top of page
  • Regina Torre

15/11/2017 – 1-3 Johannes & Judas

Updated: Feb 1, 2023

1ste Brief van Johannes

In die laaste jare van die eerste eeu nC het valse leraars na vore gekom wat verkondig het dat Jesus of nie die Seun van God was nie, of dat Hy nie werklik liggaamlik mens geword het nie. Hierdie dwaling was as gnostisisme bestempel en Johnnes se 1ste brief gee hieraan aandag.


2: 22 Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hý is die antichris wat die Vader en die Seun ontken.

23 Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader.


Dit word aanvaar dat die apostel Johannes die skrywer was, en dat hy die brief heel waarskynlik in Efese geskryf het, tussen 85 en 95 nC. Johannes het die laaste deel van sy lewe in Efese gewoon en gewerk. In die 1ste deel van die brief maak hy dit duidelik dat hy vir Jesus self gesien en gehoor het.


1: 1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle.

2 Dié lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien en ons getuig daarvan en verkondig aan julle die ewige lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

3 Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle, sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus Christus.


Die lesers van die brief was gelowiges.  


5:13 Dit het ek aan julle geskryf sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Naam van die Seun van God glo.


Die gelowiges moes weerstand bied teen die valse leer van gnostisisme (Spirituele kennis wat net vir ‘n geleerde elite beskikbaar is)   2:26 Hierdie dinge skryf ek aan julle aangaande daardie mense wat probeer om julle te mislei.


Sewe kontraste in die hoofstuk


 Lig v donker     1: 5 Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.


 Die Vader v die wêreld    2: 15 Moenie die wêreld of wat in die wêreld is, liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van die Vader nie in hom nie, 16 want alles in die wêreld — dit wat die liggaam begeer, en dit wat die oë begeer, arrogante spoggery oor besittings — is nie uit die Vader nie, maar uit die wêreld.


Christus v die Antichris    2:22 Wie is die leuenaar anders as hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Hý is die antichris wat die Vader en die Seun ontken. 23 Elkeen wat die Seun ontken, het nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader. 24 Wat julle betref: Wat julle van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As dit wat julle van die begin af gehoor het in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly.


Goeie werke v slegte werke 3: 8 Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. 9 Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. 10 Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie. 11 Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Dat ons mekaar moet liefhê; 12 nie soos Kain, wat uit die Bose was en sy broer vermoor het nie. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy dade sleg was en dié van sy broer regverdig.


 Heilige Gees v Valse leer 4:1 Geliefdes, moenie elke gees glo nie, maar toets die geeste of hulle van God kom, want daar is reeds baie vals profete in die wêreld. 2 Hieraan ken julle die Gees van God: Elke gees wat bely dat Jesus Christus vlees geword het, is uit God, 3 en elke gees wat dit nie van Jesus bely nie, is nie uit God nie, maar is die gees van die Antichris, van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. 4 Julle, kinders, is uit God en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.


Liefde v Vroomheid  4: 10 Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar

dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes. 19 Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. 20 As iemand sê “Ek het God lief” en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer wat hy sien nie liefhet nie, kan nie God liefhê wat hy nie sien nie. 21 En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.


 God gebore v ander 5 :1 Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie nakom. 3 Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 4 want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin, ons geloof.


 2de Brief van Johannes


Hierdie brief leer ons hoe gelowiges in liefde en in waarheid teenoor mekaar moet leef. Dit gee ook raad aan die gemeentelede oor hoe hul teenoor reisende predikers moet optree. Valse predikers wat die waarheid van Christus vedraai, moet nie gasvry ontvang word nie, omdat ware liefde met gehoorsaamheid aan die waarheid gepaard gaan.


Volgend Chuck Missler kan die brief ook aan Maria, Jesus se moeder gerig wees, want hy sien haar as die ‘uitverkore vrou’ in vers 1.


