top of page
  • Regina Torre

Die profete aan die heidene! Obadja 1

Updated: Apr 15


2 April 2024


OBÁDJA 1:1a AFR53

Die gesig van Obádja. So sê die Here Here aangaande Edom: ………


Obadja se gesig of profesie is oor Edom - 'n nasie wat lankal reeds dood is. Edom se oorsprong begin met Esau ongeveer agtien eeue voor Christus, en hulle het oorspronklik die land suid van die Dooie See beset.


Later het die Nabateërs die streek in besit geneem. Met Jesus se eerste koms het die Edomite lankal na die noordooste gemigreer en hul suid van Judea gevestig waar hulle Idumeërs genoem is.


Na die diaspora van 135 n.C. het hulle geleidelik uit die geskiedenis verdwyn. Nietemin, in die profesië van die laaste dae, word Edom by die naam genoem vir ‘n harde oordeel teenoor hulle. Bybels is dit asof die antieke nasie steeds bestaan.


Om ‘n volledige prentjie te vorm gaan ek eers weer terug na die agtiende eeu v.C., toe Abraham en Sara die ouers van Isak geword het. God het vir Abraham gevra om Isak na ‘n plek te neem om hom te offer. Ons moet onthou dat God vroeër aan Abraham belowe het dat sy nageslag uit Isak sal kom.


Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag genoem word.   GÉNESIS 21:12 AFR53


Net toe Abraham die mes oplig om Isak te offer, keer ‘n Engel van die Here hom en ‘n ram word vir hom voorsien om te offer. Weer bevestig God dat Abraham se nageslag uit Isak sal kom.


En Abraham het dié plek genoem: Die Here sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die Here sal dit voorsien word. Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.   GÉNESIS 22:14-17 AFR53


Abraham se optrede het 'n seën vir die hele planeet tot gevolg gehad. God het hom verseker dat deur sy seun Isak, die beloofde saad van seën en verlossing sou kom. Soos ons in die Nuwe Testament ontdek, is daardie saad Jesus Christus.


Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.   GALÁSIËRS 3:16 AFR53


Toe Jesus aarde toe gekom het, is hy teëgestaan deur magtige magte wat gekombineer het in 'n enkele groot weerstand teen sy opkoms tot mag as Koning van die Konings. Ons weet hulle was die Herodiane en Romeine, en die polities gemotiveerde Joodse godsdienstige leierskap het vinnig by hulle aangesluit.


Jesus is gebore uit die geslag van Abraham, Isak en Jakob. Hy het 'n geseënde Saad verteenwoordig wat al die pad teruggegaan het na die groot aartsvader en sy seun. Maar die Bybel het geprofeteer dat hy teëgestaan sou word deur 'n ander, ‘n mededingende saad ... die saad van Satan in die wêreldstelsel.


En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.   GÉNESIS 3:15 AFR53


 

3 April 2024


GÉNESIS 25:19 AFR53

En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.


Hier kom ons by die groot profesie oor Edom. Dit is 'n profesie wat die mensdom in twee duidelike segmente verdeel ... een wat deur die wêreldstelsel gelei word en die ander, wat die Here deur geloof volg.


In die tweede geslag na Abraham is 'n vreemde tweeling geboorte waargeneem. Die geboorte was uniek want dit het twee botsende huishoudings voortgebring wat die fokuspunt is vir hierdie eindtyd profesie.


Hierdie vreemde geboorte was die resultaat van Isak se gebed. Sy vrou Rebekka kon nie swanger raak nie, maar ná sy gebed het Rebekka haarself swanger bevind met twee babas wat  buitengewoon erg in haar gewoel het. Sy het God gevra of hierdie swangerskap reg is, en hoekom hulle so woel. Toe sy haar besorgdheid voor God neergelê het, het sy 'n antwoord gekry. God het haar vertel dat sy twee nasies in haar dra, en die een sou sterker as die ander een wees.


En Isak het die Here gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die Here het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die Here te raadpleeg. En die Here het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.   GÉNESIS 25:21-23 AFR53


Die tweeling was allesbehalwe identies. Die eertse kind was rooi en harig soos ‘n wol kleed.


