20 Mei 2024
AMOS 1:1 AFR53
Die woorde van Amos, een van die skaapboere uit Tekóa, wat hy gesien het aangaande Israel in die dae van Ussía, koning van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing.
Die volgende ‘klein’ profeet wat ons hanteer is Amos. Hy het geprofeteer tydens die heerskappy van koning Ussia van Juda (790-739 v.C.) en koning Jerobeam II van Israel (793-753 v.C.).
Indien Amos se gesig in 762 v.C. gesien was, het dit presies 40 jaar voor die Assiriese inval plaasgevind wat duidelik 'n waarskuwing vir die Noordelike Koninkryk was.
Die profete Miga, Jesaja en Jona was tydgenote van Amos en Hosea het 'n dekade of wat later in die bediening volg.
Amos het gedurende Israel se goue era van ekonomiese stabiliteit en rustigheid geleef. Van 805-740 v.C. was Israel se vyande, soos die magtige aggressor Assirië, vasgevang in 'n tydelike periode van agteruitgang. Tydens hierdie periode het die Joodse koninkryke beide noord en suid weer gegroei tot die grense wat in Salomo se tyd bestaan het. Dit was 'n goue era wat beskryf is as 'n tydperk van uitbreiding, vryheid, aktiwiteit, voorspoed en vrede. Geld het ingestroom, die weermagte was sterk, die mense was gevul met trots, en niks het hul goeie gees gedemp nie.
Die aftakeling van die samelewing wat die profeet Hosea later sou moes verduur, het sy wortels 'n dekade vroeër hier in Amos se tyd gevind, want, soos die menslike geskiedenis herhaaldelik aantoon, is kalmte dikwels 'n illusie, en 'n valse gevoel van vrede word onvermydelik die teelgrond van menslike ondeugde.
Ons weet min van Amos as persoon, maar weet dat hy, volgens eie getuienis, nie ‘n profeet van beroep of deel van ‘n profeteskool was nie. Hy was ‘n veewagter van Tekoa, suid van Jerusalem, en dus afkomstig van die Suidelike Koninkryk. God het egter hierdie veewagter geroep om as profeet vir veral die Noordelike koninkryk op te tree.
Die boek Amos word as volg saamgestel.
Inleiding tot Amos
Hoofstukke 1-2 bevat agt oordeels profesieë - die eerste ses teen hul heidense bure:
1. Arameërs (Damaskus – vandag Sirië]),
2. Filistyne (Gasa – vandag Palestynse gebied),
3. Fenisiërs (Tirus – vandag in Lebanon),
4. Edomiete (Edom, Bosra – vandag in Jordanië),
5. Amonniete (Ammon – vandag deel van Jordanië),
6. Moabiete (Moab – vandag deel van Jordanië), en die laaste twee teen
7 en 8. Juda en Israel.
Hoofstukke 3-6 is oordeelspreke of strafredes teen Israel. Israel se huidige, verlede en toekomstige toestand.
Hoofstukke 7-9:10 hanteer Amos se vyf visioene van oordeel.
1. Visioen van sprinkane (en Gog hulle koning)
2. Visioen van ‘n verterende vuur
3. Visioen van skietlood
4. Visioen van ‘n mandjie vrugte
5. Visioen van die verwoesting van die altaar
Amos 9:11-15 sluit af met die belofte van herstel.
21 Mei 2024
AMOS 1:2 AFR53
En hy het gesê: Die Here brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor.
Amos sien ‘n visioen van God wat Sy stem laat hoor soos ‘n leeu wat uit Sion brul. Die brul van die Leeu word gehoor tot by die top van die berg Karmel.
Die frase ‘oor drie oortredinge . . . ja, oor vier’ word in elkeen van die agt oordele wat hier volg gebruik. Dit is nie bedoel om ‘n presiese aantal oortredings aan te wys nie, maar net die herhalende aard van hul oortredings en die onherroeplikheid van God se oordeel daaroor te bevestig.
Amos begin God se boodskap teen hul noordoostelike buurman, Damaskus - vandag Sirië.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle Gílead met ysterdorssleë gedors het. AMOS 1:3 AFR53
Hulle word verkwalik vir koning Hasael se wrede optrede teen Israel by Gilead, teen hul kinders en swanger vroue, waaroor die profeet Elisa só getreur het.
Toe sê Hásael: Waarom ween my heer? En hy antwoord: Omdat ek weet watter kwaad jy die kinders van Israel sal aandoen; jy sal hulle vestings aan die brand steek en hulle jongmanne met die swaard ombring en hulle jong kinders verpletter en hulle swanger vroue oopsny. II KONINGS 8:12 AFR53
Hasael en Benhadad het die Israelitiese weermag vernietig en verowerde gevangenes met skerp ysters gemartel.
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die huis van Hásael, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer. AMOS 1:4 AFR53
God straf hulle deur hulle na hul land van oorsprong, Kir in die oostelike dele van Meospotamië, in ballingskap weg te voer. Dit is asof God hulle bestaan ongedaan en onbenullig maak.
En Ek sal die grendel van Damaskus verbreek en die inwoners uit die laagte van Awen uitroei en die wat die septer dra, uit Bet-Eden, en die volk van Aram sal in ballingskap gaan na Kir, sê die Here. AMOS 1:5 AFR53
Die Filistyne van Gasa het teen Israel geveg van Simson se dae af. Die laaste aangetekende inval was teen koning Joram en sy familie. Net Joahas, die jongste seun het oorleef.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit aan Edom uit te lewer. AMOS 1:6 AFR53
Die Filistyne en hulle vier stede, Gasa, Asdod, Askelon, en Ekron, word verkwalik vir hulle mensehandel, waarskynlik met mense van Juda en Israel. Die vuur van God se toorn sal oor hulle losbreek,
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise verteer. En Ek sal die inwoners uit Asdod uitroei en die wat die septer dra, uit Áskelon; en Ek sal my hand teen Ekron uitstrek, en die oorblyfsel van die Filistyne sal omkom, sê die Here Here. AMOS 1:7-8 AFR53
Die land van die Fenisiërs en die Filistyne was aan Israel as 'n erfenis gegee. Hulle is deur God opdrag gegee om hierdie mense uit die land te verdryf, maar het versuim om dit te doen, en hulle is sedertdien 'n doring in Israel se vlees.
22 Mei 2024
AMOS 1:9 AFR53
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking as ballinge aan Edom uitgelewer het en nie gedink het aan die broederverbond nie.
