top of page
  • Regina Torre

Die brief van Judas

Updated: Feb 4, 2023

19 April 2022

JUDAS 1:1 AFR53

“Judas, ‘n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is:”


Judas is die enigste boek in die Bybel wat in geheel aan afvalligheid gewy word. Volgens die Verklarende woordeboek beteken afvallige: iemand wat ontrou geword het, geloofsversaker of verraaier.


Hoekom sal ons dan hierdie boek wil bestudeer? Omdat die boek vir vandag se tyd geskryf is, dit is geskryf vir die eindtyd, vir die einde van die Kerktydperk.


‘n Dienskneg van Jesus Christus – die Grieks vir dienskneg hier is doulos. Doulos was meer as ‘n dienskneg, die woord is meer gebruik vir ‘n slaaf. In die Romeinse Ryk was ‘n slaaf ‘n lewende instrument met geen menseregte of vrye tyd nie.  Judas verklaar homself die slaaf van Jesus Christus om absoluut aan Hom gehoorsaam te wees.


Broer van Jakobus en Jesus – Jakobus was die hoof van die kerk in Jerusalem en die skrywer van die brief Jakobus. Jakobus was ook die “Here se broer”, een van vier broers van Jesus.


“en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.”GALÁSIËRS 1:19 AFR53


“Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie? En hulle het aanstoot aan Hom geneem.” MARKUS 6:3 AFR53


Nóg Jakobus nóg Judas was een van die twaalf dissipels. Hulle het aanvanklik nie geglo nie;

“Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.” JOHANNES 7:5 AFR53


Interessant dat hierdie brief spesifiek opgedra of geskryf is vir gelowiges en nie ongelowiges nie – aan die wat geroep is. Judas het duidelik ‘n passie om sy lesers teen vals leringe te beskerm.


In God die Vader geheilig – Iemand wat geheilig is, is wedergebore en daarom deel van God se familie. So ‘n persoon is gereserveer vir God se gebruik.


“Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie,” HEBREËRS 2:11 AFR53


Vir Jesus Christus bewaar is – bewaar beteken om gered te wees, verseker vir die ewigheid.

“En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” JOHANNES 6:39-40 AFR53


“Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!” JUDAS 1:2 AFR53


Barmhartigheid is om nie die straf te kry wat jy wel verdien nie, waar genade is om seëninge te kry wat jy nie verdien nie.


Ons het vrede by God deur Jesus Christus! – “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;” ROMEINE 5:1 AFR53


Judas se wens vir ons is dat barmhartigheid en vrede en liefde vir ons vermenigvuldig word!


 

20 April 2022


JUDAS 1:3 AFR53

“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.”


Die woord ‘geliefdes’ toon weereens dat Judas die brief vir mede Christene skryf. Dit hou min betekenis in vir die natuurlike mens wat nie in God glo nie.


“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” I KORINTHIËRS 2:14 AFR53


Dit blyk dat Judas die brief oor ons gemeenskaplike saligheid wou skryf, maar dit was nie God se plan nie. Judas het ‘n noodsaaklikheid gevoel om ‘n ander onderwerp aan te pak. Hy was nie die enigste Bybelboek skrywer wat deur God aangemoedig of gedryf was om oor ‘n spesifieke onderwerp te skryf nie.


“want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.” II PETRUS 1:21 AFR53


Judas vermaan ons om ernstig te stry vir die geloof, of anders gestel, stry sterk ter verdediging daarvan.


“Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.” JUDAS 1:4 AFR53


Hoekom moet ons stry vir ons geloof? Want die ‘kerk’ is deur die eeue heen deur die bose geïnfiltreer, hulle is diegene wat Jesus Christus verwerp.


“Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land gesaai het. Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.”   MATTEUS 13:24-25 AFR83


“Daar was wel sekere mense wat dit wou hê, maar dit was mense wat onder vals voorwendsels in die gemeente ingedring het en hulle as medegelowiges voorgedoen het. Hulle werklike doel was om ons lewe in die vryheid wat Christus Jesus vir ons verwerf het, dop te hou, sodat hulle weer slawe van ons kon maak. Aan hulle eise het ons egter nie ‘n enkele oomblik toegegee nie, sodat die waarheid van die evangelie vir julle gehandhaaf sou word.” GALASIËRS 2:4-5 AFR83


“Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers.” 2 KORINTIËRS 11:26 AFR83


“Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy ‘n aanhanger geword het.” 1 TIMOTEUS 4:1, 6 AFR83


 

21 April 2022


JUDAS 1:5 AFR53

“Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.”


Die mens vergeet tog so gou! Daarom dat ons keer op keer in die Bybel sien dat ons herinner moet word. Nou sê Judas vir ons hy weet ons ken die geskiedenis, maar hy wil ons net weer herinner.


Ons gaan in die volgende verse leer van drie historiese groepe wat gestraf is, en waarom hulle gestraf is.