En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot. En die eerste is gebore — rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.  GÉNESIS 25:24-25 AFR53


Die tweede tweeling is gebore met Esau se hakskeen in sy hand. Hy is Jakob genoem en beteken hakhouer of vervanger.


En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.   GÉNESIS 25:26 AFR53


Fassinerende woordspel is gebruik om die eerste tweeling te beskryf. Die naam Esau het 'n vêrlangse verband met die woord Seïr, die vroeë naam vir Edom suidoos van die Dooie See en waar Esau later gewoon het.


En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom,   GÉNESIS 32:3 AFR53


En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom.   GÉNESIS 36:8 AFR53


Die Hebreeuse woord vir rooi is admoni en hou verband met die woord Edom. Vêrder is die woord harig soortgelyk aan Seir. Hierdie woorde is sorgvuldig gekies om in Esau die aard van Edom, die latere aartsvyand van Israel, uit te beeld.


 

4 April 2024


ROMEINE 9:11 AFR53

Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep —


God se vervulling van sy belofte aan Abraham is uitgevoer deur Sy uitverkiesing van Jakob wat later die nasie Israel is. Van die begin af was die geboorte van die nasie Israel bonatuurlik beplan.


Paulus het opgemerk dat voor die tweeling se geboortes die jongste bo die oudste gekies is. God draai dikwels die mens se natuurlike orde om, want sy weë is nie die mens se weë nie.


- is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.   ROMEINE 9:12-13 AFR53


Jakob en Esau het ontwikkel in ooreenstemming met hul aanvanklike karakter eienskappe. Esau, die rooi man, was oorweldig deur sy fisiese aptyt vir rooi bredie.


Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.   GÉNESIS 25:30 AFR53


Esau het sonder om te skroom sy geboortereg verkoop vir ‘n pot lensies.


En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.   GÉNESIS 25:34 AFR53


Jakob, die hakskeengryper, het op ‘n slinkse manier sy broer se eersgeboortereg gekry. Alhoewel Jakob nie regverdig opgetree het nie, was hy in hierdie geval nie bedrieglik nie. Hy was oop en bloot en voor die hand liggend, maar hy was gewetenloos. Hy moet krediet kry vir die feit dat hy die waarde van die eersgeborereg besef het, en dit nagejaag het.


Esau was egter totaal goddeloos.


Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n onheilige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het.    HEBREËRS 12:16 AFR53


Hier, in een van die mees prominente gebeure in die hele Bybel, het ons die verhaal van twee broers wat onderhandel vir beheer oor die ganse wêreld. Die werklikheid is dat nie een van hulle die waarde besef het van dit waaroor hulle onderhandel het nie.


Esau, die man van mag en beheer, ‘n tipiese man van aksie, maak veel meer op sy eie mag staat as die gesag wat deur iemand anders aan hom gedelegeer kan word. Dit volg dus dat hy die belangrikheid van iets so ontasbaar soos 'n geboortereg sou verontagsaam.


Aan die ander kant het Jakob, wat by die huis bly, 'n baie beter begrip van die waarde van 'n geboortereg. Hy was ooggetuie van sy pa se sake, selfs tot op die punt dat hy af en toe in die kombuis 'n smaaklike bredie voorberei het.


 

5 April 2024


HEBREËRS 12:17 AFR53

Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer.


Jakob ontvang die seën van sy vader Isak wat die hoofelement van God se verbond met Abraham aan sy erfgename oordra. Jakob, vader van die twaalf stamme, ontvang die verbondsbelofte van vloek en seën - vervloek is hulle wat jou vervloek, en geseënd hulle wat jou seën.


Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.   GÉNESIS 27:29 AFR53


Esau keer terug van sy jagtog en berei ‘n heerlike maaltyd vir sy vader Isak voor in afwagting vir die seën wat hy moet ontvang. Toe Esau sy maaltyd vir Isak bring, besef Isak dat Jakob hom bedrieg het en hy het geweldig geskrik.