Die Fenisiërs, en hulle stad Tirus, word vir ‘n soortgelyke sonde aangespreek, die sonde van mensehandel, maar met die klem op die kontrakbreuk wat hulle gepleeg het.
Die broederverbond was die verbond wat tussen Hiram en Dawid gesluit is, en daarna tussen Hiram en Salomo. Die Fenisiërs het die antieke verbond vergeet en het Hebreeuse gevangenes aan die Edomiete verkoop.
Die vuur van God se toorn sal ook oor hulle losbreek.
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Tirus, en dit sal sy paleise verteer. AMOS 1:10 AFR53
Die deler is natuurlik net so goed soos die steler. Edom kom dus ook aan die beurt in God se veroordeling van hul sondes. Hulle het mensehandel toegelaat en só die broederliefde met Juda en Israel verloën. Dit vorm natuurlik deel van die jarelange vete tussen dié twee nasies.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou. AMOS 1:11 AFR53
Tot vandag toe is Edom in opstand teen die gesag van Juda. Hulle word egter nie daarvoor verskoon nie. Die vuur van God se toorn sal steeds oor hulle losbreek weens dié gebrek aan broederliefde.
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Teman, en dit sal die paleise van Bosra verteer. AMOS 1:12 AFR53
Die Ammoniete word veroordeel vir dieselfde sonde as die Arameërs in Gilead – geweld teen swanger vroue en ongebore kinders. Daar is waarskynlik nie ‘n spesifieke historiese gebeurtenis in die oog nie, want die stryd met Juda en Israel het eeue lank geduur.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van die kinders van Ammon, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die swanger vroue van Gílead oopgesny het om hulle grondgebied uit te brei. AMOS 1:13 AFR53
Die vuur van God sal in ‘n oorlog teen hulle uitbars soos ‘n storm of ‘n orkaan en hulself sal in ballingskap wegvoer word.
Daarom sal Ek 'n vuur aansteek in die muur van Rabba, en dit sal sy paleise verteer, met krygsgeskreeu op die dag van stryd, in 'n storm op die dag van die orkaan. En hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy vorste tesame, sê die Here. AMOS 1:14-15 AFR53
23 Mei 2024
AMOS 2:1 AFR53
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het.
Die Moabiete word vir hulle disrespek vir die begrafnisrituele van gestorwe soldate veroordeel, spesifiek omdat hulle die bene van die koning van Edom tot kalk verbrand het. Hulle het probeer om simbolies, enige hoop op ‘n hiernamaals vir die koning te ontsê.
Dit getuig van die diepste moontlike minagting vir mense met wie hulle ‘n gemeenskaplike afkoms gedeel het. Moab was ‘n afstammeling van Lot, Abraham se broerskind. Edom was ‘n afstammeling van Isak (deur Esau), Abraham se eie kind. Moab en Ammon was die twee broersvolke wat van Lot afgestam het.
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kérijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal. En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom doodmaak, sê die Here. AMOS 2:2-3 AFR53
God sou Juda ook oordeel, maar hoekom? Want hulle het nie God se gebooie onderhou nie. Hulle het die wet van God gehad, en besluit om dit te verag.
Het jy opgelet dat God geeneen van die ander nasies op hierdie basis geoordeel het nie? Hy het hulle geoordeel vir sekere spesifieke sondes wat algemeen is vir die natuurlike mens. Omdat hierdie ander nasies nie God se wet gehad het nie, is hulle nie volgens God se wet geoordeel nie.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die Here verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het. AMOS 2:4 AFR53
Juda se afgodediens laat die toorn van God ook oor hulle losbreek.
Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem verteer. AMOS 2:5 AFR53
Amos konsentreer nou op sy spesifieke opdrag, naamlik Israel, die groot vrot appel in die mandjie.
So sê die Here: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir 'n paar skoene. AMOS 2:6 AFR53
Amos brei uit oor die omvang van hulle sondes: mensehandel, mishandeling van armes, verontregting van weerloses, en growwe onsedelikheid.
Asof dít nie genoeg is nie, besoek hulle steeds hul afgods altare in Bethel en Dan met die getuienis van hulle onreg by hulle – klere wat afgeneem is en wyn wat by ander gebuit is.
Godsdienstige mense het dus nie geskroom om op ongodsdienstige wyse op te tree, en te dink dit maak nie saak vir God nie!
Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom, en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde jongedogter om my heilige Naam te ontheilig. En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die wat beboet is, drink hulle in die huis van hul god. AMOS 2:7-8 AFR53
24 Mei 2024
AMOS 2:9 AFR53
En tog het Ék die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar Ek het sy vrug daarbo en sy wortels daaronder verdelg.
God wys Israel nou op hulle geskiedenis waarin Hy hulle nie net uit Egipte verlos het nie, maar juis plek vir hulle gemaak het in die land van ander volke. Net die Amoriete word hier genoem, hoewel hulle waarskynlik as ‘n sinoniem vir die Kanaäniete gebruik word, die plek waar die Israeliete histories hulself gevestig het.
Die veertig jaar in die woestyn was 'n straf vir wispelturigheid en lafhartigheid, maar tydens hierdie oordeel was God besig om 'n stam van rustelose swerwers in 'n nasie te dissiplineer en te organiseer.
Ook het Ek julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem. AMOS 2:10 AFR53
God het vir Israel profete gegee — Moses, Josua, ens, en nasireërs - Simson en Samuel ens, hulle wat hulself aan God gewy het deur nooit enige drank te drink nie.
En Ek het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek. Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek die Here. AMOS 2:11 AFR53
Maar hulle het die nasireërs versoek om hulle gelofte te oortree en God se wet te verag deur hulle te oortuig om wyn te drink, en aan die profete bevel gegee en gesê: moenie profeteer nie.
Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie! AMOS 2:12 AFR53
Gespanne tot ‘n breekpunt. Israel se oordeel is seker, en nederlae sal oorwinning vervang. God het namens hulle geveg, maar geen spoed, dapperheid of krag sal hulle nou red nie.
Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos 'n wa kraak wat vol gerwe is; sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie. AMOS 2:13-14 AFR53
Nie wapens (boog), of spoed van die wat vinnig hardloop, of om ’n perd te gebruik om te ontsnap sal help nie. Binne 40 jaar sal die Assiriërs vir Israel in ballingskap weg neem.
