde beeld gebruik toe Hy gesê het dat Hy die wynstok is en ons die lote.


Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.   JOHANNES 15:5 AFR53


Selfs Jesaja het geprofeteer van die Messias se koms uit die geslag van Dawid.


Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;   JESAJA 11:1 AFR53


 

4 September  2024


SAGARÍA 3:9 AFR53

Want kyk, die steen wat Ek voor Josua neergelê het — op die een steen is daar sewe oë; kyk, Ek sal sy graveersel graveer, spreek die Here van die leërskare, en Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg.


As 'n loot swak lyk, dan gee God vir ons 'n ander prentjie - 'n klip met sewe oë. In die denke van die antieke wêreld het oë kennis verteenwoordig omdat ons meer deur ons oë leer as enige ander manier. Die sewe oë spreek van die volmaaktheid en volheid van die kennis en wysheid van die Messias.


Daniel het ook vir ons geleer van ‘n klip wat losgeraak het sonder die toedoen van mensehande en die heidense volke vermorsel het. Die klip het toe ‘n Rots geword wat die hele aaarde gevul het.


U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.   DANIËL 2:34-35 AFR53


Paulus leer ons van die steen van aanstoot en die rots van struikeling wat toe eintlik Jesus was. Ons reaksie op 'n veilige fondament in Jesus moet een van dankbaarheid wees. Die wete dat ons nie beskaamd sal word nie, verskaf motivering om elke dag en in elke omstandigheid vir God te lewe.


Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.   ROMEINE 9:33 AFR53


Sewe oë - ‘n verwysing na die Heilige Gees.


En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.   OPENBARING 5:6 AFR53


God gee ‘n graveersel waarop die boodskap aangebring word dat Hy die sonde van hierdie land op een dag gaan wegneem.


Waar is Jesus gegraveer? Op Sy voorkop en op Sy hande en voete en Sy sy. Die enigste mensgemaakte dinge in die hemel is letsels. Dit is die goddelike graveersels wat diep in die kosbare gekose Klip gesny is om Sy skoonheid en prag na vore te bring.


Op 'n enkele dag op Golgota, het die Lam vir die wêreld se sondes betaal. Ná Sy verwerping sal die dag aanbreek wanneer hulle na Hom sal kyk ‘wat hulle deurboor het’. .


In hierdie gereinigde en gesuiwerde Millenium koninkryk sal vrede, geluk en oorvloed gevind word.


In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom.   SAGARÍA 3:10 AFR53


Die tye herinner terug aan die voorspoedige dae van Salomo.


sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo.   I KONINGS 4:25 AFR53


 

5 September  2024


SAGARÍA 4:1 AFR53

En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man wat uit die slaap opgewek word.


Die tweede gesig aan die leiers – die vyfde gesig dié nag – is bedoel vir Serubbabel. Dit lyk asof Sagaria ‘n bietjie geslaap het voor die engel hom weer wakker maak om verder te sien wat God vir hom wou wys.


Dit was God se doel dat Israel Sy ligdraer en getuie moes wees vir die omliggende nasies wat verswelg was in die duisternis van die heidendom.


Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.   MATTHÉÜS 5:14-15 AFR53


Israel het egter verskriklik gefaal in hul nasionale roeping. Die verwerping van die Messias het gelei tot die vernietiging van die tempel en die instelling van nasionale blindheid,


En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.   LUKAS 19:41-42 AFR53


totdat die volheid van die heidene sal ingaan.


Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;   ROMEINE 11:25 AFR53


In hierdie tydperk wat God se volk se oë ‘blind’ is, in hierdie interval, dra sewe aparte kandelare God se lig. Hierdie sewe kandelare word gelys in Openbaring 2 en 3 - die sewe gemeentes wat vir ons onder andere ook ‘n tydlyn gee van die eerste groep Christene in die boek Handelinge, tot en met die laaste groep Christene wat leef tot en met die Wegraping.


die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.   OPENBARING 1:20 AFR53


Een soos die Seun van die mens beweeg tussen die sewe kandelare. Jesus Christus is die Een wat tussen die gemeentes beweeg.


en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met 'n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel.   OPENBARING 1:13 AFR53


Die engel wat nog die hele tyd met Sagaria praat, kom terug en maak hom wakker asof hy geslaap het.


Dieselfde het met Abraham gebeur toe God Sy verbond met hom gesluit het.


En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.   GÉNESIS 15:12 AFR53


Dieselfde het ook met Petrus, Johannes en Jakobus gebeur tydens die Verheerliking van Jesus op die berg.


En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan.   LUKAS 9:32 AFR53


 

6 September  2024


SAGARÍA 4:2a AFR53

En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, ……...


Die goue kandelaar wat Sagaria sien was soortgelyk aan die kandelaar in Moses se tabernakel,


Maak ook 'n kandelaar van suiwer goud. Van dryfwerk moet die kandelaar, sy voetstuk en sy stam gemaak word; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme moet, daarmee saam, uit een stuk wees.   EXODUS 25:31 AFR53


en die tien kandelare in Salomo se tempel.


en die kandelaars, vyf regs en vyf links, voor die binneste vertrek, van fyn goud; en die blomwerk en die lampe en die snuiters, van goud;   I KONINGS 7:49 AFR53


Die kandelaar staan bekend as die menorah of ligdraer, en is ook die amptelike simbool van Israel.


Toe Moses van die berg Sinai afgekom het, het hy nie net twee kliptafels met die Tien Gebooie gehad nie, hy het ook 'n baie gedetailleerde stel spesifikasies gekry vir 'n draagbare heiligdom, bekend as die tabernakel, wat hulle tydens hul omswerwinge sou vergesel.


Moses moes hierdie heiligdom bou want God wou onder Sy volk kom woon. Die tabernakel sou hierdie doel dien totdat die tempel van Salomo gebou is.


