top of page
  • Regina Torre

Die profete aan die heidene! Jona 1-4

Updated: Mar 18



3 Maart 2024


JONA 1:2 AFR53

Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.


Drie Ou Testament profete het profesië uitgespreek oor die heidene. Die profete was Jona, Nahum en Obadja.


Jona se taak was om in 759 v.C ‘n waarskuwing aan die koning van Nineve te gegee om te bekeer binne veertig dae, of vernietiging in die gesig te staar.


En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.   JONA 3:4 AFR53


Die Assiriërs is toe gespaar om 37 jaar later, in 722 v.C. deur God gebruik te word om die Noordelike Koninkryk te vernietig.


“In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.”   II KONINGS 17:6 AFR53


Dertien jaar later, in 709 v.C., wil Sanherib die koning van Assirië, die suidelike Koninkryk of Juda inval. Dit is beslis nie deel van God se plan nie en in die nag trek ‘n engel van die Here uit en verslaan honderd vyf en tagtigduisend man.


En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!   II KONINGS 19:35 AFR53


Dit was nog nie die einde van die Assiriërs nie, maar hulle is wel gestop om vêrdere skade aan God se volk te doen.


Die tweede profeet Nahum, gee in 663 v.C. ‘n profesie oor die vernietiging van Assirië. Die onderwerp van hierdie profesie is die finale vernietiging van Nineve, die hoofstad van die groot en, op daardie tydstip, florerende Assiriese ryk. Die profesie oor die vernietiging van die stad is merkwaardig vervul in 612 v.C. toe Nineve klaarblyklik deur vuur vernietig is en die Assiriese ryk het teen 605 v.C. tot 'n einde gekom.


Maar die Here sal dit oor jóú verorden: Van jou naam sal daar nie meer gesaai word nie; Ek sal uit die huis van jou god uitroei die gesnede en die gegote beelde; Ek sal vir jou 'n graf maak, want jy is te lig bevind.   NAHUM 1:14 AFR53


Die derde profeet, Obadja, se profesie is uitgespreek oor Edom.


Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.   OBÁDJA 1:15 AFR53


Edom se verhaal begin met Rebekka toe tweeling seuns, Esau en Jakob gebore is, en dit gaan eindig met Jesus se tweede koms wanneer Hy terug kom om Edom te vernietig.


Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.   JESAJA 63:1 AFR53


 

4 Maart 2024


I KORINTHIËRS 15:3-4 AFR53

Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;


Na watter Skrifte verwys Paulus in hierdie vers met betrekking tot die derde dag. Daar is ‘n hele paar, maar die bekendste een is Abraham wat Isak moet offer.


God sê vir Abraham om sy seun Isak na die land Moria te neem waar hy sy seun as ‘n offer moet gee.


Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.   GÉNESIS 22:2 AFR53


Vroeg die volgende oggend het Abraham sy donkie opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saamgeneem. Hy het hout gekap vir die brandoffer en begin met sy reis na die plek wat God vir hom aangewys het. Op die derde dag het Abraham opgekyk en die plek in die verte gesien.


Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af. En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.   GÉNESIS 22:4-5 AFR53


Isak sien geen dier vir die offer nie, en vra vir Abraham waar die offer is.


En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.   GÉNESIS 22:8 AFR53


Abraham was vasbeslote om Isak te offer. Hy het God se belofte van ‘n nageslag gehad en gereken dat as hy Isak offer, dan sal God hom weer uit die dode opwek.


aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek;   HEBREËRS 11:18 AFR53


In plaas daarvan om die offer van Isak toe te laat, gryp God in en beveel Abraham om 'n ram in die plek van sy seun te offer. Isak is verlos, en hy wat so goed as dood was, is ‘opgewek’ en op die derde dag aan sy vader teruggegee. Die drie dae beeld in hierdie gebeurtenis is 'n vooruitsig op die offer en opstanding van Isak se afstammeling, Jesus die Messias.


Die ander bekende skrif is Jona wat drie dae en drie nagte in die walvis se ingewande deurgebring het.


En die Here het 'n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.   JONA 1:17 AFR53


Jona is op die derde dag deur die vis uitgespoeg uit sy ingewande uit. Jesus het op die derde dag uit die dode opgestaan.


En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,   LUKAS 24:46 AFR53


 

5 Maart 2024


MATTHÉÜS 12:39 AFR53

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.