En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie. AMOS 2:15 AFR53
Die oordeel oor Juda, die Suidelike Koninkryk, is in die 70 jaar ballingskap vervul. Die oordeel oor die Israel, die Noordelike Koninkryk, was vervul in die wêreldwye verstrooiing wat tot 14 Mei 1948 voortgeduur het - die dag toe Israel as ‘n eenheid, Noord en Suid, weer ‘n nasie geword het.
Selfs die sterkste nasies, wanneer hulle God verlaat, val vinnig. Die ondankbaarheid van 'n uniek geseënde volk veroorsaak pyn en frustrasie. Daar is geen omkeer aan die oordeel van God nadat Sy herhaalde aanbiedinge van genade en seën verwerp of geweier is nie. Dit is vandag ook waar.
En die dapperste onder die helde sal op dié dag naak wegvlug, spreek die Here. AMOS 2:16 AFR53
25 Mei 2024
AMOS 3:1 AFR53
Hoor hierdie woord wat die Here oor julle gespreek het, o kinders van Israel, oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik:
Die hele geslag praat hier van die volk in geheel, die Noordelike en die Suidelike Koninkryke. God praat met die hele familie van Israel wat Hy uit Egipte uitgelei het. Die twaalf stamme is een familie voor God. Bevryding van Egiptiese slawerny word aangehaal as 'n grondslag van God se verhouding met die nasie Israel.
God het Sy volk uit Egipte gebring, uitgekies uit al die volke van die aarde, om met hulle in ‘n verbond te lewe.
Want jy is 'n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. DEUTERONÓMIUM 7:6 AFR53
Daar was spesiale kennis en intimiteit tussen God en Israel, en die kennis het ontelbare voordele en voorregte tot gevolg. Maar, voordele en voorregte gaan gepaard met verantwoordelikheid.
God straf nie sy eienaardige volk omdat hulle so naby en dierbaar vir Hom is nie, maar omdat hulle hul plig en verpligtinge teenoor God vergeet het, en al Sy barmhartighede misbruik het.
Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede. AMOS 3:2 AFR53
God kan nie meer saam met Israel wandel nie, want hulle is nie meer eens oor waar, of selfs in watter rigting, om te loop nie.
Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het? AMOS 3:3 AFR53
Amos beskryf die rampe wat Israel gaan tref in drie treffende metafore – ‘n brullende leeu, ‘n wip wat ‘n voël vang, en ramshorings wat ‘n oorlog aankondig. Rampe wat oor Israel gaan kom weens hul sondes.
Die leeu brul wanneer hy sy prooi in sig het, en op die punt staan om aan te val. God is gereed om wraak te neem. Die tweede gedeelte druk dieselfde feit in verskillende terme uit. Die jong leeu is nie 'n welpie nie, maar een wat vir homself kan sorg. Hy grom vir die prooi wat hy in sy lêplek het. Israel lê dus hulpeloos terwyl God se dreigemente hom tref.
Sal 'n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal 'n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie? AMOS 3:4 AFR53
Die gedagte hier is dat die straf verdien sowel as seker is. ’n Voël word nie gevang tensy ’n lokval daarvoor gestel word nie. Die strik wat die sondaar vir homself stel, is sonde.
Sal 'n voël in 'n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal 'n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie? AMOS 3:5 AFR53
Die basuin of die ramshorings wat die wagte op die stadsmuur blaas sal wees om te waarsku teen die aankomende vyand, en dan sal die bevolking wel skrik.
Die ondergang wat Israel dreig, is deur God gestuur as straf vir die ongehoorsame volk.
Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar 'n onheil in die stad voorval as die Here dit nie bewerk het nie? AMOS 3:6 AFR53
26 Mei 2024
AMOS 3:7 AFR53
Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.
Al die booshede wat aangekondig is, kom van God af, maar Hy bring nie een van hulle oor die volk sonder vooraf waarskuwing deur Sy profete nie.
Soos die leeu se brul almal in vrees laat, so dwing die Goddelike roep die profete om te praat.
Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie? AMOS 3:8 AFR53
Die hoop beskaam egter in die geval van Israel. Hulle word nie bang nie! Daarom kondig God verwarring en verdrukking aan in Samaria, omdat dit presies is wat in hul huise geherberg word – geweld en verwoesting.
Roep dit uit oor die paleise van Asdod en oor die paleise van Egipteland en sê: Versamel julle op die berge van Samaría, en aanskou die groot beroering in die midde van die stad en die verdrukking daarbinne. AMOS 3:9 AFR53
Dit is asof Israel die vermoë verloor het om te weet hoe om reg te doen.
Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die Here — hulle wat geweld en verdrukking opstapel in hulle paleise. AMOS 3:10 AFR53
Die straf daarvoor is dat die geweld en verwoesting van die vyand hulle sal tref.
Daarom, so sê die Here Here: 'n Vyand! En dit rondom die land; en hy sal jou vesting van jou af neerwerp, en jou paleise sal geplunder word. AMOS 3:11 AFR53
Amos wys dat die tugtiging wat kom onvermydelik is, en dat slegs die kleinste oorblyfsel, die mees waardelose onder die inwoners, met baie moeite, kan ontsnap.
So sê die Here: Soos 'n herder 'n paar pote of 'n oorlappie red uit die bek van 'n leeu, net so sal gered word die kinders van Israel wat daar in Samaría in die hoek van 'n bed of op die damás van 'n rusbank sit. AMOS 3:12 AFR53
Die profete moet die huis van Jakob waarsku. Die huis van Jakob is die tien stamme van die Noordelike Koninkryk, wat eerste en naaste hierby betrokke is, en ook die twee stamme van die Suidelike Koninkryk, wat ook aan sondes skuldig is en later hul straf gaan ontvang.
Hoor en waarsku die huis van Jakob, spreek die Here Here, die God van die leërskare, AMOS 3:13 AFR53
Wanneer Israel se straf uitgevoer word sal God ook hul altare en afgodsbeelde verwoes.
dat Ek in die dag as Ek die oortredinge van Israel aan hom besoek, ook besoeking sal doen oor die altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar afgekap sal word en op die grond val. AMOS 3:14 AFR53
Al die prag en praal wat die volk bymekaargemaak het om luuks en lekker te lewe sal ook vernietig word.
Dan sal Ek die winterhuis saam met die somerhuis tref, en die huise van ivoor sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn, spreek die Here. AMOS 3:15 AFR53
27 Mei 2024
AMOS 4:1 AFR53
Hoor hierdie woord, koeie van Basan, wat op die gebergte van Samaría is! Wat die armes verdruk, die behoeftiges hard behandel; wat aan hulle here sê: Bring aan en laat ons drink!