En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.   EXODUS 25:22 AFR53


Die kandelaar of menorah se plek was teenoor die tafel van toonbrode aan die suidekant van die heilige plek in die tempel.


Hy het ook die kandelaar in die tent van samekoms gesit, teenoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel. En hy het die lampe opgesteek, voor die aangesig van die Here, soos die Here Moses beveel het.   EXODUS 40:24-25 AFR53


Spesifieke instruksies is gegee vir die maak van die kandelaar. Dit is in een stuk gemaak van suiwer goud met ‘n stam en drie arms aan elke kant van die stam. Die sewe lampe van die kandelaar het ewigdurig gebrand met suiwer olyfolie.


En jý moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur 'n brandende lamp te hê. In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die Here. Dit sal 'n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel.   EXODUS 27:20-21 AFR53


Die priesters moes elke oggend die sewe lampe van die menorah aan die brand steek met lonte en ‘n halwe logmaat hoë gehalte olyfolie vir elke lamp. Die olie was genoeg om deur die langste winternag te brand tot en met die volgende oggend.


Die lampe was van pit tot pit aangesteek. Die priester sou 'n pit wat aangesteek was neem en dit langs die volgende lamp plaas om dit aan te steek. Die proses sou begin by die westelike lamp.


 

7 September  2024


SAGARÍA 4:2b AFR53

………… en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.


Die kandelaar in Moses se tabernakel en die opvolgende tempels moes daagliks deur die priesters met olie gevul word. Die kandelaar in Sagaria se visioen word outomaties gevul met 'n eindelose voorraad olie en sonder menslike hulp.


Die kandelaar wat Sagaria sien, werk as volg:


1.  'n Oliekan vir die berging van die olie is bo-oor die kandelaar.

2.  Die olie word deur swaartekrag vanaf die oliekan deur sewe pype na elk van die sewe lampe van die kandelaar vervoer.

3.  Die kandelaar staan tussen twee olyfbome. Die olyfolie word deur twee goue pype van die olyfbome links en regs na die oliekan getap wat bo-oor die kandelaar is.


Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.   SAGARÍA 4:3 AFR53


Sagaria het die visioen gesien, maar nie verstaan ​​wat dit beteken nie. Wat hy gesien het was eenvoudig, maar ongewoon.


Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?   SAGARÍA 4:4 AFR53


Die engel maak seker dat Sagaria weet dat hy die betekenis van hierdie visioen moet verstaan.


En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.   SAGARÍA 4:5 AFR53


Serubbabel het ‘n boodskap van bemoediging nodig gehad. Hul mannekrag was min en daar was geen tekort aan teenstand om die tempel se bouwerk te voltooi nie.


Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.   SAGARÍA 4:6 AFR53


Olyfolie is simbolies van die salwing van die Heilige Gees. God bemoedig hulle om nie op finansiële of militêre hulpbronne te vertrou nie, maar op die krag van God se Heilige Gees wat deur hulle werk. Soos in ander Ou-Testamentiese analogieë, word God se Heilige Gees voorgestel deur die olie van die olyfboom.


God verseker Serubbabel dat hy die werk sal klaar maak. Die werk wat, metafories, soos ‘n berg voor hulle staan, sal voor hom ‘n gelykte word. Trouens, wanneer Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense met vreugde uitroep. Genade, genade oor hom!


Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!   SAGARÍA 4:7 AFR53


 

8 September  2024


SAGARÍA 4:8 AFR53

En die woord van die Here het tot my gekom en gesê:


Die woord van die Here kom verder tot Sagaria. Serubbabel het die tempel begin bou, en hy sal die bouwerk voltooi.


Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het.   SAGARÍA 4:9 AFR53


Die herboude tempel sal ‘n teken wees dat God se woord deur Sagaria vervul was. Die volk sal dan weet dat hulle die dag van klein dingetjies, nie gering moet ag nie. Die blydskap sal toeneem soos die bouwerk vorder. Dat daar nou net fondamente lê, moet hulle op geen manier ontmoedig nie.


Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?   SAGARÍA 4:10 AFR53


Sagaria vra nou wat die twee olyfbome beteken wat links en regs van die kandelaar staan.


Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan?  En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom?  Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.   SAGARÍA 4:11-13 AFR53


Dié twee olyfbome dui op die twee gesalfdes wat in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort. In hierdie konteks dui die twee geslafdes op die twee leiers, Josua en Serubbabel – letterlik seuns van olie, d.w.s. gesalfdes soos dit telkens met die bevestiging van die hoëpriester en die koning uitgevoer is.


Josua kom uit die priesterlike lyn en Serubbabel uit die koninklike lyn van Dawid. Hulle is die twee gesalfdes van God, die twee olyfbome, wat op politiese en godsdienstige vlak leiding moet neem. Saam verteenwoordig hulle die volk by God en God weer by die volk.


En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.   SAGARÍA 4:14 AFR53


Ek kan nie hierdie gedeelte lees sonder om te dink aan die twee geslafdes of getuies in Openbaring 11 nie. Hulle word ook met olyfbome en kandelare vergelyk.


En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.   OPENBARING 11:3-4 AFR53


Sommiges redeneer dat die twee getuies van Openbaring, Moses en Elia moet wees. Moses wat die wet, en Elia wat die profete verteenwoordig.


 

9 September  2024


SAGARÍA 5:1 AFR53

En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk — daar was 'n vlieënde boekrol.


In sy sesde visioen sien Sagaria 'n boekrol wat deur die lug vlieg. Die boekrol was oopgerol omdat Sagaria kon sien hoe groot dit was - sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.


En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien 'n vlieënde boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.   SAGARÍA 5:2 AFR53


Twintig el x tien el neem ons terug na die tabernakel en tempel se afmetings.


Die tempel van God word opgedeel in twee dele - die heilige en die allerheilgste vertrekke.