Hierdie gesprek van Jesus vind plaas nadat Hy vele wonderwerke gedoen het, en wat deur baie mense gesien is. Jesus het pas 'n groot wonderwerk in die Fariseërs se teenwoordigheid gedoen deur 'n dowe man te genees wat van 'n demoon besete was. Eerder as om te glo, het hulle Jesus daarvan beskuldig dat hy die wonderwerk deur die mag van Satan gedoen het.


Jesus het die hardheid van hul harte gesien en geweier om hulle verdere bewyse van Sy identiteit te gee. Hy het egter gesê dat daar nog een teken sou wees, Sy opstanding uit die dood. Dit sou hul laaste geleentheid wees om oortuig te word.


Jesus sê Jona se ondervinding in die vis sal dien as 'n prentjie of 'n teken van iets wat Hy in Sy bediening sou doen. Spesifiek sê Jesus dat Hy drie dae en drie nagte in die hart van die aarde sal deurbring. Met ander woorde, die teken van Jona verwys na die dood en opstanding van die Messias.


Jona is vir dood gelaat, maar na drie dae het hy weer die aarde bewandel, en so sal dit vir Jesus wees. Jesus sal ook sterf en weer opgewek word en die aarde bewandel. Die opstanding is die enigste oorblywende teken wat Jesus aan Israel sal gee as bewys dat Hy hulle Messias is.


Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.   MATTHÉÜS 12:40 AFR53


Jesus se vergelyking van die Fariseërs met die mense van Nineve is veelseggend. Die mense van Nineve het berou gehad oor hull bose weë nadat hulle Jona se oproep tot bekering gehoor het, terwyl die Fariseërs in hul ongeloof voortgegaan het ondanks die feit dat hulle ooggetuies was van die wonderwerke van Jesus.


Interessant genoeg, vanaf die tyd van Jona se prediking, het die mense van Nineve 40 dae gehad om hulle te bekeer. Hulle het bekeer en hul stad is nie vernietig nie.

Aan die ander kant het die mense van Jerusalem 40 jaar gehad om te bekeer vanaf Jesus se bediening begin het, maar hulle het hul nie bekeer nie, en Jerusalem is vernietig in 70 n.C.


Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!   MATTHÉÜS 12:41 AFR53


Sommige sal dit glo, en diegene wat dit doen, sal gered word. Trouens, om in die teken van Jona te glo, het die middel van persoonlike redding vir almal geword.


Onthou Paulus se lering in Romeine.


As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;   ROMEINE 10:9 AFR53


 

6 Maart 2024


JOHANNES 7:52 AFR53

Hulle antwoord en sê vir hom: Jy is tog nie ook uit Galiléa nie? Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galiléa opgestaan het nie.


Die Fariseërs is woedend want die offisiere wat hulle gestuur het om Jesus gevange te neem, is terug sonder Hom. Op die Fariseërs se vraag oor hoekom is hul antwoord dat hulle nog nooit iemand so goed hoor praat het nie. Die Fariseërs kan nie glo hulle word so teengestaan nie.


Een van hulle eie, Nikodemus, wys hul egter daarop dat Jesus 'n regverdige verhoor gegun moet word voordat hy as 'n bedrieër uitgemaak word. Eerder as om hulle eie wet te aanvaar, wat juis daardie eis stel, draai die ander Fariseërs teen Nikodemus.


Dit is waar vandag se vers inkom toe die Fariseërs baie neerhalend vir Nikodemus vra of hy dan nie ook uit Galilea afkomstig is nie.


Die profeet Jona, seun van Amittai was afkomstig uit Gat-Gefer in Galilea. Jesus se tuisdorp Nasaret was slegs 3 km suid van Gat-Gefer waar Jona gebore is. Interessant om op te merk dat die Fariseërs nie rekening gehou het met die feit dat Jona dus ‘n profeet uit Galilea was nie.


Jona was ‘n tydgenoot van Jesaja, Hosea, Amos en Miga en hy versag die boodskap van oordeel oor die heiden nasies. Teen sy sin verkondig hy die ontferming van God oor diegene wat hulle tot Hom bekeer. Daarmee word God se oordeel en genade weereens as ‘n integrale deel van Sy nabye verhouding met mense en ook selfs die natuur uitgespel.


