top of page
  • Regina Torre

1ste Fees – Paasfees

Updated: Jan 31, 2023

Paasfees begin altyd op die eerste volmaan van die lente.


Levitikus 23: 5          In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die HERE;


Exodus 12: 13        Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie. 14    En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.


Paasfees was en is vir die Israeliete ‘n gedenkfees om jaarliks te onthou hoe God hulle uitgelei het uit die land van Egipte, en hoe God hulle gered het van slawerny.


Vir Christene is paasfees ‘n gedenkfees om ons te herinner dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het.


Ons gaan die kleedrepetiesie wat die Israeliete jaarliks hou, vergelyk met Jesus se kruisiging om te aanskou hoe die tradisies wat jaarliks uitgebeeld is werklikheid geword het aan die kruis. Ons gaan terug in die geskiedenis na Abraham. God sluit met hom ‘n ewige verbond waar hy ‘n groot nageslag en grongebied belowe word. Die verbond geld vandag nog! God sê vir Abraham vooruit dat sy volk Israel in verdrukking gaan wees.


Abraham word ‘n groot nageslag belowe


Genesis 15: 4 “Toe kom die woord van die Here tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. 5     Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel.    6    En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”


Abraham het van die beloftes, net sy seun Isak gesien, die res het hy net geglo.


Abraham se nageslag sal 400 jaar in verdrukking wees, in ‘n vreemde land, en uittrek met baie goed.


Genesis 15: 13  Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank.   14     Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15    Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word.  16   En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.


God sluit met Abraham ‘n verbond


Genesis 15: 17   En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.       18        Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:


‘n Verbond word nie sonder bloed gesluit nie. Die diere word middeldeur gesny en die 2 persone wat die verbond sluit loop in ‘n figuur 8 tussen die gesnyde dele in die bloed.

Met die verbond tussen God en Abraham is dit net God wat deur die bloed beweeg, Abraham slaap. God sluit hier ‘n ewige verbond wat nie verbreek mag word nie.


Nou begin ons om die verlede en die huidige met mekaar te vergelyk.


Die 1ste maand van die Joodse jaar is die maand Nisan (Maart / April Westerse tyd).


Exodus 12 :   1  En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê:  2          Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.


Die paaslam word aan die priester voorgestel vir inspeksie / Jesus, ons Paaslam, stel Homself voor vir inspeksie.


Op die 10de van Nisan moet elke familie ‘n lam uitsoek. ‘n Lam vir elke huisgesin.


Oorspronklik is die lam deur die hoof van die huis geslag. Die dag, die 10 de Nisan staan bekend as ‘lamb selection day’. Dis ‘n besige tyd in Jerusalem want elke huisgesin kies ‘n lam vir die paasfees. Elke familie merk sy lam met ‘n brons naamplaatjie wat die familienaam wys.


Die pa van die huis wil graag hê God moet weet dat sy huisgesin paasfees vier.


Exodus 12 : 3  Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.   4      Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.


Wat doen Jesus op die 10de Nisan.


Hy reël self Sy bekendstelling wat ons ken as ‘Die intog in Jerusalem’, en vervul so die profesie van Sagaria 9:9 en die Daniel 9:25.


Die engel Gabriel vertel vir Daniel presies wanneer Jesus homself gaan voorstel, tot op die dag bereken.


Lukas 19:         29  “En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur 30    en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle ’n esel vul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. 31        En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig.    32                  En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het. 33      En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los?  34           En hulle antwoord: Die Here het hom nodig. 35         Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. 36                    En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. 37        En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ’n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, 38       terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! 39           En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! 40  En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.


Sagaria 9: 9 “VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel — op ’n jong esel, die vul van ’n eselin.


Daniel 9: 25    “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.”


In hierdie tydperk tussen 10 en 14 Nisan moet elke huis voorberei en gereinig word. Alle suurdeeg moet uit die huise verwyder word. Hoekom? Suurdeeg verteenwoordig sonde.


Wat het Jesus gereinig in die tydperk.


Jesus reinig die tempel


Lukas 19: 45  “En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag. 46    En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is ’n huis van gebed. Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak. 47          En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring;  48            en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.”


Ons is nou weer terug in Egipte en kyk na die 1ste 9 plae wat Egipte getref het en hoekom dit gebeur het.


Exodus 12 : 12 En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE.

