top of page

19/04/2017 – Handelinge 13-28 (Paulus)

Updated: Feb 1, 2023

Hoofstuk 13 & 14 – Paulus se 1ste sendingreis


Saulus saam met 4 profete en leeraars is besig om die Here te dien en te vas toe die Heilige Gees sê dat Barnabas & Saulus afgesonder moet word vir Sy werk. Die twee is die hande opgelê en uitgestuur van Seleuúsië en gevaar na Ciprus.

Salamis, Ciprus – verkondig die woord in die sinagoges


Pafos, Ciprus – Paulus besoek die goewerneur wat die woord wou hoor. Daar was ook ‘n Joodse towenaar teenwoordig wat hulle teengestaan het. Paulus vervul met die Heilige Gees het hom vertel dat hy ‘n kind van die duiwel is en dat hy vir ‘n tydperk blind sou wees. Toe die goewerneur sien dat die towenaar blind is, was hy verslae en het in God geglo.


Perga, Pamfilië – Gaan op die sabbatdag na die sinagoge, en na die lees van die wet en die profete vra hulle vir Saulus om die gemeente toe te spreek.


Hy gee ‘n oorsig van die Joodse volk se geskiedenis tot nou:

  1. Die uittog uit Egpite

  2. 40 jaar in die woestyn

  3. 7 Nasies in land Kanaän oorwin

  4. Ongeveer 450 jaar lank deur rigters regeer tot by Samuel die profeet

  5. Die volk ‘n koning hé, en hul 1ste koning is Saul (40 jaar lank)

  6. 2de Koning is Dawid. Uit Dawid se nageslag is volgens die belofte Jesus as Verlosser verwek.

  7. Johannes die Doper het Sy koms verkondig, hy wat nie waardig was om Jesus se skoen van sy voete los te maak nie.

  8. Die inwoners van Jerusalem het Hom nie geken nie, en sonder enige skuld is Hy veroordeel en aan die kruishout opgehang, en toe Hy dood is, in die graf neergelê, totdat als vervul is wat oor Hom geskrywe is.

  9. Maar God het Hom uit die dood uit opgewek

  10. En in die dae daarna het hy aan die verskyn wat saam met hom opgegaan het van Galilea na Jerusalem, hulle is Sy getuies by die volk.

  11. Ons bring aan julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, Sy kinders, vervul het deur Jesus op te wek.

  12. Julle moet weet dat deur Hom, vergifnis van sondes, aan julle verkondig word.

  13. En dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles wat julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.

Die heidene versoek dat Saulus die volgende sabbat vir hulle ook dieselfde woorde vertel, en byna die hele stad kom toe bymekaar om na hom te luister.


Die nie-Christen Jode is met nydigheid vervul toe hul die skare sien en spreek lasterlik teen Saulus.


Saulus sê dat dit noodsaaklik was dat die woord eers aan die Jode verkondig moet word, maar omdat hul dit verwerp het, wend Saulus hom tot die heidene.


Die Jode het glad nie hiervan gehou nie en die mense opgehits om hul uit die dorp te verdryf.

Saulus en Barnabas het die dorp se stof van hul voete afgeskud en na die volgende dorp gegaan.


Ikonium – Weereens eers na die sinagoge om die woord te verkondig. Die mense kom in opstand en wil hul stenig, en hul vlug na Likaonie, Listre en Derbe


Listre – van hier noem Saulus homself Paulus. Paulus doen ‘n wonderwerk en genees ‘n kreupel man wat van geboorte nooit kon loop nie. Die heidene is verwonderd en sien Paulus & Barnabas as hul gode Jupiter en Mercurius wat aarde toe gekom het, en hul heiden priester wil aan hul offers bring.


Paulus & Barnabas hoor hiervan en skeur hul klere en praat met die mense:

  1. Ons is mense net soos julle

  2. Ons verkondig ‘n evangelie dat julle van drie dinge moet wegdraai

  3. En bekeer tot die God wat die hemel, aarde en see en alles daarin gemaak het

  4. Hy het van die hemel vir julle reën en vrugbare tye gegee

Die woorde het nie gewerk nie, en hulle is gestenig en uit die stad gesleep en vir dood gelos.


Die dissipels het hom omring en Paulus het opgestaan en die volgende dag vertrek.


Derbe – Verkondig die evangelie en maak dissipels.