Basan was bekend vir sy welige weivelde en vetgevoerde beeste. Die rol van die vroue wat ‘n lekker lewe het – hier genoem die koeie van Basan - word hier sterk veroordeel.
Aan die een kant het hulle die swakkes in hul huise verdruk en die armes mishandel. Aan die ander kant het hulle die mans aangemoedig om die lewe saam met hulle en met baie wyn te geniet.
Die Here Here het gesweer by sy heiligheid: Kyk, daar sal dae oor julle kom dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke. AMOS 4:2 AFR53
Die vrouens sal daarom nes die mans veroordeel word en met hake opgetel en uitgedryf word ten spyte van hulle oënskynlike godsdienstigheid en gereelde offers en tiendes.
En julle sal deur bresse in die muur uittrek, elkeen sonder om weg te kyk, en julle sal weggewerp word na Harmon, spreek die Here Here. Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag. AMOS 4:3-4 AFR53
‘n Suurdeeg lofoffer moes erkenning gee van ‘n persoon se eie persoonlike onwaardigheid en was slegs gedoen wanneer die persoon in 'n regte toestand voor God was. Die offers hier word nie in die gesindheid gegee nie.
En laat van wat gesuurd is, 'n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit, laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here Here. AMOS 4:5 AFR53
In hierdie en die volgende verse gee God voorbeelde van die oordele of strawwe wat Hy op verskillende tye gestuur het sodat Israel kon bekeer, maar alles was tevergeefs.
Vyf keer herhaal die hartseer refrein: nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here.
Reinheid van tande is nie tandpyn nie, maar simbolies van hongersnood. Ons sien dit uit die tweede gedeelte van die sin wat verwys na broodsgebrek in hul stede en hul woonplekke.
Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. AMOS 4:6 AFR53
Amos verwys nie na ‘n spesifieke hongersnood nie, maar dat dit ‘n instrument is wat deur God gebruik word om Sy volk te kry om te bekeer.
28 Mei 2024
AMOS 4:7 AFR53
Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het;
Die tweede straf of oordeel is droogte. God stop die reën drie maande voor die oestyd wat veroorsaak dat die oes nie suksesvol is nie.
Om hierdie droogte nie aan die blinde natuurwette toe te skryf nie, het God dit op ‘n spesifieke stad en stuk grond laat reën en dan geen reën op ‘n aangrensende stad en stuk grond.
Die droogte sou veroorsaak dat twee of drie stede wat droog was vêr moes reis om water by ‘n ander stad te kry, maar hul dors sou nooit les nie. En nogtans sou hulle nie bekeer nie.
en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. AMOS 4:8 AFR53
Brandkoring word veroorsaak deur oormatige hitte en droogte, en heuningdou is muf wat gebeur as daar te veel water is. Dan ook het God springkane gestuur wat als geëet het wat die muf en droogte nie vernietig het nie, en nogtans het hulle nie bekeer nie.
Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. AMOS 4:9 AFR53
God het peste en oorloë gestuur wat sommiges se dood veroorsaak het, maar nogtans het hulle nie bekeer nie.
Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. AMOS 4:10 AFR53
Dan ook het God aardbewings gestuur, maar nogtans het hulle nie bekeer nie.
Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos 'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here. AMOS 4:11 AFR53
God word nie deur vroomheid mislei nie. Hy sal persoonlik met hierdie nasie handel wat te ryk, te behep en te gevoelloos was om na Sy Woord te luister.
Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel — maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel! AMOS 4:12 AFR53
Wat op die oog af na verydeling lyk – hongersnood, droogte, peste, plae, en sterftes – en uiteraard groot nood bring, is gemik op inkeer en ‘n hernuwing van hulle Godsbewussyn.
Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van die aarde wandel, Here, God van die leërskare, is sy Naam! AMOS 4:13 AFR53
29 Mei 2024
AMOS 5:1 AFR53
Hoor hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel!
Die profeet Amos sing ‘n klaaglied asof hy by Israel se begrafnis is.
Israel sek val gebeur in 722 v.C. en hulle het nooit weer as 'n Noordelike Koninkryk opgestaan nie.
Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê sy op haar land, niemand rig haar op nie. AMOS 5:2 AFR53
Die Noordelike Koninkryk se val en vernietiging, beteken egter nie dat die nasie Israel (Noord en Suid gesamentlik) nooit weer sou opstaan nie. Ons sien immers vandag dat Israel ‘n selfstandige land is wat vir hulself kan sorg.
In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak. JESAJA 27:6 AFR53
Amos het gesien dat dinge so sleg sou word vir Israel dat wanneer die vyand kom, 'n stad wat voorheen ‘n duisend soldate sou uitstuur, nou net ‘n honderd sou uitstuur.
Want so sê die Here Here: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel. AMOS 5:3 AFR53
Die oplossing om te bly lewe is egter so maklik: Soek God, dan sal julle lewe!
Want so sê die Here aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe! AMOS 5:4 AFR53
Die teenoorgestelde is ook waar. Maar, moet nie die gode van Bet-El, Berseba en Gilgal besoek nie, want hulle sal word soos niks.
Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie. AMOS 5:5 AFR53
Amos rig weer ‘n oproep tot die Koninkryk van Israel om God te soek sodat hulle kan bly lewe en nie in die vuur verteer word nie. Die huis van Josef verteenwoordig die Noordelike Koninkryk deur die stamme van Efraim en Manasse, die seuns van Josef.
Soek die Here, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie. AMOS 5:6 AFR53
Amos konfronteer weer Israel se korrupte regstelsel, want reg en geregtigheid was so goed soos dood.
Julle wat die reg in wildeals verander en die geregtigheid teen die grond gooi! AMOS 5:7 AFR53
30 Mei 2024
AMOS 5:8 AFR53
Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die oppervlakte van die aarde — Here is sy Naam!
Wie moet Israel soek om weer te kan lewe? Amos gee vir die volk ‘n CV van God om hulle te herinner wie God is.
Hy wat die sterre gemaak het, Hy wat lig en donker gemaak het, Hy wat dag en nag gemaak het, Hy wat die waters van die see roep en reën gee waar dit nodig is.
Die Here is sy Naam: YHWH, EK IS. God se krag moet ons aanspoor om Hom te respekteer en te dien. Dit geld vandag, soos dit ook 2700 jaar gelede geldig was.
