top of page

22/3/2017 – Handelinge hoofstukke 1-12

Updated: Feb 1, 2023

Week 17 – Handelinge / Acts (Hoofstukke 1 – 12)


Hoe het Jesus die profetiese betekenis van die Joodse feeste vervul


Amos 3:7 – Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.


Kolossense 2:16 – Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,


Kolossense 2:17 – wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge;


Ons sien van Genesis tot Openbaring dat God met ‘prentjies’ keer op keer vir ons Sy plan vir die mensdom wys. Een van die profetiese prentjies sien ons in die 7 feeste van Moses.


Die Hebreeuse woord vir feeste (moadim) beteken letterlik vasgestelde tye / appointed times.


Wat is die 7 feeste en wat is hul betekenis?


1ste 4 feeste vind plaas in die lente, en almal is reeds vervul deur Jesus in die Nuwe testament.


Paasfees / Passover

  • Jesus se bloed het gevloei vir ons sondes toe Hy gekruisig is.

  • Jesus is gekruisig op dieselfde tyd as wat die paaslammers geslag is in voorbereiding van die Paasfees, wat 6 uur die aand begin het.

Ongesuurde brode / Unleavened bread

  • Die fees dui op Jesus se sondelose lewe, vandaar die ongesuurde brode

  • Suurdeeg / leaven dui op sonde

  • Die brood (sonder sonde) word gebreek soos Jesus se liggaam gebreek is, ter nagedagtenis aan Hom

  • Jesaja 53: 4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.

  • Jesaja 53: 5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Eerste vrugte / First fruits

  • Jesus se opstanding word hier gevier.

  • Paulus se in 1 Korintiers 15:20 – Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.

Fees van Weke of Pinkster / Weeks or Pentacost

  • Die fees is 50 dae na die begin van die fees van ongesuurde brode, en dui op die groot oes van siele en die uitstorting van die Heilige Gees

  • Die kerk se begin vind op die dag plaas

Die laaste 3 feeste vind plaas in herfs, en moet nog vervul word. Die feeste vind almal plaas in ‘n tydperk van 15 dae


Feast of Trumpets – Wegraping / Rapture

Day of Atonement – 2de Koms van Jesus

Feast of Tabernacles – Die fees kan dui op God se belofte dat Hy weer tussen Sy mense sal ‘tabernakel’ of kom woon.


Die Heilige Gees


Johannes 14:26 – maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.


Johannes 16:13 – Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.


Johannes 16:7 – Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;


Die Handelinge van die Apostels


Dissipel – ‘n persoon wat ‘n leerling of volgeling is

Apostel – ‘n persoon wat uitgestuur word


Die boek is deur Lukas geskryf ongeveer 65 AD.


Hoofstuk 1 – Jesus se hemelvaart


1 Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het

2 tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;

3 aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.

4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.

5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.

8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.


Krag / Power kom van die griekse woord Dunamis


Die Heilige Gees gee vir ons krag om getuies van God te wees.


9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,

11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.


Petrus het verder in die hoofstuk met die dissipels gepraat en gese dat hulle om ‘n voltallige 12 te wees, iemand in die plek van Judas moet kies, en die vereistes was:

  1. 21 Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het,

  2. 22 van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.

Hulle het die lot gewerp en vir Matthias gekies.


Later in die geskrifte sal ons agterkom dat Jesus vir Paulus gekies het as die 12 dissipel.


Hoofstuk 2 – Die uitstorting van die Heilige Gees


1 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.

2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.

3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.

4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.


Die tale wat hulle gepraat het was verteenwoordigend van die mense wat daardie dag teenwoordig was, en almal kon in hul eie taal hoor hoe God verheerlik en geprys word.


5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.

6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;

7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie?

8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?

9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië,

10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote,

11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.

Die profesie wat hier vervul is, was die van die profeet Joël

16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is:

17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.

18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.

19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.

20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.

21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.


Petrus het hierna met die volk gepraat:

22 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet—

23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;

24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.

32 Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.

33 Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.

36 Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.

41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.


Hoofstuk 3 – Die genesing van die kreupel gebore man


Petrus & Johannes is oppad na die tempel


1 En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur.

2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan.

3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra.

4 En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.

5 En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang.

6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!

7 Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.


Die hele volk het in verwondering gestaan


12 En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?

13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat.

14 En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word,

15 en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is.

16 En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.

17 En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes;

18 maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly.

19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,


Hoofstuk 4 – Petrus & Johannes voor die Joodse raad


1 En terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom,

2 baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.