Stel ouderlinge aan in elke dorp waar hul die evangelie verkondig, en dra hulle op aan God om na die mense daar om te sien.


Reis verder na Ikonium, Antioch in Pisidië en toe terug waar hulle begin het


In ‘n dorp waar daar meer as 10 Joodse mans is, sou daar altyd ‘n sinagoge wees. Waar daar minder as 10 Joodse manswas, het hul altyd by ‘n rivier bymekaar gekom.


Hoofstuk 15 – Moet heidene besny word en die wet van Moses onderhou?


8          En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.

9          En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.

10       Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?

11       Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.

Hoofstuk 16 – 18 : Paulus se 2de sendingreis

Paulus begin in Jerusalem en versterk die gemeentes in Sirië en Cicilië.


Derbe & Listre – Die Heilige Gees verhinder Paulus om na Asië (die gedeelte waar die 7 stede van die boek Openbaring geleë is) te gaan en hy reis na Troas.


Troas – Paulus sien ‘n gesig in die nag wat hom smeek om na Macedonië te kom en hulle te help. Paulus vaar dadelik oor na Neapolis.


Filippi – Op die sabbatdag gaan hul na die gebruiklike bidplek van die dorp langs die rivier om met die vrouens te praat. (Geen sinagoge, so daar is minder as 10 Joodse mans in die dorp) Hul kry vir Lidia, ‘n purperverkoper en sy en haar hele huis word gedoop.


‘n Slavin met ‘n waarsêer gees, wat vir haar meesters baie geld maak, loop agter Paulus hulle aan en skreeu: ‘Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van die verlossing.’


Paulus beveel die gees om in die Naam van Jesus Christus uit haar uit te gaan, wat toe onmiddelik gebeur het, en daar gaan haar base se groot winste.


Paulus en Silas is voor die owerheid gesleep en hulle word met stokke geslaan en in die tronk gegooi en goed vasgeketting. Hulle sing en bid middernag met oorgawe dat almal in die tronk na hul luister, en ‘n aardbewing tref die tronk sodat hul boeie los is en die tronkdeure oopgaan.


Die tronkbewaarder wil homself doodmaak want hy dink die gevangenis het ontsnap, maar Paulus sê, ons is hier. Die tronkbewaarder gee sy hart vir Jesus nadat Paulus aan hom die evangelie verkondig het.

Thessalonika – Hy preek vir 3 sabatte in die sinagoge en baie mense volg hulle, maar die ongelowige Jode is afgunstig en die mense stuur Paulus weg na Berea.

Berea – Paulus gaan weer 1ste na die sinagoge en die Jode hier ontvang hul vriendelik, en ondersoek die Skrifte – goeie studente. Dit hou nie lank nie want die Jode van Thessalonika kom sweep die mense in Berea op. Dis tyd om aan te gaan.

Athene – Paulus sien dat hul baie afgode aanbid en dat hul ook ‘n onbekende god het. Paulus sê dat hul onbekende god, die God is wat hy verkondig. Toe hy afsluit met die opstanding uit die dode, het hul vir Paulus gespot, en so is Paulus toe weg van hulle.

Korinthe – Paulus bly by Aquila & sy vrou Priscilla. Aquila is soos Paulus ‘n tentmaker van beroep, en Paulus werk in die week vir hom, en preek op die sabbat in die Sinagoge. Die Jode hier hou aan om teenstand te bied en godslasterlike dinge te spreek., en hy skud sy klere uit en sê dat hy nou vir die heidene gaan preek. ‘Julle bloed is op julle hoof!’


Paulus bly by Justus wat ‘n huis langs die sinagoge het, en kry weer ‘n gesig in die nag waar die Here vir hom sê om nie bang te wees nie, maar die woord te verkondig. Hy sal hier niks oorkom nie. Paulus het gebly en gepreek vir 18 maande.

Efese – Preek in die sinagoge, maar bly nie lank nie want hy wil terug na Jerusalem vir die feeste. Hy het toe teruggevaar na Jerusalem.

Hoofstuk 19 – 21: Paulus se 3de sendingsreis


Efese – Die mense hier is gedoop met die doop van Johannes, maar het nog nie geleer van die Heilige Gees nie. Paulus sê dat Johannes met die doop van bekering gedoop het, en dat hul moes glo in die Een wat kom, Jesus Christus.


