top of page
  • Regina Torre

Die profete aan die heidene! Nahum 1-3

Updated: Apr 1




18 Maart 2024


NAHUM 1:1 AFR53

Godspraak oor Ninevé. Die boek van die gesig van Nahum, die Élkosiet.


Die profeet Nahum was ‘n tydgenoot van die profete Jeremia en Sefanja. Vers 1 vertel dat hy ‘n Elkosiet was en dus afkomstig van die dorpie Elkos, moontlik in Noord Galilea.


Nahum gee vir ons die grusame boodskap van God se finale oordeel oor Nineve, die hoofstad van die Assiriërs.


Ek het met die lees van hierdie boek berusting gekry oor ons huidige wêreld toestand. Alhoewel ons elkeen weet dat God in beheer is, vergeet ons dit al te gou en raak ongemaklik as ons na die wêreldgebeure om ons kyk. Dit voel soms of die wêreldmag te magtig en in beheer is en dat ons teen 1000km per uur teen ‘n afdraende pad voortsnel.


Nahum se profesie oor Nineve was oor die wêreldmag van sy tyd. Die Assiriërs was ‘n magtige en wrede nasie wat oor ‘n groot en wye gebied geheers gedurende die 7de eeu v.C.


Die hoofkarakter op die wêreldtoneel van hierdie tyd is nie die Assiriese koninkryk nie, maar God wat in beheer is. God wat lankmoedig en geduldigdig is, maar met gloeiende toorn kán optree om Hom op Sy teenstanders te wreek. Die feit dat dinge vir jare oënskynlik deur die wêreldmagte beheer en gestuur word, is presies dit, oënskynlik.


Agter die skerms is God besig met sy haarfyn beplanning en uitvoering van Sy wil vir hierdie lewe. Dit het Hy in die verlede bewys. Dit sal Hy ook in die toekoms bewys. Assirië – en enige mag daarvoor of daarna, ook die magte van vandag – sal uiteindelik voor God se mag moet buig. Om die waarheid te sê, Nahum kan met sekerheid dié waarheid verkondig aan die magte wat God nie erken nie.


Nineve word vir die eerste keer in Genesis genoem toe Nimrod, beskryf as ‘n geweldenaar na Assur getrek het om die stad Nineve te bou.


Kus was ook die vader van Nimrod. Hý het begin om 'n geweldenaar op aarde te wees. Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag.  GÉNESIS 10:8, 11 AFR53


Nimrod was ‘n Assiriër en die eerste wêrelddiktator. Hy het die toring van Babel gebou en vanuit Babilon regeer. Die profeet Miga verwys na die finale diktator of die Antichris as die Assiriër.


En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons grondgebied betree.   MIGA 5:5 AFR53


Dit is interessant dat Miga ook na die land van Nimrod verwys in sy gedeelte wat hierbo aangehaal is. Kan dit wees dat hierdie finale wêrelddiktator in 'n sekere sin 'n terugkeer van Nimrod sal wees?


Dit kan 'n addisionele dimensie byvoeg tot die geheimenisse rondom die toekoms van Babilon. Word dit net as 'n simbool gebruik, of sal Babilon weer letterlik op die oewer van die Eufraat gebou word?


 

19 Maart 2024


NAHUM 1:2 AFR53

'n Jaloerse God en 'n wreker is die Here, 'n wreker is die Here, en vol grimmigheid; 'n wreker is die Here vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.


Nahum begin sy profesie met ‘n beskrywing van hoe God oor Sy volk voel. God is jaloers of begaan oor Sy volk. God se jaloersheid oor Sy volk beteken dat Hy Hom wreek oor Sy teënstaanders of die wat Sy volk teenstaan. Teen die wat dit waag om teen Hom of Sy volk in opstand te kom.


Lankmoedig beteken dat God stadig is om toornig te word. Nie traag soos met ‘n sleepvoet soos sommiges dink nie, maar geduldig omdat God almal ‘n kans tot bekering wil gee.


Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.   II PETRUS 3:9 AFR53


Nahum beklemtoon God se beheer oor die natuur. Die wolke, insluitend storms en tornado's ('n indrukwekkende vertoning in die lug) is bloot die stof van Sy voete, wat onder Hom geleë is en as onbeduidend behandel word.


Die Here is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die Here ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.   NAHUM 1:3 AFR53


Die see ('n manjifieke en eindelose voorraad water), kan opdroog met die spreek van ‘n woord. Basan, Karmel en Libanon (die grootste en beste landboustreke in die omgewing) verwelk voor God en verloor hul skoonheid en voorspoed.


Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk.   NAHUM 1:4 AFR53


Berge ('n onwrikbare fondament) bewe en smelt voor God, die aarde beweeg en is geen toevlugsoord nie.


Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.   NAHUM 1:5 AFR53


God beheer die storms, die see, die berge en die wêreld! Nahum wys kreatief dat elkeen van hierdie kragtige natuurlike elemente kragteloos is voor God. As God se woede soos vuur is en die rotse deur Hom stukkend geruk word, watter kans kan 'n stad soos Nineve staan ​​wanneeer God Homself teen haar gestel het?


Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.   NAHUM 1:6 AFR53


God is nie buite beheer nie—Hy is ten volle in beheer van Sy krag, en Hy gebruik dit om Sy doel te bereik. God is die morele heerser van die heelal, Hy is 'n regverdige regter en boetes moet betaal word...


 

20 Maart 2024


NAHUM 1:7 AFR53

Die Here is goed, 'n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.


Let op hoe God se liefde en sy oordeel in vers 7 en 8 langs mekaar gestel word. Aan die een kant is God goed - ‘n toevlug in tyd van nood. Daar kan altyd op Hom gereken word om te sorg vir dié wat by Hom skuil.


Aan die ander kant is God nie jou speelmaat nie. Sy vyande word vervolg tot in die duisternis in.


Maar met 'n oorstromende vloed maak Hy 'n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.   NAHUM 1:8 AFR53


Die vyande van God is hulle wat planne teen Hom beraam. Teen enigiemand anders kan sulke planne sukses hê, maar nie teen God nie. Elke plan wat teen God gerig is, is gedoem. God bring 'n einde aan hierdie sameswerings en diegene wat dit skep.


Wat wil julle beraam teen die Here? Hy maak daar 'n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.   NAHUM 1:9 AFR53


Nahum verkondig die eeu-oue waarheid van die spreuk -  die mens wik, maar God beskik. Nineve kan maar planne maak. Wat hulle ook al bedink, God sal dit tot niet maak. Al was hulle so ondeurdringbaar soos inmekaargevlegte dorings en deurweek van drank (moeilik verstaanbaar, maar miskien beteken dit natgemaak as beskerming teen die vuur), sal hulle soos kurkdroë stoppels verbrand word.


Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat — hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word.   NAHUM 1:10 AFR53


Uit die verlede herroep Nahum die oorwinning van koning Hiskia oor Assirië in die tyd van die veldslag van Sanherib.


Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die Here beraam het, wat verderflike planne gemaak het.   NAHUM 1:11 AFR53


Hulle het kwaad bedink teen God, maar dit was planne wat nie geslaag het nie. Trouens, Hiskia het oorwin sonder om ‘n vinger te verroer. God het die veldslag vir hulle gewen.


En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid. En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame! En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly.   II KONINGS 19:34-36 AFR53


 

21 Maart 2024


NAHUM 1:12 AFR53

So sê die Here: Al is hulle ook in volle krag en só groot in getal, tog sal hulle net só afgemaai word en vergaan. (Ek het jou verneder, Ek sal jou nie meer verneder nie;


Net vir ingeval niemand aandag gegee het nie, neem Nahum nou hierdie algemene beginsels en pas dit toe op die twee groepe wat na sy boodskap sou luister. Hy gee vir hulle God se woorde.