3 En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand.

4 En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyf duisend geword.


Die volgende dag kom al die owerstes, ouderlinge, skrifgeleerdes, Annas die Hoepriester, en Kajafas in Jerusalem bymekaar. Hulle hou glad nie van wat hier gebeur nie, en besluit om dit onmiddelik stop te sit.


Petrus en Johannes verskyn voor almal, en hier sien ons hoe die Heilige Gees vir Petrus mannemoed gee om met vrymoedigheid te spreek.


7 en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?

8 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel,

9 as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het,

10 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.

13 En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.

14 En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie.

15 Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag

Hulle word toe teruggeroep nadat beraadslag is

18 En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.

19 Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;

20 want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.

21 En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.


Hierna het al die christene bymekaar gekom en gebid en almal teenwoordig is deur die Heilige Gees vervul. Die mense daar teenwoordig het al hul besittings vir die kerk gegee en onder mekaar verdeel. ‘n Man met die naam Joses het selfs ‘n stuk grond verkoop en die opbrengs vir die apostels gegee.


Hoofstuk 5 – Ananias & Saffira


1 Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,

2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?

4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.

5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.


Toe sy vrou inkom het sy dieselfde storie gehad en is ook net daar dood.


Die twee het nie dood neergeval omdat hulle net ‘n gedeelte van hul geld gegee het nie, hulle is gestraf omdat hulle voorgegee het dat hul als gegee het om beter te lyk voor die mense.


14 En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,

15 sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.


Weereens het die Joodse Raad glad nie gehou van wat hier gebeur nie. Die apostels is gevang en in die tronk gestop.


19 Maar ‘n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:

20 Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.

21 En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer.


Die hoepriesters laat haal hulle die volgende dag uit die tronk uit, maar hoor dat hulle ontsnap het. Met verbystering het die manne gese dat die tronk nog als toegesluit is, maar die apostels is weg, hulle was nie in hul sel nie.


‘n Ander kom vertel hulle dat die apostels besig is om in die tempel te preek. Die apostels word toe sonder geweld voor die Raad gebring, want hulle was bang vir die volk wat die apostels aanhang.


28 Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.

29 En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.

30 Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang.

31 Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.

32 En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.


Die Raad was woedend toe hulle die hoor, maar een van hulle, Gamáliël se die volgende:


35 Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne;

36 want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het ‘n aantal mense—omtrent vier honderd—aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.

37 En ná hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en ‘n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.

38 En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word;

39 maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.

40 En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.

41 Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.

42 En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.


Hoofstuk 6


Kies van diakens


2 En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie.

3 Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel;


Duidelik het hulle so gegroei dat die apostels nie meer al die werk kon doen nie, en hulp was nodig. Die diakens sal na die behoeftes van die mense omsien, en die apostels sal voortgaan om siele te wen vir Jesus.


Stefanus – die 1ste martelaar vir Christus


8 En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.

9 En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis.

10 Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.

11 Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.

Stefanus word toe aangekla!

15 En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.


Hoofstuk 7


Stefanus gee die Raad wat hom oordeel ‘n goeie geskiedenis les:

  1. Hy begin by Abraham, Isak en Jakob die vader van die 12 stamme van Israel.

  2. Hy vertel dat alhoewel dit gelyk het dat Josef deur God verlaat was, het als goed uitgewerk op die ou end met Josef wat die Farao se regterhand was en kos voorsien het aan sy broers.

  3. Die volk Israel het die belofte gehad dat hul uit die land van Egipte verlos sou word na die Beloofde Land.

  4. Self Moses was verwerp deur die Israeliete en het eers op 80 jaar die volk uit Egipte uitgelei.

  5. Hy vertel van die 40 jaar in die wildernis, en van Joshua wat oorneem by Moses.

  6. Soos Josef en Moses vir eers nie deur die volk erken was nie, so ook is Jesus nie deur die volk erken met Sy eerste koms nie.

  7. Die profete van die Ou Testament het van Jesus gepraat, maar die volk wou nie die woorde hoor nie en het die profete vervolg.

  8. Hy vertel hulle dat hul nie die wet wat hul ontvang het onderhou nie.

Die wat na Stefanus geluister het, het glad nie gehou van wat hul gehoor het nie, want hulle is geoordeel. Hulle was woedend en het hom gestenig.


55 Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.

57 Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm.

58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.

59 En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!

60 En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.


Hoofstuk 8


1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.

2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe.

3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.


Saulus kom hier in die prentjie om vir ons te wys hoe wreed hy was, en dat hy die Christene met ‘n passie gehaat het.


Ons moet onthou wat Jesus gese het in hoofstuk 1


Handelinge 1:8 – maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.