Paulus doop hulle in die Naam van Jesus Christus, lê hul die hande op en die Heilige Gees het op hulle gekom. Altesaam 12 manne, en hul het in tale gepraat en geprofeteer.

Paulus bly 2 jaar hier sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.


God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen. Enige van sy kledingstukke wat aan mense geraak het, het die mense genees.

Paulus reis deur Masedonië en kom weer terug by Troas.

Troas – Paulus spreek die mense toe in die aand tot en met middernag, want hy vetrek die volgende dag na Macedonie. ‘n Seun wat in die venster sit en luister, val 3 verdiepings uit die venster omdat hy aan die slaap geraak het, en is dood. Paulus gaan af ondertoe, slaan sy arms om hom sê vir almal die seun lewe.

Efese – Paulus praat met die ouderlinge van Efese en sê dat hy teruggaan na Jerusalem. Dat hy nie weet wat daar op hom wag nie, behalwe dat die Heilige Gees sê dat groot verdukking op hom wag. Hy vertel verder dat hy hom nie bekommer nie, en dat hy die Woord van God kragtig gaan verkondig.

Paulus vaar vanaf Troas na Tirus.

Tirus – Die dissipels sê hier vir Paulus dat die Heilige Gees nie wil he dat hy na Jerusalem moet gaan nie. Paulus luister nie en vaar verder.

Ceserea – Paulus bly in die huis van ‘n evangelis Filippus wat 4 ongetroude dogters het wat elkeen die profetiese gawe het. ’n Profeet met die naam Agabus kom ook daar aan, vat Paulus se gordel, en bind sy eie hande en voete vas en sê die volgende:


21:11 …. dit spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van die heidene oorlewer.


Paulus sê hul moenie vrees nie, want hy is nie bang om vegebind te word, of te sterf vir die Naam van Jesus nie. Hulle sê toe dat God se wil moet geskied, en laat hom gaan.

Jerusalem – Paulus vertel almal van sy reis en hoe God onder die heidene gewerk het.


Die Jode het Paulus gesien, die volk oproerig gemaak teen hom, en hulle het hom probeer doodmaak en hom geslaan. Die owerste oor duisend het hiervan te hore gekom, en Paulus laat haal en hom gevange geneem en in 2 kettings geboei.


Paulus vra die owerste oor duisend of hy met die volk mag praat en die is verbaas dat hy Grieks kan praat. Paulus spreek toe die volk toe in Hebreeus.

Handelinge 22 – Paulus se storie


1          Broeders en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle!

2          En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê:

3          Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.

4          Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,

5          soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.

6          Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal,

7          en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?

8          En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.

9          En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.

10       En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.

11       Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.

12       En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon,

13       het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk.

14       En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor;

15       want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16       En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

17       En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in ‘n verrukking van sinne gekom

18       en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.

19       En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan;

20       en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.

21       En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.

22       Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!

Die hoofman oor honderd wou toe vir Paulus gesel, maar Paulus vra of dit reg is om ‘n Romeinse burger onveroordeeld te gesel. Die skrik, besluit dat dit ‘n slegte idee was, en dat Paulus voor die Joodse Raad moet verskyn die volgende dag.


Hoofstuk 23


Paulus vertel die Joodse raad dat hy met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel het.


Hy vertel ook dat hy ‘n Fariseer is en glo in die hoop en die opstanding van die dode. Die Fariseers glo so, maar nie die Sadduseërs nie. Die Fariseers sorg dat hy vry kom.


God verskyn aan Paulus en sê dat hy Hom in Rome net so moet verdedig soos hy hier gedoen het.


Die Jode beplan ‘n komplot om Paulus dood te maak, maar Paulus se suster se kind hoor daarvan en met die toestemming van Paulus vertel hy dit aan die hoofman oor 100. Paulus word met soldaat beskerming na Cesarea vergesel om voor Felix die goewerneur te verskyn

Hoofstuk 24 – Cesarea


Die Joodse Raad verskyn saam met Paulus voor die goewerneur Felix en beskuldig hom daarvan dat hy die Volk opsteek en in die tempel inbring om die tempel te onheilig.


Paulus verdedig homself sê dat hy volgens die Weg, wat hulle ‘n sekte noem, so die God van sy vaders dien, en dat hy terselfdetyd alles glo wat in die wet en profete geskryf staan. Hy sê verder dat hy glo dat daar ‘n opstanding van die dode sal wees, regverdiges sowel as onregverdiges.


