top of page
  • Regina Torre

27/09/2017 – Jakobus

Updated: Feb 1, 2023

Jakobus

Inleiding – Geloof is ‘n werkwoord!


Martin Luther het geglo dat hierdie boek nie in die Bybel hoort nie omdat dit te werk gerig is. Hy het vir ‘n tydperk geglo dat die boek in teenstelling is met wat Paulus ons leer in sy geskrifte, dat ons uit genade alleen gered is, en nie uit ons werke nie!


Effesiers 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;


Romeine 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus;


Galasiers 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.


Hoekom sê Jakobus dan dat ons moet ‘werk’ !


Jakobus 2:14 Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie?


Jakobus 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.


Jakobus 2:20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? 21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? 22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? 23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. 24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?

In Hebreers 11 en Psalm 119 leer ons dat geloof en werke saamwerk tot ‘n geheel.


Psalm 119:1 Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. 2 Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; 3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. 4 U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.


Hebreers 11:7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin


Hebreers 11:8 Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang

In die boek Openbaring lees ons:

Openbaring 14:12 Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.


Hebreers 11:6 leer ons dat: sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. So hoe moet ons ons geloof uitleef? – Dit is wat die boek Jakobus ons gaan leer.


Wie was Jakobus wat die boek geskryf het?


Jakobus was heel waarskynlik die half broer van Jesus. Hy was nie ‘n gelowige tydens Jesus se tyd op aarde nie.    


Johannes 7:5 Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.


Waarom die verandering? Heel moontlik omdat Jesus na Sy opstanding aan hom verskyn het.  


1 Korintiers 15:7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;


Toe Paulus hom ontmoet het was hy ‘n gerespekteerde leier in die kerk.


Galasiers 1:19 en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.


Galasiers 2:9 en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, …..


Jakobus se bynaam was ‘old camel knees’ omdat hy so baie tyd op sy knieë in gebed deurgebring het.

Hoofstuk 1 – Hoe lyk ‘n volwasse Christen


Groet aan die 12 Joodse stamme wat oor die wêreld verstrooi is en tussen die heidene woon.

1 Jakobus, ‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme in die Diaspora:   Gegroet!


Beproewings wat ons geloof toets, sodat ons volwasse Christene kan word.


2 Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande beproewings julle oorval, 3 omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding bewerkstellig. 4 Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.


Wysheid is skatte wat ons kry deur ons Bybel te lees, soos om silwer uit ‘n myn uit te werk.


5 As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.


Spreuke 2: 3 ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, 4 as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, 5 dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind 6 want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand,


6 Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word. 7 Want so ‘n mens moenie dink dat hy enigiets van die Here sal ontvang nie. 8 Hy is ‘n weifelende mens, onbestendig in alles wat hy doen.


Matt 7:7 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.


Markus 11:24 Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.


Versoekinge wat oor jou pad kom moet jy teenstaan en nie vertroetel nie!


12 Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. 13 Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. 15 Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.


God gee goeie gawes

16 Moenie mislei word nie, my geliefde broers. 17 Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie.


Die Woord van God wys ons wat om te doen

19 Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. 20 Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie. 21 Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is en daartoe in staat is om julle siele te verlos. 22 Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23 Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24 Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25 Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.

Hoofstuk 2 – ‘n Volwasse Christen doen en leef die Woord

Moet nie mense beoordeel op hul uiterlike nie – loving faith


8 As julle wel die koninklike wet vervul volgens die Skrif: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. 9 As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel.


Leef jou geloof

15 As ‘n broer of ‘n suster sonder klere en daaglikse kos is, 16 en een van julle sê vir hulle: “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? 17 So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood. 18 Maar as iemand sê: “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade en ek sal jou uit my dade my geloof wys.


Demone is nie ateïste nie – ook hulle glo in die bestaan van God


19 Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit en hulle bewe.


Lukas 8:30 Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio—want baie duiwels het in hom ingevaar. 31 En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.