Vir Nineve en die Assiriërs: Al is julle baie sterk en groot in getal, julle gaan afgemaai word en vergaan.


Vir Juda: Al is julle geteister, God sal julle nie meer verdruk nie. Die nasie Juda het jare lank onder die bedreiging van die Assiriese mag gely, maar hierdie lyding sal eindig nadat God Sy toorn op Nineve uitstort.


maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk.).  NAHUM 1:13 AFR53


Assirië, die groot rolspeler op die wêreldverhoog, is in God se oë onbenullig, van geen waarde nie. Hulle is op die punt om van die wêreldtoneel af te verdwyn.


Maar die Here sal dit oor jóú verorden: Van jou naam sal daar nie meer gesaai word nie; Ek sal uit die huis van jou god uitroei die gesnede en die gegote beelde; Ek sal vir jou 'n graf maak, want jy is te lig bevind.   NAHUM 1:14 AFR53


Die boodskap wat die profeet Nahum aan Juda bring moet hulle met vreugde vervul. Hulle kan hul feeste vier en hulle geloftes betaal. Die verdrukker sal nie weer deur hul land trek nie, hy is verslaan en vernietig.


Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!   NAHUM 1:15 AFR53


Nahum gebruik Jesaja se woorde vir die boodskap wat hy aan die volk bring.


Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!   JESAJA 52:7 AFR53


Hierdie gedeelte word later deur Paulus toegepas op diegene wat die evangelie verkondig.


Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!   ROMEINE 10:13-15 AFR53


Die goeie boodskap is Hebreeus vir evangelie. Hoe lieflik is die voete van Hom wat die evangelie bring, van Hom wat vrede en verlossing aankondig en wat aan Sion sê: Jou God is Koning!


Ons weet dit is Jesus, maar hoekom die melding van voete? Wel, onthou dat Jesus se wederkoms geassosieer word met Sy voete op die Olyfberg.


“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”   SAGARÍA 14:4 AFR53


 

22 Maart 2024


NAHUM 2:1 AFR53

'n Verwoester trek teen jou op; bewaak die vesting, kyk uit langs die weg, versterk die lendene, versterk jou met alle mag!


Assirië word met hierdie profesie gewaarsku om hulself gereed te maak vir oorlog, want hul vyand is oppad.


Wie is die verwoester wat hier genoem word? Die geskiedenis vertel dat God uiteindelik die gekombineerde magte van die Babiloniërs en die Meders gebruik het om Assirië te verower. In 612 v.C. het koning Nabopolassar van Babilon deur die mure van Nineve gebreek as deel van 'n tien weke lange stryd. 'n Aantal kreatiewe strategieë deur die Babiloniese leër het Assirië totaal verpletter en verwoes!


Die suidelike koninkryk Juda is nie meer onder die juk van Assirië nie, God het hul heerlikheid herstel.


Want die Here herstel die heerlikheid van Jakob net soos die heerlikheid van Israel; want plunderaars het hulle geplunder en hulle wingerdlote verniel.   NAHUM 2:2 AFR53


Nahum vertel nou hoe die oorlog gaan plaasvind. Die Babiloniese aanvallers dra hul tradisionele rooi kleure, in teenstelling met die Assiriërs wat tipies blou en pers gedra het. Die Babiloniërs se strydwaens raas soos hulle oor die vlaktes jaag. Die strydwaens lyk soos rooi fakkels en die spiese wat gegooi word lyk soos bliksemstrale wat heen en weer skiet.