Felix stel die saak uit, in die hoop om omkoopgeld van Paulus te kry. Dit bly so vir 2 jaar tot Felix opgevolg word deur Porcius Festus.

Handelinge 25


Die Jode kom spesiaal van Jerusalem en verskyn voor Festus met Paulus om hom aan te kla en vals beskuldigings teen hom aan te bring, wat hulle nie kon bewys nie. Die Jode wil he dat Festus Paulus na Jerusalem moet skuif. Paulus sê egter dat hy hom op die keiser beroep , en dit is toe so besluit. ‘Na die keiser sal jy gaan!’


Festus verskyn voor koning Agrippa en sê dat die Jode vir Paulus wou doodmaak. Hy egter het niks teen hom gevind wat die doodstraf verdien nie. Daarom wil hy he dat Paulus nou voor die koning moet verkyn.

Handelinge 26


2          Ek ag my gelukkig, koning Agríppa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word,

3          veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.

Hy vertel weer sy storie van die begin en dat hy ‘n goeie Fariseer was, en dat die Jode hom ken van hy jonk was. Hy het baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus gedoen tot hy in Damaskus vir Jesus in ‘n gesig gesien het. Dat Jesus hom verlos het om die oë van die heidene oop te maak sodat hulle hul kan bekeer van die mag van Satan. Om die rede wil die Jode my vang en doodmaak. Maar ek is gehoorsaam aan God en verkondig dat Jesus moes ly en eerste moes wees uit die opstanding van die dode, en lig aan die volk en heidene sou verkondig.


Festus sê dat Paulus se geleerdheid hom kranksinnig maak, en dat hy hom byna beweeg het om self ‘n Christen te word.


Hulle kon niks teen Paulus vind nie, en sê dat as hy hom nie op die koning beroep het nie, hy losgelaat kon wees.

Hoofstuk 27


Hier vaar Paulus as ‘n gevangene na Rome, onder leiding van Julius ‘n hoofman oor honderd wat van Paulus hou.


Sidon – Paulus word toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang


Myra – Klim oor op ‘n nuwe skip wat na Italië vaar


Vaar verby die eiland Krete oppad na Malta – Paulus waarsku dat die skip moeilikheid gaan he maar dat niemand sal doodgaan nie. ( ‘n Engel het aan Paulus verskyn en vir hom gesê hy sal wel voor die keiser staan, en almal wat saam met hom vaar sal gered word)


‘n Storm tref, die sterre kon vir 3 dae nie gesien word nie, en hulle gooi ekstra vrag van die skip af. Veertien dae later maak hulle al die kos bymekaar, Paulus bid en hulle eet tot almal vol is. Dit wat oorbly gooi hul toe oorboord om die skip ligter te maak.


Hul sien ‘n eiland en ‘n hawe en vaar met die skip om hom te strand. Die agterkant van die skip word uitmkaar geslaan. Daar was 276 mense aan boord en almal is veilig na die strand, deur te swem of met planke van die skip te dryf tot by die land.

Hoofstuk 28


Die eiland wat hul redding was, was Malta. Die mense van Malta het hul vriendelik ontvang. ‘n Slang byt Paulus terwyl hulle ‘n vuur maak en die inboorlinge van Malta sê vir mekaar dat hy waarlik ‘n moordenaar is omdat die slang hom byt. Maar, Paulus skud die slang af, en makeer niks nie. Toe dink die mense hy is ‘n god.


Die hoof van die eiland het hul vriendelik ontvang, en Paulus genees sy pa wat baie siek was deur hom die hande op te lê en vir hom te bid. Hierna het hy baie siekes van die eiland ook genees. Na 3 maande vaar hul toe met ‘n nuwe skip na Rome, na ‘n paar stoppe tusssenin.


In Rome aangekom word Paulus vergun om op sy eie te woon met ‘n soldaat wat hom bewaak. Paulus spreek die Jode toe en vertel van alles wat hy gedoen en beleef het.


Hy gee ‘n kragtige getuienis waarin hy die koningkryk van God uitlê. Van vroeg tot laat het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus. Sommige het geglo, en ander nie.

Paulus het vir 2 jaar onder huis arres gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, en hulle onderrig in die Woord van God.

6 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page