top of page
  • Regina Torre

Die profete aan die Noordelike Koninkryk! Hosea 1-14

Updated: Jun 3


15 April 2024


HOSÉA 1:1 AFR53

Die woord van die Here wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.


Hosea is die eerste van die twaalf kleiner profete en sy naam beteken verlosser. Hy was die seun van Beëri, uit die stam van Issaskar en gebore in Bet-Semes.


Die stam van Issaskar is een van die tien stamme van die Noordelike Koninkryk, en Hosea is vervolgens ook ‘n profeet vir die Noordelike Koninkryk.


Israel het materiële voorspoed geniet wat ongeëwenaar was sedert Salomo se tyd. Jerobeam het al die grondgebied wat vir Israel verlore was, teruggekry - hulle het selfs Damaskus besit. Hulle het gedink dit was die beste tye ooit, maar God se perspektief was net die teenoorgestelde - en Hy het Hosea gestuur om hulle wanbegrip reg te stel!


Hosea se boodskap moet verstaan ​​word in die lig van die opdrag van Deuteronomium 28, en die verbond tussen God en Israel.


As jy dan goed luister na die stem van die Here jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die Here jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. DEUTERONÓMIUM 28:1 AFR53


Israel moes lojaal aan God wees deur Hom alleen te aanbid en Sy gebooie te gehoorsaam.

• Gehoorsaamheid sou seën bring, en

• Ongehoorsaamheid sou oordeel en uiteindelike ballingskap bring.


Hosea vergelyk Israel se verhouding met God, met geestelike owerspel. Hy gebruik sy eie huwelik met 'n ontroue vrou as voorbeeld om die verhouding te illustreer. Hosea se eie versoening illustreer ook Israel se uiteindelike herstel.


Die vers wat ons hier lees gee ‘n lys van die konings wat regeer het tydens Hosea se loopbaan as profeet. Slegs een van die ses konings van die Noordelike Koninkryk Israel word genoem teenoor al vier konings van die Suidelike Koninkryk Juda.


Die Noordelike Koninkryk Israel se konings


• Jerobeam II : Groot voorspoed; Hosea begin met sy loopbaan;

• Sagaria : Regeer ses maande; vermoor deur Shallum;

• Menahem : Uiters wreed; 'n marionet van Assirië;

• Pekahiah : Vermoor deur Pekah;

• Pekah : Vermoor deur Hosea (nie die profeet nie);

• Hosea : Val van Samaria; Einde van die koninkryk.


Die Suidelike Koninkryk Juda se koning


• Ussia : 'n Goeie koning; Hosea begin met sy loopbaan;

• Jotam : 'n Goeie koning;

• Agas : Baie goddeloos;

• Hiskia : 'n Goeie koning.


 

16 April 2024


HOSÉA 1:2 AFR53

Die begin van wat die Here met Hoséa gespreek het; die Here het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou 'n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die Here afvallig te word.


God se eerste opdrag aan Hosea is om met ‘n vrou te trou wat ‘n prostituut is en wat buitegtelike kinders sou he.


Hosea sal dus in sy lewe ervaar wat God met Sy volk Israel ervaar, en die volk sal sien hoe hul afvallige leefwyse deur God se oë gesien word. Hosea se verhouding met sy vrou was simbolies van God se verhouding met eiesinnige Israel.


In normale omstandighede sou Hosea na Gomer se pa, Diblaim gegaan het om die bruidsprys vir haar te betaal. Dan sou Gomer, na 'n verlowingstyd en huwelikseremonie, Hosea se vrou word. Ons word egter net vertel dat hy haar as vrou geneem het en sy het swanger geword en het ‘n seun gehad.


Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom 'n seun gebaar.   HOSÉA 1:3 AFR53


God se volgende opdrag aan Hosea was om die seun Jisreël te noem.


Die naam van hierdie seun roep die verhaal van Jehu in herinnering wat die oordeelsopdrag van God, deur die profesie van Elisa, oorskry het, en meer bloed vergiet het as wat God hom beveel het.


God se opdrag was om die koningshuis van Agab, en vir Isebel sy vrou wat in Jisreël gebly het, uit te wis. Jehu het egter soos ‘n mal mens tekere gegaan en nie net op grusame wyse almal uit die nageslag van Agab, die vroeëre koning van Israel, in Jisreël en Samaria, sowel as Isebel uitgewis nie, maar op die koop toe ook vir Ahasia, koning van Juda, sowel as sy broers, sonder enige sodanige opdrag van God.


Dat van dié broers ook aan die Agabshuis verbind was via sy dogter Atalia, het hom nie in die oë van God verskoon nie. Gelukkig is een kind van Ahasia, Joas, vroeër in die tempel weggesteek, en kon later koning word, sodat die nageslag van Juda nie op dié punt heeltemal uitgesterf het nie. God soek gehoorsaamheid, ja, maar niks meer as wat Hyself beveel nie.


Jisreël: die woord beteken nageslag van God, of die arm van God, of God sal verstrooi.


Die naam Jisreël word gebruik vir sy historiese assosiasie en wys beide terug in die geskiedenis en vorentoe na Israel se toekoms. Terug na die slagting van Agab se familie deur Jehu, en vorentoe na die straf vir daardie wilde en wrede daad.


Omdat ons die geskiedenis ken, weet ons dat God toegelaat het dat Assirië die Noordelike Koninkryk Israel sou aanval en in ballingskap uit hul land sou verdryf.


En die Here het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog 'n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en 'n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel.   HOSÉA 1:4 AFR53


Breek die boog verwys na die vernietiging van Israel se militêre mag.


Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël.   HOSÉA 1:5 AFR53


Hierdie profesie is 50 jaar later vervul in die dae van koning Hosea. Die koning van Assirië trek op deur die hele land en Samaria en beleër die land vir drie jaar. Samaria word in Hosea (die koning) se negende jaar ingeneem en die hele Israel word in ballingskap weggevoer na Assirië, en hiermee kom die Noordelike koninkryk tot ‘n einde.


 

17 April 2024


HOSÉA 1:6 AFR53

Toe het sy weer swanger geword en 'n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.


Gomer is weer swanger en die keer het sy ‘n dogter. Hosea moet die dogter Lo-Rugama noem om aan te toon wat God met Israel gaan doen.


Lo-Rugama beteken ‘nie geliefd nie’ en kom van die werkwoord ‘racham’ wat tere gevoelens van deernis beskryf wat 'n ouer vir 'n kind het. Lo-Rugama was nie  'n weeskind nie, maar sy het nie geweet wie haar pa was nie.


God was by Sinai ‘el rachum’ die Barmhartige wat bereid was om ongeregtigheid te vergewe, maar God sal by ‘n punt kom waar Hy, ten spyte van Sy genadige karakter, nie meer die skuldiges ongestraf sal laat nie.


En toe die Here by hom verbygaan, het Hy geroep: Here, Here, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.   EXODUS 34:6-7 AFR53


So 'n tyd van straf sou aanbreek vir die Noordelike Koninkryk.


Maar, God verklaar dat hy die Suidelike Koninkryk Juda sal verlos en nie met menslike wapens van boog of swaard of oorlog of deur perde of ruiters nie.


Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die Here hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.   HOSÉA 1:7 AFR53


God het wel in 701 v.C. vir Juda van Assirië verlos met bonatuurlike krag, toe 'n engel 185,000 Assiriese soldate in een nag vernietig het.


En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!   II KONINGS 19:35 AFR53


 

18 April 2024


HOSÉA 1:8 AFR53

Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en 'n seun gebaar.


Gomer het haar dogter gespeen en is weer swanger met ‘n derde kind, ‘n seun.


Let op die betekenis in die name. Jezreël kondig Israel se oordeel en verstrooing aan, Lo-Rugama begin die onttrekking van God se liefde, en Lo-Ammi toon die behandeling van Israel as 'n vreemde volk.


En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s'n wees nie.   HOSÉA 1:9 AFR53


Ek sal nie julle s’n wees nie - neem ons terug na God wat Homself Ek is noem. Net hier is dit in die negatief -  EK [is] nie, EK IS vir jou nie.


En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.   EXODUS 3:14 AFR53


In die ou verbondsformule het God verklaar: - En Ek sal in jul midde wandel en vir julle 'n God wees, en júlle sal vir My 'n volk wees.   LEVÍTIKUS 26:12 AFR53. Maar nou is daardie verhouding verbreek.


Hierdie profesie deur Gomar se kinders se name is vandag nog van toepassing. Maar, weereens, het God Sy volk dus verwerp en die Christene in hul plek aanvaar? Nee, stellig nie! sê Paulus.


Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.   ROMEINE 11:1 AFR53


God self het dit so bewerk dat Sy volk nie hul Messias erken het nie.


Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.   ROMEINE 11:8 AFR53


Hoekom dan sou God so iets doen? Die antwoord is tweeledig - Deur Israel se val het die saligheid tot die heidene gekom m.a.w. ek en jy is ‘n kans gegun om Jesus te ontmoet en aan die ander kant maak dit Israel jaloers om te bly hunker na hul Messias.


Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak.   ROMEINE 11:11 AFR53


Paulus waarsku die Christene om nie eiewys te wees nie, en dat hulle hierdie verborgenheid of geheim moet weet.


Wanneer die laaste persoon in vandag se tyd Jesus as Verlosser aanneem (die volheid van die heidene ingegaan het), dan sal God Sy volk se oë oopmaak om hul Messias te erken, en die hele Israel sal gered word.


Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;   ROMEINE 11:25-26 AFR53


 

19 April 2024


HOSÉA 1:10 AFR53

Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie — sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.


In 'n merkwaardige toonverskuiwing, verklaar God dat die oordeel eendag omgekeer sal word.


Paulus haal hierdie vers aan rakende die heidene.


ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. En Jesaja roep oor Israel uit: Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word;   ROMEINE 9:24-27 AFR53


Die Jood en nie-Jood word oor dieselfde kam geskeer: almal word gered deur genade, en nie werke nie.


God het met Abraham ‘n verbond gesluit dat sy nageslag sal vermeerder en soveel sal wees as die sand van die see. Die feit dat Israel deur Assirië in ballingskap weggevoer gaan word, maak nie dat God Sy verbond met Sy volk verbreek het nie. Die verbond staan vandag nog!


dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.   GÉNESIS 22:17 AFR53


U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.   GÉNESIS 32:12 AFR53


Dit wat na Salomo verdeel was, sou herening word onder een Leier. Die Noordelike Koninkryk Israel en die Suidelike Koninkryk Juda sal weer saamsmelt en een nasie word.


Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!   HOSÉA 1:11 AFR53


Esegiël het dieselfde gesig gesien.


En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.   ESÉGIËL 37:22 AFR53


Ammi beteken nasie - God se nasie.

Rugama beteken om lief te he.


God kondig aan dat die dag kom wanneer Hy weer gaan sê: Julle is My volk.


DUS: God is nie klaar met die volk Israel nie. Ons sal dit weer in Hoofstuk 3 sien. Diegene wat leer dat God klaar is met Israel, moet 'n groot deel van die Ou Testament (en die Nuwe!) wegpraat of vergeestelik.


Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.   HOSÉA 1:12 AFR53


 

20 April 2024


HOSÉA 2:1 AFR53

Twis met julle moeder, twis; want sy is nie my vrou nie, en Ek is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg.


Daar is ‘n groot twis omdat Gomer ontrou was en teruggegaan het na prostitusie. Haar naam is verewig in skande ingeskryf in Israel se geskiedenis. Dit alles terwyl Hosea se hart gebreek is, want hy het haar liefgehad! Die ergste sonde wat 'n mens kan pleeg, is om ontrou te word aan iemand wat jou liefhet.