Die eerste groep is die Israeliete wat vir veertig jaar in die woestyn rondgetrek het.


Wat het die Israeliete verkeerd gedoen?


Tien van die twaalf verkenners wat Moses na die land Kanaän gestuur het, kom terug met ‘n negatiewe verslag en veroorsaak dat God se volk teen Hom draai deur hul ongeloof.


Die skrywers van die Nuwe Testament skyn ook lig op hierdie onderwerp.


Paulus skyf vir ons in sy brief aan die Korinthiërs dat die volk God se wonderwerke gesien en beleef het en nogtans het hulle nie geglo nie.


“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.” I KORINTHIËRS 10:1-5 AFR53


Die ongelowigheid van die mens word nêrens meer treffend uitgebeeld as in die geskiedenis van die Israeliete in die woestyn nie. God red hulle uit Egiteland van hul slawerny en hulle beleef wonderwerk op wonderwerk, maar steeds behandel hulle God as hul vyand en nie hul Verlosser nie. Die skrywer van Hebreërs waarsku ons om nie van God afvallig te word nie.


“Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.” HEBREËRS 3:7-12 AFR53


 

22 April 2022

EXODUS 6:5-6 AFR53

“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.”


Kom ons kyk weer na wat gebeur het!


God gebruik Moses om Sy volk uit Egipteland uit die slawehuis uit te lei. Oppad na die Skelf see word die Israeliete beskerm van Farao wat hulle agtervolg. Bedags deur die wolkkolom en snags deur die vuurkolom. Moses neem sy staf en slaan op die water van die Skelf see om die water oop te maak van links en na regs sodat die volk kan deurstap. Niemand bly agter nie, oor ‘n miljoen Israeliete vlug uit Egipte uit.


God beveel Moses om twaalf verkenners of spioene uit te stuur na die land Kanaän wat Hy vir die kinders van Israel sal gee.


“En die Here het met Moses gespreek en gesê: Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ‘n owerste onder hulle.” NÚMERI 13:1-2 AFR53


Moses sê vir die verkenners watter inligting hulle moet terugbring.


“En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe. En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat —” NÚMERI 13:18-21 AFR53


Hulle kom terug met bewondering en ‘n aanvanklike goeie verslag.


“En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.” NÚMERI 13:27 AFR53


Maar, daar moet altyd die negatiewes in ‘n groep wees. In die groep van twaalf was daar ‘n negatiewe verslag van tien van die twaalf. Net twee het die waagmoed en geloof in God gehad dat hulle die land van reuse en gevare kon oorwin – Joshua en Kaleb.


“En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land.” NÚMERI 14:6-7 AFR53


Die ander tien verkenners het beslis nie saamgestem nie.


“Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.” NÚMERI 13:28, 31-33 AFR53


 

23 April 2022


I KORINTHIËRS 10:11 AFR53

“Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”


Die pad deur die woestyn van waar die Israeliete moes begin in Horeb tot en met hul eindbestemming net voor die Beloofde Land Kanaän by Kades-Barnea was elf dae.


“Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa.” DEUTERONÓMIUM 1:2 AFR53


Die twaalf spioene se verkenningstog het veertig dae geneem. Na die tien se negatiewe verslag verloor die volk moed en kom in opstand en verhef hul stemme teen Moses en Aäron en hulle murmureer onder mekaar.


“Toe het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!” NÚMERI 14:1-2 AFR53


God vergewe die volk (nadat Moses namens hul intree), maar Hy besluit dat nie een van hulle wat ouer as twintig is, ooit die land sal sien wat Hy met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het nie. Hulle sou ly deur veertig jaar lank in die woestyn te dwaal, een jaar vir elk van die veertig dae wat hulle die land verken het, en so kry die volk wat hulle deur hul murmerering gevra het.


“Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.” NÚMERI 14:28-29 AFR53


Die tien spioene wat die slegte boodskap aan die volk gebring het, en die volk teen God gedraai het, het gesterf deur ‘n plaag.


“die manne wat ‘n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur ‘n plaag voor die aangesig van die Here.” NÚMERI 14:37 AFR53


Die res van die volk se straf was om die elf dag reis deur die woestyn in agt en dertig jaar te voltooi. Op die stadium het die krygers wat twintig jaar en ouer was toe die verslag gegee is, gesterf soos God gespreek het.


“En die dae van ons trek van Kades-Barnéa af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt-en-dertig jaar — totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die Here hulle dit gesweer het.” DEUTERONÓMIUM 2:14 AFR53


God het hulle oorwinning belowe. Die land wat Hy hulle beveel het om in te gaan en in te neem, was reeds hulle s’n. Hulle moes eenvoudig vertrou en gehoorsaam wees, maar dit was vir hulle te moeilik. God sal ons nooit lei waar Sy genade nie vir ons kan voorsien of Sy krag ons nie kan beskerm nie.