Toe skrik Isak geweldig en sê: Wie is dit dan wat wild gejag en vir my gebring het? En ek het van alles geëet voordat jy gekom het, en hom geseën — ook sal hy geseënd bly!   GÉNESIS 27:33 AFR53


Esau het begin kerm en smeek sy pa om hom te seën.


Daarop het Esau aan sy vader gevra: Het u net een seën, my vader? Seën mý ook, my vader! En Esau het sy stem verhef en geween.   GÉNESIS 27:38 AFR53


Esau word ook die seëninge van die hemel en die aarde gegee, maar sy vader voeg ook by dat hy van sy swaard sal lewe.


Toe antwoord sy vader Isak en sê vir hom: Kyk, ver van die vet grond van die aarde sal jou woonplek wees, en ver van die dou van die hemel daarbo. En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.   GÉNESIS 27:39-40 AFR53


Esau bekom later die gebied suid van die Dooie See. Hy het dit met geweld ingeval, en Seïr die Horiet uit die gebied uit verdryf. Hierdie gebied ken ons vandag as Petra. Die berg Seïr beteken rof, ruig of harig wat duidelik vir Esau beskryf.


In Hebreeus het die woord Seïr dieselfde spelling as ‘harige bok’ en so word Esau geassosieër met die sondebok wat later deel vorm van die Versoeningsdag feesdag.


Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die Here stel by die ingang van die tent van samekoms. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei; maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.   LEVÍTIKUS 16:7-10 AFR53


Twee bokke en twee uitkomste. Tydens die fees van Yom Kippur is daar 'n profetiese seremonie met twee bokke. Twee byna identiese bokke word gekies en voor die hoëpriester gebring. Die hoëpriester plaas sy hande op een van die bokke terwyl 'n ander priester ‘n boks met twee lotte bring. Een van die lotte word lukraak deur die hoëpriester gekies en op die eerste bok geplaas en dan word die ander lot vir die tweede bok getrek. Op een lot is ‘vir die Here’ gegraveer en dié bok  word vir die sondes van die mense geoffer. Hierdie dier is 'n perfekte voorstelling van die Messias wat vir die sondes van die wêreld sterf. Op die ander lot is ‘vir Asasel" gegraveer en dit word algemeen as sondebok vertaal en is vir Satan en die dood bestem. Die bok word in die woestyn geneem en doodgemaak.


 

6 April 2024


RIGTERS 11:16 AFR53

Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom.


Obadja se profesie is oor Edom, wat ons tot nou toe gesien het sy oorsprong het in Esau. Kom ons kyk kortliks na die geskiedenis van Edom.


Toe die koning van Edom geweier het dat die kinders van Israel op pad na Kanaän deur sy land moes trek, het hulle om die land getrek weens sy magsvertoon en omdat God hulle beveel het om dit te doen eerder as om oorlog te voer.


En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly.   RIGTERS 11:17 AFR53


Israel is verbied om hul Edomitiese broer te verafsku.


Die Edomiet moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want jy was 'n vreemdeling in sy land.   DEUTERONÓMIUM 23:7 AFR53


Bileam het oor die verowering van Edom geprofeteer.


Ook sal Edom 'n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal 'n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.   NÚMERI 24:18 AFR53


Joshua het die grondgebied van Juda toegeken net tot by die grense van Edom.


En vir die stam van die kinders van Juda, volgens hulle geslagte, het die lot geval: teen die grens van Edom, suidelik na die woestyn Sin toe, tot ver in die suide;

En die stede van die uiteinde van die stam van Juda se kinders af tot by die grens van Edom was in die suide: Kábseël en Eder en Jagur,   JOSUA 15:1, 21 AFR53


Twee eeue later het koning Saul teen die Edomiete geveg.


So het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.    

I SAMUEL 14:47 AFR53


Dawid het Edom verower en garnisoene regoor die land aangestel.


En Dawid het naam gemaak toe hy, by sy terugkoms van die neerlaag van die Arameërs, in die Soutdal agttienduisend Edomiete verslaan het. En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die Here het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.   

II SAMUEL 8:13-14 AFR53


Salomo het die hawe Eseon-Geber gebou in die land van Edom.