Die profeet Jona se onwilligheid om aanvanklik die opdrag as profeet van Nineve te aanvaar, en sy latere weerstand teen God se ontferming oor die stad, sy mense en sy diere, kan moontlik verklaar word dat hy Israel, sy land, patrioties bo ander nasies gestel het.


Ons lei dit af uit 2 Konings waar dit duidelik is dat Jona geprofeteer het – in opdrag van God – dat die grense van Israel herstel sal word as deel van God se ontferming oor die ellende van Israel in die tyd van Jerobeam II, hoewel dit nie die uiteindelike ballingskap in 722 v.C. kon voorkom nie.


Hý het die grondgebied van Israel herower van die ingang na Hamat af tot by die see van die Vlakte, volgens die woord van die Here, die God van Israel, wat Hy gespreek het deur die diens van sy dienskneg Jona, die seun van Amíttai, die profeet, wat uit Gat-Hefer was.   II KONINGS 14:25 AFR53


Jona het gevrees dat hy gebruik sou word om die vyand te help wat later sy eie nasie sou vernietig.


Sommige Joodse geleerdes vind dit vreemd dat die boek Jona deel is van die Skrifte aangesien die enigste profesie daarin slegs die heidense stad Nineve aanraak. Geen melding word van Israel gemaak, soos al die ander profete doen nie.


Die rede is moontlik dat 'n stilswyende teregwysing teen Israel uitgespreek word. 'n Heidense volk was gereed om te bekeer by die eerste aanhoor van die profeet Jona, ‘n vreemdeling vir hulle. Maar Israel, wat gespog het dat hulle God se uitverkorenes was, het geen berou gehad nie, alhoewel hulle deur hul eie profete male sonder tal gewaarsku is.


 

7 Maart 2024


JONA 1:1 AFR53

En die woord van die Here het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê:


Die woord van God kom tot Jona, met ander woorde, God het met Jona gepraat om vir hom ‘n opdrag te gee.


Jona word beskryf as die seun van Amittai, wie se naam ‘opreg’ beteken - 'n man waarvan ons niks meer weet nie. Die feit dat Jona se pa in die verhaal genoem word, is belangrik, want dit gee gewig aan die feit dat die verhaal van Jona ‘n letterlike, historiese feit is.


Nineve was die laaste hoofstad van die Assiriese koninkryk en was gebou op ongeveer 1800 hektaar langs die oostelike oewer van die Tigris-rivier in Mesopotamië. Vandag kan jy ​​die ruïnes van Nineve sien oorkant Mosoel in die huidige Irak.


Nineve se geskiedenis gaan terug na die dae na die vloed. Die stad was gestig deur die eerste groot stadsbouer Nimrod wat ook Babel gebou het. Die stad was omring deur 'n groot versterkte muur vir beskerming wat 30 meter hoog en 15 meter dik was, en het 1200 torings gehad wat elkeen 60 meter hoog was. Ongeveer 600 000 mense het in die stad gewoon, met landerye binne die stadsmure wat hul selfversorgend gemaak het.


Nineve was welbekend vir die wrede gruweldade wat hulle aan hul oorlogsgevangenes toegedien het. Die Assiriese koning het erken dat sy volk se weë boos was en gekenmerk deur geweld, en dat hulle sorgvry was en gedink het dat hulle onoorwinlik was.


Nineve se geskiedenis as 'n nasie wat afgode aanbid en 'n vyand van God se volk was, was die rede vir God se opdrag aan Jona. Jona hoor van God dat hy moet opstaan ​​en teen Nineve gaan preek oor hul boosheid.


Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.   JONA 1:2 AFR53


Dit is God se patroon met al sy profete.


God se roep aan Jesaja - Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.   JESAJA 6:8 AFR53


God se roep aan Esegiël - En Hy het vir my gesê: Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek. En die Gees het in my gekom sodra Hy met my gespreek het, en my op my voete laat staan; en ek het Hom gehoor wat met my gespreek het.   ESÉGIËL 2:1-2 AFR53


God se roep aan Jeremia - Die woord van die Here het dan tot my gekom en gesê: Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.   JEREMIA 1:4-5 AFR53


 

8 Maart 2024


JONA 1:3 AFR53

Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die Here af weg; en hy het na Jafo afgegaan en 'n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die Here af.