Die Israeliete het inderdaad die kragtige hand van God aan die werk gesien tydens die plae en wonderwerke van die uittog. Tog het hulle, soos baie mense, deur aanskoue gewandel en nie deur geloof nie.


“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.” HEBREËRS 11:6 AFR53


 

24 April 2022


JUDAS 1:6 AFR53

“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;”


Die tweede groep waarvan Judas ons leer, wat deur God gestraf word, is die engele.


Die Bybel gee vir ons heelwat inligting oor engele.


Hulle kan in menslike vorm verskyn – die ‘manne’ help Lot en sy gesin.


“En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit. Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die Here hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.” GÉNESIS 19:5, 10, 16 AFR53


Drie ‘manne’ het Abraham besoek, met hom gepraat en saam met hom geëet.


“Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet. Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent.” GÉNESIS 18:2, 8 en 9 AFR53


Engele kan in gevegte op aarde betrokke raak – Koning Hiskia en sy manskappe word van die vyand gered.


“En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!” II KONINGS 19:35 AFR53


En sommige is die hoofmagte agter die wêreldmoondhede – in hierdie geval die Mede en Perse, en Griekeland.


“Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland.” DANIËL 10:20 AFR53


Engele trou nie, ten minste nie in die hemel nie.


“Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.” MATTHÉÜS 22:30 AFR53


Die gedeelte van Juda leer ons dat engele blykbaar in staat is tot baie onheil.


Engele se woonplek is duidelik nie op aarde nie, en die gedeelte vertel dat sekere engele nie in hul magsgebied gebly het nie en hul woonplek verlaat het vir die aarde.


 

25 April 2022


GÉNESIS 6:1-2 AFR53

“Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.”


Die engele waarvan Juda praat wat hul magsgebied verlaat het, is ‘n verwysing na die gedeelte wat in Genesis 6 bespreek word. Ons het met ons studie van Jesus se woorde geleer dat Jesus gesê het, dat die eindtye gaan wees soos in die dae van Noag. Hierdie verwys ook na die Genesis 6 gedeelte. So kom ons kyk net weer hierna.


“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” MATTHÉÜS 24:37 AFR53


Die mense op aarde het vermeerder en daar is vir hul dogters gebore. Hierdie stelling is heeltemal normaal, en ons verstaan presies dat daar na menslike dogters verwys word.


Dan praat die vers van die ‘seuns van God’. Indien hierdie seuns van mense was, dan het ons nou nie hierdie gedeelte ondersoek nie. Maar, omdat daar gepraat word van seuns (klein letter) van God moet ons sien dat daar ‘n duidelike verskil is.


“In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.” GÉNESIS 6:4 AFR53


Die geweldiges of reuse is die kinders van die aardse vrouens en die engele. Interessant is dat hierdie reuse deel van die oorsaak was van die tien verkenners wat ‘n negatiewe verslag aan Moses gegee het.


“Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.” NÚMERI 13:33 AFR53


Wat het met die engele, wat hul magsgebied verlaat en aardse vrouens geneem het, gebeur.


Volgens Judas het God hulle geboei met ewige boeie en hulle word onder die duisternis bewaar vir die oordeel.


“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;” JUDAS 1:6 AFR53


Petrus beaam Judas se woorde. Hierdie engele wat gesondig het, is nie gespaar nie, maar hulle is geketting in die hel gewerp, en hulle wag vir die oordeel.


“Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;” II PETRUS 2:4 AFR53


 

26 April 2022


JUDAS 1:7 AFR53

“soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ‘n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.”


Die derde groep mense wat as voorbeeld deur Judas gebruik word, wat gestraf is, is die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle.


Ons het gesien dat afvallig beteken om ontrou te word, of om jou geloof te versaak. Om daar uit te kom moes jy eens gelowig gewees het. Die mense van Sodom en Gomorra word genoem in verband met afvalligheid, so hulle moes dus eens kennis van die waarheid gehad het.


Petrus vertel ook dat Sodom en Gomorra as voorbeeld gestel is vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees.


“en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;” II PETRUS 2:6 AFR53


Wat was hul sonde? Hulle het op dieselfde manier as die engele in die vorige voorbeeld gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop. Let wel dat hierdie nie gaan oor mense wat met engele omgang wil he nie. Sodom en Gomorra is geoordeel voodat die engele opgedaag het om Lot uit die stad te neem, en die engele was vermom as mans. Die sonde hier is homoseksualiteit!


“Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.” GÉNESIS 19:4-5 AFR53


Die Hebreeuse woord vir “gruwelik”, verwys na iets wat moreel walglik is en is presies dieselfde woord wat in Levitikus 18:22 gebruik word waar daar na homoseksualiteit verwys word as ‘n “gruwel.”


“Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.” ESÉGIËL 16:49-50 AFR53


“Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.” LEVÍTIKUS 18:22 AFR53


Alhoewel homoseksualiteit nie die enigste sonde was waarin die stede Sodom en Gomorra hulle vergeef het nie, blyk dit wel die primêre rede te wees vir hul vernietiging. As hierdie klink na te veel Ou Testament, dan help Paulus ons in die Nuwe Testament met die volgende.


“Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.” ROMEINE 1:26-27 AFR53


“Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens.” JUDAS 1:8 AFR53


As opsomming sê Judas dat die valse leraars wat in die kerk insluip en hulle volgelinge, so ongelowig en ongehoorsaam is soos die Israeliete in die woestyn, so opstandig teen die gesag van God is soos die gevalle engele, en so onrein en onheilig is soos die Sodomiete, en dat hulle gevolglik soortgelyke straf moet verwag.


 

27 April 2022


JUDAS 1:9 AFR53

“Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”


Migael, die aartsengel, word in die Bybel, in die boeke van Daniël, Judas en Openbaring beskryf as ‘n vegter-engel wat aan geestelike gevegte deelneem.


Die woord aartsengel beteken “engel van die hoogste rang”. Die meeste engele in die Bybel word as boodskappers uitgebeeld, maar Migael word in al drie boeke beskryf as ‘n vegter.


“maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.” DANIËL 10:13 AFR53


“Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael.” DANIËL 10:21 AFR53


“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” DANIËL 12:1 AFR53


“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;” OPENBARING 12:7 AFR53


Ons het nie ‘n volledige prentjie van enige engel nie, en slegs twee word in die Bybel by die naam genoem – Migael en Gabriël. Die Skrif gee ons net wenke van hul bewegings tydens menslike gebeure, maar dit is veilig om te sê dat Migael die aartsengel ‘n kragtige wese is.


Daar is meer as 500 Ou-Testamentiese verwysings na Moses, maar slegs een verwys na sy liggaam.


“Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.” DEUTERONÓMIUM 34:5-6 AFR53


Ons weet nie hoekom Migael en Satan ‘n woordestryd gehad het oor die liggaam van Moses nie, al wat ons weet van die Ou Testament is dat niemand weet waar hy begrawe is nie.


Die engel Gabriel het geen oordeel van lastering teen Satan durf uitspreek nie. Anders as valse leraars het Migael nooit kwaad gepraat nie, selfs nie teen Satan nie. God se volk moet valse leerstellings verwerp en regstel, maar die versoeking weerstaan ​​om hulle teenstanders te beswadder. Die oordeel is altyd in God se hande.


“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” ROMEINE 12:19 AFR53


“Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel.” HEBREËRS 10:30 AFR53


 

28 April 2022

JUDAS 1:10 AFR53

“Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde.”


Hierdie mense verwys na diegene wat God nie ken nie. Vir hulle is die Woord van God dwaasheid want hulle verstaan dit nie.


“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” I KORINTHIËRS 2:14 AFR53


Hierdie afgedwaaldes skroom nie om alles te belaster wat hulle nie ken nie.


“En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster.” OPENBARING 13:6 AFR53


“Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan” II PETRUS 2:12 AFR53


Daar is geen hoop vir afvalliges in die hele Judas nie, hulle ondergang is seker. Vir hulle is die duisternis van die duisternis vir ewig bewaar.


“Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” HEBREËRS 6:4-6 AFR53


Soos die honde en varke waarvan Petrus vertel, was hulle nooit die ware skape van die Goeie Herder nie.


“Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.” II PETRUS 2:20-22 AFR53


Soos die varke van Markus, hardloop hulle met geweld teen ‘n steil plek af in God se toorn.

“en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop — daar was omtrent tweeduisend — het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.” MARKUS 5:12-13 AFR53


Sodra hulle onder die mag van die “leer van duiwels” kom,


“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” I TIMÓTHEÜS 4:1 AFR53

loop hulle weg van die waarheid.


“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” JOHANNES 14:6 AFR53


 

29 April 2022


JUDAS 1:11a AFR53

“Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel …………”


Judas leer ons nou van drie persone wat afgedwaal het en die eerste is Kain, ‘n boer.


Kain het nie net sy broer doodgemaak nie, maar het God se opdrag oor offerandes verwerp.


“maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang. En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.” GÉNESIS 4:5, 8 AFR53


“Deur die geloof het Abel ‘n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.” HEBREËRS 11:4 AFR53


Twee mans bring ‘n offer aan God. Die een offer kom van die vrugte van die aarde, die ander offer kom van die eersgebore van sy kudde. God aanvaar die een offer, en verwerp die ander een, hoekom? Ons lees in Genesis 4 dat Abel ‘n veeboer en Kain ‘n saaiboer was.


“En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die Here ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.” GÉNESIS 4:3-5 AFR53


Ons lees hier dat Abel die eersteling uit sy kudde geoffer het, maar die gedeelte se nie dat Kain die eersteling van sy vrugte geoffer het nie. Kain het met verloop van tyd sy opbrengs geoffer. Kain het dus op sy voorwaardes met verloop van tyd, van die vrugte van sy oes bymekaar gemaak om te offer.