1:1 Die Oudste

aan die uitverkore vrou en haar kinders, wat ek in die waarheid liefhet — en nie net ek nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het — 2 op grond van die waarheid wat in ons bly en vir ewig met ons sal wees:


‘n Lewe in die waarheid en liefde


1:4 Ek was baie bly dat ek van jou kinders teengekom het wat die pad van waarheid loop, in ooreenstemming met ‘n gebod wat ons van die Vader ontvang het. 5 En nou vra ek jou, vrou, nie as ‘n nuwe gebod wat ek aan jou skryf nie, maar as een wat ons van die begin af gehad het, dat ons mekaar moet liefhê. 6 En dit is die liefde: dat ons volgens sy opdragte leef. Dit is die opdrag wat julle van die begin gehoor het: dat julle daarvolgens moet leef.


Waarskuwing teen dwaalleer 7 Want baie verleiers het in die wêreld na vore gekom — dié wat nie bely dat Jesus Christus as mens gekom het nie. So iemand is die verleier en die Antichris. 8 Let daarop dat julle nie verloor wat ons deur harde werk verkry het nie, maar eerder ‘n volle loon ontvang. 9 Elkeen wat nie by die leer van Christus bly nie, maar verder as dit wil gaan, het God nié; wie by die leer bly, so iemand het die Vader sowel as die Seun. 10 As iemand na julle kom en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in julle huis ontvang nie en hom nie groet nie. 11 Want wie hom groet, het aandeel aan sy bose werke.


3de Brief van Johannes


Hierdie brief hanteer ook die gasvryheid teenoor rondreisende predikers.


Deur predikers van die waarheid in liefde te ontvang en te help, word gelowiges medewerkers van die waarheid.


Gaius is gasvry en sy fokus is om ander te dien – wat goed is.


5 Geliefde, jy tree getrou op in wat jy ook al vir die broers doen, en dít terwyl hulle vir jou vreemdelinge is. 6 Hulle het voor die gemeente van jou liefde getuig. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op ‘n manier wat God waardig ag. 7 Want ter wille van die Naam het hulle uitgegaan, sonder om iets van die heidene te ontvang. 8 Ons behoort sulke mense daarom goed te ontvang, sodat ons medewerkers van die waarheid kan wees.


Diotrefes fokus weer net op homself – wat nie goed is nie 9 Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, gee nie aan ons erkenning nie. 10 Daarom sal ek, wanneer ek kom, julle herinner aan die dade wat hy doen. Hy versprei slegte stories oor ons, en asof dit vir hom nie genoeg is nie, ontvang hy self die broers nie goed nie. Boonop verhinder hy ook nog diegene wat dit wil doen en dryf hulle uit die gemeente uit.   11 Geliefde, moenie die kwaad navolg nie, maar die goeie. Wie goed doen, is uit God; wie kwaad doen, het God nie gesien nie.


 Judas


Die brief is geskryf aan die Christene en deur Judas, die broer van Jesus en Jakobus.


1 Judas, dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die geroepenes, diegene wat hulle in die liefde van God die Vader bevind en vir Jesus Christus bewaar is:


Rede vir die brief


3 Geliefdes, alhoewel ek vas van plan was om aan julle oor ons gemeenskaplike verlossing te skryf, word ek nou genoodsaak om aan julle te skryf en julle aan te spoor om te stry vir die geloof wat eens en vir altyd aan die heiliges oorgelewer is. 4 Want sekere mense oor wie die oordeel reeds lank tevore opgeteken is, het julle geledere binnegesypel, goddeloses, mense wat God se genade in losbandigheid laat ontaard, en ons enigste Vors en Here, Jesus Christus, ontken.


Waarskuwing teen dwaalleer


5 Ek wil julle daaraan herinner — al weet julle dit alles — …….


Hier gaan Judas nou 3 groepe bespreek wat onder God se toorn deurgeloop het.


1          Israel wat uit Egipteland gered is


5 …..dat die Here, nadat Hy een maal die volk uit Egipteland gered het, die tweede keer diegene wat nie geglo het nie, omgebring het,


Eksodus 12: 51 En op daardie selfde dag het die HERE die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.


Numeri 14: 29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.   30            Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun. 35    Ek, die HERE, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn omkom en daar sterwe.


2          Die engele wat nie in hul woning / magsgebied gebly het nie


6 en dat Hy die engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie, maar hulle woonplek verlaat het, met ewige boeie in die duisternis in bewaring hou vir die oordeel van die groot dag.