Ons het reeds gesien dat die Israeliete 400 jaar onder die verdrukking van die Egiptenare was. Die Israeliete het in God geglo en Hom aanbid, maar hulle het nie geglo dat Hy instaat was om hul uit hul verdrukking te red nie. Hulle het mooi gesien hoe die Egiptenare hul gode aanbid en dat in hulle oë die Egiptiese gode sterker was as hul God.

God het met Moses gepraat en vir hom gesê dat hy (Moses) gekies is om sy volk uit Egipte, weg van die slawerny, uit te lei.


Exodus 6: 1     “VERDER het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die Here.  2    En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam Here het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.  3   Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; 4  en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. 5   Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; 6    en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ’n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.  7   En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ’n besitting gee, Ek, die Here. 8  Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens.”


God sê hierbo in verse 3 en 4 dat Hy ‘n verbond met die Israeliete opgerig het en dat Hy aan die verbond gedink het. Die volgende 4 beloftes in verse 5 en 6 word aan die Israeliete gegee.

  1. Ek sal julle uitlei uit Egipte uit / beker van toewyding

  2. Ek sal julle red uit jul slawerny / beker van vrymaking

  3. Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm / beker van verlossing of danksegging

  4. Ek sal julle as My volk aanneem / beker van aanneming

Die 4 beloftes word uitgebeeld in die Joodse paasfees met 4 bekers wyn wat gedurende die fees gebruik word. Jesus het die aand met sy laaste paasmaal, volgens Joodse tradisie, die 3de beker wyn gebruik. Toepaslik, want Hy het geweet dat Hy ons gaan verlos die volgende dag aan die kruis.


Paulus verwys ook hier na die 3de beker wyn, wat die beker van danksegging is. Die beker word na die maaltyd geneem.


1 Korintiers 10: 16 “die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?”


1 Korintiërs 11:  23  “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; 24        en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.   25      Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. 26            Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”


Israel is God se eersgebore seun – hierdie merk die onstaan van die Israeliete as ‘n volk. God verduidelik ook kortliks vir Moses wat gaan gebeur.


Exodus 4:   21  En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.   22 Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.   23 Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe


Moses het na sy boodskap aan die Israeliete hulle gelos om te dink en te herkou aan wat hy gesê het, en met Farao gaan praat.


Exodus 5: “ 1    EN daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees kan hou in die woestyn. 2 Maar Farao antwoord: Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.”


Psalm 135:   15           “Die afgode van die heidene is silwer en goud, ’n werk van mensehande. 16 Hulle het ’n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; 17            ore het hulle, maar hoor nie; ook is daar geen asem in hulle mond nie. 18    Die wat hulle maak, sal net soos hulle word — elkeen wat op hulle vertrou.”

God het die 10 plae gebring om vir Sy volk te wys dat Hy, God sterker en groter en magtiger is as die gode van Egipte, en om vir die Egiptenare te wys dat hul gode niks werd is nie.


Kom ons kyk na die plae wat die Egiptenare getref het en watter van hul gode is aangeval.

  1. Water in bloed          – Apis, Isis, Khnum & Osiris, die gode van die Nyl rivier wat lewe gee

  2. Paddas – Heqet, die godin van geboorte

  3. Luise – Set, die god van die woestyn. Farao se towenaars kon nie die plaag namaak soos met die vorige 2 nie.

  4. Vlieë – Uatchit die god van die vlieë. Geen vlieë het die Israeliete gepla nie.

  5. Dood van die vee – Hathor en Apis die vee gode. Die Israeliete se vee het niks oorgekom nie.

  6. Swere – Die gode Sekhmet, Sunu & Isis van gesondheid en siektes

  7. Hael en vuur – Nut die lug godin, Osiris die oes vrugbaarheid godin, en Set die god van storms. Weereens het die Israeliete niks oorgekom nie

  8. Sprinkane – Weereens die gode Nut, Osiris en Set wat die laat oeste opgeeet het,

  9. Duisternis – die songod Ra wat die Farao verteenwoordig het. Vir 3 dae was net die Egiptenare in duisternis gehul, terwyl die Israeliete lig gehad het.

Die 10de plaag sluit al die plae af, en ‘n sekere seremonie word van die Israeliete verwag.


Hulle moet optree in geloof, of sterf! Kom ons kyk wat gebeur.


Moses gee hier die laaste instruksies

Exodus 12: 21        “Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga. 22   En neem ’n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.    23    Want die Here sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die Here by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.”


Die lam moet aan sekere vereistes voldoen wanneer hy uitgekies word. Hy moet by jou aan huis bly van 10 Nisan tot 14 Nisan. Onthou weereens dat die Joodse dag met sononder begin.


