top of page
  • Regina Torre

Die Herfs Feeste: Inleiding & Fees van Trompette

Updated: Jan 30, 2023

Ons is besig met ‘n studie van die 7 feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Tot dusver het ons die lente feeste bestudeer en ons gaan nou na die herfs feeste kyk.


Die profesië van die lente feeste het tot vervulling gekom tydens Jesus se eerste koms. Die herfs feeste sal tot vervulling kom tydens Jesus se tweede koms.


“Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.” LEVÍTIKUS 23:4 AFR53


Net as hersiening moet ons onthou dat alhoewel die Jode die feeste vier, is die feeste ook vir ons as Christene belangrik want soos die vers hierbo mee begin – dit is die feeste van die Here.


Hierdie feeste van die Here is ‘n kleedrepetisie vir toekomstige gebeurtenisse wat op bepaalde tye sal plaasvind.


Volgens die Midrash (betekenis volg) is die profesië van die OU Testament eerder gebaseer op ‘n patroon en nie op voorspelling nie. Die wyse waarop die feeste dus gevier word is die patroon vir die toekomstige gebeurtenis.


Midrash betekenis – ‘n Antieke kommentaar op die eerste 5 boeke (Pentateuch) van die Hebreeuse skrifte.


Voor ons enigsins vêrder gaan moet ek sê dat ons nou op kontroversiële terrein gaan beweeg want die herfs feeste gee ‘n oorsig van die eindtye, en daar is baie verskillende sienings van hoe die tye geinterpreteer moet word. Soos wyle Dr. Chuck Missler altyd gesê het, moenie alles glo wat ek hier skryf nie, doen jou eie navorsing deur die Bybel te ondersoek of hierdie dinge wel so is. Wees soos die mense van Beréa van wie hier in die boek Handelinge geskryf word.


“Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” HANDELINGE 17:10-11 AFR53


Twee van die eindtyd sienings is as volg. Die een groep interpreteer die boek Openbaring d.m.v.  allegorië of metafore. Ek gee hier die betekenis van die woorde.


‘n Allegorie in letterkunde is ‘n metafoor wat deur die hele gedig, verhaal of boek volgehou word.


‘n Metafoor (meervoud: metafore) is ‘n oordragtelike, figuurlike uitdrukking wat op ‘n vergelyking, ooreenkoms berus, die beeld in die plek van die eindelike


‘n Ander groep (die een wat ek ondersteun) interpreteer die boek Openbaring en die eindtyd profesië as letterlike gebeure.


Daar is natuurlik meer sieninge, maar ter verduideliking kyk ons na die twee. Kom ons neem ‘n voorbeeld om die verskil tussen bogenoemde te verduidelik.


Wie is die 144,000 waarvan ons lees in Openbaring 7:4-8


“En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel — uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.” OPENBARING 7:4-8 AFR53


Allegories – simbolies word die 144,000 gesien as die verteenwoordigers van die kerk. Die getal 144,000 is simbolies van voltalligheid m.a.w. die hele kerk.


Letterlik – die 144,000 is 12,000 Joodse mans uit elk van die 12 stamme van Israel. As ons die berekening doen: 12,000 x 12 = 144,000.


Om sake vêrder te kompliseer gaan ek julle ook voorstel aan die volgende konsepte wat ook opskudding veroorsaak, naamlik:

  • Wegraping / Rapture

  • God is nog nie klaar met die Jode nie, en ek gaan vir julle wys hoekom die Christene nie die Jode vervang nie. Hoekom vervangingsteologie / replacement theology verkeerd is.

  • Hoe werk ons uit dat die verdrukking 7 jaar gaan wees.

  • Duisendjarige vrederyk / Millenium

Die herfs feeste wat ons nou gaan behandel is op die volgende Joodse kalender dae.

