top of page
  • Regina Torre

6de Fees: Fees van Versoening / Yom Kippur –

Updated: Jan 30, 2023

Die fees het vanaand 18/9/18 net na sononder begin.


Die tweede van die Herfs Feeste (en die sesde fees in totaal) is Yom Kippur en word 10 dae na die Fees van Trompette op Tishri 10 gehou. (sononder 18/9/18 tot sononder 19/9/18).


“Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ’n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ’n vuuroffer bring.

LEVÍTIKUS 23:27 AFR53


Op die tiende van die sewende maand is dit die versoendag. Julle moet dan ‘n gewyde byeenkoms hou, en julle moet vas en aan die Here offers bring.” LEVITIKUS 23:27 AFR83


“Also on the tenth day of this seventh month there shall be a day of atonement: it shall be an holy convocation unto you; and ye shall afflict your souls, and offer an offering made by fire unto the Lord.” Leviticus 23:27 KJV


Kom ons kyk wat van die woorde van die vers beteken, en dan lees ons weer die vers met die verstaanbare woorde.


Versoendag / atonement - Yom beteken dag en Kippur beteken bedek of covered – soos in ‘bedek deur die bloed van Jesus.’ Yom Kippur in afrikaans is dus Dag van Bedekking.


Vierdag / convocation is die Hebreeuse woord miqra wat kleedrepetisie beteken.


Verootmoedig / afflict your soul – om nederig te wees voor God, in die geval om te vas.


My vertaling –

Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit ‘n dag van bedekking. ‘n Heilige kleedrepetisie moet dit vir julle wees, en julle moet vas en aan die Here ‘n vuuroffer bring.


Wat het op die eerste Yom Kippur na die uittog uit Egipte gebeur.


“En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ’n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die Here opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen. En Moses het na die Here teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ’n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het! Toe het die Here Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek.” EXODUS 32:30-33 AFR53


Moses is vir ‘n tweede keer op met die berg Sinai nadat die volk die goue kalf aanbid het, en hy vra vir God om die volk van hierdie sonde te vergewe. Hy was vir veertig dae op die berg terwyl die volk in benoudheid vir hom gewag het.


Die dertig dae voor die Fees van Trompette is die maand Elul, en die dertig dae word gebruik om jou hart te deursoek en nader na God te beweeg ter voorbereiding van die Fees van Trompette en tien dae later Yom Kippur. Dit gee vir ons veertig dae wat die volk gewag het om te hoor of Moses as tussenganger hul sondes vir die jaar kon bedek.


Ons weet uit wat ons tevore geleer het iets van die dag. Hierdie is die een dag in die jaar wat die hoëpriester by die tweede tabernakel ingaan en versoening gaan doen, eerste vir homself en dan vir die volk as geheel. Hierdie tweede gedeelte van die tabernakel het deur die tye bekend geraak as die ‘Holy of Holies’ maar dit word egter nooit so in die Bybel beskryf nie.


“En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul, maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan —” HEBREËRS 9:6-7 AFR53


Hoekom moet bloed gebruik word om vir sondes te betaal.


“Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.” LEVÍTIKUS 17:11 AFR53


“For the life of the flesh is in the blood: and I have given it to you upon the altar to make an atonement for your souls: for it is the blood that maketh an atonement for the soul.” Leviticus 17:11 KJV


Daar is lewe in bloed, en die lewe in die bloed bewerk versoening vir ons siele. Dis hoekom Jesus vir ons sondes, met Sy bloed aan die kruis gesterf het.


Op Yom Kippur vra die hoë priester vir God om die sondes van die volk Israel vir die volgende jaar te bedek. Hierdie is ‘n feesdag van nasionale versoening, waar met Paasfees elke individu besluit om Jesus as Saligmaker te aanvaar.


Hoe word Yom Kippur elke jaar gevier.


“Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ’n jong bul as sondoffer en ’n ram as brandoffer. Hy moet ’n heilige linnerok aantrek en ’n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ’n linnegordel moet hy hom gord en ’n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek. En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem.”

LEVÍTIKUS 16:3-5 AFR53


Die hoë priester moet wit klere aantrek. Die wit klere dui op geregtigheid / righteousness.


“Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen.” LEVÍTIKUS 16:6 AFR53


Die eerste offer is vir die hoë priester homself en sy huis.

“Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die Here stel by die ingang van die tent van samekoms. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei; maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.” LEVÍTIKUS 16:7-10 AFR53


Die tweede offer is vir die volk Israel.

Twee eenderse bokke word gebruik, en die lot word oor hulle gewerp. Die een lot is vir God – die bok word geoffer en sy bloed word op die altaar gesprinkel. Die ander bok, Asasel is die ‘scape-goat’ en word uit die kamp gejaag.


Die twee bokke saam wys vir ons ‘n prentjie van Jesus wat vir ons almal se sondes gesterf het. Die woord Asasel beteken skeiding. Die eerste bok (die een waarop God se lot geval het) verteenwoordig die volk se sondes wat bedek is deur sy bloed. Die ander bok wys vir ons hoe ons sondes sigbaar verwyder word. Die bok word met die vlk se sondes in die woestyn ingestuur om nooit weer terug te kom nie. Omdat die bok soms teruggekom het, is die bok oor ‘n afgrond gegooi om seker te maak hy bly weg.


Wat gebeur op Yom Kippur in die Jubeljaar.


Wat is die jubeljaar en hoe word die jaar bepaal.

“Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege-en-veertig jaar is. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ’n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.” LEVÍTIKUS 25:8-10 AFR53


“And thou shalt number seven sabbaths of years unto thee, seven times seven years; and the space of the seven sabbaths of years shall be unto thee forty and nine years. Then shalt thou cause the trumpet of the jubilee to sound on the tenth day of the seventh month, in the day of atonement shall ye make the trumpet sound throughout all your land. And ye shall hallow the fiftieth year, and proclaim liberty throughout all the land unto all the inhabitants thereof: it shall be a jubilee unto you; and ye shall return every man unto his possession, and ye shall return every man unto his family.” Leviticus 25:8-10 KJV


Ons kyk nou wat Jesus gedoen het toe Hy Sy bediening begin het.

Eers gaan ons terug na Jesaja 61 waar Jesaja praat van die jubeljaar. Die jaar van welbehae in die vers hieronder verwys na die jubeljaar.


“Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die Here en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;” JESAJA 61:1-2 AFR53


Die vers klink bekend, en dit is. Dit is die vers wat Jesus gelees het aan die begin van Sy bediening, net nadat Hy veertig dae in die woestyn deur Satan versoek is..


“En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei, waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.” LUKAS 4:1-2 AFR53


“En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ’n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” LUKAS 4:14-21 AFR53


Yom Kippur is altyd ‘n sabbatdag, maak nie saak watter dag van die week dit op val nie.

In die sinagoge word Jesus die boek van die profeet Jesaja gegee, en Hy lees die vers waarna ons nou gekyk het. Net nog ‘n voorbeeld van profesie wat tot vervulling kom.


Let wel, die profesie is tweeledig met ‘n naby en vêr vervulling. Jesus lees net tot by die aankondiging van die jubeljaar.


En op watter dag sou Jesus hierdie gedeelte in die sinagoge gelees het – reg geraai, Yom Kippur.


As ons nou weer Levitikus 25 lees waar die jubeljaar se instruksies gegee word, sal ons die vers met meer insig verstaan.


“Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege-en-veertig jaar is. Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand, ’n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan. En julle moet die vyftigste jaar heilig en ’n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.” LEVÍTIKUS 25:8-10 AFR53


Niemand in die sinagoge het gehou van wat Jesus vir hulle gelees het nie en hulle wou Hom soos die ‘scape-goat’ van die kranse afgooi.


“En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.” LUKAS 4:28-30 AFR53


Is dit nie ‘n openbaring om nuwe insigte te kry in dit wat ons lees, en om te sien hoe profesie tot vervulling kom nie, en dan op die dag wat ons hier behandel!


Die laaste deel van Jesaja 61:2 moet dus in die eindtye, op die dag tot vervulling kom.


"om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die Here en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;” JESAJA 61:2 AFR53


Kom ons vergelyk Levitikus en Openbaring, en kyk wat die uitkoms is.


“Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is, en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die Here wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die Here, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.”