En nou, Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan? DEUTERONÓMIUM 10:12-13 AFR53
God is sterk genoeg om te red, maar ook sterk genoeg om oordeel te bring. As die sterkes en die vestings nie voor God se krag kan staan nie, dan kan niemand bly staan nie.
Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die vesting! AMOS 5:9 AFR53
Die poort was die regshof van die antieke stede. Die Noordelike Koninkryk se howe was korrup - hulle het die armes en regverdiges stilgemaak. Die effek van hierdie kultuur van onreg was dat die verstandiges in hierdie bose tyd stilgebly het. Godvresende en regverdige mense het nie uitgespreek uit vrees vir vergelding of wetende dat dit niks sou baat nie.
Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku van hom wat in opregtheid spreek. AMOS 5:10 AFR53
Amos het nie aansien gesoek nie en was nie bang om vir die volk die oorsaak van hul komende oordeel uit te wys nie - die verskriklike manier waarop hulle mekaar behandel het, en veral hoe die sterkes die swakkes uitgebuit het.
Die profeet het vir Israel getoon watter vloeke sou volg as gevolg van hul bose optredes. Omdat hulle die armes vertrap het en uitermatige winste op hul koring gemaak het, sou hul pragtige huise en imposante wingerde slegs tydelike weelde wees.
Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem, het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie; julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink nie. AMOS 5:11 AFR53
Israel se desperate morele toestand, regverdig die vonnis wat sopas oor hulle uitgespreek is. Die stomme stilte van die verstandiges is die aaklige vloek wat oor 'n volk kom wanneer hulle oorgegee word aan selfsug en roof.
Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is, julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort. Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd. AMOS 5:12-13 AFR53
31 Mei 2024
AMOS 5:14 AFR53
Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.
Amos verkondig weereens God se oplossing vir Israel se sonde probleem. Soek dit wat goed is, en nie dit wat sleg is nie, sodat julle kan lewe, dan sal God met julle wees! Israel moet hul korrupte howe transformeer en geregtigheid in hul poorte vestig, haat wat sleg is en liefhe wat goed is. Miskien dan sal God Hom oor die oorblyfsel van Israel (Josef) ontferm.
Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die Here, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef. AMOS 5:15 AFR53
Daarom, omdat die volk nie luister nie, sal God se oordeel so wydverspreid wees dat daar ‘n tekort aan rouklaers sal wees. Hierdie verwys na die Joodse praktyk om professionele rouklaers te huur om by 'n begrafnis te huil.
Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing. Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek, sê die Here. AMOS 5:16-17 AFR53
Die volk Israel het beweer dat hulle na die dag van die Here verlang. Amos het hulle tereg gewaarsku dat hulle nie weet waarvoor hulle gevra het nie, want die dag van die Here sou oordeel, en nie genade bring nie. Hulle sou uiteindelik slegter daaraan toe wees as voorheen. Dit sou wees asof 'n man vir 'n leeu vlug, net om hom teen 'n beer vas te hardloop.
Wee die wat na die dag van die Here verlang! Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie. Soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en 'n slang byt hom! AMOS 5:18-19 AFR53
Die volk het geglo dat die dag van die Here ‘n dag van oordeel vir die nasies en ‘n dag van redding vir Israel sou wees, maar Amos verkondig dat God onreg straf, maak nie saak waar of onder wie dit voorkom nie.
Is die dag van die Here nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder 'n ligstraal? AMOS 5:20 AFR53
Feeste en godsdienstige ywer gaan die volk nie help nie. God stel nie belang in oppervlakkige offers en musiek nie. Godsdiens en geregtigheid stap saam, die een kan nie sonder die ander nie.
Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom. AMOS 5:21-24 AFR53
Die volk het hul heidense gode uit Egipte na die Beloofde Land geneem. God het Israel daaraan herinner dat alhoewel hulle in die woestyn aan Hom geoffer het, hulle nie van hul afgodediens afstand gedoen het nie. Dit het God nie toe behaag nie en dit behaag God ook nie nou nie.
Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die woestyn, o huis van Israel, en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat julle vir julle gemaak het? AMOS 5:25-26 AFR53
Daarom, sal hulle in ballingskap weggevoer word.
Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die Here wie se Naam God van die leërskare is. AMOS 5:27 AFR53
1 Junie 2024
AMOS 6:1 AFR53
Wee die gerustes in Sion en die sorgelose op die berg van Samaría, die vernames van die eerste onder die nasies, na wie die huis van Israel kom!
Die tweede weeklag oor Israel kom vanweë hul oorgerustheid, en hul onvermoë om die tekens van die tyd te lees. Sion wat na Jerusalem verwys, word saam met Israel berispe, want hulle is aan dieselfde tipe sondes skuldig.
Amos waarsku dat die lot wat ‘n paar ander stede getref het – Kalne en Hamat in Aramase-Siriese gebied, en Gat in die Filistynse gebied is deur Tiglat-Pileser III verower in 738 v.C. – ook met Sion, Samaria en Israel sal gebeur. Hulle is immers nie beter as daardie koninkryke nie.
Trek deur na Kalne en kyk, gaan van daar na Hamat, die groot stad, en trek af na Gat van die Filistyne! Is hulle beter as hierdie koninkryke? Of is hulle grondgebied groter as julle grondgebied? — AMOS 6:2 AFR53
Israel dink dat hulle God se komende dag van oordeel kan kanselleer deur dit uit hul lewens en gedagtes te verban, maar dit is nie hoe dit werk nie.
julle wat die dag van onheil veraf stel en die setel van geweld nader skuiwe! AMOS 6:3 AFR53
Die weeklag moet vir hulle bygevoeg word dat hulle, hetsy uit luiheid of weelde, en om die vlees te behaag, rus op pragtige ivoor beddens, gekoop met die wins van omkoopgeld en onderdrukking.
Hulle eet met oormaat van die heel beste lammers uit die kudde. Die lammers wat vir die offers bedoel was word deur die vraatsugtige regters en heersers geëet.
Wat op bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke en die lammers van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet! AMOS 6:4 AFR53
Wee hulle, wat in 'n tyd van diepe rou, hulself vermaak deur liedere en sang asof niks fout is nie.
Dawid het snaarinstrumente en liedere uitgedink sodat hy daardeur eer aan God kon gee. Hierdie mense het ook instrumente en liedere uitgedink, maar vir hul eie plesier en persoonlike feeste.