In die heilige vertrek was drie items: die tafel met vertoonbrode, die kandelaar en die reukofferaltaar, en in die allerheiligste vertrek was slegs die verbondsark.


Die afmetings van Moses se tabernakel:

- Allerheilgste vertrek 10 el x 10 el

- Heilige vertrek          20 el x 10 el


Die afmetings van Salomo se tempel:

- Allerheilgste vertrek 20 el x 20 el

- Heilige vertrek          20 el x 60 el

- Voorportaal              20 el x 10 el


En die voorportaal, aan die voorkant van die hoofvertrek van die huis, was twintig el in sy lengte, oor die breedte van die huis; tien el in sy breedte aan die voorkant van die huis.   I KONINGS 6:3 AFR53


Waarom die tempel hierby inbring? Want dit is waar God se oordeel begin - oor diegene wat Sy wet verontagsaam.


Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?   I PETRUS 4:17 AFR53


Diefstal en meineed - twee sondes wat beide tafels van die Wet verteenwoordig (die middelste gebod van elke tafel).


Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.   SAGARÍA 5:3 AFR53


Baie dink dat die teks op die boekrol die Tien Gebooie was. Om te steel is om jou naaste skade aan te doen, en om meineed te pleeg is om God te onteer, omdat jy in Sy Naam sweer.


Die twee sondes, een aan elke kant van die tafels van die Tien Gebooie, het die geheel van Israel se sondes verteenwoordig. God sou die mense vervloek wat hierdie sondes gepleeg het, en ook hulle huise vervloek.


En laat dit uitgaan, spreek die Here van die leërskare, en dit sal kom in die huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.   SAGARÍA 5:4 AFR53


 

10 September  2024


SAGARÍA 5:5 AFR53

Daarop kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom.


Sagaria kry ‘n sewende visioen en die engel sê weereens dat hy moet opkyk om te sien wat vir hom gewys word. Sagaria het geen idee wat hy sien nie, en die engel moet vir hom interpreteer.


Efa beteken ‘n inhoudsmaat vir droeë produkte soos graan. Die efa wat Sagaria sien is ‘n graanmandjie en daarbinne is die ganse wêreld se sondes.


Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom. Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land.   SAGARÍA 5:6 AFR53


Die mandjie as 'n efa, en die looddeksel was maateenhede en simbole van handel en word saam met die vrou in die mandjie met goddeloosheid geassosieër. Hulle was beelde van hebsug, materialisme en oneerlikheid. Die Hebreeuse woord vir goddeloosheid is vroulik en dit is waarskynlik hoekom 'n vrou die beeld van die bose in hierdie visioen is.


En meteens word daar 'n looddeksel opgelig, en daar was 'n vrou wat binne-in die efa sit.   SAGARÍA 5:7 AFR53


Die engel het die vrou in die mandjie teruggewerp en die opening van die mandjie vinnig met die looddeksel toegemaak.


En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.   SAGARÍA 5:8 AFR53


Weer twee vroue, nie engele nie. Die vroue het vlerke soos 'n ooievaar, 'n onrein voël - agente van die bose. Die hebreeus vir ooievaar is hasida en is wat in die vers gebruik is.


Toe slaan ek my oë op en kyk — daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van 'n groot sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.   SAGARÍA 5:9 AFR53


God gaan hierdie bose, materialistiese gees laat terugkeer na sy oorsprong, Babilon, en daar sal dit uiteindelik vernietig word.


Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die efa? En hy antwoord my: Om vir haar 'n huis te bou in die land Sínear; en is dit klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.   SAGARÍA 5:10-11 AFR53


Ons lees in Openbaring 18 dat Babilon wel vernietig gaan word - Geval, geval het die groot Babilon!


En ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,   OPENBARING 18:1-2 AFR53


 

11 September  2024


SAGARÍA 6:1 AFR53

En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk — daar was vier strydwaens wat tussen die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.


Sagaria sien sy laaste en vir die aand sy agtste visioen. Vier strydwaens kom tussen twee berge te voorskyn. Meeste geleerdes neem aan dat die berge die Olyfberg en die berg Sion is. Berge van koper (brons) assosieer met oordeel.


Brons is die Levitiese simbool van oordeel, soos ons kan sien met die koperaltaar in Moses se tabernakel - eers van hout gemaak en toe met koper oorgetrek.


Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf el die breedte — vierkantig moet die altaar wees — en drie el sy hoogte. En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.   EXODUS 27:1-2 AFR53


Vier strydwaens met rooi of bruin perde ... swart perde ... wit perde ... gevlekte of bont perde. Die ruiters van Sagaria 1 was waarnemers op verkenning, maar hierdie vier strydwaens en hul perde blyk agente van God se oordeel te wees, afgevaardigdes van Sy oorlog teen die aarde.


Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde, en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.   SAGARÍA 6:2-3 AFR53


Die kleure van die perde is in wese dieselfde as die vier ruiters in Openbaring 6:1-8, die gesante van God se oordeel. Kom ons gaan terug na Openbaring en kyk wat daardie perde beteken het.


Johannes sien hoe die Lam een van die seëls oopmaak, want die Lam die enigste een wat gemagtig is om die seëls oop te maak. Belangrik om te weet dat die Lam, en nie Satan of ‘n mens die seëls oopmaak. Die wraak en toorn wat gaan volg is die wraak en toorn van Jesus en nie Satan nie.


Johannes hoor een van die lewende wesens wat aankondig met die geluid van ‘n donderslag. Dit is nie ‘n sagte geluid om jou gerus te stel nie, nee dit is ‘n donderslag, ‘n bevel wat aandag soek, ‘Kom kyk!’  Met hierdie bevel begin Daniel se 70ste week of die sewe jaar Verdrukking en Groot Verdrukking tydperk.