Koning Salomo het ook skepe gebou in Éseon-Geber wat by Elot aan die kus van die Skelfsee in die land Edom lê.   I KONINGS 9:26 AFR53


 

7 April 2024


II KRONIEKE 20:1 AFR53

En daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle 'n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg.


In Josafat se tyd het die Edomiete by die Ammoniete en die Moabiete aangesluit om Juda aan te val, maar die bondgenote het opgeëindig om teen mekaar te veg.


Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die Here by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees.

Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.   II KRONIEKE 20:17, 23 AFR53


Onder Joram, ‘n koning van Juda wat sleg was in die oë van die Here, het Edom in opstand gekom teen Juda. Omdat Joram nie God gedien het nie, het Edom hulle onafhanklikheid behou onder hul eie koning. (Die AFR83 vertaling lees makliker)


In die tyd van Joram het die Edomiete teen Juda gerebelleer en 'n eie koning oor hulle aangestel. Joram het met sy offisiere en sy hele strydwamag uitgetrek en het in die nag 'n aanval gemaak op die Edomiete wat hom en sy strydwaoffisiere omsingel het. Die Edomiete het egter tog onafhanklik geword, en is dit vandag nog. In dié tyd het ook Libna teen die gesag van Joram in opstand gekom. Dit was omdat Joram nie die Here die God van sy voorvaders gedien het nie.   2 KRONIEKE 21:8-10 AFR83


Edom het 'n blaaskans van sowat 40 jaar en toe word hulle deur Amasia, koning van Juda, ingeval. Amasia verslaan 10 000 Edomiete in die Soutdal, en neem toe nog 10 000 gevange om hulle van die top van ‘n krans af te gooi.   


Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tienduisend, verslaan. En tienduisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is. II KRONIEKE 25:11-12 AFR53


Onder koning Agas, ‘n koning wat ook sleg was in die oë van die Here, toe Juda deur Peka en Resin aangeval is, het die Edomiete Juda binnegeval en hulle as gevangenes weggevoer. Juda het Edom nooit weer teruggekry nie.


In dieselfde tyd het koning Agas na die konings van Assirië gestuur dat hulle hom moet help. Bowendien het ook die Edomiete gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.   II KRONIEKE 28:16-17 AFR53


Die Herodus familie in die Nuwe Testament was ook Edomiete, en die ewige haat tussen Esau en Jakob word steeds hier gesien. Koning Herodus wat regeer het tydens Jesus se geboorte het bevel gegee om al die Joodse babas dood te maak.


Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. MATTHÉÜS 2:16 AFR53


'n Ander Herodes het Johannes die Doper vermoor.


Maar by die viering van die verjaarsdag van Herodes het die dogter van Heródias voor hulle gedans en Herodes behaag. Daarom het hy met 'n eed beloof om haar enigiets te gee wat sy sou vra. Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op 'n skottel die hoof van Johannes die Doper.   MATTHÉÜS 14:6-8 AFR53


 

8 April 2024


GÉNESIS 36:1 AFR53

En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.


Jakob het na Haran gegaan om vir hom ‘n vrou te kry, en met sy terugkeer was hy bang vir Esau. Sy vrees was egter ongegrond want Esau was nie meer kwaad nie, en die vrede tuseen die broers het blykbaar tot en met hul dood geduur.


Esau se nasate was egter goddeloos en oorlogsugtig en hulle word die uitvaagsels van die gelowiges in die Bybel. ​​Esau se kleinseun Amalek is die een wat van die grootste moeilikheid veroorsaak en sy nasate teister Israel vir die volgende duisend jaar.


Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. En Timna was 'n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau.   GÉNESIS 36:10-12 AFR53


Gedurende die Uittog uit Egipte versuur Amalek die lewe vir die Israeliete. By Rafidim het hy met die Israeliete geveg. Moses het met sy staf op die berg gestaan en na die geveg gekyk. Wanneer hy sy hande gelig het, het die Israeliete gewen, maar as sy hande moeg word en hy hulle laat sak het, het Amalek gewen. Aaron en Hur het toe Moses se hande in die lug gehou, en Josua het Amalek oorwin. God het hier vir Moses laat opskryf dat Hy die nagedagtenis van Amalek heeltemal sal uitdelg.