Want sy is nie my vrou nie en ek is nie haar man nie - hierdie is taal wat mens herinner aan ‘n egskeiding.


Hosea praat van Gomer, maar God praat van Sy volk Israel.

- die dag van Israel se geboorte was toe God Sy volk verlos het uit hul slawerny in Egipte.

- woestyn, dor land en dors verwys na die veertig jaar wat verbygegaan het terwyl Israel in die woestyn oppad was na die land Kanaän, die land van melk en heuning.

- van dors laat sterwe vertel van God se oordeel oor Israel as sy haar nie sal bekeer nie.


Anders sal Ek haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos 'n woestyn, ja, haar stel soos 'n dor land en haar van dors laat sterwe.    HOSÉA 2:2 AFR53


God pas die sondes van die nasie toe op die individue wat die nasie saamstel. Die voorkoms van egbreuk het Israel en ons vandag verander in ‘n puin van gebroke gesinne, enkelouerhuise en ’n nageslag wat nie in staat is tot intimiteit en toewyding nie.


En Ek sal My oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore.   HOSÉA 2:3 AFR53


Gomer het haar prostitusie gedoen vir geld. Brood en water verwys na daaglikse benodighede en wol, vlas en olie verwys na luukshede.


Ondankbaarheid is die mees frustrerende belediging van almal, ...die ergste sonde teen God, ons Voorsiener van alle dinge. Israel het hulle tot afgode gewend (geestelike owerspel) en het die afgode krediet gegee vir dit wat hulle so mildelik ontvang het.


Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.   HOSÉA 2:4 AFR53


Israel se sondes is in verse 1-4 gelys, en nou gaan drie strawwe vir hul sondes gegee word. Elke straf begin met die woord daarom.


Ons sal herinner word aan die klagtes van Satan teen die heining wat God rondom Job geplaas het. Maar selfs toe het God nie toegelaat dat Job meer versoek word as wat hy kon verdra nie.


En die Here vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: 'n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. En die Satan antwoord die Here en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën!   JOB 1:8-11 AFR53


 

21 April 2024


HOSÉA 2:5 AFR53

Daarom, kyk, Ek sal jou weg met dorings toemaak en om haar 'n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie.


In die geval van Gomer, het die ‘heining’ gedien as 'n beskerming teen haarself, teen die bose dinge wat sy begeer het.


Daar kom ‘n dag wanneer die prostituut nie meer aantreklik is nie en haar kliënte belangstelling in haar verloor, en dan sal sy wil teruggaan na haar vorige getroude lewe. Dit is presies wat met Israel gebeur het en toe het die mense gesê: Kom ons keer terug na God.


En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.   HOSÉA 2:6 AFR53


God dwarsboom die volk se planne in hul verhouding met hul minnaars – die Baäl aanbidding – in die hoop dat hulle sal raaksien dat dit beter is vir hulle om ‘n verhouding met God te he.


Ja, sy het nie erken dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.   HOSÉA 2:7 AFR53


God laat Sy volk ontberinge ly, veral ekonomies, sodat hulle Sy versorging kan raaksien en erken.

Die Mosaïese Wet het landbouvoorspoed afhanklik gemaak van lojaliteit aan God. Gehoorsaamheid aan die verbondsbepalings sou lei tot God se seën in die vorm van oorvloedige oeste, ‘n groot nageslag en sekuriteit. Daarom, sou ongehoorsaamheid droogte, pes, oorlog, dood en ballingskap tot gevolg he. Hierdie aankondiging in Hosea 2:8 het God se voorneme geopenbaar om die verbondsvloeke teen Israel te implementeer.


Daarom sal Ek my koring terugneem in die oestyd en my mos op die bepaalde tyd, en wegneem my wol en my vlas wat dien om haar naaktheid te bedek.   HOSÉA 2:8 AFR53


Die woord skaamte verwys na 'n blatante verbondsbreuk wat die hele gemeenskap tot skande bring. Alhoewel afvallige Israel tot afgodediens verval het en die ware aanbidding van God verloën het, het hulle nog steeds die Joodse feeste gehou maar om hul afgode te aanbid. God sou ‘n einde maak aan hul vreugde en hul feeste.


Ek sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit my hand red nie. En Ek maak 'n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye.   HOSÉA 2:9-10 AFR53


Die wingerdstok en vyeboom was ‘n simbool van Israel se rykdom en vrede. Met Assirië se inval is hierde veiligheidsnet vernietig.


En Ek sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en Ek sal dit tot 'n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet.   HOSÉA 2:11 AFR53


God sal Israel straf vir elke afgodsoffer wat hulle aan elke afgod gemaak het.


So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die Here.   HOSÉA 2:12 AFR53


 

22 April 2024


HOSÉA 2:13 AFR53

Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.


Hoekom?  Is jy soos Gomer in die diepte van haar ellende? Is jy soos die Verlore Seun, in ballingskap in 'n vreemde land? Moet nie net daar sit nie: Gaan, keer terug na God. - Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.   MATTHÉÜS 11:28 AFR53


Wanneer God se volk na Hom toe terugkeer, sal Hy haar wingerde weer herstel, Sy volk sal weer hoop he en voorspoedig wees soos toe sy uit Egipteland uitgetrek het.


Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot 'n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.   HOSÉA 2:14 AFR53


God se verbond met Israel word met die voorbeeld van ‘n huwelikskontrak herstel. Israel sal nie meer Baäl aanbid nie, maar slegs God.


En in dié dag, spreek die Here, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baäl nie. Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.   HOSÉA 2:15-16 AFR53


Die dag waarvan hier gepraat word dui op die Millenium waar die leeu en die lam saam sal lê en swaarde gebruik sal word om mee te ploeg.


Verder sluit Ek in dié dag vir hulle 'n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal Ek verbreek uit die land, en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.   HOSÉA 2:17 AFR53


Die geskeide vrou sal teruggeneem word, die huwelikskontrak sal hernu word en haar vorige misdrywe sal vergewe word.


En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming. En Ek sal My met jou verloof in trou; dan sal jy die Here ken.   HOSÉA 2:18-19 AFR53


God sal so heeltemal al die vermenigvuldigde en verergerde oortredings van Israel teen Hom vergewe en vergeet, dat die volk nie meer as 'n verwerpte vrou teruggeneem sal word nie, maar voortaan as 'n reine maagd beskou en behandel sal word.


En in dié dag sal Ek verhoor, spreek die Here, Ek sal die hemel verhoor en dié sal die aarde verhoor. En die aarde sal die koring verhoor en die mos en die olie, en dié sal Jísreël verhoor.   HOSÉA 2:20-21 AFR53


Daar is geen groter belofte as dit nie. Al drie kinders is weer hier bymekaar:

• Jisreël - Ek sal haar vir My saai in die land

• Lo-Rugama - Ek sal My oor haar ontferm

• Lo-Ammi - jy is My volk


En Ek sal haar vir My saai in die land en My oor Lo-Rugáma ontferm, en aan Lo-Ammi sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God!   HOSÉA 2:22 AFR53


Paulus haal die gedeelte aan in die boek Romeine.


Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.   ROMEINE 9:25-26 AFR53


 

23 April 2024


HOSÉA 3:1 AFR53

En die Here het vir my gesê: Gaan nog 'n keer, bemin 'n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die Here die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend en versot is op rosynekoeke.


Die vrou wat hier beskryf word, is Gomer, die dogter van Diblaim—geliefd deur 'n ander. Gomer is nou die byvrou-slaaf van ’n ander—moontlik in ’n arm en behoeftige toestand.


Gomer is op ’n veiling verkoop. Die prys vir ‘n slaaf was dertig sikkels silwer en Hosea het helfte van die prys met silwer en die ander helfte met gars betaal. Let op dat Hosea nou sy vrou besit. Sy was sy eiendom. Hy het haar geklee en huis toe geneem.


Toe het ek haar vir my gekoop vir vyftien sikkels silwer en anderhalf homer gars.   HOSÉA 3:2 AFR53


Hosea het drie vereistes. 1) Gomer moet vir ‘n lang tyd vir hom wag, 2) sy mag nie hoereer nie, en 3) sy mag aan geen ander man behoort nie. En Hosea sal dieselfde teenoor haar doen.


En ek het aan haar gesê: Jy sal 'n lang tyd moet stilsit vir my, nie hoereer nie en aan geen man behoort nie; en so ook ek teenoor jou.   HOSÉA 3:3 AFR53


Nou word die gelykenis ontvou en verduidelik. Gomer se verhaal is ook Israel se verhaal. Altwee is skuldig aan owerspel, beide is gestraf met 'n egskeiding, albei se straf was vir ‘n uitgerekte tydperk, beide is slawe gemaak en goedkoop gewaardeer, maar tog uiteindelik deur genade gered, maar eers na lang proeftydperk. Hoe lank kan ons nie sê nie want die Noordelike koninkryk het nooit werklik teruggekeer na hul land nie.


Die Noordelike Koninkryk is sonder 'n koning, want niemand uit hulle eie koninklike geslag sal op die troon sit en oor hulle heers nie. Hulle is sonder 'n vors of prins, want vreemdelinge sal vorste en goewerneurs oor hulle wees. Sonder slagoffers en klippilare dus sonder ‘n tempel waar hulle offers kan bring. Sonder ‘n efod of mantel, dus sonder ‘n priester en sonder huisgode wat hul in elk geval nie moet he nie.


Want die kinders van Israel sal 'n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode.   HOSÉA 3:4 AFR53


Na Salomo se dood het Israel die huis van Dawid verwerp, en die Noordelike Koninkryk gestig.


Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? en daar is geen erfdeel aan die seun van Ísai nie! Na julle tente toe, Israel! Kyk nou na jou eie huis, Dawid! Daarop het Israel na sy tente gegaan. So het die Israeliete dan van die huis van Dawid afvallig geword tot vandag toe. Sodra die hele Israel gehoor het dat Jeróbeam terug was, het hulle hom na die vergadering laat roep en hom oor die hele Israel koning gemaak; niemand het die huis van Dawid gevolg nie, behalwe die stam van Juda alleen.   I KONINGS 12:16, 19-20 AFR53


Maar nou sal die kinders van Israel hulle bekeer en die gesag van die Dawidiese monargie erken. Hulle sal Jesus wat uit die geslag van Dawid is, as hul Messias erken en Hom dien. Dit is nog in ons toekoms!


Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae.   HOSÉA 3:5 AFR53


 

24 April 2024


HOSÉA 4:1 AFR53

Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel! Want die Here het 'n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.


Hosea se persoonlike lewe vervaag nou in die agtergrond en die res van die boek is profeties. Wat voorheen in figuur en simbool aangebied is, word nou duidelik en letterlik gestel. God gaan die spesifieke aanklagtes teen die Noordelike Koninkryk uitspel.


Hoor die woord van die Here, o kinders van Israel! Julle word formeel aangeklae van die volgende sondes: wetteloosheid, onsedelikheid, onkunde van God se Woord en afgodery.


'n Dagvaarding word deur God uitgereik oor die sondes van weglating:

• Geen betroubaarheid

• Geen troue liefde

• Geen kennis van God nie


Wat is die sondes van weglating? - dit wat jy Nie doen Nie.


Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.   JAKOBUS 4:17 AFR53


Ons sien nou duidelik van die sondes wat in die Tien Gebooie gelys word.


Hulle sweer en lieg en moor en steel en pleeg owerspel; hulle breek in, sodat bloedbad aan bloedbad raak.   HOSÉA 4:2 AFR53


Die Tien Gebooie - ‘n opsomming!

1. Jy mag geen afgode voor My aangesig he nie.

2. Jy mag nie gesnede beelde maak en dit aanbid nie.

3. Jy mag nie God se Naam ydelik gebruik nie.

4. Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig.

5. Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word.

6. Jy mag nie doodslaan nie.

7. Jy mag nie egbreuk nie.

8. Jy mag nie steel nie.

9. Jy mag nie valse getuienes lewer nie.

10. Jy mag nie begeer nie.


Selfs die land en die diere treur en kwyn weg as gevolg van die mense se sondes.


Daarom treur die land, en alles wat daarop woon, kwyn weg: die wilde diere van die veld en die voëls van die hemel, ja, ook die visse van die see kom om.   HOSÉA 4:3 AFR53


Om met 'n priester te stry (wat as regter optree) was strafbaar met die dood. God vergelyk die volk met mense wat met die priester twis en daarom gestraf gaan word. Die volk (jou moeder) en hul gesag, profete en priesters, sal almal saam ten gronde gaan.


Laat net niemand met ons twis of ons berispe nie! Nogtans is jou volk soos die wat met die priester twis!  Daarom sal jy struikel bedags, en ook die profeet saam met jou struikel in die nag, en Ek sal jou moeder te gronde laat gaan.   HOSÉA 4:4-5 AFR53


 

25 April 2024


HOSÉA 4:6 AFR53

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.


Hoe hartseer om daarvan beskuldig te word dat hulle ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis. Kennis van God se Woord! Dit is hoekom ons elke dag en vers vir vers deur die boeke van die Bybel werk.


Johannes sê in die Nuwe Testament - dit is die ewige lewe, dat hulle U ken!


En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.   JOHANNES 17:3 AFR53


Wanneer ons God en Sy Woord verwerp, sal daar tyd kom wanneer God ons sal verwerp.


Paulus spreek hierdie gedeelte aan ten opsigte van óns vandag, in sy boek aan die Romeine.


hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.   ROMEINE 1:25-27 AFR53


Wie was dit wat God oorgegee het? Die goddeloses, hulle wat die waarhede verwerp wat God aan hulle oor Homself duidelik maak. Hulle weet dat God bestaan, en hulle is sonder verskoning in hulle aktiewe onderdrukking van die waarheid.


Waaraan het God hulle oorgegee? Paulus spesifiseer drie dinge waaraan God die goddeloses oorgee:

1. Aan seksuele onreinheid tot vernedering van hulle liggame met mekaar. Deur hulle harte se sondige begeertes vrye teuels te gee, verneder die goddeloses hulself in seksuele onsedelikheid.

2. Tot skandelike begeerlikhede. Beide mans en vroue laat die natuurlike seksuele funksies vaar en pleeg homoseksuele dade.

3. Na 'n verdorwe verstand. Die gevolg is dat hulle doen wat nie gedoen behoort te word nie. Die verdorwe verstand sonder die lig van God sal natuurlik na die bose hardloop.


Waarom het God hulle oorgegee? Omdat hulle die keuse gemaak het om die Woord van God te verwerp.


Wat is die gevolg daarvan dat God hulle oorgegee het? Dat hulle vervul word met elke soort goddeloosheid, boosheid, hebsug en verdorwenheid.


Die hartseer feit is dat God soms vir ons gee wat ons wil hê. God het toegelaat dat die Israeliete wat in opstand gekom het die natuurlike gevolge van hul keuse ontvang het.


Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.   PSALMS 81:12-13 AFR53


In Romeine 1 wys Paulus hoe die goddeloses 'n keuse maak om God te verwerp, en daardie keuse neem hulle op 'n afwaartse spiraal van toenemende duisternis met geen hoop. Soos die goddeloses verder en verder van God af wegbeweeg, gryp God al hoe minder in. Die Gees se inperking van sonde is 'n seën, en as daardie beperking verwyder word, volg alle goddeloosheid.


 

26 April 2024


HOSÉA 4:7 AFR53

Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander.


Die priesters, profete en konings was verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis. Hulle het hul primêre taak om woordvoerders vir God te wees, om die volk te leer hoe om God te ken en te dien, versaak.


Die hart van die saak is dus dat die volk omkom weens ‘n gebrek aan kennis, nie net omdat hulle nie geleer is nie, maar ook omdat die priesters self die kennis van God verwerp het. Daarom kan God nie anders as om hulle ook te verwerp nie, en hulle nie langer in Sy diens te gebruik nie.


‘n Ontstellende prentjie word geteken van wat die leiers, meer spesifiek die priesters, gedoen het. Hulle het geteer op die sonde en sondeskuld van hulle mense. Trouens, hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig, want dan word die offers meer, en omdat hulle daarvan geleef het, floreer hulle ekonomies weens die groter omset van offers.


Hulle lewe van die sondoffer van my volk, en na dié se ongeregtigheid verlang hulle siel.   HOSÉA 4:8 AFR53


Daarom gaan God rekenskap van die leiers eis oor hulle optrede en hulle vergeld vir hulle dade. Hulle manier van doen was direk verantwoordelik daarvoor dat die volk hulle tot afgode gewend het, want die offerdiens was openlik korrup. Die gevolg was dat hulle God verlaat het en Hom nie meer geraadpleeg het wanneer hulle die pad vorentoe moes onderskei nie.


Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk — Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.   HOSÉA 4:9 AFR53


Hier is ironie: Aanbidding van Baäl was veronderstel om die vrugbaarheid van die grond en die vrugbaarheid van die baarmoeder te verseker. Om God te verlaat sal onversadigbare honger en ‘n vrugtelose baarmoeder tot gevolg hê.


Dan sal hulle eet, maar nie versadig word nie; hulle sal hoereer, maar nie uitbreek in menigte nie; want hulle het nagelaat om die Here te vereer. Hoerery en wyn en mos neem die hart weg.   HOSÉA 4:10-11 AFR53


Die volk het al hoe meer hul hout afgode geraadpleeg en al hoe minder na God gedraai vir enige antwoorde.


My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want 'n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.   HOSÉA 4:12 AFR53


‘n Volk wat dus nie met die regte Godsbewussyn leef nie, gaan ten gronde. En dié wat nie op God se waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.


Hulle offer op die bergtoppe en laat rook opgaan op die heuwels, onder die eike en populiere en terpentynbome, omdat die skaduwee daar goed is. Daarom pleeg julle dogters hoerery, en julle skoondogters bedryf owerspel. Ek sal oor julle dogters geen besoeking doen omdat hulle hoereer nie, en ook nie oor julle skoondogters omdat hulle owerspel bedryf nie; want die manne sonder hulleself af met die hoere en offer met die tempelhoere. So kom dan die volk wat geen verstand het nie, tot 'n val.   HOSÉA 4:13-14 AFR53


 

27 April 2024


HOSÉA 4:15 AFR53

As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie, en gaan nie op na Bet-Awen nie, en sweer nie: So waar as die Here leef!


Hier is nou ‘n waarskuwing aan die Suidelike Koninkryk om nie die Noordelike Koninkryk se sondes te herhaal nie, maar om van hulle afgodery te vlug. Die Suidelike Koninkryk het nog ‘n kans tot nasionale bekering. Hulle moet ten alle koste vermy om na Gilgal en Bet-Awen toe te gaan.


Gilgal was 'n plek naby die Jordaan, waar Joshua die twaalf klippe opgerig het.


Josua het ook twaalf klippe opgerig in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters, die draers van die verbondsark, gestaan het; en dit is daar tot vandag toe.   JOSUA 4:9 AFR53


Gilgal was ook die plek waar Joshua opdrag gekry het om die kinders van Israel vir die tweede keer te besny, en waar hulle weer die Pasga gehou het.


In dié tyd het die Here vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer. Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo.   JOSUA 5:2, 10 AFR53


Maar, Gilgal is deur Jerobeam en die opvolgende afgodedienaars uitgekies vir 'n plek van openbare aanbidding van hul afgode, en het daarvoor bekend geword.


Bet-el is waar God Sy verbond aan Abraham en Isak, Jakob bevestig het. Jakob het toe die plek genoem Bet-El wat beteken huis van God.


En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.   GÉNESIS 28:19 AFR53


Jeróbeam het egter Bet-el die plek van sy kalfsaanbidding gemaak, en dit het toe geword Bet-Awen, wat beteken -  huis van nietigheid of ongeregtigheid.


Omdat Israel geweier het om deur God gelei te word, was hulle nou oppad om in ballingskap in te gaan.


Efraim, wat die dominante stam was, het idiomaties van die Noordelike Koninkryk geword. Terloops, moet nie die stamme se geografiese gebied met die individue van elke stam verwar nie. Die gelowiges van al die stamme—insluitend die Leviete—het suid na Juda getrek.


Want Israel is wederstrewig soos 'n wederstrewige koei; nou sal die Here hulle laat wei soos 'n lam in die oop veld. Efraim is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!   HOSÉA 4:16-17 AFR53


Hosea beskryf die verval van die Noordelike Koninkryk en die daaropvolgende vernietigig wat sou volg.


As hulle drinkery verby is, dan hoereer hulle te meer. Hulle vorste is versot op skande. Die wind bind hulle in sy vleuels, sodat hulle oor hul offers beskaamd sal staan.   HOSÉA 4:18-19 AFR53


 

28 April 2024


HOSÉA 5:1 AFR53

Hoor dit, o priesters, en let op, o huis van Israel, en gee gehoor, o huis van die koning! Want die vonnis raak julle, omdat julle vir Mispa 'n vangnet geword het en 'n uitgespreide net op Tabor.


God herhaal Sy aanklag teen die leiers van die Noordelike Koninkryk. Hosea praat met drie groepe leiers. Die priesters, die leiers (huis van Israel) en die koningshuis.


In plaas daarvan om beskermers van die volk te wees, het die leiers vir hul eie mense ‘n strik geword, en in plaas daarvan om ware leiers te wees, soos God dit bedoel het, het hulle die volk mislei.


Elkeen wat God se wet verwerp het met hul vals offers sal getugtig word.


Ja, in verderflike praktyke verdiep die afvalliges hulle, maar Ek sal hulle almal tot tugtiging wees.   HOSÉA 5:2 AFR53


Efraim was die middelpunt van afgodery. Die eerste goue kalf is deur Jerobeam by Bet-el opgerig, en later is 'n tweede een in Samaria, die hoofstad, opgerig.


God ken hulle, maar hulle ken Hom nie. Hulle is ondraaglik trots. Hoe meer hulle weier om hul sondes te laat vaar, hoe verder beweeg hulle weg van God.


Ek ken Efraim, en Israel is vir My nie verborge nie; want nou het jy owerspel bedrywe, o Efraim! Israel is verontreinig. Hulle dade gedoog geen terugkeer tot hulle God nie, want daar is 'n gees van hoerery in hulle binneste, en hulle ken die Here nie.   HOSÉA 5:3-4 AFR53


Israel en Efraim gaan tot ‘n val kom, en so ook Juda. Maar nie terselfdertyd nie, die Suidelike Koninkryk sou 'n eeu later tot ‘n val kom.


En die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en Israel en Efraim sal struikel deur hulle ongeregtigheid, ook Juda sal saam met hulle struikel. Met hulle kleinvee en hulle beeste sal hulle heengaan om die Here te soek, maar Hom nie vind nie. Hy het Hom aan hulle onttrek.   HOSÉA 5:5-6 AFR53


Israel het nie hul kinders opgevoed om God te ken nie. Asof dit nie genoeg was dat hulself afgodedienaars was nie, het hulle hul kinders ook opgelei in dieselfde afgodery, deels deur hul onderrig, en deels deur hul voorbeeld.