Wat liedjies sing met begeleiding van die harp, wat net soos Dawid vir hulle musiekinstrumente uitdink! AMOS 6:5 AFR53
Amos gaan voort met die wee aan hierdie oproerige feesgangers wat wyn uit die tempel se offerkomme drink, en die olie gebruik wat gereserveer word om mense te salf vir God se diens.
Wat uit offerkomme wyn drink en hulle met die beste soorte olie salf, maar hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie. AMOS 6:6 AFR53
God waarsku die leiers van Israel dat hulle op die voorpunt sou loop wanneer die mense van die Noordelike Koninkryk as ballinge na Assirië sou gaan.
Daarom sal hulle nou op die voorpunt van die ballinge in ballingskap gaan, en daar sal 'n end kom aan die rumoerige gejubel van die leeglêers. AMOS 6:7 AFR53
2 Junie 2024
AMOS 6:8 AFR53
Die Here Here het by Homself gesweer, spreek die Here, die God van die leërskare: Ek het 'n afsku van die trotsheid van Jakob en haat sy paleise; daarom lewer Ek die stad oor en al wat daarin is.
God verafsku hooghartigheid. In hul seisoen van voorspoed en sukses het Israel hul harte hoog in trots opgehef, maar God sal 'n vernietigende leër stuur om hulle laag te bring.
Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. I PETRUS 5:5 AFR53
As hulle die dood in die naderende oorlog vryspring, sal hulle sterf van hongersnood en pes in die drie jaar lange beleëring van Samaria.
En as daar tien man in een huis oorgebly het, sal hulle sterwe. AMOS 6:9 AFR53
En die koning van Assirië het opgetrek deur die hele land en opgetrek na Samaría en dit drie jaar lank beleër. II KONINGS 17:5 AFR53
Amos skilder voort op die voorbeeld van die tien man in die huis. Indien almal behalwe een sou sterf en ‘n bloedverwant kom doen navraag of iemand nog lewe, sal die een wat lewe antwoord dat almal dood is. Dit is familielede se taak om hul dooies te begrawe of in uiterste gevalle met siektes, hulle te verbrand. In die voorbeeld sal die een wat lewe desperaat sê dat die God se Naam nie genoem moet word nie, uit vrees dat die dood hom ook sal tref.
En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder, en aan iemand wat in die agterste vertrekke is, sê: Is daar nog iemand by jou? en hy antwoord: Nee — dan sal die eerste sê: Bly stil, want dit is nie gepas om die Naam van die Here te vermeld nie! AMOS 6:10 AFR53
Elke klas van ryk tot arm se huise sal vernietig word.
Want kyk, die Here gee bevel, en hulle slaan die groot huis tot 'n puinhoop en die klein huis tot splinters. AMOS 6:11 AFR53
Die profeet wys die dwaasheid van hierdie kwaaddoeners wat in hul eie krag God se oordeel wil trotseer om die vyand te weerstaan.
Kan perde draf op rotse, of kan 'n mens met osse daarop ploeë? — dat julle die reg in gif verander en die vrug van geregtigheid in wildeals. Julle wat bly is oor 'n nietige ding, wat sê: Het ons nie deur ons eie krag horings gekry nie? AMOS 6:12-13 AFR53
Amos gee die presiese gebied wat deur die Assiriërs verower sal word - van die ingang na Hamat tot by die spruit van die Vlakte.
Want kyk, Ek gaan teen julle, o huis van Israel, 'n volk opwek, spreek die Here, die God van die leërskare, en hulle sal julle verdruk van die ingang na Hamat af tot by die spruit van die Vlakte. AMOS 6:14 AFR53
Dit is presies die gebied wat oorspronklik deur Jerobeam herower was en wat deur Jona in ‘n gesig gesien was.
Hý het die grondgebied van Israel herower van die ingang na Hamat af tot by die see van die Vlakte, volgens die woord van die Here, die God van Israel, wat Hy gespreek het deur die diens van sy dienskneg Jona, die seun van Amíttai, die profeet, wat uit Gat-Hefer was. II KONINGS 14:25 AFR53
3 Junie 2024
AMOS 7:1 AFR53
Dit het die Here Here my laat sien — kyk, Hy het sprinkane geformeer toe die na-gras begin uitspruit het; en kyk, dit was die na-gras nadat die snysels van die koning af was.
Amos deel nou met ons vyf gesigte of visoene wat God hom gewys het.
Die eerste gesig is ‘n swerm sprinkane wat die oeste van Israel verslind. Die na-gras beteken dat die gewasse op die land gereed was om geoes te word, en die koning se snysels is die gedeelte van die oes wat reeds as belasting aan die koning betaal was. Indien die eerste gedeelte van die oes na die koning gaan, en dit wat oorbly deur die sprinkane verwoes word, bly daar niks oor vir die volk om te eet nie.
Amos sien dat die sprinkane die ganse oes afgeëet het en hy praat met God: Here Here, vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
En toe hulle al die gewasse van die land afgeëet het, sê ek: Here Here, vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein. AMOS 7:2 AFR53
Amos tree in, soos Moses gedoen het, en praat met God. So het God van plan verander en hierdie gesig het nooit gebeur nie.
Toe het die Here berou gekry oor hierdie saak. Dit sal nie gebeur nie, het die Here gesê. AMOS 7:3 AFR53
Amos se tweede gesig is 'n verterende vuur wat die groot watervloed laat oodroog. Die vuur is waarskynlik ‘n versengende droogte wat die aarde sou verdor en hulle watervoorraad sou vernietig.
Dit het die Here Here my laat sien — kyk, die Here Here roep om 'n regstryd te voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer en sou die akkerland verteer het. AMOS 7:4 AFR53
In reaksie hierop doen Amos wat hy voorheen gedoen het - hy pleit vir genade en daarom het God berou hieroor.
Toe sê ek: Here Here, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein. Die Here het berou gekry oor hierdie saak. Dit sal ook nie gebeur nie, het die Here Here gesê. AMOS 7:5-6 AFR53
Die derde gesig is dié van ‘n swaard in die hand van God. Die woord skietlood beteken tin, die metaal, en kan in hierdie konteks ‘n swaard verteenwoordig.
God verkondig dat Hy Sy volk nie meer sal spaar nie en met die swaard sal optree teen die koningshuis van Jerobeam. Let op dat Amos nie meer hierteen teëstribbel nie.