LEVÍTIKUS 16:11-15 AFR53


Maak die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar, en bring dit saam met twee hande vol fyngestampte reukwerk in die tweede tempel in. Gooi die reukwerk op die gloeiende kole sodat die versoendeksel met ‘n wolk oortrek word. Die priester doen dit sodat hy God nie kan sien nie, en bly lewe. Dan slag hy eers die bul en dan die bok, en sprinkel die bloed aan die binnekant van die voorhangsel, eers vir homself en dan vir die volk.


“Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” PSALMS 141:2 AFR53


Ons gebede is soos die reukwerk wat die priester op die kole gooi.


“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?” OPENBARING 6:9-10 AFR53


“En ’n ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing. En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas.” OPENBARING 8:3-6 AFR53


Wat gaan volgens die profesië met Israel gebeur.

Ons gaan nou sien dat God nog lank nie klaar is met Sy volk, die Jode nie. Die Christene het nie die plek van die Joodse volk ingeneem nie, en dus is die vervangings teologie wat dit verkondig volgens my ‘n valse leer. God verbreek nie Sy beloftes nie, en die verbond wat Hy met Abraham gesluit het moet nog tot vervulling kom.


Die verbond tussen God en Abraham

‘n Verbond is ‘n kontrak tussen twee mense. Daar is basies twee soorte kontrakte – voorwaardelike en onvoorwaardelike kontrakte.


‘n Voorwaardelike kontrak is bindend op beide partye wat instem om sekere voorwaardes na te kom. Indien een van die partye nie die voorwaardes nakom nie, is die verbond verbreek.


‘n Onvoorwaardelike kontrak is slegs bindend op een van die twee partye, en die ander party het geen verantwoordelikhede nie.


Die verbond wat God met Abraham gesluit het in Genesis 12 is so ‘n onvoorwaardelike kontrak. Al die verantwoordelikhede rus by God en Abraham het geen verantwoordelikhede nie.


Die kontrak behels die volgende.


‘n Belofte van grond

“En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.” GÉNESIS 12:1 AFR53


‘n Belofte van ‘n groot nageslag

“En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees.” GÉNESIS 12:2 AFR53


‘n Belofte van seëninge

“En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” GÉNESIS 12:3 AFR53


God sluit met Abraham die verbond terwyl Abraham slaap.

“En Hy antwoord hom: Neem vir My ’n driejaaroud vers en ’n driejaaroud bokooi en ’n driejaaroud ram en ’n tortelduif en ’n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. En toe die son wou ondergaan, val daar ’n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.

Op dié dag het die Here met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:” GÉNESIS 15:9-12, 18


God het, en gaan nog in die toekoms, Sy verbond met Abraham letterlik vervul. Die Jode het nog net ‘n klein gedeelte van die land wat God deur die verbond aan Abraham beloof het beset. Die res van die beloofde grond moet nog deur die Jode beset word.


Yom Kippur is ‘n nasionale dag van versoening, en die hele Israel sal eendag in die toekoms op die dag bekeer en gered word.


“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem. Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.” ROMEINE 11:25-29 AFR53


“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind.” SAGARÍA 12:10 AFR53


“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. So sê die Here wat die son gee tot ’n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ’n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, Here van die leërskare is sy Naam: As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ’n volk te wees voor my aangesig vir altyd.” JEREMIA 31:31-36 AFR53

17 views0 comments

Recent Posts

See All

7de Fees – Fees van Tabernakels / Sukkot

Hierdie fees is die sewende en laaste van die feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Sukkot word gevier vyf dae na Yom Kippur op Tishri 15 en begin sononder hierdie jaar op 23 September 2

Die Herfs Feeste: Inleiding & Fees van Trompette

Ons is besig met ‘n studie van die 7 feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Tot dusver het ons die lente feeste bestudeer en ons gaan nou na die herfs feeste kyk. Die profesië van die len

4de Fees – Pinkster / Pentacost / Shavuot

God het vir Moses in Levitikus 23, 7 feeste gegee wat elke jaar gehou moet word. Hierdie is God se feeste en wat tot eer van God gevier moet word. Die feeste word opgedeel in 3 groepe. Drie feeste wor

  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page