Hulle het troueloos gehandel teen die Here, want hulle het onegte kinders verwek; nou sal die nuwemaan hulle met hul velde verteer.   HOSÉA 5:7 AFR53


‘n Samelewing val uitmekaar wanneer hulle van God vergeet. Maar, waar die regte Godskennis geleer word, waar betroubaarheid, en lojaliteit, en liefde teenoor God EN teenoor medemense uitgeleef word, dáár gedy gemeenskappe en uiteindelik die samelewing.


Die regte kennis van God is juis bedoel om dinge soos meineed, bedrog, moord, diefstal, egbreuk en geweld te keer. Waar ‘n gemeenskap wegbeweeg van God, kan God en godsdiens nie geblameer word vir die onreg en geweld wat ons in die wêreld kenmerk nie. ‘n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde.


 

29 April 2024


HOSÉA 5:8 AFR53

Blaas die basuin in Gíbea, die trompet in Rama! Hef aan die krygsgeskreeu in Bet-Awen. Agter jou kom dit, Benjamin!


Gibea, Rama en Bet-Awe is almal stede van Benjamin in die Suidelike Koninkryk en aangrensend tot die Noordelike Koninkryk. Die basuin en die trompet moet geblaas word as waarskuwing aan die Suidelike Koninkryk omdat dieselfde lot hulle gaan tref. God het nie nagelaat om hulle te waarsku nie. God waarsku altyd vooraf - en altyd met die geleentheid tot bekering, soos Jona se oproep aan Nineve.


Efraim sal 'n woesteny word op die dag van straf; onder die stamme van Israel maak Ek bekend wat seker is.   HOSÉA 5:9 AFR53


Hosea vergelyk die leiers van Juda met diegene wat hul land se grenslyne wil verander. God se grimmigheid sal oor hulle uitgegiet word.


Die vorste van Juda is soos hulle wat die grenslyne verlê. Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet soos water.   HOSÉA 5:10 AFR53


Efraim het die skare gewillig gevolg en gedoen wat reg was in hul eie oë. Die mot en die verrotting van gebeentes is beelde wat spreek van verborge oorsake van onherstelbare vernietiging wat net te sien is wanneer dit te laat is.


Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel. Daarom is Ek vir Efraim soos 'n mot en vir die huis van Juda soos 'n verrotting in die gebeente.   HOSÉA 5:11-12 AFR53


Efraim het die verkeerde mense gevra vir hulp - Assirië eerder as God.


Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur gegaan en na koning Jareb gestuur; maar hý kan julle nie genees en julle van die sweer nie gesond maak nie.   HOSÉA 5:13 AFR53


Soos ‘n leeu wat verskeur sou God vir Efraim en Juda verskeur. Eers sou die Noordelike Koninkryk deur Assirië oorwin word, en later sou die Suidelike Koninkryk deur Nebukadneser oorwin word.


Want Ek is soos 'n leeu vir Efraim, en soos 'n jong leeu vir die huis van Juda; Ek, Ek verskeur en gaan heen, Ek dra weg sonder dat iemand red.   HOSÉA 5:14 AFR53


Hierdie is 'n merkwaardige vers - Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek.   HOSÉA 5:15 AFR53


Ek keer na My woonplek terug. Hy moes dit verlaat het om terug te keer! Dit impliseer dat God by twee komste betrokke sal wees!


Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.   JOHANNES 1:11 AFR53


Hy het teruggekeer na die regterhand van die Vader.


Van Dawid. 'n Psalm. Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak 'n voetbank vir u voete.   PSALMS 110:1 AFR53


Hy sal daar bly ... totdat ... hulle skuld beken en My aangesig soek.

Die oortreding is enkelvoudig en spesifiek. Dit stel 'n voorvereiste vir die wederkoms van Christus! Israel moet berou hê en hul Messias erken voordat Hy na hulle kan terugkeer.


 

30 April 2024


HOSÉA 6:1 AFR53

Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.


Israel sal uiteindelik tot die besef kom dat haar lyding van dissiplinêre aard was.


Die uitdrukking van tyd wat in vers 2 gebruik word, dui op 'n betreklik kort tydperk, en impliseer dat Israel se herlewing vinnig sowel as beslis bewerkstellig sal word.


Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.   HOSÉA 6:2 AFR53


Die sekerheid van die Here se koms is net so verseker soos God se bevel dat die dagbreek die nag moet volg. Die Here se koms sal wees soos die laat lente reën, altyd 'n geleentheid vir blydskap.


En laat ons ken — laat ons dit najaag om die Here te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.   HOSÉA 6:3 AFR53


Hosea beskryf God se moedeloosheid oor Sy volk se ontrou, hul liefde wat soos ‘n môrewolk of soos dou verdwyn.


Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos 'n môrewolk en soos 'n dou wat vroeg weer verdwyn.   HOSÉA 6:4 AFR53


God het Sy volk uitermatig gestraf en Sy oordeel het hulle soos ‘n ligstraal getref.


Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete, hulle gedood deur die woorde van my mond, en die oordele oor jou kom te voorskyn soos 'n ligstraal.   HOSÉA 6:5 AFR53


God soek ware harts liefde, nie offerhandes wat uit gewoonte gedoen word nie.


Want Ek het 'n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.   HOSÉA 6:6 AFR53


Maar wat doen die volk? Hulle oortree die vebond en handel troueloos. Hulle is kwaaddoeners, rowers en moordenaars.


Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel. Gílead is 'n stad van kwaaddoeners, vol bloedspore. En soos 'n rower op die loer lê, loer 'n priesterbende; hulle pleeg moord op die pad na Sigem, ja, hulle het skandelike dade gedoen.   HOSÉA 6:7-9 AFR53


God het Israel se afskuwelike dade gesien - hulle is ontreinig. Maar, vir Juda is daar ‘n beloning as God die lot van Sy volk kan verander.


In die huis van Israel het Ek 'n afskuwelike ding gesien: Efraim het daar tot hoerery verval, Israel is verontreinig. Ook vir jou, o Juda, is daar 'n oes beskik as Ek die lot van my volk verander.   HOSÉA 6:10-11 AFR53


 

1 Mei 2024


HOSÉA 7:1 AFR53

Terwyl Ek Israel genees, word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaría; want hulle pleeg bedrog en die dief breek in en 'n rowerbende plunder op die straat.


Samaria was die hoofstad van die Noordelike Koninkryk. Koning Omri het dit die hoofstad gemaak, en toe het Agab en Isebel ’n paleis daar gebou. God wou Israel herstel tot 'n plek van seën, maar Sy pogings is teengestaan met nuwe uitbrake van sondes en misdade.


Hulle het vergeet dat God alles sien en onthou. Goddelike leiers is teen alle vorme van goddeloosheid, maar hierdie leiers het hulle in hul boosheid verheug.


En hulle sê nie in hulle hart dat Ek aan al hulle boosheid dink nie; nou omsingel hulle dade hulle, dit lê oop voor my aangesig. Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.   HOSÉA 7:2-3 AFR53


Die leiers se sonde word vergelyk met ‘n bakker se oond. Die bakker werk sonder om te stop om die hitte van sy oond warm te hou. Die smeulende vuur word gevoed met kameelmis en dergelike brandstof, behalwe wanneer hy verplig is om homself besig te hou met die maak van die brood deeg - 'n gepaste beeld van die onophoudelike brandende woede van wellus en geweld.


Hulle is almal owerspelers; hulle is soos 'n oond wat bly brand, ook al het die bakker opgehou met stook, vandat die deeg geknee word totdat dit deursuur is.   HOSÉA 7:4 AFR53


Die dag van ons koning verwys waarskynlik na 'n spesiale viering waarin die koning die middelpunt van aandag was. Die koning vier saam met sy vorste, wat spotters genoem word, waarskynlik omdat hulle heeltemal onder die invloed van wyn was. Terwyl hulle met die naïewe koning partytjie hou, beplan hulle agteraf sy dood.


Op die dag van ons koning is die vorste siek van verhitting deur wyn; hy steek sy hand uit na die spotters.   HOSÉA 7:5 AFR53


Die Noordelike Koninkryk het nie een goeie koning gehad nie en elke koning was meer goddeloos as sy voorganger. Agab en Isebel was die slegste van die klomp, maar sommige van die ander was kort op hul hakke en baie van die konings is uiteindelik vermoor.


Ja, hulle het hul hart gemaak soos 'n oond in hul arglistigheid; die ganse nag deur slaap hulle  bakker, in die môre vroeg brand dit soos 'n vuurvlam. Hulle almal gloei soos 'n oond en verteer hul regeerders, al hulle konings val; daar is niemand onder hulle wat My aanroep nie.   HOSÉA 7:6-7 AFR53


’n Roosterkoek wat nie omgedraai word nie, sal net aan die een kant gaar word. Israel se mislukte buitelandse beleid is sigbaar vir almal behalwe hul leiers. Hierdie alliansies het hul hulpbronne uitgeput, want dit kos geld om gehelp te word. Niks is ooit gratis nie.


Efraim word vergelyk met 'n bejaarde man wat nie die geleidelike gevolge van die verouderingsproses raaksien nie. Ons wórd nie oud nie, ons word eendag wakker en besef dat ons oud ​​is!


Efraim — hy vermeng hom met die volke; Efraim is 'n roosterkoek wat nie omgekeer is nie. Vreemdes verteer sy krag, en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei, en hy weet dit nie.   HOSÉA 7:8-9 AFR53


 

2 Mei 2024


HOSÉA 7:10 AFR53

Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die Here hulle God nie, en ondanks dit alles soek hulle Hom nie.


Trotsheid of hoogmoed kom voor die val! Die Noordelike Koninkryk verset hulsef teen God en dit gaan hul ondergang beteken.


Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.   SPREUKE 16:18 AFR53


Efraim word beskryf as dom onnosel soos ‘n duif sonder verstand omdat hulle God vermy en Egipte en Assirië vir hulp vra.


So het Efraim dan geword soos 'n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur.   HOSÉA 7:11 AFR53


God sal nie staan vir Israel se trotsheid en domastrantheid nie. Hulle sal neergetrek en getugtig word.


Wanneer hulle gaan, sal Ek my net oor hulle uitsprei; soos die voëls van die hemel trek Ek hulle neer; Ek tugtig hulle soos in hulle samekoms aangekondig is.   HOSÉA 7:12 AFR53


Israel is nie net dom nie, maar self vernietigind. Hulle vlug weg van die Here af en besef nie dat hulle daardeur direk in die gevaar kom nie. Daar wag teëspoed vir hulle omdat hulle teen God in opstand is! God sou hulle verlos, maar hulle leuens teen God het die opsie van die tafel verwyder.


Wee hulle, omdat hulle van My weggevlieg het! Verwoesting oor hulle, omdat hulle teen My oortree het! Ék tog wou hulle verlos, maar húlle het leuens teen My gespreek.   HOSÉA 7:13 AFR53


Wanneer Israel wel tot God roep is dit net omdat hulle iets wil he, en nie omdat hulle van harte na God verlang nie.


Ook roep hulle nie van harte na My nie, maar jammer op hulle bedde; ter wille van koring en mos kerwe hulle hulself stukkend; hulle is opstandig teen My.   HOSÉA 7:14 AFR53


God het Israel onder Sy beskerming geplaas en baie vir hulle gedoen, maar hulle het dit as van selfsprekend aanvaar en kwaad teen God beraam.


Alhoewel Ek hulle arms geoefen, versterk het, het hulle kwaad teen My beraam.   HOSÉA 7:15 AFR53


Israel was soos 'n foutiewe boog. So 'n wapen is onbetroubaar omdat dit nie akkuraat is nie. Net so het Israel se vyandige reaksie op God se genade haar onbetroubare, dislojale karakter gedemonstreer.


Die volk se leiers, wat hulle ware bron van krag verwerp het, sou weens hulle trots vernietig word.