Matteus 8:29 En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig?


Dinamiese geloof is geloof wat gehoorsaam is.

Hoofstuk 3 – ‘n Volwasse Christen beheer sy/haar tong


1 Moenie almal leermeesters wil wees nie, my broers, omdat julle weet dat ons strenger geoordeel sal word. 2 Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy ‘n volmaakte man en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou.


Vergelykings van die mag van die tong

3 Ons sit stange in perde se bekke sodat hulle ons gehoorsaam en daarmee stuur ons hulle hele liggaam.

4 Kyk, selfs skepe, hoewel hulle so groot is en deur hewige winde aangedryf word, word met ‘n baie klein roer gestuur na waar die stuurman wil.

5 So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand! 6 Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand en word uit Gehennal aangesteek.

7 Want elke soort wilde dier en voël en kruipende dier en seedier word en is getem deur die mensdom. 8 Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. 9 Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. 10 Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie.


Hemelse en aardse wysheid


13 Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. 14 Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem en teen die waarheid lieg nie. 15 Dít is nie die wysheid wat van bó kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. 16 Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. 17 Maar die wysheid van bó is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. 18 En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.

Hoofstuk 4 – ‘n Volwasse Christen maak vrede en nie oorlog nie


Ons bid verkeerd


2 Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord en is vol jaloesie en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie.

3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.


Moet nie ‘n vriend van die wêreld wees nie


4 Egbrekers! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5 Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die Gees wat Hy in ons laat woon het?


Weerstaan die duiwel, en beweeg nader na God toe.

7 Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. 8 Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges. 9 Weeklaag en treur en huil. Laat julle lag in droefheid verander en julle blydskap in somberheid. 10 Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.


Wees afhanklik van God


13 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan en ‘n jaar daar deurbring en handel dryf en wins maak.” 14 Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ‘n miswolkie wat net vir ‘n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. 15 Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” 16 Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. 17 As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde.

Hoofstuk 5 – ‘n Volwasse Christen bid


Wees geduldig tot die wederkoms van die Here


7 Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde tot die vroeë en laat reën geval het. 8 Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. 9 Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur.


Job se geduld!


10 Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. 11 Kyk, ons beskou hulle wat volhard as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.


Die gelowige se gebed – die beste gebruik van die tong.


13 As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing.

Wat moet die siekes doen

14 As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente roep sodat hulle vir hom kan bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. 15 Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word.   16 Bely dan julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.


Elia as voorbeeld van iemand wat opreg bid


17 Elia was ‘n mens net soos ons en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. 18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug opgelewer.


Ons moet bid vir afgedwaalde Christene


19 My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid en iemand hom laat terugdraai, 20 moet hy weet dat wie ‘n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.


Lukas 22: 31 En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. 32 Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.


Opsomming van die boek deur vrae aan myself te vra!

  1. Is ek nou meer geduldig wanneer ek getoets word?

  2. Vertroetel ek versoekings, of weerstaan ek dit van die begin af?

  3. Vind ek vreugde daarin om die Woord van God te gehoorsaam, of is ek net ‘n student wat leer?

  4. Is daar vooroordele wat my gevange hou?

  5. Het ek al geleer om my tong te beheer?

  6. Maak ek vrede of oorlog?

  7. Kom mense na my toe vir geestelike wysheid?

  8. Is ek ‘n vriend van God, of van die wêreld?

  9. Maak ek toekomsplanne sonder om God se wil in berekening te bring?

  10. Is ek selfsugtig wat geld betref, betaal ek my skuld op tyd?

  11. Maak ek natuurlik staat op gebed as ek in die een of ander moeilik is?

  12. Is ek die tipe persoon wat deur ander mense genader word vir gebedsondersteuning?

  13. Wat is my houding teenoor ‘n afgedwaalde broeder of suster, kritiseer ek of probeer ek help in liefde?

9 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page