Toe sê die Here vir Moses: Skrywe dit as 'n aandenking in 'n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Ámalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg. En Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: Die Here is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die Here! Oorlog het die Here teen Ámalek van geslag tot geslag.

EXODUS 17:14-16 AFR53


Wat ons in hierdie aksie sien, is een faksie van wat later onder die algemene opskrif van Edom ingesluit sal word.


Moses het die Israeliete herhaaldelik daaraan herinner dat hulle die goddelose nasies van Kanaän heeltemal moes vernietig. Hy sluit sy boodskap hier aan die Israeliete af deur hulle te herinner dat Amalek ook vernietig moet word.


Dink aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie. As dan die Here jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die Here jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Ámalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.   DEUTERONÓMIUM 25:17-19 AFR53


Die berugte profeet Bileam het ook ‘n profesie van vernietiging oor Amalek en sy fanatiese afstammelinge uitgespreek.


Toe hy Ámalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Ámalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.   NÚMERI 24:20 AFR53


Nog later, tydens die bewind van Israel se koning Saul, het die profeet Samuel het vir hom gesê om vir ewig 'n einde te maak aan die Amalekiete. Hy het opdrag gekry om hulle volk en diere en besittings uit te roei, maar Saul was ongehoorsaam aan God.


Waarom het jy dan nie na die stem van die Here geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here? Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die Here geluister en gegaan op die pad waar die Here my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die Here u God in Gilgal te offer.   I SAMUEL 15:19-21 AFR53


 

9 April 2024


ESTER 3:1 AFR53

Na hierdie dinge het koning Ahasvéros Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, groot gemaak en hom verhoog en sy setel hoër gestel as dié van al die vorste wat by hom was.


Die Amalekiete se verwoesting het nie met koning Saul geëindig nie. Ons kry weer met hulle te doen in die boek Ester wanneer ons die berugte Haman van die Persiese hof ontmoet.


Hy word ‘n Agagiet genoem, wat dit beteken dat hy afstam van dieselfde koning Agag, wie Saul  veronderstel was om dood te maak. In plaas daarvan is hy gespaar, en sy nageslag het voortgegaan om Israel se vyande te wees.


Deur slinkse politieke beleid het Haman probeer om die Jode te vernietig, maar die Israeliete was nog steeds onder God se beskerming. Onthou God se vloek vir vloek verbond met Abraham, Isak en Jakob.


En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:3 AFR53


Wat jy ook al probeer, hetsy vir of teen die Jode, sal aan jou gedoen word, op dieselfde manier wat jy bedoel het. Jy sal geseën of vervloek word volgens jou eie aksies.


Haman het probeer om Mordegai op te hang, maar hyself is opgehang op sy eie galg.


Daarop sê Harbóna, een van die hofdienaars voor die koning: Daar staan reeds die galg wat Haman laat maak het vir Mórdegai wat ten voordele van die koning gespreek het, by die huis van Haman, vyftig el hoog! Toe sê die koning: Hang hom daaraan op! En hulle het Haman opgehang aan die galg wat hy vir Mórdegai opgerig het, en die woede van die koning het bedaar.   ESTER 7:9-10 AFR53


Edom se verraad word mooi gesien met die Babiloniese inval van Jerusalem.


In 586 v.C. word Jerusalem deur die Babiloniese leërs ingeval en vernietig. Woedende soldate verwoes die mure, die inwoners word doodgemaak en die stad word afgebrand.


En hy het die huis van die Here en die huis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem, ja, elke groot huis met vuur verbrand. En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het die mure van Jerusalem rondom omgegooi. En die res van die volk wat in die stad oorgebly het, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het — die oorblyfsel van die menigte het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.   II KONINGS 25:9-11 AFR53


Die Psalm digter onthou ook Edom se verraad wat Juda se totale vernietiging wou sien.


Here, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!   PSALMS 137:7 AFR53


Edom skree breek weg, breek weg, tot op die grond toe. Die Hebreeus vir breek weg is ‘ara’ en beteken: veroorsaak of maak kaal, maak leeg, stort uit, breek af, ontbloot.