Wat doen Jona nadat God met hom gepraat het? Hy vlug! Jona spring op en vertrek na Jafo (of  Joppe - Afr 83) om 'n skip te vind wat na Tarsis sou reis. Om ten volle te waardeer wat Jona hier gedoen het, is die kaart hierby insiggewend. Jona kies om so ver moontlik in die teenoorgestelde rigting van Nineve te vlug.



Tarsis is die naam vir verskeie antieke stede, maar die stad waarvan hier gepraat word is heel waarskynlik in die omgewing van die huidige Spanje. 'n Plek so ver van Israel af as wat enige mens op daardie dag kon reis.


In die eerste drie verse sien ons verskeie kontraste:


- Die woord van God kom tot Jona, maar Jona gaan weg van God se teenwoordigheid.

- God stuur Jona oos, maar Jona gaan wes.

- God stuur Jona, maar Jona vlug.

- God sê vir Jona staan op (dws maak klaar), maar Jona gaan af na Joppe, en af in die skip.


Die hoofpersoon in die verhaal is God, en nie Jona nie. Om Sy doel te bereik, het God verskeie gebeurtenisse wat in die boek opgeteken is, soewerein beheer. God het Jona se rebellie oorwin en die mense van Nineve se harte is geopen. Nou gaan God wonderbaarlik die rigting van Jona se reisplan verander.


Maar die Here het 'n sterk wind op die see gewerp, en toe daar 'n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly.   JONA 1:4 AFR53


Die gesoute seevaarders was bang, so ons kan aanvaar dat dit nie 'n normale storm was wat hulle getref het nie. Die seevaarders roep elkeen tot sy eie god vir hulp en hulle maak die skip ligter deur dit wat hulle vervoer het oorboord te gooi.


Jona is egter salig onbewus van wat gebeur want hy het besluit om in die heel onderste dele van die skip te gaan slaap.


Toe word die seeliede bang — hulle het elkeen tot sy god geroep en die lading wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting aan te bring. Maar Jona het na die onderste dele van die skip afgeklim en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak.   JONA 1:5 AFR53


Die skeepskaptein gaan na Jona en het sekerlik nie met ‘n rustige en mooi toon met hom gepraat nie. Hy vra hom wat hom makeer dat hy so vas slaap! Staan op en doen iets nuttigs. Bid vir jou God, want miskien sal jou God ons kan help sodat almal nie vergaan nie. ’n Heidense skeepskaptein moes Jona tot gebed roep!


Daarop kom die skeepskaptein na hom toe aan en sê vir hom: Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie.   JONA 1:6 AFR53


 

9 Maart 2024


JONA 1:7 AFR53

Hulle sê toe vir mekaar: Kom en laat ons loot; dan sal ons weet om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het. En hulle het geloot, en die lot het op Jona geval.


Die matrose op die skip trek lootjies om te bepaal watter persoon hierdie ramp veroorsaak het, en die loot val op Jona. Omdat ons die storie van Jona ken, weet ons dat die regte persoon hier uitgewys word.


Die matrose neem Jona onder kruisverhoor en wil weet wie hy is, wat is sy werk, waar kom hy vandaan en uit watter volk is hy en die belangrikste vraag van almal, wat het hy verkeerd gedoen.


En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?   JONA 1:8 AFR53


Alhoewel Jona aan God ongehoorsaam was, het hy ten minste die teenwoordigheid van gees om nou die waarheid te praat. Hy besef moontlik nou, wat hy nog heeltyd geweet het - dat hy nie van God kan weghardloop nie. Sy antwoord is sonder vrees dat hy ‘n Hebreër is wat God vrees. Die God van die hemel wat die see en die droeë land gemaak het, in kontras met die matrose se verskillende vals gode.


En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die Here, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.   JONA 1:9 AFR53


Die matrose is nou bang want hulle besef dat Jona se God hierdie storm oor hulle gebring het omdat Jona van Hom wou vlug.


Hulle roep in afgryse uit oor Jona se ongehoorsaamheid aan sy God. Dis asof die matrose, meer as hy, die erns van die saak insien. Dit kom vir hulle vreemd voor dat hy beweer om sy God te aanbid en terselfde tyd nie sy God gehoorsaam nie.


Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die Here af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.   JONA 1:10 AFR53


Die see bedaar nie, maar word net erger. Die vreesbevange matrose vra nou vir Jona wat hulle met hom moet doen sodat die see weer rustig kan word.


Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.   JONA 1:11 AFR53


Jona is duidelik nie bang nie en sê dat hulle hom oorboord moet gooi, want slegs dit sal die see bedaar.


En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.   JONA 1:12 AFR53


Die matrose probeer roei om die skip strand toe te stuur, maar niks help nie, die see word net al hoe onstuimiger.


Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.   JONA 1:13 AFR53


 

10 Maart 2024


JONA 1:14 AFR53

Toe roep hulle tot die Here en sê: Ag, Here, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, Here, het gedoen na u welbehae.


Die matrose roep tot God want hulle het gevrees dat hulle vir moord aanspreeklik gehou sou word. Dit kontrasteer skerp met Jona se gebrek aan deernis met die mense van Nineve. Tog het die matrose as heidene, wat nie die Wet van God gehad het nie, instinktief die waarde van 'n menselewe besef en gepleit vir Sy genade oor hulle omdat hulle 'n onskuldige man ‘doodgemaak’ het. Deur hulle woorde het die matrose God se goddelike soewereiniteit en voorsienigheid erken in die storm waarin hulle nou is en in die werp van die lot wat Jona uitgewys het.


Jona word toe oorboord gegooi en die see word stil!


En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid.   JONA 1:15 AFR53


Die skielike kalmte was 'n antwoord op die matrose se gebede. Heeltemal verbaas oor die skielike kalmte, bring hulle 'n offer aan Israel se God en belowe om voort te gaan met hul lof. Weereens word die matrose in kontras met hul voormalige passasier gesien. Terwyl Jona aan God ongehoorsaam was, het hulle geloftes gemaak en Hom geprys!


Toe het die manne die Here gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die Here gebring en geloftes gedoen.   JONA 1:16 AFR53


God stuur ‘n groot vis om Jona in te sluk, en Jona is drie dae en drie nagte binne die ingewande van die vis.


En die Here het 'n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.   JONA 1:17 AFR53


Jesus self getuig van hierdie werklikheid as 'n profesie van Sy eie volharding namens ons.


Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.   MATTHÉÜS 12:40 AFR53


Die struktuur van hoofstuk 1 is in die vorm van ‘n chiasma.  'n Chiasma is 'n literêre instrument waarin 'n reeks idees aangebied word en dan in omgekeerde volgorde herhaal word.


Storm steek op en laat matrose bang word (vers 4-5a)

Matrose bid tot hulle eie gode (vers 5a)

Matrose probeer die skip red (vers 5b,6a)

Gesprek tussen matrose en Jona (vers 7-8)

Jona bely sy geloof en spreek sy vrees vir die Here uit (vers 9)

Gesprek tussen matrose en Jona (vers 10-12)

Matrose probeer die skip red (vers 13)

Matrose bid tot God (ver 14)

Storm bedaar en laat die matrose die Here vrees (vers 15-16)


 

11 Maart 2024


JONA 2:1 AFR53

En Jona het tot die Here sy God gebid uit die ingewande van die vis.


Jona is in die vis se ingewande en hy bid! Jona bid benoud uit die binneste van die doderyk, en God het hom gehoor!


en gesê: Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp — U het my stem gehoor.   JONA 2:2 AFR53


Wat word bedoel met die doderyk, wat beteken die woord en waar presies is Jona. Die Bybel gee verskillende terme vir die hel of die doderyk en ons kyk vandag na die terme: sheol, hades, die boesem van Abraham, gehenna, tartarus en abousso.


Die woord doderyk is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord sheol wat meestal in die Ou Testament gebruik word. Die Griekse vertaling van doderyk is hades, en word in die Nuwe Testament gebruik.


In die boek Lukas vertel Jesus die gelykenis van die ryk man en Lasarus wat elkeen sterf en in die doderyk is. Die ryk man beleef smarte terwyl Lazarus aan die boesem van Abraham is. Twee verskillende plekke waar hulle mekaar kan sien, maar wat geskei word met ‘n groot onoorkombare kloof.


En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.   LUKAS 16:26 AFR53


Gehenna was oorspronklik die Vallei van Hinnom, suid van Jerusalem, waar die vullis en dooie diere van die stad uitgegooi en verbrand is. Die Hinnom-vallei het daarna die stadshoop geword waar die vuur voortdurend gebrand het. Dit het 'n idioom geword om te praat van die plek van ewige vuur en brand. Die hel is die plek van die toekomstige straf genaamd gehenna of soos in Openbaring genoem word, die poel van vuur.