Israel se verwerping van goddelike hulp ten gunste van vreemde alliansies word vergelyk met 'n verbale smaad teen God. Ironies genoeg sou Israel 'n voorwerp van bespotting word onder die Egiptenare, wie se hulp hulle in hul dwaasheid gesoek het.


Hulle keer terug, maar nie na bo nie; hulle is soos 'n bedrieglike boog; hulle vorste sal val deur die swaard weens die skeldwoorde van hulle tong. Dit is hulle bespotting in Egipteland.   HOSÉA 7:16 AFR53


 

3 Mei 2024


HOSÉA 8:1 AFR53

Die basuin aan jou mond! Soos 'n arend skiet dit neer op die huis van die Here! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het.


Die basuin word geblaas om Israel te waarsku - daar is ‘n naderende oorlog. Die Assiriërs, die vyand, is gereed om soos ‘n magtige arend op Israel af te kom, soos belowe in die verbondsvloek van Deuteronomium.


Die Here sal teen jou 'n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos 'n arend vlieg — 'n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,   DEUTERONÓMIUM 28:49 AFR53


Histories is dit vervul tydens die inval van Tiglat-Pileser III (734-733 v.C.) en die verowering van Salmaneser in 722 v.C.


In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.   II KONINGS 15:29 AFR53


Israel roep na God as ‘n laaste uitweg. Nie omdat hulle hulself opreg tot God wil wend nie, maar omdat hulle besef hulle is in die moeilikheid. Te min, te laat!


My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U.   HOSÉA 8:2 AFR53


Nou volg 'n lys van Israel se verwerpings van God - vyf gronde vir God se oordeel:


1) Die Verbreking van God se Verbond.


Israel het voorgegee dat hulle toegewyd is aan God. Hulle het God aangespreek as hul eie God en beweer dat hulle Sy gesag oor hulle erken. Tog was dit net lippediens. Israel se sondige optrede het harder gespreek as haar woorde. In werklikheid het Israel dit wat goed was – God se morele en etiese vereistes – verwerp.


Israel het die goeie verwerp — die vyand sal hom agtervolg!   HOSÉA 8:3 AFR53


2) Die keuse van goddelose konings.


God se volk het konings en leiers aangestel sonder om Hom te raadpleeg. Jerobeam het 'n rebellie gelei, en die koningshuis wat hy opgerig het, het nie mense ingesluit wat hulle tot die lewende God gewend het nie.


Na Jerobeam se bewind is die Noordelike Koninkryk gedurig met paleisopstande geteister. Hierdie konings het nooit op enige manier probeer om die volk na God te bring nie. In plaas daarvan het hulle almal eerder afgodediens beoefen.


Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf.   HOSÉA 8:4 AFR53


 

4 Mei 2024


HOSÉA 8:4 AFR53

Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees?


3) Afgodery


Slegte leiers lei tot slegte godsdiens. Israel het vir hulself afgode gemaak in direkte stryd met die tweede gebod. Die kalf-afgode is in Dan en in Bet-el opgerig.


Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem — hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het! En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel.   I KONINGS 12:28-29 AFR53


Hoe kan iets wat deur mense gemaak is as ‘n god voorgestel word. Die feit dat ‘n koning verklaar dat ‘n beeld nou die volk se god is, maak dit nie eweskielik ‘n god nie.


Want dit is ook uit Israel: 'n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word — die kalf van Samaría.   HOSÉA 8:6 AFR53


Hulle saai wind, maar hulle sal ‘n storm maai. Mens moet oppas wat jy saai, want die gevolge kan oorweldigend wees. Die landboumetafoor sê dat Israel se oes waardeloos sou wees, ‘n oes wat stingels oplewer sonder graan. Indien hul wel graan sou produseer, sou uitlanders dit wegneem en die nasie sou nie baat by haar arbeid nie.


Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind.   HOSÉA 8:7 AFR53


4) Alliansies met die goddelose nasies


Die Noordelike Koninkryk het eerder met hul vyandige en goddelose bure alliansies gevorm in plaas daarvan om God te raadpleeg.


Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. Want húlle het opgetrek na Assur — 'n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! — hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf. Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê.   HOSÉA 8:8-10 AFR53


5) Vals altare


Die mense het baie altare gebou vir hul sondoffers, maar dit het altare vir sonde geword, aangesien die godsdienstige dade wat daar uitgevoer is, skynheilig was.


Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig — die altare het vir hom tot sonde geword. Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag. Slagoffers, My aangebied, offer hulle — vleis is dit, en hulle eet; die Here het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte.   HOSÉA 8:11-13 AFR53


Israel het God vergeet, en daarom is hul einde in sig!


Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda 'n menigte versterkte stede, daarom sal Ek 'n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer.   HOSÉA 8:14 AFR53


 

5 Mei 2024


HOSÉA 9:1 AFR53

Wees nie bly met gejuig, o Israel, soos die volke nie, want jy het gehoereer van jou God af weg; jy het hoereloon liefgehad op al die koringdorsvloere.   


Sonde het altyd gevolge. Tragiese gevolge. Onmenslike gevolge. Wanneer jou godsdiens eintlik net jou eie selfbevrediging en selfverryking dien, dan is jy met jouself besig en nie met God nie. Jou voet is dan op ‘n pad wat in skande en skade sal eindig.


Israel het al hul oeste en voorspoed aan Baäl en nie aan God toegeskryf nie. Die oorvloedige oeste was op die punt om te eindig. Ter vervulling van verskeie van die verbondsvloeke, sou God hul graan en wyn wegneem. Seëninge wat misbruik word, is seëninge wat verbeur word.


Dorsvloer en parskuip sal hulle nie voed nie, en die mos sal hulle in die steek laat.   HOSÉA 9:2 AFR53


Toe Israel die opbrengs van die land aan Baäl toegeskryf het, het hulle die seën verbeur om in vrede en voorspoed daarop te lewe. Die land behoort aan God en die wat teen God is, hoort nie op Sy land nie. Daarom sou Assirië die volk in ballingskap wegvoer, en sommiges van Efraim sou na Egipte vlug.


In 'n onrein land sou Israel gedwing word om seremonieel onrein kos te eet, eerder as die vrugte van God se seën. Die straf pas by die misdaad - Israel het deur haar sonde besoedel geword, hoe gepas dan dat sy besoedelde kos in 'n besoedelde land eet.


Hulle sal in die land van die Here nie bly nie; maar Efraim sal na Egipte teruggaan, en in Assur sal hulle eet wat onrein is.   HOSÉA 9:3 AFR53


Offers wat in 'n vreemde land gebring word, is nie vir God aanvaarbaar nie. In ballingskap sou geleentheid vir wettige aanbidding tot God eindig.


Tranebrood is die brood wat by ‘n begrafnis geëet word. Die mense by ‘n begrafnis is onrein omdat hulle in die teenwoordigheid van ‘n dooie is.


Dit is die wet: As iemand in 'n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.   NÚMERI 19:14 AFR53


Die kos wat die volk in die vreemde land eet, maak elkeen wat dit eet onrein en hulle is dus onbevoeg om voor God te verskyn.


Hulle sal vir die Here geen wyn uitgiet nie, en hulle slagoffers sal vir Hom nie welgevallig wees nie; soos tranebrood sal hulle spys vir hulle wees. Almal wat daarvan eet, word verontreinig; want hulle brood is vir hulleself: dit sal nie in die huis van die Here kom nie.   HOSÉA 9:4 AFR53


Hosea vra ‘n retoriese vraag. Wat sal julle op jul feesdae doen? Die hartseer antwoord is: Niks nie! Want elkeen is onrein verklaar en mag nie voor God verskyn nie.


Wat sal julle dan doen op die feestyd en op die feesdag van die Here?   HOSÉA 9:5 AFR53


Verwoesting is die Noordelike Koninkryk se voorland. Die wat nie doodgemaak sou word nie, sou in ballingskap na Assirië gaan. Hulle sou nie weer terugkeer nie, en hul besittings sou in rommel lê tot onkruid daaroor groei.


Want kyk, hulle gaan heen weens die verwoesting: Egipte sal hulle versamel, Mof hulle begrawe; onkruid sal hulle skat van silwergoed in besit neem, dorings in hulle tente wees.   HOSÉA 9:6 AFR53


 

6 Mei 2024


HOSÉA 9:7 AFR53

Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom; Israel sal dit ervaar! Die profeet word 'n dwaas, die man van die gees 'n waansinnige, weens die grootheid van jou ongeregtigheid, en omdat die vyandskap groot is.


Die volk se vyandigheid teenoor die ware profete van God was een van verskeie redes vir hul oordeel. Die goddeloses verontagsaam God - hulle is ongehoorsaam aan Hom wanneer Sy wil aan hulle bekend gemaak word, en verag Hom wanneer Hy hul tugtig en oordeel.


Profete word deur God gestuur om wag te hou oor die volk, en om hulle te waarsku teen komende oordeel as gevolg van hul sondes. Israel se profete het egter soos die net van ‘n voëlvanger geword, en teen God getuig. Daarvoor sal hulle gestraf word.


Efraim is 'n spioen teenoor my God; wat die profeet aangaan, die net van 'n voëlvanger is op al sy weë gesprei, vyandskap in die huis van sy God. Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes.   HOSÉA 9:8-9 AFR53


God se opgewondenheid oor die belofte wat die verhouding met Israel ingehou het, het in afgryse verander toe die volk – reeds in die woestyn – van Hom afvallig geword het. In Sittim het die volk  Baäl-Peor aanbid en met onsedelikheid betrokke geraak.


Ek het Israel gevind soos druiwe in die woestyn; Ek het julle vaders gesien soos voorvye aan die vyeboom in sy eerste groei; maar húlle het na Baäl-Peor gekom en hulle aan die skandegod toegewy en 'n verfoeisel geword net soos die voorwerp van hulle liefde.   HOSÉA 9:10 AFR53


Nog ‘n gevolg van Israel se sondes sal ‘n kwynende nageslag wees. Geen geboortes, geen moederskap is hul voorland.


Efraim — sy heerlikheid sal wegvlieg soos 'n voël. Geen geboorte, geen moederskap, geen ontvangenis meer nie! Ja, al sou hulle hul kinders grootmaak, Ek maak hulle kinderloos, sonder mense; ja, wee hulleself ook as Ek van hulle wyk.   HOSÉA 9:11-12 AFR53


As die volk dan nie insig kry oor wie God vir hulle is in God se teenwoordigheid nie, is die hoop dat hulle dit moontlik sal kry wanneer Sy teenwoordigheid weggeneem word van hulle. Miskien sien hulle God raak wanneer hulle buite Sy beskerming en teenwoordigheid moet sin maak van die lewe.


Efraim, soos Ek dit sien na Tirus heen, is geplant in 'n mooi omgewing, maar Efraim sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring. Gee hulle, o Here — wat sal U gee? — gee hulle 'n kinderlose moederskoot en uitgedroogde borste.   HOSÉA 9:13-14 AFR53


Gilgal is die plek waar die volk vir die eerste keer ‘n ander koning as God wou he.


Al hulle boosheid is byeen in Gilgal, want daar het Ek hulle begin haat weens die boosheid van hulle handelinge; Ek sal hulle uit my huis uitdrywe, hulle nie meer liefhê nie. Al hulle vorste is opstandig. Efraim is getref, hulle wortel het verdor, hulle dra geen vrug meer nie; ook wanneer hulle kinders baar, sal Ek nogtans die lieflinge van hulle skoot ombring.   HOSÉA 9:15-16 AFR53


Die slotsom van dit alles is dat God hulle nou verwerp en dat hulle swerwers op aarde sal word, ‘n duidelike boodskap van die dreigende ballingskap en verstrooiing.