God het Abel se offer aanvaar want dit was die eersteling van sy kudde, Kain se offer is verwerp want dit was nie van die eersteling van sy oes nie.


Om die eerste van enige iets vir God te gee, vereis dat jy moet GLO. As jou skaap haar eerste lam vir jou gee, het jy geen waarborg dat sy enige verder lammers vir jou gaan gee nie. Abel het sy eerste lam vir God geoffer in geloof dat hy nog lammers sou kry, terwyl Kain seker gemaak het hy het genoeg vir homself geoes voor hy vir God iets geoffer het.


Abraham is ‘n goeie voorbeeld van hoe ‘n mens moet glo. Hy moes sy eerste seun aan God offer en het nie gewag vir nog kinders om gebore te word voordat hy vir Isak gaan offer het nie.


“Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” HEBREËRS 11:17-19 AFR53


God het dieselfde vir ons gedoen – Hy het Sy eerste in die vorm van Sy Seun gegee. Sy enigste seun vir wie Hy baie lief was, het Hy vir ons gegee toe ons nog sondaars was. God het Jesus aan ons gegee in geloof dat ons ons lewens vir Hom sou gee. Die geskenk van Sy Seun Jesus het gekom voor ons die seëning van Sy verlossing ontvang het.


Wat is die definisie van geloof. Die skrywer van Hebreërs gee vir ons die perfekte antwoord.


“Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” HEBREËRS 11:1 AFR53


 

30 April 2022

JUDAS 1:11b AFR53


“Wee hulle, ………..en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort ………..”


Die verhaal van Bileam is lank en die oorsprong daarvan gaan terug na Sodom en Gomorra. Moab die land, is vernoem na die bloedskande seun van Lot, die broerskind van Abraham en maak dus dat daar ‘n ‘familie verband’ is tussen hulle en Israel. Balak, die seun van Sippor, is die koning van Moab in die dae toe Israel gereed maak om hul erfdeel van die land Kanaän in besit te neem.


God het gekies om Israel te gebruik as Sy instrument van oordeel oor die sondes van die volke wat in Kanaän woon. Moab was nie op die lys van volke wat uit hul land verdryf moes word nie. Trouens, God het spesifieke opdragte aan Israel gegee om nie met die mense van Moab te veg nie.


“Toe het die Here vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het.” DEUTERONÓMIUM 2:9 AFR53


Die koning van Moab wat nie God se planne geken het nie, was bang dat Israel hulle sou uitwis want Israel het reeds twee naburige koninkryke uitgewis. Hy wend hom toe tot die bonatuurlike en vra vir die profeet Bileam om hom te help.


“Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.” NÚMERI 22:6 AFR53


Bileam is ‘n profeet van God en kan daarom net sê wat God hom sal toelaat om te sê.


“Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die Here my God nie oortree om klein of groot te doen nie.” NÚMERI 22:18 AFR53


Bileam seën Israel uiteindelik sewe keer, en dit blyk die einde van die verhaal te wees, maar dit is nie. Ons moet na Openbaring gaan om te leer wat Bileam gedoen het. Omdat Bileam nie in staat was om Israel vir wins te vervloek nie, het hy ‘n ander manier gevind. Hy het Balak geleer om die Israeliete tot sonde te verlei.


“Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer.” OPENBARING 2:14 AFR53


Bileam het geweet dat God Israel geseën het, maar hy het alles in sy vermoë gedoen om God se wil te ondermyn. Sy motivering was bloot geld.


Bileam se fout was om God se wil vir persoonlike gewin te ondermyn. Of daardie wins geld, mag of wraak is, maak nie saak nie. Dit is sleg om God se mense vir enige rede te laat sondig. Om dit vir persoonlike gewin te doen, is om teen God self op te tree. Dit is nooit ‘n goeie idee nie.


 

1 Mei 2022

JUDAS 1:11c AFR53

“Wee hulle, ……….. en in die verset van Korag omgekom.”


Die verhaal van die rebellie van Korag is opgeteken in Numeri 16. Hierdie rebellie wys vir ons wat gebeur wanneer God se gesag en die gesag van die leiers wat Hy aangestel het, ondermyn word.


Korag was uit die stam van Levi en dus van dieselfde stam as Moses en Aäron. Korag en tweehonderd en vyftig mans saam met hom, het ‘n opstand teen Moses en Aäron gelei en hulle daarvan beskuldig dat hulle hulself bo die gemeente van die Here verhef.


“En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.” NÚMERI 16:1-2 AFR53


Korag en sy manskappe konfronteer Moses en daag sy gesag uit.


“En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here?” NÚMERI 16:3 AFR53


Dit is duidelik dat Korag gedink het dat hy ‘n beter werk kan doen om die volk te lei as wat Moses gedoen het. Maar deur hierdie opstand teen God se aangestelde leiers te lei, het Korag eintlik teen God in opstand gekom.


“Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?” NÚMERI 16:11 AFR53


Moses het ‘n toets voorgestel om die bron van sy gesag te bewys. Korag en sy volgelinge het nie die toets geslaag nie, en God het die aarde oopgemaak en die rebelle, hulle families en al hulle besittings ingesluk. Verder het “vuur van die HERE uitgegaan” en die ander 250 manne verteer wat deel was van Korag se opstand. Die res van die Israeliete was verskrik en het gevlug.


“En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering. En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons! Toe het ‘n vuur van die Here uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.” NÚMERI 16:31-35 AFR53


Die volgende dag, in plaas daarvan om oortuig te wees dat God Moses en Aäron geregverdig het, het die gemeente begin kla dat hulle “die HERE se volk doodgemaak het”. Vir hierdie daad van rebellie het God gedreig om die hele gemeente te vernietig en ‘n plaag onder hulle ingestuur. Moses en Aäron het egter vir die rebelle ingetree en ‘n totale katastrofe afgeweer.


Op die ou end het ‘n verdere 14 700 Israeliete van die plaag gesterf.


Die kenmerke van valse leraars binne die kerk sluit in trots, selfsug, jaloesie, hebsug, magsug en minagting van die wil van God. Net soos Korag, verontagsaam vandag se valse leraars


God se plan en is hulle nie ondergeskik aan God se aangestelde owerhede nie. Hulle einde sal dieselfde wees as Korag s’n. Dus die waarskuwing: “Wee hulle!”


 

2 Mei 2022


JUDAS 1:12 AFR53

“Hulle is skandvlekke in julle liefdemaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer, waterlose wolke deur winde rondgedrywe, bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld;”


Judas gee nou vir ons drie eienskappe van die vals leeraars wat die kerk binnedring.


1. Skandvlekke in julle liefdemaaaltye, wat sonder vrees saam fees hou en hulleself voer!


Die Grieks vir skandvlek is spilas en beteken rots. Ook is dit ‘n metafoor van mense wat deur hul optrede ander moreel beskadig, hulle as’t ware vernietig.


In die konteks van die vers is die rots ‘n versteekte rots, ‘n gevaar wat jy nie kan sien nie.


Soos onbekende riwwe onder die see wat veilige navigasie vir skepe belemmer.


Die mense neem deel aan die feeste van die Here soos bv. nagmaal, nie om God te verheerlik nie, maar tot bevordering van hulself.


Petrus leer ons wat ons eerder moet doen: “en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.” I PETRUS 2:5 AFR53


2. Waterlose wolke deur winde rondgedrywe!


Mense wat in areas woon met ‘n droeë klimaat met min tot geen reën, kry dikwels wolke wat saampak, maar die wolke gee nie reën nie en word net deur die wind verbygewaai – dit is waterlose wolke, wat geen goed doen nie.


Net so is die dwaalleraars wat nie die water van die lewe het nie – hulle verkondig nie die ware Woord van God nie.


Johannes leer ons hoe ons moet glo. “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” JOHANNES 7:38 AFR53


3. Bome in die nasomer, wat sonder vrugte is, twee maal gestorwe, ontworteld!


Nasomer is die tydperk wanneer die bome se vrugte almal geëet is of afgeval het – dus bome sonder vrugte.


“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” MATTHÉÜS 7:15-20 AFR53


Twee keer dood = tweede dood.


“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:14-15 AFR53


Paulus leer ons hoe die vrugte wat ons dra moet lyk. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” GALÁSIËRS 5:22 AFR53


 

3 Mei 2022

JUDAS 1:13 AFR53

“woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim, dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.”


Judas gee nog twee eienskappe van die vals leeraars wat die kerk binnedring.


4. Woeste golwe van die see wat hulle eie skandes laat opskuim!


In hierdie vers vergelyk Judas die dwaalleeraars met woeste golwe van die see wat skuim na die strand toe dra. Die dwaalleeraars se woorde is skuimerig en skandelik. Judas se aanklag weerspieël Jesaja se beskrywing van die goddelose.


“Maar die goddelose is soos ‘n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op.” JESAJA 57:20 AFR53


Dawid leer ons dat die Here ons lei na waters waar rus is.


“’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.” PSALMS 23:1-2 AFR53


5. Dwaalsterre vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word!


Ten laaste vergelyk Judas die valse leraars met ‘n verskietende ster of ‘n meteoriet. Hulle flikker helder vir ‘n kort tydperk, waarna hul wegswerf om vir ewig in die diepste duisternis te vertoef.


Daniel leer ons om eerder verstandig te wees, sodat ons kan glinster soos die glans van die uitspansel of soos die sterre vir ewig.


“En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.” DANIËL 12:3 AFR53


 

4 Mei 2022


JUDAS 1:14 AFR53

“En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle,”


Wie was Henog? Hy was die sewende geslag vanaf Adam. Hier is die stamboom vanaf Adam tot by Henog wat vir ons in Genesis 5 gegee word.