Genesis 6: 1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, 2 sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. 3 Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.   4 In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.


2 Petrus 2: 4   Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;


 3          Sodom en Gomorra


7          So ook dien Sodom en Gomorra en die omliggende stede wat op ‘n soortgelyke manier as daardie engele ontug gepleeg en agter vreemde liggame aangeloop het, as waarskuwende voorbeeld omdat hulle die straf van ewige vuur ondergaan.


Genesis 19

4          Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.     5          En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.


Die engele het die mense met blindheid geslaan en vir Lot gevra wie van sy familie moet almal saamkom. Lot het met sy skoonseuns gaan praat om saam te kom, maar hulle het vir hom gelag.


16        Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom buitekant die stad.   17        En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie!


Ons leer hier dat die aartsengel Migael en die Duiwel oor die liggaam van Moses baklei het


9          Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om ‘n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: “Mag die Here jou straf.”


Deut 34: 4 En die HERE het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.     5 Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die HERE.   6 En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.


Nou gaan ons 3 persone van die OT kry wat onder God se toorn deurloop


1          Kain – verwerp God se bevel aangaande offers


11        Ellende wag vir hulle, want hulle het die pad van Kain geloop ……


Genesis 4: 3   En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring.

5          maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.

6          En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?

7          Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

2          Balaam – Tree op teen Israel vir sy eie persoonlike gewin


11        ….en hulleself vir vergoeding aan die bedrog van Bileam oorgegee,….


Numeri 22:    6                        Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.


Numeri 31:    16           Kyk, hulle was, deur die raad van Bíleam, vir die kinders van Israel ‘n oorsaak van troubreuk teenoor die HERE in die saak van Peor, sodat die plaag in die vergadering van die HERE was.


3          Korag – Lei ‘n opstand van 250 man teen God se gesant – Moses


11        ……en hulle sal soos met die verset van Korag omkom.


Numeri 16: 1   En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,   2      en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. 3        En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?


23        En die Here het met Moses gespreek en gesê:   24     Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!


31        En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, 32       en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.


Henog (eng. Enoch) het gelewe voor die vloed en is weggeraap hemel toe sonder om te sterwe. Henog was die Vader van Metusalag wat 960 jaar oud geword het.


Genesis 5:    24         En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.


Die valse leraars het beweer dat God niemand sou veroordeel nie. Judas haal hier Henog se profesie aan om die Bybelse waarheid te beklemtoon dat Jesus eendag terugkom om die goddeloses te oordeel.


14        Henog, uit die sewende geslag ná Adam, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: “Kyk, die Here komfmet sy heilige tienduisende   15       om oor almal die oordeel te vel en om alle mense te straf vir al hulle goddelose dade wat hulle in hulle goddeloosheid verrig het, en vir al die vermetele dinge wat goddelose sondaars teen Hom uitgespreek het.”   16 Hulle is mense wat mor, foutvind en hulle drange uitleef; hulle is grootmond en vlei mense vir eie gewin.   17        Maar julle, geliefdes, onthou wat die apostels van ons Here Jesus Christus reeds vroeër gesê het.   18         Hulle woorde aan julle was: “In die laaste tyd sal daar spotters wees wat hulle eie drange na goddelose dinge uitleef.   19        Dit is hierdie mense wat skeuring bring; hulle is gerig op die aardse dinge; hulle het nie die Gees nie.


Wat moet ons as Christene doen


20 Maar julle moet, geliefdes, deur julleself op te bou in julle allerheiligste geloof, en deur in die Heilige Gees te bid, 21 julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die ontferming van ons Here Jesus Christus met die oog op die ewige lewe verwag. 22 Ontferm julle ook oor diegene wat twyfel, 23 maar red ander deur hulle uit die vuur te ruk. Oor nog ander moet julle julle met eerbied ontferm, terwyl julle selfs die onderkleed verafsku wat deur die liggaam besoedel is.


Sluit af met ‘n lofprysing


24 Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, 25 aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag — van voor alle tye en ook nou en tot in alle ewigheid. Amen.


14 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page