Dit het Hy my laat sien — kyk, die Here het op 'n loodregte muur gestaan, en daar was 'n skietlood in sy hand. Toe sê die Here vir my: Wat sien jy, Amos? En ek het geantwoord: 'n Skietlood. Daarop sê die Here: Kyk, Ek gaan 'n skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie. AMOS 7:7-8 AFR53
Omdat Israel onophoudelik God teengestaan het, sou Israel en haar leierskap met die swaard geoordeel word.
En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees, en teen die huis van Jeróbeam sal Ek met die swaard optree. AMOS 7:9 AFR53
4 Junie 2024
AMOS 7:10 AFR53
Toe het Amásia, die priester van Bet-el, Jeróbeam, koning van Israel, laat weet: Amos het 'n sameswering gesmee teen u midde-in die huis van Israel; die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie.
Amasia was goddelose priester in Bet-el. Hy stuur 'n boodskap aan koning Jerobeam van Israel - 'n suksesvolle koning volgens wêreldse standaarde, maar 'n goddelose koning voor God.
Amasia beskuldig Amos daarvan dat hy betrokke is by 'n sameswering om koning Jerobeam en die volk Israel te ondermyn. Hy het ook gesê dat Amos se boodskap te kras was en dat die land nie in staat was om sy woorde te verdra nie.
Want so het Amos gesê: Jeróbeam sal deur die swaard sterwe, en Israel sal sekerlik uit sy land in ballingskap gaan. AMOS 7:11 AFR53
Amasia het aanstoot geneem dat Amos na Bet-el gekom het om daar te profeteer, en hy het sy bes gedoen om hom na Juda terug te stuur.
Priesters wat vir vergoeding gewerk het soos Amasia, was nog altyd die groot vyande van die ware profete van God. Indien hulle geen aanklag van valse leerstellings of onsedelikheid teen hulle kon bring nie, is God se priesters daarvan beskuldig dat hulle teen die regering saamsweer en omdat hulle teen sonde gepreek het, is hulle daarvan beskuldig dat hulle die volk in opstand wou bring.
Toe sê Amásia vir Amos: Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar! Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is 'n koninklike heiligdom en 'n tempel van die ryk. AMOS 7:12-13 AFR53
Amos het vir Amasia geantwoord deur op te merk dat hy nie ‘n profeet van beroep is nie, of uit ‘n familie van profete kom nie, hy is slegs 'n boer van beroep. Amos was beslis nie tipies van iemand wat 'n sameswering sou loods nie.
Soos baie ander in die Bybel, het God Amos geroep toe hy sy huidige roeping getrou uitgevoer het. Dit was omdat Amos 'n eerbare skaapwagter en vrugteboer was dat God hom 'n eerbare profeet gemaak het.
Toe het Amos geantwoord en aan Amásia gesê: Ek was geen profeet en ook geen profete-seun nie; maar ek was 'n veewagter en kweker van wildevyebome. Maar die Here het my agter die kleinvee weggeneem, en die Here het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel. AMOS 7:14-15 AFR53
God se woord aan Amasia, deur die profeet Amos, was dat die ramp wat hy oor Amos wou bring, beslis oor hom sou kom.
Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê: Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag geen woorde laat druppel teen die huis van Isak nie. AMOS 7:16 AFR53
Die teenstand wat Amasia aan Amos bied is die oorsaak dat die oordeel van God vir Amasia persoonlik betrek. Waar die oordeel tot dusver op die koning en die volk gemik was, word dit weens Amasia se verwerping van Amos se boodskap nou ook persoonlik op hom en sy familie gemik. God bevestig hiermee die werk van die profeet wat Hy gekies het, al was hy nie deel van die normale profete korps nie.
Daarom, so sê die Here: Jou vrou sal in die stad hoereer, en jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word, en jy self sal in 'n onrein land sterwe, en Israel sekerlik in ballingskap uit sy land gaan. AMOS 7:17 AFR53
5 Junie 2024
AMOS 8:1 AFR53
Dit het die Here Here my laat sien — kyk, daar was 'n mandjie met somervrugte.
Amos se volgende gesig is ‘n mandjie met somervrugte. As ‘n vrugteboer was hierdie ‘n onderwerp wat aan hom bekend was. Jaareinde in Jerusalem was die tyd om vrugte te pluk, en dit was dan ook die boodskap van hierdie gesig. Die einde het vir Israel het aangebreek, en God gaan nie meer uitstel gee nie.
En Hy sê: Wat sien jy, Amos? En ek antwoord: 'n Mandjie met somervrugte. Toe sê die Here vir my: Die einde het vir my volk Israel gekom; Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie. AMOS 8:2 AFR53
Ryp vrugte is naby om weggegooi te word, en 'n soortgelyke oordeel sal oor verrotte Israel kom. Die goddeloses kan net só lank hul smaadliedere in God se aangesig sing.
En die liedere van die paleis sal in dié dag weeklaag, spreek die Here Here: 'n menigte lyke; hulle gooi dit oral neer. Stilte! AMOS 8:3 AFR53
Amos keer terug na die bekende tema van geregtigheid en veroordeel diegene wat hul geld gemaak het met die onregverdige behandeling van die armes en kwesbares.
Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges van die land uit te roei, AMOS 8:4 AFR53
Israel het die Nuwemaan en Sabbat gehou, maar net vir die skyn - hulle kon nie wag om aan die einde van die dae hul onderduimse dade voort te sit nie.
Daar was kroniese korrupsie en bedrog in die sakewêreld - God het dit gesien en was kwaad.
deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit — om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met 'n valse weegskaal; om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir 'n paar skoene; ook die afval van die koring sal ons verkoop. AMOS 8:5-6 AFR53
God vergeet nie die goeie werke van Sy volk nie, maar Hy vergeet ook nie die bose werke van diegene wat Hom verwerp nie.
Die Here het gesweer by die hoogheid van Jakob: Gewis, Ek sal in ewigheid nie een van hulle werke vergeet nie. AMOS 8:7 AFR53
Amos het geweet dat die Nylrivier gereeld styg en val. Hy het gesien dat elke inwoner van Israel so geskud sal wees deur die komende oordeel wat hulle gaan tref, dat hulle emosies sal styg en daal soos die Nyl rivier.
Moet hieroor die aarde nie bewe en elke inwoner daarvan nie treur nie? Ja, dit sal oprys in sy geheel soos die Nyl en onstuimig opkook en wegsak soos die rivier van Egipte. AMOS 8:8 AFR53
6 Junie 2024
AMOS 8:9 AFR53
En in dié dag, spreek die Here Here, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.