  • Tishri 1 – Fees van Trompette / Feasts of Trumpets / Yom Teruah

  • Tishri 10 – Dag van Versoening / Day of Atonement / Yom Kippur

  • Tishri 15 – Hutte fees / Feast of Tabernacles / Sukkot

Die Joodse Nuwejaar (Rosh Hashana), en die Fees van Trompette (Yom Teruah) word gevier op Tishri 1 en 2 (sononder 9/9/18 tot sononder 11/9/18). Die tweede dag is bygevoeg vir die mense buite Israel. Tishri is die eerste maand van die Joodse administratiewe jaar en is dan ook die Joodse Nuwejaar. Ons konsentreer op die Joodse godsdienstige jaar waar Tishri die sewende maand is.


Die 10 dae tussen die Fees van Trompette en die Dag van Versoening is “Yamim Noraim, die Dae van Verdrukking. (Days of Awe)


Die volgende feesdag is die Dag van Versoening, op Tishri 10 (sononder 18/9/18 tot sononder 19/9/18), en is die mees somber dag van die Joodse kalender. Selfs Jode wat nie aandag aan enige van die vorige feeste gegee het nie, sal die dag Yom Kippur as ‘n feesdag vier om seker te maak dat hul verhouding met God reg is.


Yom Kippur is Israel se nasionale dag van versoening. Die Jode poog om beide as individue en as volk terug te keer tot God.


Vyf dae na die Dag van Versoening sien ‘n mens die tydelike hutte van die Hutte fees (Sukkot) wat orals opgerig word op balkonne, agterplase, en huise se dakke. Die fees word gevier op Tishri 15 (sononder 23/9/18 tot sononder 30/9/18) en is ‘n herinnering aan die tydelike verblyf wat hul voorvaarders opgerig het tydens hul 40 jaar in die woestyn na die uittog uit Egipte.


As ons in ag neem dat die eerste vier feeste elkeen tot in die kleinste detail, letterlik tot vervulling gekom het, kan ons sonder om te skroom aanneem dat die laaste drie feeste ook tot op die letter tot vervulling gaan kom.


Alles wat geskryf is in die Torah / Pentateuch / vyf boeke van Moses, het beide ‘n geskiedkundige en profetiese betekenis en verdien om deeglik ondersoek te word. Jesus sê vir ons in Mattheus:


“MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” MATTHÉÜS 5:17-18 AFR53


Paulus sê ook in Romeine:

“Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” ROMEINE 15:4 AFR53

Die Fees van Trompette

Die eerste van die herfs feeste word in Levitikus en Numeri vir ons gegee.


“Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ’n rusdag wees, ’n gedenkdag deur basuin geklank, ’n heilige vierdag. Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan die Here ’n vuuroffer bring.” LEVÍTIKUS 23:24-25 AFR53


“En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ’n dag van trompet geklank wees.” NÚMERI 29:1 AFR53


Die Joodse naam vir die fees is Yom Teruah en word op Tishri 1 gehou. Yom beteken dag en Teruah beteken om ‘n harde klank te maak.


Die shofar of ramshoring is in die OU Testament gebruik om die basuin klanke te maak en vorm ‘n belangrike deel van die fees. Die volgende tien dae tot en met die volgende fees is ‘n tydperk van diep nadenke en berou.


Die kerkdiens wat op Yom Teruah gehou word, het drie temas:

  • Koningskap

  • Om te onthou

  • Ramshorings

Koningskap plaas klem op God se majesteit, en Sy posisie as Koning van die heelal.


“Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”

ROMEINE 14:11-12 AFR53


Om te onthou – Die volk vra God om Sy verbond met Israel te onthou.


“Hy, die Here, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele. Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte — die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.” PSALMS 105:7-11 AFR53

Ramshorings – God het Homself op die berg Sinai aan die volk te kenne gegee met die klank van die ramshoring.


“En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ’n swaar wolk op die berg en die geluid van ’n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in ’n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe. Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord.” EXODUS 19:16-19 AFR53


Na elkeen van die drie seënbede word die ramshorings geblaas in die volgende volgorde

– 1 lang klank, 3 kort klanke, 9 staccato klanke en 1 finale lang blaas. Hier volg ‘n verduideliking van die klanke.


Teki’ah  ‘n Lang deurlopende klank – Roep jou om te ontwaak uit jou slaap en om te juig voor God met trompet geklank.


Shevarim 3 kort huilende klanke – Die gebroke note dui die hartseer aan wat sonde in ons lewens meebring, en roep ons om terug te keer na God.