  1. Adam (130 jaar) – sy seun Set

  2. Set (105 jaar) – sy seun Enos

  3. Enos ( 90 jaar) – sy seun Kenan

  4. Kenan ( 70 jaar) – sy seun Mahalalel

  5. Mahalalel ( 65 jaar) – sy seun Jered

  6. Jered (162 jaar) – sy seun Henog

  7. Henog ( 65 jaar) – sy seun Metusalag

Lukas bevestig vir ons die geslagregister, net terugwerkend om te eindig by Adam.


“die seun van Metúsala, die seun van Henog, die seun van Jered, die seun van Mehaláleël, die seun van Kenan, die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God. LUKAS 3:37-38 AFR53


Genesis 5 gee vir ons in drie verse Henog se hele verhaal. Henog se eerste seun Metusalag word gebore toe hy 65 jaar oud is. Henog het nog driehonderd jaar geleef en in die tyd nog seuns en dogters gehad, en hy het ook met God gewandel. Henog was tot die einde van sy aardse lewe 365 jaar oud.


“En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar.” GÉNESIS 5:22-23 AFR53


Let op dat ek nie gesê het Henog is dood toe hy 365 jaar oud was nie. Nee, want Henog het nie gesterf nie, hy is deur God weggeneem!


“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” GÉNESIS 5:24 AFR53


Hierdie lys al die gedeeltes in die Bybel waar van Henog gepraat word, behalwe die boek Hebreërs wat net bevestig wat ons hier gesê het.


“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.” HEBREËRS 11:5 AFR53


Henog en Elia is die enigste twee persone in die Bybel wat nie gesterf het nie, maar wat weggeraap is om by God te wees.


“En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.” II KONINGS 2:11 AFR53


Sou daar ‘n rede wees vir die twee om nie te sterf nie? Moontlik! Elia en Henog is moontlik die twee persone wat die twee getuies gaan wees gedurende die eerste helfte van die sewe jaar Verdrukking. Daar word ook bespiegel dat die twee Elia en Moses gaan wees, i.p.v. Henog.


“En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer. En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak;” OPENBARING 11:3, 7 AFR53


 

5 Mei 2022


JUDAS 1:15 AFR53

“om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.”


Henog se profesie gee vir ons vier sekerhede wat bevestig word in ander geskrifte van die Bybel.


1. Ons weet die Here se koms is seker!


“………het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom …….” JUDAS 1:14b AFR53


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.”   OPENBARING 19:11 AFR53


2. Ons weet wie die Here sal vergesel met Sy koms!


“………..Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle,” JUDAS 1:14 AFR53


“En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” SAGARÍA 14:5 AFR53


“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit;” MATTHÉÜS 25:31 AFR53


“En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.” OPENBARING 19:14 AFR53


3. Ons ken die doel van Sy koms!


“en Hy sal oor almal oordeel.……………..” JUDAS 1:15a AFR83


“Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word.” ROMEINE 14:10 AFR53


“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” II KORINTHIËRS 5:10 AFR53


4. Ons ken die gevolg van die Here se koms!


“………………….Hy sal al die goddeloses, al die sondaars straf oor al die goddelose dinge wat hulle in hulle goddeloosheid gedoen het, en oor al die lasterlike dinge wat hulle teen Hom gesê het.” JUDAS 1:15b AFR83


“Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ‘n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.” II PETRUS 3:7 AFR53


“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:15 AFR53


 

6 Mei 2022


JUDAS 1:16 AFR53

“Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel.”


Judas gee in die vers ‘n opsomming van die vorige verse. Wie is die ‘hulle’ – hulle is die vals leeraars teen wie Judas ons waarsku, en gee hier eienskappe waaraan hulle herken kan word.


1. Murmureerders wat oor hulle lot kla!


Murmureer beteken: om te kla, mor of om ontevrede te mompel – nie ‘n eienskap waarvan God hou nie.


“Daarop sê Moses: Dít sal gebeur as die Here julle in die aand vleis gee om te eet en in die môre volop brood, omdat die Here julle murmureringe hoor wat julle teen Hom murmureer. Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die Here.” EXODUS 16:8 AFR53


“en hulle het gemurmureer in hul tente, na die stem van die Here nie geluister nie.” PSALMS 106:25 AFR53


“En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.” I KORINTHIËRS 10:10 AFR53


2. Volgens hulle begeerlikhede wandel!


Valse leeraars wat hul eie geloofstelsels uitbrei omdat God se leerstellings vir hulle te beperkend is.


“En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.” MARKUS 4:18-19 AFR53


“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” II PETRUS 3:3 AFR53


3. Hulle mond spreek trotse woorde, en vlei mense vir hul eie voordeel!


Petrus gee ook ‘n mooi opsomming.


“Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword.” II PETRUS 2:18-19 AFR53


Die presiese eienskap van die Antichris wat die laaste wêreldheerser gaan wees.