Obadja gaan nou met sy profesie vir ons vertel hoe en hoekom Edom uitgewis moet word.


 

10 April 2024


OBÁDJA 1:1 AFR53

Die gesig van Obádja. So sê die Here Here aangaande Edom: Ons het 'n tyding van die Here gehoor, en 'n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg!


Niemand weet verseker wie Obadja was nie, maar hy was waarskynlik ‘n tydgenoot van Jeremia en Habakuk, en hy gee sy profesie net voor Juda se ballingskap na Babilon.


Obadja begin sy profesie met ‘n verwysing na Jeremia wat ‘n ooreenstemmende profesie gee.


Ek het 'n tyding van die Here gehoor, en 'n boodskapper is gestuur onder die nasies om te sê: Versamel julle en kom aan teen hom en maak julle gereed vir die oorlog.   JEREMIA 49:14 AFR53


Obadja is uitsonderlik deurdat sy boodskap primêr aan die inwoners van Edom gegee word. Soveel as wat hierdie waarskuwing aan die Edomiete gerig is, is dit egter nie vir die Edomiete nie. Die werklike gehoor is die volk van God. Alhoewel hulle nie aangespreek word nie, sal hulle hierdie boodskap hoor en ten spyte van die volk se gevoel dat God hulle vergeet het, sal hulle hul geloof weer versterk met Obadja se boodskap.


God sê vir Edom dat in vergelyking met al die ander nasies wat Hy gemaak het, Hy Edom klein en veragtelik gemaak het.


Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag.   OBÁDJA 1:2 AFR53


Die Edomiete was 'n ruwe, geharde en waaghalsige volk. Hulle was trots en arrogant en het gedink hulle is onaantasbaar.


Die Hebreeus vir vermetelheid is ‘zadon’ en word vertaal as: trots, onbeskof, vermetel, arrogant.


Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp?   OBÁDJA 1:3 AFR53


Vermetelheid of trots is ‘n eienskap wat God nie verdra nie.


Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.SPREUKE 8:13 AFR53


Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die beskeidenes is wysheid.   SPREUKE 11:2 AFR53


Edom het gewoon in die gebied wat ons vandag ken as Petra en hul wonings was letterlik uitgekap in die hoë rotse en daarom sê die vers hul nes was tussen die sterre.


Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel — daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die Here.   OBÁDJA 1:4 AFR53


Obadja vertel vir Edom dat al woon hulle so hoog in die klowe en berge dat niemand hulle kan aanraak nie, hulle is nie uit God se bereik nie, en God sal hulle neerwerp.


 

11 April 2024


OBÁDJA 1:5 AFR53

As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het — hoe is jy vernietig! — sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie?“


Obadja beskryf nou hoe verwoestend en finaal die vernietiging van Edom gaan wees met twee voorbeelde. Indien diewe of rowers kom steel, vat hulle alles of steel hulle net wat nodig is? Of as druiwesnyers jou kom help, sny hulle elke druif of laat hulle nie ‘n na-oes agter nie?

Obadja se uitkoms is dat God nie net ‘n deel van Edom gaan vernietig nie, Hy gaan alles vernietig, niks gaan oorbly nie.


Alles (besittings) en almal (sy volk) wat aan Esau behoort word deursoek. Al Esau se verborge skatte wat in die spelonke in die kranse van Petra versteek is, sal uitgesnuffel word.


Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel!   OBÁDJA 1:6 AFR53


Al Esau se bondgenote sal teen hom draai. Daar gaan niemand wees om hom en sy mense te help nie.


Al jou bondgenote het jou tot by die grens gestuur; die manne met wie jy vriendskap gehou het, het jou bedrieg, jou oorweldig; hulle lê 'n strik onder jou as jou brood. Daar is geen verstand in hom nie!   OBÁDJA 1:7 AFR53


Edom was glo bekend vir haar wyse manne, maar hulle sal totaal onbewus wees van haar bondgenote se bedrieglike plan.