Teru’ah 9 vinnige staccato note wat op mekaar volg – ‘n Alarm wat ons waarsku om gou gereed te maak, bekeer jouself, want Jesus kom op ‘n uur wat niemand verwag nie!


Teki’ah gedolah  Die laaste noot word so lank geblaas as wat die blaser asem het.  – Die noot is ‘n aanduiding van oorwinning, en dit is die laaste basuin waarna Paulus verwys in die volgende verse waar hy die mense van Korinte en Thessalonika onderrig.


Die ramshoring is in die tyd van die OU Testament geblaas vir verskeie redes; een van die was om ‘n oorlog aan te kondig. Die Bybel vertel vir ons van ‘n tydperk wanneer die aarde deur vele rampe getref gaan word.


“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” MATTHÉÜS 24:21-22 AFR53


Ons praat hier van ‘n tydperk wat volgens Joodse tradisie die ‘Dag van die Here’ of the ‘Day of the Lord’ genoem word, en wat sal kom soos ‘n dief in die nag,


“Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.” I TESSALONISENSE 5:1-6 AFR53


Ons lees ook van ‘n tydperk genoem ‘die benoudheid van Jakob’ of ‘the time of Jacob’s trouble’. Jakob se ander naam was Israel, so die tydperk verwys na Israel en die Jode.


“Vra tog, en kyk of ’n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander? Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” JEREMIA 30:6-7 AFR53


Hier kom die oproep vir die nasie om te bekeer voor dit te laat is.


“Kom tot julleself, ja, kom tot inkeer, o nasie wat nie skaam word nie! Voordat die besluit baar — soos kaf gaan die dag verby — voordat daar oor julle kom die toorngloed van die Here, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die Here. Soek die Here, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid — miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die Here.”

SEFÁNJA 2:1-3 AFR53


Die dag wat met basuingeklank aangekondig word is tweeledig:

– vir die wat nie in God glo nie, is dit die begin van die verdrukking.

– vir die wat wel in God glo, is dit die wegraping.


“Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”

I KORINTHIËRS 15:51-52 AFR53


“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.” I TESSALONISENSE 4:13-18 AFR53


Duidelik het die mense geweet wat die laaste basuin beteken, anders sou daar verdere verduidelikings moes wees oor die dag. As ek byvoorbeeld van Kersfees praat, dan weet ons almal ek praat van 25 Desember, en dit is hoe die dag van die laaste basuin gesien moet word.


Die mense wat Paulus hier onderrig wou weet wat gebeur met hul familie en vriende wat reeds dood is. Paulus verduidelik dat hulle nie hoef te treur oor die wat reeds dood is nie. Daar gaan ‘n geslag wees wat lewe as Jesus terugkom met die laaste basuin. Die wat dood is sal eerste opstaan en dan sal ons wat nog lewe saam met die opgestanes in die wolke weggevoer word om Jesus te ontmoet.


Die Joodse huwelik seremonie gee vir ons ‘n prentjie van die wegraping. Ons gaan nou kyk na die verskillende fases van die seremonie.

  • Shiddukhin  – bymekaar bring

In die Joodse tradisie het die pa’s gewoonlik die huwelik van hul kinders gereël. Die seun se pa sou iemand uitstuur om ‘n bruid vir sy dogter te gaan soek.


“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” JOHANNES 15:16 AFR53


“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.


Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” JOHANNES 6:37, 44 AFR53

  • Mohar – bruidsprys

Die twee pa’s onderhandel oor die prys van die huwelik. Die prys wat Jesus betaal het vir ons was baie hoog, Hy het met Sy bloed vir ons betaal deur vir ons sondes aan die kruis gesterf.


“Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53


“omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” I PETRUS 1:18-19 AFR53

  • Ketuba – Huweliks kontrak

Die bruid het ‘n keuse om met die bruidegom te trou. Die bruidegom gooi wyn in ‘n glas en bied dit vir sy aanstaande bruid aan. As sy nie kies om met hom te trou nie, draai sy om sonder om die wyn te neem. As sy hom wel kies, neem sy die glas en drink die wyn. So kies ons vir Jesus as bruidegom elke keer as ons tydens nagmaal die beker neem om te drink.