En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van 'n donderslag: Kom kyk!   OPENBARING 6:1 AFR53


Johannes sien ‘n wit perd. Wit sal gewoonlik vereenselwig word met die woorde geregtigheid, heiligheid en reinheid. Woorde wat Jesus beskryf, rein en sonder sonde. MAAR, in die geval is dit glad nie die regte betekenis nie.


Hoekom ‘n perd? Perde was die mees bruikbare diere in die geskiedenis van oorlogvoering. Die een wat op die perd sit het ‘n boog, maar geen pyle vir die boog - is die persoon ‘n vredemaker?

Die persoon op die perd kry selfs ‘n kroon. Die kroon is nie die kroon van ‘n koning nie (dit word gebêre vir Jesus), maar die kroon wat jy kry wanneer jy iets wen soos ‘n resies in die olimpiese spele.


Uitgaan as oorwinnaar - om wat te oorwin? - die wêreld vir die volgende sewe jaar! Die hooftema in die vers is nabootser, om voor te gee iets wat nie is nie. Die Antichris wat homself voorgee as ‘n wêreld vredemaker op ‘n wit perd, gaan nou met die Joodse volk ‘n verbond sluit en hul toestemming gee om hul tempel in Jerusalem te bou!


En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin.   OPENBARING 6:2 AFR53


 

12 September  2024


OPENBARING 6:3-4 AFR53

En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee.


Nádat Jesus die tweede seël oopmaak uiter die tweede lewende wese ‘n opdrag: Kom Kyk!

En met die uitvoering van die tweede seël is die vals vrede op aarde daarmee heen.


“Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”

I THESSALONICENSE 5:1-3 AFR53


Net toe die wêreld gerus raak en dink dat alles nou tot ‘n nuwe normaal gaan terugkeer na die Wegraping omdat ‘n nuwe wêreldleier vrede verkondig het, bars alle hel orals in die wêreld los.


Die kleur rooi is ‘n voorstelling van terreur, vrees, dood en vernietiging. Dit word beklemtoon deur die ruiter wat die mag kry om vrede van die aarde weg te neem met die swaard wat hy in sy hand het. Daar word nie hier gepraat van een land in oorlog met ‘n ander land nie, maar wêreldoorlog - die hele aarde.


Die tema van die seël is dus wêreldwye oorlog en moord en doodslag. Vrede word van die aarde weggeneem en koninkryk staan op teen koninkryk en mense maak mekaar dood. Wie is die mense? ALMAL wat agtergebly het na die Wegraping! ALMAL wat nie vir Jesus as Verlosser en Saligmaker aanvaar het nie!


Die derde seël word weereens deur Jesus oopgemaak met die derde lewende wese wat beveel, ‘Kom kyk!’


Die keer het ons ‘n swart perd, en die ruiter het ‘n skaal in sy hand. As ons na Jesus se woorde in  Mattheus luister wat sê dat hierdie dinge geboortepyne is (AFR83) of die begin van smarte (AFR53), hoe erg gaan dit word? Want ons weet dat geboortepyne erger word met elke pyn, en die tydperk tussen die pyne word al hoe korter......


“.......... daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.”   MATTEUS 24:7b-8 AFR83


“.......... en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.”   MATTHÉÜS 24:7b-8 AFR53


Ignoreer vir nou eers die pessiektes en aardbewings!


Swart word geassosieer met donker slegte tye, verdoemenis en oordeel. Hongersnood val beslis onder die definisie van die kleur swart.


Die ruiter het ‘n skaal in sy hand. Kombineer Mattheus 24:7b waar Jesus praat van hongersnood en die skaal wat die ruiter vashou in Openbaring 6:5 en nou het ons bevestiging van die swart perd se doel - wêreldwye hongersnood wat die gevolg is van die wêreldwye oorlog in die vorige seël.


En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand.   OPENBARING 6:5 AFR53


 

13 September  2024


OPENBARING 6:6 AFR53

En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.


Toe het ek iets soos 'n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir 'n dagloon en net drie skeppies gars vir 'n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.”   DIE OPENBARING 6:6 AFR83


Johannes hoor ‘n stem tussen die vier lewende wesens. Wie sit in die middel van die vier lewende wesens? Dit is natuurlik God wat op Sy troon sit, en wie se stem Johannes hier hoor.


Die stem gee vir ons wat elke persoon, elke dag kan eet. Die AFR53 vertaling sê ‘n rantsoen koring vir ‘n penning - weet nie van jou nie, maar dit beteken nie veel vir my nie want ek verstaan nie die afmetings nie.


Die AFR83 vertaling maak die afmetings meer verstaanbaar.

1 Skeppie koring vir ‘n dagloon en 3 skeppies gars vir ‘n dagloon. So as in ‘n huisgesin die ma en pa werk, kan hulle elke dag 1 skeppie koring en 3 skeppies gars huis toe vat. Dis nou as altwee werk het, en elke dag werk, ‘best case scenario!’


Klink vir my of daar ‘n tekort aan voedsel gaan wees wat in lyn is met wat Jesus in Mattheus 24:7 gesê het en deur die skaal voorgestel word wat die swart ruiter in sy hand vashou. Na die wêreldoorlog kom daar wêreldwye hongersnood. Die geboortepyne word erger en nader aan mekaar!


Wat is dit met die olyfolie en die wyn wat nie beskadig moet word nie? Kan wees dat as jy geld het, dat jy luukshede sal kan koop, waar die armer mense gaan sukkel.


Die vierde seël word oopgemaak deur Jesus, met die vierde lewende wese wat beveel, ‘Kom kyk!’ Hierdie perd se kleur is vaal. Die griekse woord vir vaal is chloros wat groen of vaal geel beteken, eintlik ‘n aaklige dooie groen. Die kleur van dood!