My God sal hulle verwerp, omdat hulle na Hom nie geluister het nie, en hulle sal rondswerwe onder die nasies.HOSÉA 9:17 AFR53


 

7 Mei 2024


HOSÉA 10:1 AFR53

Israel was 'n weelderig uitbottende wynstok wat sy vrug voortgebring het; hoe meer vrug hy gedra het, des te meer altare het hy gebou; hoe beter dit met sy land gesteld was, des te beter het hy die klippilare gemaak.


Hosea gebruik ‘n wingerd om Israel se geskiedenis te beskryf. God het Israel soos ’n wingerdstok in die land Kanaän geplant en haar geseën met vrugte (m.a.w. voorspoed).

Maar, hoe groter Israel se voorspoed was hoe vêrder het hulle van God beweeg. Hulle het altare gebou en hul sukses foutiewelik aan hul vals gode toegeskryf eerder as aan God.


God sal Israel straf deur spesifiek hul altare te breek en hul klippilare te verwoes.


Vals is hulle hart; nou sal hulle daarvoor boet; Hy sal hulle altare stukkend breek, hulle klippilare verwoes.   HOSÉA 10:2 AFR53


Die Noordelike Koninkryk het nooit ‘n goeie koning gehad nie. Met die naderende inval sou die nasie se politieke struktuur ineenstort en hul koning sou verwyder word. In ballingskap sou Israel hul eie ontrou erken as die basis vir hul oordeel.


Ja, nou sal hulle sê: Ons het geen koning nie, want ons het die Here nie gevrees nie; en die koning — wat sou hy vir ons kan doen? Hulle het groot woorde gespreek, vals gesweer, verbonde gesluit — en soos 'n gifplant spruit die oordeel uit in die vore van die landerye.   HOSÉA 10:3-4 AFR53


Die seëvierende Assiriese leër sou die goue kalfgode as buit neem en as geskenk aan hul koning Jareb gee. Die volk wat die kalf aanbid het, sou treur oor hul afgode.


Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder, oor sy heerlikheid, omdat dit van hom weggevoer is. Hy sal ook self na Assur weggevoer word as 'n geskenk aan koning Jareb; skaamte sal Efraim aangryp, en Israel sal beskaamd staan oor sy eie raadsbesluit.   HOSÉA 10:5-6 AFR53


Israel se koning, sowel as haar kalfgod, sou in die komende inval verwyder word. Die nasie sou weggedryf word soos skuim of 'n takkie wat op die water dryf, deur die stroom meegesleur en tot niet gemaak word.


Samaría word vernietig, sy koning is soos 'n spaander op die water.   HOSÉA 10:7 AFR53


Die grondgebied van afgodsaanbidding sou ook vernietig word, die ruïnes word met dorings en distels toegegroei. Die verwysing na die vernietiging van die hoogtes is ironies - toe Israel die land ingegaan het, het God hulle beveel om hierdie aanbiddingsentrums te vernietig. As gevolg van Israel se droewige mislukking in die uitvoering van hierdie taak, het God gekies om die Assiriërs te gebruik om Sy doel te bereik.


En die hoogtes van Awen, Israel se sonde, word verdelg, dorings en distels sal opskiet op hulle altare; en hulle sal tot die berge sê: Bedek ons! en tot die heuwels: Val op ons!   HOSÉA 10:8 AFR53


In uiterste desperaatheid sou die mense die berge smeek om op hulle te val. 'n Soortgelyke pleidooi sal deur ongelowiges in die Verdrukking gemaak word in reaksie op die verskrikking van God se toorn in die seël-oordele.


en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam;   OPENBARING 6:16 AFR53


 

8 Mei 2024


HOSÉA 10:9 AFR53

Sedert die dae van Gíbea het jy gesondig, o Israel! Daar staan hulle — moet die stryd teen die kwaaddoeners hulle nie oorval in Gíbea nie?


Israel se onbehoorlike oortredinge het lank terug al in die dae van die Rigters begin. Gibea verwys na ‘n dorp in die dae van die Rigters, en is ‘n voorbeeld van geweldige wreedheid, net soos Sodom vir onnatuurlike ondeugheid bekend is.


God sal Israel tugtig op Sy tyd en wanneer Hy besluit om dit te doen. Hulle sal gestraf word vir die twee kalwers wat as afgode in die Noordelike Koninkryk opgerig is.


Dit is my begeerte om hulle te tugtig, en volke sal teen hulle versamel word as hulle gebind word aan hulle twee ongeregtighede.   HOSÉA 10:10 AFR53


‘n Geleerde jong koei was gebruik om die graan op die dorsvloer uit te trap. Dit was lekker vir die koei want sy was sonder ‘n juk en kon eet soveel as wat sy wil. Israel word met so ‘n jong koei vergelyk, maar in plaas daarvan om dit wat maklik is te doen, m.a.w. om God te dien, het hulle verkies om onder die juk van sonde ‘n afgod kalf te aanbid. Nou sal dit nie meer goed gaan met Israel nie, maar hulle sal harde dwangarbeid in ‘n vreemde land moet verrig.


Maar Efraim is 'n geleerde jong koei wat gewillig dors; nogtans sal Ek self oor haar mooi nek gaan: Ek sal Efraim laat trek; Juda sal die ploeg trek, Jakob sal die eg sleep.   HOSÉA 10:11 AFR53


Selfs te midde van 'n boodskap van veroordeling en oordeel het God die moontlikheid van bekering en seën voorgehou. Hosea spoor Israel aan om te saai volgens God se wil sodat hulle Sy liefde kan oes.


Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.   HOSÉA 10:12 AFR53


Wat jy saai sal jy maai. Eerder as om op God staat te maak het Israel op hul eie militêre mag staat gemaak.


Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde.   HOSÉA 10:13 AFR53


Omdat Israel hul rug op gedraai het, sal hulle deur God verwoes word.


Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word net soos Salman Bet-Arbel verwoes het in die dag van oorlog: moeders is met kinders en al verpletter.   HOSÉA 10:14 AFR53


Die Assiriërs het gekom, en Israel is oornag na Assirië vervoer waar hulle in slawerny geleef het.

Na die Assiriese ballinskap het die  Noordelike Koninkryk nooit weer ‘n koning gehad nie.


Net so het Bet-el aan julle gedoen weens julle ontsettende boosheid; in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.   HOSÉA 10:15 AFR53


 

9 Mei 2024


HANDELINGE 1:9 AFR53

En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en 'n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.


Ons onderbreek ons Bybelstudie om vandag Hemelvaart te vier!


Veertig dae nadat Jesus uit die dode opgestaan het, vaar Hy op na die hemel.


Ons lees in Handelinge dat die disippels ooggetuies was.


Markus vertel dat Jesus se hemelvaart tydens een van Sy gesprekke met die disippels gebeur het:


Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.   MARKUS 16:19 AFR53


Lukas vertel ook in sy Evangelie dat Jesus opgevaar het na die hemel.


En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.   LUKAS 24:51 AFR53


Vier verwysings van die Hebreërskrywer en Paulus word as bevestiging aangehaal.


Die Hebreërs skryf dat Jesus nou ons Voorspraak in die hemel is.


Want Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak, 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;   HEBREËRS 9:24 AFR53


Die Hebreërs skryf ook dat Jesus nou ons Hoëpriester is en dat dit ‘n belydenis is wat ons styf moet vashou.


Terwyl ons dan 'n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.   HEBREËRS 4:14 AFR53


Hoekom? Want, sê Paulus, in Romeine 8, die oordeel van God is van ons afgewend.


Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.   ROMEINE 8:34 AFR53


Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons hemelsgesind sal lewe, met ons oog gevestig op die hemelse dinge soos Paulus verduidelik.


As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.   KOLOSSENSE 3:1 AFR53


Jesus kom eendag terug net soos Hy gegaan het.


En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.   HANDELINGE 1:10-11 AFR53


Johannes bevestig in Openbaring dat Jesus terugkom met die wolke.


Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!   OPENBARING 1:7 AFR53


 

10 Mei 2024


HOSÉA 11:1 AFR53

Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.


Hosea hanteer nou die klimaks van God se plan vir die finale verlossing van Sy uitverkore volk. Alles wat Israel getref het, was bedoel om hulle te onderrig en na God terug te bring. Hosea delf nou in die verlede, hede en toekomstige geskiedenis van verlossing vir God se volk.


Toe Israel 'n kind was, of toe Israel in sy kinderskoene gestaan het, was hulle in Egipte.


Dit is interessant dat die verhouding van God en Israel hier nie as ‘n huweliksverhouding beskryf word nie, maar as dié tussen ‘n pa en seun. God praat hier as die Vader van Israel, Sy kind, vir wie Hy baie lief is.


God het Sy seun of Sy volk verlos van hul Egiptiese vyand en hulle uit die Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.


Maar, hierdie gedeelte kyk nie net terug na Israel se begin nie, dit kyk ook vorentoe na God se Seun, Jesus, wat in Egipte moes skuiling vind teen Herodus.


En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.   MATTHÉÜS 2:15 AFR53


Daar was nie ‘n tekort aan profete wat God aan Sy volk gestuur het nie. Maar, hoe meer die profete die volk gewaarsku het om op die regte pad te bly, hoe meer het die volk opgehou luister en hoe meer afgode het hulle begin aanbid. Soos ‘n stout kind het die volk hul eie wil gevolg.


Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.   HOSÉA 11:2 AFR53


God het die volk nie net as ‘n seun aangeneem nie, Hy het vir hulle omgegee. Hoe teer en deernisvol het God Sy seun Israel, geleer en versorg. Hulle leer loop en hulle in Sy arms geneem. Maar als verniet, want hulle het nie erken dat God die een was wat hulle gehelp het nie.


En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.   HOSÉA 11:3 AFR53


Moses het in sy tyd al hierdie probleem raakgesien.


en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos 'n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het. Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die Here julle God nie,   DEUTERONÓMIUM 1:31-32 AFR53


God het met deernis na Sy volk omgesien, hy het hul juk of hul swaarkry verlig.


Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.   HOSÉA 11:4 AFR53


As straf vir hul ongehoorsaamheid, sal hulle nie na Egipte terugkeer nie, maar na Assirië, want hulle het geweier om te bekeer.


Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur — dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer.   HOSÉA 11:5 AFR53


 

11 Mei 2024


HOSÉA 11:6 AFR53

En die swaard sal geswaai word in sy stede en sy grendels vernietig en verteer weens hulle planne.


Die swaard dui op oorlog wat in Israel se stede sou plaasvind en hulle vernietig. Hosea se profesie het toe ook so gebeur. Die koning van Assirië het deur die hele land getrek en Samaria en die land vir drie jaar beleër. Samaria word in koning Hosea se negende jaar ingeneem en die hele Israel word in ballingskap weggevoer na Assirië, en hiermee kom die Noordelike koninkryk tot ‘n einde.


“In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.”   II KONINGS 17:6 AFR53


Die straf het oor Israel gekom omdat hulle met opset weggedraai het van God en geweier het om na Sy profete te luister.


Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie.   HOSÉA 11:7 AFR53


Adma en Seboiim was twee stede wat saam met Sodom en Gomorra vernietig is.


Nou praat God met die hart van ‘n liefdevolle Vader wat nie die seun wat Hy lief gehad en gekoester het, kan oorgee nie... God vra: Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma en Seboiim?


Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Sebóim: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.   HOSÉA 11:8 AFR53


God se band met Israel word egter nie só maklik verbreek nie. Sy worsteling met die gevolge vir Sy volk van die selfopgelegde Assiriese juk waaronder hulle ingeskuif het, openbaar Sy diep liefde vir hulle.

