Hierdie fees is die sewende en laaste van die feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Sukkot word gevier vyf dae na Yom Kippur op Tishri 15 en begin sononder hierdie jaar op 23 September 2018.
“Dit is die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan die Here ’n vuuroffer te bring: ’n brandoffer en spysoffer, ’n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe; behalwe die sabbatte van die Here en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan die Here gee. Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van die Here sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God vrolik wees. En julle moet dit as fees van die Here sewe dae in die jaar vier. Dit is ’n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier. Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God.” LEVÍTIKUS 23:37-43 AFR53
Elkeen van die sewe feeste word elke jaar gevier om iets te onthou van wat God in die verlede gedoen het en om vorentoe te kyk na ‘n profetiese gebeurtenis wat in die feeste versteek is.
Die feestye of afsprake is dus kleedrepetisies vir toekomstige gebeurtenisse.
Feestye – ‘n afspaak, vaste tyd of seisoen
Vierdae – Strongs H4744 = miqra’ = kleed repetisie
Wat moet ons onthou op die feesdag?
Die fees is sewe dae lank. Die eerste en agtste dae van die fees is rusdae. Almal moet gedurende die sewe dae in hutte woon, tydelike woonplekke, sodat elke nageslag kan onthou hoe God die kinders van Israel uit Egipte uitgelei het en dat die Israeliete vir veertig jaar in tydelike hutte gewoon het.
Die hutte word gewoonlik gebou met drie mure wat van gevlegde takke gemaak word. Die dak word ook van takke gemaak sodat die sterre in die aand deur die dak gesien kan word. Die binnekant word versier met die gekleurde groente en vrugte wat die tyd van die jaar geoes word. Die Joodse families sal hul maaltye in die hutte nuttig en soms ook daarin slaap.
Wie moet die feeste bywoon, en watter feeste is verpligtend om by te woon?
Drie maal ‘n jaar moet al die Joodse mans optrek na die plek wat God uitverkies, om drie feeste te vier. Die fees van ongesuurde brode tydens die lente feeste, Pinkster wat vyftig dae later is, en dan die huttefees wat deel vorm van die herfs feeste.
“Drie maal in die jaar moet jy vir My ’n fees hou. Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek — maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie; verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel. Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here Here verskyn.” EXODUS 23:14-17 AFR53
“Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie;” DEUTERONÓMIUM 16:16 AFR53
Tydens elke jubeljaar (elke sewende jaar) moet die hele volk en die vreemdelinge in hul poorte bymekaar kom op die huttefees sodat die priester vir hulle die wet kan voorlees, sodat hulle kan hoor en kan leer om God te vrees en die woorde van die wet te onderhou.
“En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees, as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die Here jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die Here julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die Here julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.”
DEUTERONÓMIUM 31:10-13 AFR53
Wat beteken die woorde ‘hierdie wet’.
Die hebreeus vir wet is Torah – wat in engels beteken: Instruction, teaching or law – meer spesifiek verwys dit na die eerste vyf boeke van die Bybel. In die vers hierbo waar Moses praat van hierdie wet uitlees, moet hulle die eerste vyf boeke van die Bybel uitlees vir almal teenwoordig, sodat hulle meer van God kan leer.
Daar is ‘n betekenis vir elk van die vier vrugte wat hier in vers 40 van gepraat word.
“En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van die Here julle God vrolik wees.” LEVÍTIKUS 23:40 AFR53
Die vier vrugte vorm tradisioneel deel van die hutte fees, en kan selfs gesien word as ‘n uitbeelding van die vier tipes grond in die gelykenis van die saaier.
Rivierwilger:
– beweegoffer: twee wilgertakke word in die regterhand gehou
– die takke het geen geur, en dra geen vrugte
– “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ’n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.” LUKAS 8:5 AFR53
Mirtel:
– beweegoffer: drie takke word in die regterhand gehou
– die takke ruik lekker, en dra geen vrugte
– “En ’n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.” LUKAS 8:6 AFR53
Lulav:
– beweegoffer: ‘n dadelpalm tak word in die regterhand gehou
– die takke het geen reuk, en dra vrugte
– “En ’n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. En ’n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.” LUKAS 8:6-7 AFR53
Etrog (sierlike bome): ‘n boom wat vrugte soos suurlemoene dra
– beweegoffer: een vrug word in linkerhand gehou
– dra ‘n sitrus vrug met ‘n heerlike geur
– “En ’n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!”