Nou kan die huwelikskontrak geteken word. Jesus het vir ons, Sy bruid (die kerk) ook ‘n huwelikskontrak gegee, ons ken dit as die NUWE Testament.


“Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” I KORINTHIËRS 11:25 AFR53

  • Kiddushin -verlowing

Nadat die huwelikskontrak geteken is, is die paartjie verloof. Vir alle praktiese doeleindes word die paartjie nou gesien as getroud.


Die bruidegom gaan nou weg na sy vader se huis om vir hom en sy aanstaande vrou ‘n kamer te bou. Die bruidegom besluit nie wanneer die bouery voltooi is nie. Sy vader inspekteer die kamer en hy besluit wanneer die bouwerk voltooi is, sodat hy kan verseker dat die werk goed gedoen is.


“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:1-3 AFR53


Intussen wag die bruid op die koms van haar bruidegom en hou haarself eenkant as deel van die voorbereiding. Sy sorg byvoorbeeld dat haar lamp vol olie is, sodat sy met die aankoms van die bruidegom nie onkant gevang word nie.


Die bruidegom se koms is onverwags, hy kom soos ‘n dief in die nag, en dan moet sy soos die vyf maagde wees wat olie in hul lampe gehad het en voorbereid was op die bruidegom se koms.


“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” MATTHÉÜS 25:1-13 AFR53

  • Nissuin – om die bruid te gaan haal

Die pa het nou die huis geinspekteer en wat die seun gedoen het dra sy goedkeuring weg.


Die pa gee vir die seun toestemming om sy verloofde te gaan haal.


Met groot opgewondenheid vertrek die seun en sy vriende om die bruid te gaan haal.


Volgens tradisie weet ons nou dat die bruid nie weet wanneer die bruidegom kom nie.


Wanneer die bruidegom naby die bruid se huis is, blaas hy op die ramshoring sodat die bruid dit kan hoor,  en dan ‘ontvoer’ hy sy bruid wat gereed is met haar lamp wat brand en haar tas wat gepak is.


As ons nou weer kyk na die  volgende vers, kan ons die ooreekoms sien tussen die bruidegom wat sy bruid kom haal, en Jesus wat die kerk (Sy bruid) kom haal met die wegraping.


“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I TESSALONISENSE 4:16-17 AFR53


Waar kom die woord wegraping of rapture vandaan?

Afrikaans  – Weggevoer

Engels       – Caught up

Grieks       – Harpazo

Latyn (Vulgate) – Rapturo waar die woord rapture vandaan kom.

  •  Huppah – die huwelikseremonie

Die bruidegom neem nou die bruid na sy vader se huis om die huwelik te voltrek. Vir die volgende sewe dae is die bruid net in haar bruidskamer terwyl die huwelik gevier word.


So sal die kerk ook weggeraap word en in haar bruidskamer wees terwyl die sewe jaar verdrukking aan die gang is. Ons is in die hemel in ons Vader se huis besig om ons huwelik met die Vader se Seun te vier.


“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.” OPENBARING 19:7-9 AFR53


Volgens Joodse tradisie word die paartjie na die bruilofsmaal as man en vrou aan die wêreld voorgestel. Dit gebeur met Jesus se tweede koms!


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.” OPENBARING 19:11-14 AFR53


Die volgende vraag nou is, wat is dan die verskil tussen die Wegraping en Jesus se Tweede koms.

Hier volg ‘n goeie verduideliking van die webblad gotquestions.


Die wegraping en die tweede koms van Christus is dikwels verwarrend. Soms is dit moeilik om vas te stel wanneer ‘n Skrifgedeelte na die wegraping of die tweede koms verwys. Dit is egter baie belangrik om tussen die twee te onderskei, wanneer dit kom by die Bybelse eindtye-profesieë.