En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.  OPENBARING 6:7-8 AFR53


Die ruiter se naam is dood en die doderyk het hom gevolg, twee metgeselle. Dood eis die liggaam, en die doderyk eis die siel.


Aan hulle (meervoud), dood en die doderyk, is mag gegee om ‘n kwart van die wêreld dood te maak. Wie gee vir die twee die mag om dood te maak? Jesus natuurlik wat die seëls oopmaak, niks hier gebeur sonder Jesus se toestemming nie! As ons terugkyk in Openbaring 1 sien ons dat Jesus vir Johannes sê dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk het. Jesus is in beheer!


“Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”   DIE OPENBARING 1:17-18 AFR83


 

14 September  2024


SAGARÍA 6:4 AFR53

Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer?


Sagaria weet nie wat die vier strydwaens met die vier gekleurde perde wat tussen die berge deurkom beteken nie, en die engel moet weereens verduidelik.


Dit is die vier winde van die hemel wat eers voor die Here van die hele aarde verskyn, en dan uitgegaan.


En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.   SAGARÍA 6:5 AFR53


Die winde van die hemel verwys na die engele leër. Die Hebreeus praat van ruah wat beteken wind, asem, verstand, gees. Ruah is ook ‘n naam vir die  Heilige Gees.


Die engele leër is dus besig met God se oordeel, en Openbaring 6 het met die oopmaak van die seëls vir ons meer insig gegee van die detail.


Hier word ook nie gepraat van die God van Abraham, Isak en Jakob nie, maar van die Here van die ganse aarde. Hierdie is ‘n verwysing na die komende Millenium tydperk waar Jesus as koning gaan regeer oor almal.


En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.   OPENBARING 19:15-16 AFR53


Die swart perd wat noord gaan dui op inflasie en hongersnood, en die wit perd wat hom volg is verowering en oorwinning. Die vaal perd van peste en dood gaan na die suide. Baie is al gepraat van noord en suid waar die vyande van Israel geleë is. Oos en wes is egter onbegaanbaar. Wes is die Middelandse See en oos is woestyn.


Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.   SAGARÍA 6:6 AFR53


Nadat die swart en wit perde en hul strydwaens hul oordele in die noordelike land voltrek het, en die gevlekte dieselfde gedoen het in die suide, gaan almal in alle rigtings oor die hele aarde.


En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde deurkruis.   SAGARÍA 6:7 AFR53


Noord was die tradisionele rigting van Israel se vyande - veral Babilon. God se Gees word tot rus gebring wanneer die noorde verpletter is.


Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde.   SAGARÍA 6:8 AFR53


 

15 September  2024


SAGARÍA 6:9 AFR53

En die woord van die Here het tot my gekom en gesê:


Ons kyk nou na ‘n opsomming van Sagaria se agt visioene.


Sagaria begin sy boek met 'n sterk oproep aan Israel om te bekeer. Oor die algemeen is hierdie visioene, God se planne vir Israel en veral vir Jerusalem en die tempel. Nog 'n belangrike tema is die koms van die toekomstige Messias. Die profeet het ook 'n missie gehad om die na-ballingskap Jode aan te moedig om voort te gaan met hul werk om die tempel te herbou.


1. Die ruiter tussen die mirtebome (1:7-17)


‘n Engel vertel vir Sagaria dat God steeds vir Israel lief het en Jerusalem sou herstel. Vers 17 som dit op: Só sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorloop van voorspoed, en die Here sal Sion weer troos en Jerusalem uitkies.


2. Die vier horings en vier vakmanne (1:18-21)


Die horings stel vier koninkryke voor ​​(die Meders en die Perse, die Grieke, die Romeine, en nog in ons toekoms die herleefde Romeinse Ryk), en die vakmanne is die opvolgende koninkryke wat kom om hierdie horings te vernietig. Ten laaste sal God Israel se vyande verslaan.


3. Die man met die meetsnoer (2:1-13)


Die man wat die meetsnoer vashou gaan die stad Jerusalem meet. Hierdie visioen verteenwoordig God se belofte dat Jerusalem uitgebrei sal word en Sy mense eendag in veiligheid sal lewe terwyl die Here Israel se vyande oordeel.


4. Die visioen van Josua die hoëpriester (3:1-10)


Josua sal geseënd wees in sy diens aan God. Die visioen is ook simbolies van Israel se herstel as God se priesterlike nasie. Hierdie visioen van Josua eindig met 'n profesie van die uiteindelike hoëpriester—die komende Messias, gesimboliseer deur 'n Spruit en 'n alsiende Steen.


5. Die goue kandelaar en twee olyfbome (4:1-14)


Die goue kandelaar verteenwoordig die tempel- en tempelaanbiddingsgemeenskap. God het die punt gemaak dat Hy weer deur Sy volk sou werk om die fondament van die tempel te lê en die werk te voltooi.


6. Die vlieënde boekrol (5:1-4)


Die vlieënde boekrol spreek van God se oordeel oor diegene wat Sy wet verontagsaam.


7. Die vrou in die mandjie (5:5-11)


Hierdie vreemde visioen beeld goddeloosheid uit om na Babilon verban te word waar dit saam met Babilon, uiteindelik vernietig sal word.


8. Die vier strydwaens (6:1-8)


Die finale visioen verteenwoordig 'n oordeel oor die vyande van Israel. Na die oordeel sal God se toorn bedaar, en rus sal volg.


 

16 September  2024


SAGARÍA 6:10 AFR53

Neem aan van die ballinge,  uit die hand van Héldai, Tobía en Jedája — kom jy op dieselfde dag en gaan na die huis van Josía, die seun van Sefánja, waar hulle uit Babel aangekom het


Die woord van God kom na die visioene weer tot Sagaria en gee vir hom ‘n opdrag wat hy moet uitvoer. Sagaria moet die geskenke wat die ballinge uit Babilon vir die tempel gebring het in ontvangs neem.