Sal Ek nie in dié dag, spreek die Here, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau?   OBÁDJA 1:8 AFR53


Selfs Jeremia profeteer oor Edom se wysheid wat ontbreek wanneer hulle dit die nodigste het.


Oor Edom. So sê die Here van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput?   JEREMIA 49:7 AFR53


Edom se helde sal verskrik wees. As hulle helde bang is, hoe moet die gewone mense voel? Beslis nie ‘n goeie profesie oor Edom en Esau se mense nie.


En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word.   OBÁDJA 1:9 AFR53


Teman kry sy naam van 'n kleinseun van Esau en verwys na die suidelike gebied van Edom.


Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas.   GÉNESIS 36:10-11 AFR53


Job se vriend Elifas was 'n Temaniet. Mense het van ver af gereis om die wysheid van sy wyse manne te hoor.


Toe antwoord Élifas, die Temaniet, en sê:   JOB 4:1 AFR53


 

12 April 2024


OBÁDJA 1:10 AFR53

Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig.


Obadja gee nou vir ons 'n lys van redes oor waarom God Edom gaan vernietig.


1. Weens die geweld teen jou broer Jakob………sal jy vir ewig uitgeroei word.


Die Edomiete het gehelp met die verwoesting van Jerusalem deur niks te doen om hulle te help nie, en deur die aanvallers aan te moedig.


2. Die dag toe vreemdelinge die bevolking van Jakob as gevangenis weggevoer het…. het jy afsydig gestaan.

3. Toe uitlanders die poorte van Jerusalem ingegaan het en die lot gewerp het vir hul besittings……was jy aan die vyand se kant.


Edom het hulle by Israel se vyande aangesluit.


Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het — toe was jy ook soos een van hulle!   OBÁDJA 1:11 AFR53


4. Toe jou broer ‘n dag van onheil beleef het……….het jy dit met genot aanskou.

5. Op die dag van Juda se ondergang………….het jy jou verheug.

6. Toe Juda benoud was…………het jy daaroor gespog.


Edom moes oor sy broer se rampspoed gehuil het, maar in plaas daarvan was hy verheug.


En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie en nie gespog het op die dag van benoudheid nie!   OBÁDJA 1:12 AFR53


7. Op die dag van God se volk se nood ………het jy in hul poort ingekom.

8. Op die dag van God se volk se nood ………het jy met genot hul onheil aanskou.

9. Op die dag van God se volk se nood ………het jy jou hand uitgesteek na hul rykdom.


Hulle het die lot van die Jode uitgebuit en die stad van sy rykdom beroof. Hierdie plundering is deur God gesien al het die diewe ontsnap.


Tog moes jy nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle nood nie, moes jy ook nie met genot aanskou het sy onheil op die dag van sy nood nie en nie die hand uitgesteek het na sy rykdom op die dag van sy nood nie!   OBÁDJA 1:13 AFR53


10. Jy moes nie op die kruispad gestaan het om die vlugtelinge dood te maak nie, en

11. In hul dag van benoudheid…………..moes jy nie hul vrygemaaktes uitgelewer het nie.


Edom se verraad. Sommige van die Jode het probeer ontsnap om hul families te beskerm, maar die Edomiete het hul pad versper. Hulle het selfs gehelp om diegene te vang wat wel ontsnap het en hulle aan die Babiloniërs teruggegee.


En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie.   OBÁDJA 1:14 AFR53


 

13 April 2024


OBÁDJA 1:15 AFR53

Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.


Obadja hanteer drie groot onderwerpe in hierdie kort sin.


1. Die dag van die Here.


Die dag van die Here neem ons na die eindtye en spesifiek na die sewe jaar Verdrukking tydperk.


2. Al die nasies.


Obadja se profesie is teen Edom, en Edom se oorsprong is Esau. Esau en sy tweeling broer Jakob het van die begin af onderhandel vir beheer oor die ganse wêreld. Twee broers, twee uitgangspunte, een goed en een sleg, een vir God en een teen God.


Jakob se naam is verander na Israel en hy word die vader van die twaalf stamme van Israel. Israel is sedert 14 Mei 1948 ‘n onafhanklike nasie, en is huidiglik daagliks in die nuus.