En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.   OPENBARING 20:14 AFR53


Die doderyk/sheol/hades is slegs ‘n tydelike ‘blyplek’ vir die siele van goed en sleg, waar gehenna die ewige huisvesting gaan wees vir die siele van ongelowiges.


Tartarus verwys na die hel, maar dié spesifieke plek is net vir die engele wat gesondig het in Genesis 6.


Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; II PETRUS 2:4 AFR53


Abousso verwys na die bodemlose put, of die afgrond waaruit die Dier van Openbaring kom, en waar Satan vir 1 000 jaar gebind sal wees.


Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom ……..   OPENBARING 17:8 AFR53


en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.   OPENBARING 20:3 AFR53


 

12 Maart 2024


FILIPPENSE 1:21 AFR53

Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.


Vir die Christen beteken die dood om by die Here teenwoordig te wees.


Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.   II KORINTHIËRS 5:1 AFR53


Maar, vir die ongelowige beteken die dood om van God se teenwoordigheid geskei te wees, en dit lei tot 'n gemartelde toestand.


Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte,   II THESSALONICENSE 1:9 AFR53


Die ryk man in die doderyk of hades was by sy volle bewussyn. Hy het onthou, gepraat, het pyn gevoel en begeertes gehad.


En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.   LUKAS 16:23-24 AFR53


Sy ewige lot was onherroeplik vasgestel. Hy het geweet dat wat hy ervaar regverdig was. Hy het ook geweet wat sy broers moes doen om sy eie lot te vermy, hulle moes bekeer.


En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.   LUKAS 16:27-28 AFR53


Die ryk man is steeds vandag nog nie in die hel of gehenna nie, maar net in hades. Die siele van die ongelowiges sal aan die einde van die duisend jaar vrederyk, voor die groot wit troon geoordeel word, en dan in die poel van vuur gewerp word.


En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.   OPENBARING 20:11 AFR53


Teoloë glo dat Abraham se boesem na Jesus se kruisiging en opstanding ontruim is en saam met Jesus na die hemel geneem is. Dit beteken dat die siele van gelowiges na Jesus se kruising ook direk hemel toe gaan.


Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring.   EFÉSIËRS 4:8-10 AFR53


 

13 Maart 2024


JONA 2:3 AFR53

U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat 'n stroom my omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.


Jona is besig om tot God te bid en hy beskryf sy gevaar en nood. Jona was ‘n man wat die Woord geken het en sy gebed bevat baie frases en beelde uit die Psalms.


Vers 3 kom uit Psalm 42 - Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.  PSALMS 42:8 AFR53


Tog het Jona die versekering dat God hom gaan red en dat hy weer die heilige tempel sal kan aanskou.


Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige tempel aanskou.   JONA 2:4 AFR53


Jona haal aan uit Psalm 31 - Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.   PSALMS 31:23 AFR53


Vers 5 word geneem uit Psalm 62. - Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom. PSALMS 69:2 AFR53


Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, Here my God!   JONA 2:5-6 AFR53


Vers 7 word aangehaal uit Psalm 142 - As my gees in my versmag, dan ken Ú my pad. Op die pad wat ek moet gaan, het hulle 'n vangnet vir my gespan.  PSALMS 142:4 AFR53


Toe my siel in my versmag het, het ek aan die Here gedink; en my gebed het tot by U gekom in u heilige tempel.  JONA 2:7 AFR53


Die wat nietige gode aanbid, verlaat God - Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die Here.   PSALMS 31:7 AFR53


Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is.   JONA 2:8 AFR53


Jona sluit sy gebed af deur God in danksegging te loof - Ek sal U 'n offer van danksegging bring en die Naam van die Here aanroep. Ek sal my geloftes aan die Here betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk,  PSALMS 116:17-18 AFR53


Ek daarenteen sal aan U offer met 'n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek betaal. Die heil behoort aan die Here.   JONA 2:9 AFR53


God het Jona se gebed gehoor en verhoor en die vis beveel om hom op droë grond uit te spoeg.


Daarop het die Here die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spuug.   JONA 2:10 AFR53


 

14 Maart 2024


JONA 3:1 AFR53

En die woord van die Here het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê:


God praat nou vir ‘n tweede keer met Jona om vir hom dieselfde opdrag te gee. In hoofstuk 1 het God Jona beveel om klaar te maak en TEEN Nineve te spreek.


Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig. JONA 1:2 AFR53


Nou egter sê God dat Jona moet klaarmaak en Sy boodskap AAN die mense van Nineve moet verkondig.


Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.   JONA 3:2 AFR53


Jona huiwer nie hierdie keer nie, hy maak hom klaar en gaan na Nineve. Ons het reeds gesien dat die stad Nineve ontsaglik groot was. Dit sou Jona drie dae neem om deur die stad te stap.


Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé volgens die woord van die Here. En Ninevé was 'n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.   JONA 3:3 AFR53


Jona begin met sy eerste dag se reis in die stad en sy boodskap aan die mense is: nog veertig dae, dan word Nineve verwoes!


En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.   JONA 3:4 AFR53


Veertig dae is nie ‘n onbekende verskynsel in die Bybel nie. Hier is ‘n lys van ander veertig dae!


Die vloed - En die vloed was veertig dae lank op die aarde: die waters het vermeerder en die ark opgehef, sodat dit opgerys het bo die aarde.   GÉNESIS 7:17 AFR53


Moses op die berg - En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.   EXODUS 24:18 AFR53


IIsrael se omswerwinge - En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is. Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word.   NÚMERI 14:33-34 AFR53


Elia vlug na Horeb - Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.   I KONINGS 19:8 AFR53


Versoeking van Christus - Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.   MATTHÉÜS 4:1-2 AFR53


 

15 Maart 2024


JONA 3:5 AFR53

En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee.


Die heidene in Nineve het God geglo en ‘n vasdag uitgeroep. Ons sien beslis hier die kontras tussen die heidene en die Jode.  Die Jode was gedurig traag om die profetiese waarskuwings van hul eie profete te glo, maar die heidene hoor een waarskuwing van ‘n vyandige volk se profeet en hulle vas en glo onmiddelik.


Jona stap deur Nineve en verkondig hul vernietiging, en so ver hy gaan word ‘n vasdag uitgeroep. Toe Jona se woorde hul koning bereik het ook hy sy koninklike mantel afgehaal, ‘n rougewaad aangetrek en in as gaan sit.


En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit.   JONA 3:6 AFR53


Die koning proklameer dat mens en dier moet vas. Geen mens of dier mag enige kos proe of ‘n slukkie water neem nie.


En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne — geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie;   JONA 3:7 AFR53


Die koning se promlamasie sê vêrder dat almal ‘n rougewaad moet dra, mens en dier. Die perde en donkies wat soms kleurvol versier is, moet nou in rougewaad gesien word. Elkeen persoon moet ook bekeer van hul verkeerde weë en van enige onreg wat hul gedoen het.


maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep, en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef.   JONA 3:8 AFR53


Die mense van Nineve besluit om te vas en te bid en te bekeer van hul verkeerde weë want daar is ‘n moontlikheid dat God berou kan he en besluit om hulle nie te verwoes nie.


Alhoewel Jona geen opdrag gehad het om hulle 'n verlossing te belowe nie, is dit tog baie asof hy aan hulle die barmhartige en genadige natuur van sy God bekend gemaak het.


Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?   JONA 3:9 AFR53


Deur die vrugte van hul werke het God gesien dat die mense van Nineve bekeer het van hul verkeerde weë, en Hy het die hele stad gespaar van verderf.


En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.   JONA 3:10 AFR53


God het niks met Nineve gedoen wat Hy nie vir enige volk sal doen wat berou het en bekeer en wegdraai van hul slegte weë nie. Wat vir Israel beloof is geld vir elke volk wat na God wil draai.


As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.   II KRONIEKE 7:13-14 AFR53


 

16 Maart 2024


JONA 4:1 AFR53

Maar Jona was hieroor erg ontstemd, en hy het kwaad geword.


Jona is ontstuimig woedend, bedroef, onsteld en geïrriteerd. Dit grief hom dat Nineve se mense gespaar is.


Ons weet nie op watter stadium en hoe Jona die nuus ontvang het nie, maar moontlik voor die veertig dae verstryk het. Amos leer ons dat God niks doen sonder om Sy raadsbesluite aan Sy knegte, die profete, te openbaar nie,


Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.   AMOS 3:7 AFR53


Jona praat met God en sê hy het geweet dit gaan so uitwerk, en dit is hoekom hy in die eerste plek weggevlug het. Jona is so ontsteld dat hy eerder wil doodgaan.