“En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster.” OPENBARING 13:5-6 AFR53


 

7 Mei 2022


JUDAS 1:17 AFR53

“Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus,”


Judas praat nou weereens met die geliefdes en sê ons moet die woorde onthou wat Jesus se apostels gespreek het en Petrus rig dieselfde versoek in sy brief.


“sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.” II PETRUS 3:2 AFR53


Paulus waarsku teen wrede wolwe, verleidende geeste, leringe van duiwels en swaar tye in die laaste dae.


“Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.” HANDELINGE 20:29 AFR53


“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” I TIMÓTHEÜS 4:1 AFR53


“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” II TIMÓTHEÜS 3:1 AFR53


Petrus en Judas waarsku albei teen spotters wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.


“dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel.” JUDAS 1:18 AFR53


“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” II PETRUS 3:3 AFR53


Ons word teen sinnelike mense gewaarsku want hulle gaan skeuring veroorsaak. Hulle is die natuurlike mense wat nie die Gees van God het nie, die wat in die vlees is en nie in die Gees nie.


“Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike mense wat die Gees nie het nie.” JUDAS 1:19 AFR53


“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” I KORINTHIËRS 2:14 AFR53


“julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” ROMEINE 8:9 AFR53


 

8 Mei 2022


JUDAS 1:20-21 AFR53

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag.”


Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid om die Woord van God te bestudeer, want dit is hoe ons onsself opbou in ons geloof.


“En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” II PETRUS 1:5-7 AFR53


Geloof kom deur die woord van God te hoor – met die klem op hoor!


“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” ROMEINE 10:17 AFR53


Bid in die Heilige Gees!


“terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” EFÉSIËRS 6:18 AFR53


“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” ROMEINE 8:26-27 AFR53


Julself in die liefde van God bewaar!


“Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” JOHANNES 15:9-10 AFR53


Terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag!


“Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.” 2 TIMOTEUS 4:7 AFR83


 

9 Mei 2022

JUDAS 1:22-23 AFR53

“Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is.”


Die vermanings in hierdie verse verwys na die gedrag van gelowiges wat aan die verleidings, soos in die boek geleer, blootgestel is. Die vermanings is dus nie vir die dwaalleraars self nie.


“Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” TITUS 1:15-16 AFR53


Judas praat met drie groepe gelowiges wat ‘n geloofskrisis het:


1. Die wat twyfel – die woord twyfel hier in die Grieks beteken eenvoudig om te wankel. Met ander woorde, hierdie persoon is gered, maar het ‘n paar valse leringe gehoor en is verward oor watter leering korrek is.


Judas noem dat met broers en susters in Christus wat onder hierdie kategorie val, ons genadig moet wees. Toon vir hulle deernis terwyl jy hulle op ‘n liefdevolle manier teruglei na die waarheid van die woord van God.


2. Die wat uit die vuur geruk moet word – hierdie groep twyfel nie meer nie, maar het ingekoop in ‘n vals leering. Dit is hoekom ons ons Bybel goed moet ken, sodat ons nie ‘n vals leering as die waarheid sal aanneem nie.


Dissipelskap in die kerk moet beslis meer wees as ‘n manier om sosiaal te verkeer. Dit moet eerder ‘n vurige verbintenis wees om mekaar op te bou in die allerheiligste geloof, mekaar verantwoordelik te hou en in die liefde van God te bly.


3. Die wat met versigtigheid ontferm moet word; wie se klere, wat deur sondige luste besmet is, verafsku moet word – Judas praat nie hier van die gelowige wat hel toe gaan nie, hy praat oor hulle dade, of gedrag.


Wanneer ons probeer om ander gelowiges wat van die waarheid weggeval het, terug te bring, moet ons self versigtig wees om nie ook in hul sonde te verval nie.


 

10 Mei 2022

JUDAS 1:24-25 AFR53

“Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.”


Judas sluit sy brief af deur God se krag te demonstreer in drie voorbeelde.


1. God is magtig om jou van struikeling te bewaar!


Judas het ons geleer dat vals profete baie van God se mense op ‘n dwaalspoor sal lei met hul vals leringe. Maar, God is kragtig om elkeen wat in Sy beskerming wandel te red wanneer ons struikel.


“En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.” EFÉSIËRS 3:20-21 AFR53


2. God is magtig om jou sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel!


Ons kan nie ons eie sondes vergewe, of onsself die ewige lewe gun nie. Net God is daartoe instaat, deur sy Seun, ons Verlosser, die Here Jesus Christus.


“Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.” HEBREËRS 10:10 AFR53


3. God is magtig om jou met groot vreugde te seën!


Judas se frase “met gejuig”, beteken dat, wanneer die Here kom, ons nie net vry sal wees van blaam en skaamte nie, maar ons sal jubel met vreugde vêr verby die gelukkigste oomblikke van hierdie lewe. En dit sal ‘n ewige vreugde wees.


“Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.” OPENBARING 22:20-21 AFR53


Aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.


 

378 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page