Daarom verkondig Hosea dat God nie heeltemal vernietigend wil optree teen Sy volk nie. Hy is immers nie so gewelddadig soos die volk self in hulle onderlinge gemeenskapslewe nie.


Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie 'n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.   HOSÉA 11:9 AFR53


Met die straf van sonde wat in die dood van Jesus bevredig is, sal God in Sy volk 'n nuwe hart skep. Met 'n nuwe ingeplante hart, sal Israel uiteindelik agter die Here aan trek.


Die leeu se brul is wat Israel terugroep na sy eie land soos 'n trop skaars welpies. Ons sien in vandag se tyd hoe Jode besig is om terug te keer na Israel.


Uit die weste of die seekant, kan nie verwys na Assirië of Babilon, wat van die ooste af sou wees nie! Dit blyk 'n verwysing na die diaspora te wees, en die herversameling van die Jode in die eindtyd.


Hulle sal agter die Here aan trek; Hy sal brul soos 'n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom.   HOSÉA 11:10 AFR53


God se volk sal gretig terugkeer na Sy land en na hul tuiste, vanuit elke rigting, en soos ‘n voël wat terugkeer na sy nes.


Hulle sal sidderende aankom soos 'n voëltjie uit Egipte en soos 'n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die Here.   HOSÉA 11:11 AFR53


 

12 Mei 2024


HOSÉA 12:1 AFR53

Efraim het My omsingel met leuens, en die huis van Israel met bedrog; terwyl Juda nog altyd bandeloos is teenoor God, ja, teenoor die Allerheiligste, die Getroue.


Ons kom nou by die derde en laaste gedeelte van die boek van Hosea.


Hoofstuk 1-3 het die verhouding tussen God en Sy volk met ‘n huweliksmetafoor – geïllustreer met die huwelik van Hosea met Gomer – beskryf as basis vir die res van Hosea se boodskap. Hoofstuk 4-11 het hoofsaaklik onheilsprofesieë op die tafel gesit waarin die regsaak (4:1) wat God teen die volk het oor hulle ontrouheid aangevoer word. Tóg het God ook verskillende beloftes van herstel gegee onder andere gebaseer op Sy deernisvolle liefde vir hulle (11:1-11).


Hoofstuk 12-14 herhaal nou in ‘n tweede rondte weer dié onheilsprofesieë van ‘n regsaak (12:3) van God teen die volk sowel as die beloftes van herstel van hulle afvalligheid as hulle hulle tot Hom sal bekeer (14:2-10).


Efraim, Israel en Juda is almal wispelturig in hul diens aan God -  hul lojaliteit verskuif telkens van God na hul afgode. Hulle weet nie dat dit so vrugteloos is soos om die wind te probeer vasvang of nog erger, agter die wind aan te hardloop nie. Selfs in hul alliansies met hul vyande is Israel agterbaks. Hulle het ‘n alliansie met Assirië, maar agteraf konkel hulle ook met Egipte. Dit gaan nie goed uitdraai nie.


Efraim hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit 'n verbond met Assur, terwyl olie na Egipte gevoer word.   HOSÉA 12:2 AFR53


God se twis is nie net met die Noordelike Koninkryk nie, maar ook met Juda die Suidelike Koninkryk. Die Suidelike Koninkryk Juda word met Jakob, die ou bedrieër, vergelyk.


Die Here het ook 'n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade.   HOSÉA 12:3 AFR53


Jakob se gekonkel is al in die moederskoot geprofeteer toe hy Esau se hakskeen gegryp het. Ons weet hy het Esau se eergebore reg deur ‘n pot lensiesop verkry, en sy ma het hom gehelp om die eersgebore seën van sy pa te kry. Jakob het ook met ‘n Engel baklei en gewen.


In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.   HOSÉA 12:4 AFR53


Jakob het met God gestry en die oorhand gekry en sy naam is verander na Israel. Jakob het altyd deur sy eie bedrieglike middele na God se seën gestreef, maar nou sou God Israel Sy weg leer.


Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.   HOSÉA 12:5 AFR53


Onder sy nuwe naam het hy God by Bet-el gesoek, die einste plek waar sy nageslag goue kalwers sou aanbid.


Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.   GÉNESIS 32:28 AFR53


 

13 Mei 2024


HOSÉA 12:6 AFR53

En Here God van die leërskare, Here is sy gedenknaam.


God is almagtig en God sal onthou. God se Naam is tot in ewigheid en sal onthou word van geslag tot geslag.


o Here, u Naam is tot in ewigheid, u gedenknaam, Here, van geslag tot geslag!   PSALMS 135:13 AFR53


Jakob of Israel, die aartsvader, het by Bet-el bekeer en God se opdrag gevolg om liefde en reg te beoefen en gedurigdeur op God te wag.  Die pleidooi is dat Efraim ook sy voorvader sou navolg.


En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.   HOSÉA 12:7 AFR53


Toe die volk die land Kanaän ingegaan het, is hulle spesifiek aangesê om hulself te skei van die gebruike van die Kanaäniete, die mense wat hulle moes vernietig. Israel het nie net die Kanaäniete in hul losbandige godsdiens gevolg nie, maar het ook hul goddelose sakepraktyke aangeneem.


Die woord handelaar is identies aan die woord Kanaän en die valse weegskale beteken dat die handelaars korrup was.


Kanaän — in sy hand is daar 'n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers.   HOSÉA 12:8 AFR53


Die volk onder Jerobeam ll was ryk en het niks gekort nie. Hul voorspoed het veroorsaak dat hulle ook nie vir God nodig gehad het nie. Rykdom was nog nooit 'n akkurate barometer van 'n mens se status voor God nie.


Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my 'n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.   HOSÉA 12:9 AFR53


Israel het van ‘n lewe van uitspattigheid na ballingskap gegaan. Van gerieflike huise terug na tente. Terug na ‘n plek waar hulle net op God moes staatmaak vir hul daaglikse bestaan.


Maar Ek is die Here jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees.   HOSÉA 12:10 AFR53


God verklaar dat Hy Sy volk deur die profete gewaarsku het wat gaan gebeur. Die profete het met die volk deur middel van gelykenisse gepraat en deur gesigte wat hulle gesien het.


Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.   HOSÉA 12:11 AFR53


Gilead was die plek waar daar 'n balsem moes wees om die wonde te genees, maar toe was dit eerder 'n plek van sonde. Gilgal was die plek waar Baäl aanbid is, waar hulle beeste aan die afgod geoffer het eerder as om God te aanbid.


Was Gílead goddeloosheid — hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye.   HOSÉA 12:12 AFR53


 

14 Mei 2024


HOSÉA 12:13 AFR53

En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir 'n vrou as loon, en vir 'n vrou het hy vee opgepas.


Hosea kontras weereens die volk Israel met Jakob (Israel) wat na Paddan-Aram gevlug het vir veiligheid, nadat hy sy vader mislei het. Jakob was bang dat Esau hom sou skade aandoen.


Jakob was in ‘ballingskap’ by sy oom Laban en tog het hy God nooit verlaat nie, al moes hy vir meer as veertien jaar as ‘n slaaf werk om Ragel as vrou te kry. Onthou dat Jakob na sewe jaar gekul is, en met Lea getrou het i.p.v. Ragel. Toe moes hy nog sewe jaar werk om met Ragel te trou.


Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar 'n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer.   GÉNESIS 28:2 AFR53


Israel, wat in slawerny in Egipte was, het nie gewerk om hul vryheid te ontvang nie. God het hul weeklaag gehoor en besluit om in te tree deur Sy profeet Moses. Tog het die volk, ten spyte van al die wonderwerke wat hulle beleef en gesien het, nogtans God verwerp.


Maar deur 'n profeet het die Here Israel uit Egipte laat optrek, en deur 'n profeet is hulle opgepas.   HOSÉA 12:14 AFR53


Efraim het God geterg en uitgelok met hul aanhoudende verwerping van Hom. God se woede is uitgelok deur eeue se ondankbaarheid vir Sy voordele en daarom sal God hulle straf vir al hul sondes: roof, bloedvergieting, owerspel, onderdrukking van die armes, oneerlikheid, afgodery ens.


Efraim het die Here bitterlik geterg; daarom sal Hy sy bloedskulde op hom laat neerkom, ja, sy Here sal hom vir die aangedane smaad vergelde.   HOSÉA 12:15 AFR53


Hierdie is nie net Israel se geskiedenis nie, dit is die verhaal van die menslike ras, en onsself in die besonder. Daar is nie een van ons wat nie van God af weggehardloop het ten spyte van Sy oorvloedige genade nie, en daar is baie (gelowiges) wat van Hom afgewyk het al is hulle in Sy familie aangeneem.


Net die gruwel van sonde verduidelik hoe ons sulke liefde kan minag. Hosea se naam beteken verlossing. In die volheid van die tyd het een gekom wie se Naam Yehovah, Yeshua en Jesus was. Hy het na Sy eie gekom, maar Sy eie het hom nie ontvang nie.


Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;   JOHANNES 1:11-12 AFR53


Die dilemma wat in Hosea aangebied word, is die oënskynlike spanning tussen die heiligheid en geregtigheid van God, en Sy liefde en frustrasie met 'n opstandige en ondankbare volk.


Die sleutelgedagte van die hele oorsig van Israel se geskiedenis is dat daar hoop buite oordeel is - 'n hoop gebaseer op die unieke aard van God.


 

15 Mei 2024


HOSÉA 13:1 AFR53

As Efraim net gespreek het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Israel. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baäl en gesterwe.


Efraim se prominente (verhewe) plek onder die stamme van Israel was welbekend. Jerobeam I, wat die Noordelike Koninkryk se afstigting gelei het, was van die stam van Efraim. Hierdie prominente stam het egter ook die voortou geneem in Baälaanbidding en was so goed soos dood.


Waar pas Efraim by die twaalf stamme in? Josef en Benjamin was Jakob se seuns by sy geliefde vrou Ragel.  Josef se twee seuns Efraim en Manasse was albei deur sy vader Jakob aangneem, wat Jakob nou 14 seuns gegee het. Dit kan gebeur dat ‘n spesifieke stam om welke rede nie in ‘n situasie inpas nie, en dan is daar twee ‘reserwes’ om van te kies.


In Openbaring lees ons van die verseëling van die 144,000 en dan word die twaalf stamme waaruit twaalfduisend van elke stam geneem word gelys.


“uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.   OPENBARING 7:5-8 AFR53


Wat ons hier sien is dat die stamme van Dan en Efraim nie deel van hierdie keuse van 12 uitmaak nie.


Waarom nie die stam van Dan nie? Daar is ‘n hele paar redes, maar op ons vantoepassing, is dat  hulle stam afgodediens in die land ingebring het.


En die kinders van Dan het vir hulle die gesnede beeld opgerig; en Jónatan, die seun van Gersom, die seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van die Daniete tot op die dag van die ontvolking van die land.   RIGTERS 18:30 AFR53


So dan word Efraim ook weggelaat uit die 144,000 van Openbaring, want ook hulle word met afgodery geassosieër soos ons uit Hosea se profesieë geleer het.


Hosea se boodskap, soos dié van sy tydgenote, Amos, Jesaja en Miga, moet verstaan word teen die opdrag van Deuteronomium 28, die verbond tussen God en Israel:


Israel moes lojaliteit aan God toon deur Hom alleen te aanbid en Sy gebooie te gehoorsaam.

- Gehoorsaamheid sou seën bring (Deut 28:1-14), maar

- Ongehoorsaamheid sou oordeel en uiteindelike ballingskap bring (Deut 28:15-68).