Amos kleur die prentjie van oordeel verder in. Duisternis word dikwels gebruik om rampspoed en God se misnoeë aan te dui.
Hy kon ook letterlik na ‘n werklike sonsverduistering verwys het. Dit is bereken dat twee sulke verduisterings in Amos se leeftyd plaasgevind het - een in 784 v.C., en die ander in 763 v.C.
Wat ‘n mens waarskynlik moet raaksien in hierdie beskrywing van die leed wat God die volk aandoen, is dat Hy oor hulle voel soos wanneer ‘n mens oor die dood van ‘n enigste kind treur. Die mense wat God se roem en trots op aarde moet wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom.
En Ek verander julle feeste in rou en al julle liedere in klaagsang, en Ek bring op alle lendene 'n roukleed en op alle hoofde kaalheid. En Ek maak dit soos by die rou oor 'n enigste kind en die einde daarvan soos 'n bittere dag. AMOS 8:10 AFR53
Let noukeurig op die aard van die komende hongersnood. Dit is nie 'n gebrek aan brood en water nie, maar 'n hongersnood ... om die woorde van God te hoor.
Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. AMOS 8:11 AFR53
Aangesien dit waar is dat die mens nie van brood alleen kan lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God uitgaan, dan is dit ook waar dat 'n hongersnood om God se Woord te hoor uiteindelik erger is as 'n hongersnood van brood.
Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. MATTHÉÜS 4:4 AFR53
Wanneer ons God se Woord vir 'n lang tyd wegstoot, kan ons onsself op die plek bevind waar ons dit nie sal vind nie, al sou ons wou.
En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie. AMOS 8:12 AFR53
God het belowe dat die afgodedienaars van Israel oordeel in die gesig sou staar, en dit sou ‘n blywende oordeel wees.
In dié dag sal die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk — hulle wat sweer by die skuld van Samaría, en ook sê: So waar as jou god leef, o Dan! en: So waar as die weg van Berséba leef! En hulle sal val en nie weer opstaan nie. AMOS 8:13-14 AFR53
7 Junie 2024
AMOS 9:1 AFR53
Ek het die Here by die altaar sien staan, en Hy het gesê: Slaan die kapiteel van die pilaar, sodat die drumpels bewe; en verpletter hulle bo die hoof van almal! En Ek sal die wat van hulle oorbly, met die swaard ombring: die vlugteling uit hulle sal nie ontsnap nie, en geen vrygeraakte onder hulle homself red nie.
In sy vyfde visioen sien Amos vir God wat by die altaar staan. Israel se oordeel gebeur onder God se toesig. ‘n Huis se drumpel is dikwels strutureel die sterkste deel van die huis en wanneer die deurposte gebreek is, wys dit dat die hele huis inmekaar geval het. Dit is 'n kragtige manier om algehele vernietiging te beskryf.
Dit was God se manier om vir Israel te sê dat hulle kon hardloop, maar hulle kon nie vir Hom en Sy oordeel wegkruip nie.
Selfs al probeer hulle om diep onder in die hel of hoog bo in die hemel weg te kruip, hulle kan nie vir God wegkruip nie.
Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal. AMOS 9:2 AFR53
‘n Hoë berg (Karmel) of die bodem van die see kon hulle nie vir God se oordeel verberg nie.
En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt. AMOS 9:3 AFR53
'n Wesentlike deel van die Ou Verbond was die belofte van seën of vervloeking soos in Deuteronomium 28 en Levitikus 26 beskryf. Die belofte is gebaseer op Israel se gehoorsaamheid. Wanneer Israel kronies ongehoorsaam was, kon hulle net verwag dat God se oog op hulle vir kwaad sou wees en nie ten goede nie.
Wanneer Israel onthou het wie God is - al Sy mag en heerlikheid verstaan het - het hulle opgetree op 'n manier wat Hom eer gebring het.
En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en nie ten goede nie. AMOS 9:4 AFR53
Amos wys weer vir die volk wie God is en wat Hy kan doen. Dit is God wat die aarde aanraak sodat dit bewe en op en af beweeg soos die Nyl se water wat styg en wegsak.
Ja, dit is die Here Here van die leërskare wat die aarde aanraak, sodat dit bewe en almal treur wat daarop woon; en dit sal in sy geheel oprys soos die Nyl en wegsak soos die rivier van Egipte. AMOS 9:5 AFR53
Dit is ook God wat die hemele gebou het en die waters van die see laat opstyg sodat dit kan reën op die aarde.
Dit is Hy wat sy solders in die hemele bou en sy hemelgewelf bo die aarde vestig, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem, Here is sy Naam! AMOS 9:6 AFR53
8 Junie 2024
AMOS 9:7 AFR53
Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel? spreek die Here. Het Ek Israel nie laat optrek uit Egipteland en die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?
Israel het gedink die Ethiopiërs is 'n afgeleë en onbeduidende volk, maar God berispe hulle en sê dat soos Hy hulle uit Egipte uitgebring het, so het Hy ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir uitgebring.
God sal Israel se ballingskap onder die nasies gebruik om Sy volk te sif – nie om hulle te vernietig nie, maar om hulle te reinig.
Kyk, die oë van die Here Here is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die Here. AMOS 9:8 AFR53
God sal die Noordelike Koninkryk skud soos ‘n sif, wat sal veroorsaak dat die koninkryk totaal tot ‘n val sou kom, maar God se volk (die korrels) sal nie vernietig word nie.
Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in 'n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie. Al die sondaars van my volk sal deur die swaard sterwe, die wat sê: Die onheil sal ons nie bereik en ons nie ontmoet nie. AMOS 9:9-10 AFR53
Lank voor die tyd van Amos het die Noordelike Koninkryk van Israel die koningshuis van Dawid verwerp. Nou belowe God om Dawid se koninklike geslag te herstel - vervul in die Messias, Jesus Christus, wat van die tabernakel van Dawid is.
In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd; sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat dit doen. AMOS 9:1112 AFR53
Amos eindig sy boek op ‘n hoë noot, en sien uit na 'n dag van groot voorspoed en oorvloed in Israel.
Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. AMOS 9:13 AFR53
Amos beskryf hoe wonderbaarlik en wonderlik God se seën en herstel sou wees.
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. AMOS 9:14 AFR53
So baie van Amos se waarskuwings was oor die bedreiging van die komende ballingskap. Maar nou belowe God voorspoed, en Hy sien uit na die dag wanneer Israel nooit weer uit die land uitgeruk sal word nie.
En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God. AMOS 9:15 AFR53
Comments