LUKAS 8:8 AFR53
Die takke en vrug word gedurende die fees in die sinagoge in ‘n beweeg offer gebruik, al die dae van die fees behalwe die sabbat dae.
Elkeen van die drie groepe feeste vind plaas tydens spesifieke oestye.
Paasfees – Gort
Pinkster – Koring
Sukkot – Vrugte
Die fees van hutte, word ook genoem die fees van insameling / feast of ingathering. Hierdie fees vind plaas tydens die herfs seisoen wat ‘n voorstelling is van die eindtye. Kom ons kyk na Jesus se verklaring van die gelykenis van die onkruid, om so te sien wat met die mensdom gebeur tydens die voleinding van die wêreld – die laaste oes.
“en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,” MATTHÉÜS 13:38-41 AFR53
Wat lees ons in Openbaring van hierdie tye?
“En ’n ander engel het uit die tempel gekom en met ’n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai. En ’n ander engel het uitgekom uit die tempel wat in die hemel is, en hy het ook ’n skerp sekel gehad; en ’n ander engel wat mag oor die vuur gehad het, het uit die altaar uitgekom en met ’n groot stem geroep na hom wat die skerp sekel het, en gesê: Slaan jou skerp sekel in en samel die trosse van die wingerdstok van die aarde in, want sy druiwe het ryp geword. En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.” OPENBARING 14:15-19 AFR53
Hierdie fees word ook genoem – die fees van nasies.
Gedurende Yom Kippur, die vorige fees, is versoening gemaak vir die nasie Israel. Tydens Sukkot, hierdie fees, word versoening gemaak vir die sewentig nasies van die wêreld.
“En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet — vir hulle is daar seuns gebore ná die vloed.
Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.” GÉNESIS 10:1, 32 AFR53
“Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.” DEUTERONÓMIUM 32:8 AFR53
“En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.” EXODUS 1:5 AFR53
Uit bogenoemde verse sien ons dat 70 siele uit Jakob afgestam het, en vandaar die 70 nasies vir wie God ‘n erfdeel gegee het volgens die getal van die kinders van Israel.
In Numeri 29:13 tot 32 lees ons dat daar 70 bulle geoffer word tydens die Fees van Tabernakels.
Dag 1 – 13 bulle
Dag 2 – 12 bulle
Dag 3 – 11 bulle
Dag 4 – 10 bulle
Dag 5 – 9 bulle
Dag 6 – 8 bulle
Dag 7 – 7 bulle
Totaal 70 bulle
Jesus kom terug, Hy gaan met Sy voete op die Olyfberg staan en die berg middeldeur skeur, en dan met Sy Millenium heerskappy begin. Kom ons kyk eers wat Sagaria profeteer.
“En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.
SAGARÍA 14:3-4 AFR53
En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie — hulle sal geen reën kry nie. En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die Here die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.” SAGARÍA 16-19 AFR53
G
od wou nog altyd en gaan in die toekoms by Sy mense kom woon of tabernakel. Die eerste keer wat God by Sy mense kom tabernakel het was in die eerste tempel.
“Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak.” EXODUS 25:8-9 AFR53
“En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” OPENBARING 21:3 AFR53
“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” MATTHÉÜS 25:31-34, 41 AFR53
Die sewe feeste wat God vir Moses in Levitikus gegee het, gee vir ons ‘n voorstelling van Jesus se eerste en tweede koms.
Jesus is tydens Paasfees gekruisig, Hy het ‘n sondelose lewe gelei en is begrawe tydens die Fees van Ongesuurde Brode, en het drie dae later opgestaan uit die dode op die Fees van Eerste Vrugte.
Vyftig dae later op die Pinkster Fees is die Heilige Gees uitgestort op Jode en Heidene wat Jesus as hul Verlosser aanvaar het. Die eerste vier feeste het tot op jota en titel van die Woord tot vervulling gekom met Jesus se eerste koms.
Nou sien ons uit na Jesus se tweede koms in die volgende drie feeste.
Die Fees van Trompette wys vir ons die wegraping van die Christene, die Dag van Versoening (Yom Kippur) wys vir ons dat God nie klaar is met die Joodse volk nie, en dat die Joodse nasie as geheel tot bekering gaan kom, en laastens met die Fees van Tabernakels (Sukkot) wag ons vir die Millenium wat plaasvind na die sewe jaar verdrukking. Die duisendjarige vrederyk waar ons saam met Jesus gaan woon in afwagting vir die nuwe hemel en die nuwe aarde soos hieronder beskryf.
“
En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” OPENBARING 21:1-8 AFR53
Comments