Toe bid hy tot die Here en sê: Ag, Here, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. o Here, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.   JONA 4:2-3 AFR53


God vra vir Jona om introspeksie te doen. Jona moet moet nadink of hy rede het om so vertoornd te wees.


Daarop sê die Here: Het jy rede om vertoornd te wees?   JONA 4:4 AFR53


Jona verlaat die stad en maak aan die oostekant vir hom ‘n skuiling waar hy gaan sit om te kyk wat met die stad gaan gebeur. Dit wil weereens voorkom of die veertig dae nog nie verstryk het nie. Hy sit onder die skaduwee van sy skerm en is ‘n toeskouer om te sien wat gaan gebeur.


En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar maak hy toe vir hom 'n skerm, en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat hy sou sien wat met die stad gebeur.   JONA 4:5 AFR53


God help vir Jona en laat ‘n rankplant opskiet en groei oor sy skerm om vir hom meer skaduwee te gee en hom rustig te maak en Jona was bly oor die wonderboom.


Toe beskik die Here God 'n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom.   JONA 4:6 AFR53


Maar, vroeg die volgende oggend stuur God ‘n wurm om die plant te vernietig, en na sonop stuur God ‘n gloeiende oostewind. Die son brand vir Jona, dis nie meer lekker nie, en weereens wens hy dat hy eerder dood was.


Maar God het die volgende môre toe die dag breek, 'n wurm beskik; en dié het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het. En met sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.   JONA 4:7-8 AFR53


 

17 Maart 2024


JONA 4:9 AFR53

Toe sê God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe.


Weer vra God vir Jona of hy rede het om so vertoornd te wees, en dit oor ‘n plant. Jona soos ‘n ontevrede kind antwoord dat hy wel rede het om tot die dood toe kwaad te wees.


Verder sê God vir Jona dat hy ‘n plant wil spaar waaraan hy geen insette gegee het om dit te laat groei nie, en wat sommer oornag vergaan.


Verder sê die Here: Jý wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het.   JONA 4:10 AFR53


God wys vir Jona dat sy manier van dink foutief is. Jona wil ‘n plant wat oornag vergaan red, maar God mag nie die groot stad Nineve met meer as 120,000 mense wat nie weet wat die verskil is tussen reg en verkeerd, en hul baie vee, spaar nie.


Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?   JONA 4:11 AFR53


Jona het geweet dat God 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor onheil. Maar, sy patriotisme teenoor sy volk Israel was soms groter as sy geloof in God, en daarom het hy telkemale so kwaad geword.


God se genade is vir almal besoel, goed en sleg. Elke individu moet net die keuse maak om te glo.


Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.   EFÉSIËRS 2:8-9 AFR53


Jona was die mees suksesvolle profeet in die Bybel. Hy het by Nineve, ‘n heiden stad ingegaan, vir hulle ‘n boodskap gegee dat indien hulle nie hul verkeerde weë laat staan nie, hulle binne veertig dae vernietig sou word.


Die hele stad, insluitende hul koning, het geglo en ‘n vasdag uitgeroep en rouklere aangetrek. God het hul opregtheid gesien en die stad gered.


Om af te sluit, kom ons lys die wonderwerke in die boek Jona.


1. Die storm op die see wat selfs die geharde matrose bang gemaak het.

2. Lootjies word getrek en Jona word as die skuldige uitgewys.

3. Jona word oorboord gegooi en skielik bedaar die storm.

4. Die groot vis is op die regte tyd op die regte plek om Jona in te sluk.

5. Jona word bewaar in die buik van die groot vis.

6. Jona word na drie dae en drie nagte veilig op droë land uitgespoeg.

7. Die hele stad Nineve kom tot bekering.

8. ‘n Wonderplant groei skielik oor Jona se skuiling om vir hom koelte te gee.

9. ‘n Wurm steek vroegoggend die plant, en die hele plant verdor net daar.

10. ‘n Sterk Oostewind kom op en maak die lewe vir Jona ondraaglik.


God het ‘n plan met elkeen van ons. Ons moet net beskikbaar wees en reageer wanneer ons aan die beurt kom.


Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.   JEREMIA 29:11 AFR53


 

38 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page