Ons lees in die boek Esra dat Kores die volk opdrag gegee het om terug te gaan na Jerusalem om hul tempel te herbou. Die mense wat agtergebly het is verder opdrag gegee om mildelik by te dra met geld en geskenke. Ook het hy die voorwerpe van die tempel wat Nebukadneser geneem het, teruggestuur saam met die ballinge.


En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef — hom moet die  manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.

Al die voorwerpe van goud en silwer was: vyfduisend-vierhonderd; dit alles het Sésbassar saamgebring toe die ballinge uit Babel na Jerusalem opgetrek het.

ESRA 1:4, 11 AFR53


Heldai, Tobia en Jedaja se name het elkeen ‘n betekenis wat van toepassing is op hierdie oomblik. Heldai beteken robuust, Tobia beteken God se goedheid, en Jedaja beteken God weet.

- God weet dat Hy deur Sy goedheid, Sy koning op die troon sal plaas, en Hy sal dit op 'n robuuste manier doen.


Deur die geskiedenis van Israel het God 'n skeiding tussen die godsdienstige en die burgerlike leierskap van Israel beveel - dus ‘n skeiding tussen die priesters en die konings.


Die kroon wat Sagaria op Josua die hoëpriester se hoof moes plaas was 'n koninklike kroon en nie die gebruiklike hooftooisel van die hoëpriester nie. Dit sou meer sin maak om Serubbabel te kroon, as Josua … die hoëpriester. Maar, Josua is gekroon om Jesus, die komende afstammeling van Dawid wat oor Israel gaan heers, voor te stel.


neem dan aan silwer en goud, en maak 'n kroon en sit dit op die hoof van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester,   SAGARÍA 6:11 AFR53


Melgisedek was die enigste persoon wat 'n koning en priester was, en was ook dus 'n tipe van Jesus.


Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook 'n tiende deel van alles gegee het — hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.   HEBREËRS 7:1-3 AFR53


 

17 September  2024


SAGARÍA 6:12 AFR53

en sê vir hom dit: So spreek die Here van die leërskare: Kyk, daar kom 'n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die Here bou.


Kyk, daar kom ‘n Man - in die Hebreeuse teks begin die profesie met ‘daar is die mens’, die einste woorde wat Pilatus gebruik het om Jesus aan die vyandige skare voor te hou.


En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens!   JOHANNES 19:5 AFR53


In Sagaria se visioen is dit nie die vernederde Jesus wat ons gevra word om te aanskou nie, dit is die triomfantlike Jesus.


Die spruit van die Here is ‘n algemene titel vir die Messias, of in die geval, die Koning uit die stam van Dawid.


In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid 'n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.   JEREMIA 33:15 AFR53


Die Messias sal die tempel herbou – nie dieselfde tempel waaraan Serubbabel gewerk het nie, maar die tempel van Sy volk in die Millenium.


Nou kom die regmatige eienaar, Jesus, as Koning en Priester, in besit van die hele aarde, as die Laaste Adam, en kry dit wat die eerste Adam verbeur het, terug.


Ja, Hý sal die tempel van die Here bou, en Hý sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy 'n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.   SAGARÍA 6:13 AFR53


Die kroning van Josua is 'n simboliese handeling wat finaal vervul sal word wanneer ‘die Tak’, Jesus Christus, gekroon gaan word.


En die kroon moet as gedagtenis bly aan Helem en Tobía en Jedája, en aan die vriendelikheid van die seun van Sefánja in die tempel van die Here.   SAGARÍA 6:14 AFR53


In sy oorspronklike historiese omgewing, het hierdie profesie samewerking gesien tussen Serubbabel en Josua. Serubbabel, die goewerneur, sou instrumentaal wees in die herbou van die tempel en Josua, die hoëpriester, sou voorsit oor die tempelbediening.


En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die Here bou. Dan sal julle weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het. En dit sal so wees, as julle nougeset luister na die stem van die Here julle God.   SAGARÍA 6:15 AFR53


Maar, in die uiteindelike vervulling van die profesie, sal die Dawidiese monargie en die priesterdom ontmoet in die Messias.


Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus,   HEBREËRS 3:1 AFR53


In Christus word Koning en Priester een.


Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.   OPENBARING 5:5 AFR53


 

18 September  2024


SAGARÍA 7:1 AFR53

En in die vierde jaar van koning Daríus het die woord van die Here tot Sagaría gekom, op die vierde dag van die negende maand, in die maand Kislew.   


Dit is 4 Desember 518 v.C. volgens ons jaartelling, ongeveer twee jaar ná Sagaria die agt visioene van God ontvang het. Die herbou van die tempel is waarskynlik halfpad op hierdie stadium.


Die mense van Bet-El stuur ‘n afvaardiging om by Sagaria te hoor of hulle nog in die vyfde maand moet vas.


Bet-el het toe Saréser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die aangesig van die Here om genade te smeek deur aan die priesters wat by die huis van die Here van die leërskare was, en aan die profete die vraag te stel: Moet ek in die vyfde maand ween met vas soos ek nou al so baie jare gedoen het?   SAGARÍA 7:2-3 AFR53


Die vas in die vyfde maand het die vernietiging van die tempel deur Nebukadneser herdenk.


En in die vyfde maand, op die sewende van die maand — dit was die negentiende jaar van koning Nebukadnésar, die koning van Babel — het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, die dienaar van die koning van Babel, in Jerusalem gekom. En hy het die huis van die Here en die huis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem, ja, elke groot huis met vuur verbrand.   II KONINGS 25:8-9 AFR5


Sagaria maak ook in vers 5 melding van 'n vas in die sewende maand wat die moord op Gedalja, die laaste daad van rebellie teen die Babiloniese goewerneur van Juda, herdenk het.