Op die 14de Nisan teen die aand, word hy geslag. Teen die aand beteken tussen 15:00 en 17:00 volgens Joodse tradisie. So ‘n hele aand is verby, en die dag het aangebreek en tyd het verloop tot 15:00 die middag. Nou word die lammers geslag.


Exodus 12 :   5            Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.    6          En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.


Die lam word geslag en die bloed word aan die kante van die deurraam en die bodrumpel aangestryk. Die bloed op die deurraam is een verf streep bo en 2 verf strepe weerskante van die deurraam wat ‘n kruis voorstel as dit verbind word.


Exodus 12 – 7  En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.


Die lam moet gebraai word oor n vuur en nie opgekook word nie en word saam met ongesuurde brood en bitter kruie geëet. Dit wat oorbly moet alles verbrand word.


Die lam is tussen 15:00 en 17:00 geslag (14 Nisan), die bloed op die deur geverf, en dan word dit gebraai. So teen die tyd is dit na sononder en ons is nou op 15 Nisan. Dit is die begin van die fees van ongesuurde brode.


Exodus 12 : 8  En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.   9        Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. 10         Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.


Die ete moet haastig geëet word, en hulle klere moet reg wees om skielik te vertrek. Dit is die Pasga van die Here. Die paasfees ete vind plaas op 15 Nisan wanneer die lam gebraai is en dit saam met ongesuurde brode en bitter kruie geëet word. Eet haastig want julle gaan binnekort moet vertrek, wees gereed!


Exodus 12 : 11 En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die HERE is dit.


Bloed is n gepaste offer – bedek deur die bloed (covered by the blood)


Waar het dit begin. Kom ons gaan terug na die begin met Adam en Eva wat ontdek dat hul naak is nadat hulle die verbode vrugte geëet het. Hulle bedek hulself met klere van blare, maar God het ‘n beter plan.


Genesis 3: 21. En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.


‘n Onskuldige dier is geslag om hulle te bedek


Abraham moet sy seun Isak offer, sy enigste seun!


Genesis 22: 1   Na hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!      2          Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy lief het, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.


Abraham en Isak is toe die berg op en hulle het die volgende gesprek.


Genesis 22:   7 Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n brandoffer?    8  En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.


Ons ken die storie verder, God het toe ‘n ram voorsien want Hy het gesien dat Abraham geglo het, en Isak se lewe is gespaar.

Nou is ons terug by Israel wat bloed op die deurkosyne moet verf om hul eersgeborenes te beskerm. Die wat binne die huis is, is beskerm, hulle is bedek deur die bloed van die onskuldige lam. Maak nie saak wie in die huis nie, Israeliet of Egiptenaar. Maar, as jy nie die bloed aan jou deur kosyn het nie, is jy nie beskerm nie. Jy moet ook binne die huis bly, nie buite toe gaan nie. Hoeveel keer beweeg ons nie buite God se beskerming nie?


Dit gaan ook nie hier oor wat ons as mens doen nie, ons kan nooit genoeg doen nie, dit gaan oor wat God vir ons doen.


Die 10 de plaag – die dood van die eersgeborenes


Exodus 12:   12            “Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die Here.”   13      “Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.”


Exodus 12: 29 “En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. 30           Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ’n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie. 31           Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die Here soos julle gespreek het. 32         Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook. 33      En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou — om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!  34         Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers. 35  En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; 36            en die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.    37  En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders.    38          En ’n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste — ’n groot hoeveelheid vee.

39       En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie. 40           En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar.  41           En ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die Here uit Egipteland uitgetrek. 42    Dit is ’n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die Here, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die Here om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte.


Wat het met Jesus gebeur in die aand van 14 Nisan – God se eersgebore Seun


Die tyd om paasfees te hou het begin en die dissipels berei die kamer voor vir die paasmaal soos deur Jesus gevra. Ons Joodse dag begin hier sononder 14 Nisan.


Lukas 22:   7   En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word. 8     Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.    9          En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei? 10        En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ‘n man julle ontmoet wat ‘n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. 11             En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u—waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? 12           En hy sal julle ‘n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.

13        En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga berei.


Die laaste Pasga word geëet. Daar word nie vertel presies wat geëet is nie, maar die paaslam is nog nie op die stadium geslag nie. Dit gebeur eers die volgende dag 15:00.


Wat ons wel weet is dat ongesuurde brood geëet is en wyn gedrink is. Jesus het nagmaal gehou met Sy dissipels.