Esau se nasate is hoofsaaklik die Arabiere en die Moslem gemeenskap en alhoewel hulle nie ‘n spesifieke nasie soos Israel verteenwoordig nie, het hulle verteenwoordiging in elke nasie in die wêreld. Ons sien ook hulle proteste teen Israel daagliks op die nuus - wêreldwyd en vanuit elke nasie.


3. Soos jy doen sal aan jou gedoen word.


Hier keer ons terug na God se verbond met Abraham, die verbondsbelofte van vloek en seën - vervloek is hulle wat jou vervloek, en geseënd is hulle wat jou seën.


God se verbond aan Abraham - En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 12:3 AFR53


God se verbond aan Abraham, bevestig deur Isak aan Jakob - Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees 'n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.   GÉNESIS 27:29 AFR53


Baie belangrik om te weet dat God nooit Sy beloftes verbreek nie en dat God se verbond met Abraham, Isak en Jakob vandag nog vir Sy volk (die Israeliete) staan, en tot aan die einde van tyd.


Christene het NIE die Joodse volk vervang in God se verbond met Israel NIE. Die versamelnaam vir hierdie idee is ‘vervangingsteologie’ of in Engels ‘replacement theology’ en is totaal foutief.


Paulus verduidelik mooi in Romeine 11 dat God nie Sy volk verstoot het nie!


Ek vra dan: Het God miskien sy volk verstoot? Nee, stellig nie! Want ek is ook 'n Israeliet uit die nageslag van Abraham, van die stam van Benjamin.   ROMEINE 11:1 AFR53


Diegene wat vandag saam met Edom skree dat die Jode vervolg moet word, moet mooi nadink oor die nagevolge van hul aksies. Onthou God se verbondsbelofte van vloek en seën - vervloek is hulle wat jou vervloek, en geseënd is hulle wat jou seën.


Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.   OBÁDJA 1:16 AFR53


 

14 April 2024


OBÁDJA 1:17 AFR53

Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal 'n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem.


Die dag sal kom wanneer die Jode hul besittings sal besit — hulle land, hul tempel, hul stad en hul koninkryk.


Die woord ‘maar’ in die vers hierbo dui ‘n keerpunt aan. God belowe verlossing en reiniging vir die berg Sion. Ja, Israel het gesondig, en die tempel is vernietig weens hul sondes, maar God sal die huis van Jakob reinig en herstel, maar nie die huis van Esau of die Edomiete nie.


Dan sal die huis van Jakob 'n vuur wees en die huis van Josef 'n vlam, maar die huis van Esau 'n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die Here het dit gespreek.   OBÁDJA 1:18 AFR53


Die huis van Jakob... die huis van Josef. Die koninkryke van Juda en Israel, die twee en die tien stamme het weer verenig. Die hele volk wat bestaan uit twaalf stamme word elders ook na verwys as die huise van Jakob en Josef.


U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak. U het u volk met 'n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela.   PSALMS 77:15-16 AFR53


Obadja sien hoe die twaalf stamme, weereens verenig, hul grondgebied na alle kante toe uitbrei. In die suide die land van Esau, in die weste of die Laeveld die land van die Filistyne, in die noorde die land van Efraim en Samaria en in die ooste die land van Benjamin Gilead.


Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem. Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem.   OBÁDJA 1:19-20 AFR53


So sal die herstelde volk in ooreenstemming met die belofte in Genesis, uitbrei na die weste, na die ooste, na die noorde en na die suide.


en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.   GÉNESIS 28:14 AFR53


Wat 'n wonderlike manier om hierdie kort boek af te sluit! Huidiglik is die Koning verwerp en Dawid se troon in Jerusalem is leeg. Die Jode is in die hartseer toestand sonder koning, priester, offer of priesterskap. Maar, wanneer Jesus terugkom, sal die nasie kyk na die Een wat hulle deurboor het, hulle sal gereinig en vergewe word, en Sy Koninkryk sal gevestig word.


Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die Here toebehoort.   OBÁDJA 1:21 AFR53


 

19 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page