Die wegraping is wanneer Jesus Christus terugkom om die kerk (al die gelowiges in Christus) van die aarde af te verwyder. Dit word in 1 Tess 4:13-18 en 1 Kor 15:50-54 beskryf. Gelowiges wat gesterf het se liggame sal opgewek word en saam met gelowiges wat nog lewe, die Here in die lug tegemoetgaan. Dit sal alles in ‘n oomblik gebeur, in ‘n oogwenk. Die tweede koms is wanneer Jesus terugkeer om die Antichris te oorwin, die bose te vernietig en Sy duisendjarige koninkryk op te rig. Die tweede koms word in Openbaring 19:11-16 beskryf.


Die belangrike verskille tussen die wegraping en die tweede koms is as volg:


  • Met die wegraping, ontmoet gelowiges die Here in die lug (1 Tess 4:17). Met die tweede koms kom gelowiges saam met die Here terug aarde toe (Open 19:14).

  • Die tweede koms gebeur ná die groot verdrukking (Open 6-19). Die wegraping gebeur vóór die verdrukking (1 Tess 5:9; Open 3:10).

  • Die wegraping is die verwydering van gelowiges van die aarde af, as ‘n verlossingsaksie (1 Tess 4:13-17, 5:9). Die tweede koms sluit die verwydering van ongelowiges in as ‘n aksie van veroordeling of straf (Matt 24:40-41).

  • Die wegraping sal in die geheim en skielik gebeur (1 Kor 15:50-54). Die tweede koms sal vir almal sigbaar wees (Open 1:7; Matt 24:29-30).

  • Die tweede koms van Christus sal plaasvind nadat sekere ander eindtyd-gebeure plaasgevind het (2 Tess 2:4; Matt 24:15-30; Open 6-18). Die wegraping is onmiddellik; dit kan enige tyd plaasvind (Titus 2:13; 1 Tess 4:13-18; 1 Kor 15:50-54).

  • Hoekom is dit belangrik om hierdie twee gebeure van mekaar te onderskei?

  • Indien die wegraping en die tweede koms dieselfde gebeurtenis is, sal gelowiges deur die verdrukking moet gaan (1 Tess 5:9; Open 3:10).

  • Indien dit dieselfde gebeurtenis is, is die wederkoms van Christus nie skielik nie – daar is baie goed wat moet gebeur voordat Hy wéér kom (Matt 24:4-30).

  • Waar die verdrukkingstyd beskryf word in Openbaring 6-19, word daar nêrens van die kerk gepraat nie. Gedurende die verdrukking – ook genoem in Jer 30:7 “’n tyd van swaarkry vir Jakob” – sal God Sy primêre aandag op Israel vestig (Rom 11:17-31).

  • Die wegraping en die tweede koms is eenders, maar aparte gebeure. Beide sluit Jesus se wederkoms in. Beide is eindtyd-gebeure, maar tog is dit uiters belangrik om die verskille te herken. Opsommenderwys is die wegraping die wederkoms van Christus op die wolke om al die gelowiges van die aarde af weg te neem, voor die tyd van God se wraak. Die tweede koms is die wederkoms van Christus na die aarde om die verdrukking te beëindig en om die Antichris en sy bose wêreldse koninkryk te verslaan.

  • Christen of nie-Christen, Jood of nie-Jood: maak gereed, bekeer julself, want die Bruidegom kan enige oomblik kom om Sy bruid te kom haal. Is jy gereed?

22 views0 comments

Recent Posts

See All

7de Fees – Fees van Tabernakels / Sukkot

Hierdie fees is die sewende en laaste van die feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Sukkot word gevier vyf dae na Yom Kippur op Tishri 15 en begin sononder hierdie jaar op 23 September 2

6de Fees: Fees van Versoening / Yom Kippur –

Die fees het vanaand 18/9/18 net na sononder begin. Die tweede van die Herfs Feeste (en die sesde fees in totaal) is Yom Kippur en word 10 dae na die Fees van Trompette op Tishri 10 gehou. (sononder 1

4de Fees – Pinkster / Pentacost / Shavuot

God het vir Moses in Levitikus 23, 7 feeste gegee wat elke jaar gehou moet word. Hierdie is God se feeste en wat tot eer van God gevier moet word. Die feeste word opgedeel in 3 groepe. Drie feeste wor

  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page