Maar in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisáma, uit die koninklike geslag, gekom en tien manne saam met hom en Gedálja doodgeslaan, ook die Jode en die Chaldeërs wat saam met hom in Mispa was.   II KONINGS 25:25 AFR53


Hierdie ekstra vas dae is nie deur God ingestel nie, maar deur die volk. Omdat hulle tradisioneel vir so lank (ten minste 70 jaar) hierdie vas dae gehou het, het hulle 'n gesag van hul eie ontwikkel en die volk het gedink dat hulle net sowel kon aanhou om die dae te gedenk.


God se woord deur Sagaria het die volk bestraf oor die vas dae wat hulle gehou het. Die dae was jammerpartytjies, en nie spesiale dae om God opreg te soek nie. 'n Paar dae van vas elke jaar kon nie opmaak vir die res van die jaar wat hulle vir hulself geleef het nie.


Daarop het die woord van die Here van die leërskare tot my gekom en gesê: Spreek tot die hele volk van die land en tot die priesters dit: As julle, nou sewentig jaar lank, in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het, het julle toe werklik ter wille van My gevas?   SAGARÍA 7:4-5 AFR53


Omdat hul harte nie reg was met God nie, was hulle rituele nie reg voor God nie. Alledaagse gehoorsaamheid sou hulle tye van vas sinvol maak, maar hul verwaarlosing van alledaagse gehoorsaamheid het hulle vas skynheilig gemaak.  As hulle voorvaders gehoorsaam was, sou hulle nooit nodig gehad het om te vas nie, en hul land sou nie verower en verlate gewees het nie.


Die Suidland verwys na die Negev, die verlate woestyn naby die Dooie See. Hierdie gebied was nie altyd verlate nie - voor Israel se ongehoorsaamheid was dit ook voorspoedig en bewoon.


En as julle eet en as julle drink, is dit dan nie júlle wat eet en júlle wat drink nie? Is dit nie so met die woorde wat die Here deur die diens van die vroeëre profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en rustig was, en ook die Suidland en die Laeveld nog bewoond was?   SAGARÍA 7:6-7 AFR53


 

19 September  2024


SAGARÍA 7:8 AFR53

Verder het die woord van die Here tot Sagaría gekom en gesê:


In Sagaria 7:7 het die profeet die volk van God en hulle voorvaders bestraf vir 'n basiese verwaarlosing van gehoorsaamheid. Nou beskryf Sagaria die soort gehoorsaamheid wat God wil hê - begin met ordentlike en liefdevolle behandeling van jou naaste.


So het die Here van die leërskare gespreek en gesê: Spreek 'n eerlike vonnis uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.   SAGARÍA 7:9 AFR53


Sommige onder die volk van God het dit makliker gevind om 'n paar dae per jaar te vas as om ander op 'n goddelike manier te behandel. Hul slegte verhouding met ander het 'n fundamenteel slegte verhouding met God tot gevolg gehad.


En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.   SAGARÍA 7:10 AFR53


Sagaria het die progressie van verwerping duidelik beskryf. Dit begin deur bloot te weier om op God ag te slaan, dan 'n selfregverdigende ophaal van skouers en dan word die ore toegestop.


Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en hulle ore toegestop om nie te hoor nie.   SAGARÍA 7:11 AFR53


In hulle verharde toestand wou hulle net nie God se woord hoor nie. Wanneer ons ons honger na God se woord verloor, is dit 'n ontnugterende bewys van die vordering van verwerping en hardheid van hart.


Ook het hulle hul hart soos 'n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie en die woorde wat die Here van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die Here van die leërskare 'n groot toorn gekom.   SAGARÍA 7:12 AFR53


Aangesien God se mense geweier het om na Hom te luister, sou God weier om na hulle gebede te luister en dit te beantwoord. Dit is net nog 'n goeie rede om onder die leer van God se woord te bly - sodat ons gebede verhoor sal word.


Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie — so sal hulle roep, maar Ek nie hoor nie, het die Here van die leërskare gesê.   SAGARÍA 7:13 AFR53


Die volk se ongehoorsaamheid het en sal veroorsaak dat hulle in ballingskap woon onder nasies wat hulle nie ken nie. Dit is merkwaardig dat die land, deur God se voorsienigheid, nie deur vreemdelinge in besit geneem is nie, maar dat dit tydens die Jode se afwesigheid vir hulle gereserveer is vir hul terugkeer na sewentig jaar.


Maar Ek sal hulle wegstorm onder al die nasies wat hulle nie geken het nie, terwyl die land agter hulle verwoes is, sodat niemand meer heen en weer trek nie. So het hulle dan die kostelike land tot 'n wildernis gemaak.   SAGARÍA 7:14 AFR53


Die volk se eie sondes het veroorsaak dat die pragtige land ‘n wildernis geword het.


sodat die woord van die Here deur die mond van Jeremia vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.   II KRONIEKE 36:21 AFR53


 

20 September  2024


SAGARÍA 8:1 AFR53

En die woord van die Here van die leërskare het gekom en gesê:


God stel Homself voor met 'n titel wat Sy mag en majesteit verklaar. Hy is die HERE van die leërskare, met leërskare wat verwys na die weermag van die hemel. Die titel self is 'n wekroep.


God is hartstogtelik besorg oor Sy mense. Een kant van God se liefde vir Sion word getoon in die straf van hul vyande. Hierdie ywer of jaloesie van God kan vergelyk word met die vuurkolom tydens die uittog uit Egipte - lig en beskerming vir die Israeliete, maar duisternis en vernietiging vir die Egiptenare.


So spreek die Here van die leërskare: Ek ywer oor Sion met 'n groot ywer, ja, Ek ywer met groot grimmigheid daarvoor.   SAGARÍA 8:2 AFR53


Die heuwel waarop die tempel gebou is, word die heilige berg genoem word, want God het histories in die tempel gewoon. Die profesie in hierdie en die volgende verse het 'n gedeeltelike vervulling gehad in die dae tussen Serubbabel en Jesus, maar sal in die Millenium ten volle vervul word.