Die apostels het in Jerusalem gebly waar hulle deur Jesus aangese was om uit te gaan na die res van die wereld. So die vervolging was deel van die plan om die Christene uit te kry uit Jerusalem na waar hulle moes gaan.


4 En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.


Filippus is na Samaria waar die mense ag gegee het op sy woorde toe hulle die tekens sien wat hy doen.


In Samaria was daar ‘n sekere Simon wat met towerkragte (duiwels) die mense verbyster het.


Toe Filippus nou op die toneel verskyn, het die Simon se aansien erg verminder. Simon self het ook ‘n gelowige geword en was verbaas oor die kragte en tekens wat Filippus gedoen het.


14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.

15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,

16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.

17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Simon wat ook die kragte van die Heilige Gees wou he, het hulle geld aangebied vir die magte. Groot fout!

20 Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.

24 Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.


Die Ethiópiër


26 En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad.


Filippus het geluister en gegaan. Hy het op die stadium nog geen idee gehad hoekom nie, hy het net geluister. Dis wat ons ook moet doen. As God met ons praat moet ons gaan al het ons geen idee wat voorle nie, ons handel op ‘n ‘need to know’ basis. Soos jy aanhou luister en verder stap sal die volgende opdragte deurkom.


27 Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.


Die man het ‘n gedeelte van Jesaja gelees wat hy nie verstaan het nie, en Filippus het by Jesaja begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. Toe hulle verby water ry, vra die man of hy gedoop kan word, wat Filippus toe wel gedoen het.


37 Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.

38 En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

39 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.

40 Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.


Hoofstuk 9 – Saulus se bekering


1 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan

2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.

3 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;

4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?

5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.

6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.


Saul was blind vir 3 dae en is na Damaskus gebring na Reguitstraat.


Ananias kry opdrag van God om na Saulus te gaan en hom die hande op te le sodat hy weer kon sien. Ananias besef wie Saulus is en is bang en se vir die Here dat dit dan die man is wat Sy volk vervolg.


15 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.


Saulus het toe die woord van God begin verkondig.


Petrus intussen is na Joppe geroep waar ‘n weduwee Dorkas dood was, en die hele dorp treur oor haar.


40 En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.

41 En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.


Hoofstuk 10 – Cornelius


Cornelius ‘n Romeinse hoofman (dus ‘n ‘gentile’ in die oe van die Jode) was gedurig in die gebed tot God, en God het sy gebede verhoor. ‘n Engel van God het vir Cornelius gese om manne te stuur na Joppe om vir Simon Petrus te laat haal, wat by ‘n leerlooier aan huis is.


Intussen is God ook besig om met Petrus te werk om sy afkeur in die onrein ‘Gentiles’ af te breek. Jode het nie geeet of gebly by heidene nie, hulle het die heidene soos die pes vermy. Petrus is op sy dak besig om te bid toe hy ‘n gesig sien.


11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.

12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.

13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet!

14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.

15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.


Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, se die Gees vir hom dat 3 manne hom soek, en dat hy saam met hulle moet gaan. Toe klop die manne aan die deur en vra na hom.


Petrus het hulle ingenooi en die volgende dag saam met hul vertrek.


Die feit dat hy die heidene ingenooi het, en by ‘n leerlooier bly is deel van die proses om sy skanse af te breek. Hy is lankal onrein verklaar in sy eie terme.


By Cornelius se huis aangekom word hy binne genooi.


28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.

29 Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.


Corenelius vertel hom van die engel wat aan hom verskyn het en dat Petrus gestuur is om hulle van Jesus te vertel.


34 En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,

35 maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.

44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.

45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.


Petrus het hulle met water gedoop, en nog ‘n paar dae gebly.


Hoofstuk 11


Toe Petrus terugkom in Jerusalem, is hy goed berispe omdat hy by heidene gebly en saam met hul geeet het. Petrus het toe vir hul vertel van die gesig wat hy gesien het, en dat God hom gestuur het. Die hele verhaal van Cornelius het hy hier weer vir almal vertel en dat God se woord ook na die heiden nasies uitgedra moet word.


18 En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.


Hoofstuk 12


1 En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen.


Jakobus is met ‘n swaard doodgemaak, en Petrus is gedurende die week van die ongesuurde brode in die tronk gesit.


5 So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.

6 En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.

7 En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.

8 En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!

9 En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien.

10 En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.

11 Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.


Petrus is beskerm van Herodes, want God het nog werk vir hom gehad. Ons lewens is in God se hande en Hy kom haal ons elkeen op Sy tyd.

8 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page