En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God nie. En soos die Here oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die Here oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.   DEUTERONÓMIUM 28:62-63 AFR53


Ons sien hier die begin van die val van die Noordelike Koninkryk. Fase 1 van die verval van ‘n nasie gebeur wanneer hul gees sterf. Wanneer hulle God vergeet en begin om dit wat nie God is nie te aanbid. Klink baie soos wat vandag in al die samelewings oor die wêreld gebeur!


 

16 Mei 2024


HOSÉA 13:2 AFR53

En nou gaan hulle voort om te sondig en het vir hulle 'n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode volgens hulle insig, geheel en al smidswerk; van hulle word gesê: Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!


Om die kalwers met kusse te vereer is dieselfde as om aan hulle hulde te bring. Soos die Efraimiete (en die ander Israeliete wat hulle hier verteenwoordig) hul afgode en beelde vermenigvuldig het, het hulle by hul skuld bygevoeg.


Fase 2 van die verval van ‘n nasie gebeur wanneer die siel van so 'n nasie sterf. Die nasie se nasionale karakter gaan agteruit, hul moraliteit verval, daar is versnelde korrupsie in hul leierskap, gesinne breek op, materialisme is belangrik, daar is ‘n toename in misdaad en geweld, asook ‘n versuiming van die regering om die vertroue van sy mense en ander nasies te behou. Een meetbare voorbeeld van die mislukking van vertroue, is die verswakking van ‘n land se geldeenheid en toenemende inflasie.


Elkeen van die vier vergelykings (mis, dou, kaf en rook) beklemtoon die uiters verbygaande aard van die wat afgode dien.


Daarom sal hulle wees soos 'n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.   HOSÉA 13:3 AFR53


God se eerste gebod het in Hosea se dag verlore gegaan.


Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;   EXODUS 20:3-5 AFR53


God herinner Israel aan Sy genadige dade aan die begin van hulle geskiedenis:  Hy het hulle uit Egipte uitgelei, Hy het hulle in die woestyn versorg en, hulle toegelaat om die Beloofde Land in te gaan - die land van melk en heuning.


Tog was Ek, die Here, jou God van Egipteland af, en buiten My het jy geen God geken nie, ja, behalwe My is daar geen Heiland nie. Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes.   HOSÉA 13:4-5 AFR53


God beskryf Sy volk as skape of beeste wat rustig wei. In ruil vir hul seëninge moes hulle God as hul Verlosser erken, maar in plaas daarvan het hulle trots geword en Hom vergeet.


Ooreenkomstig hulle weiveld het hulle versadig geword; toe hulle versadig was, het hulle hart hoogmoedig geword; daarom het hulle My vergeet.   HOSÉA 13:6 AFR53


Soos 'n bose en magtige wilde dier (leeu, luiperd of beer) sou God Sy volk aanval (hier steeds beskou as 'n hulpelose kudde of trop).


Toe het Ek vir hulle soos 'n leeu geword, soos 'n luiperd lê Ek by die pad en loer. Ek val hulle aan soos 'n beer wat van kleintjies beroof is, en Ek skeur hulle borskas oop; en soos 'n leeuin verslind Ek hulle daar, die wilde diere van die veld sal hulle verskeur.    HOSÉA 13:7-8 AFR53


 

17 Mei 2024


HOSÉA 13:9 AFR53

Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is.


Ironies genoeg sou die Helper van Israel hul vernietiger word omdat hulle teen Hom gedraai het.


Wanneer God sou kom om hulle te vernietig, sou niemand die volk kon red nie, selfs nie die politieke leiers wat hulle van God geëis het nie.


Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos in al jou stede, en jou regters van wie jy gesê het: Gee my 'n koning en vorste?   HOSÉA 13:10 AFR53


God het na die volk geluister en vir hulle konings gegee, maar dié gaan nou weer weggeneem word, omdat die konings hul primêre taak versaak het, om die volk aan God te verbind.


Ek gee jou 'n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid.   HOSÉA 13:11 AFR53


God het nie Israel se skuld oorgesien nie. Efraim se sondige dade is vergelyk met 'n dokument wat saamgebind is en 'n skat wat opgegaar is. Deur beide figure is Israel se sondes uitgebeeld as iets wat versigtig bewaar word tot die dag van vergelding wanneer dit as getuienis teen die nasie gebring sou word.


Saamgebind is die ongeregtigheid van Efraim, weggebêre is sy sonde.   HOSÉA 13:12 AFR53


God worstel met die goddeloosheid en sondige afvalligheid van Sy volk. Hulle is soos ‘n kind wat gebore moet word, maar nie reg lê in die baarmoeder nie, en daarom bestem is vir die dood.


Barensweë sal hom oorval, hy is 'n onverstandige kind; want as die tyd daar is, stel hy hom nie in die kindergeboorte nie.   HOSÉA 13:13 AFR53


Die eerste twee stellings is retoriese vrae wat 'n negatiewe antwoord impliseer: Sal ek hulle loskoop uit die mag van die doderyk? Sal ek hulle van die dood verlos?

Die volgende twee vrae: Waar, o dood, is jou plae? Waar, o graf, is jou verderf? sou dus 'n beroep op die dood wees om sy plae en vernietiging teen Efraim te ontketen.


Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf? Berou bly vir my oë verborge.   HOSÉA 13:14 AFR53


Paulus, het onder die lyding van die Heilige Gees hierdie teks geneem en dit in die positief gestel! In ‘n ongewone en dramatiese manier verbind Paulus Hosea se woorde met die Nuwe Testament.


Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.   I KORINTHIËRS 15:55-57 AFR53


Met God se deernis verwyder, sou Israel se voorspoed tot 'n einde kom. God sou kom soos 'n warm oostewind wat alles op sy pad opdroog.


Wanneer hy vrug dra onder die broers, kom 'n oostewind, 'n wind van die Here, wat uit die woestyn opkom; dan droog sy fontein op en sy bron dor uit. Dié sal 'n skat van allerhande kosbare voorwerpe roof.   HOSÉA 13:15 AFR53


 

18 Mei 2024


HOSÉA 14:1 AFR53

Samaria sal daarvoor boet, omdat hy weerspannig was teen sy God; hulle sal val deur die swaard, hulle kinders sal verpletter en hulle swanger vroue oopgesny word.


Vernietiging sou kom omdat Israel teen God in opstand gekom het.


Hosea se profesie eindig op 'n positiewe noot met 'n vermaning tot bekering. Hy het nooit moeg geword om daardie een woord ‘bekeer’ te gebruik nie. Alhoewel hierdie finale beroep sekerlik deur God se arrogante en hardkoppige nasie verwerp sou word, sou dit hoop in die harte van 'n regverdige oorblyfsel inboesem en die berouvolle geslag van die toekoms voorsien van 'n model om na te volg.


Bekeer jou, Israel, tot die Here jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die Here; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied.

HOSÉA 14:2-3 AFR53


Israel sal nie meer op Assirië of ander nasies kan staatmaak nie, en hulle sal hul handgemaakte afgode ook nie meer ‘ons gode’ noem nie.


Assur kan ons nie red nie, op perde wil ons nie ry nie en tot die werk van ons hande nie meer sê: Onse God nie! Want by U vind die wees ontferming.   HOSÉA 14:4 AFR53


In die dag van Israel se bekering sal God van Sy toorn wegdraai en Sy liefde bewys deur die volk te genees. In daardie tyd sal God se seën na Israel terugkeer. Waar Israel ontrou was soos die dou wat gou verdamp en dit hulle bestaan bedreig het, word God nou self vir hulle die dou wat hulle groei sal verseker. ‘n Pragtige omkeer van die negatiewe gebruik van die metafoor van dou.


Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos 'n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.   HOSÉA 14:5-6 AFR53


Die prentjie van Israeliete wat weer graan verbou en olywe groei, dui op die terugkeer van die verbondseën volgens Deut 28.  Weereens sal Israel soos 'n vrugbare wingerdstok wees wat die beste wyn produseer.


Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van 'n olyfboom en sy geur soos die Líbanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon.   HOSÉA 14:7-8 AFR53


God sal Sy volk genees en hulle op omvattende wyse seën. Hy maak egter staat op hulle lojaliteit, want Hy is die een wat die genesing en seën vir hulle gee. God is soos ‘n immergroen sipres wat vir Sy volk gee wat hulle nodig het.


Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos 'n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.   HOSÉA 14:9 AFR53


Die boek eindig met 'n woord van wysheid. Iemand wat wys en oordeelkundig is, sal 'n drievoudige les uit Hosea se boodskap leer.


1) God se weë is reg.

2) Wanneer jy op God se pad loop sal jy Sy seëninge ervaar.

3) Wanneer jy in ongehoorsaamheid verval, sal vernietiging volg.


Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let! Wie verstandig is, laat hom dit erken! Want die weë van die Here is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!   HOSÉA 14:10 AFR53


 

19 Mei 2024


LEVÍTIKUS 23:15-16 AFR53

Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle 'n nuwe spysoffer aan die Here bring.


Pinkster / Pentacost / Shavuot


Vandag vier ons Pinkster of die vierde fees wat God in Levitikus ingestel het.


Om te bepaal wanneer hierdie fees gevier moet word, beveel God die volk om te begin tel van die dag na die sabbat. Die sabbat is ‘n Saterdag, so die dag na die sabbat is Sondag. Die dag wat die are as beweegoffer gebring is, is wat ons as Jesus se opstanding ken. So van Jesus se opstanding moet ons sewe volle weke tel.


In Hebreeus word hierdie fees Shavuot genoem, want Shavuot beteken weke. Sewe weke moet getel word, so in Engels het dit Feast of Weeks geword. 7 x 7 weke is 49 dae + die dag daarna is vyftig dae. So in Grieks het hul toe die naam Pentacost gegee omdat dit vyftig beteken. In Afrikaans is die woord Pinkster opgemaak, en nou weet ons waar dit vandaan kom.


Elke gesin moet 2 brode bring wat met ongeveer drie kilogram koringmeel gemaak is. Die brode moet met suurdeeg gemaak word.


Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee-tiendes van 'n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here.   LEVÍTIKUS 23:17 AFR53


Ons weet al teen die tyd dat suurdeeg in die Bybel ‘n prentjie is van sonde. Om te bepaal wat die brode met die suurdeeg voorstel is dit goed om eers te kyk wat die brode nie voorstel nie. Waar in die vorige feeste is brood geëet? Dit was met die fees van ongesuurde brode. Die ongesuurde brode, wat sonder suurdeeg gebak is, is ‘n voorstelling Jesus.


So die brode wat met suurdeeg gebak moet word, kan nie vir Jesus voorstel nie. Ook nie die Heilige Gees nie, want dieselfde reëls geld. Jesus en die Heilige Gees is sonder sonde. Die brode stel twee groepe mense voor, mense met sonde. Die twee groepe mense in Jesus se tyd was die ‘Jews’ en die ‘Gentiles’. Die Jode en die heidene wat as twee verskillende groepe, ‘n derde groep, naamlik Christene vorm.


Tien dae tevore, net voor Jesus opgevaar het na die hemel, het Hy vir Sy apostels gesê dat hulle moet wag in Jerusalem, want hulle sal krag ontvang as die Gees oor hulle kom.


Ons herdenk vandag, die dag wat die Heilige Gees oor die Apostels uitgestort is en hulle die krag van bo ontvang het en in verskillende tale met die omstaanders gepraat het. Jode wat van oor die hele wêreld gekom het om hierdie verpligte fees by te woon het in hul land se taal die Woord van God gehoor.


En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.   HANDELINGE 2:1-4 AFR53


Die aantal mense wat die dag gedoop is, en by die getal van die gelowiges bygevoeg is, was omtrent drie duisend mense.


Ons opdrag om die Woord van God uit te dra geld vandag nog vir ons, tot en met die eindtye!


 

8 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page