As gevolg van God se teenwoordigheid sal Jerusalem in die Millenium verander word in 'n plek van waarheid en heiligheid.


So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg.   SAGARÍA 8:3 AFR53


Jerusalem sal in die Millenium ‘n rustige stad wees waar ou manne en ou vroue op die pleine sal sit.


So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit — elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae.   SAGARÍA 8:4 AFR53


Jesaja het ook geprofeteer dat mense in die Millenium baie oud sal word. Ouderdomme vir die persone in hul menslike liggame gaan nie meer gemeet word soos ons dit nou ken nie. Honderd jaar word as jonk gesien, so mense wat gebore word (van persone in hul menslike liggame) in die Millenium kan honderde jare oud word. Daar is ongelukkig nog steeds mense wat sondig in die Millenium en op die jong leeftyd van 100 jaar sal hul deur die vloek getref word.


Daarvandaan sal nie meer kom 'n suigling van 'n paar dae of 'n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.   JESAJA 65:20 AFR53


So ‘n gelukkige gesig van kinders wat sorgeloos speel was vir die volk en is vir ons vreemd. In die Millenium egter sal dit ‘n allerdaagse verskynsel wees.


En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel.   SAGARÍA 8:5 AFR53


 

21 September  2024


SAGARÍA 8:6 AFR53

So sê die Here van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die oorblyfsel van hierdie volk in dié dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees? spreek die Here van die leërskare.


Die belofte van 'n herstelde, voorspoedige, veilige Jerusalem het 'n bietjie te goed gelyk om waar te wees, met ‘n halfgeboude stad en die mure wat eers 60 jaar later voltooi sou wees.


Vir die mens is ‘n situasie miskien onmoontlik, maar vir God is NIKS onmoontlik nie! Selfs Jesus het dit vir Sy mense geleer.


Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.   MATTHÉÜS 19:26 AFR53


Min van die ballinge het van Babilon na die Beloofde Land teruggekeer. Selfs in vandag se tyd is daar baie Jode wat nie in Israel woon nie. Aliyah is die woord wat die immigrasie van Jode beskryf uit die diaspora na die geografiese Land van Israel en huidiglik is daar elke maand Jode wat sak en pak immigreer na Israel.


So sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste.  SAGARÍA 8:7 AFR53


Die terugkeer wat God belowe het, sou nie net 'n geografiese terugkeer wees nie, maar ook 'n geestelike terugkeer. Dit sal nie net wees dat hul adres verander nie, maar ook hul harte.


en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Jerusalem woon. Dan sal hulle vir My 'n volk wees, en Ék sal vir hulle 'n God wees, in trou en geregtigheid.   SAGARÍA 8:8 AFR53


Die Here van die leërskare bemoedig nou die volk wat die profete se woorde vyftien jaar tevore gehoor het toe die fondament van die tempel gelê was. Alhoewel hulle 'n gebrek aan hulpbronne (geen lone) en teenstand (vyandige bure) in die gesig gestaar het, wou God hê dat hul krag moes vind vir die werk (laat jou hande sterk wees) in Sy belofte.


So sê die Here van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die Here van die leërskare, die tempel, om gebou te word. Want vóór hierdie dae het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere was daar geen loon nie; en vir die wat uit- en ingaan, was daar weens die teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander losgelaat.   SAGARÍA 8:9-10 AFR53


God het 'n tydperk van moeilikheid toegelaat, maar sou nie toelaat dat dit vir ewig duur nie. Hy sou voorspoed en seën bring aan die eens geteisterde nasie.


Maar nou sal Ek vir die oorblyfsel van hierdie volk nie wees soos in vroeër dae nie, spreek die Here van die leërskare.   SAGARÍA 8:11 AFR53


Alhoewel hulle huidige toestand benard was, wou God hê dat Israel op Sy belofte van seën moet vertrou, en dat die belofte hulle moet aanmoedig tot ywerige, sterk diens.


Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe. En soos julle 'n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle 'n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees.   SAGARÍA 8:12-13 AFR53


 

22 September  2024


SAGARÍA 8:14 AFR53

Want so sê die Here van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die Here van die leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie —


Die beproewinge van die ballingskap was nie blote ongelukke of onverklaarbare rampe nie, dit het plaasgevind volgens die onfeilbare doel van 'n onveranderlike God.


so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en die huis van Juda. Wees nie bevrees nie.   SAGARÍA 8:15 AFR53


Om die vervulling van die belofte van die seëninge te verseker, moet hulle die wil van God doen.


Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en 'n regspraak van vrede in julle poorte! En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die Here.   SAGARÍA 8:16-17 AFR53


God het seën aan 'n gehoorsame Israel belowe en vloek aan 'n ongehoorsame Israel.


As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die Here jou God.

Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.  DEUTERONÓMIUM 28:1-2, 15 AFR53


Vasdae sal feesdae word as hulle maar net gehoorsaam sal bly. Maak nie saak watter gebeure hulle uit die verlede gedenk nie, dit sal dae van vreugde en vrolikheid word, omdat dit in die teenwoordigheid van God gevier sal word. Maar dit sluit gehoorsaamheid in, nie uit nie.


En die woord van die Here van die leërskare het tot my gekom en gesê: So sê die Here van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda 'n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê.   SAGARÍA 8:18-19 AFR53


Wanneer ander sien dat God met ons is, trek dit hulle na Hom toe. Wanneer mense Christus in jou sien, die hoop op heerlikheid, wil hulle na Jesus toe kom.


So sê die Here van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die Here om genade te smeek en die Here van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.   SAGARÍA 8:20-23 AFR53


 

8 views0 comments

Comments


bottom of page