14        “En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15        En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.  16         Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.”   17         En toe Hy ’n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle.    18          Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie. 19          Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20     Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.”

Hier sê Jesus dat wanneer hulle in die vervolg die brood eet, moet hulle aan Hom dink want dit is Sy liggaam. Hulle hoef nie meer aan die uittog uit Egipte te dink nie. Die dissipels sou eers later die waarheid van Jesus se woorde besef.


Na die ete gaan Jesus na die tuin van Getsemane om te bid


Lukas 22:39     “En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg.”


Jesus word verraai en gevange geneem


Lukas 22: 47    “En terwyl Hy nog spreek, kom daar ’n skare; en hy wat Judas genoem word, een van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te soen. 48      En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n kus?”


Jesus voor die Sanhedrin – die Joodse raad (Ons is nog op 14 Nisan, laat aand / vroeg oggend)


Lukas 22: 63    “EN die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan. 64         En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het. 65    En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek. 66          En toe dit dag word, het die oudstes van die volk — die owerpriesters en skrifgeleerdes — vergader en Hom voor hulle Raad gebring  67        en gesê: As U die Christus is, sê vir ons. En Hy antwoord hulle: As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie.

68        En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie. 69      Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God. 70            En hulle sê almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat Ek dit is. 71 Daarop sê hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit sy mond gehoor.”


Jesus voor Pilatus en Herodus – die onskuldige lam


Lukas 23: 14     “Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie;    15    ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.”


Jesus se kruis word gemerk met ‘n naamplaatjie.


Jesus was gemerk vir al die Paasfees-deelnemers om te sien! Hy was die offer wat op die kruis hang. Trouens, terwyl God se gunsteling lam besig was om te sterf, het die priesters by die tempel voorberei om duisende lammers vir die mense te slag.


Toe die godsdienstige leiers die inskrywing bo-op die kruis lees, het hulle vir Pilatus gesê:


“Verander dit! Verander die bewoording en sê:” Hy het gesê dat Hy die Koning van die Jode is. ” Op hierdie manier sal die naam van God nie aan die kruis gevind word nie. Hierdie man is gekruisig vir die sonde van godslastering. Hy het Homself gelyk aan God gemaak! As jy die opskrif so los, is dit aan almal bekend dat hierdie man God is en dat dit die rede is vir sy kruisiging! ”


Dit was egter die een item tydens die hele verhoor waar Pilatus sy voet neergesit het. Sy antwoord was: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf”


Johannes 19: 19   “En Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.  20       Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn. 21     En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. 22        Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”


God het Sy Naam op Sy Lam gesit vir die hele wêreld om te sien! Die Jode het pasga-lammers na die tempel gebring met hul brons naamplaatjies en gesê: “God, sien ons naam. Hierdie lam is vir ons familie.” God het Sy Seun op die hoogste heuwel in Jerusalem gehang om vir die hele mensdom te wys dat Sy Seun se bloed vloei vir die verlossing van die mensdom.


Jesus word gekruisig – 14 Nisan, 9:00 die oggend (die 3de uur)


Markus 15:25   “En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het. 26      En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.”


Jesus se dood – 14 Nisan, 15:00 die middag (die 9de uur) – presies dieselfde tyd wat die lammers geslag word!


Markus 15: 33  “En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. 34    En die negende uur het Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? 35   En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía. 36         Toe hardloop een en maak ’n spons vol asyn en sit dit op ’n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal. 37        Maar Jesus het met ’n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas. 38  En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder. 39        En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God.”


Geen been van Hom sal gebreek word nie.


Exodus 12: 46   “In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.


Johannes 19: 33          “maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. 34      Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. 35         En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. 36     Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. 37        En weer sê ’n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.”

20 views0 comments

Recent Posts

See All

7de Fees – Fees van Tabernakels / Sukkot

Hierdie fees is die sewende en laaste van die feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Sukkot word gevier vyf dae na Yom Kippur op Tishri 15 en begin sononder hierdie jaar op 23 September 2

6de Fees: Fees van Versoening / Yom Kippur –

Die fees het vanaand 18/9/18 net na sononder begin. Die tweede van die Herfs Feeste (en die sesde fees in totaal) is Yom Kippur en word 10 dae na die Fees van Trompette op Tishri 10 gehou. (sononder 1

Die Herfs Feeste: Inleiding & Fees van Trompette

Ons is besig met ‘n studie van die 7 feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het. Tot dusver het ons die lente feeste bestudeer en ons gaan nou na die herfs feeste kyk. Die profesië van die len

  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page