Die skild van sy helde is rooi geverf, die dapper manne in skarlaken gekleed, die strydwaens skitter met die glans van staal op die dag as hy hom gereedmaak, en die spiese word geswaai. Langs die paaie raas die strydwaens, hulle jaag rond oor die vlaktes; hulle voorkoms is soos fakkels, soos bliksemstrale skiet hulle heen en weer.   NAHUM 2:3-4 AFR53


Meer moeilikheid kom vir die Assiriërs aangesien hul vername manne struikel voordat hulle begin veg. Die Assiriese vegters is bo-op die muur en hulle probeer om die aanvallers aan die buitekant van die muur dood te maak. Die Babiloniërs verdedig hulself egter deur hul skilde in ‘n groepformasie bo hul koppe te plaas soos ‘n dak - die stormdak.


Hy dink aan sy vername manne; hulle struikel in hul vaart, hulle hardloop na die muur waar die stormdak opgerig staan.   NAHUM 2:5 AFR53


Nineve was geleë langs die Tigris rivier, en water het soos 'n beskermende grag om en deur die stad gevloei. Die Babiloniërs het blykbaar sluise stroomop oopgemaak en die gevolglike stormloop van water het die stadsmuur sowel as die paleis oorstroom, wat dit makliker gemaak het om deur hul verdediging te breek.


Die poorte van die riviere word oopgemaak, en die paleis smelt weg.   NAHUM 2:6 AFR53


Nineve word oorwin en die bevolking word gevange geneem en weggevoer. Nineve se mense is in rou en kla sover hul gaan.


En dit is beslis: die stad word ontbloot, sy word weggevoer, en haar slavinne klae soos die stem van duiwe en slaan op hulle bors.   NAHUM 2:7 AFR53


 

23 Maart 2024


NAHUM 2:8 AFR53

En Ninevé is soos 'n vywer van waters, al die dae van haar bestaan. Maar hulle loop weg! Staan tog, staan! Maar daar is niemand wat omdraai nie.


Nahum gee die kontras tussen Nineve se huidige bestaan en wat in die toekoms vir hulle wag. Mense uit alle dele van die wêreld het na Nineve gestroom omdat dit so ‘n gewilde stad was, maar hulle gaan net so vinnig uit haar uit vlug wanneer die moeilikheid kom. Die waters verteenwoordig die bevolking van Nineve.


Nineve se onuitputlike voorraad van goud en silwer wat die Assiriërs van ander lande geplunder het, word nou van hulle geroof en geplunder.


Roof silwer, roof goud! En onuitputlik is die voorraad, 'n rykdom van allerhande kosbare dinge!   NAHUM 2:9 AFR53


Die mense van Nineve se lyftaal en postuur is die van 'n volk wat deur skrik en ongeloof getref is terwyl hul harte smelt, hul knieë wankel en hulle bleek is van skrik.


Leegheid, ontlediging, vernieling! En die hart versmelt, en knieë wankel, en in al die lendene is krampe, en die aangesig van hulle almal word bleek.   NAHUM 2:10 AFR53


Nahum vergelyk die Assiriërs met leeus. Die leeu was een van die primêre simbole van Assirië, soos die arend vir die Verenigde State of die beer vir Rusland. Hulle paleise was versier met leeusimboliek, en een van hul sleutelgodinne (Ishtar) het leeubeelde gebruik. Terwyl leeus tipies gebruik is om krag te projekteer, word die beeld hier teen Assirië gedraai. Waar is die leeukuil?,  vra God spottend.


Waar is die lêplek van die leeus, wat die voedingsplek was van die jong leeus? Waar die leeu, die leeuin, die klein leeutjie rondgeloop het sonder dat iemand hulle skrikmaak?

Die leeu wat vir sy kleintjies geroof en vir sy leeuinne gewurg het, wat sy gate met roof gevul het en sy lêplekke met buit.   NAHUM 2:11-12 AFR53


Nineve het gedien as 'n ondeurdringbare vesting wat niemand durf steur nie, maar haar heerskappy was nou verby. Assirië se jong leeus - haar troepe - sou genadeloos vernietig word.


Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die Here van die leërskare, en Ek laat jou strydwaens in rook opgaan; en die swaard sal jou jong leeus verslind, en Ek sal jou roof van die aarde verdelg; en die stem van jou gesante sal nie meer gehoor word nie.   NAHUM 2:13 AFR53


God het Nineve lief gehad: dit was Sy kommentaar aan Jona. Maar beide individue en nasies kan 'n lyn te ver oorsteek ...


 

24 Maart 2024


NAHUM 3:1 AFR53

Wee die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie!


Nahum se profesie wissel tussen die toekoms en sy huidige tyd en konsentreer op die rede vir Nineve se komende vernietiging.


Nineve en die Assiriërs het lankal hulle morele grondslag verlaat. Geweld, leuens, bedrog en ander sondes was deel van die alledaagse lewe in hierdie antieke stad.


Nahum vertel dat hy al die vyand kan hoor aankom met swepe wat klap, wiele wat dreun, perde wat jaag en waens wat teen mekaar stamp.


Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele! En perde wat jaag, en waens wat stamp!   NAHUM 3:2 AFR53


Nahum sien die geveg wat gaan plaasvind. Ruiters op ‘n galop met swaard in die hand, slaan links en regs om die Assiriërs dood te maak. Daar is soveel lyke opgehoop dat die mense oor hulle struikel.


Ruiters op 'n galop en geglinster van swaarde en geblits van spiese! En 'n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie — 'n mens struikel oor hulle lyke!   NAHUM 3:3 AFR53


Terug by sy huidige tyd beskulding Nahum Nineve van losbandigheid en towerkunste. Nineve is beide 'n prostituut en 'n towenaar. Die kombinasie is bedoel om die stad te beledig. Nahum se kras taal kan ons dalk verras in die Woord van God, maar die skokkende woorde dien 'n doel. Assirië word in 'n posisie van vernedering getoon.


Weens die veelheid van die hoererye van die hoer vol bevalligheid, 'n meesteres in towerkunste, wat nasies met haar hoererye verkoop het en volkstamme met haar towerkunste.   NAHUM 3:4 AFR53


In die Westerse kultuur beskou ons die wêreld tipies deur die lens van reg en verkeerd. Oosterse kulture is egter meer geneig om die wêreld deur die lens van eer en skaamte te beskou. In sulke kulture is die respek van die gemeenskap uiters belangrik.


Nineve gaan naak in ballingskap ingestuur word sodat ander koninkryke haar skande kan sien.


Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die Here van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande.   NAHUM 3:5 AFR53


God gaan van Nineve ‘n skouspel maak. Niemand gaan haar help of vir haar jammer voel nie.


En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou 'n skouspel maak, sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelyde hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?   NAHUM 3:6-7 AFR53


 

25 Maart 2024


NAHUM 3:8 AFR53

Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur?


Nahum gee 'n vergelyking tussen Nineve en Thebe (ook genoem No-Amon soos in ons vers vandag). In 664-663 v.C. het die stad Thebe, 'n groot en magtige stad langs die Nyl in Egipte, in die hande van die Assiriërs geval.


In die aanval is die stad met die grond gelyk gemaak. Alhoewel die stad haarself goed kon verdedig en goeie bondgenote gehad het, is die stad verower. Nahum vra nou dat as Thebe tot ‘n val kan kom, wat verhoed Nineve om ook te val.


Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putéërs en Líbiërs was jou tot hulp. Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei.   NAHUM 3:9-10 AFR53


Nineve se beurt kom om uit die beker van God se toorn te drink tot hulle dronk is, en om te probeer wegkruip van die vyand.


Die Assiriërs se vestings is só gereed vir vernietiging en só maklik om te vernietig as wat ryp vye gereed is om van die boom af te val.


Ook jý sal dronk word, beneweld wees, ook jý sal 'n toevlug soek teen die vyand. Al jou vestings is vyebome met voorvye: as 'n mens skud, val hulle in die mond van die eter.   NAHUM 3:11-12 AFR53


Nahum sê die soldate van Nineve is so swak soos vroue, hul vyande kan gemaklik deur die poorte inkom, met die gevolg dat hulle deur vuur verteer gaan word. Stoor water en versterk julle vestings deur ekstra stene te maak.


Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer. Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm.   NAHUM 3:13-14 AFR53


Nahum waarsku nogmaals dat vuur hulle sal verteer en die geskiedenis toon dat dit wel gebeur het. Hy sê ook dat al maak hulle hul weermag hoe groot, hulle gaan nog steeds vernietig word.


Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou verslind net soos voetgangersprinkane. Al vermenigvuldig jy soos voetgangers, al vermenigvuldig jy soos treksprinkane; al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel — die voetgangers vervel en vlieg weg! Jou wagters is soos treksprinkane, en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op 'n koue dag op die heining sit — die son breek deur, en hulle vlieg weg, en niemand weet waar hulle beland het nie.   NAHUM 3:15-17 AFR53


Die Assiriese koning word laaste aangespreek. Terwyl dit in vorige gedeeltes geïmpliseer is, is hier 'n direkte verklaring aan hom. Die edeles en leiers is dood, die bevolking word verstrooi en vermoor. Nineve het 'n dodelike wond wat nie reggemaak kan word nie - en almal rondom klap hande in goedkeuring!


Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie. Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?   NAHUM 3:18-19 AFR53


 

26 Maart 2024


OPENBARING 17:9 AFR53

Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.


Waar pas Assirië in op die wêreld tydlyn? Om dit te bepaal gaan ek na Openbaring toe. Die sewe koppe van die dier is sewe berge. Hierdie is regerings wat oor die hele wêreld van hul tyd geregeer het en word as volg geidentifiseer.


1.  Egipte

Die eerste groot regering van die Ou Testament is die Egiptenare wat God se volk vir 400 jaar onderdruk het. - Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.   GÉNESIS 15:13 AFR53


2.  Assirië

Die Noordelike koninkryk van Israel regeer van 931 BC tot 722 BC. In al die tyd het die mense hul rug op God gekeer en as straf is hulle in twee sarsies deur Assirië aangeval en as  krygsgevangenes wegvoer. - In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.   II KONINGS 17:6 AFR53


Daniel moet Nebukadneser se droom uitlê en wat hy sien is die verskillende koninkryke wat van hier af gaan heers tot en met die einde van tyd. Ons begin met die eerste drie tydperke:


3.  Babilon - hoof van goud

4.  Mede & Perse - bors en arms van silwer

5.  Grieke - lendene van koper  -  Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,  DANIËL 2:32 AFR53


Die Romeinse Ryk was aan bewind toe Jesus op aarde was en is nooit deur ‘n ander regeerder oorwin nie. Die Romeinse Ryk het stil stil verdwyn maar gaan weer aan die einde van tyd ‘n gedeelde heerskappy voer (yster en klei) met die groot doel om teen God te veg by Armageddon.


6.  Rome 1 (verlede, bene van yster)

7.  Rome 2 (toekoms, voete gedeeltelik yster en gedeeltelik klei) - sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.   DANIËL 2:33 AFR53


Nou volg ‘n raaisel en die antwoord word gevind in die lys van regerings wat hier gelys is. Ek lys die regerings weer om dit maklik te maak - En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly.  OPENBARING 17:10 AFR53


1) Egipte,

2) Assirië,

3) Babilon,

4) Mede & Perse,

5) Grieke,

6) Rome Verlede,

7) Rome Toekoms


Sewe Konings : Egipte tot Rome Toekoms (1 - 7)

Vyf het geval   : Egipte tot Grieke (1 - 5)

En een is        : Rome verlede - Verlede vir ons, huidige tyd vir Johannes (6)

Die ander het nog nie gekom nie: Rome toekoms, ons wag ook nog (7)


Wanneer hy kom, kom hy vir ‘n kort tyd : Die sewe jaar Verdrukking tydperk!


 

45 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page